Читать книгу Uur van die Sewester - Helene de Kock - Страница 4

1

Оглавление

Clara Coetzer bly staan teen die steil berghelling en draai om. Haar asem hyg branderig deur haar keel, en sy skud haar vlaswit hare terug. Dis die hoogste wat sy nog geklim het vandat sy berge toe gekom het.

’n Klein, selfvoldane glimlag roer om haar mond en die spanning van die dag gly uit haar. Onder haar in die vallei strek die skadu’s swart en puntig ooswaarts, en hier en daar is daar roeringe soos die een misvuur ná die ander aangesteek word. Die vaalwit rook maak lui krulle in die helder herfsskemer. So was die vallei altyd maar, dink sy loom, soos ’n lewende, roerende ding wat hom soggens oopmaak vir die dag en saans weer toevou teen die nag. Heel onder in die kom van die vallei, waar die donker al diep opgedam het, sal die dorpsligte netnou een vir een aangaan soos kersies op ’n koek. En een nag, dink Clara met ’n skielike, makabere voorgevoel, sal daar nog ’n magtige wind opkom en dit soos ’n groot asem uitblaas sodat net die swart rokies bly draai …

Sy ril. Dis ’n aardige idee, ’n oordeelsdaggedagte dat daar van ’n plek net rook en as kan oorbly. Verskrikking voel immers ver van hier. Die wêreld is dié tyd van die jaar net te mooi vir angste en voorwetens. So saam met die goud en geel van die herfs het die kosmos oral pienk en wit opgeslaan. Want waar die mens ook al sy baie paaie trap, kom dié blomspoortjies agterna. Selfs hier waar sy staan, hoog teen die berg op, groei die kosmos korterig, maar dig, en kan sy maar net buk en hande vol pluk soos wat sy elke dag nou maak, arms vol vir die blompotte in haar kamer en voorkamer en ateljee …

Nee, die wêreld is mooi. Hierdie wêreld en die groter een daar ver ook, dink sy ietwat verbete. Die léwe is mooi. Dit móét net wees. En om die nare vreesgevoel van netnou te besweer, laat Clara haar gedagtes doelbewus op ou paaie loop asof sy so ’n verklaring vir haar skielike kwelling kan vind.

Haar oë dwaal oor die bekende vergesig. Die koel, fris bergwêreld van die Oos-Vrystaat soos wat sy hom agtergelaat het toe sy weg is universiteit toe en daarna Italië toe. Byna sewe jaar lank was sy weg. Jare waarin sy haar as’t ware probeer wegwerk het van die vae hartseer, die knaende onvergenoegdheid van haar kinderjare in die sandsteenhuis aan die voet van die berg. O, daar was lekker tye ook. Soggens se stappery skool toe was amper die lekkerste. Die teruglopery ook. Maar dan was sy warm en moeg en altyd die jongste wat ver agtergeraak het sodat sy moes bly staan en hees skreeu: “Wag vir my! Haai, wááág vir my!”

Dan het die groot Minnaar-seuns van agter die berg ’n rukkie bly staan en teruggekoggel: “Kóm dan, Sneeuwitjie! Roer jou litjie!”

En soms het Janus Minnaar, die oudste van die seuns, sy wysvingers by sy mondhoeke ingehaak om sy tande te ontbloot en in ’n hol stem geroep: “Kom, of kom óm! Want as dit eers donker is, kom al die Brollokse uit die klowe!”

Van omkom het Clara nie tóé geweet nie, maar vir Brolloks, die storiemonster, was sy bitter bang, en Janus se gesigtrekkery en sy bangmaakwoorde wat dof van die ronde sandsteenrotse af geëggo en weerklink het, het haar nuwe wind gegee sodat haar beentjies haar blitsig gedra het. En as sy hulle brandasem inhaal, het Janus sy growwe hoërskoolvinger onder haar neus gedruk en gesmaal: “Dis ’n baie spesiale gunsie dat jy kan saamloop, hoor! Jy moet jou bleek beentjies van nou af roer!”

Dan het hy vinnig, altyd net te vinnig voordat sy sy hand kon gryp, haar wit vlegsel ’n pluk gegee.

“Ai, Janus, jy maak lélik,” het Simon baiekeer gesê. Hy was hul swart maat wat smiddae van die swart skool naby die grootpad gekom het en hulle daar naby die draai van die berghang ontmoet het, om verder saam met die seuns na sy huis op die Minnaars se plaas te loop.

