Читать книгу Man van gister - Helene de Kock - Страница 5

2

Оглавление

Daar rek ’n stilte ná oom Frederik se doelbewus dramatiese woorde. ’n Lang storie, het hy gesê. Lig wat brand in die jare lange geslotenheid van die Ou Huis is beslis ’n storie, en een wat sy nuuskierige toehoorders hul smaaklike maal ’n wyle laat vergeet.

“Marcel Hoffman is ’n veearts,” sê oom Frederik aan Maryn, wat weer begin por aan hom.

“Dis nou ’n ding,” sê Eugene drogies, “hier is nie eens ’n stoetery op Damplaas nie!”

“Hier wás nie, seunie, hier wás nie!”

“Ag Pá!” trek Maryn los. “Vertel ons tog nou woord vir woord wie die man is en wat hy hier maak!”

“Goed,” sug oom Frederik, sy speletjie op ’n end. “Goed dan, maar jy sien, ek het nou so gedink – al die jare boer ek met koring hier in die Oos Vrystaat. Ek is een van die weinige boere wat hier net in koring spesialiseer. Op Damplaas kan ’n mens dit natuurlik doen, soos julle wel weet. Maar ek word nou moeg vir dié eensydige soort boerdery …”

Dis skielik, dink Peet. Dit het hom bra lank gekos om moeg te word. Dit is vir seker ’n rookskerm. Oom Frederik hét mos die manier om een ding met oorgawe te doen om sodoende ’n ander, groter beweegrede te verberg.

“Ewenwel,” gaan oom Frederik voort toe daar nou nie juis dawerende reaksie is nie, “ek het nou lus gekry om vir my ’n stoet Duitse vlekvee aan te skaf!”

“Simmentalers?” vra Eugene verheug, sy blou oë blink toe hy weer die heerlike skaapvleis nader trek.

“Juis, maar ek weet nie veel van die goed af nie,” erken oom Frederik.

“Ek dag oom sal in so ’n geval na die instituut op Irene gaan,” meen Peet. “Daar weet hulle mos alles van vee af.”

“O ja, maar ek wás daar. Ek het lank gesels met ’n paar van die navorsers daar. Julle weet mos ek was so ’n rukkie terug in Pretoria …?” en sy oë vee onskuldig oor die vier se gesigte.

“… e… ja, ons was bewus daarvan,” sê Peet vroom en die ander knik sedig, loer geamuseerd na mekaar.

“Nou ja, met dié geselsery kom daar toe ’n man aan – ’n vriend van een van die ander navorsers daar … ene Marcel Hoffman, soos wat julle seker kan aflei. Hy kom toe pas terug van oorsee – iewers in Duitsland, dink ek – en is toe ’n losloper …”

“Hoe bedoel Pa nou?” Dis Eugene vir wie die misterie nog nie heeltemal aan die opklaar is nie. Dit begin wel vaagweg by hom opkom dat sy pa met een van sy vele filantropiese skemas besig is.

“Ek bedoel hy het nog nie weer ’n praktyk gekoop vandat hy terug is nie en het kans gesien om my ’n tyd lank te kom help – minstens om die stoet op die been te kry. Ek betaal hom natuurlik ’n salaris wat pas by die werk wat hy sal doen.”

“O …” sê Eugene nadenkend. “Ja … Dis nie ’n slegte idee nie. Maar weet hy genoeg van Simmentalers af? Hy’s ’n veearts, geen navorser nie.”

“Nee wat, daar sal geen probleem wees nie. Hy het blykbaar in Europa net met Simmentalers gewerk, daar waar hy was, glo op ’n groot landgoed iewers. Hy sê as hy verdere hulp nodig het, sal hy met die vakkundiges op Irene skakel.”

“Wat van sy vrou en kinders?” vra Elsje. “Sal hulle tevrede wees hier op Damplaas? Ek bedoel … die Ou Huis is nie bra opgeknap nie.”

“Hm. Ons sal dit nog regsien – maar dit maak geen saak vir hóm nie. Hy is ’n wewenaar …”

Dit sink in, en ’n rukkie lank is daar stilte. Toe maak Elsje die leë borde bymekaar en Maryn trek die eetwaentjie nader om die nagereg in te skep. Dis ’n swierige konkoksie van room en gestolde poeding.

