Читать книгу Seisoen van die skimmelson - Helene de Kock - Страница 3
1
ОглавлениеMadel se oë raak vir oulaas aan die persblou berge toe hulle by Verresig se groot wit hekke uitry. Dit bly vir haar die mooiste mooi, en na dié berge sal sy haar lewe lank verlang as sy ooit elders sou moet woon.
Dit is ’n vreemde gedagte wat haar onmiddellik ontstem. Daar is mos nie sprake daarvan dat sy op ’n ander plek sal gaan woon nie, al trou sy met Wiam.
Onwillekeurig strek sy haar linkerhand voor haar uit en die diamant aan haar ringvinger flonker blou en wit in die laatmiddaglig. Haar pa merk die beweging en lag sy lekker oop lag wat getuig van die baie ure wat hy in vrye ruimtes deurbring.
“Nou toe nou! Verlang jy al kwaai, ounooi?” wil hy weet, en wag nie op haar antwoord nie. “Toe maar wat, Madel-kind, dié laaste ou twee maandjies sal vlieg, en dan is jy tuis. Wanneer ek weer Pretoria toe ry, gaan haal ek nie ’n student nie, maar ’n bruid. Of hoe sê ek?”
“Dit is so, Pa,” sê sy en glimlag, maar dit is of sy opgetoënheid haar nie raak nie. En sy het heelnaweek so gevoel – so asof daar ’n gewig op haar druk. Sy het dit gewaag om dit hardop te sê, maar haar ma het haar ondersoekend betrag.
“Trousenuwees,” was haar ma se diagnose, “net trousenuwees. Alle bruide ly daaraan, Madel. Dis normaal.”
En netnou weer toe sy en pa Piet vertrek het: “Steur jou nie aan dié gevoel nie . . . emosies kan ’n mens lelik omkrap, Madie. Nou moet jy kophou . . .”
Madel het haar ma gesoen en net geknik. Jare se ervaring het haar geleer om nie terug te antwoord nie. Gerda Vermeer duld nie teëspraak nie. Dat sy wat Madel is in musiek en sang kon gaan studeer, was al klaar ’n enorme toegewing. Gerda sou eerder wou sien dat Madel haar in die huishoudkunde bekwaam.
“’n Lofwaardige studierigting, dis waar, maar nie vir mý nie,” het Madel gesê.
Nooit, gedurende die paar jaar op universiteit, het sy vergeet wat dit haar gekos het om te bly by wat sy besluit het nie. Eers was daar haar ma se bot, broeiende swye waarmee sy haar dogter duidelik laat begryp het watter teleurstelling sy vir haar is. Daar was die beklemmende bedruktheid wat vakansies oor die huis gehang het wanneer Madel noodgedwonge moes oefen en oefen . . . en ook die verskonende glimlaggies vir gaste wat gewoonlik ingenome was met die Vermeer-dogter se uitsonderlike musiekaanleg.
“Aag wat, waar sý vandaan kom weet ons nie – ek en Piet is nou nie juis musikaal nie! Mý rigting was van jongs af dienend. Die verenigingslewe is my liefde en lus. Maar Madel is ’n eenling . . . van aard. Mens weet nie waar dit gaan eindig nie. Wat sal Madel nou met ’n musiekgraad maak? As toekomstige doktersvrou sou dit tog veel beter gewees het as sy liewer in die sosiale wetenskappe gestudeer het, nie waar nie? Of dalk in die huishoudkunde. Dan sou sy immers haar gewig kon ingooi. Maar nóú . . .”
Gewoonlik het Madel dit stilswygend aangehoor, innerlik te sat om haar teë te sit en net nog meer verwyte op die hals te haal. Gerda Vermeer sou tog nooit begryp hoe dit voel om te kan sing nie: om jou asem in te trek en deur jou keel glip daar ’n klank wat die soetste voëlsang oortref. Wêrelde gaan vir jou oop – Verdi s’n en Mozart s’n waar die wonder van musiek nie deur die kortsigtige selfsug van ander aangetas word nie.