“Ja, lós die kind tog,” het Alfons Minnaar meer as een maal beaam. “Sy is al klaar so wit soos ’n spokie.”

Maar Janus het hom min aan die jongeres gesteur, net gelag. En eendag smalend opgemerk: “Hm … Spokie is die woord, hoor. Die kind het g’n bloed in haar are nie; net van die wit verf wat haar pa gebruik om sy kosmosprentjies mee te maak. Miskien moet ons oom Kas aanraai om bietjie pienk by te gooi. Dalk lyk sy dan minder wit.”

Clara onhou goed hoe haar gesig gepyn het soos wat haar mond vertrek het. Die huil het soos ’n groot skreeu uit haar gebars. Sy het gehuil totdat sy die klam, koel kol van haar trane op haar blou skoolrok se bors kon voel. En toe sy snuiwend ophou en die ergste nattigheid met die agterkant van haar hande afvee, kon sy die kring vaalgeskrikte gesigte om haar sien. Simon se oë het wit in sy kop gestaan, en die Minnaars het haar onkapabel aangegaap. Barry, die jongste van die twee Struwig-seuns van die plaas langs die Minnaars s’n, het verstom geuiter: “Heng, maar sy’t vir jou ’n stem, hè! Het julle gehoor hoe hard was die weerklank?”

“Ja,” het sy ouer broer Piet beaam, “skreeu, laat ons weer hoor, tóé!”

“Nee, stil tog!” het Janus geraas. “Sy huil al haar terpentyntrane uit, en waarmee sal haar pa dan sy kwaste skoonmaak!”

Die Struwigs het lawaaierig begin lag en hard deur hul tande gefluit om dan stil te bly en te luister na die eggo van die skril klanke. Janus het meegedoen. Clara en Alfons het agterna gedrentel met die steil paadjie wat al met die helling langs loop. Sy het van moegheid en bangheid dikwels weer begin huil, maar net saggies. Janus was ’n pes der peste, soos wat haar ma altyd sê van die rooikat wat die hoenders vreet. Naderhand het Alfons haar met boektas en al opgetel tot op sy nek, en fluit-fluit met haar aangestap tot by die geel sandsteenhuis met sy afgeskilferde rooi dak.

Dit was einde April, soos nou, en haar pa het met sy esel langs die ry goudgeel populiere gesit, ’n plaat sagte pienk kosmos rondom hom. Hy het skaars opgekyk toe die ry kinders verbykom.

“Mirrag, oom!” het hulle soos altyd geroep.

“Dag,” het hy bot gegroet. “Jou ma wag vir jou, Clara.”

Sy het van Alfons se rug afgegly, skamerig opgekyk na die lang, donker seun met die skerp bruin oë. Hy het skielik by haar gebuk, haastig gefluister: “Dis omdat jy so baie melk drink dat jou hare so wit is. Drink van nou af net swart koffie, dan sal jy sien hoe mooi word jy.”

“Sowáár?” het sy kliphard gevra, haar oë rond.

“Sowaar,” het Alfons beaam en vinnig ’n nat voorvinger in die lug gesteek, en toe sy nog oopmond na hom staar, sy oë gerol en met ’n skor stem gesê: “Mag ou Sielas van die salpetergrot my in ’n slak verander as dit nie so is nie!”

Haar pa het gesteurd opgekyk van sy esel, en Alfons het voet in die wind geslaan agter Janus en Simon aan, wat al na hom begin roep het.

’n Slak! Sy het haar siék gegril. Een van die nat, swart slakke wat onder die varings hoër op in die klowe hou … Ga! Dit móés net die waarheid wees, want wrágtie, nie eens die Minnaars of die Struwigs wou slakke wees nie. Al dink haar pa hulle is lae lakke. Sy’t gewonder of lakke en slakke dalk iets gemeen kon hê. Toe vra sy haar pa, net daar op die plek in die warm son met haar boektas nog in haar natgeswete hand: “Pa, is lakke en slakke … familie?”

Sy twee kwaai oë het bo die rand van die esel verskyn, en sy heel kwaaiste stem het in haar ore geklink.

