Читать книгу Man van gister - Helene de Kock - Страница 4
1
ОглавлениеPeet staan voor sy koshuisvenster en uitkyk op die welige jakarandaboom wat pers bloeisels drup-drup in die soel middaglug. Hier en daar kruip die teergroen van lower reeds deur die wasagtige blommetjies. Die blomtyd sal oor ’n ruk verby wees. Nog ’n paar weke en die somer se warm greep sal die bloeisels smoor, en die boom sal rypgroen blare spruit. Dis ’n patroon wat homself al vyf jaar lank hier voor sy venster kom herhaal. Dit op sigself was nog altyd ’n belewenis, te meer omdat dit altyd gepaardgegaan het met die trauma van die eksamen. Hier het hy deur sy eerste graad in die regte geworstel en met lof daarin geslaag. Daarna het hy die stekelrige sweetpad met ietwat meer gemak geloop, en sy LL.B. was ’n akademiese sege. Oor ’n jaar, so is die plan, vertrek hy na die Rijksuniversiteit van Leiden …
Maar eers is daar die vakansie op Damplaas. En ten laaste, dink hy ’n klein bietjie wrang, is daar óók die vakansie op Damplaas. Om Damplaas wentel sy lewe, al lyk dit nie elke dag so nie. Damplaas is die afgelope twee jaar al ’n versinnebeelding van hulle vier, want diep in die kern van elke vakansie is dié samesyn – hy en Eugene en Maryn en Elsje … Of liewer, hy en Maryn, en Eugene en Elsje. Hy en Maryn, dit is wat belangrik is. Dan, ná die vakansie, ná die heerlike soel Desember van die oestyd op Damplaas, begin die nuwe jaar hier, wat reeds so pragtig vir hom uitgespel is deur prof. De Beer: “Kom help ons doseer vir ’n jaar voordat jy aan Leiden begin dink. Ons kan ’n student soos jy nie sommer maar net laat gaan nie – en ons het jou nodig noudat Van der Spuy weg is. Dit sal jou ook goed doen …”
Dus: ’n hele jaar se speling voordat hy hoef te dink aan Leiden. Hy gaan tog nie alléén soontoe nie. Vra maar vir Chris, wat maande lank alleen daar was, hoe dit voel: heeltyd keer die winter jou in ’n klam hoekie vas en die Sondag wat dit somer is, waai die wind splete deur jou! Nee wat, hy en Maryn sal wel sáám die ding doen.
Sonder Maryn, weet hy net, durf hy nie gaan nie. Sy sal wel regkom. Miskien kan sy die dae dat hy pal in die biblioteek gaan wees, self ’n bietjie rondtoer en inkopies doen. Pa Frederik sal sorg dat sy dit kan doen. Peet dink dit sonder enige venyn of sinisme; dit is bloot die waarheid. Pa Frederik sal seker maak dat Maryn en ook hy nie ’n enkele gulden hoef om te draai nie. ’n Sug wel in Peet op. Nou ja, daaraan hoef hy in der waarheid eers oor ’n jaar ernstig te dink. Nog drie honderd vyf en sestig dae se grasie. En vandag tel ook nog, soos Eugene dikwels sê. Vandag gaan hy en Maryn en Eugene en Elsje huis toe – na Damplaas. Met dié sit hy Leiden en alles wat daarmee saamgaan uit sy kop. Baie tyd daarvoor, baie tyd …
Hy begin vinnig en sekuur sy klere in die koffer pak. Hy het min klere, maar alles is met die grootste sorg uitgesoek en pas smaakvol bymekaar. Klaar daarmee, kry hy die paar goedjies wat nog rondlê, reg en spoedig is geen kopspeld uit sy plek nie. Hy kan nou maar vertrek. Alles is in orde. Sy baie boeke is in kartonne gepak wat hy verlede week al by ’n klasmaat se huis laat berg het. Al wat hy saamneem Damplaas toe is sy twee tasse en ’n rugsak. ’n Oomblik talm hy nog, tik dan uit gewoonte op sy hempsak met sy vingers om te voel of sy bril nog daar is en sit dit op.
“Peet!” skreeu iemand onder sy venster. “Haai, Peet!”
“Ja?” vra hy met sy diep, welluidende stem en stap venster toe. Hy kan egter niemand sien nie, want die pers bloeisels, trillend in die ligte briesie, versper sy uitsig heeltemal. Hy luister net fyn.
“Farrah Fawcett-Majors om jou te sien, ou maat!”
Peet verstil. Elsje dus … Dis net na Elsje dat ’n leepoogstudent as Farrah Fawcett-Majors sal verwys. Dus het Elsje hom kom oplaai …
“Wel,” sê hy luid van agter sy bloeisel-skans, “sê vir haar by my moet sy vir ’n oudisie kom; sy kan nie maar net kontrak teken nie. Hier is die keuring streng!” Toe die verspotte woorde uit is en hy die gelag van onder hoor, klik hy spytig vir homself met die tong. Wat makeer hom tog nou weer?