Madel sug en draai die venster oop sodat die vars lug uit die veld die motor binnestroom. Sy trek die diep teue daarvan in en proe die soetheid van die lente. Haar oë gaan weer talmend oor die veld langs die pad. Hulle het die blou kruine van die Maluti’s nou agtergelaat. Oral is die sagte groen deinings van die Noordoos-Vrystaat – haar hartland, dis waar. Dit is nie dié plek wat haar beklem nie. Hierdie wêreld het sy lief. Die plaas aan die soom van die berge met die uitsig oor die oop ruimtes, is in haar bloed. Wanneer sy haar oë toemaak, skuif die laning lemmetjiegroen kerspopuliere langs die huis voor haar in en sy ruik haar ma se rose aan die bopunt van die groot tuin. As sy haar effens inspan, kan sy die gesing van die baie voëls in hul tuin hoor – die soet gekweel van die Heuglinse lawaaimaker, die opgewonde gekwetter van die mossies in die appelbome agter die huis en die getjilp van die blinkgroen suikerbekkie wat bokant die vuurpyle draai.
Ook Wiam skryf dikwels hoeveel hy dié wêreld se voëlrykheid mis. Dit en die wonderlike wisseling van die seisoene wat daar so kleurryk is. Ná ’n malse somer is dit mos of die herfs oral vlammetjies aansteek. Die populiere steek goudgeel teen die helder lug af en die veld gloei roesbruin. En kom die lente word die vaal veld oornag donsig-groen, en as jy jou kom kry, waai die oostewind saans wit en pienk blomblaartjies uit die boorde . . .
Wiam kan ’n ding so mooi sê, dink Madel loom. Sy sien dikwels hierdie wêreld opnuut deur sy oë, want hy verlang baie terug, en wanneer hy verlang, kom die woorde maklik. Dit was nog altyd so. Dit was hý wat sy gevoelens kon beskryf; sý wat glimlaggend luister. Voor sy haar kom kry, sug sy weer, en haar pa loer sydelings na haar.
“Moeg, ounooi?” vra hy sag.
“Vaak,” sê sy, maak haar oë toe en leun effens agteroor met haar kop teen die nekstut. Haar gedagtes is egter nes ’n swerm mossies in ’n vrugteboord, en van rus is daar nie sprake nie. Dit raas en fladder deurmekaar in haar gemoed. Die blote gedagte aan Wiam jaag ’n klomp ander gedagtes op sodat sy verwilderd wonder waarom sy in die eerste plek aan hom gedink het.
Wiam, haar verloofde – die man met wie sy haar lewe gaan slyt. So probeer sy die warboel gedagtes orden. Sy frons meteens.
Slyt? Is dit ’n woord wat ’n bruid sal gebruik om haar toekoms te beskryf? ’n Lewe slyt saam met die man wat sy liefhet? Sy het Wiam immers lief, of hoe?
Madel kom agter dat haar hande mekaar in haar skoot vasklem . . . asof die een bang is die ander sal wegvlieg. En die eerste maal in ’n lang tyd laat sy haarself toe om pynlik eerlik te wees. Sy begin ver terug, laat haar gedagtes suutjies met die jare langs spoorsny tot nou toe . . .
Wiam was maar altyd daar. Kleintyd het hy weggeloop na haar toe om te kom speel, want daar was nie juis ander maats vir hom in die onmiddellike omtrek nie. Hy was wel ’n hele paar jaar ouer as sy, maar op die een of ander manier het hulle dié gaping oorbrug. Miskien was dit omdat sy tog vir hom ’n soort aansprakie was. Sy kon luister na hom, maak soos hy sê en selfs vir hom intree wanneer hy kwaad gedoen het.
Later toe sy skool toe is, was dit hý na wie sy háár gewend het wanneer die koshuislewe haar beklem. En dit was hy wat haar na haar eerste koshuispartytjie vergesel het. Sy was maar toe in standerd vier en hulle het koeldrank en skyfies geniet en musiek gespeel. Hy het uit sy plek gelyk, en ook so gevoel – stilswyend teen die muur aangeleun en haar en haar maats met ’n meerderwaardige uitdrukking betrag.
“Weet jy wat,” het hy daardie naweek gesê toe hulle spruit toe stap om bleshoenders met sy windbuks te gaan skiet, “ek dink jy moet my liewer nie na jul geselligheidjies nooi nie. Ek is heeltemal te oud vir jou. Selfs die onnies het nou die aand gelag. Ou juffrou Haarlem het gesê ek gaan nog Verresig se wieg beroof.”
“Ag, bog met haar!” het Madel ontsteld gesê. “Wat beteken dit om . . . om ’n wieg te beroof?”
Wiam het geheimsinnig gelag, en haar hare deurmekaar gevryf.
