Читать книгу Die soete dwaling - Helene de Kock - Страница 4

1

Оглавление

Dokter Daïrus Deetlefs stap uit die kliniese koelte van die groot hospitaal en voel hoe die soel middag hom aanraak. Die eerste maal vandag kan hy sy konsentrasie verslap en hom oorgee aan ’n luilekker gedagteloosheid. Terwyl hy aanstap na die parkeerterrein, haal hy diep asem en voel die prik van die najaarsasters in sy neus.

By sy wit sportmotor draai hy om, kyk met genoeë na die witgekalkte hospitaal, omring met grasperke en groot blomakkers. Soos ’n kind kyk hy elke dag daarna en elke dag is dit vir hom mooi . . . Maar nou is die seisoen uitgeblom. Oral is tekens dat die passie van die hoogsomer uitgewoed is. Die blaarstruike is geelgroen, die blomkelke is oop en verwelk. En die lug dra die soet, muwwe geur van vergaande weelde. Die somer is aan die daal. Die gedagte laat Daïrus vreemd hartseer voel. Want Dai Deetlefs – lank, blond en vrolik – het dieptes wat meeste van sy vriende hom nooit krediet voor sou gee nie. Dis op oomblikke soos dié dat hy weet dat hy geensins ’n mens voltooid is nie. Iewers skuil daar ’n groot soeke, wat na bo beur sodra iets hom ontroer. En dan waai daar deur sy gedagtes fragmente uit Hooglied en uit die ou en jong digters soos die blare van ’n verlangeboom . . .

Met ’n suggie klim hy in die motor. Net toe hy wil wegtrek, hoor hy iemand na hom roep.

“Dai! Haai . . .! Dai, wag vir my!”

Hy kyk in die truspieëltjie en sien ’n ronde figuurtjie in wit gekleed uitgehardloop kom. Hy onderdruk ’n glimlag en leun oor om die deur vir haar oop te maak. Dis Rieta Butler, een van die operasiesusters wat ook in die rigting van die Rif woon. Sy plof rooi in die gesig langs hom neer.

“Jammer, jong,” hyg sy, “maar die Austin weier weer vandag, en ek is tog nie lus vir die bus nie!”

“Jy is welkom!” lag hy. Dan swaai hulle uit die ruim hospitaalterrein en is binne oomblikke in die vloei van die stadsverkeer. Hy bepaal hom daarby en hulle ry in stilte huis toe. Dis toe hulle die lang, koel lanings van hul woonbuurt bereik dat hy weer na haar kyk. Sy sit vas aan die slaap – die ronde, pienk mondjie oop in salige vergetelheid. Hy glimlag. Liewe ou Rieta! Sy is nes sy is. By haar voel hy nooit asof daar op hom jag gemaak word nie. Miskien omdat sy reeds verloof is, maar tog . . . Enige ander meisie sou, ten spyte van ’n harde dag in die operasiesaal, nog geprobeer het om Dai Deetlefs se aandag te probeer hou. Want Dai Deetlefs is ’n trofee. Dis nie dat hy self so dink nie. Dis maar net dat hy dit as een van ’n paar lewensfeite ontdek het. ’n Aantreklike man, baie blond, grys oë, breë glimlag en ’n sangstem wat enige operaster sal groen maak. Voeg daarby: ortopedis wat naam maak – en dis ’n kombinasie wat ’n prinses sal laat ogies maak.

En hier sit ou Riets haar en uitslaap langs hom! Hy weet dat dit presies is waarom hy van haar hou. Sy is spontaan, eerlik en waarlik goed. Die soveelste maal wonder hy waar haar ouers haar vandaan gekry het. Hulle is skatryk en ingestel op die genietinge van die lewe. En Rieta is een van die knapste operasiesusters wat hy nog teëgekom het. Dinge rym nie altyd nie, dink hy. Hy sélf is dan nie elke dag seker of sy herkoms danig vormend van aard was nie . . .

Dan is hulle by die imposante Spaanse woonhuis van haar ouers. Hy hou stil en skud haar liggies.

“Dame, ons is al by die terminus!”

