Читать книгу Die bruidseisoen - Helene de Kock - Страница 4

1

Оглавление

Venesië in Januarie – die mooi waterstad op sy koudste, maar in die klein kafeetjie is dit heerlik warm.

Sanet sien die donkerkopkelner nader kom. Sy knip haar handtas oop en vroetel daarin. Met ’n bietjie gesukkel kry sy die regte bedrag beet. Vreemde geld, vreemde land. En sy is alleen. Die eerste keer in weke – of is dit jare? – is sy werklik alleen, nie soseer om te maak wat sy wil nie, maar om uitsluitlik met haarself te verkeer. En dit is nuut!

Op die ingewing van die oomblik – en omdat die kafeetjie so heerlik knus is – besluit sy om nog ’n koppie koffie te drink. Italiaanse koffie, mals en heerlik.

“Il cappucino, per favore,” bestel sy effens verleë.

“I am glad the signorina enjoys our coffee. It is a special Venetian brand,” antwoord hy haar gladweg, sy oor vinnig om haar huiwering en effense aksent op te vang.

Sy glimlag, en dit bring ’n kuiltjie in haar wang en verhelder haar donkerbruin oë. Maar sy sien betyds die vinnige emosies van die gebore Venesiër raak, en sy laat haar kop sak sodat haar blinkgeel hare vorentoe swaai.

Die kelner laat ’n stroom gefluisterde Italiaans uit waarvan sy net ’n paar woorde opvang en verstaan: “Mamma mia … perfetto … come un fiore!”

Sy sluk haar lag in, maar haar blos verraai dat sy meer Italiaans ken as wat hy gedink het.

“Perfek … soos ’n blom …” daag die betekenis van sy woorde in haar. En toe die kelner flink verdwyn om haar bestelling uit te voer, wonder sy: is dit hoekom tant Bybs so gekeer het toe sy daarop aangedring het om ’n week langer te bly?

“Maar, kind!” het die goeie tant Bybs die dag verstom gesê, haar swart ogies wyd gerek. “Wat sal my suster sê as ek haar enigste dogter sommer hier in die vreemde agterlaat? Wat is dit met jou!”

Sanet kan dit self nie verklaar nie. Dis twee maande voor haar troue met die man wat sy liefhet, en daar is geen haas in haar om terug te gaan nie! Inteendeel; dit is asof die alleenwees hierdie laaste paar dae voordat sy haarself sal gee – of verloor – opwindend soet is!

Hoe kan ’n mens jouself nou ook verloor in ’n verhouding? wonder sy skielik onrustig, ontsteld oor die gedagte wat so ongevraag en onwelkom opgeduik het. Maar sy kan dié gedagte nie vasvang en ontleed nie; hy vlug ál voor haar uit, en dit voel vir haar asof sy half verdwaas volg … tot sy voor Kallie se beeld te staan kom.

Kallie. Blonde Kallie met sy blou oë. Ryk Kallie wat aan haar alles kan gee wat sy reeds so mildelik geniet. ’n Voortsetting van haar gekoesterde lewe, gekussing deur geld en nogmaals geld …

Ek het hom lief, lief, lief! sê sy diep binne-in haar. En die liefde dring deur alles heen; dit vee rykdom weg en omvou verdriet. En dis mos nie asof ek hom nie kén nie! Dit was nog altyd net ek en Kallie. Behoefte aan iemand anders was daar nooit! Hy vul my gedagtes, my dae, my drome … en my bede? Maar sy stoot die gedagtetjie verlig weg toe die kelner haar tweede koppie koffie talmend voor haar neersit. Haar strak gesig laat hom onwillig padgee.

Die frons tussen haar wenkbroue keep dieper. Sy het drie poskaarte van Kallie ontvang in hierdie vier weke. Die laaste poskaart het twee weke gelede aangekom; ’n kleurryke sonsondergang op Mount Rushmore in die Black Hills van Suid-Dakota in Amerika.

“’n Wonderlike gesig, Sanet,” het hy geskryf. “Jy wonder seker wat maak ek hier. Ag, jong, Mammie-hulle is so besig by die ambassade dat ek my begin verveel het. Washington se partytjies amuseer my nie meer nie en ek en ’n klomp jonges het toe die pad gevat. Ons slaap vanaand in Cody. Môre gaan ons Rodeo bekyk. Dan mik ons Yellowstone Park toe, warm bronne en so. Stuur jou briewe ambassade toe. Liefde – Kallie.” Geen woord oor hul komende huwelik nie.