“Watse twak praak jy, Clara? Die hemel weet, ek wil nie hê jy moet saam met dié gespuis skool toe loop nie. Hulle prop jou kop vol lelike goed! Die Minnaars en die Struwigs is te besig om ander mense se goed af te rokkel om hulle nog aan kinderopvoeding ook te steur. Nee wat, in hierdie lewe moet mens net op jouself aangewese wees, net jy alleen kan …”

“Ja, Kas …” het haar ma hom sag onderbreek, en Clara aan haar hand die huis ingevat, en net so sag met haarself gepraat: “Alleen alles doen, alleen dink en alleen praat en op die ou einde net jou eie begeerte soek …”

Selfs nou nog is die lekker en die seer van haar kleintyd so dig verweef in haar gemoed dat Clara in die aandbries staan en glimlag met haar oë vol trane. Sy sug diep en sak af op haar hurke, steek haar hand uit na die plaat kosmos om haar, raak veerlig aan die malvalekkerpienk daarvan. Haar blik luier weg oor die hang, oor die vallei, raak peinsend aan die toppe van die anderkantste berge wat nog net effens gloei soos kole wat al uitgebrand het. Maar die wind is eensklaps kil, waai geniepsig deur haar, sodat sy haar boarms vasgryp en vinnig vryf. ’n Droë kraakgeluid laat haar ruk van skrik, en sy kyk skigtig rond. Maar sien niks nie … ’n Tak in die wind, miskien, of ’n velddiertjie wat self geskrik het vir die breek van ’n droë stokkie. Maar Clara is skielik weer bang. En sy voel kwesbaar en alleen. Sy is darem so ’n oop skyf vir die wind en wie weet wat nog hier teen die skemerdonker hang …

In haar onverklaarbare vrees is sy meteens weer vatbaar vir ou, hartseer gedagtes. Dit draai al om haar, óm haar soos die bye bedags om die kosmos draai …

Want netnou se herinnering aan haar ouers stem haar droef. So was haar pa en ma se gesprekke byna altyd – tersyde. Soos mense wat bolangs die dinge aan mekaar sê wat hulle moet, en dan hul gedagtes hardop fluister aan wie ook al wil hoor. En sy wat Clara is, moes alles aanhoor, of sy wou of nie. As haar pa nog met haar gepraat het, was dit soos daardie dag toe sy van die skool af gekom het. ’n Teregwysing eerstens aan haar gerig, maar wat in die loop van sy pratery ’n soort selfgerigte filosofie geword het waarmee haar ma om vredeswille saamgestem het en dan agteraf uitgerafel het.

Kas Coetzer was verbitterd oor alles. Sy talent wat maar skrams erken is. Sy skilderye het sporadies verkoop. Hy was ook voortdurend half ontwrig oor sy bure wat kort-kort sy stukkie grond hier teen die berg wou opkoop. Op hulle het hy tot aan die einde van sy dae sy bitterheid geprojekteer. Die Minnaars en die Struwigs van agter die berg. Die lae lakke. Woekeraars wat alles wou opkoop. Oor sy dooie liggaam sou dít tog gebeur …

En dit het amper. Clara se ma is een nag in Clara se matriekjaar stil dood, haar kop na die muur gedraai asof sy nog vir oulaas iets tersyde wou sê. Kas Coetzer het weke lank nie aan ’n kwas geraak nie, net gesit. Hy het eintlik vir Clara vreemd begin ruik – na seep en haarolie, in plaas van die bekende terpentynreuk. Oplaas het hy hom skrams na Clara gewend en verwoed gesê: “Nóú sal die Minnaars en die Struwigs seker weer op ’n mens toesak!”

“Hoekom dan?” wou Clara verwese weet, die hartseer en die skrik van die dood soos ’n tamheid in haar jong liggaam.

“Aasvoëls, die lot van hulle!” het Kas gesê. “Maar ek sal hulle wys …”

Sy weet nou nog nie wat hy probeer wys het nie. Tot vandag toe weet sy nie. Die Minnaars en die Struwigs het wel gekom. Maar met borde vol eetgoed en om stilweg te simpatiseer. Selfs Janus, wat toe al saam met sy bejaarde vader agter die berg op Minnaarshoek geboer het, het gekom en sy hand plegtig op haar kop gesit toe hy sê: “Sies tog, ou Sneeuwitjie … ek is régtig jammer, hoor.”

Toe het sy haar lankal nie meer vervies vir hul gespot oor haar wit-wit hare nie. Op hul manier was die Minnaars en die Struwigs vir haar ’n soort verweer teen die wêreld. Die ander skoolkinders het net in die beginjare ’n bietjie gespot met die klein witkopdogtertjie wat elke dag saam met nie minder nie as vier seuns skool toe en terug gestap het. Hulle het gou geleer dat dié vier Clara soos een man sal verdedig. Sy was húlle s’n om te terg en te treiter. Op hulle manier, weet Clara tot vandag toe, was dié seuns van agter die berg nogal lief vir haar.