“Japsnoete soos jy sal tog nie sulke dinge begryp nie. Vra in die vervolg liewer een van jou klasmaatjies na jou partytjies. Hulle is nog nat genoeg agter die ore vir jóú.”
Sy was gemaak vies vir hom, maar sy was inderdaad te jonk om lank voor te gee dat sy kwaad is. Hulle het daardie middag ’n bleshoender op ’n selfgemaakte spit op die spruitwal gebraai. Hulle kon sulke lekker dinge doen, en wanneer hulle alleen bymekaar was, het die ouderdomsverskil verdwyn. Hy het met haar gesels asof sy sy gelyke was.
Sy was die eerste mens wat geweet het dat hy dolgraag ’n dokter wou word; en nie net dit nie, dat hy wou gaan spesialiseer . . . ’n narkotiseur wou word.
“Wat’s dit?” het sy oopmond gevra, en hy het gelag.
“’n Ou wat mense aan die slaap maak net voor ’n ander ou hulle oopslag,” het hy grinnikend verduidelik, en sy het gegril.
Sy het egter nooit sover gekom om vir hom te sê wat sý wou word nie, al het sy toe reeds geweet. Die klavier het haar gefassineer, en ook die blokfluitlesse wat sy sonder haar ma se medewete by juffrou Geertsema gekry het. Die beste van alles was egter dat sy haar stem ontdek het.
“Jy klink nes ’n nagtegaal, Madel,” het Juffrou gesê en haar verwonderd betrag. “Eendag gaan jy nog die groot sangeresse opdraand gee, wag maar.”
Sy wou dié woorde graag aan Wiam oordra, maar hy het skielik nie meer op Verresig kom kuier nie. En toe sy een Saterdagmiddag alleen-alleen oordrentel na Vinkvlei se spruit, het sy hom saam met ’n blonde langbeenmeisie onder die wilgers gewaar. Hulle het gelag en aan mekaar se hande gevat. Sy het suutjies padgegee, meer verward as iets anders. Ook by die skool het hy haar geïgnoreer, en gaandeweg het die werklikheid tot haar deurgedring. Wiam was nou groot, en sy was nog klein. Tussen dié twee pole lê ’n hele wêreld, sou sy nog agterkom.
Wiam het skielik vir haar haatlik geword. Waar sy eers al mens was wat ooit genoeg omgegee het om na al sy stories te luister, het hy nou ’n hele gehoor van meisies gehad. Sy naam was op almal se lippe – hoofseun, rugbykaptein, akademiese reus. En baie aantreklik met sy donker kop en baftablou oë. So ’n snaakse blou, het Madel eendag gedink – byna soos die lug net voor ’n hewige donderstorm . . . ’n opwindende kleur.
Teen die tyd dat sy sulke gedagtes kon koester, was Wiam egter reeds ver buite haar bereik.
Sy het haar al hoe meer in haar musiek verdiep – al die eksamens met lof geslaag en die een beker na die ander by die kunswedstryde verower. Net ma Gerda was nie beïndruk nie, en pa Piet was soos altyd effens eenkant wat sulke dinge betref. Madel het eers baie later besef dat hy bang was om sy vrou aanstoot te gee. Hy het die sitkamer binnegesluip wanneer Madel naweke geoefen het en soos ’n skadu verdwyn wanneer hy Gerda hoor aankom.
Dit was nie net hy nie. Ook Madel het liefs geoefen wanneer haar ma nie tuis was nie. Dit was nie te moeilik nie, want Gerda was selde tuis. Sy het haar met volle oorgawe by alles ingewerp – bymekaargemaak vir behoeftiges; gewerk vir die behoud van dranksugtiges se gesinne; maaltye aangery vir oues van dae; kos gekook vir siekes en haar plek agter basaartafels vol gestaan. Goeie, prysenswaardige optrede, ja, maar sy was een van dié mense wat haar naaste baie ver gaan soek het.
Sy is dit nou nog, dink Madel effens hartseer. Tuis was dit baie eensaam vir haar man en dogter. Gaandeweg het daar ’n kilte in hul huis ingesluip, wat nooit weer gewyk het nie. Gerda het voortgestorm op haar sosiale pelgrimstogte en telkens met eer uit die stryd getree. Eer, dink Madel nou, was altyd die sleutelwoord. Solank daar genoem is wat Gerda Vermeer alles vermag het, was haar ma gelukkig. Tans werk sy juis geesdriftig om geld in te samel vir die nuwe teaterkompleks by die hospitaal . . . “veral aangesien my aanstaande skoonseun – die jong dokter Du Preez, weet u – mos volgende jaar hier as narkotiseur kom werk. ’n Mens moet darem sorg dat iemand wat so ver geleerd is soos hý die regte fasiliteite het vir sy werk. U weet natuurlik dat hy aan Guy’s Hospital in Londen studeer . . .”
