Читать книгу Uur van die Sewester - Helene de Kock - Страница 5

2

Оглавление

Clara word koud wakker. Sy ril effens en tas na die donskombers wat van die bank afgegly het. Die nagte hier bo in die berge raak al ysig, veral so na die vroegoggend se kant toe. Sy trek die kombers weer oor haar en knip-knip haar oë om beter te kan sien in die roosgrys lig wat van agter die wit gordyne deursyfer.

Oral in die sitkamer staan nog leë koppies en glase rond. Sy en Erna kon gisteraand net die ergste opruim voordat hulle weer aan Alfons moes aandag gee. En toe moes Erna inderhaas weg, want sy is vroeg al weer op diens by die hospitaal. Gelukkig kom Mamoesa nou-nou, en sy het beloof sy bring ’n niggietjie saam om hand by te sit.

Clara sug en sak terug teen die kussings. Wat ’n aand was dit nie. Dis of daar nou nog ’n lammigheid deur haar bene trek as sy net daaraan dink. Die skote hoog op in die berg. Die skok en tog ook die vreugde om Alfons voor haar te sien staan. En die angs omdat sy gevrees het dat sy arm nooit sou ophou bloei nie …

Ook Erna, liewe staatmaker wat sy is, se oë was groot toe sy afkyk op Alfons se aswit gesig. Haar vaardige verpleegstershande het vinnig Clara se lomp verband afgehaal en dit vervang deur ’n stewige wit verband uit ’n wit kussingsloop geïmproviseer. En sy het Clara laat tee maak – ’n sterk, stroopsoet brousel, wat Alfons eers teësinnig laat proes het, maar wat hy toe maar gedwee saam met twee pynpille gedrink het.

“Jy moet bloed kry,” het Erna kortweg gesê, haar vingers lig en professioneel op sy pols.

Maar Alfons se mond het koppig getrek.

“Oor my dooie liggaam,” het hy gesê. “Ek wil nie ’n dokter hê nie en ek wil nie bloed hê nie. ’n Mens weet buitendien nooit wie s’n dit was nie en ek was nog altyd ordentlik.”

“Jy sal nog spot,” het Erna kwaai gesê, maar tot Clara se verbasing nie verder aangedring nie. Miskien was dit die blik in Alfons se oë. Waarskuwend en gedetermineerd. Hy was kapabel en staan daar op en strompel verder aan na wie weet waar as hulle nie maak soos hy sê nie.

“Asseblief, luister … Ek weet dis vir julle moeilik om te begryp en ek weet dat jy eintlik my geval behoort te rapporteer, juffrou, maar ek weet wat ek doen, gló my.”

Erna het nadenkend na hom gekyk, haar smaakvolle blou pakkie se romp met haar hande platgestryk.

“Jy moes naby aan die geweer gewees het, want die koeël is een kant in en anderkant uit,” het sy sag gesê.

“Gelukkig, nè,” het hy moeg geglimlag, bedag na Erna geloer van onder sy digte swart wimpers.

“Hm … Jy kon ook dóód gewees het,” het Erna koel opgemerk. “Ek sal ná die onthaal ’n bietjie penisillienpoeier by my woonstel gaan haal.”

Alfons het sy oë toegemaak en skaars merkbaar geknik, en hulle het nog gestaan en kyk, toe is dit asof die sagte wind van buite in sy lyf intrek en met swaar, reëlmatige asemteue sy gesig stil en uitdrukkingloos laat word. Clara het gebuk en die duvet oor hom getrek. Sy het Erna se oë vraend op haar gevoel.

“Ken jy hom goed?” het sy gevra, haar vingers deur haar ligbruin haardos getrek soos wanneer sy onseker is.

Clara het haar skouers opgehaal.

“Baie lank en tog ook glad nie,” het Clara gesê, haar blik verwonderd op die slapende man.

Die voordeurklokkie het luid geskel, en hulle het al twee gewip soos hulle skrik.