Aan die einde van haar Matriekjaar het sy ’n beurs gewen om universiteit toe te gaan. Sy wou kuns studeer. Vir die eerste maal in haar lewe het haar pa met egte, gloeiende entoesiasme na haar gekyk, maar voordat hy iets kon sê, het sy mond begin beef en het hy weggeloop na waar sy esel op die ou plek onder die populiere gestaan het. En sy het gesien hoe hy met homself praat toe hy gaan sit en die kwas opneem. Dit was die naaste wat sy ooit aan haar pa gekom het. Sy is weg universiteit toe sonder dat hulle ooit by mekaar uitgekom het.

Daardie jaar het sy die dood leer kén. Na haar ma het sy dikwels smartlik verlang. Toe is Barry Struwig se ouer broer, Piet, in ’n botsing dood. En ses maande later het haar pa aan ’n hartaanval gesterf. Alleen soos wat hy geleef het.

Clara bewe waar sy sit. Van die koue aandluggie en ’n ou droefheid en … vreemd, steeds ’n effense vrees wat haar kort-kort laat skrik vir ’n roering tussen die herfsblare en ’n dassie wat dit een keer tot naby waag en dan laat spaander. Maar sy bly tog sit, vasgevang in lank gelede … Buitendien, waarom sou sy bang wees? Dis háár plek, háár berghang as dit daarop aankom. Dié plek waaraan haar pa ook in sy laaste eensame maande so verbete bly klou het.

“Die eensaamheid het vir hom te veel geword,” het ou meneer Minnaar met die begrafnis aan Clara gesê, en Janus en Alfons het plegtig geknik. Dit was tydens die Desembervakansie en Barry Struwig was tuis van sy landboustudie in Bloemfontein en Alfons van Tukkies waar hy regte geswot het. Hul oë het geïnteresseerd oor haar gegaan in haar swart roupakkie met sy vleiende snit, haar witblonde hare versteek onder ’n parmantige swart baret. Later het hulle en die ouer mense ook kom tee drink en mooi met haar gepraat. Sy is nou heeltemal alleen, het die gesprek gelui. Sy kan tog nie die plek behou nie. Wil sy nie maar verkoop nie?

Aasvoëls, het sy gedink, en wou kwaad word, maar sy het nie. Nee wat, het sy net gesê. Ek sal maar die plek hou. Dalk kom ek eendag weer terug. Hulle het haar nie geantwoord nie, net veelseggend na mekaar geloer. Wat wou so ’n maer, bleek ou meisietjie nou ’n stuk grond in die berge behou … Sy sal nog van plan verander. Sy kon hulle dit hóór dink.

Maar hulle was verkeerd. Sy het wel weggegaan en sewe jaar lank weggebly, maar hierdie stuk grond teen die berg met die sandsteenhuis het hare gebly. Dit was eers toe sy in Italië die pottebakkerskuns bemeester het, dat sy werklik begin terugverlang het. Sy het net eendag in ’n werkwinkel in die fraai heuweldorp Orvieto gesit met ’n vaas in haar hand wat sy klaar gegraveer het en pienk en wit wou glasuur, toe verlange soos ’n vlam in haar opskiet. Wit en pienk … Kosmoskleure van haar hartland. Sy het die vaas klaargemaak en dit met betraande oë in die groot oond gesit.

“Carissima Clara,” het haar ou leermeester weemoedig gesug, “ek dink ek lees die tekens reg. Sodra jy kan huil oor ’n stuk klei wat jy tot kunswerk gevorm het, het jy genoeg geleer.”

“Dankie, Signor Luigi,” het sy gesê en haar trane bedwing. “Ek dink ook ek sal nou alleen kan werk.”

Sy het die pienk-en-wit vaas met haar saamgebring. Dit en die kennis van die pottebakkers van Orvieto. Daar was niks aards aan hul werk nie. Dit was soos ’n blomtuin, vol vorm en kleur. En juis daarom wou sy ook sulke potte maak. Dit sou weldra haar eie stempel dra.