Haar oë vlieg oop. Sy kyk verbaas na hom, gaap dan.

“Hygend, dit was nou lekker! Kom jy koffie drink?”

Dai dink aan Martine, wat ongetwyfeld op hom wag, en ’n ligte irritasie skuif in hom op. Laat sy wag!

“Ja, dit sal lekker wees ná al die moeite om jou bewusteloos hier te kry!”

“Ag, ek is maar so ’n gesellige passasier!” terg sy terug. In haar woonstel, wat aan die huis gebou is, wuif sy hom na ’n leunstoel.

“Sit!” En sy verdwyn in die klein kombuisie.

Dai gaan sit en maak sy oë toe. Dit, dink hy, is wat my die meeste hinder van Martine: haar algehele gebrek aan spontaneïteit. Die hemel weet, sy is mooi genoeg om enige man van sy sinne te beroof, maar waarom kan sy tog nie soos Rieta wees nie! Hy weet dat hy kinderagtig is, dat niemand soos iemand anders kan wees nie, maar dit is ’n wens wat van ver kom. As Martine tog ánders was . . .

Toe Rieta inkom met die koffie, maak hy een oog oop, loer verspot na haar en vra vinnig:

“Wat dink jy van Martine?”

Rieta verstil ’n oomblik, sit dan die skinkbord versigtig op die tafeltjie neer. Haar goedige gesiggie lyk gekwel en dit ontgaan Dai nie.

“Sy is van die Loren-Taylor-klas sou ek sê,” antwoord sy eindelik en skink die sterk, swart koffie in.

Dai sit wydsbeen vooroor, strengel sy hande inmekaar.

“Ek het jou nie gevra hoe sy lyk nie,” sê hy saggies.

Sy gee sy koffie aan, bly dan roer en roer in haar koppie.

“Wel, Dai, hulle sê as ’n man eers begin wonder oor ’n vrou, dan is die skrif aan die muur. Want die liefde wonder nie – dit wéét. Maar as jy nou regtig wíl weet, ek dink Martine du Plooy ken die betekenis van net één woord, en dit is EK. Ek-wil-en-ek-sal is haar leuse.” Sy kyk vinnig op, bloos ’n skakering dieper en sê: “Dai, as jy nie oppas nie, sál sy jou kry . . .!”

Dis ’n baie bedeesde Daïrus Deetlefs wat ’n halfuur later huis toe ry. Hy en Rieta het lank gesels. Oor Martine. Oor sy ma, Anne Deetlefs, wat klaar besluit het wie die vrou vir hom is. En weer oor Martine . . .

Hy draai by die groot, wit hekke in en ry stadig met die rylaan langs, wat by die swembad verbyloop. Hy lig sy hand in ’n groet. Martine lê op die randjie van die swembad. Langs haar, by ’n wit houttafeltjie, sit sy ma en Martine se ma. Hulle speel blykbaar kaart, soos gewoonlik. Dai se gesig word troebel sonder dat hy eens daarvan weet.

Hy hou onder die prieel stil en klim uit, maak sy das los, pluk sy baadjie uit en swaai dit oor sy skouer. Dan stap hy aan na waar hy weet die drie vroue met groot intensiteit op hom wag.

Ook in hierdie pragtuin tref dit hom dat die somer bykans verby is. Die grasperke hoef nie meer so dikwels gesny te word nie en sy skoene sak weg in die voos sagtheid daarvan. Die somer is ’n seisoen met ’n nalatenskap, dink hy. Byna soos iemand wat te veel gefuif het. Hy sug. Hy wens hy kon so iets aan Martine sê. Maar hy weet presies wat sal gebeur, want hy het dit een maal probeer toe dit herfs was en die hele wêreld in die glorie van ’n roesgeel vlam gestaan het. Sy het gelag. Kamma besorg gevra of dit nou weer die ou klomp siekes is wat hom so aantas. Dit is die moeilikheid met Martine – sy probeer hom altyd teen sy werk immuniseer. Dis die moeilikheid met ál my mense! dink hy seer; hulle verwag niks beters of diepers van my nie. Al wat ek asseblief tog moet wees, is knap en klinies!

