Читать книгу Vrou van formaat - Helene de Kock - Страница 4
1
Оглавление“En jy bly maar so alleen daar op die plaas?”
Danika se moed sak. Mevrou Renske gaan aanhou grawe, soos ’n hond agter ’n been aan. Maar dit sal wys wees om haar nie heeltemal te verwilder nie, want dan gaan sy met mening begin grou. Mens moet haar liewer net so hier en daar ’n snuffie in die neus gee om haar nuuskierigheid te sus, terwyl jy die feite veilig buite haar bereik hou.
Dis immers wat sy wat Danika is mos doen vandat sy Juliemaand hier aangeland het: sy gooi doelbewus ’n rookskerm om haar eie bedrywighede. Want die vrae hou nie op nie: Waarom bly jy op Ribbebeen en nie by jou pa en suster in die pastorie nie? Dis alleen en gevaarlik, dan nie? Buitendien, wat máák jy heeldag met jouself? En haar sorgvuldig bedinkte antwoorde: Ag, wat, ek is mos my eie mens en ek het baie planne om van Ribbebeen ’n spogplek te maak. Nee, ek gaan niks meer sê nie. Julle sal maar moet wag en sien …
Dan, onvermydelik: Jy is vroeër terug uit Frankryk; jy sou mos ’n volle jaar lank gegaan het. En sy, met geoefende argeloosheid: Ag, dis mos maar ’n vrou se voorreg om van plan te verander. Ek het die Blou Lint-kursus voltooi en ’n ruk een van die ambassade-vroue se onthale behartig. Toe’t ek gevoel ek het genoeg ervaring opgedoen.
Maar mevrou Renske het nie klaar gevis nie. Sy het soos gewoonlik na kerk kom tee drink by die wewenaar se pastorie, want sy wil alle nuusbrokkies oor die dominee se twee dogters eerstehands oppik.
“En weet jy, Danika,” torring die vrou verder, “almal praat daarvan hoe riskant dit is, ’n meisie so op haar eie daar tussen die berge.”
Danika glimlag met geveinsde geduld. “Ek is nie alleen nie, mevrou. Soos u weet, woon die plaasbestuurder, oom Kas Viljoen, en sy vrou in die werfrondawel.”
“Ja, maar hulle is al in die sestig, nie waar nie?”
Genoeg, besluit Danika. Sy kruis haar lang bene by die knieë en sit vorentoe. “Die Viljoens is in hul fleur. Buitendien, Moses en Mieta Ntabathi is ook naby. Ek voel geensins onveilig nie!”
“Ja, maar in hierdie tye …”
“Is dit goed om tussen mense te woon wat jy kan vertrou,” sê Danika, en staan op om die skinkbord met tee by haar suster, Surien, aan te vat.
“Ja wat,” lag Surien, “Moses-hulle het as jongmense by Oumie op Ribbebeen gaan woon. Hulle is al vasgegroei daar.” Sy plant haar klein agterstewe gesellig langs mevrou Renske op die bank neer. “Ek dink Danika is wys om nou daar nes te skop. Om nou weer by my en Pappa in die pastorie in te trek, sal ’n trutreetjie wees!”
“Inderdaad,” beaam dominee Roux met ’n knik van sy silwer kop, sy vingerpunte teen mekaar en sy blik na binne.
Danika gee sy tee aan en ’n vloed van vertedering spoel deur haar. In die vier jaar sedert haar ma se dood dra haar pa sy verdriet met hom saam soos ’n miswolk wat elke dag eers deur die son verdryf moet word. Seker dié dat mevrou Renske so knaend hoop om die lig van dominee Roux se lewe te word. Want Eureka Renske dra gebak en siekenuus aan, kom pas die jong weduwee, Surien, se klein Janneman op, trek ’n voorvinger deur die lagie Augustusstof op die kaggellysie en voorsien die huishulp voortdurend van raad en raat. Maar als verniet. Dié mens het nie ’n aardse kans nie, soos wat haar pa met een van sy rare ontboesemings teenoor haar en Surien erken het. “Ek soek nie vrou nie,” het hy hulle verseker. “Dis genoeg dat Surien nou hier by my is, al is dit om so ’n hartseer rede.”
