Читать книгу Vrou van formaat - Helene de Kock - Страница 5

2

Оглавление

“Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge, maar net een ding is nodig …”

Danika luister na dominee Rudolf Theron se vriendelike, welluidende stem, maar haar binneste kolk soos ’n onstuimige see – nes in die mite van die twee gedoemde vroue wat die oseaan sout moes maak deur ewig op die bodem die meulsteen te bly draai.

En tog, die boodskap is eenvoudig: net één ding is nodig. Danika loer sydelings na Surien wat langs haar sit, met Janneman vas aan die slaap teen Simon se breë bors. Dis of die malende soutwaters in haar opstoot, haar hart taai maak – te taai om te glo of te vertrou. Sy is nie meer die ou Danika nie. Sy, wat ten spyte van haar broeiende ontevredenheid met haar hoekige, lang lyf en windverswiepte rooibruin hare, haar tóg vir baie vreugdes kon oopstel; hinderlikhede kon opsy skuif en geniet. Ook Surien het dit. Al het smart haar gemaal, is sy steeds dieselfde Surien wat lewensbly stroomaf swem. Sy hét daardie een ding wat nodig is: die vrede wat alle verstand te bowe gaan.

Sy kyk met hernieude aandag na dominee Rudolf Theron se fris gestalte op die kansel. Sy swart kuif wat net so effens springerig terugstaan van sy voorkop, sy oë wat met diepblou erns elke woord uit sy mond beaam: “Ons is so besig met die dinge van die Here dat ons nie by die Here van die dinge uitkom nie …”

Dis waar, bely sy, kyk af op haar saamgeklampte hande. U weet ook dat ek U wil kwalik neem vir alles. Ek verkies dit nou om soos Marta liefs dolbedrywig te wees, want as ek stil word, gaan hierdie verskrikking my inhaal. En ek weet nie of U my genoeg sal kan vertroos nie, want niks sal ooit weer dieselfde wees nie. Daarom, Here, moenie vir my kwaad word nie.

Só bid Danika en haar vingers kramp swetend in mekaar. Verdra my dan, Here, omdat ek nog nie verby al die dinge kan kom tot by U nie. Goed en kwaad is te intiem vervleg in my. Dis so heerlik om Ribbebeen te omskep tot ’n oase, maar dis so aaklig om propvol bitterheid te wees, om geen vreugde te kan put uit die tyd in Frankryk nie. Selfs die mooi het muf geword net omdat één enkele mens ’n ander nie wou ag nie.

Sy praat met God en met haarself, sy hoor die Woord, maar raak verstrik in haar eie woorde. Oplaas smeek sy met ’n radelose, redelose verdriet dat alles – hóé weet sy nie – weer eendag moet regkom. Tog, toe sy opstaan om die slotgesang saam met die gemeente te sing, doen sy dit met dieselfde soete onverstoorbaarheid waarmee sy haar lewe voor die mensdom probeer leef vandat sy terug is. Sy knipoog selfs vir tant Raaitjie wat omkyk na Simon en Surien se saamsingery uit een gesangboek.

Ná die diens staan almal in groepies en tee drink by die stoeptoonbank van die kerksaal. Die Augustuswind is geniepsig en die susters skink ywerig. Eureka Renske voeg haar by Simon en die pastoriedogters, en haar voorvinger wink in dominee Roux se rigting toe die kerkraad uit die konsistorie kom.

Sedert die ontvangs van die nuwe predikant is daar so ’n ekstra aura van besitlikheid om haar, dink Danika geïrriteerd. Iemand moet ingryp of ek kry nog die stuipe.

“O,” sug mevrou Renske toe sy vir dominee Roux ’n koppie tee aangee, “die man preek darem maar gevoelvol! Ek raak skoon bewoë!”