Dit was twee weke gelede. Nie dat sy omgee nie. Sy weet presies hoe styf dit in ’n ambassade kan wees, en Kallie was nog nooit lief vir reëls en regulasies nie. Sy was nog altyd die een wat haar met gemak aan reëls kon hou, wat kon insien waarom daar reëls is. Veral as eerstejaar op Tukkies het sy geen begeerte gehad om “uit te breek” nie (Kallie se uitdrukking). Hy was toe al twee jaar lank daar en bekend as een van Boekenhout se voorste “droogmakers”. Tog was hy by owerheid en onderdaan ewe gewild.

“Kallie sal selfs die voëls uit die bome kan toor!” het tant Bybs dikwels droog opgemerk. En dit is presies wat Kallie daardie aand gedoen het. Sou hy dit nog onthou? kriewel dit binne-in haar. Dit was een van die baie kere dat hy gedoen het net wat hy wou …

Hulle was op ’n studentepiekniek by Die Hoekie, met warm son en koel water, braaivleis en bier en koeldrank vir die meisies wat nie bier drink nie. Sanet het ook koeldrank verkies. Sommer maar omdat sy nie juis in ’n toegeeflike bui was nie.

“Net één bier!” het Kallie gesoebat. “Net een, my ding, sal jou rêrig niks maak nie!” Kallie, derde jaar regte – só seker van wat sál en wat nié sal nie! Maar dit was vir haar niks nuuts nie. Sy het hom al te lank geken.

“Kallie,” het sy koud gesê, “moenie met my lol nie!”

Hy het lank doodstil na haar gekyk. Toe het hy die onoopgemaakte blikkie bier op ’n klip neergesit, haar vingers wat sy beskermend om haar koeldrankglas geklamp het, sag losgemaak, die glas ook neergesit en haar dig teen hom aangetrek. Sy was dankbaar oor die digte struik tussen hulle en die ander pretmakers.

“My bene wil onder my ingee as jy so kwaai na my kyk!” het hy steeds lughartig gesê, want Kallie word nie maklik ernstig nie. Maar toe het sy tergery tog vinnig uitgerafel. Hy het haar stywer teen hom vasgedruk en in haar oor gesê: “Nee, met jou sal ek nooit lol nie, want met jou gaan ek trou! Hoor jy my?” Toe het hy haar gesoen, al op die kroontjie van haar sagte hare.

Sy het stokstyf gestaan van skone skrik. Die onverwagte aankondiging uit Kallie se mond was skielik te veel vir haar.

Tog, toe hy haar ken ná ’n rukkie lig omdat sy niks sê nie, vind sy haar stem: “Ja, ek hoor, maar … jy het dan nog nooit daarvan gepraat nie!”

Hy het begin lag, ineens weer die ou Kallie, meester van homself.

“Omdat ek nog nooit daaraan gedink het nie!”

So is Kallie ook: eerlik tot in sy siel toe. ’n Reguit mens omdat hy sê wat hy dink en voel. Die eerste wat sal erken dat hy verkeerd was – as hy betrap sou word.

Sanet glimlag: ’n klein glimlaggie van suiwer genot wat saam met die ryk koffie haar hele wese verwarm en ’n vlam van verlange aansteek, sodat sy skielik spyt is oor die verwardheid wat haar laat besluit het om ’n week langer te bly. En sy dink aan tant Bybs se woorde toe sy haar met ’n taxiboot tot by die Santa Lucia-stasie geneem het, waarvandaan sy per trein na Rome gereis het.

“Ag, kind, ek kon nog verstaan het toe jy ook ’n bietjie wou wegkom toe Kallie ’n ruk lank by sy ma-hulle wou wees voor jul troue, maar is dit nou rêrig nodig dat jy alleen hier agterbly? Hoekom vlieg jy nie liewer Washington toe en kuier saam met Kallie dáár nie? ’n Mooi meisie so alleen op ’n vreemde plek was nog altyd die begin van die einde!”

Sanet het die dwarreling van groen waters om die kiel van die boot dopgehou, nie mooi geweet wat om te antwoord nie.

“Tant Bybs, ek belowe ek sal niks oorkom nie! Ek wil sommer net nie nóú al teruggaan nie. Dis nog amper ’n maand voordat Kallie en sy ma-hulle Suid-Afrika toe gaan vir die troue. Ek weet net nie hoe ek die tyd by die huis gaan omkry nie. Nee wat, eerder hiér alleen as dáár!”

Tant Bybs se ogies was pikswart van verontwaardiging.

“Hoe kan jy nou só praat! Jy sal maak wat jy nog altyd gemaak het – rus, uitgaan, rondflerts saam met jou mammie! Dis mos lekker!”

“Is dit?” Sanet het haar asem effens geskok teruggetrek. Dit was uit voordat sy kon keer.

Haar tante se ronde mondjie het oop en toe, oop en toe gegaan.