Martine gewaar hom aankom en neem dadelik die houding aan van ’n winkelpop op die kweek. Dit lyk kompleet asof sy iets adverteer. Een been vorm ’n effense kurwe langs die ander; die pragtige kop met die koperrooi hare is op een elmboog gestut. En die grasgroen bikini steek mooi af teen die wit van haar vel. As sy net één maal nie so heeltemal blatant wil wees nie! Dai glimlag, en niks op die songebruinde gesig verraai enigsins wat hy dink nie.

“Hallo, julle!”

“Hallo, Dai!” groet Martine in haar lae stem en vee uitnodigend met haar hand oor die gras langs haar. Maar Anne Deetlefs kyk om en sien haar seun.

“Boetie . . . jy’s vroeg terug!” adem sy verruk, hou een fyn versorgde handjie na hom uit. Hy soen dit, want hy weet dat sy dit verwag. En nie net verwag nie – sy dink dit kom haar toe! Dis na alles sý wat aan hom die lewe geskenk het, hierdie dokterseun van haar. Daarmee saam, dink sy, het sy aan hom alles gegee wat hom gemaak het wat hy is. Wat haar aanbetref, was dit net ’n kwessie van tyd voordat Dai sou dokter word en later spesialis. Soos ’n eier ’n kuiken en later ’n hoender word – sonder beplanning of arbeid. Hy kom mos darem uit ’n doktersfamilie, en dat haar enigste kind wel sélf die lus en belangstelling gehad het om vir ’n dokter te studeer, was gaaf maar toevallig. Verder glo sy dat sy studiejare in ’n roes van akademiese hoogtepunte en gesofistikeerde jolyt verstryk het. By dit alles het sy hom wel lief met dié erns waaroor sy beskik.

’n Gekompliseerde situasie, dink Dai – nie vir die eerste keer nie. En ek dra daartoe by; ek maak presies soos wat hierdie selfgesentreerde mensie wil hê; omdat . . . wel, omdat ek tog ’n soort liefde vir haar voel. Sy is immers my ma.

Hy vee speels met sy lang vingers oor haar wang, kry ’n innige kykie van haar.

“Hallo, dokter,” groet Adele, Martine se ma. Sy noem hom altyd dokter, en slaag daarin om iets sensueels in die titel te blaas, wat Dai ongemaklik laat voel.

Hy glimlag egter net en gaan sit op die gras langs Martine. Sowaar, dink hy, ek het aansien onder die lotuseters. As ek maar die helfte van hierdie aansien onder die regverdiges geniet het! dink hy met oordrewe emosie. Maar ek is moeg, só moeg om persona grata te wees in dié geselskap!

Martine sit een hand op sy knie en draai soepel om sodat sy op haar maag lê. Sy lag op na hom.

“En toe? Hoeveel ouens het jy vandag aanmekaar geskroewe?”

Dai grinnik net. Magtig, dink hy. Elke dag maak Martine só ’n grappie en sy dink dis snaaks!

Martine sien dat hy geen lus het vir grappies nie, en probeer die ander een van die twéé taktieke wat sy ken.

“Liefste . . .” fluister sy, en toe hy na haar kyk, vervolg sy harder: “Vertel my van Londen. Dit sal jou laat ontspan, en ek word nooit moeg om daarvan te hoor nie! Ek is buitendien seker dat jy my nog nie álles vertel het van die tyd toe jy daar was nie!”

“Vier jaar, my skat,” herinner sy moeder Martine. “Viér jaartjies was hy daar . . .”

Dai kreun innerlik. Hy weet immers wat hy nou veronderstel is om te sê. Dis nou as hy nie ’n ewigdurende argument wil ontlok nie. Maar hy dink onwillekeurig aan die lang nagte met die boeke voor hom, die ure met ’n pasiënt in die operasiesaal, die verskrikking van ’n sieke wat op die tafel sterf. Hy dink aan die klein Walliese seuntjie met die ongeneeslike beenkwaal. Aan die ellende wat oor hom gekom het toe hy die klein, bleek vingertjies in syne voel: “Doctor, I know you will make me well again . . .” Maande lank daarna het hy die knaende gevoel gehad dat ás hy maar méér geweet het . . .