Teen die tyd dat Peet op die stoep uitkom met sy pakkasie, het die bril al weer afgeskuif op sy neus, maar hy loop lustig fluitende met die swaar tasse. Toe hy om die hoek geloop kom met sy vrag, gewaar hy Elsje waar sy by Eugene se sportmotor staan met ’n kring bewonderaars om haar. ’n Oomblik ervaar hy ’n emosie wat soos ’n seer spasma deur hom trek. Hy beny Eugene. Hy het Eugene lief soos ’n broer, maar ai, daardie motor! Duits en ingevoer en baie eksklusief. Soos Elsje … Hy skud sy kop vinnig sodat sy bril wip, en frons vererg. Net, hy sal beter na só ’n spogding kyk. Geen modderspatsels of papiertjies wat binne rondlê nie. Maar, nou ja, dit help ook nie om te beplan as jy gedoem is tot wensdenkery nie. Dis die een ding wat hy oom Frederik geweier het – hy het hom bedank omdat hy hom kosteloos laat leer het, sy diepe waardering uitgespreek omdat hy hom as’t ware grootgemaak het, selfs ’n duur fiets as geskenk aanvaar toe hy sy B. Juris gecum het … Maar net daar het hy sy voet dwars gesit. Géén motor nie, nie dié motor wat oom Frederik hom uit die goedheid van sy hart en sy bodemlose beursie wou gee nie. Iewers moet ’n man, ’n wáre man, die streep trek. Daar is genoeg plekke waar hy dit om vredeswille nie kan trek nie.
Toe Peet ewe luiters om die motor loop en sy hand na Elsje uithou vir die sleutels om die kattebak oop te sluit, begroet uitgerekte wolwefluite hom. Sonder om hom direk in die oë te kyk, skud Elsje haar blonde maanhaar uit haar gesig en oorhandig die sleutels onder groot gejil.
“Jy waag baie, ou Peet!” skreeu iemand.
“Sê maar as jy ’n sekondant wil hê, ou maat!” voeg ’n ander by.
“Sê vir ou Eugene hier is ’n paar lekker stomp spiese van die veldnommers in die pakkamer, as dit nou op stuk van sake kom!” roep ’n derde.
“Sê vir hom hy kan kies tussen dit en een van sy karatekappe,” skreeu ’n mediese student, “ek sal ou Peetman weer vir hom fieks!”
Peet laai sy bagasie in die kattebak sonder om ’n spier in sy gesig te verroer. Toe hy klaar is, stoot hy sy bril reg en staar miopies deur die dik lense na die verspotte klomp ouens.
“Skoert,” sê hy sag, maar met die vae flikkering van ’n lag om sy vol mond. En die manne maak so. Hulle ken mos vir Peet al vyf jaar lank – met én sonder grappies. Peet Baumann is die gaafste ou onder die son, hy word jou vriend en hy bly jou vriend, maar ook jou eerlikste kritikus. Een ding van Peet darem: hy het geen venyn nie. En as hy reken jy moet skoert, dan skoert jy.
Sonder om hom in die minste verder aan die laggende studente te steur, groet hy Elsje vriendelik asof hulle alleen is, en hou die linkerdeur vir haar oop sodat sy kan inklim. Dan skuif hy self agter die stuurwiel in, want dis vanselfsprekend dat hy sal bestuur as Eugene om die een of ander rede nie by is nie.
“Waar is Eugene dan?” vra hy net toe hy wegtrek. Hy bestuur glad en met die strelende aanvoeling van iemand wat motors verstaan.
Elsje lig haar groot blou oë van sy hande op die stuur af, en beskou hom sydelings – die bos swart krulhare en dik grootraambril wat hom onvermydelik geniaal laat vertoon, en dan, die onverwags sensuele mond.
“Hy het my gestuur om jou te kom haal,” sê sy in die eerste plek ter verduideliking, want soos altyd slaag hy daarin om haar effens skuldig te laat voel. Of dalk verbeel sy haar dit maar net. Sy voeg vinnig by: “Ek het vir hom by die eksamenlokaal gewag – hy het mos vandag Genetika geskryf, onthou? Nou ja, ek het gewag en gewag en toe kom hy later uit en sê ek moet solank vir jou en Maryn gaan haal, en hom dan by Olienhout kry. Hy gesels glo eers met die prof oor ’n vraag wat hy blykbaar misverstaan het, of so dink hy …”
“Tsk, tsk, tsk, dis nou ’n flater om met die prof te gaan gesels en so te sê oor jou onbegrip te gaan bieg! Pleks dat hy eenvoudig maak asof dit die onnadenkende prof is wat die vraag verkeerd opgestel het!”
Elsje bars uit van die lag, en die effense spanning vloei uit haar weg. Sy lag dat haar pragtige stel wit tande almal wys en haar wange gloei. Peet se oë swiep oor haar vrolike gelaat en skraal liggaam in die wit broekpak, en sy rare glimlag kom ook te voorskyn.