Maar mevrou Renske is gedetermineerd. Sy draai haar skuins om behoorlik oogkontak met Surien te maak en Danika sug by voorbaat. Praat van ’n stoetkoei in ’n glasfabriek!
“Ja, Surien, dis gelukkig dat jou pappie darem iémand by hom het in die grote ou pastorie, maar só sal dit seker ook nie kan aangaan nie, nè?”
Danika sug hoorbaar en haar pa frons na haar kant toe. Dat hy darem Jobsgeduld met die vroumens openbaar, is waar. En Surien is van dieselfde stoffasie. ’n Mens sou amper nie kon dink ons is susters nie, vee die ou-ou gedagtetjie soos ’n rafel agter aan ’n besem deur Danika se gemoed. Surien is so petite en onverstoorbaar vrolik, selfs in die nasleep van haar verskriklike verlies. Miskien kan sy haarself net beter versteek as ek, dink Danika. Nog al die jare is dit Surien wat alles met ’n glimlag bedek: haar borrelende blydskap toe sy en Hannes getroud is; haar vertederende smart toe hy in ’n motorbotsing dood is. Ek sal regkom, het sy deur haar geswelde oë geglimlag. Gee my net kans.
Dis sy, Danika, wat altyd haar hart soos ’n wilde ponie probeer tem, maar klokslag ruk dit los en galop oor alles heen. Sy is nou ook sommer lus en sê mevrou Renske aan om haar verwagtinge in ’n blik te druk en te waai. Dis byna halfeen, en vandag se spesiaal bereide breyani gaan net te min wees vir nog ’n gas. Die hoenders was juis ’n bietjie klein. Moontlik gaan Simon ook opdaag, soos dit in die laaste tyd Sondae se gewoonte geword het. En hy is ’n lang man met ’n groot aptyt.
Nou bly karring mevrou Renske al hoe nader aan etenstyd op dieselfde ou wysie: “Surientjie, jy moet begin buitetoe leef, my kind. Jy is te jonk om in dié grote ou plek pastoriemoeder te speel.”
“Nee wat, as die nuwe predikant eers kom, sal dit ook nie meer nodig wees nie,” val dominee Roux haar rustig in die rede.
“Maar dis eers oor ses weke,” kla mevrou Renske pruilerig, “en ons is al almal so vol afwagting!”
“Nee, ons is almal doodnuuskierig,” sê Danika pront, en staan op om die leë koppies agtertoe te vat. As sy langer sit, gaan sy erger dinge sê. Is die mens siende blind? Hul pa is g’n lus vir vrou vat nie.
Toe sy al in die gang is, hoor sy hoe Surien soos male vantevore haar suster se skerp woorde probeer rond maak: “Haai ja, ons is almal nuuskierig om die nuwe dominee se bruid te sien! Om darem so net na die wittebrood by ’n gemeente in te val, is ook seker nie maklik nie.”
“Ons sal haar almal op die hande dra,” sê mevrou Renske vroom voornemend, en Danika ril liggies toe sy kombuis toe stap. Sy kan haar dit net voorstel. Nee, dit lyk al hoe meer asof dominee Roux se twee dogters die jong bruid sal moet beskerm totdat sy haar voete gevind het in die nuwe pastorie in Harrisstraat. Jonk getroud is seker ook nie net grappies nie.
Die speelse gedagte betrap haar onkant, maak haar polse lam, sodat sy die skinkbord met die porseleinkoppies kletterend neersit.
Gesina se blink trosse vlegseltjies waaier toe sy omkyk van waar sy by die wasbak staan. “En nou dan?”
Danika sluk vervaard, maar glimlag net. “Toe maar, Gesie, ek word sommer net vies vir daai Renske-vrou. Ek wens sy wil my pa uitlos!” Sy teug na asem. “En ek wens sy wil haar mond hou oor my blyery op die plaas!”
Gesina se raakvat-hande droog ’n glasbord versigtig af. Toe trek sy haar skouers op. “Jou pa is nie dom nie, Daantjie. Hy sal nie aan ’n vrou vat net omdat sy rok dra nie. En hy sien sy dink dis klaar haar huis dié. Ek en jou sussie lag net. Jy moet ook!”
