Читать книгу Seisoen van die skimmelson - Helene de Kock - Страница 4
2
Оглавление“Ek gaan ’n gesplete persoonlikheid ontwikkel,” kla Madel dramaties teenoor ’n musiekstudent met wie sy goed bevriend is. “Enersyds voel ek ellendig omdat ek Wiam gaan seermaak, maar andersyds kan ek soos ’n voëltjie van vreugde kwetter.”
“Hm, so ’n keuse is nogal ’n probleem,” meen Myndert Basson. “Gelukkig vul musiek my hele lewe. Weet jy, Madel, niks behoort eintlik ’n kunstenaar se aandag van sy kuns af te trek nie.”
“Ag bog!” sê Madel sommer ergerlik. “Kunstenaars bly mense. Hulle móét mense bly, anders is daar van kuns ook maar weinig sprake.”
“Gmf! Netnou gaan jy my seker vertel ’n sangeres sing op haar mooiste met vier bloedjies wat tuis op haar wag – twee aan die kruip en een in die wieg terwyl die ander die klimraam bestyg!”
“Nou oordryf jy sommer,” sug Madel. “Ek bedoel net dat ’n kunstenaar hom nie moet verbeel hy leef in ’n ivoortoring waar hy teen die drifte en drange van die lewe beskut is nie.”
“Jy is hopeloos te ingewikkeld, jong,” sê Myndert. “Jy het ’n gesogte beurs gewen om na die buiteland te gaan. Jy gaan as ’t ware op hoë vlak met die wêreld se beste sangers meng. Vergeet alle ander dinge, Madel.”
Hy tel sy viooltas op en stap weg oor die grasperk konservatorium toe. Sy kyk hom half hartseer agterna. Vir hom en mense soos hy is die lewe eenvoudig – selfs eendimensioneel. Myndert is in staat om sy emosies soos sy netjiese kapsel te fatsoeneer. Hy sal tog toelaat dat ’n verhouding hom van sy ideale beroof! Sy beny hom, maar sy keur so ’n houding ook nie goed nie. Dit is kompleet asof haar lewe een groot paradoks geword het. Sy is bly, maar ook bedruk. Sy sien geweldig uit na haar verblyf in München, maar verlang terselfdertyd na die verlede. Sy wil aan almal vertel watter wonderlike dinge met haar gebeur het, maar ys as sy dink sy moet haar ouers en vir Wiam daarvan sê.
Maar sy sal móét, besluit sy een Vrydagmiddag laat. As hulle dit elders moet hoor . . . Sy bel naarstig rond om ’n geleentheid plaas toe te probeer kry en slaag eindelik daarin om ’n tweedejaarstudent wat van haar tuisdorp kom, op te spoor.
“Sal jy my asseblief oplaai huis toe as ek die petrolgeld betaal?” vra sy.
“Graag. Ek verlang ook huis toe. My meisie is nog in matriek, sien.”
Die mannetjie praat heelpad oor sy liefdeslewe, sodat Madel aan stomhisterie ly toe hy haar uiteindelik teen tienuur die aand voor Verresig se opstal aflaai.
Haar ma is verras om haar te sien.
“My aardetjie, Madel, dis wonderlik, skat! Ek wens jy kan sommer bly en jou nare ou eksamen vergeet!”
“Wat maak jy hier, Madel?” vra haar pa nugter, sy oë op skrefies getrek soos hy probeer uitpluis wat haar so onverwags hier laat uitslaan het.
“Ek . . . wou julle sommer net sien,” sê Madel, opeens te moeg om die ware rede vir haar koms te verstrek.
“Ek het geweet jy sal nog eendag regtig huis toe verlang,” sê ma Gerda met ’n sweem van ’n verwyt in haar stem. “Dis goed dat jy uiteindelik besef waar jou heil lê.”
Madel lag meteens.
“My heil lê nou in die bed, Mamma. Ek is so moeg dat ek dubbel sien, glo my.”
“Ons sal môre gesels,” sê haar pa, en aan sy strak gesig kan sy sien dat sy hom nie ’n oomblik om die bos gelei het nie. Hy weet dat sy die een of ander geheim in haar omdra.