Dominee Roux staan net swyend en teug aan die warm tee, maar Danika kan dit opeens nie meer hou nie. Surien wil-wil nog vir haar groot oë trek, maar sy is by omdraai verby. Dis nou die derde Sondag dat sy moet aanhoor hoe mevrou Renske se emosies lewe kry onder die nuwe dominee se preke sonder dat sy eintlik veel van die inhoud kan oorvertel; om nie te praat van toepas nie.

“Ja,” sê Danika, “maar ons sal almal moet leer om ons gevoelens in toom te hou en ons prioriteite reg te kry. Ons moet liefs heel eerste by die Here van die dinge uitkom.” En toe mevrou Renske haar met saamgeperste lippe aankyk, vaar sy voort: “Dit help nie ons skarrel soos mal hase rond om ’n ontvangs vir die nuwe man te reël en ons byt mekaar se koppe in die proses af nie!”

Eureka Renske se nek verstyf. “Anna Malan,” sê sy uitdruklik, “het daarna gesoek om oor die vingers getik te word!”

“Omdat sy dit gewaag het om te sê dat ons ’n stemmige koek-en-tee-ontvangs moet hou pleks van ’n vleisbraai-makietie wat aan ’n mallemeule herinner?”

Danika kyk na die kring verslae gesigte om haar. “Luister,” sê sy meer gedemp, “tant Anna was reg. Toe dominee Theron vroeër opgedaag het omdat sy huwelik afgestel is, was dit nie om hom vas te loop in ’n sirkus van gawe gebare nie, maar in die hoop om sagkens begelei te word totdat hy beter voel oor die hele affêre. Maar dít, besef ek nou, is nie iets wat deur almal begryp sal word nie!”

“Dít,” snak Eureka, “is ’n kwessie van opinie!” Sy kyk hulpsoekend na dominee Roux, maar hy staar stoïsyns voor hom uit. Surien buk skielik om Janneman se loopneus af te vee. Hulp kom uit ’n onverwagte oord. Dis Simon wat Danika stewig aan die elmboog beetkry en ewe gaaf glimlag: “Ja wat, ek stem saam met u. Al die bedoelinge was immers goed en ek dink Rudolf het dit so verstaan.”

Danika probeer haar arm vergeefs loswikkel, terwyl sy met nuwe momentum voortgaan: “Goeie bedoelinge kan soos skape en bokke geskei word. En ons weet almal watter verskil daar tussen dié twee spesies is!”

Toe pak mevrou Renske darem ook die bul by die horings. “Nou maar, Danika, dan moet ek en jy maar die ding uitpraat. Dit lyk my jy en Anna Malan stook kwaad wat kon gebly het en …”

“O nee!” kap Danika terug. “Ons hou net nie daarvan om gedomineer te word nie. Reëlings is in die vroue se kele afgedruk sonder dat daar konsensus was en …”

“Dis genoeg, Danika,” sê dominee Roux eensklaps in sy oppas-vir-jou-stem uit haar kindertyd. Maar hy draai ook sy kop ’n aks na Eureka Renske se kant toe. “Miskien moet ons maar almal onthou om nie die kar voor die perde te span nie.” Toe neem hy mevrou Renske ewe lief aan die arm. “Kom ons gaan groet Anna Malan. Karel en Adam is ook hier. Daar staan hulle by Rudolf. Darem sulke gawe seuns, dié van Anna. Rudolf moet nou nog net vir Kiewiet ook ontmoet, dan ken hy al drie haar kinders.”

Mevrou Renske se dubbele ken werk soos wat sy haar woede wegsluk, en Danika kry onheilig lekker. Anna Malan se Kiewiet is ’n baie gewilde kassieheld, en Eureka is siek van jaloesie. Háár dogter het vir hoeveel oudisies by die SAUK gegaan, maar bedroë daarvan afgekom. Praat natuurlik te geaffekteerd, het selfs Surien nou die dag kommentaar gelewer. Wat Kiewiet máák, is sy natuurlike sjarme. Nes hierdie nuwe predikant s’n, het sy nogal bygevoeg.