“Hm, maar ek het nie lus nie. Ek wil haar sommer gryp,” sug Danika en staar fronsend na die pruttende kastrol op die stoof. Hoe sal sy maak om die kos te rek? Hierdie gereg verloor juis geur as die kastrol in die kooktyd oopgemaak word. Sy dink aan die malse lekkerte van die koljander en kaneel, die saffraan en ander speserye wat daarin is, en pers haar mond saam. Nee wat, die breyani moet tot sy reg kom. Sy sal liewer ’n stewige drieboontjieslaai bymaak; tamaties ook opsny, en ’n piesangslaaitjie.
Sy en Gesina werk in rustige swye, want hulle kom al ’n lang pad saam – sedert hul kleuterjare toe hul ma’s in dié huis saam gewerk het. Intussen is die twee vroue kort ná mekaar oorlede en dit was Gesie wat Daantjie en Surie, soos wat sy hulle altyd genoem het, help vertroos het. En hulle vir haar. Dit was ook Gesie wat destyds toe Danika weg is Frankryk toe om haar kookkuns te gaan slyp, met somber bruin oë gemaan het: “Jy moet mooi loop, Daantjie. Ek weet nie van ver plekke nie, maar ek weet van mans. Daar is goeies wat goed is en daar is slegtes wat goed lyk. Jy sal moet mooi kyk, hoor.”
’n Beklemming vou om Danika se hart. Gesina het skerp oë. Danika vrees al die afgelope weke dat Gesie iets agtergekom het; dat sy haar tyd afwag om ’n los woord op te vang en dit soos ’n garinkie te pluk tot die hele soom uitval. Sy het ’n manier om dit met Danika reg te kry. Sy kon altyd haar nukkerige “Los my uit!” of “Ek makeer niks!” reg vertolk. Sy’t goed geweet hoe pla dit die jongste Roux-dogter dat haar suster so klein en feetjie-fyn is en dat mense altyd ’n eier daaroor te lê het omdat Danika slank maar stewig van gebeente is. Dit was immers Gesie wat destyds, toe Danika haar wou doodhuil omdat sy ’n nommer-agt-skoen dra, agtergekom het sy tjank nie oor haar grootte nie, maar oor die wêreld se siening daarvan.
“Wat maak dit saak dat jy so lank is?” wou Gesie verontwaardig weet. “Die liewe Here het jou so gemaak. Buitendien, jy’s nie oral ewe plat nie. Hier voorlangs is jy mooi rond. En as jou voete groot is, is dit omdat die Here dink jy moet kan vasstaan. Loop kyk in die spieël na jou gesig. Hy’s mooi, Daantjie. Nog mooier as Surie s’n. My ma sê die Here het een van daai prentjies in die Kinderbybel afgekyk toe hy háár gesiggie opgesit het, met die ou blou ogies en goue haartjies.”
“Maar my heiden, Gesie, ek het dan sulke roesbruin hare en my oë is nie groen óf blou nie!” het sy vies geprotesteer. “In watter prentjieboek dink jy het die Heer gekyk toe Hy my gemaak het?”
Gesie was ’n oomblik stom waar hulle op die ronde mat in Danika se kamer gesit en legkaarte bou het. Toe het sy opgespring en ’n groot boek van die rak loop haal, dit met versigtige vingers oopgevou. “Kyk, die Here het hierso gelees toe Hy jou gemaak het.”
Danika het na die prent gestaar en toe sommer op haar rug omgerol uit moedeloosheid. “Agge nee, Gesie! Dis nie eers ’n vroumens nie en dis dan daai nare storie van Pelgrim se reis na die ewigheid! Dis niks mooi nie!”
“Maar dit is!” het Gesie ontsteld uitgeroep, haar skraal bruin vinger op die gesig van Hoopvol toe Christen uiteindelik die Poort van die Hemel bereik. “Kyk! Die hare skyn so blink in die son en die oë is groot oop van lekkerte! Jou mammie dink ook dis mooi. Sy huil dan altyd as sy dié stukkie vir ons lees!”