“Snaaks hoe bangerig ’n mens deesdae is,” het Clara verleë gesê, en Erna het net geknik en toe vooruit gestap in die gang af om vir die gaste te gaan oopmaak.

Clara kan die vroeë oggendstilte van die huis oplaas nie meer verduur nie. Sy wip onder die donskombers uit en trek haar wit woljapon aan, druk haar hare met haar vingers terug. Toe loop sy op haar tone in die gang af en loer by haar slaapkamer in. Alfons lê nog byna net soos sy en Erna hom gisteraand gelaat het nadat die gaste weg is. Hulle het die bebloede hemp van hom afgesny, die arm weer verbind en hom nog pynpille ingegee. Hy het net vaagweg geroer en sy dank geglimlag. Maar dis tog of sy gesig nou meer kleur het. Ook sy mond lyk sagter, asof hy vrede gemaak het met sy rare omstandighede.

Clara draai terug en loop saggies kombuis toe. Skakel die ketel solank aan. Erna sal nou-nou weer hier wees. Sy het verlede nag beloof om weer na haar pasiënt te kom omsien voordat sy op diens gaan.

Clara gaan staan by die oostelike venster en trek die oranje gordyntjie weg. Sy trek haar asem onwillekeurig in. Nooit sal die mooi van ’n sonsopkoms vir haar alledaags word nie. Soos ’n groot, rooi ballon wat van agter die kim opstyg, kom die son oor die Drakensberg op. En vir ’n stonde gloei die wêreld rosig en vredig, die donker klowe ’n oomblik nog in skadu gehul, die spits kruine helder omlyn.

Dit sou ’n volmaakte dag gewees het, dink Clara, as dit nie was dat daar ’n gewonde man in my bed lê en slaap nie. Ook op gisteraand het die donker kol gerus. Die oomblik toe Janus Minnaar die voorkamer binnegestap het, wou sy hom sê van sy broer wat gewond in haar huis lê. Maar sy swart oë was soos altyd effens sinies. En toe hy na haar kyk, het hy lig geglimlag.

“Huil jy nog so maklik, Sneeuwitjie?” het hy gevra, sy breë skouers effens weggedraai terwyl hy oorleun om een van haar donkerblou vase krities te bekyk. “En is dít jou tranefles?”

Sy was weer kwaad soos in haar kinderjare. Maar hy het skielik opgekyk en haar betrap, die bewing van haar lippe gesien en haar hande, wat sy soos altyd wanneer sy ontsteld is voor haar middel saamgeklamp het.

“Haai nee, moenie kwaad word nie,” het hy gesê, maar sy stemtoon was soos altyd onbewoë, sodat sy nie die moed gehad het om enigiets te sê nie. Wat ’n eienaardige, geslote mens, het sy gedink. ’n Mens sou nie kon dink dat hy en Alfons broers is nie. Ook op skool was Janus die eenkantkind. Alfons was die een wat hom by die groep geskaar het en pouses speels by haar en die ander dogtertjies kom niekerbols bedel het. Maar Janus het selde meegedoen. Kommentaar lewer, dié kon hy wel … dit het sy skielik gisteraand besef. En sy kommentaar was nie heeltemal sonder insig nie.

“Dis mooi goed dié van jou,” het hy eensklaps langs haar opgemerk, ’n glasie sjerrie in sy skraal bruingebrande hand. “En ek weet nou, dis soos wat jy binnekant lyk, Sneeuwitjie, vol pret en allerhande kleure.”

Haar mond het verbaas oopgeval, en uit die hoek van haar oog het sy gesien hoe die plaaslike koerantverslaggewer nader staan om ook te hoor. Maar Janus het ’n ferm hand om haar skouers geslaan en met haar tot in die anderkantste hoek van die woonvertrek gestap. Toe het hy stadig en bestuderend afgekyk na haar.

“Hmf … ’n Mens kan jou met jou misgis, weet jy,” het hy opgemerk.