“Ja,” sê Elsje dan, “dis nou tipies Eugene. Hy is so …”
“So knaend eerlik,” sê Peet en maneuvreer die motor meesterlik om ’n skerp draai. “Dis nou ons Eugene, hy ken nie afdraaipaadjies nie. Hy ken net een pad en hy loop hom deur die dorings en deur die bos. Hy sal daardie prof reguit sê hy’t die ingewikkelde vraag nie verstaan nie en hy sal natuurlik geen punte kry nie. ’n Mens kan mos nie gorrel in Genetika nie. Enige ander ou sal nog voorgee dat hy net getwyfel het aangaande ’n paar puntjies …” Peet skud meewarig sy kop.
“Ek dag jy hou van Eugene,” sê Elsje en kyk by die venster uit. Sy weet goed dat Peet van kindsbeen af mal is oor die jonger Eugene – so het Maryn haar ook vertel – maar sy sê dit bloot om hom uit te lok. Dis selde dat sy alleen met hom gesels, en hy is deesdae onverklaarbaar baie in haar gedagtes. Hy is iemand wat in ’n mens se hart kruip, dink sy. ’n Mens hou van meet af aan van hom, en op ’n dag ontdek jy ook nog dat daar ’n sensitiewe en uiters opmerksame mens agter die oënskynlik wettiese persoonlikheid skuil.
Peet kyk ’n oomblik skerp na haar.
“Moet nou nie dinge uit verband ruk nie,” sê hy. “Ek kritiseer nie jou Eugene nie. Trouens, ek is een van sy bewonderaars. Maar ’n mens moet jou vriende ook in perspektief sien – Eugene is soms irrasioneel eerlik, as jy sal verstaan wat ek bedoel …”
“Hm, hy is reguit, en na die hoenders met die res …”
“Solank jy hom maar só verstaan,” sê hy sag.
“Ja, natuurlik,” stem sy kopknikkend in, kyk dan weer na hom, haar helder blou oë geskreef agter die digte wimpers. “Jy self draai nie juis doekies om nie, Peet Baumann!”
“Nee,” antwoord hy ernstig, “maar ek gaan ’n goeie advokaat word – en daarmee sê ek beslis nie dat ek die gladste sal kan jok nie, maar dat ek die waarheid in ses verskillende gedaantes oortuigend sal kan laat deurgaan vir die waarheid!”
“Sjoe!” lag sy weer, en toe, ná ’n kort swye: “Ek is seker jy gaan jou talente in die hof verkwis, Peet. Jy behoort eintlik die een of ander groot sosiale ster te word – een wat sulke droë pittighede op die regte oomblik kwytraak en dan op grond daarvan voorbladnuus word! Dink net hoe sal jy die media laat floreer … Peet Baumann sê bekende filmster se bates maak geen indruk, of: TV se Peet Baumann los sy bril vir kykers en vat self vir Farrah Fawcett-Majors!”
Daar is ’n gelaaide stiltetjie.
Dus het sy gehoor wat ek uit die kamer vir die manne geskree het, dink Peet, en hy kry innerlik lag. Maar hy antwoord haar vroompies: “Klink nogal prettig, moet ek sê … Maar nou ja, ek gaan nie in vir blonde filmsterre nie!”
Elsje kyk vinnig weg en haar vingers vroetel effens op haar skoot.
“Dis tog sekerlik meer prettig as om ander mense se kriminele vergrype in die hof uit te pluis?” sê sy.
“Dit hang nou af, Elsje,” sê hy gemoedelik, en glimlag lief met haar toe hy geruisloos voor Olienhout stilhou. “Ander mense se pret vertoon maar altyd vervelig … of verdag …”
Elsje se mooi wye mond gaan reddeloos oop. Dis maar selde dat sy die slegste daarvan afkom in enige gesprek, en hiérdie Peet het sy nog nie leer ken nie. Die afgelope twee jaar of wat dat sy en Eugene vas uitgaan, het sy en Peet feitlik net in geselskap met mekaar te doene gehad. Daar was wel die vakansies op Damplaas, maar dan was dit ook maar sy en Eugene, en Peet en Maryn … Maryn!
“Haai!” sê sy hard toe hy wil uitklim. “Ons … jy het vergeet om eers vir Maryn te gaan oplaai!”
Peet staar haar ’n oomblik uit die veld geslaan aan, los toe ’n woord wat kraak in sy kies, en klap onmiddellik sy deur toe. Hy trek met heelwat minder vaardigheid as gewoonlik weg en ry sonder ’n verdere woord tot by Maryn se koshuis. Toe draai hy vir die eerste keer weer na Elsje.
“Dit was nou dom van my, nè,” sê hy met sy enigmatiese laggie, en klim uit.