Hulle het nog lank gestry oor die gesig van Hoopvol. Gesie het met geklemde kake volgehou dat dit die mooiste prent is wat sy nog gesien het, en Daantjie se wange was gloeiend van ergernis. Dat sy met dáárdie storiefiguur met die wapperende hare en hoog fladderende arms vergelyk is, pleks van met die pasverkose Mejuffrou Wêreld met die geel lokke en pienk popmondjie, was onvergeeflik. Dit het haar skoon muf laat voel. Sy was dae lank dikmond daaroor, totdat haar ma hulle uiteindelik opsy geroep het om te hoor waar die haakplek is.
“Sy willie soos daai mooi boek se mens lyk nie,” het Gesie betraand gesê.
“Ek háát daai storie!” het Danika teëgekap. “Pelgrim kry te swaar en die prentjie laat my aan … aan die Gouse van die Suiddorp dink.”
“Danika. Toe mevrou Gous jonk was, was sy beeldskoon. En sy het altyd gedrafstap asof sy oor iets bly was.”
“Wat het gebeur?” wou Gesie en Danika uit een mond weet.
“Wie weet ooit wat met ’n ander gebeur?” het sy gesug. “Miskien het sy toegelaat dat die swaar haar onderkry. Vier kleintjies so opmekaar, haar man wat siek geword het en die babatjie wat skielik dood is … Miskien het sy net moed verloor.”
Dit het Danika die swye opgelê, maar nie die onstuimigheid geblus nie. Sy het in die kerk na mevrou Gous se strak mond geloer en geril. Nooit, nóóit wil sy so word nie. En tog wou sy steeds nie soos die figuur van Hoopvol in John Bunyan se Pelgrim se reis na die ewigheid lyk nie. Dit was kompleet asof sy die sombere gesukkel van die lewenstryd kon ruik wanneer sy die groot boek oopmaak om te kyk wát dit was wat Gesie laat dink het dat Danika iewers tussen daardie bladsye ’n plek het.
Die boek was oud en vergeel en daar was die walm van dooie blomme tussen die bladsye. Haar ma moet op ’n tyd roosblare daarin gepars het. Sy onthou goed hoedat sy eenkeer byna dwarsdeur die nag opgebly het om die verhaal weer te lees. Dit was nog maar aan die begin van die storie dat sy al betraand begin voel het – daar waar Christen vir Plooibaar en Koppig ontmoet, en hulle hom so verwar dat hy in ’n moeras van wanhoop beland. En teen die tyd dat Christen by die Dal van Vernedering moet verby en eindelik Psalms begin voordra om hom te red van die duiwels wat by die vreeslike gat van die Hel uitpeul, moes sy trane wegpink. Dit was kompleet asof sy self saam met Christen die hele pelgrimstog meegemaak het: deur die dorp Ydelheid, deur die Vlakte van Gemak met sy baie versoekings, en eindelik die Rivier van die Dood, waar Christen so bang word dat Hoopvol hom moet help tot anderkant uit.
Danika het met haar nat oë na die laaste illustrasie gestaar en toe al snuiwend en uitgehuil gaan inkruip. Hoopvol se hare hét nogal mooi geblink, dit was net die arms en lyf … Ai tog. Nog lank het sy bly dink oor die storie – miskien omdat sy dit vir die eerste maal self deurgeworstel het – en so effentjies begin begryp waarom Gesie haar met Hoopvol vergelyk het. Die lang, stralende figuur bemoedig ’n mens op ’n vreemde manier. Maar darem. Sy wou so bitter graag so fyntjies wees soos Surien en Gesina. Gesie was van nature maer, met ’n bokkiegesig wat ’n mens se hart laat smelt, en Surien was maar altyd engeltjiemooi. Dis Gesie se ma wat haar gepaai het: Toe maar wat, as jy eers groot is, sal dit nie meer saak maak dat jy so lank is nie. Dan sal almal ewe lank wees net soos wat ons eendag in die hemel almal ewe goed sal wees.
Onwillekeurig skud Danika haar kop, ’n skewe laggie om haar mond.