Dan frons hy, leun agteroor op sy elmboë en kyk met sy oë op skrefies getrek na Martine:

“Wat het jou nou weer op dié onderwerp gebring? Sê my dít eers . . .”

Hy sien die effense gloed op Martine se gesig. Sy sit skielik regop, alle houdingsbewustheid daarmee heen. Die vlamrooi hare word met ’n skud van die kop teruggegooi. Hy ken Martine. Sy wil-en-sal nou.

“Ek het vanmiddag ’n bietjie op jou bed gelê en rus,” begin sy tog vriendelik. Dai se wenkbroue lig ’n fraksie en sy moeder sien dit.

“Sy was só moeg toe sy van die stad af kom, boetie,” paai sy, “toe sê ek sy moet maar ’n bietjie in jou kamer gaan rus!”

Hoekom in mý kamer as daar drie gastekamers is! wil hy vra. Maar hy bly stil. Hy gaan hierdie ding tou gee, besluit hy kwaad.

“En toe?” vra hy styf.

Martine skuif tot teenaan hom sodat hy haar warmte kan voel – en sonder dat hy wil of kan keer, word sy gesig sag. Sy sien dit en glimlag.

“Toe sien ek die vreemde brief op jou bedkassie . . .”

“Ja, dis uit Londen. Van Hugo Malan, lyk dit my,” sê sy ma en konsentreer weer op die kaarte in haar hand.

“Toe lees julle dit,” sê hy, steek sy hand uit en vat Martine se hare stewig agter haar kop vas. Hy voel met ’n ligte skok hoe sy stil en versigtig raak. “Martine . . .?”

“Nee . . . Dis maar net dat ek tóé aan Londen dink . . .”

“Ag toe nou, Dai!” por sy ma ergerlik oor haar skouer. “Moet nou nie snaaks wees met Martinetjie nie!” Dai ken sy ma. Sy gebruik verkleinwoordjies as ’n allerlaaste poging om sake in vrede te skik. Sy gaan haar nou-nou regtig vererg.

Hy sluit sy oë en gee hom oor. Hy weet tog waarop dit afstuur. Om saam met hom in Londen te wees, dink Martine, is ’n seker manier om haar kleim af te pen. Sedert sy terugkeer agtien maande gelede, glo sy ma ook dat as hy en Martine net eers sáám vreemde paaie bewandel het, dit sal dui op ’n finaliteit in hul verhouding. Die romantiek, glo hulle, is gesetel in die betowering van die verre vreemde. Dus probeer hulle gedurig om ’n toer te reël waarop hy en sy ma en Martine sal gaan, kwansuis om hom te laat herstel van sy kwaai studiejare . . .

“Dai . . .?” smeek Martine hier dig teen hom. Hy weet dat sy ma en Adele gespanne na hom sit en kyk. Deesdae lees hulle mos die maksimum betekenis in elke woord tussen hom en Martine. En dis asof die duiwel in hom vaar. Nou sal hy hulle wragtig iets gee om oor te wonder! Hy sak op sy rug neer en trek Martine saam met hom. Hy hou haar styf teen hom vas, soen haar vol op die mond. Dan druk hy haar langs hom op die gras neer. Soos altyd het hy die uitwerking van haar perfekte vroulikheid op hom onderskat, en dit neem hom ’n hele paar sekondes om sy kop helder te kry. Dis nog altyd die probleem. En dis nes Rieta vanmiddag gesê het. Sedert sy terugkoms was Martine nog altyd dáár, sag en begeerlik . . . En dit kos tog geen profeet om te sê hoe vasgedraai hy nog gaan raak nie. Sy wil jou hê, Dai, en sy sal jou kry! het Rieta gewaarsku. En die eerste maal kom daar in hom ’n klein flikkering van onrus.