Daar kom ’n mislikheid oor Madel, so fisiek dat sy intuïtief haar hand oor haar mond plaas. En oor twee maande gaan sy Wiam se bruid word . . .
Sy dwing haar gedagtes terug na hom . . . spesifiek na Wiam, en na hulle twee.
Toe hy destyds weg is universiteit toe, het hy net vlugtig kom groet, haar afgetrokke aangekyk asof hy haar nooit geken het nie. En sy het die grootmenskyk in sy oë gesien – ’n kyk wat sê: ek het klaar met die dinge van ’n kind, en nou wil ek weg.
Sy het daardie dag haar gedagtes oor hom toegesluit. Sy het nooit meer na Vinkvlei se spruit gestap nie; nie na hom verneem nie, en weggestap wanneer die grootmense oor hom praat. Sy was ’n gebore alleenloper, en vir die ander op skool het sy Madie die musieklike geword. Heimlik was haar maats trots op haar, maar het selde hul pret met haar gedeel. Seuns het haar begin raak sien, maar haar koel glimlaggie het hulle afgeskrik.
Sy het ’n skamerige seun met ’n dik bril na haar matriekafskeidsgeselligheid gevra. Dat sy asem hoorbaar weggeslaan het toe hy haar die aand kom haal het, het haar min geskeel. Teen dié tyd het sy immers geweet dat sy nie onaantreklik is nie. Sy het ’n bloedrooi skouerlose rok aangehad en haar vlasblonde hare was op haar kop gestapel. Daar was oogskadu om haar blougroen oë en maskara aan haar lang wimpers.
Haar pa se oë het gevonkel toe hy haar sien en haar ma, wat nie saam was toe sy die rok gaan koop het nie, het gehuiwer tussen histerie en stilte. Hierdie Madel het sy nooit voorsien nie – ’n wese wat vol wysheid vir haar glimlag en die seun by haar se bril laat aanklam.
“Ek . . . ek glo nie dis die regte rok vir jou nie, Madel,” het Gerda eindelik sukkelend uitgekry, hoewel sy goed geweet het dat dit hopeloos te laat was om iets aan die saak te doen.
“Dis . . . ’n baie mooi rok, mevrou,” het die skaam seun vir Madel in die bresse getree, en vir ’n wonder het ook pa Piet dit heftig beaam.
Daardie aand het haar ma haar egter ingewag, en die ou sku kyk was terug in haar pa se oë.
“Madel, jy is ’n Vermeer. Geslagte lank al gee die Vermeer-vroue die pas aan in dié distrik.” Sy het ’n oomblik nagedink en vervolg: “Ons en die Du Preez-familie van Vinkvlei, natuurlik. Ek wil jou nie weer so . . . so uiters opvallend geklee sien nie en . . . dis nou sagkens gestel.”
Toe het die eerste verset in haar losgebars.
“Opvallend?” het sy nietemin kalm gevra. “Het Ma dit teen die kleur of die snit?”
Gerda was klaarblyklik onkant betrap deur haar dogter se bedaarde, reguit vrae.
“Wel . . . dis net dat . . . ek jou nie so ken nie. Ons Vermeers trek wel deftig aan, smaakvol, maar gedemp. Sien, Madel, dis of rooi nie by jou toekomstige beeld pas nie. Ek, en later jy, moet toonbeelde wees van mense na wie in alle opsigte opgesien word. En ons moet bo alles bereikbaar wees. Dit is of dié rok jou te . . . te eksoties laat voorkom.”
Sy het nadenkend na haar ma gekyk, en die eerste keer besef dat sy kalm tydens ’n konfrontasie kan wees. Bereikbaar? het sy gewonder. Wanneer was Gerda Vermeer ooit bereikbaar? Toe het sy stadig geglimlag.
“Ma, ek is heeltemal anders as jy. Ek respekteer alles wat jy doen, maar ek sal dit nooit kan doen nie.”
“Waarom nie?” het die vraag skerp gekom.