“Sanet! Moet nou net nie vandag vir my sê dat jy – jy van alle mense – aan die sindroom van die rykmanskind begin ly van niks-is-lekker-nie of niks-het-waarde-nie-want-ek-kan-dit-koop! Dit was nog altyd vir my so mooi in jou dat jy die klein dingetjies kon geniet! Kyk soos nou weer: dis die hoeveelste keer dat jy in Venesië kom en jy vergaap jou nog steeds. En dis soos dit moet wees! Jy waardeer dit dat jy hier kan wees, want baie ander mense het nie die voorreg nie.”

Sanet het vertroostend oor haar tante se pofferhandjie gestreel.

“Dis net soos tannie sê, al hierdie dinge maak my elke keer bly, maar dit gaan nie nou dáárom nie … Ek wil in alle eerlikheid net ’n bietjie alleen wees – miskien so ’n bietjie dink!”

Tant Bybs het haar niggie se pragtige gesig goed bekyk, niks daarin gesien wat haar agterdog kon wek nie, en toe getroos gesê: “Nou maar goed dan. Miskien is dit ook nie so heeltemal onverstandig nie. Een van die dae het jy ’n permanente kamermaat en dan’s dit nie so maklik om alleen te wees nie, glo my!”

Hulle het geskater, die begrip van baie jare tussen hulle. ’n Heerlike gemoedelikheid! Hulle het die bedrywighede om hulle dopgehou en eers weer na mekaar gekyk toe die boot die kaai bereik.

Sanet se lippe het onseker beweeg.

“Tant Bybs, moenie vir Mammie sê ek bly langer om alleen te wees nie. Sy sal nie verstaan nie. Sê net ek wil nog ’n paar inkopies doen – kantwerk en daardie glas-koffiestel wat ek nou die dag op Murano bestel het.”

Die taxiboot het gedruk-druk teen die kaai van die stasie. Hulle sou moes uitklim, maar oomblikke lank het die twee vroue mekaar in die oë gekyk, half ontsteld geweet dat daar iets is, iets onnoembaars, wat na die bewuste wil beur, wat ’n onrusbarende rimpeling maak op die gang van gewone dae.

Tant Bybs het bleek gelyk in die son se laat middagstrale.

“Kind!” het sy gehyg en Sanet het haar nog selde so ontsteld gesien. Die beklemming het hom vaster geskroef in haar gemoed. “Kindjie,” het tant Bybs weer begin, haar asem kwalik onder beheer. “Jy het tog nie trousenuwees nie? Ek weet jou ma-hulle se grootdoenery pla jou soms … Ag, maar dis mos omdat hulle jou liefhet; jy’s dan hul enigste!” En toe Sanet stom na haar bly staar: “Dit pla jou sowaar! Het jou ma jou al gesê van … Het sy jou gesê …?” Sy het haar tande opmekaar geklem asof sy daardeur die vraag wou stuit.

Tant Bybs wou iets sê wat sy nie moes nie. Sanet kon nie ’n skewe glimlaggie onderdruk nie. Dit moet vir tant Bybs ’n vreemde ondervinding gewees het om nie te kon oorloop van wat in haar gemoed is nie.

Die ou tantetjie het op haar kenmerkende manier afskeid geneem: “Moet nou nie te veel na Kallie verlang nie, hoor!” En toe het sy so ’n knypie gif bygegooi: “Die niksnut! Hy was seker nou al by Yellowstone gewees!” Sy het ’n oomblik lank ingedagte bly staan. “Jy weet, ek wil ook nog gaan kyk na daardie warm bron wat baie jare lank al gereeld elke uur en ’n paar minute uit die aarde spuit. Old Faithful, noem hulle hom mos, nè?” Sy het gesug. “Nou ja, ek hoop Old Faithful het ’n blywende indruk op Kallie gemaak.”

Sanet het net geglimlag en haar tante weggesien. Tant Bybs is lief vir Kallie, maar sy was al by dat haar tante hom kaalkop die waarheid gesê het: “Jy moet jou draaie nóú loop, Kallie-mens! Anders vang die nood jou later! Wat jy nie nou uitwoed nie, jaag jou tot in jou gryse ouderdom!”

Kallie het nie op hom laat wag nie. Sy tong kan glip en gly soos enige advokaat s’n. “Nee wat, my tannietjie, ek het my storm-en-drang-jare al voorskools beleef. Daar’s net een meisie vir my!”

Die kelner werp Sanet nog ’n gefolterde blik toe, en sy besluit om liefs te loop.