“Selina het haarself weer oortref,” sê sy. “Geen mens wat haar handewerk sien, sal ooit glo dat sy al sewentig se kant toe staan nie.”

Maar niemand reageer hierop nie. Sy kry van Elsje net ’n afwesige kopknik. Almal se gedagtes peusel aan hierdie man wat nou in die Ou Huis woon. Hy is dus weer een van oom Frederik se vele beskermlinge, en hulle het nog altyd belangstelling gewek.

Dat oom Frederik kan bekostig om filantroop te speel, lei geen twyfel nie. Damplaas se koringlande lê soos die vlakke velde van Moab – wyd en onbegrens. En soos dit beskik was, het hy in die jare sedert hy van sy pa, Sterk Freek Basson, oorgeneem het, nie soveel as drie misoeste geken nie. Hy het geërf en gewerk, en geld maak geld.

Wel, dink Peet met diepe erns, ons sal sien hoe vaar hierdie Marcel onder oom Frederik se fenomenale ontferming. Dalk beter as ék! Want diep dankbaar soos ek onteenseglik is, kan ek nie altyd verwerk dat oom Frederik besig is, wetend of onwetend, om my aan hom en sy familie te bind met bande wat nie bra eervol verbreek kan word nie. Want lief soos wat ek vir Maryn is, sou ek graag net vir ’n klein rukkie wou los wees van dit alles … Net om ’n bietjie afstand te neem en te kyk, suiwer en seker te weet dat dit goed is so … Dat ek en Maryn regtig, regtig vir mekaar …

“Nou wat,” vra Eugene skielik, “het die man in Duitsland gaan maak?”

“Ek weet nie mooi nie,” antwoord oom Frederik en steek sy pypie-na-ete op. “Soos ek maar aflei, het hy weggegaan ná die dood van sy vrou en kindjie.”

“Foei tog,” sê Elsje sag, haar pragtige oë wyd in skok en meegevoel. “Geen wonder hy wou landuit nie.”

“Is hy nog … e … treur hy nog baie?” wil Maryn weet.

Oom Frederik sit ’n rukkie, trek-trek aan sy pyp.

“Dit weet ek nou nie, kind. Miskien kan hy al daarmee saamleef. Ek sal ook nie weet nie, want … Hy is ’n stil soort mens.”

“Dis hulle wat die langste treur,” sê Maryn met soveel beslistheid dat Peet vinnig en ondersoekend na haar kyk, maar sy glimlag net half verleë en raak besig met die leë borde en lepels, stapel dit in ’n netjiese torinkie voor haar op. Toe sê sy: “As julle nou almal klaar is, kan ek en Els gaan koffie maak …”

“Nie voordat almal my motor kom bewonder het nie,” sê Peet met ’n halwe laggie en staan op. Uit die hoek van sy oog sien hy hoe die ou man se gesig sommer straal.

“A ja a,” sê hy dan ook, “en jy moet darem vir Maryn vir ’n ritjie om die dam vat vanaand voordat julle gaan slaap!”

“Goeie voorstel,” sê Peet, en slaan ’n arm om Maryn se middel. “Kom dan nou!”

Onder laggende bespiegelinge oor die voorkoms van die nuwe motor stap almal uit op die verligte stoep en af met ’n sementpaadjie wat na die motorhuis lei. Oom Frederik loop voor, en Peet kan aan die aits! in sy stappie sien hoe hy hom verlustig by die vooruitsig om uiteindelik aan Peet ’n spogwa te kan gee. Toe hy die deure oopsluit en die lig aanskakel, staan hy met swier terug sodat die jong mense kan inkom. Peet steek in sy spore vas en druk Maryn met een arm styf teen hom aan.

“Dis … net wat ek wou gehad het,” sê hy met moeite, want sy keel trek toe. Op die vaal motorhuisvloer staan sy droomwa – ’n glimmende donkerblou BMW.

Toe los hy Maryn en stap nader om die deur oop te sluit en in te klim. Hy skakel die motor aan en dit vibreer liggies onder hom soos die flank van ’n resiesperd. Hy streel met die punte van sy vingers oor die stuurwiel.

“Wil oom Frederik nie heel eerste saam met my ry nie?” vra hy aan die ou man wat met een hand op die kajuitdak afgebuk by hom staan.