Hy kyk na Martine, waar sy met geslote ooglede lê, ’n laggie speel om die vol mond. Genade, dink hy, hier mag mens niks doen wat nie doelgerig is nie. Dis veels te gevaarlik.

“Vertel ons . . . ons wag!” sê Adele veelseggend en met ’n ondertoon van tevredenheid in haar stem. Hy weet met ’n soort walging dat dit dom was om Martine hier te soen. Hy kompromitteer homself net en dit bring mee dat hy in ’n vorm gegiet word waarin hy nooit sal pas nie. En daar is geen middeweg nie. Sy ma sal nooit begryp dat Martine se liggaamlike bekoring – sonder dat daar liefde is – hom nie ewig aan haar kan bind nie. Want sy ma ontleed niks. Vir haar moes dinge nog altyd reg óf weg wees. Miskien is wég die oplossing . . .

“Dai, wat makeer jou?” vra sy ma skerp.

“Ek verlang na Londen,” sê hy dubbelsinnig. Hy sug asof hy ver en diep terugdink. “O, dit was vier heerlike jare. Snags is Londen natuurlik op sy beste . . .” Hy vertel en vertel. Eindig op wat vir sy gehoor na ’n akademiese noot klink: “Die professore het ons klas soms genooi vir ’n ete in Soho. Dáár’s darem baie wyshede kwytgeraak!” Hy dink aan die enkele keer wat ou professor Robin-Haley die klas genooi het, aan die einde van hul studiejare en ’n paar dae voordat die uitslae bekend sou wees – en dit was ’n stil en beheerste groepie studente. Net ou Robin-Haley het grappies gemaak. Maar Dai borduur voort: “En die toere na die platteland . . . onvergeetlik. Een van my vriende kom uit ’n aristokratiese familie. Hy gaan eendag ’n graafskap erf. Ons het ons vry dae op hul landgoed deurgebring . . .”

Dit is waar. Wat meer is, hy en Charles-Henry Mounthallow het presies dieselfde gevoel omtrent hul erfdeel.

“Ek gaan glo die graafskap erf,” het die Engelsmannetjie dikwels gespot. “Maar ek dink dit gaan net andersom wees – dit gaan mý erf! And boy, what a bequest!”

Daar is ’n welkome verposing vir Dai terwyl Adele ’n heruitsending van haar laaste oorsese toer gee. Vreemd, dink Dai met sy oë op sy ma se porseleingesiggie onder die persblou kapsel, dat sy nog steeds dink dat ek alles erf waarvoor sy en Pappa in die lewe staan. Maar sy het mý ook geërf, vir my en die dinge wat vir my betekenis het, waarvoor ek vóél . . .

Sy gedagtegang word onderbreek deur Martine.

“Dink jy ons sal eendag ’n draai kan gooi by Charles-Henry hulle? Ek wil hom so graag ontmoet!”

“Natuurlik sal Dai jou vat, Martine!” sê sy ma in ’n stemtoon wat tril van belofte.

Dis asof alle goedige verdraagsaamheid skielik uit Dai verdamp. Hy staan vinnig op, stof met onnodige geweld ’n paar los grassies van sy broek af. Hy is meteens moeg, tam van sinne . . .

“En vir wanneer beplan julle dit?” vra hy koud. “Of moet ek liewer vra wat in Hugo se brief staan?”

Martine snak fyntjies na haar asem. Adele verstil merkbaar.

Sy ma kyk bloot ondersoekend na hom.

“Jy is net ooreis, Dai,” sê sy gelykmatig.

Hy buk sonder ’n woord, tel sy baadjie op en stryk aan huis toe. Binne die groot dubbele deure slaan hy oor in ’n draf en hardloop die trappe op na sy kamer. Hy sal sélf graag Hugo se brief wil lees . . .

In sy kamer steek hy vas, voel hoe ’n magtelose woede oor hom kom. Op sy bedkassie staan Martine se handtas, en op die leerleunstoel by die venster lê haar klere. In die kopkussing van die driekwartbed is ’n duik waar haar kop gelê het, en die geweefde bedsprei het diep voue in. In die vertrek is ’n fluistering van haar parfuum.