“Omdat ek nie sal kan vergaderings lei en veldtogte beplan nie. Ek sal net nie kan nie!”
Gerda het oorredend geglimlag.
“’n Mens leer dit maar, kindjie.”
“Nee.”
Die woord het soos ’n klip tussen hulle geval.
“Ek wil dit nie leer nie. Daar is baie ander mense wat dit kan doen, maar daar is min mense wat werklik kan sing, Mamma.”
Gerda het orent gekom uit die gemakstoel, op haar gesig ’n uitdrukking van skok en verbasing.
“Wat presies bedoel jy?”
“Ma . . .” het sy ferm begin, maar haar hart het wild geklop. “Ma . . . en Pa . . . ek wil in musiek gaan studeer. Klavier en sang gaan my hoofvakke wees. Dit is al wat ek regtig wil doen.” Teen dié tyd was Gerda op haar voete.
“Twak! Twak, hoor jy! Daar is nie plek vir leeglêers in dié gesin nie. Konserte word gehou deur mense wat geen bydrae wil lewer nie. Jy sal gaan studeer in ’n rigting wat by ’n respektabele mens pas!”
Madel was eensklaps blindkwaad . . . en sarkasties.
“Die Groot Trek is verby, Ma! Toe was daar ’n tekort aan klaviere . . . kan ek my voorstel. Maar vandag honger die wêreld na musiek. Goeie kunstenaars lewer net so ’n groot bydrae op kulturele gebied as dokters of onderwysers! Die moeilikheid is Ma dink Ma kan soos ’n helende balsem oor die aarde trek en alles regmaak wat verkeerd is. Ma verhef Ma se eie bedrywighede tot ver bo ander mense s’n, en . . . en ek dink dis verkeerd!”
Sy was byna dadelik spyt. Haar ma se gesig was bleek en haar oë gesper. Madel het toe geweet dat haar ma nie die vaagste benul het hoe om haar dogter te hanteer nie, al sou sy gewis alles in haar vermoë doen om dit vir haar so moeilik moontlik te maak om ’n mens in eie reg te wees.
“Ek . . . ek is jammer,” het Madel gefluister, maar verbaas opgekyk toe haar pa begin praat. Die eerste keer dat Piet Vermeer sy vrou teengegaan het.
“Jy behoort jammer te wees, ja, want dis nie vir jou om ’n oordeel oor jou ma se sake te vel nie. Insgelyks sal ek ook nie toelaat dat sy dit met jou doen nie. As jy wil musiek studeer, kan jy dit doen.”
“Oor my dooie liggaam!” het Gerda haar stem teruggekry. “Sy sal nie die eerste kind wees wat die huis belet word omdat sy rebels is nie!”
“Sy is nie rebels nie; sy is net anders as ons,” het haar pa kalm volgehou, maar Madel het sy hande sien beef toe hy sy pyp opsteek. “En niemand sal haar my huis belet nie – net soos niemand my vrou te na sal kom nie.”
Gerda het hom stilswyend betrag, en dit het gelyk asof sy nog lank nie klaar gepraat het nie. Sy het egter stilgebly en uitgestap.
Die slag was gelewer, het Madel geweet, maar ook dat die gevolge van dié klein oorloggie lank nie verby was nie. Haar ma was koel teenoor haar, selfs snedig. Sy kon nie en wou nie verstaan nie. Gaandeweg het sy tog versag, maar nie met Madel oor haar studie gepraat nie, in die wete dat die volgehoue verswyging daarvan ook verwond.
Madel maak haar oë oop en kyk met deernis na die bruin, verweerde gesig van haar pa. Hy is so ’n standvastige, begrypende mens, al deins hy soms terug vir sy baasspelerige vrou. Hy kan tog sy man staan.
“Pa . . .”
“Hm?”
Dit klink asof sy gedagtes ook ver is.
“Dankie dat Pa destyds vir my opgekom het toe Mamma . . . toe sy nie wou gehad het ek moet verder in musiek studeer nie.”
Hy tik haar goedig op die knie.
“Ag kind, jy het my mos al bedank. Buitendien, dit is lankal verby. Een van die dae kom jy en Wiam vir goed huis toe en dan kan jy mos aan haar bewys hoeveel jy vir die gemeenskap kan beteken deur vir hulle mooi musiek en sang te verskaf.”
Dit is of sy woorde die opwelling van gevoel in haar blus. Terug vir goed, ja. Sy maak weer haar oë toe, en hy praat ook nie verder nie . . . sy gedagtes elders.