Buite gloei Venesië sagpienk in die milde lig van die winteraand. Op die Piazza San Marco lê rosige poeletjies water glimmend soos gerookte glas. Sanet slaan die kraag van haar grys-en-wit woljas hoog op en wikkel haar nek toe in die knusheid. Dan kry sy koers oor die plein. ’n Paar laat duiwe fladder van haar af weg, duik die koue lug in.

Sy drentel aan; verby die Palazzo Ducale tot op die Ponte della Paglia, parallel met die Brug van Sugte. Daar bly sy staan, kyk na die rye en rye swart gondels, vasgemeer aan rooi-en-wit gestreepte paaltjies, rustig deinend op die groot lagune. ’n Ysige briesie snerp deur haar hare, stekel op haar wange sodat sy sidder en die jas stywer om haar slanke lyf vou.

Nie te veel na Kallie verlang nie …

Hoe doen ’n mens dit? Hy kon darem al weer geskryf het. Maar Kallie sou nie daaraan dink nie. Veral nie as hy die toer regtig geniet nie … Sou daar …? Natuurlik! Dis ook nie die eerste keer dat sy daaraan dink nie. Kallie sal nie in ’n toergroep gaan waar daar geen meisies is nie. En hy sal flankeer – met almal. Dis ook nie nuut nie, en dis ook nie dit wat die onrus soos ’n gety in haar laat opstoot nie. Nee, van hom is sy seker, baie seker. Rondkyk, met die klem op die kyk, sal hy altyd, maar ook terugkeer na haar. Vir hom is dit ’n speletjie. ’n Spel met die opwinding wat dit bring, prikkel sy aptyt daarvoor … Om te skerm met gevaar, daarvan hóú Kallie.

Sanet trippel vinnig met die brugtreetjies na onder asof sy so kan wegkom van die idee af. Sy kyk effens vervaard om haar rond. Grys ou mure van die paleisselle na links, met regs die blinkswart see wat teen die kaai druk … Sy adem die klamkoue lug brandend in en haar oë skiet vol warm trane.

Ek is laf! Láf! Trousenuwees – dis wat dit is, niks anders nie …

Sy loop driftig na ’n stalletjie toe op die rand van die kaai. ’n Ou vroutjie in swart geklee met ’n gapende glimlag sit agter ’n groot ysterpot vol olie en braai neute. Sanet koop ’n papierhouertjie vol knarswarm neute.

Sy staan ’n entjie weg om aan die ou vrou se oernuuskierigheid te ontkom, rol die vuurwarm soutigheid van die neute om en om in haar mond. Dis asof die lekkerte van iets smaakliks op die tong ook haar gemoed salf.

Sy dink weer aan Kallie, dié keer sonder ontsteltenis of drif. Sy dink aan daardie aand by Die Hoekie toe hy gesê het hy gaan met haar trou. Gesê het, nie gevra het nie, en haar gesoen het met dieselfde drif waarmee hy ’n opponent se woorde in die regsbank sou doodvee. Sy het nie daaroor geprotesteer nie; wel toe hy later die aand aangekondig het dat hul groepie langer gaan bly as tot ná die braaivleis.

“Toe, julle ouens! Kom ons maak nou ’n áánd hiervan! Kyk, daar kan ons dans!” Hy het na ’n harde, oop kol met poeierfyn sand gewys. “Kees, jy het jou kitaar hier, nè?”

“Ek het hom altyd by my, ou Kallie! Meer dikwels as my meisie!”

“Gaaf!” Toe het hy afgekyk na Sanet in sy arms, sy lippe in haar nek gedruk, gefluister: “Lief! My lief! Jy is vir my verskriklik mooi!”

Instinktief het sy geweet dat dáárdie woorde uit Kallie se mond oorgeloop het uit sy hart. Dit het oor sy lippe gebars voordat hy kon of wou dink; daarom het sy geweet dat hy dit bedoel. Sy het opgekyk in sy oë, blou oë wat ’n oomblik lank óóp was voor hare. Toe het hy meteens haar kop onder sy ken ingedruk sodat sy amper versmoor het in sy denimbaadjie. Sy stem bo haar het die oomblik weggebulder: “Komaan, Kees! Kry ons in die mood, ou!”

Kees het nie op hom laat wag nie, weggeval met ’n Cat Stevens-nommer en toe trekkerig oorgeslaan na “Lara se tema”. Op daardie oomblik het Sanet opnuut besef dat Kallie haar nie dikwels sonder skanse beskore sou wees nie. Hy is nie een vir oopmaak en praat nie, eerder vir toemaak en verdedig.

Dit was ná elf daardie aand toe sy besef het dat Kallie geen voorneme gehad het om haar betyds by die koshuis te kry nie.

“Kallie, as ons nie nóú ry nie, gaan ek gehek word, en dan sit ek drie Saterdagaande, jong!” het sy ’n bietjie later gesê.