Toe sy eindelik lê, wil die slaap nie kom nie. Sy rol rond, kry warm en gooi oplaas die komberse af. Dit is ’n besonder warm somernag. Daar moet reën aan die kom wees. Later staan sy suutjies op, trek net ’n ligte japon aan en gaan op die systoep aan die oostekant van die huis sit.
Die wêreld is maanverlig en die werf lê silwerwit voor haar. Deur die donker stamme van die laning hoë populiere kan sy die sandsteenkoppies se kamme teen die helder naglug sien. Sy sit ’n rukkie en laat toe dat die soel vreedsaamheid van haar besit neem. Toe eers gewaar sy die kooltjie van haar pa se pyp soos dit glim en dof word. Hy moet lankal hier sit. Dit is sy ou dinkplek, soos hy dit altyd noem – ’n verweerde ou stoel in die hoek van die stoep.
Hy lag saggies toe sy opstaan en nader aan hom op die stoepmuurtjie kom sit.
“Ha, ek het geweet jou sondes sal jou die een of ander tyd vannag hierheen uitdryf!”
“Darem nie sondes nie, Pa,” sê sy gedemp.
“Nou wat dan, my kind?”
“Pa . . . Pa, ek wil nie meer die dertiende Desember trou nie.”
’n Stilte daal tussen hulle neer, byna tasbaar so intens is dit. Toe sug haar pa lank en diep.
“Ek het dit sien kom, Madel. Ek begryp dit nie, maar ek sê jou ek het dit sien kom.”
Madel voel hoe warm trane agter haar ooglede opstoot. Dit is nog erger as wat sy gedink het dit gaan wees. Sy kan aan haar pa se stem hoor wat haar besluit alles gaan meebring – verslaentheid, hartseer, woede.
“Is dit Wiam, kind?” vra hy reguit.
“Nee, Pa, hy het niks verkeerds gedoen nie. Ek . . . dink ek voel waarskynlik nog dieselfde oor hom, maar . . . maar ek wil nie nou vasstel of dit so is of nie. Eers het ek gedink ek moet hom so gou moontlik weer sien, maar nou wonder ek daaroor. Pa sien, ek het ’n wonderlike beurs gewen om ’n jaar lank in München sang te gaan studeer. Dis ’n baie gesogte beurs, Pa.”
Hy sug weer en swyg lank.
“Ek glo dit,” sê hy oplaas. “Baie geluk, Madel, baie geluk. Ek is waarlik bly dat jy so presteer.”
“Is . . . is dit dan al wat Pa gaan sê?” vra sy versigtig, tuur in die halfdonker na sy gesig.
“Dis al wat ek graag sou wóú sê, Madel, maar daar is ’n paar dinge wat ek móét sê . . .”
“Ek weet, Pa,” antwoord sy tam, en dit is weer ’n rukkie stil voor haar pa die gesprek voortsit.
“Jou ma gaan haar hewig verset teen jou planne, want ek neem aan dat jy klaar besluit het om te gaan.”
“Ek het, ja.”
“Nou ja, sien . . . dan gaan ons moeilikheid hê. En meer nog, oom Kasper van Vinkvlei het klaar die fondament vir jou en Wiam se huis laat grawe. Ek skat hy is al taamlik ver met die lê daarvan; binnekort sal hy begin bou. Wat gaan jy vir hom en tant Nella sê? En, nog belangriker, wat gaan jy vir Wiam sê?”
“Ek weet nie,” sê sy. “Ek weet nie hoe om aan hom te verduidelik dat . . . dat ek in hierdie stadium liewer vry wil wees nie.”
“A, om vry te wees,” sê Piet Vermeer sag, en Madel verbeel haar dat sy ’n trilling van emosie in sy stem hoor. Dit is egter weg toe hy weer praat. “Wanneer ’n mens jonk is, lyk dit asof vryheid haas onbereikbaar is, ek weet. En geen mens kan ’n ander leer dat dit eintlik in homself geleë is nie. Gaan dan maar Duitsland toe, Madel-kind, en ontdek dit self.”
Daar kom baie woorde in Madel op, maar dis kompleet asof sy hulle nie gesê kan kry nie. Sy wil protesteer, sy wil haarself verdedig, maar sy weet dat hy reg het. Sy weet dit, en tog, sy móét gaan . . . nes ’n swaeltjie wat die roep van die somer in die ander halfrond hoor en instinktief vertrek. Net, dit gaan winter wees wanneer sy daar aankom.