“Nee,” lag hy, “nee, Peetman, dis Maryn se voorreg!”

Daarop staan hy terug en Peet leun oor om die deur vir Maryn oop te maak, en sy klim in. Peet skakel die ligte aan en trek weg. Hy ry stadig, half onseker asof hy maar pas begin bestuur het. Maar dis omdat net ’n deel van hom swig voor ’n blydskap waarvan hy eers net kon droom. Die ander deel is verstikkend bang.

Hy neem die pad wat reg rondom die groot dam loop en weer terug na die huis lei. Dis ’n pad wat gemaak is vir stadig ry en kyk – na die dam, na die voëls wat hul woonplek daar maak, na die wiegende groen van die wilgers. Maar nou is dit donker en die ligte vang net hier en daar die blink kabbeling van die watervlak.

Vasgevang in hierdie spleet in sy gemoed, kan Peet hom net nie oorgee aan die lekker van ’n veelbegeerde ding nie. Maryn sien dit, soos wat sy nog heelaand sy gedagtes sien, asof dit vir haar geteken word. Want sedert die dag toe klein Peet – maar ’n paar jaar ouer as sy – hartverskeurend oor die verlies van sy ouerhuis onder hierdie selfde wilgers gehuil het, en sy hom hier kom kry het, het sy geweet wat in sy kop omgaan. Die jare saam in dieselfde huis, dieselfde skool, dieselfde universiteit, het ’n band gesmee wat hulle ten nouste aan mekaar bind. En ’n mens kan nie lank saam met iemand soos Peet leef sonder om hom iewers binne-in jou te voel vasgroei nie.

“Ek het geen deel hieraan gehad nie, Peet,” sê sy eindelik toe die stilte dik word in die nuwe motor.

Hy hou stil, lomp en sommerso in die middel van die pad.

“Ek hoop nie so nie,” antwoord hy, en sy stem tril soos ’n wyser tussen verwyt en beskuldiging, en slaan vas op bitterheid.

“Peet!” adem Maryn. Toe strek sy ’n hand uit na die dakliggie in die kajuit en sit dit aan. “Kyk na my …”

Hy doen dit, maar sy gesig bly koud en sy byna swart oë ver en onleesbaar agter die dik lense.

“Ag Peet,” smeek sy, “jy ken mos vir Pappie! Dis al wat vir hom in die lewe lekker is – om óns te bederf. En hy weet mos jou sin vir waardes is reg!”

“Dis juis die ding, Maryn! Dis my basiese sin vir waardes wat nou hier in die gedrang kom. Ek wil nie meer vat nie, Maryn, ek wil gee! En ek kán dit nie doen solank jou pa my geringste wens vooruitloop nie. Ek is nie een van julle nie, Maryn. Ek is iemand wat my hande kom bak hou het en julle het dit nog altyd net gevul … Dit raak nou my eer!”

“Jy’s te fyngevoelig,” sê Maryn sag, plaas haar hande op sy skouers en leun vooroor sodat haar lippe teen syne is.

Hy kyk na die fyn gesiggie hier dig by hom, die wye diepblou van haar oë en die sensitiewe mond. ’n Mens kan tog vir haar nie kwáád wees nie. Meer nog – ’n mens kan háár nie die sondebok maak nie, al soek jy ook naarstig na een. Met een hand vee hy in ’n sagte gebaar die pikswart krulle van haar voorkop weg en vee vlugtig met sy mond oor hare. Toe sit hy terug.

“Jy ken my dalk te goed,” sê hy. “En jy het reg ook – ek is fyngevoelig, nee, ek is hipersensitief.”

“Ja, jy is. Ag Peet, waarom laat jy Pa nie maar sy gang gaan nie? Laat hom toe om jou te bederf – dit verskaf hom soveel plesier, en dis sy manier om aan jou te toon wat hy vir jou voel.”

“Ja, Maryn,” sug Peet langs haar, “ja, maar ek skaam my … Ek begin al hoe meer besef dat selfrespek geen prys het nie.”

’n Ysigheid vliet deur Maryn se gemoed, sodat sy vinnig op haar mooi sagte manier sê: “Peet, wat gaan van óns word as jy aanhou om só te dink?”