Nou stap Surien met Janneman op die heup agter haar pa en Eureka aan om met Rudolf en die Malans te gaan gesels. Simon hou Danika terug, en trek haar om die hoek van die saal agter ’n digte sipres in.

“Wat makeer, Danika?” vra hy koel.

Hy’s sowaar kwaad, besef sy. Sy grys oë is so helder soos bergwater.

“Wat besiel jou om so gal af te gaan en dit oor ’n ou geselligheidjie wat hoeka vergete is?”

Hy hou sy hand op toe sy haar hare met ’n ruk van haar kop agteroorgooi. “Al wás jy reg en al was Eureka Renske se oordeel soos gewoonlik windskeef …” En toe sy half verbaas opkyk: “Almal weet die vrouens het oorboord gegaan uit skone medelye met die arme Rudolf, maar jou pa het reg. Rudolf het sekerlik begryp dat almal hom maar net tuis wil laat voel.”

Sy trek haar longe vol lug. “Goed, maar Simon, mevrou Renske wurm haarself in ons lewe in en jy weet dit. En haar geteem oor die emosionele opwekking van Rudolf se preke maak my siek.”

“Ag, kom nou, Danika!” roep Simon uit. “Jy weet goed die mens ken nie die verskil tussen diepe erns en stomende sentiment nie. Dis jy wat besig is om jou sin vir humor te verloor. Jy hoef jou nie te bekommer nie. Die meeste lidmate weet goed hoe uitstekend Rudolf se skrifuitleg is én hoe absoluut eg sy lewering daarvan!”

Sy staar hom ’n oomblik aan; voel opeens geheel en al weerloos onder sy helder blik. Sy vou haar arms voor haar bors, vra dan: “Preek jy vir my?”

“Het ek al ooit?” wil hy verstom weet.

“Nie dat jy sal onthou nie, nee! Maar ek sleep jou woorde al jare met my saam, dokter Muller!”

“Vertel my,” por hy nuuskierig.

“Vergeet dit maar!” sê sy laggend en glip om die hoek voordat hy kan keer.

Sy voeg haar by Rudolf, waar hy en Karel Malan by Surien staan en gesels. Karel het Janneman gemaklik op die arm; gewoond aan broer Adam se tweeling, dit weet sy.

“Aha!” glimlag Danika, “’n mens kan darem sien wie is al ’n oom, nè?”

Karel lag breed. Hy en Danika was saam op skool en dis hy wat Rudolf gou-gou inlig dat sy beslis die stoutste predikantskind is wat hy ken.

“Ek glo dit nie!” glimlag Rudolf. “Sy … wel, sy lyk dan so …”

“So vroom soos Hoopvol in die Pelgrim se reis na die ewigheid!” skater Surien, en Danika pluk aan haar suster se lang blonde hare.

“As ek jou nie nog verwurg nie!” proes sy darem ook. Toe moet die storie natuurlik vertel word, die hele kabaal wat om Gesie se kop losgebars het toe sy destyds beweer het daar word in prenteboeke rondgeblaai voordat kindertjies se gesigte opgesit word.

Rudolf lag dat sy skouers skud. Dis die eerste maal dat hy lag asof hy rêrig wil, dink Danika. Arme ding. Dis wonderlik dat hy met soveel dringende opregtheid die Woord verkondig terwyl sy binneste sekerlik bloei.

Terwyl hy Karel met ’n handdruk groet, vang sy blik hare egter vas. Dis ’n gemaklike, oop kyk. Enersyds omdat hy feitlik net so lank soos sy is en andersyds omdat hy nie kyk om te speur nie. Hy soek eerder aansluiting, dink sy vlietend. So asof hy ’n huiwerige hand in die donker uitsteek.