“Hoe dan so?” het sy glimlaggend gevra, meteens in beheer van die situasie, seker van haarself onder sy warm, waarderende blik wat pal op haar rus.

“Wel,” het hy lui begin, “Alfons het altyd geweet te vertel dat jy nog ’n mooi meisie gaan word …” Toe skielik gefrons, na die sjerrie in sy hand getuur en weer geglimlag. “Ja, hy was doodseker dat jy nog ’n treffer gaan wees. Hy is mos van alles so doodseker.”

Clara het ’n bewerigheid voel oopkol in haar, maar tog geglimlag en haar kop geknik.

“Ja. Sy resep vir my sukses was baie swart koffie. Dit sou my mos minder wit maak …”

Sy swaar kop met die donker hare soos sy broer s’n, het gekantel soos wat hy dink. En sy oë het gelag met haar.

“Wil jy glo! Wel, dit het gewerk. Pleks van wit en bleek is jy nou blond en beeldskoon. Weet jy, met jou rooi rok en al jou mooi bont goed so om jou, laat jy my aan ’n kaleidoskoop dink! As ’n mens net weet hoe om te kyk, sien jy die wonderlikste goed. Mag jou lewe altyd kleur hê!”

Hy het sy glasie gelig en op haar toekoms gedrink. Sy was so gelukkig soos lank laas. ’n Warm geborgenheid het in haar kom lê. Sy het dit sommer gesê ook.

“Dankie, Janus. Jy weet nie wat dit vir my beteken dat jy en Barry Struwig hier is vanaand nie. Ek verlang soms na julle ou klomp, weet jy.”

“Ja? Maar dis mooi … jy sal dalk nog dieselfde soet woordjies by ou Barry hoor. Hy kyk al heelaand leepoog na jou.”

“Ek sien so, ja,” het sy koel geantwoord. Want dit was waar. Barry Struwig se blougroen oë het haar sedert hul herontmoeting netnou in die voordeur nie ’n sekonde lank verlaat nie.

“En voel dit goed?” het Janus eensklaps gevra.

“Wat?” wou sy vervaard weet.

“Om weer terug te wees hier in die berge. Ek het gedink jy het soos Alfons geraak. Te geleerd en vol dinge om weer op ’n stil plek te aard.”

“Ek … dis baie lekker hier,” het sy gestamel. “Hier werk baie ander kunstenaars wat in die stede uitstal en soms hier ook tentoonstellings hou.”

“Ja, ek weet,” het hy kortaf gesê. En toe skielik: “Dis net dat ek daaroor wonder dat jy so alleen hier bly. Jy is ’n vrou, Clara.”

“Clara …” het sy verwonderd herhaal. “Dis die eerste maal dat jy my so noem.”

“Dis die eerste maal dat ek so aan jou dink,” erken hy. “Maar regtig, Clara, dis gevaarlik so alleen.”

“Maar … dis tog my huis dié en ek is darem nie heeltemal weerloos nie.”

“Jy is,” het hy haar stilgemaak, sy stem hard sodat ’n paar mense rondom hulle skielik stilgebly het. Hy het sagter voortgegaan: “Jy moet snags die deure sluit, hoor. En hou maar ’n buitelig aan. Sal goed wees as jy ’n rewolwer ook het – as jy nie kan skiet nie, sal ek jou leer. Jy moet my net laat weet wanneer om te kom.”

Clara het hom sprakeloos aangestaar, in sy swartblink oë net erns en besorgdheid gelees. Ook Barry Struwig, wat nader gestaan het om die laaste paar woorde aan te hoor, het instemmend geknik.

“Hier in die berge moet ’n vrou weerbaar wees, Clara. Janus het heeltemal reg. Ons is hier ’n klipgooi van die landsgrens af.”

Clara het gevoel hoe haar hart opskuif om in haar keel te klop. Sy het swaar asem geskep en lief met hulle geglimlag.

“Wel, dit mag seker so wees … Maar sê my nou eers, Janus, hoe gaan dit met Alfons?”