“Twak, my pop! Lilian is aan diens en sy sal jou nooit hek nie!”

Hy het ’n paar ingewikkelde slaplyfdraaie al om haar gemaak sodat sy eers ’n paar passies later kon vra, ongeloof in haar stem: “Hoe weet jy Lilian is aan diens? Jy maak ’n fout as jy dink sy sal my nie hek nie! Sy’s nie verniet onderprim nie, Kallie! ’n Reël is ’n reël!”

Kallie het gaan staan, hande op die heupe, sy blou oë op skrefies getrek.

Sanet het ook gaan staan, arms om haar skouers asof sy sy oë van haar liggaam wou afweer. Haar wenkbroue was ’n kritiese vraagteken, haar oë smeulend in die vuurlig, en haar hare sag gloeiend om die bleek gesig.

’n Laggie het Kallie se een mondhoek opgetrek asof hy daarmee die smeuling agter die swaar ooglede wou ontken.

“Jy moet ophou kerm.” Sy stem was ’n streling, sy woorde ’n stelling.

Sy was kwaad en het die bedwelming van sy nabyheid met ’n swaai van die goue hare afgeskud.

“Kerm ek nie nóú nie, kerm jy die volgende paar wéke as ek nie kan uitgaan nie!” Haar stem het bo Kees se akkoorde uitgestyg en paartjies het belangstellend bly staan. Kallie het haar met een haal van sy arm tot teen hom getrek en haar uit die ligkring geswaai.

Sy het die bewing om beheerstheid in die sterk, jong arm om haar gevoel. En die drang wat dit in haar wakker maak. Half verskrik het sy besluit om nie die eerste woord in die stilte te laat val nie.

Dit was ook nie nodig nie. In die donker het Kallie haar teruggedruk tot op ’n plat klip. Sy het met lam knieë gaan sit, maar hy het bloot voor haar bly staan, sy kop afgebuig, soekend na haar gesig in die donker en heelwat nugterder weens die onverwagte frustrasie.

“Mei-sie-kind!” het hy tussen geklemde kake deur gesis met kamma woede in sy stem, en sy het haar asem verlig uitgeblaas.

Toe lag hy.

“Jy kan van verligting sug! … Weet jy hoekom maak jy my so kwaad? Omdat ek jou so liefhet! G’n ander meisie kon dit nog ooit regkry nie! Ek hoop net nie dat dit nou gaan maak dat ons verhouding ’n reeks van versoenings gaan wees nie! Iemand sal moet kopgee, en dit gaan nie ek wees nie!”

Sanet wou-wou net weer vlamvat.

“Dis nie ’n kwessie van kopgee nie! Ek gaan láát wees! En tyd val buite die bestek van argumente! Die punt is, as ek nie betyds is nie, gaan ek gestraf word!”

Kallie het skielik voor haar gehurk, baie van sy geduld saam met sy bierasem aan die verdamp.

“Luister, Sanet, ek het jou gesê Lilian is aan diens. Hugo was juis vies daaroor, want vanaand is een van sy weinige vry aande. Hy’t gesê hy sal dan maar daar sit en swot. Hy moet glo Maandag met ’n blindederm assisteer.”

“Maar weet hy ons …”

“Natúúrlik weet hy nié! Ek het dan sélf nie geweet ons sal besluit om later te bly nie! Maar hy sal die ding kan hanteer, daarvan is ek seker. Hy sal iets uitdink om jóú uit die moeilikheid te hou! Ek moet sê, daardie boetie van my se besorgdheid oor jou grens soms aan iets waaraan ek liewer nie wil dink nie! Hy wou my dan glad nou die aand wurg omdat ek vir Liezel saamgevat het skou toe toe jy griep gehad het! Nee, jy hoef jou nie te bekommer as Hugo daar is nie!” Sy stem was tartend. “Dié ou broer van my is veels té gesteld op die goeie orde … maar ek dink sy begaandheid oor jou sal dié keer wen!”

’n Paar oomblikke lank het Sanet doodstil gebly. Die louwarmte van die somernag het meteens die sonbesies aan die gang gesit. Toe het sy vuurwarm gesê: “Jy is absoluut naar, Kallie! Hugo is een van die verantwoordelikste mense wat ek ken!”

Hy het opgestaan en haar saam met hom opgeruk, die beweging ’n antwoord op haar eie driftigheid.

“En ek is ónverantwoordelik?” Daar was ’n effense laggie om die aantreklike mond, sy hande om haar kop geanker.

Sy het opgekyk in twee skrefies blou ys. Haar woede het oorgeslaan in ’n bewing wat trane van frustrasie in haar oë laat opskiet het.