Sy mond gaan ontredderd oop. Sy kom so na aan die kern, so naby … As hulle dit nou oopvlek, kan hulle dit dalk regmaak. Maar dan sal sy moet weet dat hy nie weer iéts van haar pa gaan aanneem voordat hy stewig op eie bene kan staan nie. Dit sal beteken dat hy hier en nou die BMW gaan teruggee, kom wat wil. Hy kyk na haar fyn vingers wat op haar skoot in die voue van die wit rokkie gevou lê, die slanke arms soos dié van ’n klassieke danseres, die grasieuse nek en klein kop met die welige blink krulle – maar dis haar oë wat hom vang: diep en troebel omdat sy nie verstaan nie. En hy weet sy momentele verset was net bravade, en daarby bravade wat hy hard moes stook. Hy het eenvoudig nie die morele moed om een klippie weg te vat van al die ander wat hy al opgestapel het, en ’n storting te veroorsaak nie.

“Kom ons ry,” sê hy net, en skakel die motor aan.

’n Opgewonde driestuks wag hulle in op die verligte voorstoep.

“Was dit lekker?” wil oom Frederik kinderlik weet toe hulle uitklim.

“Hy loop asof hy vlerkies het,” sê Peet met ’n glimlag. “Toe, nou is dit julle beurt. Eugene, neem jy hulle vir ’n ritjie!”

Eugene neem die sleutel gretig by hom en hulle maak so. Peet en Maryn gaan solank kombuis toe om koffie te maak. Toe sy klaar die ketel aangeskakel het, trek hy haar opeens in sy arms, druk haar kop, wat skaars by sy skouers kom, teen hom vas. Sy vly haar sonder voorbehoud soos ’n kind teen hom aan.

“Skuus, hoor,” fluister hy in haar geurige hare. “Ek was sommer onplesierig daar in die motor. Jy moenie dink ek is …”

Maar sy druk haar hand vinnig oor sy mond.

“Jy weet mos ek dink nooit nie,” spot sy, en lig haar kop na hom.

Maar hy kyk af na haar sonder die spoor van ’n lag, buig net sy kop en soen haar innig, hou haar vas asof hy haar wil troos.

Toe die ander drie terugkom, gaan sit hulle almal gesellig in die groot sitkamer en koffie drink.

Maryn lig haar beker hoog die lug in en sê laggend: “Die laaste slukkie drink ek op ’n lekker vakansie en ’n groot oes!”

“Soos altyd!” vul Eugene aan, en hy en die ander lig ook hul bekers. Net oom Frederik bly vredig suig aan sy pyp en kyk hulle goedig aan. Toe Peet opkyk, is dit egter Elsje se oë wat hy vang en hy lees daar ’n byna teer besorgdheid – oor hóm, dit weet hy instinktief. Elsje sien miskien meer as wat ’n mens dink. Dié besef laat hom innerlik bewe, en hy staan vinnig op, sit sy beker op die skinkbord op die lae tafeltjie neer en hou sy hand na Maryn uit.

“Net voor die vakansie en die groot oes wil ek darem eers ’n bietjie slaap inkry!” sê hy drogies, en glimlag met haar.

“’n Goeie plan,” sê Maryn net, en neem sy hand. Dan buk sy af na haar pa om hom nag te soen. Die ander sê ook nag, en die meisies is die eerste om in die regtervleuel na hul kamers te verdwyn. ’n Rukkie later slaan die mans hul eie koers in na die ander vleuel.

Maar ten spyte van sy opregte voornemens, slaap Peet nie. Hy kry dit nie eens reg om sy oë toe te maak nie. Nes hy dit wil doen, waaier sy ooglede oop en bly hy ontstig staar teen die diep donkerte van sy kamer totdat sy oë brand en hy hulle weer vervaard moet knip. Dis asof daar ’n basiese ontsteltenis in hom losgekom het die afgelope paar uur. Die nuwe motor is ongetwyfeld die hoofoorsaak daarvan. Hy kon dalk nog die motor geweier het, hoewel hy goed weet dat dit pure wensdenkery is, maar verder sal hy nie veel durf weier nie.