Elsje kyk sy lang lyf agterna toe hy wegstap, en onwillekeurig haal sy haar skouers op. Sy sal hom nooit verstaan nie en gelukkig maak dit ook nie saak nie. Hy is Maryn se kopseer en dit kom nogal voor asof sy heel goed daarmee kan saamleef. Peet Baumann is ’n baie besproke student op hierdie kampus, en daar is diegene wat haar haar nadere kontak met hom beny, min wetende dat sy eintlik amper minder van hom weet as diegene wat oor hom praat. Natuurlik weet sy wat hulle sê – dat hy briljant is, is ’n vasstaande feit; dat hy hovaardig is, is onbetwisbaar; dat hy ’n tong het wat kan skeer, sny en slyp, is reeds bewys; dat hy ’n sterk verhouding het met die besadigde, stilmooie Maryn Basson, enigste dogter van ’n skatryk Vrystaatse boer, is iets wat gerus dopgehou moet word …
Elsje sug diep, en klim uit om agter te gaan sit sodat Maryn voor by Peet kan sit.
“Hallo, Els!” groet Maryn toe sy by die motor kom en inklim. Sy en Elsje is in verskillende koshuise en het mekaar weens die druk van hul pas afgelope eksamen ’n week of meer nie gesien nie. Maryn buig terstond oor die sitplek en soen Elsje liggies op die wang, en sê: “Dis vir ’n lekker vakansie!”
“O, dit gaan héérlik wees, dit verseker ek jou. Maar my sus het weer vanoggend gebel om te hoor of julle my nou regtig vir die hele vakansie wil hê. Ek het toe maar ja gesê …”
“Maar natuurlik, Els, jy weet dit tog! Jy wil my tog nie alleen tussen die klomp mans los nie, jong! Peet en Eugene kan bra vervelig raak as hulle nie nou en dan daarop gewys word dat hulle eintlik vir óns plesier bestaan nie – en daarvoor het ek mos jou hulp nodig!”
Peet hoor haar toe hy inklim nadat hy die bagasie opgelaai het, en steek as antwoord net een hand uit om dit in haar swart krulhare te steek en ’n pluk te gee. Sy lag dadelik, kyk hom skertsend aan.
“Stry?! As ek en Elsje nie daar is om vir jou en Eugene perspektief op die lewe te gee nie, sal julle al die ure van elke dag aan die binnegoedjies van trekkers en goed soos hierdie heilige ou karretjie peuter – trouens, aan enigiets wat woer-woer maak!”
Peet glimlag breed, maar antwoord haar nie. Hy geniet haar alewige gespot met sy eienaardige voorliefde vir masjinerie. Nooit, dink hy dankbaar, is dit nodig om ’n aks van sy binneste te verskuif om by Maryn aansluiting te vind nie. Sy is sommer net dáár. Sy was nog altyd daar, en as sy eendag nie is nie, sal hy dit onmiddellik weet. Nee, weet hy ook nou met skielike gerustheid, as hy sonder haar moet Leiden toe, sal dit een lang droogte wees. Sy sal daar wees, sy móét daar wees, want anders sal hy na homself soek.
Dis so absoluut die waarheid dat sy wenkbroue in ’n onthutste frons saamtrek. Met een oor luister hy na die meisies se gebabbel oor die komende vakansie, maar onder die oppervlak van die vinnig vloeiende gesprek lê die diep waters van sy eie gedagtes. Hy wens meteens dat hy hierdie vakansie elders kon deurbring, alleen. Hy is feitlik seker dat hy die eerste paar dae met ’n vreemdeling sal saamleef. Hy het netnou saam met Elsje weer besef dat daar nog veel in hom is wat te voorskyn gehaal kan word. Hy was self verbaas oor sommige van sy antwoorde aan haar. Hy het dit nodig om ’n slag goed na homself te kyk. Homself ’n bietjie uit te skud en dalk te orden. Maar dit sal so ’n opskudding onder Damplaas se mense ontketen dat hy dit liewer nie op die oomblik wil oorweeg nie.
Maryn merk nie juis sy stilte op nie. Sy weet dat hy dink, want Peet dink die meeste van die tyd – selfs wanneer hy aan trekkers torring, maal sy gedagtes en help dit nie veel om met hom te probeer gesels nie.
Maar Elsje, wat agter sit, sien die frons in die truspieëltjie en wonder tog daaroor. Met intuïtiewe sekerheid weet sy dat hierdie ’n vakansie gaan wees om te onthou. Dis ’n wete wat in haar opgespring het die oomblik toe sy besef het dat Peet vergeet het om eers vir Maryn te kom haal voordat hulle Eugene gaan oplaai. Want in die twee jaar dat sy hulle ken, het sy een ding gesien: Peet koester vir Maryn, hy is nooit ooit onbedagsaam teenoor haar nie. Hy stel haar heel voorop in sy gedagtes.
Hulle ry tot by Eugene se koshuis, waar hy al voor op die sypaadjie vir hulle staan en wag. Hy en Maryn het net hul donkerblou oë gemeen, want waar sy suster klein en fyn is, is Eugene ’n groot, bonkige man en, hoewel korter as Peet, staan hy ’n goeie twee meter hoog in sy sokkies. Hy skud sy donker kop en wys ’n vinger toe hulle langs hom stilhou, buk toe om die enkele groot handtas op te tel.