“Pierewaaier en prokureur,” het Barry meteens breedsprakig geantwoord, en toe Clara skerp na hom kyk: “Toe maar, ek speel sommer. Die ou het baie goed gevaar, sou ek sê. Woon in ’n kothuis in Melville en het ’n groot praktyk in die stad.”

“Nou weet jy alles,” het Janus bot geantwoord toe sy vraend na hom draai. “Nag, ek moet nou gaan … Ek is bly ek het gekom, hoor.”

“Ek ook,” het sy hartlik gesê. En impulsief bygevoeg: “Kom weer!”

Hy het sy glasie langs ’n bak vol kosmos neergesit en vol na haar gekyk.

“Miskien, maar ou alleenlopers soos ek kuier nie juis nie. Te bang ons raak gevang, sien.”

Vabond, het sy gedink. As jy kan reguit wees, ek ook.

“Stel nie belang nie,” het sy luiters geantwoord. “Wil net maats wees.”

En vir die eerste maal vandat sy kon onthou, het Janus Minnaar uit sy keel gelag. Die harde, helder lag van iemand wat sy lewe in die ooptes leef. Mense het opgehou praat. Sommige het hom gesteurd agternagekyk, ander was verwonderd. En toe hy uit is, het baie van haar gaste mekaar verdring om ’n woordjie met haar in te kry. So asof hulle eers die alleenloper ’n kans gegun het om sy sê te sê. En Barry Struwig het om haar bly draai. Aan die een kant was sy bly daaroor. Hy was immers ’n ou bekende wie se oog sy in die roesemoes kon vang. Maar toe Ronnie Meiring, die plaaslike verslaggewer van die streekkoerant, nader staan en begin vrae vra, het sy nie aan Barry gedink nie.

“Juffrou Coetzer, hoe sou u self u werke beskryf?”

“Kaleidoskopies,” het sy Janus se woord herhaal. “Ek wil graag die krag van vorm en kleur in my pottebakkerskuns weergee.”

Hulle het foto’s geneem, van die vertrek vol mense en van haar potte en vase. En van haar by die pienk-en-blou vaas vol kosmos. Maar toe die kamera flits, het sy besef dat Barry langs haar kom staan het, sy arm baie liggies agter om haar lyf. Hy was ook die laaste een wat vertrek het. Hy het bly gesels en koffie drink sodat Erna naderhand grootoog getrek het en agter sy rug met haar vinger kamer toe gewys het. Maar dit was onnodig, want nie vir een sekonde het Clara vergeet van die man in haar slaapkamer nie …

Alfons, wat so uit die niet verskyn het. Sy het haar dit altyd anders voorgestel. Sy sou terugkom en die seuns van agter die berg een vir een ontmoet. Liefs in ideale omstandighede. By kerslig of in die maanskyn, en sy self fyn soos ’n fee in ’n wolkie van sy en parfuum. Een vir een sou die Minnaars en Barry Struwig voor haar swig, onherroeplik verlei deur haar begeerlikheid …

Clara skrik haar koud daar waar sy voor die venster staan. Is dit dan wat sy nog altyd onbewustelik wou hê? ’n Soort soete wraak wat ’n ou en bitter begeerte sou bevredig? Om een maal die middelpunt van die drie seuns se verlangens te wees?

Sy sug diep. Hoe onbegryplik infantiel is die meeste van ’n mens se drome nie. En hoe anders die werklikheid. Dat Alfons haar met hul herontmoeting darem so die skrik op die lyf sou jaag. Wát op aarde sou tog regtig gebeur het? Wie sou op hom geskiet het, of was dit maar ’n ongeluk? Alfons, met sy sterk skouers en ondeunde oë en robuuste deernis vir ’n klein meisietjie wat soos ’n stertjie agter hom aan gedros het.

“Clara?”

Sy vlieg om, sien Alfons in die deur afwerend ’n hand ophou en skeefweg glimlag.