“Wassit?” vra Gesie met haar wakker oë, en haar hande verstil in die skottelgoedwater.
“Ek wonder maar net,” sê Danika laggend. “Jou ma het mos altyd beloof almal sal eendag ewe lank wees. Nou wonder ek maar net wanneer gaan dit my ophou hinder dat sy vir my gejok het!”
“Sy’t g’n gejok nie!” Gesie kyk Danika half moedeloos aan. “Sy’t net bedoel dat elke vroumens haar eie mooi het, en dan is ons mos almal ewe mooi!”
“Loop vertel dit vir ’n mansmens,” sug Danika, en roer ’n slag die slaai goed deur voordat sy Gesie se vraende blik beantwoord. “Kyk, ’n man kan net sien wat sy kop vir hom sê om te sien. As hy eers ’n prentjie in sy kop het van ’n meisie met ’n middeltjie die omvang van ’n piering, dan kan jy maar vir hom vertel ’n sopbord gee meer én lekkerder kos, hy sal jou nooit glo nie. Kyk nou maar vir Simon. Hy vrek nog altyd oor klein vroutjies. Nie eens verlede jaar se Mejuffrou Koringfees kon hom behoorlik laat kyk nie en dit terwyl die meeste boere selfs sonder hul brille als kon sien wat ’n man wou sien!”
“O,” glimlag Gesie nou ook. “Ek verstaan, ja. Dis dié dat Simon nou ook so baie hier by Surie kuier. Hy’t mos nog altyd van haar gehou!” Maar sy frons skielik weer. “Jy praat darem nie heeltemal waar nie. Piet is baie lief vir my en hy gee niks om dat my boudjies so rond is nie. Ek kan dan nie eens ’n pencil skirt dra nie of ek lyk agterstevoor swanger!”
Danika giggel en begin tamaties in wiggies sny. “Ja, maar Piet is ’n man met verstand.”
“Hy’s slim, ja,” beaam Gesie tevrede.
Danika begin die piesangs in skyfies sny en daar sak ’n gemaklike stilte tussen hulle. Toe raak sy die gedagte aan waarmee sy nou al ’n paar dae speel.
“Gesie, man, sê nou ek leer jou alles wat ek weet van kos maak en dan begin ek en jy ’n gastehuis op Ribbebeen!”
Gesina verstil en trek haar hande stadig uit die water, draai om sodat die druppels van haar vingers af op die teëls plons.
“Sê jy swéér,” fluister sy, en Danika se hart keer om. Dis waarop sy gehoop het; waaroor sy dróóm vandat sy terug is uit Frankryk: om Ribbebeen die kroonplek van die Vrystaatse hoogland te maak. Dis die één ding wat haar die afgelope weke daarvan weerhou om totaal in duie te stort.
“O, Gesie!” adem sy en voel haar oë brand. “Dink net: as ons Oumie se opstal mooi regmaak met gastekamers en alles, dan adverteer ons en die stadsmense kom vir naweke en vakansies en ons twee kook vir hulle koningskos.”
“O, my hemeltjie,” lag Gesie en klamp haar nat hande saam voor haar bors. “Dis ’n vreeslike slim plan. Piet sal ook so dink!”
“Ek hoop so!” sê Danika. “Dan kan hy sommer ghrênd wees as die superintendent sy skool kom besoek en hom bring vir ete en ons sal hulle wys watter knap mense hier in ons kontrei bly!”
Dis of ’n dwarrelwind die kombuis binnedans. Gesina was dat die skuim spat en Danika se hande toor met die slaaie tot dit soos in die boeke prentjielekker op die glasborde lê. Hulle lag en praat tegelyk, bly verwonderd stil en trek dan weer los met al die heerlike idees wat soos vuurwerk in hul koppe afgaan: Ribbebeen se tuin wat wandelpaadjies kry tot in die berg by die holkrans met sy oertekeninge; houtbankies versteek in die skadu langs ’n bergstroompie; die plaveisel tussen die eetkamer en die slaapvleuel van die ou opstal kan ’n patio vol plante word, die groot stoep ’n lapa met braaiplek, die swembad kan met veselglas uitgevoer word en …
Só tref Simon hulle aan toe hy onverwags by die agterdeur ingewaai kom, Janneman op sy arm, die kind se wange bloesend van die Augustuswind. Hy bly ’n oomblik staan toe hy die laaste sinne opvang, en lag toe hy Janneman neersit.