Dan is daar nog Elsje. Sy pla hom. En hy is lief vir Maryn – so lief soos wat ’n mens net vir iemand kan wees aan wie jy nog feitlik jou lewe lank nou verbonde is. Hy verstaan haar, so maal en kolk die donkerte om hom. En toe hy in ’n onrustige slaap verval, is dit om byna dadelik vasgevang te word in ’n verwoede droom.

Maryn se oë gaan oop met die helder getjilp van die eerste voëltjies, en sy is dadelik helder wakker. Nie een wat ooit kan lê as die slaap reeds weg is nie, staan sy terstond op en trek aan – ’n netjiese donkerblou broekpak en ’n fleurige wit bloesie. Sy trek vlugtig ’n kam deur haar kort hare, en ná ’n ligte aarseling grimeer sy haar tog op haar goed versorgde manier. Toe gaan sy uit en trek haar kamerdeur saggies agter haar op knip. Sy loop ligvoets deur die groot slapende huis en glip by die voordeur uit. Oomblikke lank bly sy op die breë stoep staan; sy trek diep teue van die skerp oggendlug in, proe die klam geur van die blinkgroen damwater in haar mond. Dan stap sy uit oor die dounat grasperke tot op die damwal. Die vroeë son stoot bo die wilgers uit en die stil watervlak kaats hom rosig terug. Maryn loop stadig al met die uitgetrapte paadjie op die wal langs, verkyk haar aan die toneel wat sy sedert haar kleintyd ken. Altyd as sy na Damplaas verlang, is dit hierdie blink pan water met sy soom van diepgroen treurwilgers wat sy oproep. Voor haar geestesoog het dit die dieptes van die blou lug daarbo en al die geheimenis van verre mere.

Sy stap droomverlore in die bloeiselsagte oggend en skrik toe ’n kolgans naby haar voete flappend uit die water vlieg. ’n Oomblik staan sy botstil en kyk die groot voël se klimmende vlug met klein verrukking agterna. Toe stap sy aan met versnelde pas om ’n bietjie oefening ook te kry.

Teen die tyd dat sy die digte wilgers aan die ander kant van die dam bereik, is sy kortasem en haar wange gloei. Sy gaan leun teen een van die dik stamme dig by die water, volkome omsluit deur die lower van die lang, soepel takke.

Haar skielike koms laat die oggend om haar trillend tot lewe kom. ’n Paar bleshoendertjies skarrel vervaard weg van die wal af, en hulle is so potsierlik in hul haas dat sy lag. Die helder klanke priem die stilte en laat die klomp spierwit bosluisvoëls wat nog bo in die toppe dut, met vele geklap van vlerke ontwaak en soos ’n hand vol vere die lug in waai. Met haar kop agteroor gegooi, soos sy die oggendrumoer bo haar dophou, sien sy hoe die boonste takke uiteindelik weer stil raak ná die vertrek van die voëls en slegs die ligte oggendwind nog ’n roering maak. Met ’n klein suggie druk sy met haar hande agter haar teen die stam om weer orent te kom. Voordat sy egter weer vas op haar voete kan kom, gebeur dit …

Een oomblik staan sy nog, en die volgende lê sy plat op haar rug en haar kop kom met ’n dowwe slag op die kweek te lande. ’n Gil wel in haar keel op, maar sy is te lam en duiselig om klank daaraan te gee. Sy is ook veels te verskrik, want, met sy groot pote stewig op haar borskas geplant, staan ’n yslike geelbruin Deense bond. Sy groot bek is oop van opgewondenheid – en hy blaf-blaf heserig, tjank dan op ’n hoë fyn noot.

“Pote?” klink ’n diep manstem net buite die blaargordyn, en die hond kry die bibberasie van blye opwinding, trap-trap met sy groot pote op Maryn se borskas sodat sy die bietjie asem wat sy oor had in ’n kreun verloor.

“Pote! My hemel tóg! Póte! Af daar!”

In die greep van asemnood en doodverskrik sien Maryn hoe die hond van haar afgetrek word, hoor sy verontwaardige tjank-blaffies, en voel hoe sy vinnig ondersoek word vir breuke. Groot, ferm hande wat raakvat.

“Lê stil!” gebied dieselfde stem toe sy met haar longe vol nuwe lug ’n beweging wil maak.

“Ek makeer regtig niks …” glimlag sy, kyk huiwerig na waar die groot Deen haar skeefkop op sy agterpote sit en betrag.