Dai stap na die vensters, wat soos gewoonlik wanneer hy tuiskom, dig toe is, en maak dit oop. Eers toe die bokhaargordyne begin bol in die ligte windjie draai hy hom om en gaan tel die brief op, wat intiem naby Martine se handsak lê. Met ongewone drif skeur hy die koevert oop. Hy weet, hy wéét met groot sekerheid dat die brief oopgestoom en gelees is. Vandaar die vroue se strategie vanmiddag.

Die opreg vriendelike trant van Hugo se brief laat hom ontspan. Hugo Malan is ’n ou vriend; hulle het saam oorsee gewerk en ook saam gestudeer. En voor dit was hulle saam op skool. Sowat ses maande gelede het hy in die koerante gelees dat Hugo in ’n bomontploffing in Londen beseer is, en nog dieselfde aand, harsingskudding en al, in die huwelik getree het! En nogal met Sanet Bornman! Dit het Dai tegelykertyd verbly en verbaas. Sanet was eers verloof aan Hugo se losbolbroer, en hoe die saak reggekom het, weet hy nie, maar hy is dankbaar dat ou Hugo uiteindelik getroud is met die meisie van sy drome. In elke woord van die brief lees hy hul geluk, en dit bring ’n sprankie hoop. Dan is daar tóg mense wat ongekompliseerd kan liefhê, dink hy. Hy wonder of dit ooit vir hom beskore sal wees. Hy gaan met Martine breek, dit weet hy. Miskien het hy dit diep binne-in hom geweet selfs voordat hy en Rieta nog gesels het. Hy is lief vir ’n gesellin, vir ’n vrou in sy lewe. Dit bring sagtheid en warmte, maar hy was nog nooit werklik verlief nie. Hy kon nog altyd darem op ’n manier die graad van sagtheid en warmte reguleer.

Hugo se brief is ’n skertsende beskrywing van al hul doen en late en van hul lekker vakansie in Venesië. Maar die laaste paragraaf bevat ’n ernstige versoek. Charles-Henry Mounthallow het hulle besoek om Dai se hospitaaladres in die hande te kry. Hy het hulle gevra om hom solank in die oor te fluister dat hy ’n formele aanbod gaan kry om Charles-Henry se praktyk vir twee jaar te kom oorneem, want dié gaan na Kanada vir verdere navorsing in ortopedie. As Dai oor sowat ses weke kan kom, sal Charles-Henry nog daar wees om hom persoonlik touwys te maak. Hugo weet dis bietjie skielik, maar sal Dai tog nie maar daaraan dink nie? Hy moet egter die formele aanbod definitief te wagte wees. En terloops, Sylvia Saunders was saam met Charles-Henry by hulle. Dai onthou haar seker?

Dai frons in herinnering. Ja, natuurlik onthou hy haar. Swart hare in ’n bolla, smal gesiggie, groot oë. Skraal. Niks watwonders nie. Hy en sy het tydens ’n roeipiekniek aan die Teems begin gesels. Soms gaan dans. En een aand het hy haar selfs na ’n Shakespeare-opvoering geneem. Dis al. Sy is heeltemal ’n oulike aster. Maar met dié goedige gedagtetjie vergeet hy weer dadelik van haar.

Dai vou die brief toe en sit dit ingedagte neer. Hy steek ’n sigaret op en val skuins op die bed neer. Hy sou eerder in die stoel wou sit, maar hy is nie lus om Martine se klere daar weg te neem nie. Hy rook met lang teue. Dit krap aan hom dat hy Martine en sy ma verdink dat hulle sy brief gelees het. Maar die gesprek daar op die grasperk het op iets afgestuur, hy kon dit aanvoel. Martine en sy ma is moeg gewag. Hulle wil sake tot ’n punt stuur tussen hom en haar.