In Madel se gemoed bly die gedagtes egter maal. Die teruggaan is naby. Dit is nog net ’n deel van die laaste semester en dan die eindeksamen. Wiam keer ’n paar dae ná die eksamen terug uit Londen. Dan is daar skaars drie weke oor om mekaar van nuuts af te leer ken voor hul troudag aanbreek.
Madel voel weer die ou beklemming in haar bors. Sy weet glad nie hoe sy gaan voel wanneer sy hom weer sien nie. Sy lees graag sy briewe, ja, maar dit is asof dit bloot ’n gawe vriend s’n is. Dis moeilik om die warm opwinding van sy nabyheid voor die gees te roep.
Tog was dit nie altyd so nie.
Sy sal die dag in haar eerste jaar toe hy haar by die koshuis kom opsoek het, nooit vergeet nie. Dit was net voor die eerste kort vakansie, en toe het sy al geweet dat Wiam du Preez ’n gesogte man op die Tukkie-kampus was. Hy het oral gepresteer, en sy foto was kort-kort in die Perdeby, die studenteblad. Hy was lid van die studenteraad, het vir die eerste span voetbal gespeel en hy was ’n mediese student in sy laaste jaar.
Skrik en opwinding het haar hart vinniger laat klop toe sy by die voordeur uitstap en hom op die lang stoep voor die koshuis sien staan – lank en fors en regop, met sy oë die besonderse baftablou kleur wat haar kleintyd al heimlik drome laat droom het.
Sy was bly dat sy pas haar hare gewas en ’n poeierblou rok aangehad het wat knus om haar knakdun middel pas. Sy oë het waarderend oor haar gegaan, en sy het ’n blos in haar wange gevoel. Sy het egter haar bekende koel glimlaggie gegee.
“Nou toe nou! Ek dag jy hou jou nie met japsnoete op nie!”
Sy mondhoeke het in ’n glimlag vertrek en sy stem was koesterend toe hy sê: “Gelukkig word japsnoete ook groot . . . en sommige van hulle word beeldskoon.”
Sy was, ten spyte van haar behoefte om soms alleen te wees, nooit op haar mond geval nie.
Sy het haar ken effens gelig en gesê: “Hm . . . en dit lyk my jong knape word ook groot en baie wêreldwys. Ek wonder hoeveel van hulle onthou later hoe ’n mens ’n bleshoender op ’n spit braai en dit sommer met die hande eet?”
Dié keer het hy breed gelag, en haar hart het sonder waarskuwing woes te kere gegaan sodat sy na haar asem gesnak het. Wiam, het sy toe sonder twyfel geweet, het ’n man geword oor wie vroue droom.
“Kom,” het hy gesê, en haar aan die arm geneem, “dan gaan eet ons braaikuiken by Mondi’s in die stad. Miskien help dit my om beter te onthou.”
Sy het egter effens teruggerem, haar wenkbroue gelig.
“Ongelukkig is ek vanaand vas. Jy moes laat weet het jy kom.”
Dit was nie waar nie, maar sy was meteens vol van die oerwysheid van ’n vrou. Nie nou al nie, en nie só maklik nie, het sy besluit. Hy mag nie weet dat haar hart so woes begin klop het nie.
Daar was ’n skielike frons tussen sy oë en hy het haar stip aangekyk.
“’n Afspraak in die middel van die week?” wou hy ongelowig weet. “Wie . . . e . . . behalwe ek vra ’n eerstejaar so ontydig uit?” Hy had darem die grasie om verleë te glimlag, en sy het ook gelag toe sy antwoord.
“Ag . . . ’n baie gawe man, sou ek sê. Hy is ’n derdejaar-musiekstudent en hy help my met kontrapunt.”
Sy was verbaas dat sy so glad kon jok, maar het haarself getroos dat ’n noodleuentjie darem nie so erg is nie. Wiam het egter ondersoekend na haar gekyk en die frons het verdiep.
“Jy moet lig loop vir die seniors, Madel,” het hy gewaarsku, “baie van hulle het bybedoelings, hoor!”
“Regtig?” wou sy tergend weet. “En wat van jou?”
Hy was ’n oomblik spraakloos. Toe gooi hy sy kop agteroor en lag soos sy hom laas by die spruit op Vinkvlei hoor lag het. Hy het egter nie haar vraag beantwoord nie – nie toe nie.