“Luister,” sê sy besadig toe Karel en Anna wegstap, “jy kan gerus by die ou pastorie kom eet vanmiddag. Simon is ook daar.” En met eensklapse toeskietlikheid: “Mevrou Renske eet saam met ons en my pa sal dit geniet om …”

“Toe wat, dominee,” neem die vrou dadelik oor. “Dit sal vir ons lekker wees om jou daar te hê.”

“Gaaf,” stem hy in, en voeg openhartig by: “Dit spook maar soms in die leë pastorie, hoor.”

“Natuurlik, foei tog,” kloek mevrou Renske, en Danika is sommer op die plek weer vies. Maar dalk was Simon tog reg. Dit was nie nodig om so skerp te wees nie.

Tuis keer sy Eureka weg gang toe en sê sag: “Ek is jammer dat ek netnou so reguit was, maar dis hoe ek voel. Kom ons eet nou maar in vrede.”

“Nee, dis maar reg,” antwoord Eureka styf, klaarblyklik nog nie lus om haar greep op die saak te laat los nie, maar Danika roep na Surien om haar in die kombuis te kom help.

Toe hulle twee aan ’t skarrel is om ekstra plek aan tafel te dek, sê Surien uit die bloute: “Daantjie, daar’s iewers fout met jou en ek wens jy wil my sê wat dit is.”

Danika klop haar goedig op die skouer en lag net. “Ag, man, jy kerm nou nes Gesie. Julle is sommer laf. Jy moet darem weet dis ’n geweldige ding om so ’n restaurant-cum-gastehuis te begin, en die afgelope drie weke het my uitgemergel. Jy moet sien hoe moeg is Gesie. Sy bly vandag in die bed, sê Piet. Maar ek moet erken, vandat oom Kas vir hulle daardie twee leë rondawels aan die voet van die kop reggemaak het, is alles darem baie makliker. Gesie is digby die opstal en Piet is nader aan sy skool.”

Sy haal die gerolde varkrib met soetsuursous uit die oond, en beduie dat Surien die geelrys-en-rosyne moet aandra tafel toe. Toe gaan sy aan asof alles wat op Ribbebeen gebeur vir Surien nuus is: “Ek is baie in my skik met onse Gesie. So wat van vinnig leer! Sy en tant Miem is goud werd. Ek is bly dat haar suster julle nou hier in die pastorie help.”

Surien plak die bak met geelrys op die gehekelde tafelmatjie neer. Toe sug sy: “Ag, Daantjie, ek is lief vir jou. Waarom laat jy my nie naby jou toe nie?”

Danika is halfpad terug kombuis toe toe die aardige angs wat haar onder die diens so laat bid het, haar weer oorval. Sy steek in haar spore vos. “Surien,” sê sy dringend, “gló my, asseblief. Dit is niks wat ek nie kan hanteer nie.”

Surien keer haar by die oond voor toe sy die gevulde aartappels wil uithaal, haar blou oë pieringgroot. “Ek is jou ouer suster, Danika. Ek wil weet wat dit met jou is!”

Gesie se suster, Johanna, kom op dié oomblik by die agterdeur in en Danika glimlag waarskuwend af na Surien. “Loop roep liewer die mense om te kom aansit.”

“Netnou,” antwoord Surien met sagte koppigheid, “maar hierdie week kom ek kyk hoe ver is die binneversierders met die gastekamers. Dalk slaap ek en Janneman oor en dan sál ons gesels.”