“Waar bly julle so lank?” raas hy uitbundig toe hy die agterste deur oopmaak om by Elsje in te klim.
Al drie antwoord hom gelyktydig sodat hulle vervaard stilbly, en toe uitbars van die lag. Hy vra nie verder nie, beduie net aan Peet dat hy gerus die eerste ruk of wat moet bestuur, dan neem by weer die stuur hier ná Vereeniging as Peet dalk dan moeg is.
“Peet word nie moeg nie, man,” antwoord Maryn bondig, en Peet knik instemmend. Eugene sug genoeglik en plaas ’n arm om Elsje se skouers.
“Salig,” sê hy en glimlag met haar. “Het jy ál jou goedjies?”
“Hm,” antwoord Elsje, “ek en Maryn het mos die meeste van ons goed verlede week saam met jou pa gestuur toe hy vir daardie vergadering hier was.”
“Slim van julle. Ek het dieselfde gedoen. Terloops, watse vergadering was dit?”
“Wie sê dit was ’n vergadering?” vra Peet, en trek weg om verby die koshuise na die hoofweg te ry.
Daar is ’n rukkie stilte, toe sê Eugene: “Ons het maar so aangeneem …”
“’n Mens moet nooit aannames maak nie,” sê Peet op so ’n afwesige manier dat hy net sowel van iets heeltemal anders kon gepraat het, en Eugene pomp Elsje speels in die sy sodat sy glimlag. Dis nou maar Peet – ’n gebore teregwyser.
“Ja-nee, ’n mens moenie,” sê Maryn paaiend gesellig, en vis ’n pakkie lekkers uit haar handsak, “maar ek het ook nogal gewonder oor die skielike kommery stad toe, en toe Pa my kom dagsê het, was hy bra vaag oor die doel van sy besoek …”
“Ek het die indruk gekry,” sê Eugene en knipoog vir Elsje, “dat hy ons doelbewus nie wou inlig nie – of mag ’n mens nie indrukke vorm nie, Peetman?”
In hierdie gemoedelike stemming ry die vier jong mense plaas toe. Daar heers onder hulle die gemaklike kameraderie van mense wat mekaar ken en waardeer. Selfs Elsje vergeet haar momentele argwaan oor die vakansie wat voorlê en skerts saam. Tog bly daar in haar gedagtes ’n bedrukkende neerslag; netnou, alleen saam met Peet, het sy iets ervaar wat sy nog nooit saam met Eugene ervaar het nie. Hul gesprek, waarin wedersydse spot die botoon gevoer het, het afgestuur op ’n dieper soeke na mekaar, en in die wete dat daar ’n ligte skroeiing van ekstase in elke woord was.
Byna vier uur later, in die nágloor van die skemeraand, ry hulle deur hul stil tuisdorp en draai ’n entjie daarvandaan van die hoofpad af op die plaaspad na Damplaas. Weerskante van die goed geskraapte pad lê wye koringlande wat witterig in die laat lig vertoon, en hier en daar sien hulle klompe bloekoms as skadukolle teen die donkerpers aandlug. Hulle draai die vensters heeltemal af en die swaar, warm geur van ryp koring stroom in.
“Heerlik,” sê Maryn “daar is niks op aarde wat presies só ruik nie. Ek assosieer dit met soveel lekker dinge!”
“Hmf,” brom Eugene, “’n mens kan sien wie het nog nooit self op ’n stroper gesit as die son jou ’n kaiing braai nie!”
“Of by die droogoond as dit buite kookpunt in die skadu is nie!” voeg Peet by, maar vryf met die agterkant van sy hand sag oor haar wang om te wys dat sy woorde nie bedoel is soos wat dit mag klink nie.
“Ag toe nou,” en Maryn lag haar sagte laggie, “gun my nou maar my ou plesiertjie. Ek kan dit nie verhelp nie – as ek hierdie tyd van die jaar op Damplaas is, voel dit asof die wêreld met sy volheid aan my behoort …”
“Wat sien jy as die wêreld met sy volheid, Maryn?” vra Elsje meteens sodat Peet half verbaas in die truspieëltjie na die glinstering van haar oë soek. Maar dis al te donker om eers haar gelaatstrekke uit te maak, en hy skuif sy blik weer na die ligbane van die motor op die grondpad. Frustrerend, dink hy, om net te kan sien waar die lig val…
Maryn antwoord tóg. Na ’n kort, nadenkende swye antwoord sy met ’n volkome sekerheid wat in haar milde stemtoon deurslaan: “Ek sien dit as ’n vervulling – soos in die oestyd.”