Clara het teruggekom berge toe. Die sandsteenhuis se verweerde rooi dak is vervang deur ’n geelgroen grasdak wat die ou plek eensklaps pragtig met die omgewing laat saamsmelt het. Die een groterige buitekamer het sy in ’n ateljee omgeskep en begin werk, en mettertyd bekend geraak vir haar vrolike potte, vase, borde en bekers: goudgeel teestelle met koningsblou ontwerpe, roomwit bakke met donkerrooi blomme op en bruin borde met oranje blare. ’n Lustige kleurrykheid tekenend van die geluk wat sy elke dag opnuut in die huis en die werf met sy hoë populiere ervaar. Sy wil juis hê haar werke moet blydskap oordra – anders as haar pa s’n, wat ’n soort angs wou uitbeeld.

Vanaand staan haar voorhuis en voorstoep propvol van haar werke, reg vir haar eerste groot tentoonstelling. Almal weet daarvan, van die dorpskoerantjie en die streekkoerant tot die groot dagblad uit Johannesburg. Clara se hart klop vinniger van opwinding en haar gedagtes los die verlede. Sy kom haastig orent, stof haar sitvlak met haar hande af en kyk om haar rond. Dis reeds goed skemer en moeilik om iets uit te maak in die donkerte wat suutjies tot hier bo gesluip het. Dis stil. Clara hou onwillekeurig asem op. En skielik weet sy – sy is bang. Onverklaarbaar en onteenseglik bang, soos netnou …

Sy frons, probeer die vrees ontleed, maar dis ágter haar, lángs haar, óm haar en haar vingernaels kerf in haar handpalms in. Sy blaas haar asem sidderend uit. Vanaand is tog die aand dat sy nie kan bekostig om bang te wees nie. Dit kom nou van haar gesit hier teen die hang. Sy ken nooit haar tyd as sy hier is nie. Netnou is sy laat vir die uitstalling. Eintlik wou sy net ’n bietjie kom asem skep voor die groot ding vanaand, en toe pak die versoeking haar om al hoe hoër te klim tot hier by die ronde sandsteenrots. Dis omtrent op dié hoogte dat die salpetergrot is, maar die grot mond aan die ander kant van die berg op die grens tussen die Minnaars en die Struwigs se grond uit.

Dis ’n interessante ou plek, dink sy half gesellig om die bangheid te laat bedaar, en sy begin voetjie vir voetjie terugloop. Dit sal nou vir jou ’n affêre wees as sy nou hier neerslaan en ’n arm of ’n ding breek. Almal sal opdaag vir die uitstalling en dan is die kunstenares nie daar nie.

Sy tuur in die halfdonker na die voetpad wat steil afkronkel en tas hier en daar na takke en struike om haar balans te behou. Sy is halfpad ondertoe toe sy dit hoor.

Drie skote.

Hard en duidelik in die stil aand. En die dowwe weerklank daarvan van die hoë, ronde rots af.

Clara bly versteen staan. Sy sluk krampagtig, bly luister, want die stilte het eensklaps weer dik en dreigend geword. Haar gedagtes soek vervaard na ’n verklaring. Daar móét tog ’n doodgewone verklaring vir die skote wees … Wel, die Struwigs het dikwels skyfgeskiet, dit weet sy. Maar oom Jans Struwig se hande het al gebeef toe sy destyds hier weg is en sy onthou goed hoedat hy dit betreur het dat hy nie meer fyn kon korrel nie. Miskien was dit Barry wat geskiet het. Hy boer mos nou op Kruin en is glo ’n kranige skut.

Clara staan skeefkop en probeer die geringste geluidjie opvang, maar dis grafstil. Net die wind blaas ’n verdwaalde suggie deur die bome laer teen die hang en ’n paar verdroogde blare ritsel grond toe. Sy voel weer angstig, byna soos iemand wat wéét dat daar op hom gekorrel word, en haar skouers krimp ineen. Want iemand het geskiet. As dit nie die Struwigs was nie, moes dit seker die Minnaars gewees het. Janus boer nou alleen op Minnaarshoek sedert sy pa se dood, en Alfons kom glo gereeld huis toe.

Clara blaas die onrus in ’n sug uit. Dan was dit seker maar een van hulle. Sy draai terug en stap vinnig met die paadjie langs wat al hoe breër word namate die hang minder steil raak. Sy kom agter dat sy haar onderlip seer vasbyt. Dink aan lekker dinge wanneer jy bang is, was haar ma se raad toe sy klein was. Wel, sê nou net Barry Struwig of die Minnaars daag op vir vanaand se uitstalling. Sal dit nie lekker wees nie … Sy het wel ’n paar persoonlike uitnodigings gestuur, maar nie aan hulle nie. ’n Soort skuheid het haar daarvan weerhou. Dalk vrees dat hulle haar as kunstenares vreemd sou vind … Dalk reageer hulle tog, soos baie ander mense, op die uitnodiging in die koerantjie. Dié het nogal ’n beriggie ook geplaas en heel geesdriftig uitgewy oor Clara se kuns en haar jare in Italië.