“Nou ja,” sê haar pa eensklaps, “dis tyd dat jy vir Wiam sê. Kom ons gaan bel hom.”
“Nóú?” wil sy verskrik weet.
“Ja, nou,” sê hy ferm. “Ek sal nie toelaat dat Wiam du Preez ’n oomblik langer onder die indruk verkeer dat hy nog ’n verloofde het nie.”
Hy staan doelgerig op en loop in die halfdonker na die stoepdeur wat na die studeerkamer lei. Madel volg hom stilswyend. Hy het reg . . . soos altyd. Sy durf dié gesprek nie langer uitstel nie. Dit is ook beter dat sy nou skakel, want môre sal Wiam stellig by die hospitaal wees. Boonop slaap haar ma nou, en die studeerkamer is ver van die slaapkamers af. Sy sal dus in vrede kan praat.
Vrede . . . ’n wrang laggie vee oor haar gesig. Soos dit nou vir haar voel, sal daar nooit weer vrede wees tussen haar en die mense vir wie sy lief is nie. ’n Oomblik speel sy met die gedagte om alles net so te laat vaar, maar sy weet dat hierdie ding deel van haar is net soos die bloed in haar are. Sy sal dit nie kan prysgee sonder dat iets binne-in haar doodgaan nie.
Haar hand beef toe sy die hoorbuis optel en begin skakel. Onlangs het Verresig ook ’n outomatiese telefoon gekry. Gelukkig ook, anders het ’n hele rits mense ingeluister . . .
Sy voel ’n lamheid in haar bene opslaan toe sy sy stem aan die ander kant hoor. Soos altyd verstom dit haar dat ’n mens so maklik met iemand ver in die vreemde kan praat – so asof hy op ’n buurplaas is.
“Wiam . . .” Haar stem klink skor.
“Hallo . . .”
“Wiam, dit is ek.”
“Madel!” Sy hoor die blydskap in sy stem, en haar hart krimp ineen.
“Ja . . .” sê sy, “dis ek.”
Skielik klink hy bekommerd.
“Wat makeer? Dis . . . dis al middernag hier in Londen.”
“Hm, en hier is dit nog later, Wiam.”
Daar volg ’n stiltetjie.
“Het jy verlang, Madel?” vra hy, en die woorde dra die warmte van sy eie verlange.
“Ja,” sê sy sonder huiwering, “ja, ek het verlang . . .”
Daar is weer ’n stilte waarin sy hom byna kan hóór dink . . . en wonder. En sy weet meteens dat sy nie ’n sekonde langer kan uitstel om hom te sê waaroor sy eintlik bel nie.
“Wiam, daar . . . daar het ’n belangrike ding met my gebeur – iets wat alles gaan verander.”
Dit is of sy in ’n oogwink kan voel presies hóé ver hy van haar is.
“Wat het gebeur?” vra hy.
Sy haal ’n slag diep asem, en sy vertel hom alles . . . ook hoe sy voel. Dit is makliker as wat sy gedink het dit sou wees. Miskien is dit omdat sy nie in sy oë hoef te kyk nie. Sy hoor die sagte klik van die studeerkamerdeur soos wat haar pa uitgaan. Hy het gehoor wat hy wou gehoor het; sy het haar sê gesê.
“Madel,” vra Wiam toe sy klaar gepraat het, “wat wil jy eintlik vir my sê?”
“Dat . . . dat ek . . . dat ons nie meer die dertiende Desember kan trou nie. Wiam, ek moet München toe gaan . . . ek móét net.”
“Madel . . .” Sy hoor hom asem skep. “Jy moenie oorhaastig besluit nie, my lief.”
Paniek dreig om haar te oorweldig.
“Nee, jy begryp nie . . . ek is nie oorhaastig nie. Ek is net oortuig van my saak. Ek het ’n groot talent ontvang, Wiam, of julle dit nou wil weet of nie, en ek het ’n geleentheid gekry om dit te ontwikkel.”
“By watter julle skaar jy my nou?” vra hy koel. “Ek dag net ek en jy is hierby betrokke.”