Toe hy destyds weg is Engeland toe, was Martine ’n eerstejaar. En hy het gehoop dat sy – en sy ma – sou vergeet dat daar ’n paar vakansieweke was toe hy net vir die mooi rooikopkind oë gehad het. Maar hulle het nie. Sy ma het tydens haar besoeke aan hom nooit nagelaat om hom alles van Martine du Plooy te vertel nie. Toe sy ma eenkeer vir hom gaan kuier het, het sy ’n kolossale foto van Martine as joolkoningin aan hom geskenk, en dit sommer self in sy kamer laat aanbring. Hy was woedend. Een middag, toe hy moeg uit die operasiesaal kom, was die foto maar net daar – ’n pragtige Martine in ’n spierwit rok en ’n skitterkroon, agter dik glas vasgeskroef teen die muur. Dit het ’n geweldige rusie tussen hom en sy ma veroorsaak, waartydens Anne Deetlefs dramaties verklaar het dat hy niks waardeer wat sy vir hom doen nie, en sal hy asseblief in sy onnadenkendheid onthou dat hy bevoorreg is om so sonder studieskuld te kan studeer. Toe sy weg is, het hy eenvoudig nie die moed gehad om die portret te verwyder nie – en later ’n soortgelyke rusie te ontketen nie! Hoewel hy goed geweet het, net soos nou, dat hy nooit ’n ernstige verhouding met Martine sal aanknoop nie, was hy nie fisiek in staat om enigiets aan die toestand te doen nie. Want dit is steeds hoe hy dit sien – daar is niks reëels tussen hom en Martine nie, net ’n soort toestand wat homself moet uitwoed . . .

Hy swaai sy bene van die bed af en druk die sigaret dood in die koperasbak op die bedkassie. Hy leun vooroor en stut sy kop in sy hande. Dit het nie eens gehelp om die foto met opset in Londen te vergeet toe hy terugkom Suid-Afrika toe nie, dink hy. Martine het haar bloot teen hom aangevly en gesê sy sal hom maar ’n nuwe foto gee. Maar hy was so besig, so betrokke by sy nuwe werk dat hy dit afgelag het. Dit het hom egter min geamuseer toe hy eendag sy kamer binnestap en ’n soortgelyke foto teen die muur sien. Hy het dit gedetermineerd afgehaal en in die gangkas gebêre. Sy ma was ontstig, nee, hewig ontsteld, en het dit terstond weer laat terugsit. Hom gevra of hy enigsins besef hoe seergemaak Martine sal voel, en gevra of hy dan nooit aan ander mense dink nie. Hy het stilgebly en die saak daar gelaat. Hy was trouens so besig en uithuisig dat sy verset nooit werklik tot ontplooiing gekom het nie. Sy opstand het net gevonk, nooit gevlam nie. Tot vanmiddag. Of miskien het dit al eerder begin, hy weet nie. Sy hele probleem is dat hy altyd die saak in der minne wil skik.

Hy hoor sy ma se trippelstappie op die trappe. Dan maak sy die deur oop sonder om te klop.

“Dai!” sê sy sonnig, haar klein handjies voor haar uitgestrek. “Ek is so bly jy het ’n bietjie gerus!” Sy draai om en roep in die gang: “Kom, Martine! Die verspótte kind! Sy’s nou bang omdat jy netnou kwaad was! Jy is mos weer goed, nè?”

Dai staan op en strek hom tot sy volle lengte, voel hoe die woede in hom klim en sy woorde losmaak:

“Nee, Ma, ek is nie góéd nie, en soos ek nou voel, dink ek nie ek gaan ooit weer góéd word nie! Ma, ek . . .”

Sy ma loer weer by die deur uit en Dai weet dat sy niks gehoor het nie, want sy wóú nie. Sy humeurigheid verdamp. Wat hélp dit tog . . .

“A, hier is jy, Martinetjie!” lag sy ma haar skerp laggie. “Kyk nou self, hy was net moeg!”

Dai ignoreer Martine se kamma-druipstertfiguurtjie geheel en al. As sy nou maar regtig bang was! dink hy ergerlik.

“Ma!”

“Dai, dis vanaand my beurt om die musiekkring te onthaal,” gaan sy dwarsoor sy protes aan, en hy sien dat sy nie wil hoor wat hy sê nie. “Ek het gesê jy sal vir hulle sing!” Sy hou ’n handjie op toe hy wil praat. “Net twee arias en so drie Duitse liedere. Pappa het self gesê Meyer en Du Preez sal jou uithelp as daar dalk ’n krisis is . . .”