“Moet tog nie so skrik nie,” sê hy paaiend, tree vinnig vorentoe om homself met die gesonde hand op die kombuistafel te stut.

“Terug!” raas Clara dadelik. Hy is so bleek soos die dood en dis duidelik dat hy net met die grootste inspanning op sy voete bly.

Sy gesig vertrek van pyn en hy sê grimmig: “Dit lyk so, ja … Ek sal maar moet gaan lê – maar nie hier nie. Ek plaas jou in ’n baie moeilike situasie.”

“Dis nes jy sê,” antwoord Clara koeltjies en kom vat hom stewig om die lyf om hom weer kamer toe te help.

Maar hy praat nie verder nie, sak net met ’n dankbare kreun op die bed terug.

“Ek bring nou vir jou koffie,” sê sy en kry gou haar klere uit die kas om in die badkamer te gaan aantrek.

Sy stort haastig en was hare, trek ’n blou T-hempie en jeans aan. Haar hare kam sy net uit en los dit om so droog te word. Maar sy tik parfuum aan. Van die heel jongste uit Rome. “Vir die vrou met flair en finesse”, word dit in die advertensies beskryf. Clara kry ’n bietjie lag vir haarself, maar skud dan haar hare ietwat aggressief terug, sit lipstiffie en oogskadu aan en gaan maak koffie. Toe sy dit stomend, swart en soet langs Alfons op die bedkassie neersit, is sy vasbeslote.

“Jy kan hier bly. Ek sien trouens nie wat jy anders kan doen nie. Maar op een voorwaarde. As ek so te sê met jou lewe vertrou kan word, wil ek ook weet wat gister op die berg gebeur het. Jy sien, Alfons, ek was ook bo teen die hang. En ek het drie skote gehoor. Kort ná mekaar. Wié het op jou geskiet?”

Sy oë verdonker en hy antwoord eers nie. Toe sug hy: “Ek weet waaragtig nie.”

“Nou maar hoe …” begin sy verslae, maar hy val haar byna verwoed in die rede, hyg na asem en pers sy ooglede saam asof hy pyn het.

“Néé! Ek sê jou ek weet self nie … Alles is so deurmekaar! Sodra ek weet, sál ek jou mos sê!”

“Goed … goed dan,” sê sy haastig, help hom om sy koffie te drink. Sy sit by die koppenent van die bed en stut hom, maar selfs toe mors hy nog, so bewe sy hand toe hy die beker neem. Clara voel met die agterkant van haar hand teen sy voorkop en skrik opnuut toe sy voel hoe vuurwarm hy is. Hy onderskep haar bang blik en skud sy kop toe hy die leë beker neersit.

“Nee, Clara. Geen dokter nie. Niémand mag weet dat ek hier is nie. Glo my, dis beter om nie slapende honde wakker te maak nie. Vertrou my maar, daar is meer as een lewe op die spel, Clara.” Die warm vingers druk hare met soveel drif dat sy seerkry. Sy oë brand in hare toe hy sê: “Daar gaan dinge aan hier in die berge, Clara, lelike dinge …”

“Dis waar, ja,” sê Erna in die deur, en Clara kyk verbaas op. Erna glimlag verleë. “Ek hét twee maal geklop, hoor.”

“Kom tog in,” sê Clara argeloos, en peper Erna dadelik met vrae: “Hoe weet jy dis waar? Waar het jy gehoor?”

Erna haal haar skouers in die wit uniform op en skud haar kop.

“Nee, ek weet maar wat almal tog weet. Die koerante is vol daarvan. Net nou die dag is daardie kersieboer van Fouriesburg op sy eie werf deur ’n sogenaamde rondloper doodgeskiet. En wat van al die kleiner voorvalletjies, die baie inbrake op die plase, die aanvalle op vroue wat alleen woon? Dis of dit toegeneem het hier rond. Verlede week is my bure se pistool uit hul hangkas gesteel en net gister is die Smitte op die eerste verdieping van die woonstelblok se windbuks en rewolwer gesteel. Dis of ’n gees van boosaardigheid …”

“Toe maar,” val Clara haar half benoud in die rede. “Jy – julle – oortuig my.”