“Ek weet nie wat julle beplan nie, maar dit klink na groot geld!”
“Ek het dit,” antwoord Danika koel. “Jy weet so goed soos ek wat oumie Daniëla Katarien alles aan my nagelaat het.”
Simon, sedert sy kinderdae tuis in die pastorie, strek sy lang arms bo sy kop en gaap liggies. “Mmm. Maar Surien het ook mos geërf. Het sy nie ’n sê nie?”
“Nie oor Ribbebeen nie!” lig Gesie hom gou-gou in, haar oë angstig asof Simon mik om ’n lekkerny onder haar neus weg te raap.
“O.” Daar gaan dadelik vir hom ’n lig op. Dis stokou nuus dat tant Daniëla Esselen al haar grond en ’n goeie bedrag kontant aan haar naamgenoot nagelaat het. Surien het weer die dorpshuis geërf en ’n bedrag wat die Esselen-erfgoed baie regverdig tussen die twee pastoriekinders verdeel. Maar dis die snaarstywe opwinding in die kombuis wat Simon amuseer. Die twee vroue is op hul hoede, so asof hy dalk iets kan doen om hul pret te bederf. En platjie wat hy is, is die versoeking net te groot. Sy lang lyf buig oor Danika se skouer en met duim en voorvinger raap hy ’n repie hoendervleis weg waar sy by die opskepskottel werskaf.
“Staak dit!” keer sy vies. “Daar is juis te min omdat die Renske-vrou wil saam eet!”
“Sê my dan wat jy en Gesie nou weer in die mou voer?”
“Dis nie jou besigheid nie,” kap sy terug en tik sy hand weg toe hy nog vleis wil vat. “Loop knoop my pa en Surien los uit mevrou Renske se tentakels. Vertel haar van ’n nuwe middel teen vet wat net werk as ’n mens kos uit jou dieet sny!”
“Haai sies, Daantjie! Netnou raak sy anoreksies en dan sit ek met ’n halwe pasiënt in plaas van ’n dubbele een!”
“Jy’s verspot.” Sy kan nie help om te glimlag nie, maar hy laat hom nie keer nie, gryp ’n stukkie witvleis weg en fluister naby haar oor: “Vertel my wat jy op Ribbebeen gaan doen of ek verslind als op die plek. Ek is baie honger, want ek was heelnag by die hospitaal – kon nie eens kerk toe gaan nie.”
“Dis nie my skuld nie, dokter. Leer jou pasiënte iets van gesinsbeplanning, dan sal hulle nie ontydig kraam nie!”
Hy sug en gaps ’n tamatiewiggie uit die bak. “Jy is nie net ongevoelig nie, my liewe Danika, jy is ook onkundig. Al die beplanning in die wêreld kan nie kers vashou by die vlam van die liefde nie! “
Sy vergeet om haar te vervies vir sy pikkery uit die bak en voel hoe haar asem in haar bors opdam. Sy staar ’n oomblik oopmond na hom.
Moenie, maan sy haarself. Simon maak haar altyd half ergerlik en dan sê sy goed wat kon gebly het. Sy skud haar kop. “Jy praat van goed wat jy self nie van weet nie, dokter Simon. Jy kuier self los en vas. Weliswaar meer hier as by die mooi suster in saal sewe, maar solank jy nog jou gunste kan verdeel, sou ek sê, is daar nie juis ’n vlam wat deur beplanning geblus hoef te word nie!”
“Jou probleem is dat jy te bekkig is, Daantjie,” sug hy en stap uit sitkamer toe. In die verbygaan tik hy haar speels op die boud en verdwyn fluitend in die gang.