“Nee … nee,” het sy met inspanning gefluister. “Jy is waaghalsig! Dis wat jy is!”

Sy het raak geantwoord. Dit het sy geweet. Hy kon haar verset aanvoel, maar ook haar oorgawe – omdat sy hom liefhet. Liefhet met die krag van hul kinderjare saam, en nou met die dwang van hul jeug.

Hy het sy hande laat gly oor die lyn van haar nek, haar delikate skouers en hulle agter haar rug gekruis.

“Sanet …” het hy gesug, hom sigbaar gedwing om haar nie nader te trek nie, “ek wonder soms hoekom ek jóú nou juis moet liefhê, jou nog altyd liefgehad het.” Toe het hy geswig, haar styf vasgehou. “Een ding weet ek, dit gaan nie vervelig wees nie!”

“Wat gaan nie vervelig wees nie?” het die koket in haar momenteel die oorhand gekry, en toe enige verdere woordsmeuling laat smoor in hul omhelsing.

Toe sy weer kon praat: “My slim advokaat!”

“Hm?” Behoedsaam.

“Ag, Kallie …” Moedeloos. Dan, sonder om doekies om te draai: “Hoe de joos dink jy gaan ek in die koshuis kom? Dis nou te sê, as Hugo dit regkry om vir Lilian ’n storie te vertel!”

“Klaar uitgedink. Jou advokaat laat hom nie vang nie … e … al moet hy nog sukkel om ’n graad agter sy naam te kry! Jy gaan by tant Bybs slaap natuurlik!”

So tussen Kees se getokkel en lawwe grappe deur het die ure weggeglip. Dit was ná een toe Kallie se sportmotor by die groot wit hekke indraai. Die ligte het swiepend oor die ou huis gevee.

“Nou om die ou lady wakker te kry,” het Kallie gesê. Sanet het haar vererg, maar verborge angs en die laatheid van die uur het haar laat stilbly.

Hy het haar uitgehelp, die deur toegemaak, en met sy arm styf om haar skouer aangestap deur toe. Die deurklokkie het oomblikke lank skellend deur die huis gegalm. Kallie het houtgerus teen die deur geleun met sy ken op Sanet se hare. Dit het hom ’n volle tien minute gekos om te besef dat daar geen reaksie uit die huis kom nie. Sanet se groeiende onrus het meteens ontplof.

“Ag, sien jy nou! Ek het jou mos gesê, Kallie! Daar gaan nog moeilikheid wees, ek weet dit!”

“Sien jy, ek het jou mos gesê!” het Kallie in ’n hoë stemmetjie verder op haar rou senuwees gespeel, maar nogtans haar hand gegryp en vinnig om die huis na die huishulp se kwartiere toe gestap. Daar het hulle ’n deur die slaap Petrusa aangetref. Sy het hulle met groot, geskokte oë begluur:

“Ma’ mevrou Bybs is Jo’burg toe! Na jou mammie-hulle vir die weekend, Sanet! Jy weet darem seker?”

Sanet hét onthou. Meteens onthou. Die vorige week het sy tant Bybs geskakel en tóé al gehoor dat haar tante ’n plan het om die naweek na haar ouers te gaan. Sy het haar onderlip styf vasgebyt.

Kallie het vraend na haar gekyk.

“Ek het vergeet …” het sy berouvol geantwoord. “Skoon vergeet … Wat gaan ons nóú maak?”

“Goeie vraag!” Hy het hom na die ou huishulp gewend: “Sy kan mos in die huis slaap, of hoe?”

Petrusa se kop het opgeruk, en sy het Kallie met ’n kyk van die aardbol af probeer veeg. Haar volgende woorde was uitsluitend aan Sanet gerig: “Mevrou Bybs laat nooit nie die sleutel hier nie! Besaaids, ’n man kan nog alleen slaap in die huis, maar nooit nie die meisiekind nie.” Haar kwaai ogies het na Kallie geblits. “Miskien as haar naam nie Sanet Bo’man is nie – ma’ nie dié meisietjie nie!”

Kallie het half vies, half geamuseerd na die ou vrou gestaar. Hy was al jare lank gewoond dat sy haar tong op hom slyt, en háár sensuur skeel hom min.

“Nou waar de ongeluk moet sy anders heen gaan?”

Sanet het gesug en die stryd gewonne gegee. Sy was te moeg om verder te dink en het net krampagtig aan Kallie se arm bly hang. Hy sou weet. Hy móét mos weet! Ou Petrusa het die bleek gouekopmeisie net een kyk gegee en haar kombers stewiger om haar vasgevat.

“Vat haar na meneer Hugo toe. Hy sal weet wat om te maak!”