“Nee, gelukkig nie,” sê die man bondig, en trek haar aan albei haar boarms orent. Toe eers kom hy mooi in haar gesigsveld.

Nog verdwaas na haar ondervinding van so flussies, staar sy na hom: ’n groot man wat haar hande op die heupe en met ’n bekommerde frons op sy ru-aantreklike gesig staan en dophou. Sy vlasblonde hare hang in ’n deurmekaar kuif oor sy breë voorkop en is in sterk kontras met sy digte, donker wenkbroue en kenbaard. Sy mond, streng en geslote, gee aan sy hele voorkoms ’n koue afsydigheid wat ’n mens versigtig maak.

“Hoe voel jy?” vra hy skielik, sy grougroen oë met die dik swart wimpers op haar gesig gerig met ’n direktheid wat haar verbouereerd maak.

“Nee wat, heeltemal goed … dankie,” sê sy, vryf oor haar boarms waar daar nog klam grassprietjies kleef, skud haar krulkop in ’n ou gebaartjie van onsekerheid. Toe kyk sy na die hond wat nou vreeslik bedees op sy agterpote na haar sit en kyk. “Doen … doen hy dit altyd met ’n mens?” vra sy met ’n klein laggie.

Die man bly so lank stil dat sy vraend na hom terugkyk.

“O … e … nee, nie eintlik nie. Hy het dit lank gelede gedoen met … met iemand wat baie uitbundig met hom gespeel het … en …” Hy bly stil, staar stip voor hom uit, sê toe: “Nou ja, ek sal sorg dat hy dit nie weer doen nie. Jy is seker een van die gaste hier op Damplaas. Oom Basson het gepraat dat sy kinders en hul vriende kom kuier …”

“Ek is Maryn Basson.”

“Ek sien,” sê hy luiters, en sy sien dat dit hom bloedmin skeel of sy Maryn Wie-ook-al is. Hy’s nou jammer dat die hond haar omgespring het, maar dis al. Hy is hoegenaamd nie onkant gevang daardeur nie; dit kom eerder voor asof hy hoflik op haar wag om hul gesprek en ontmoeting af te sluit, en dit gaan onverklaarbaar teen haar grein in – so asof sy geringgeskat is.

“Stap saam met my terug huis toe,” nooi sy op die ingewing van die oomblik, en besef toe dat hy homself nog nie eens voorgestel het nie. Hy is natuurlik dr. Marcel Hoffman, dit ly geen twyfel nie. Maar sy sou tog verwag het dat hy dit aan haar sou sê. ’n Man, besluit sy stilweg, wat nie graag met ’n nuwe gesig glimlag nie. Dalk ook nie met oues nie, wie weet. Iemand wat sy eie geselskap koester.

“Dit was my plan, juffrou,” sê hy droog, sodat sy tjoepstil bly. ’n Moeilike man, besluit sy by ’n tweede gedagte. Sommer rêrig moeilik. Maar haar kop steek vas by hierdie vae definisie van Marcel Hoffman. Die eintlike waarheid is dat sy hom nie eintlik kan kleinkry nie. Sy skryf dit sober daaraan toe dat sy so groot geskrik het vir die hond. Môre, of dalk later vandag, sal sy hom beter leer ken. Want sy hou daarvan om direk tot mense deur te dring. Dit laat haar vaagweg gefrustreerd voel om nie terstond te weet waar sy met iemand staan nie. Almal in haar lewe het ’n plek. Daar is niemand wat aan ’n los draadjie van kennismaking hang nie, want Maryn laat selde ’n ontmoeting verbygaan sonder om dit op te volg. Sy is ’n menseliefhebber soos haar pa. En op hierdie oomblik ondervind sy ’n byna onkeerbare drang om Marcel Hoffman uit te vra tot op die wit van sy gebeente. Sy wil die hele skelet van sy verlede sien. Sy weet ineens intuïtief dat sy geskiedenis ’n swaar neerslag het, en die wete bring ’n ongekende beklemming oor haar sodat sy vervaard wegkyk van sy geslote gesig na die groot hond.

Sy is bewus daarvan dat hy nog ’n stonde fronsend na haar staar voordat hy hom ook na die hond keer.