’n Glimlaggie pluk aan Clara se stram mond. Miskien kom hulle tóg. ’n Mens het immers behoefte aan ou bekendes op so ’n aand. Die seuns van agter die berg was so onlosmaakbaar deel van haar wêreld, dat sy haar soms betrap dat sy na hulle verlang. Al het hulle haar meesal vertoorn. Sy wonder of sy toe ooit vir Alfons gesê het wat van sy raad geword het. Swart koffie by die liter het sy gedrink om van haar melkwit hare ontslae te raak. En ’n verskriklike galaanval gekry wat haar die waarheid in trane voor haar ma laat bely het. Tot haar verbasing het haar ma geproes van die lag.

“Ai, Clara! Dis sommer seuns se tergpraatjies, jong.”

“Nee, dis wáár,” het sy gehuil. “Anders sal die ou man in die salpetergrot vir Alfons in ’n slak verander!”

“Nog nooit,” het haar ma getroos. “Ou Sielas is ’n doodgoeie ou siel. Almal weet dat hy nie regtig kan toor nie, kindjie!”

“Is! Is, hy kán!” het sy ontsteld gesnik, gesien hoe Mamoesa se oë groot en wit om die kombuisdeur loer.

Maar Alfons het nooit in ’n slak verander nie. Net al hoe langer en breër geword. En hom al hoe minder aan die bleek dogtertjie gesteur.

Clara kom uitasem by die huis aan en tuur die nag in berg se kant toe voordat sy by die agterdeur ingaan. Maar die donkerte het alles ingesluk. Die pienk en wit van die kosmos en die geel van die herfs. En ook die klap van skote.

Sy skrik toe sy op die horlosie bo die yskas sien hoe laat dit is. Die gaste kan binne ’n halfuur begin opdaag. Sy sal moet spring. Sy wil haar juis mooi maak vir vanaand. Die hele kunstenaarskolonie wat hier in die berge woon, sal kom vir die geleentheid. Die dorpenaars ook. Mense sal wil sien of die wêreld ook dink dat ou Kas se kind talent het. Hulle koop nou wel van haar goedjies, het een tante haar nou die dag gesê, maar hoe moet mens nou weet of die goed iets wérd is?

Clara loer haastig by die sitkamer in. Haar oë vlieg oor die fraai gedekte tafels teen die muur waar kaas en wyn en vrugte smaakvol uitgestal is, die rakke teen die mure waar haar skeppingswerke staangemaak is, die vase vol kosmos wat sy oral neergesit het. Buite op die verligte stoep is daar ook nog van die groter potte en lang, ultramoderne vase. Sal die kunsblaaie ooit iets goeds kwytraak? Twyfel pak haar skielik beet en knaag ’n hol kol op haar maag.

Toe sy eindelik voor die spieël staan om haar hare te kam, het die twyfel en die vrees van vroeër weggesak, en is dit opwinding wat haar effens bewerig laat voel.

Die knalrooi syrok het sy in Rome se Via Veneto gekoop. Dit lééf aan haar lyf. Byna soos ’n vlam. En dit gee haar die wonderlike gevoel dat sy mooi is. Haar witblonde hare blaas sy droog en borsel dit tot dit syig om haar fyn besnede gesig hang. Haar oë kyk groot en baie blou terug na haar, die donker wimpers en wenkbroue treffend in kontras met haar hare. Vanaand het ek kleur, dink sy gelukkig. Ek wens, ek wéns net ’n Minnaar of ’n Struwig kan my nou sien … Want as dié uitstalling slaag, sal ek in my lewe nooit weer bleek wees of bleek voel nie. Clara Coetzer, die befaamde pottebakster, sal hier leef en werk en Kas Coetzer se vaal frustrasie sal uit dié huis wyk om nooit weer terug te kom nie.