“Sy glo ons nie,” sug Alfons van die bed af. Sy moeë oë flikker met belangstelling oor Erna in die netjiese uniform wat haar klein middeltjie so pertinent vertoon. “Ek … dink nie ons het ooit gisteraand ontmoet nie, juffrou.”

“Ag, ekskuus tog,” sê Clara en kyk verskonend van die een na die ander. “Alfons Minnaar en Erna Beneke … Alles was so holderstebolder gisteraand.”

“Inderdaad,” sug Erna. “As ek ’n greintjie verstand gehad het, het ek tog maar ’n dokter gekry. Maar nou ja, ek het nog altyd ’n swak gehad vir pasiënte met oorheersende persoonlikhede, en hierdie Alfons Minnaar van jou,” met ’n knipoog na Clara, “lyk asof hy moeilik kan raak.”

“Net wanneer dit nodig is,” antwoord Alfons sedig. Hy teken geen protes aan toe Erna by die bed kniel om sy arm te ondersoek nie.

“Hy is koorsig, Erna,” sê Clara bekommerd.

“Baie,” beaam Erna. “As die wond septies raak, sal ons ’n dokter moet kry. Ek steek alreeds my kop baie ver uit soos sake nou staan.”

Maar dis vir Clara duidelik dat Erna reeds so ver en verder gedink het. Sy meet Alfons se koors, gee hom sterk pynpille in en maak die wond skoon met voorraad uit ’n klein eerstehulptassie wat sy met haar saamgebring het. Maar sy skud haar kop meewarig toe sy en Clara kombuis toe loop.

“Dis ’n gemors, Clara,” sê sy net. “En dis altyd erger as dit ’n mooi man is.”

“’n Mooi man?” vra Clara en kyk liewer weg toe sy Erna se oë op haar voel. Maar sy was verniet bang. Erna se sterk, warm hand druk haar arm vlugtig voordat sy by die agterdeur uitloop.

“Ai, Claartjie, ek terg maar net. Die man se gesig raak saf as hy na jou kyk. En jy is soos ’n kat op warm klippe vandat hy hier is.”

“Maar my hemel, Erna!” antwoord Clara met handgebare en ’n heftige fluistertoon, “ek woon alleen in my huis en nou is hier ’n man in my slaapkamer en ek moet sy teenwoordigheid geheim hou!”

“Hm,” sê Erna peinsend, “dit is nogal ’n ding! Ek sal jou sê, die beste sal wees as ek so ’n rukkie hier by jou studeerkamer intrek, of hoe? Jy sal seker gastekamer toe skuif. Jy kan tog nie heeltyd op die bank in die sitkamer slaap nie, jy sal jou nek verlê!”

“Ja,” sug Clara en kry ’n gloed in haar gesig, “ek was eenvoudig te skrikkerig om in ’n bed te gaan slaap.”

“Nou ja, dan is die probleem opgelos. Tata, jong, as ek nie nou gaan nie, is ek laat. Verwag my vanaand so teen sesuur!”

Clara sien haar grootliks verlig weg en kyk haar rooi kewertjie agterna totdat dit onder om die draai verdwyn waar die plaaspad by die grootpad dorp toe aansluit. Maar toe sy net daarna vanuit die kombuisvenster sien hoe Mamoesa, stram van die oggendkoue, met die pad oploop na die huis toe, weet sy dat daar nog ’n probleem opgeduik het. Sy sal die ou vrou net móét sê van Alfons.

“My niggie kan nie kom nie,” sê Mamoesa toe sy klaar gegroet het, en sak styf op ’n kombuisstoel neer. “Sy wil so graag ’n kind hê, en nou moet sy saam met haar man na die salpetergrot toe gaan. Hulle sal heeldag daar sit. Ek het gesê hulle moet net gou-gou gaan en ’n brief saam met die geld daar sit, dan sal die toordokter mos weet wat hulle wil hê, want hy kan lees.”