Enigiets wat met die hospitaal te doen het, is vir haar ’n krisis wat haar persoonlike wêreldjie bedreig. Sy is baie trots daarop dat sy Dai se pa so van die hospitaal gespeen het dat hy nou sy tyd hoofsaaklik bestee aan sy eksklusiewe privaat kliniek. Sy beskou dit as ’n besondere prestasie en vergeet skoon dat dit net tot stand gekom het deur Deetlefsgeld . . .

Dai staan haar sprakeloos en aankyk en word dan doodkalm.

“Ma, ek sal nie vanaand kan sing nie. Ek is juis op pad na Meyer toe.”

“Nou maar dan kan jy hom mos sommer sê om vir jou in te staan as . . .”

“Nee, ek gaan reël met hom en professor De Koker in verband met my pos vir die twee jaar wat ek in Londen sal wees. Ek gaan Charles-Henry se praktyk vir hom behartig. Hy gaan na Kanada vir navorsing, maar ek veronderstel julle het so iets vermoed . . .”

Hy sien hoe Martine verstar namate die woorde insink. Sy ma se mond raak dun, maar sy sê niks.

“Ek vertrek oor so drie weke . . .”

Martine se onderlip bewe skaars merkbaar, maar Anne Deetlefs is ’n mens wat vinnig kan herstel.

“Nou toe nou, Dai,” sê sy koeltjies. Net die handjie wat die persblou krulle langs haar slaap betas, ruk effens. “Maar drie weke is veels te kort? Martine sal nooit haar klere in dié tydjie kan regkry nie! En as ek dit nie mis het nie, is haar paspoort ook nie reg nie . . .!”

Dai voel die ou greep van sy ma op hom. Ten spyte van sy dertig jaar vóél hy dit.

“Ma, Martine kan nie alleen saam met my gaan nie,” sê hy nietemin pertinent en verheug hom innerlik daaroor. Maar hy sien glad nie die gaping wat dit haar bied nie.

“Dai, liefling,” sê sy sag, haar ewewig heeltemal herstel, “daaraan kan ons mos iets doen.” Sy trek Martine aan haar boarm nader en gee haar ’n moederlike tikkie op die eina-broekie van haar bikini. “Ons kondig dit sommer vanaand by die musiekkring aan, nè?”

“Wat is daar om aan te kondig?” vra hy vriendelik, asof hy met twee ou kleintjies praat.

Martine se mond gaan oop en hy sien hoe daar ’n blos uit haar nek styg. Met ’n skud van haar kop gooi sy die koperkleurige hare terug en ’n kwaai trek spring in haar groen oë.

Sy ma se oë raak uitdrukkingloos, koud.

“Moenie moeilik wees nie, boetie . . .”

“Nee,” sê hy, vee moeg met sy oop hand oor sy gesig en ken, “dis nie ék wat moeilik is nie. Dis júlle wat nie verstaan wat ek sê nie. Ek gaan alleen Londen toe. Niemand gaan saam met my nie!”

Hy wag nie verder nie. Hy tel sy baadjie op, stap verby die twee vroue en hardloop die trappe twee-twee af. Tellings later hoor hulle sy sportmotor se dowwe dreun toe hy wegry.

“Dai kan vreeslik selfsugtig wees,” sug Anne Deetlefs teenoor die meisie, stap na die lang muurspieël en bekyk haarself berekenend, stryk met haar hande oor die heupe van haar duur tweestuk. Sy sug weer.

“Miskien,” antwoord Martine kripties. “Maar dalk is hy net nie lief vir my nie?” Sy begin klere aanpluk oor haar bikini, en die oplaaiende drif waarmee sy dit doen, ontgaan Anne nie. Sy glimlag fyntjies.

“Dai weet nie wat hy wil hê nie, Martine. Kwel jou tog nie. Ons sal nog sien . . .”

Die soete dwaling

Подняться наверх