Danika versteen langs die kombuistafel en byt op haar tande tot haar kieste pyn. As hy wéér aan haar raak …
“Daantjie?” Dis Gesie wat haar fyn staan en beskou. “Wat is dit met jou?” En toe sy tjoepstil bly, kom Gesie verskrik nader. “Het Simon jou dan kwaad gemaak? Ek dag julle warra-warra maar net soos wat julle altyd maak.”
Danika trek haar asem met ’n snik-sug in voor sy skeef glimlag. “Ja, ons warra-warra net, Gesie. Dis nie hy wat dit aan my doen nie, dis …”
“Ek het mos gewéét!” roep Gesie gedemp uit, gooi die vadoek wat sy vasgeklem het dat hy daar trek, en beduie met haar gladde bruin arms. “Daar was ’n man in Frankryk! Ek weet dit al vandat jy teruggekom het. Jy’s anders. Heeltemal anders!”
“Hoe dan?” kry Danika met stywe lippe uit.
“Ek weet nie,” antwoord Gesie meer bedaard. “Maar Piet dink ook so. Hy sê jy lyk asof iemand jou ribbes te hard gedruk het en nou kry jy seer as jy asemhaal.”
’n Laggie breek los uit Danika se keel. “Wel, hy is dalk nie ver verkeerd nie. Ek kry wel seer, Gesina. Maar dit sal verbygaan, glo my.”
“Dan wás dit ’n man,” hou Gesie vol.
Danika sprinkel suurlemoensap oor die piesangslaai en glimlag wrang. “Nie net een nie. Daar was sommer twee, Gesie. En reken, hulle het al twee só goed gelyk, só gaaf – ’n mens sou kon dink dat hulle as ’t ware uit die mannehemel geval het!”
Surien se kort, haastige voetstap klink meteens in die gang op, en Danika hou ’n vinger voor haar mond. Gesie knik net swyend, gewoond aan hulle twee se geheime.
Hulle sal later praat: oor Ribbebeen en die gastehuis wat sy daar beplan, besluit Danika – maar dis al. Nie eens Gesie of Surien sal ooit weet dat hierdie Blou Lint-kok se binneste aan repe geskeur is nie. Hulle mag nooit weet nie. Veral nie haar pa nie. Dit sal die rus van sy emeritusjare versteur.
Simon sal buitendien nooit weet nie, want dit sal nie nodig wees nie. Soos Gesie in die taal van hul kinderjare tereg gesê het: hulle twee warra-warra net. Werklik gekommunikeer, het hulle nog nooit. Simon is bloot ’n huisvriend wat oorgeërf is, want hul ouers was vriende en hul grootouers ook. Hy’s feitlik familie. Sal dit sekerlik ook word, dink Danika toe sy die bakke met slaai tafel toe dra. Surien sal die een of ander tyd begin besef dat hy ’n man is wat al lank om haar draai. Miskien, dink sy skielik suf van die hewige emosie van so flus, moet ek haar ’n bietjie aanhelp. Hannes is al amper twee jaar onder die grond …
Dis toe sy terugloop om die hoendergereg op tafel te sit, dat die telefoon lui. Dis ’n vreemde manstem en hy soek dominee Roux, asseblief.
Sy gaan roep haar pa en loop sê solank die ander aan om te kom sit. Mevrou Renske stap met ’n glimlag voor en neem haar plek langs die hoof van die tafel in. Simon slaan ’n arm om Surien se skraal skouers en druk haar sag teen hom aan. Hy sorg dat Janneman veilig tussen hom en haar op sy hoë stoeltjie sit, trek speels aan die kind se oortjie en lag saam met hom toe hy koes.
Die kind is gaande oor Simon, dink Danika vir die soveelste maal. En dis goed so. As dinge nou net hul loop wil kry, kan alles nog mooi uitwerk vir Surien. Sy leun ook verby Simon en kielie die kleinding in sy nekkie sodat hy sy wange opblaas van skone verspottigheid.
“Daar’s roomys vir soet seuntjies!” kondig sy laggend aan, maar sy skrik haar koud toe Simon haar speels agter die nek vat en sê: “Jy is presies die soort tannie wat soet seuntjies wil hê! Vol lekker verrassings!”