“Ou Sielas?” vra Clara ongelowig. “Maar hy kon nooit lees nie!”

“Nee,” sug Mamoesa swaar en vou haar hande bedees op haar skoot. “Maar hy is dood. Hy het met Nuwejaar van die hoë rots afgeval. Sy voet het gegly. Maar daar is nou ’n nuwe een in die salpetergrot. Hy vat nie nonsens nie. Die mense kan nie meer met beeste betaal nie. Net met geld. Baie geld …”

Clara kyk half moedeloos na die ou vrou. Omdat sy in dié wêreld grootgeword het, weet sy watter invloed die ou gewoontes nog onder hierdie mense het. En tog, ou Sielas was ’n goeie ou siel wat Sondae kerk toe gegaan het. Toe sy groter geword het, het Clara meermale die indruk gekry dat Mamoesa en die ander met ’n bietjie goedige spot van hom praat. Iemand wat behoort het tot ’n ou wêreld wat nie meer geheel en al ernstig opgeneem moes word nie, en na wie se kant toe nou en dan ’n bees of ’n skaap gestoot is wanneer iets goeds gebeur het. Want met die koms van die kerk en die kliniek en die wet het heelwat van sy geloofwaardigheid verdwyn … Maar ’n nuwe een wat kan lees en geld eis – baie geld – dis ’n ander saak.

“Mamoesa,” sê sy dringend, “jy glo tog nie in die nuwe een nie?”

“Nee, Claartjiekind,” sug die ou vrou, en haar oë sak weg tussen die baie voutjies, “maar ek is ook maar bang vir hom. Hy het baie ore. Hy het gehoor van my niggie en die baba wat sy wil hê, en toe het hy laat weet sy moet kom.” Mamoesa kyk meteens ondersoekend na haar. “Maar ek dag jy weet dit mos. Daar kom elke Sondag busse vol mense van Johannesburg en Soweto af om by die grot briewe met geld te los. In die briewe sê hulle dan wat hulle graag wil hê. Sefanja se oom het anderdag tien rand onder ’n klip by die grot se bek gelos saam met die naam van die perd wat moet wen …”

Clara gaap haar aan. “En het die perd gewen?”

“Ja, dit lyk my die nuwe man het nie net hier in die berge ore en oë nie …”

Hier gaan dinge in die berge aan, het Alfons gesê. ’n Rilling trek stadig langs haar rug af, en sy snak effens na haar asem.

“Mamoesa!” sê sy dringend, “Mamoesa, jy moet na my luister …”

Sy gaan sit plat op die vloer voor die ou vrou soos dikwels in haar kinderjare wanneer sy ’n storie wou hoor, en ook later na haar ma se dood, toe sy troos wou hê. Sy vertel alles. Van Alfons wat met ’n skietwond hier aangekom het en nie wil hê ’n siel moet daarvan weet nie. En van sy stories oor die dinge in die berge. Die ou vrou sit geskok en luister, haar vingers gryp en los mekaar in haar breë skoot.

“Auk!” sê sy oplaas met ’n skud van haar kop. “Dis lelike dinge dié!”

Ook sy ken vir Alfons sedert sy seuntjiedae, en Clara weet dat sy daarop kan staatmaak dat sy nie ’n woord na buite sal laat glip nie. Ook maar goed dat haar niggie juis vandag nie saamgekom het om te kom help opruim nie. Sy en Mamoesa sal self inspring en die plek weer leefbaar maak. Gelukkig het baie van haar erdewerk gisteraand verkoop en is sommer deur die nuwe eienaars huis toe geneem. Die meeste van die ander is deur geskenkwinkels van omliggende dorpe opgekoop en sal later gehaal word. Sy het selfs ’n groterige bestelling uit Johannesburg gekry. Nee, sy kan darem nie kla oor gisteraand nie. Wat haar kuns betref, was dit ’n groot sukses. Sy is nog net nuuskierig om te sien wat die kunsrubrieke gaan sê. Maar dit verskyn gewoonlik eers ná die naweek.