Hulle het saam begin uitgaan – na die Aula om opera en balletuitvoerings te sien; na restaurante waar hy haar uitheemse kosse leer waardeer het. Hulle het sokkiejolle bygewoon en sommer net gaan stap. Dit was eers met die jooldans dat hy baie ernstig geraak het. Hulle was skaars daar toe sy deur twee, drie ander om ’n dans gevra word.
“Jy is baie mooi, juffrou Vermeer,” het een reguit aan haar gesê. “Jy kan self maklik ’n joolkoningin wees.”
“Dankie,” het sy laggend geantwoord, “maar ek stel regtig nie belang nie.”
“Hm,” het hy teleurgesteld gesug, “dis gewoonlik die geval met die heel mooistes.”
Wiam het net gewag tot die man haar by hul tafel terugbesorg het, en haar toe ferm aan die arm geneem, sy gesig wit en ernstig.
“Kom ons waai,” het hy gesê, en haar by die deur uitgestuur. Buite in die koue aandlug het hy bly staan en na haar gedraai.
“Jy . . . is nog baie jonk, Madel,” het hy gesê, “maar ek haat dit as hulle soos bye om jou draai. Ek . . . ek wil jou net vir myself hê, maar ek weet dis waarskynlik te gou.”
“Ek is nie ’n kind nie,” het sy stil gesê, “en ek wil net joune wees.”
Dit was waar, regtig waar. Sy het geen begeerte na iemand anders gehad nie. Hy het sy arms om haar gevou soos wat mens iets kosbaars sou toemaak en beskerm. En toe hy haar soen, het sy geweet dat sy nooit weer deur iemand anders gesoen wil wees nie. Dit was asof ’n vlam in haar aangesteek was – ’n vlam wat sou aanhou brand.
En dit is eintlik nog so, dink sy loom. Die vlam brand steeds. Wanneer ek aan hom dink, kom daar ’n vreugde in my – soms selfs opwinding dat ons spoedig bymekaar sal wees.
Tog haper daar iets: wat weet sy nie mooi nie. Dit is net dat alles nie meer so . . . so nuut voel nie. Dit is byna asof sy te vinnig oud geword het – of dalk vinnig oud móét word, want een van die dae trou sy. Volwassenheid is immers die voorvereiste vir elke huwelik wat moet slaag. En dit weet sy bo alles: haar en Wiam se huwelik móét slaag. Sy sien eenvoudig nie kans om ooit saam met hom ongelukkig te wees nie . . .
Madel moes aan die slaap geraak het, want toe sy weer sien, ry hulle al deur die voorstede. Sy sit met ’n kreun regop, vee met haar hande oor haar gesig.
“So wat van slaap, darem!” spot haar pa liggies en lag.
“Skandelik, ja,” gee sy toe. “En nou moet Pa nog terugry.”
“Ag wat, ek hou van bestuur. Dis stil en rustig as mens nie jaag nie . . . en . . . ek luister graag radio.”
En tog, toe haar tasse by die koshuis afgelaai is, en dit tyd word vir hom om te ry, klem sy hom bekommerd vas.
“Sal Pa mooi ry?” vra sy. Hy druk haar teen hom aan.
“Natuurlik, my kind. Onthou, dis net ’n ou kort rukkie, dan is jy . . . julle terug by ons.”
Sy woorde troos, maar dit voel vir haar nogtans nie asof daar net ’n kort tydjie voorlê nie. Sy het die eienaardige gevoel dat sy haar pa ’n lang, lang tydperk nie gaan sien nie; asof hy, en alles wat bekend is, baie ver weg gaan wees.
“Jy is ’n mens met voorgevoelens,” het juffrou Haarlem eenkeer vir haar gesê toe sy gehuil het voor ’n kunswedstryd skielik afgelas is. “Jy is dalk met die helm gebore.”
Toe het sy daaroor gelag, maar sedertdien het sy menigmaal ondervind dat sy voorwetes kry. Niks bepaalds nie, net ’n gevoelte, soos die ou juffrou altyd gesê het.
Met trane in haar oë kyk sy haar pa agterna toe hy wegry.
Om van die gevoel ontslae te raak, pak sy vinnig uit en neem ’n bundel met Schubert-liedere om te gaan oefen. Sy sing met oorgawe, oefen ’n paar klavierstukke tot haar vingers lam voel, maar die ongekende mistroostigheid bly haar by. So verlig is sy toe haar pa later skakel om te sê dat hy veilig tuis is, dat sy opnuut in trane uitbars.