Sy rem weg onder sy hand en trek haar skouers op. “Dis mos waarom ek huishoudkunde loop swot het. Om mense se mae vol te hou.”
“Haai, dit klink darem so … so kommersieel,” maan mevrou Renske liefies.
“Ja, wel,” antwoord Danika, “dit gaan in die lewe mos maar oor vraag en aanbod, nie waar nie?”
“Ag, Daantjie,” sug Surien, klaar moeg vir die gesprek, “jy weet mos ons almal waardeer jou kookvernuf ten seerste.”
“O, vir seker,” kom Simon met ’n kamma-fronsie tussenbeide, “maar ek begryp wat Danika bedoel. Dit gaan met my ook maar so. As mense nie siek word nie, is daar niks wat ek kan bied nie! Dus verval vraag en aanbod! En wat bly oor? ’n Hele hoop kennis waarmee ek en sy opgeskeep sit totdat iémand tog weer honger of siek word!”
Surien pomp hom hard in die sy. Hy kry hoeka lekker om allerlei twak te praat wat mevrou Renske met blinde oorgawe oor die rand van diskresie laat stort. Soos nou.
“Haai nee, Simon! As julle dokters eers só begin redeneer! Dit klink so of jy sit en wag dat my bloeddruk weer moet handuit ruk soos laas Desember en as dit nie was vir daardie nuwe pil wat jy my gegee het nie, weet ek nie so mooi nie! Tussen hakies, die newe-effekte is maar erg, hoor! Ek sweet my dood en …”
Genadiglik besluit Janneman om ’n keel op te sit, want midde-in die geklike gesprek het hy uit pure frustrasie sy ma se vurk te hard teen sy teer tandvleisies gedruk. Danika skrik toe sy dit sien en Surien buk beangs oor die kind. Maar dis Simon wat kalmpies die oopgesperde mondjie bekyk en gou-gou vasstel dat daar darem nie bloedskade is nie.
Danika glimlag verlig. Sommige dinge het immers dieselfde gebly: Simon se onverstoorbare panache, al is hy by tye so onhebbelik moedswillig; Surien se sonnigheid, al het Danika haar nou die dag betrap dat sy snik asof die lewe geheel uitsigloos is; haar pa se stil, diepvloeiende smart; en mevrou Renske se verbete pogings om toegang tot hierdie kring te verkry. Selfs Gesie is nog net dieselfde, al is sy intussen met Piet getroud. Dis net sy, Danika, wat as vreemdeling teruggekom het. Maar net sy weet dit. Dis sy wat snags alleen met hierdie buitestander worstel. Hierdie nuwe, ander Danika, in wie emosies bot wat so onverhoeds stekelrig is soos dorings aan ’n blomstruik.
Haar gedagtes stol. Sy luister afgetrokke na Simon se gekweel om die kleintjie te kalmeer en mevrou Renske se geteem oor messegoed wat liefs buite bereik van ’n kind geplaas moet word. Sy hoor net dofweg haar pa se sonore stem in die gang en kyk vraend op toe hy inkom. Maar hy vou net swyend sy maer hande voor hom toe hy gaan sit.
“Wat is dit?” fluister Surien met intuïtiewe skrik en Danika begin stadig inskep.
“Dis dominee Rudolf Theron,” sê haar pa sag. “Hy kom volgende week al. Sy huwelik is afgestel.”
“Haai, foei tog!” adem mevrou Renske tongklikkend. “Wat het dan gebeur?”
Danika plak ’n lepel vol breyani in Simon se bord. “Wat wil mens maak as mens weet?” vra sy koud.
“Haai, nee,” keer die vrou vervaard, “’n mens wonder tog maar net …”
Tot Simon kyk Danika openlik verbaas aan. Maar sy gee nie om nie. Dis die nuwe Danika wat praat toe sy inskep en aangee asof sy besig is om rantsoene in ’n strafkamp uit te deel. “As dominee Theron se verloofde hom voor die kerkdeur gelos het, is dit sy saak en syne alléén. Nét hy sal weet wat wát is!”
Haar pa staar haar stip aan, toe hou hy sy hande na weerskante uit en sê bedaard: “Kom, laat ons bid.”