“Kom, Pote,” sê Marcel gebiedend. “Kom maak kennis en vra verskoning!”

Tot Maryn se verbasing kom die hond, kop omlaag, nader tot reg voor haar en steek sy poot uit. Sy buk en skud dit met ’n laggie.

“Oulik!” sê sy, en glimlag met sy baas met haar besonderse glimlaggie wat so skelm te voorskyn kan kom op haar kalm gesig.

Hy kyk vlugtig na haar voordat hy sê: “Dis nou Baron Pote von Schlossenburg. Hy was saam met my Duitsland toe en ’n ou tantetjie waar ek gewoon het, het hom só gedoop!”

“O?” sê Maryn geamuseerd en verbaas. “En watter titel het jy in Duitsland opgetel? Jy het tog seker ook jou bewonderaars gehad!”

’n Vlugtige laggie roer om sy half weemoedige mond en hy kyk haar vas aan.

“U weet mos wie ek is, juffrou,” sê hy gelykmatig. “Anders sou u vir my ook geskrik het.”

Maryn kyk hom sprakeloos aan, en sluit haar gedagtes oor hom net daar af. Oor hierdie man kan ’n mens nie vinnig dink nie. “U”, inderdaad …

“Gaan maar, Pote,” sê Marcel, en Maryn sien net ’n geel streep soos die groot hond ooplê al op die damwal agter die een of ander denkbeeldige prooi-met-pootjies aan. Agter haar op die uitgetrapte paadjie hoor sy die swaar, afgemete stap van die man wat nou in die Ou Huis woon. Dis eienaardig, maar dis byna asof sy tasbaar kan aanvoel dat sy gedagtes swaar en diep is, asof hulle dringend teen haar aandu soos die dik mis wat soms in die winter van die dam af opstyg. Onwillekeurig maak sy haar rug effens hol toe hy in maat met sy swaar stap ’n weemoedige deuntjie tussen sy tande deur begin fluit. Eenkeer buk hy langs haar om ’n lekker plat klippie op te tel en dit met geoefende hand te gooi sodat dit liggies wip-wip oor die watervlak en fyn kringetjies laat. ’n Ent van hulle af staan Pote oopbek en kyk, proes uitgelate en spring wlaps! binne-in die water met groot geplas.

Maryn lag saggies, kyk toe op na die man langs haar en sien dat sy volle aandag by die hond is, ’n klein genotvolle laggie om die andersins swaar mond.

“Jy is seker nooit verveeld met Pote by jou nie,” sê Maryn geselserig.

“Ek is nooit verveeld nie, juffrou,” antwoord hy haar, sy oë steeds op die hond se manewales in die water. Dis bloot ’n stelling, gestroop van enige aanknopingspunte, en Maryn bly stil, draai om en loop verder. Net voordat sy die welige grasperk wil oorsteek na die huis toe, draai sy tog om en wag hom en die druipnat hond in.

“Koffie?” vra sy onseker. “Ek gaan buitendien nou vir almal maak.” Sonder dat sy weet, klink sy verskonend, en ook smekend. Dit het skielik vir haar dringend belangrik geword om met hierdie man kontak te maak – só dat hy met haar sal praat asof sy ’n gesig het.

Dit gebeur, maar net vir ’n vlietende oomblik. Hy rig sy oë in ’n vriendelike dog onpersoonlike blik op haar en sê: “Graag, dankie. Ek moet buitendien jou vader spreek.”

Teen haar verwagtinge in, is daar tog ’n roering onder die slapendes in die huis, want toe hulle die groot woonvertrek binnestap, sit oom Frederik al met Peet en gesels, en Elsje kom vakerig verneem of daar nie vir haar ’n koffietjie is nie.

Maryn lag toe sy dit hoor.

“Luiaard! Ek wou nou net kom maak! Waar’s daardie flukse broer van my?”

“Slaap nog,” antwoord Peet, sy oë op die groot man langs Maryn.