Toe sy oplaas in haar bed lê, wens sy uit haar hart dat Wiam gou moet terugkom. Die twee jaar wat sy hom nie gesien het nie, het eensklaps te lank geword. Sy wil nóú weet hoe dit gaan voel om hom weer te sien, weer in sy arms te wees . . .
Byna ’n maand gaan verby waarin Madel weer die roetine van lesings bywoon en kliphard oefen, volg. Af en toe knyp sy ’n tydjie af om saam met haar koshuismaats iewers heen te gaan. Soms gaan hulle bioskoop toe; ander kere drink hulle gesellig saam koffie. Die meeste van hulle is net soos sy verloofde meisies of het vaste verhoudings. En almal se geliefdes is ver. Dit is asof dié wat oor die pos ’n verhouding aan die gang moet hou, by mekaar vertroosting soek.
Tog hou Madel haar hier ook eenkant. Sy kan eenvoudig nie soos die ander meisies haar hart oopmaak nie en is ontwykend wanneer hulle haar uitvra oor Wiam. Sy kry elke week ’n brief van hom en in elke brief skemer sy verlange terug huis toe sterker deur.
Ek mis die son – o, veral die Vrystaatse son, die sjampanjesomers van die Hoogland, en die plaas. En ek verlang my dood na jou, skryf hy.
Sy kry dit egter nie reg om spontaan haar gemoed in ’n brief uit te stort nie. Sy verlang, ja, maar na wat weet sy nie. Na hom ook, onder andere . . . maar dit klink darem so banaal om dit op papier te stel. En dit is of die vreemde bedruktheid nie wil wyk nie.
Sy stap een oggend haar sangprofessor se ateljee binne en tref die ou heer aan, hoogs opgewonde in gesprek met die adjunkdekaan van die fakulteit. Hulle hou op met praat toe hulle haar sien en die adjunkdekaan groet haar met ’n geheimsinnige glimlag toe hy uitstap.
“Môre, kind. Kom, kom dat ek jou kan vertel . . .”
“Wat is dit, Professor?” vra Madel met ’n geduldige glimlag. Sy ken die temperament van haar leermeester mos al jare lank.
Sy ronde figuur lyk of dit nog ronder word, so opgewonde is hy.
“Jý, Madel Vermeer, het die eer om as student na München te gaan en daar ’n jaar lank sang te bestudeer. Jy het die Jellinga-beurs gewen! Onthou jy dat ons eenkeer daarvan gepraat het? Dit word mos toegeken aan die student wat dwarsdeur haar studiejare werk van hoogstaande gehalte gelewer het. Daar word na alles gekyk, kindjie – talent, natuurlik, maar ook deursettingsvermoë. O ja, en na die baie spesiale kenmerk wat van ’n sanger ’n potensiële ster maak . . .”
Madel se kop draai, en haar asem jaag.
“Professor . . .” kry sy uiteindelik uit, “u vergeet dat ek op troue staan!”
“Og, vergeet dit, ja!” sê hy met ’n ergerlike swaai van sy hand. “Of stel dit bloot uit. ’n Jaar lank gaan jy na München, kinta, dit sê ek jou nou. Ek wy nie my lewe aan mense wat kop uittrek as ’n geleentheid hom voordoen nie. Ek het altyd geweet dat jy dié beurs sal wen. Daar is niemand wat ’n hoë C soos jy kan sing nie en niemand wat jou vertolkingsvermoë, veral van lieder, het nie. Dit weet jy so goed soos ek. Knap intussen maar jou matriek-Duits op! Maar kom, die werk wag. Ons moet vandag Verdi se Requiem oefen. Voor jy vertrek, moet jy dit in die Staatsteater saam met die Universiteitskoor sing.”
Madel luister na hom. Elke woord wat hy sê, laat haar gemoed ligter word. Dit is soos ’n sluis wat oopgetrek word, en al probeer sy hoe hard om dit met haar gesonde verstand te keer, is sy so magteloos soos ’n stukkende damwal. En toe sy haar mond oopmaak om die soet, hoë note van die Requiem te begin sing, weet sy vir seker: kom wat wil, sy gaan München toe, al kos dit haar haar lewensgeluk. Sy kan dit net so min voorkom as wat ’n voël sy eie roep kan smoor . . .