“Goed,” kapituleer Danika en lig die vuurwarm bak versigtig uit die oond, “ons kan gesels. Daar’s baie wat ek nog moet vertel.” Sy knipoog kamma stout. “Onder andere van my kuiertjie in die Loire-vallei saam met tant Frannie se twee seuns. En, ou sussie, jy sal groen word van begeerte as ek jou vertel van my besoek saam met Schalk aan Taillevent – glo die mees volmaakte restaurant in Parys. Ek verseker jou, die veerligte kreef-en-langoustine-wors is hémels. En weet jy, toe ons gaande raak oor die fantastiese wyn uit Bordeaux, bring die kelner vir ons die etiket in ’n wit koevert op ’n silwer skinkbordjie sodat ons die aand én die wyn vir altyd kan onthou.” Danika trek haar asem diep in en glimlag af in Surien se bekommerde oë. “Dan was daar die keer saam met Werner. Reken, hy was so gaaf om my na ’n teesalon in die L’Ile St Louis te neem …”

“Ag, Danika! Ek wil nie nou daarvan hoor nie, ek …”

“Die plek se naam is Le Flore en L’Ile. Daar’s ’n ongelooflike uitsig op die Notre Dame en ons het van die befaamde Berthillon-sorbet geëet. Dit laat my nogal dink …” Skielik voel sy hoe haar glimlag warm word en die stramheid om haar keel skiet gee. “Surien, die restaurant op Ribbebeen moet óók ’n naam hê. Iets wat pas by die sandsteenkoppe en die holkrans met sy oertekeninge!”

Surien sug ergerlik. “Hm, dit sal oulik wees. Neanderdal, of so iets.”

“Haai!” lag Danika verras. “Dis perfek! En ek gee die geregte spesiale name, iets soos Fossiel-fantasie as ek Hoender Kiëf aanbied of … of ek maak ’n spesiale skemerdrankie van skokiaan en jenewer en noem dit Oer-rumoer!” Sy giggel opeens só dat sy amper die bak laat val.

Surien kan ook kwalik haar lag bedwing, maar toe die kos op tafel staan en stoom, fluister sy: “Jy’s nou lekker verspot, maar asseblief, Daantjie, nie een van ons is blind nie. Pappa is ook bekommerd oor jou. Selfs Simon sien dat jy skoon oorstuur is.”

Danika byt die binnekant van haar wange tot dit pyn, en die soutwater wat so in haar binneste kolk, wil weer in haar keel opstoot. “Los my, Surien. Ek sal regkom, ek belowe jou. Soos jy sê, ek is net oorstuur.”

By die ete lag en sprankel sy, want die nuwe idee het haar werklik gepak. ’n Restaurant in Ribbebeen se groot ou sitkamer, die Neanderdal Klub. ’n Kleiner, meer informele eetplek in die ontbytkamer, Vonk Spelonk. En dan, die toegemaakte stoepie aan die noordekant met sy potte hangende varings is perfek vir paartjies wat alleen wil wees.

“Ek sal vir jou ’n naam daarvoor uitdink,” sê Rudolf, en die gesprek verstil. Maar hy glimlag met sy effens skewe tande en maak ’n paaiende handgebaartjie. “Toe nou, wat. Die wêreld is nog vol romanse, al het myne nou nie uitgewerk nie!”

“Haai, foei tog, dis darem maar so tragies …” kom dit van mevrou Renske.

Danika het lus en keer die soutpot oor die vrou se bakkie gemmerpoeding om. Kan sy nie hóór hoe die seer in Rudolf se stem uitslaan nie? Kan sy nie sién hy probeer so normaal moontlik aan die onderwerp raak nie?

“Gee jou bakkie,” sê Danika doodgewoon, asof dominee Theron net so ’n ou en gereelde gas soos Simon is. “’n Mens eet nie net een keer van hierdie poeding nie. En, ja, jy moet my beslis help dink aan ’n oorspronklike naam vir die liefdeshoekie. Dit is soos jy sê. Één mens se trane maak nie die wêreld nat nie. Dit kan nie eens ’n graspol laat stoel nie!”

Dis of haar woorde haar gesonde verstand vooruitgehol het, en sy skrik toe sy besef hoe stip Simon na haar kyk.

Maar dis Rudolf wat opmerk: “Dit klink kompleet asof jy weet hoe min verskil trane aan die gang van die lewe maak.”