Dit was nie nodig om vir Hugo op te klop nie. Hulle het skaars aan die deur geraak, toe word dit oopgeruk.

Hugo het daar gestaan, donker teen die lig en baie kwaad. Hy het Sanet heeltemal geïgnoreer en ’n spervuur op Kallie gerig: “Waar de duiwel dink jy loop jy dié tyd van die nag met ’n meisie rond? Hoe werk jou verstand? Besef jy nie dat Sanet presies twee uur gelede al in die koshuis moes gewees het nie? En waar dink jy gaan jy nóú met haar heen?”

Sanet het Hugo aangegaap. Nog nooit het sy hom sulke woedende woorde in so ’n kort tydjie hoor sê nie. Tog het dit die hele situasie in perspektief gehamer: Onnadenkend! Ongehoord! Verkeerd!

Kallie was ook sigbaar verras, sy lughartigheid heeltemal geblus deur die aanval. ’n Lig in een van die woonstelle het aangegaan en Hugo het hulle aan hul boarms na binne getrek en die deur agter hulle toegemaak – ’n welkome pousetjie waarin Kallie sy denke effens kon orden.

“Ek het haar hiérheen gebring!” het hy heeltemal gaaf geantwoord, maar Sanet het die waaksaamheid in die blou oë gesien. Ongevraag het tant Bybs se woorde haar te binne geskiet: “Geen man om mee te speel nie, daai Hugo, sê ek jou!” En sy het geskrik toe Hugo se oë vlietend op haar rus en dadelik terugflits na Kallie toe.

“Dit kan ek sién,” het hy ysig laat hoor. “Wat ek wil weet, is waarheen jy op pád is!”

Kallie het ’n rukkie gestaan. ’n Bewegende spiertjie het die verset op sy kakebeen geteken. “Tsk! Ek ís mos jammer!”

“Daarby het ek nog glad nie gekom nie. Dis ook nie aan my wat jy die verskoning verskuldig is nie …”

“Nou goed dan!” het Kallie teruggekap. “Kan Sanet vannag hier in jou woonstel slaap?”

Hugo se oë het net effens geflikker.

“As opposed to what?” het hy saggies gevra, sy Engelse afkoms aan moederskant altyd aan die uitslaan as hy ontsteld is. Sy uiterlike koelheid kon nie anders as om Kallie te demp nie.

“Ag, niks nie, man. Wat kan ons nou anders doen? Sy kan tog nie na ’n hotel toe gaan nie, en tant Bybs is by haar ma-hulle!”

“Ou nuus. Ek het nogal aan haar gedink. Dis hoe ek verby Lilian gekom het toe Sanet nie betyds opdaag nie.” Hy het hom die eerste maal daardie aand na Sanet gedraai, heeltemal onpersoonlik gesê: “Onthou, jy het vergeet om uit te teken vir die naweek na tant Bybs toe. Jy’t vergeet om verlof te vra ook. Dáárvan kon ek jou nie red nie!”

Sanet het besef dat sy yskoud was van blote spanning. Sy het opgekyk, en ’n oomblik lank was sy vasgevang deur Hugo se grys oë in die songebruinde gesig. En sy het gesien hoe sy streng mond ’n oomblik lank versag. Toe het sy weggekyk.

“Dankie …” het sy gefluister.

“Ek sal vir jou skoon lakens uithaal,” het hy dadelik gesê, fronsend na die wit kring om haar mond gekyk. “Spring in die bed. Ek sal hier toesluit en langsaan by Jan en Marie gaan slaap. Hulle is al gewoond aan dié dinge …” Maar sy oë was op Kallie toe hy die laaste woorde sê.

Eers later sou sy dit herroep. Op ’n kampus trek nuus soos ’n veldbrand, en ’n maand of wat daarna het ’n vriend van Jan en Marie te veel gepraat. Hulle het vertel hoe ou Jan kla dat Hugo hom al weer die vorige nag kom pla het vir slaapplek. Daardie jonger boetie van hom weet mos nooit wanneer om sy meisies koshuis toe te bring nie, en dan moet hy wat Jan is watter tyd van die nag opvlieg en vir ou Hugo help bed maak in die sitkamer sodat die meisie in Hugo se woonstel kan slaap. Hoeka tyd dat Kallie vasgevat word …

Dit was in die kafeteria. Die praters by die tafeltjie langsaan se goedige geskerts was nie gemik om seer te maak nie, maar Sanet het verbouereerd opgespring. Haar kamermaat het vergeefs probeer keer. Sy het blindelings deur toe gepyl – en haar vasgeloop in ’n man met ’n blou trui.