Hulle is pas klaar toe Barry met ’n breë glimlag daar aankom. “Raai wat het ek vir jou gebring?” groet hy hande agter die rug.

Sy kyk op in sy sonbruin gesig met die laggende oë en breë snor en kry lus om saam te speel. Barry was altyd ’n vrolike pretmaker; so onthou sy hom mos.

“Wel,” sê sy skewekop, “dis óf ’n sak vol goud óf ’n uitnodiging na die koning se bal!”

“Amper,” antwoord hy skalks. “Want ’n foto soos dié kan rêrig na die een of die ander lei. As jy nie ’n skoonheidswedstryd wen nie, sal jy wel vir seker raakgesien word, meisiekind!” Hy haal ’n koerant agter sy rug uit en vou dit teatraal voor haar oop. Haar foto is boaan die sosiale bladsy met ’n kort byskriffie wat sê dat sy gisteraand ’n geslaagde uitstalling van haar werke by haar huis gehou het. Dis ’n baie mooi foto van haar én van drie van haar groter potte. Sy lyk stralend en vol selfvertroue.

“Hm …” sê sy effens verleë en loer na Barry. “Dié man het ’n slag met ’n kamera. Ons hoop nou maar net die verslaggewer is ook so genadig in die kunsrubriek!”

Nog voordat sy mooi wis wat hy gaan doen, steek hy ’n hand uit en vou dit om haar ken, trek haar sag nader en soen haar vol op die mond.

“So ja, nou het ons mos behoorlik gegroet ná al die jare. En Clara, ek is seker dit sal maklik wees om genadig te wees, want die kunstenares is só mooi!”

In sy oë lees sy die ou gawe vriendskap en ’n nuwe bewondering wat haar warm om die hart vat.

“Kom ons gaan drink koffie daar onder die populiere waar my pa altyd gesit en skilder het. Ek het ’n paar tuinstoele gekoop spesiaal vir die plek. Ek wil nog ’n patio ook uitlê met plat klippe …” Sy roep na Mamoesa om koffie te bring en stap vooruit na die sitplek onder die vergelende bome, die koerant liggies tussen haar vingers. Sy kyk laggend na Barry toe hulle gaan sit.

“Clara,” sê hy sag, “jy moet my nie te ernstig opneem nie. Ek is maar net ’n man wat met ’n skok ontdek het dat ’n ou skoolvriendinnetjie wat kon skree dat die berge antwoord gee as ’n mens haar terg, ontpop het in ’n skoonheid wat jou asem wegslaan.”

“Dis baie lekker om julle almal weer te sien, Barry.”

“Almal?”vra hy skerp.

“O, vir jou en Janus, natuurlik. En ek sal seker nog van ons ander ou skoolvriende ook raakloop.”

“Hm … Seker ja.”

Mamoesa bring die koffie en dis of die gesprek nog lekkerder vlot. Hulle gesels oor die ou dae, oor Barry wat al ’n hele rukkie lank saam met sy pa op Kruin boer. En oor eerskomende Saterdagaand …

“Dis nou nie die koning se bal nie, maar wat, die Riemlandse jagvereniging kan net so ’n lekker opskop reël,” sê hy. “Kom saam met my, toe!”

“Goed,” knik Clara. “Van jag gepraat,” sê sy sober, “ek was gister laat teen die hang uit en het drie skote gehoor. As jy aan die jagvereniging behoort, is jy seker die entoesias?”

’n Klein laggie lig sy een mondhoek, en hy skud sy kop skaars merkbaar. “Byna almal hier rond behoort aan die jagvereniging. Ek het ook die skote gehoor. Ek vermoed dit was seker ou Janus. Hy trek van tyd tot tyd los op die rooikatte wat sy vee so vreet.”

Uur van die Sewester

Подняться наверх