Versigtig nou, dink sy en haal ’n skouer op. “Dít, dominee, is bloot ’n waarneming, gerugsteun deur die baie clichés wat ’n mens hoor.” Sy glimlag, vat Simon se poedingbakkie aan wat hy na haar uithou, skep vir hom ’n berg poeding in met strome dik, romerige vla. Toe stut sy haar ken in haar hand en sê kamma diepdenkend: “Miskien moet ’n mens die saak só sien: skep ’n milieu vir die liefde, maar moenie verbaas wees as dit geen rol speel nie.”

“Goeie genade!” roep Surien omgekrap uit. “Watse soort snert is dit?”

Danika fladder haar lang, donker wimpers in haar suster se rigting en sug: “Ag, ek speel maar net! As ’n onderwerp te gewigtig raak, moet ’n mens ’n bietjie ballas afgooi, nie waar nie?”

“O, absoluut,” stem Rudolf speels saam, maar agter in sy blou oë gewaar sy die roering van ’n vermoede en sy draai na haar pa om haar hand uit te hou dat hy kan dank.

“Nou moet julle my verskoon,” sê sy. “Hierdie afgelope week het nie net Gesie se bene onder haar uitgeslaan nie. Ek is kapot. En voor die mense môre met die plaveisel van die wandelpaadjies begin, wil ek darem ’n bietjie rus.”

Haar pa se blik is besorg. “Dalk werk jy te hard. Temper maar die geesdrif, my kind, dan brand dit dalk langer.”

“Aag, my ou pappie!” sê sy laggend en vly haar teen sy benerige lyf aan. “Kom kuier liewer in die week vir my.”

“Ja, ek was self lanklaas op Ribbebeen,” flikflooi Eureka ook, “en ek sal so graag wil kom handjie bysit met die binneversiering!”

“O, baie dankie,” antwoord Danika, “maar ek het mense uit Bethlehem gekry om dit vir my te doen. Maar kom kyk gerus.”

Toe sy eindelik op pad is Ribbebeen toe, is haar kop leeg en haar lyf seer. Ek is régtig moeg, dink sy toe sy die ou sandsteenopstal binnestap en die winterwind met die dik voordeur wegkeer. Sy gaan lê op haar bed waar die middagson die voetenent lekker warm bak, en die slaap sak oor haar toe asof ’n kersvlam uitgeblaas word.

Toe sy wakker word, kom sy stram orent en luister verdwaas na ’n dawerende geklop van kneukels op hout. Toe vlie sy vervaard op. Dis nag, besef sy. Sy moet ure lank geslaap het. Sy skakel die lig aan, skree “Ek kóm” in die gang af en gryp gou na ’n haarborsel. Sy tik lipstif aan haar vol mond en spuit van die parfuum aan wat Werner vir haar in Parys gekoop het. Waarom nie? dink sy wrang. Hy het mos gesê dis ’n geur wat hulde bring, en die delikate aroma van katjiepiering en rooshout laat haar op hierdie oomblik vars voel. Buitendien, sy het mos besluit: geen assosiasies met geure of kleure nie. Anders gaan sy nog mal word.

Sy draf gangaf, skakel ligte aan so ver sy gaan en is nie baie verbaas toe sy die voordeur oopmaak en Simon, gehoed en gejas, daar sien staan nie.

“Magtie, wat vat jy so lank? Ek verkluim!”

Sy lag, ril self van die ysige, plukkerige wind. “Sjoe, dis wreed koud, nè? Jammer, hoor! Ek het geslaap. Ek kry net gou vir my ’n trui, dan maak ek koffie.” En toe, as nagedagte: “Wat maak jy hier?”

“Was in die buurt. Die Du Toits van Immergroen se kleintjie het kroep.” Hy leun vorentoe en snuif behaaglik. “Hemel, jy ruik fantasties. Ná ’n kroepkamer se kanferreuk het ek dit nodig!”