Haar woorde laat ’n stilte in die motor swel. Dis asof sy ’n dimensie in hul samesyn ontsluit het wat nie voorheen daar was nie, asof hulle skielik ’n onverwagte glimp kry van iets wat nog moet kom … Of is dit dalk reeds hier, binne hul bereik? Dit is net Eugene wat dit aangryp – hy druk Elsje se kop styf teen sy skouer vas en vee met sy lippe oor haar hare.
Toe swaai die ligte van die motor in ’n halfsirkel soos hulle by Damplaas se groot booghek indraai. Die lang laning digte populiere bring ’n skielike dik donkerte waar die laaste skemering van die dag ontbreek en net die ligbane van die motor skerp voor hulle uit val. Almal skrik hewig toe Peet rats rem trap vir ’n haas wat met ’n vaart oor die pad vlieg, met ’n yslike bruingeel hond luid blaffend agterna.
“Nou toe nou!” is Peet se enigste reaksie toe hy weer aanry.
“Ek ken nie daardie hond nie,” sê Eugene.
“Ek ook nie,” voeg Maryn by, “want dis beslis nie een van die werfhonde nie!”
Dis Elsje wat proes van die lag. “Nee, hulle sal nooit ’n haas só baldadig jag nie, en dit lyk ook nie vir my soos een van ou Paulus-hulle se windverwaaide brakke nie …”
Met dié gaan hulle om die skerp draai in die laning wat aan die voet van die klipkoppie verbyloop, en vir ’n tweede maal rem Peet effens, dié keer uit verbasing. Net om die draai, waar die koppie ’n holte vorm met die hoër liggende bulte, staan die Ou Huis, so genoem sedert oom Frederik in sy jong dae self huis opgesit het en die ou Bassons in dié plek bly woon het tot hul dood. Sedertdien het die Ou Huis leeg gestaan, met net hier en daar ’n meubelstuk wat te veel geword het vir die nuwe opstal. Maar vanaand brand daar lig. Dof, maar onmiskenbaar filter die lig deur die digte gordyne voor die sit- en slaapkamervensters.
“Ek verstaan dit nie,” sê Maryn terstond toe hulle verder ry.
“Dit verklaar die nuwe hond,” meen Elsje.
“Hmmm,” kom dit van van Eugene.
“Dit verklaar niks,” sê Peet luiters, en Elsje pers haar lippe ergerlik saam. Soms kan Peet darem regtig obstinaat wees. Maar klaarblyklik pla dit net vir haar, want Maryn en Eugene is kliphard aan die spekuleer oor wie in die Ou Huis kan wees, en steur hulle bloedmin aan Peet. Elsje trek haar in ’n hoekie van die motor terug en gee haar volle aandag aan die pad voor hulle. Sy is spyt dat dit klaar so donker is, want dis altyd vir haar besonder mooi hierlangs. Waar die pad vroeër jare glo teen die Ou Huis doodgeloop het, kronkel die laning populiere nou al langs die hang van die hoë bult tot dit skielik oopgaan en die pad al langs die groot pan water verbyloop tot byna teenaan Damplaas se groot afgewitte opstal.
Vanuit die donker van die populierlaning ry hulle langs die silwer vlak van die dam wat nou die vroeë maan weerkaats en die wêreld sommer lig laat lyk. En oorkant die dam, met sy verligte grasperke tot teenaan die waterkant, staan die witgekalkte opstal met sy hoë donker dak. Ook daar brand lig. Dit val in groot geel bane deur die wye vensters op die leiklipstoep en syfer in ’n sagte gloed deur die gordyne.
Peet hou reg voor die huis stil, en met ’n skielike opflikkering van hul gewone geskerts, klim die jong mense uit en stap oor die breë stoep na die voordeur wat wawyd oop staan. Nog voordat hulle dit bereik, gaan een van die deure in die portaal oop en Frederik Basson kom hulle tegemoet. Hy hou sy arms wyd oop vir die meisies en druk hulle vaderlik teen sy breë bors.
“My mooi goed,” sê hy met sy lekker diep stem, en groet toe albei mans met die hand. “Julle is laat, ek was al bekommerd oor julle!”
Frederik Basson is ’n groot man wie se goedige gesig feitlik altyd in ’n halwe glimlag geplooi is. Die vroeë dood van sy vrou het hom na sy twee kinders laat keer, en toe die klein Peet Baumann se ouers in ’n vliegongeluk omkom en hom sonder naasbestaandes laat, het hy hom onder sy ruim vlerk geneem, teenaan sy hart waar hy vandag nog is. Ook vir Elsje het hy sowat twee jaar gelede in sy huis ontvang en hy maak min onderskeid tussen haar en Maryn. Hy is inderdaad enigeen se droom van ’n vaderfiguur, en nou praat die vier jong mense tegelyk in hul drang om hom te verseker dat sy bekommernis oor hulle totaal onnodig was. Hulle gloei in die wete van sy liefde vir hulle en gee dit ruimskoots aan hom terug. Met ’n arm om elk van die meisies geslaan, stap hy geselsend met hulle na hul kamers om hul goedjies neer te sit solank die mans van die groter tasse inbring.