’n Klein, byna pynlike suggie ontglip haar toe sy wegdraai van die spieël. Sy tik parfuum agter haar ore en aan haar polse. By al die genoeglikheid om terug te wees in ’n mooie tuiste waar hartseer en blydskap so vreemd vervleg was, bly daar tog die oerverlange om nie alleen te wees nie. Hoe goed het sy dit nie beveg in die stad en in die vreemde nie, soms selfs sonder dat sy dit geweet het. Want dáár was net nooit ’n man wat haar na hom kon laat verlang nie. Maar hier op die hoogland, waar die nagte vol sterre is, hier verlang sy na iemand. Soms skakel sy vroeg saans al die ligte af en sit op die stoeptrappies en kyk na die hemel. Dis soos ’n stad se liggies, net mooier. Vol van ’n ander soort misterie. Dan wens sy sy kan net haar kop teen ’n sterk skouer laat sak, en sag sê: “Sien jy dit ook? Die Suiderkruis … en die Sewegesternte … En kyk hoe laag hang party. Pluk vir my een, tóé!”

’n Naamlose weemoed wel meteens in Clara op, en sy pers haar lippe saam. Waarom wil ek romanse hê? wonder sy half kwaad. My lewe is vol genoeg …

Daar is ’n sagte geskuifel iewers buite en toe ’n kloppie aan die agterdeur.

“Kom solank in, Erna!” roep sy gang af. Erna is ’n nuwe vriendin, een van die dorpshospitaal se verpleegsters, en hulle het een middag in die biblioteek ontmoet. ’n Liewe, joviale mens wat dikwels kom kuier en beloof het om Clara vanaand met die onthaal te kom help.

Maar in die kombuis is daar niemand nie. Clara klik met haar tong. “Ek kom!” roep sy en stap agterdeur toe. Erna se hande is seker vol. Sy het beloof om nog ’n bordjie of wat soutgoedjies te bring.

Clara maak die agterdeur oop en die vrolike groet sterf op haar lippe.

In die deur staan ’n man. Sy een hand is krampagtig om die kosyn geslaan, asof hy daaraan vashou om nie om te val nie. Sy donker kop hang vooroor, losserig asof die nek dit nie meer kan stut nie.

Clara staar stom na die kroontjie waar die swart hare springerig orent staan. Dit voel of sy in gips gegiet is, en sal bars en splinter as sy sou beweeg. Sy sluk stadig, en toe merk sy die bloedrooi kol op die arm wat stil aan die man se sy hang, en sy trek haar asem so vinnig in dat dit pyn in haar bors.

Dis of die hyggeluid tot hom deurdring, want sy kop kom in ’n flou beweging orent, die swartbruin oë versonke in die aswit gesig.

“Sneeuwitjie …” sê hy toonloos, en sy lippe roer asof hy wil glimlag.

“Alfons!” sê Clara klankloos, en blaas die skrik saam met haar ingehoue asem uit. Dis nie ’n booswig nie. Dis net ’n Minnaar – Alfons nogal …

“Kom binne,” sê sy meganies, en steek haar hand na hom uit. Maar skok ruk weer in haar toe sy sien hoe die bloed stadig uit die mou van die beseerde arm op die vloer drup soos uit ’n kraan wat nie goed toegedraai is nie. “Kom tog in!” sê sy weer, dié slag skerp dringend.

Hy knik en laat los die kosyn, steier op sy bene, en sy gryp na hom. Hy slaan die gesonde arm om haar skouers. Sy kyk wild rond in die kombuis. Hiér kan sy hom nie help nie. Die mense is nou-nou hier.

“Kamer toe,” sê sy net, en begin stadig en wankelend met hom aanstap.

Daar help sy hom tot by die rand van die bed, waar hy slap neersak, maar sy arm versigtig weghou van die wit deken sodat die bloed in ’n netjiese ronde poeletjie op die ligte mat tap. Hy sug baie diep, en sê swaar: “Toe maar, ek hoop dit sal uitwas. Dis darem net bloed.”

Clara sien hoe sy oë mooi pleit by haar, en sy verteder, maar antwoord hom doodsedig: “Nou toe nou … dag dis dalk ink. Volgens hoorsê is jy nou ’n geleerde man. ’n Prokureur, mos …”

Hy lag geluidloos, sy gesig vertrek van die pyn.

“Sies tog, ou Sneeuwitjie,” sê hy, “nog altyd kleinserig oor die wit verf wat in jou are geloop het toe jy klein was, nè? As dit jou sal troos – een van die dinge wat ek al geleer het, is dat mense bloed het wat kan vloei as hulle seerkry …”

Clara frons diep toe haar oë weer op sy gesig rus. As sy haar nie misgis nie, is hy op die punt om flou te word.

“Is dít wat met jou gebeur het?” vra sy. “Waar het jy seergekry?”