Sy gaap hom ’n oomblik aan, draai om en vlug kamer toe, hoor met kloppende hart hoe hy sitkamer toe stap en werskaf by die kaggel wat tant Miem vroeër al gepak het. Moenie gek wees nie, maan sy haarself. Dit was ’n gawe en onskuldige opmerking. En dis Simon, wat jy ken.

Sy haal semelbeskuit uit en toe sy dit saam met die koffie indra, is sy heeltemal kalm. “So ja,” sê sy, “die kaggel brand en die koffie is klaar. Nou-nou gaan jy weer mens voel.”

Hy sit die skinkbord op die mat voor die kaggel neer en strek hom langbeen langsaan uit. Sy hoed en jas lê eenkant en hy het ’n blou trui aan wat sy oë donkerblink maak. Surien, dink sy afwesig, sal nie sleg doen as sy met hom trou nie. Hy is ’n baie aantreklike man. Lank en ferm van aanskyn, soos haar pa sou sê. ’n Suglaggie ontsnap haar en sy sak ook op die mat neer. Toe sy vooroor buk om haar koffie te roer, vang hy haar hand vas. Sy sluk verskrik, bly versteen na die twee hande kyk.

“Danika,” sê hy sag, “ons is almal bekommerd oor jou!”

Sy trek haar hand weg, vat die koffie. “Daar is geen rede tot kommer nie. Ek het ’n ligte teleurstelling gehad. Tevrede?”

“Vertel.”

“Nee. Het Rudolf jou miskien al vertel waarom sy aanstaande hom gelos het?” En toe hy swyend sy kop skud: “Nou ja, laat slapende honde met rus!”

“En as hulle wakker word en begin byt? Wat dán, Daantjie?” vra hy so deernisvol dat sy moet sluk om die trane in haar hart te hou.

“Simon, asseblief,” prewel sy en druk haar hare weg oor haar skouer. “Los my.”

Hy staar lank na haar in die vuurlig, knik toe stadig. “Goed, dan. Maar jy gaan my sowaar vertel waaroor ek destyds vir jou gepreek het!”

Sy lag verlig, reik agtertoe na ’n rak vol albums en haal ’n paar uit. “Ek sal jou ’n foto wys. Eintlik het jy my destyds baie goeie raad gegee.”

Sy soek tussen die albums en haal een uit, maak dit oop by ’n groot kleurfoto van haar in ’n asemrowende smaraggroen aandrok. Sy kyk met ’n soort suur satisfaksie daarna. Dit was immers die naaste wat sy ooit daaraan gekom het om soos ’n skoonheidskoningin te voel. Net jammer van die outjie wat saam met haar was.

Sy loer na Simon. Sy oë is wyd gesper en sy mond effens oop. Dat hy presies snap wat aangaan, is duidelik. “My hemel tog, Daantjie,” sê hy skor. “Het jy my sowaar só letterlik opgeneem?”

“Dis ’n fout, ja. Ek neem mense se woorde ter harte.”

Sal sy dit ooit vergeet? Die marteling om ’n maat vir die matriekafskeid te kry wat langer is as sy. Dit was Surien, toe verloof aan Hannes, wat haar aangeraai het om Simon Muller te loop vra.

“Hy’s goed ’n kop langer as jy, Daantjie. Nes Simson,” het Gesie dadelik beaam. “Die Here het na daai storie gekyk toe Hy …”

“Aag, julle is simpel. Simon gaan uit met daai dingetjie wat saam met hom uit Pretoria hier kom kuier. Sy swot glo ook medies. Delila was seker ook ’n klein vroutjie,” het sy snedig bygevoeg.

Maar op die ou einde het logika gewen. Daar was werklik geen ander breedgeskouerde manslyf wat aan die smaraggroen skepping en ’n opgestapelde haarstyl sou laat reg geskied nie.

Sy het hom een middag in die Junievakansie by die Mullers se groot rooidakhuis gaan nader.