“Môre, Marcel,” groet oom Frederik met sy diep, bedaarde stem. “Kom sit, man, dat ek jou aan die kinders kan voorstel. Maar dit lyk my jy en Maryn het reeds …”

“Ja, oom,” sê Marcel en laat sy grou oë met kalme belangstelling oor Peet en Elsje gaan. Toe vertel hy rustig wat met Maryn en die hond gebeur het, en oom Frederik stel hom aan die ander voor. Almal lag vir Pote wat, nie toegelaat in die huis nie, nou lang sugte lê en sug by die venster wat op die stoep uitkyk. Dit val Maryn dadelik op dat Marcel Hoffman veel genaakbaarder skyn te wees in ’n groep as wanneer hy alleen is met iemand. Die beskutting wat getalle darem bied! dink sy suur, en glip weg om die koffie te gaan maak. Toe sy terugkeer met ’n skinkbord geurige gemaalde koffie in lang, regop bekers en Selina se karringmelkbeskuit, het Eugene hom ook by die ander gevoeg en sit in entoesiastiese gesprek met Marcel. Dis duidelik dat hy sy pa se geesdrif vir ’n Simmentaler-stoetery gou-gou aangesteek het. Hy het geen moeite om lekker met die vreemdeling te kommunikeer nie. Maklike mens wat hy self ook is, praat hy met Marcel of hulle al sakke sout saam opgeëet het.

En, dink Maryn met verwondering toe hy opstaan om die skinkbord by haar te kom vat, dit sal nie eens by haar liewe ou broer opkom dat ’n wewenaar soos Marcel – baie aantreklik en met ’n byna droewe misterie wat aan hom kleef – dalk meer as een faset kan hê nie. Eugene vra geen vrae nie. Die lewe is vir hom basies eenvoudig. Hy is Eugene Basson, seun van skatryk Frederik Basson, en skatryk is vir hom bloot ’n kwalifikasie soos mooi of lelik of blas of blond, en basta! Dis net daar waar hy en Peet so baie verskil. Peet is soos sy – hy wil wéét wat onder die vel lê. Kyk nou hoe sit hy die man en beskou van agter sy dik brilglase, en sy kan sweer hy dink lang gedagtes wat ver draaie maak. En Elsje, sy roer vanoggend haar suikerlose koffie asof haar lewe daarvan afhang, en haar oë is op ’n punt op die mat voor Peet se voete.

“Ek het eintlik net kom hoor of oom weet na watter motorhawe ek my bakkie kan neem,” hoor sy Marcel sê.

“Hoekom? Is daar dan fout?” vra oom Frederik.

“Daar moet wees … Ek weet nie juis veel van motors af nie, maar die bakkie gor-gor iewers waar hy nie moet nie. Ek sal maar laat kyk daarna …”

“Ek sal hom vir jou regmaak,” bied Peet op sy kalm manier aan, en Marcel kyk enigsins verbaas na die skraal man met die effe ruie swart hare en dikraambril.

“Hy sal, ja,” beaam Maryn skielik ná haar taamlik lang swye, “hy’s lief om met motors te torring en hy kry meesal iets reg met hulle.”

“Ja-nee, Peet sal jou kan help,” glimlag oom Frederik. “Maar as julle nou nie regkom nie, moet jy net praat, man … Dan kan jy sommer my bakkie leen as jy iewers moet ry.”

“Nee dankie, oom,” sê Marcel en staan op. “Dit doen ek nie. Dis baie gaaf van oom, maar ek moet eenvoudig my eie ryding hê. Nou ja, verskoon my dan, asseblief.”

“Ek gaan saam,” konstateer Peet, en Marcel beduie met ’n handgebaar dat hy welkom is.

“Ek ook,” voeg Eugene by, en sit sy beker terug op die skinkbord.

Toe groet die drie mans en stap druk in gesprek die huis uit op pad na die Ou Huis, met Pote op ’n lui draffie agterna.

“En toe?” vra oom Frederik toe hulle weg is. “Wat dink julle van Marcel Hoffman?”

“Moeilik om te sê,” antwoord Maryn, versluk haar aan haar koffie en begin sommer koppies bymekaar maak. “In elk geval nie ’n man wat dit vir ’n mens maklik maak om ’n opinie te vorm oor hom nie …”

“Iemand wat ’n deel van homself weggesluit het,” sê Elsje wyslik, en hou die skinkbord vir Maryn om die leë koppies op te pak. En om die dood kan Maryn niks vind om daarop te sê nie. Dis kompleet asof Elsje die sleutel in die slot gedraai het van ’n deur wat reeds toe was.

Man van gister

Подняться наверх