Hy snak na asem, maar antwoord tog: “Salpetergrot. Sowat … ’n uur gelede … weet ook nie mooi nie … Clara, help my, moenie vrae vra nie …”

Sy knik haastig. Krap in die kassie langs die bed waar sy haar eerstehulpgoedjies hou. Nie dat sy dit al ooit nodig had nie. Sy kry verbande, nog in sellofaan toegedraai, en sukkel lomp om dit oop te kry. Vroetel in die laai om die botteltjie ontsmettingsmiddel te kry.

“Los dit eers,” sê hy en sak agteroor op die bed, maar sodat die arm nog langsaan afhang. “Kom stop eers die bloeding. Dit was ’n skoot, Clara – ’n skóót!”

Haar mond is kurkdroog as sy nader staan, en toe sy die geruite hemp hoog by die skouer weglig van die wond af, voel dit koud en glibberig onder haar vingers. ’n Naarheid wel in haar op dat die sweet op haar voorkop pêrel. Sy staar na die gapende wond, angswekkend met die bloed wat aanhoudend uitloop en die rou, verflenterde vlees rondom.

“Ek … gaan vir jou ’n dokter kry …” stamel sy. “Of hospitaal toe vat.”

“Néé!”

Sy skrik toe hy in een beweging orent kom, homself op die gesonde arm stut. Sy swart kuif hang deurmekaar oor sy voorkop en sy oë kyk koorsig in hare.

“Nee, Clara! Jy mag onder geen omstandighede nou ’n dokter vir my kry nie. Ek sal nie doodgaan nie, ek beloof jou! Maar nié ’n dokter nie, hoor!”

Sy kyk hom stom van skok aan. En vir die eerste maal laat sy oë haar gesig los en gaan sy blik oor haar skouers en die rooi rok wat aan dun bandjies hang en haar voete in die goue sandale.

“Gaan jy iewers heen?” vra hy skerp.

“Nee … ek … hier is ’n uitstalling van my werke vanaand. Ek is ’n pottebakster.”

“’n Pottebakster … maar ek het natuurlik geweet dat jy kuns geloop het … My jinne, ou Claartjie …”

’n Oomblik lank verdring ’n soort vertedering die pyn, maar dan frons hy weer diep en krampagtig, en hy sak moeg terug.

“Waarom … is jy hier?” vra Clara stadig. “Waarom het jy juis hierheen gekom?”

“Jou plek was die naaste … en ek het gehoop dat jy … of iemand, hier sou wees. Janus het my lankal vertel dat jy toe nooit verkoop het nie.”

“Janus!” roep Clara half verlig uit. “Ek gaan hóm bel! Hy moet kom help!”

“Néé, Clara,” sê Alfons ferm, steun van pyn. “Jy bel niemand nie. Niémand, hoor. Asseblief, jy moet my vertrou.”

In haar angs buk sy oor hom. Haar asem jaag toe sy sê: “Maar ek móét hulp kry. Jy kán nie hier bly nie.”

Hy lig die gesonde hand en raak haar skouer lig aan, sy oë brandend op haar gesig.

“Asseblief, Clara … vertrou my. En help my. Ek moet hier by jou bly totdat ek beter voel, asseblief …”

Sy kyk af na sy pynvertrekte gesig naby hare, na die breë skouers wat haar so baie kere van die skool af tot by die huis teen die berg gedra het, en ’n skielike doelgerigtheid pak haar. Sy draai om en kry die verbande, vou dit reg en neem sommer ’n klein sakboekie wat op die bedkassie lê om ’n drukverband te maak. Hy kreun toe sy hom aanraak en maak sy oë toe. Sy is net klaar toe die voordeurklokkie lui en daar ’n klop aan die agterdeur is.

Die gaste … laat dit asseblief Erna by die agterdeur wees, bid sy beangs met oop oë. Erna is immers ’n verpleegster. ’n Suster, eintlik. Sy sal weet wat om met Alfons te maak. Ag, laat sy tog wéét, liewe Vader …

Sy stap suutjies tot in die deur en kyk terug. Alfons lê soos ’n dooie, en op die wit verband vorm daar al weer ’n donkerrooi kol. Erna, dink Clara weer, sy sal weet wat om te doen.

Toe die klokkie weer lui, dwing Clara haar gesig tot ’n soort kalmte, en stap stadig die gang af net toe daar weer dringend aan die agterdeur geraps word.

Uur van die Sewester

Подняться наверх