“Wassit, Daantjie-man?” wou Simon goedig weet. “Makeer jy dalk iets?”

“N-nee, ek …”

“Want as jy siek is, kan ek dalk help. Ons vyfdejaars weet al so ’n ietsie, hoor.”

“Nee, ek’s piekfyn. Dis net … ek soek iemand om saam met my matriekafskeid toe te gaan. Ons mag ouens van buite vra en almal ken jou tog. Dis die vyf en twintigste September en …”

“Hokaai!” Hy het effens tru gestaan. “Matriekafskeid?”

Sy het stom geknik en toe skielik losgetrek: “Ek is so lank. Enne … ag, jy verstaan mos …” Hy het ondersoekend na haar gekyk, sy kop geskud.

“Ek skryf daardie tyd belangrike toetse, ou Daantjie. En ek en Joannie gaan daardie spesifieke naweek na haar ouers toe op Tzaneen.”

Danika het gevoel hoedat sy langer en langer word tot haar kop teen die plafon druk. “Ek verstaan,” het sy styf gesê en omgedraai om te loop. Maar hy was met twee treë by haar en sy het skielik weer klein en oulik gevoel toe sy kop so bo haar uittoring. Spyt het haar hart soos ’n droë appel laat krimp.

Hy het opeens gesug, sy lip vasgebyt. “Luister, Danika,” het hy sag gesê. “Dis buitendien nie die oplossing nie. Jy moet groter wees as jou probleem. Jou lengte moet jou nie so pla nie, jong. Dis mos wat binne-in is wat tel.”

“Nè?” het sy eensklaps woedend uitgekry. “Darem jammer dat ’n vrou se siel nie buite sit nie! Dan sou Delila nooit ’n kans gehad het nie!”

“Wát?”

Maar sy het omgevlie en die voordeur agter haar laat klap. Laat Simson en Delila dan maar in Tzaneen gaan swot of stoom afblaas!

Dis eintlik van toe af dat sy nie juis meer met Simon Muller kommunikeer nie. Sy loer na hom, kry lag vir sy verstomming. Gerrie Heyneke, wat toe saam met haar afskeid toe is, was die kortste outjie in die skool. En wel, toe wás sy mos groter as haar probleem.

“Slaat my dood,” sug Simon fronsend. “Jy is ’n ingewikkelde mens, jong!”

“Toe maar,” sê sy, “Surien is nie. Julle sal goed klaarkom.”

Hy antwoord nie, blaai net in een van die ander albums tot by ’n foto waar sy en ’n skraal, blonde man laggend sit en limonade drink onder die vars groen-en-wit sambrele van die Café de la Paix.

“Tant Frannie Dubois se seun Schalk,” verduidelik sy. “Sy broer Werner het die foto geneem. Tant Frannie was my ma se kamermaat op universiteit en is na haar eerste man se dood met ’n Fransman getroud. Ek het mos by haar ingewoon toe ek in Parys was. Schalk en Werner het vir ’n maand kom kuier.”

“Dertig dae te veel, lyk dit my,” sê Simon nadenkend, en haar hart ruk.

“Ag, toe nou,” sê sy en neem die album uit sy hande, “hulle is gawe ouens. Hulle het moeite gedoen om my rond te neem.”

“Hm … Nou ja, Daantjie, ek moet nog vanaand by tant Hannie van Stilstroom ook gaan inloer. Dankie vir die koffie.”

“Dis ’n plesier,” sê sy. “Jy moet weet, ek was lank vies vir jou. Maar ek het intussen agtergekom dat ’n mens nie juis ’n keuse het nie; jy móét eenvoudig groter wees as jou probleem, of ondergaan!”

Hy sê niks, maar sy frons verdiep. “Ons gesels anderdag weer,” sê hy net toe hy sy hoed en jas kry om te loop.

Vrou van formaat

Подняться наверх