Albei meisies weet uit ervaring dat hy saamstap om hul reaksie dop te hou wanneer hulle sien wat hy hierdie keer as verrassing vir hulle het. Want nog met elke vakansie dat hulle tuis gekom het, het hy die een of ander geskenkie vir hulle en ook vir Eugene en Peet gehad. En hulle weet dat dit hom innige, byna kinderlike genot verskaf as hulle daarvan hou en dit entoesiasties te kenne gee. Elke vakansie gee hulle voor asof hulle nooit só iets verwag het nie, en geniet opnuut met deernis sy klein pret.
Ook hierdie keer is daar vir elke meisie ’n pakkie op haar spieëltafel. Hulle raap dit soos kinders op en oom Frederik loer beurtelings by die twee kamers in om te sien wat hulle daarvan dink. In Elsje se pakkie is ’n groot bottel reukwater van ’n eksklusiewe Amerikaanse fabrikaat wat volmaak by haar persoonlikheid pas. Sy druk dit met opegte ekstase teen haar vas.
“Net wat ek begeer!” roep sy uit en gee oom Frederik ’n klapsoen. Hy straal van ’n ingenomenheid wat hy nie eens probeer verberg nie. “Oom is só goed vir my …”
“Jy is al so goed soos myne, kind,” glimlag hy, en draai dan om om hom in die gang teen Maryn vas te loop.
“Pappie! Hoe’t Pa geweet ek is lief vir Patou se parfuums?” vra sy verheug, en hou ’n klein botteltjie met ’n helder emaljeproppie omhoog.
“Ag wat, ek het nou laas toe ek in Pretoria was na ’n bekende apteek gegaan en aan ’n mooierige dametjie beduie hoe julle twee lyk en waarvan julle min of meer hou …”
“Slim,” sug Elsje, en tik ’n bietjie van hare aan haar polse en agter haar ore. Toe skud sy haar hare terug oor haar skouers en lag haar mooi lag. “So ja,” spot sy, “nou sal julle darem sien hoe verleidelik is ek, hoor!”
Oom Frederik en Maryn bars albei uit van die lag.
Gerusgestel gaan oom Frederik kombuis toe om Selina aan te sê om maar aanstaltes te maak met die ete, en Maryn gaan ook na haar kamer. Vreemd tog, dink sy toe sy haar hare kam en haar grimeer vir ete, dat ’n ryk man soos haar pa nooit omgee wat iets kos wat hy uit sy hart aan iemand wil gee nie. En dis ook reg so. Hy gee op impuls van die liefde en nie uit koue gewoonte of beredeneerde verpligting nie. Sy wonder vaagweg wat Peet en Eugene gekry het, en glimlag by voorbaat toe sy besef met hoeveel verwagting haar pa ook na hulle reaksie uitsien.
In háár kamer staan Elsje steeds doodstil met die bottel peperduur lekkerruikgoed in haar hande. Hierdie klein ritueel van wedersydse dankbetuiging tussen hulle en oom Frederik speel hom aan die begin van elke vakansie af. Dis hul eerbetoon aan die fyn gevoelens van ’n eensame ou man. Dis net paslik dat hulle vier, wat almal veel aan hom te danke het, sy gevoelens en wense sal respekteer – ja, altyd … Ook sy is hom veel dank verskuldig. Met net ’n ouer suster wat ver weg bly en ’n moeder wat spoedig ná haar pa se vroeë dood weer getroud is en in Duitsland woon, was sy ’n eensame mens voordat sy die gemoedelike Eugene ontmoet het. Nee, hierdie liefde wat sy so ruim van hierdie familie ontvang, is ’n skat waarby haar hart móét wees.
In sy kamer staan Peet asof versteen. Voor hom, op die gepoleerde blad van die klein ingeboude spieëltafel lê ’n silwerblink motorsleutel aan ’n sleutelhouer van leer met sy naam daarop geëmbosseer. Hy voel soos iemand wat skielik van skok bevrore geraak het en weer aan’t ontdooi is, met al die wisselende sensasies daaraan verbonde. Die koue rillings rits langs sy ruggraat af en sy kop begin stadig gloei. Hiervoor, dink hy met siddering, het hy heimlik gehoop en progressief gevrees – dat oom Frederik tóg sy sin sal kry en hom ’n motor present sal gee. Die afgelope jare het hy op allerlei slim maniere ’n stokkie daarvoor gesteek as oom Frederik se vrygewigheid in dié rigting gedu het, maar nou blyk dit dat hy hom tog nie laat keer het nie. En nou kan hy, wat Peet is, tog nie weier nie. Nie met die sleutel so te sê in sy hande nie. ’n Fyn beplanner, dink hy ’n bietjie wrang, dis oom Frederik. En waarom is daar by die vervulling van ’n goed versteekte en half gedempte begeerte nou ook benouenis? Hy wil tog werklik brandend graag die motor hê, wiele en al – maar o, sonder die bande! Hy glimlag suur vir sy eie flou woordspeling – en toe steek hy sy hand uit en tel die sleutel van die kas af op, en sy lang sterk vingers vou krampagtig om die koue stukkie staal.