Kallie. Kallie wat haar laggend vasgegryp het en sy vingers deur haar los hare getrek het. Eers tóé het hy die bruin oë vol trane gesien en haar vlugtig uit die maling van studente gepluk.

“Wassit?”

“Ek haat jou! Ek wil jou nooit weer sien nie, Kallie Malan!”

“Sjoeka! Dis ’n lang tyd! Wat het gebeur? Het jy Latyn gedop?”

Sy het haar hare teruggeskud, hom vierkant in die oë gekyk.

“Ek weet van die ander meisie!” Sy het geprobeer om hard en beskuldigend te klink. Maar die smeking in die bruin oë het Kallie nie ontgaan nie.

“Watter meisie van die hele paar wat ek gewoonlik uitneem?”

Hy wou haar skok, en hy hét. Dit was op stuk van sake nie moeilik nie. Sy was ’n eerstejaar. Vreemd op ’n vreemde plek. En alles in haar het op Kallie gefokus. Sy het sprakeloos bly staan.

Hy het haar hand gevat en begin aanstap, sommerso oor die groot plein na die spuitfontein se kant toe. En gepraat en gepraat …

“Meisietjie, meisietjie … Wat dink jy dóén ek die afgelope drie jaar hier? Jy is net ’n Ienk. Ek gee jou kans. Ek gee myself kans. Dit beteken nie dat ek jou minder liefhet nie.”

Kans? Maar het hy haar ooit … káns gegee?

Hier waar Sanet op die kaai staan, voel sy hoe die koue vasvatplek aan haar gekry het. Tot haar hand wat die papierbakkie vashou, is yskoud, want die neute het sy lankal opgeëet. Op die ingewing van die oomblik gooi sy die bakkie in die see, staan en kyk hoe die swart waters dit draaiend laat wegdobber. Sy ril. Nou moet sy regtig ingaan. Netnou vat sy koue, en waar het jy nou al ’n niesende bruid gesien! Die gedagte bring ’n flikkering van humor, maar dit verjaag nie die spoke nie.

Sy draai om en loop gejaagd weg, oor die bruggie, oor die verlate plein met sy paar mensies en deur ’n nou stegie. Skielik kom sy uit in die verligte voorhof van haar hotel. Sy stap vinnig oor die plaveisel en druk die swaar glasdeur moeisaam oop.

Half stram van die koue en met ’n asem wat brand, huiwer sy by die toonbank. Dalk het daar vandag ’n kaartjie van Kallie gekom …

“Signorina?”

Sy skrik effens. Besef dat sy met haar oë op die poshokkies staan. Die toonbankklerk volg haar blik en sê verskonend: “No post for the signorina today.”

Sy glimlag verstrooid. “Grazie.”

Die klerk blom. “Prego. But there was a gentleman who asked for you … very handsome … he asked the number of the signorina’s room!”

Verbasing word skok wat ’n gloed deur haar liggaam stuur, krag aan haar bene verleen sodat sy die trap drie-drie opvlieg. Kallie! Dit kan net Kallie wees! Hy het ook verlang! Hy het ook trousenuwees … ’n Klein laggie ontglip haar toe sy in die gang af hardloop. Sy sien hoe die blompatroon van die mat onder haar voete verbyvlieg, hoor hoe die glaskandelares bo haar kop rinkel van die trilling op die vloer …

Die man aan die punt van die gang sien haar kom, kyk na haar uitbundigheid. Hy weet wat sy dink, sien wat sy voel … en hy klem sy kake styf opmekaar.

“Sanet!”

Sy skok tot stilstand, staar na die man wat teen die toe deur aanleun. Hy kom orent.

“Hugo!” Verdwaas.

Sy mondhoek trek effens. Sy weet dit nie, maar hy probeer om te glimlag, vind dit onmoontlik in die aangesig van wat hy kom doen het.

“Hallo, Sanet …”

’n Koue doodsheid styg wurgend in haar op.

“Hugo?” hyg sy. “Wat maak jy hiér?”

Hy vat die sleutel uit haar yskoue hand en sluit oop, stoot haar na binne en sit die lig aan. Sy ruk om.

“Hugo, asseblief!”

Hy aarsel, maar net ’n oomblik lank.

“Ek is hier omdat ek hier wil wees! By jóú. En ek het gekom omdat ek gevrá is om te kom.”

Die bloed vloei uit haar gesig.

“Dis Kallie, nè?”

Hy knik, kyk haar nogtans reg in die oë.

“Het hy … het hy iets oorgekom?”

“Ja, maar niks blywends nie … Nie soos ek hom ken nie!”

“Wat?” Net haar lippe vorm die vraag.

“Kallie is getroud!” antwoord hy en lek oor sy droë lippe.

Die bruidseisoen

Подняться наверх