Eugene kies hiérdie oomblik om uit sy aangrensende kamer te kom om hom met onverhole blydskap te kom vertel dat hy ’n draagbare televisiestelletjie gekry het. Peet glimlag net met hom, en dink: waarom sal sy vreugde nou ook onverdund wees, hy sal nooit voel hy het ’n ereskuld nie …
“Jou pa maak dit vir my moeilik,” sê hy net sag, en hou die sleutel uit dat Eugene dit kan sien.
“Nee wat, man, jy’s so goed soos sy eie seun. Ek het buitendien geweet hy gaan dit doen, want hy het my kom vra waarvan jy sal hou, en jy was laas so gaande oor ’n BMW … Jou smaak is mos altyd soberder as myne.”
Peet kyk reddeloos na hom. Eugene begryp eenvoudig nie.
Hulle stap geselsend uit na die woonkamer. Die huis het ’n sentrale strook wat die groot sitkamer, woonkamer, kombuis en eetkamer huisves en waaruit twee vleuels met slaap- en badkamers loop.
Toe die mans uit hul vleuel kom, wat hulle met oom Frederik deel, vind hulle hom en die meisies al in die eetkamer waar hy besig is om vir hulle wit wyn in te skink.
Dis Elsje wat opkyk en haar blik val eerste op Peet se strak gesig, wat maar effens versag toe hy oom Frederik se oë ook op hom voel.
“Ek weet nie wat om vir oom te sê nie,” begin hy, en hou die sleutel in die lug dat almal kan sien. Hy kyk glad nie na Maryn nie, tog het sy oë onwillekeurig oor Elsje gegaan toe hy ingekom het. Hy kan dit verskoon word, want sy is onvergelyklik in ’n ysblou rokkie wat sag en vroulik om haar skraal liggaam vou. Maar dis ook asof hy intuïtief geweet het dat daar ’n flits van begrip in haar wye blou oë sou wees.
Oom Frederik neem sy tyd om te antwoord, en Peet weet by voorbaat dat die ou diplomaat homself netjies uit hierdie knyp gaan draai. Hy doen dit ook.
“Sê maar net dat jy nie te vinnig sal ry nie,” is sy enigste reaksie, sodat Peet hom tog in ’n mate tereggewys voel. Maryn het op haar stil, sagte manier nader gekom en steek haar hand deur sy arm.
“Kom wys vir my …” sê sy, en haar stemtoon en klein gebaar van besit sluit die ander subtiel uit. Maar oom Frederik protesteer: “Nee, kom ons eet eers, anders kom Selina darem te laat by die huis. Kom, kom ons sit sommer dadelik aan.”
Hulle maak so, maar eers kom Peet om woordeloos oom Frederik se hand te wring en ’n lekker klop op die skouer te kry. Ek sou dit nooit wou misloop nie, dink Peet, maar ai, as daar net nie so ’n diep innigheid tussen ons was nie. Ek wil hom nooit seermaak nie. Ek kan my nou maar net sowel met gejuig by die onvermydelike neerlê.
Toe gaan neem hy sy plek langs Maryn in aan die lang eetkamertafel met die spierwit gestyfde tafeldoek en die silwereetgerei.
Dis toe oom Frederik klaar sy lang en allesomvattende tafelgebed gedoen het, waarin hy met oorgawe loof en dank en prys en smeek, dat dit Maryn weer byval. Sy wag met egte eerbied dat die gepaste stiltetjie na haar pa se gebed moet daal, en besluit om hom trompop uit te vra, al is dit iets wat ’n mens nie aldag met Frederik Basson moet doen nie.
“Pa,” begin sy, en kan kwalik die opgewondenheid uit haar stem hou sodat sy liewer begin opskep aan die soet, goudbruin boerpampoen, “wat op dees aarde is by die Ou Huis aan die gang? Daar brand dan lig!”
“En daar’s ’n vreemde hond!” voeg Elsje by en kry ’n klein glimlaggie van Peet.
Maar Eugene ken ook al sy pa, en hy sien die genoeglike trekkie op die verweerde gesig toe die vrae uiteindelik kom. Die vabond, dink hy geamuseerd, hy kon ons ook darem al gesê het!
“O ja,” antwoord oom Frederik doodluiters, en kerf met groot omsigtigheid aan die blinkbruin skaapboud, “daar woon mos nou ’n dokter Marcel Hoffman.”
Toe begin hy met smaak die dun smeltsagte skywe vleis in hul borde skep, en maak asof hy heel onbewus is van die akute afwagting wat op sy woorde gevolg het.
“Oom,” tree Peet maar later vir die ander in, “wat maak die dokter Hoffman daar in die Ou Huis?”
“Ag jongie,” reageer die ou man met lus, “dis nou regtig ’n lang storie.”