“Ag, Wiam, dit is tussen my en jou, ja, maar dit is ook nie heeltemal só eenvoudig nie!”
“Waarom nie?” wil hy driftig weet. “Ek en jy het mekaar lief en ons wil trou. Of is dit juis waar die moeilikheid lê? Sê my, Madel.”
Haar keel wil toetrek, en sy skud haar kop asof hy haar kan sien.
“Jy verstaan nie . . . my gevoel vir jou het niks hiermee te make nie.”
“Nié? En hoe gaan jy dit met jou wegganery versoen? Een ding moet jy weet, jy kan nie albei hê nie – nie ons liefde én ’n loopbaan in die vreemde nie!”
Sy is opeens kwaad.
“Jy bedoel dit is ’n kwessie van my loopbaan of joune? Nou ja, as jy gedink het ek gaan tuis bly en huis-huis speel, het jy dit mis. Ek is nou eenmaal nie iemand wat dagin en daguit tuis kan bly sit en wonder wat ons vir aandete gaan eet en of ons die slaapkamermure dalk ’n dieper skakering van pienk moes geverf het nie. Miskien is ek veel meer my ma se kind as wat ek ooit kon droom!”
Sy is uitasem toe sy ophou, en toe sy mooi besef wat sy gesê het, skrik sy. Haar ma se kind . . . hiperbedrywige Gerda Vermeer se ewe bedrywige dogter? Is dit regtig sy? Die gedagte maak haar bang – so bang dat sy begin snik.
“Ek . . . ek het dit nie só bedoel nie, Wiam. Ag, ek weet tog nie . . . ek weet nie hóé om alles te verduidelik nie.”
“Madel . . . Madel, moenie huil nie. Ek het jou lief, meisiekind. Ek wil jou nooit, ooit verander nie, en ek het nog altyd geweet dat jy nie net by die huis sal wil sit nie. Glo jy my, Madel?”
“Ja . . .”
“En luister hier, ek háát die gedagte dat dit jou van my gaan wegneem, maar dis wonderlik dat jy die beurs gewen het.”
“Regtig?” Sy glimlag deur haar trane.
“Ja, regtig.”
“Gaan jy my dan nie keer nie, Wiam?” vra sy. “Is jy dan nie kwaad vir my nie?”
Daar sluip ’n stilte in sodat sy haar ore spits om die geringste fluistering op te vang.
“Nee,” sug hy, “nee op al twee vrae.” Ná ’n rukkie voeg hy by: “Wat sal dit my baat, Madel? Om jou van my te vervreem, is allermins wat ek wil doen.”
Dié slag is dit sy wat na woorde soek. Hy spring haar egter voor.
“Gaan slaap nou, Madel. Jy klink vir my oorspanne. Ook geen wonder nie, want jy loop seker dae lank al met die probleem en worstel, nè?”
Hy klink koel – byna saaklik, asof hy ’n moeë pasiënt paai. Sy maak haar oë toe en probeer haar stem gelykmatig hou toe sy antwoord.
“Ek weet al ’n paar weke lank, maar dit was nie ’n maklike besluit nie, Wiam. Dis ook nie net ’n gier wat sal oorwaai nie.”
“Jy klink so seker dat dit my bang maak.”
“Ek is doodseker. Ek sal nie gelukkig wees as ek nie hierdie geleentheid met albei hande aangryp nie.”
“Jy gaan ’n jaar lank weg wees,” sê hy bot.
“Jy is al byna twee jaar lank weg,” antwoord sy. “Ek wonder of jy ooit nog weet hoe ek lyk.”
Hy lag effens bitter.
“O, ek weet presies hoe jy lyk, my skat. En meer nog, ek weet hoe dit voel om jou teen my vas te hou, en te soen. Wanneer ek my oë toemaak, kan ek my dit voorstel, weet jy. Ek kan my jou beeld so helder voor die gees roep dat dit vir my voel jy staan langs my. Ek verlang na jou, Madel . . . jy weet nie hoe baie nie.”
“Wiam . . .” fluister sy en voel weer trane in haar oë brand. Só moet hy nie praat nie. Sy is nie van klip nie, en sy hoef ook nie baie hard te probeer om haar elke oomblik wat hulle saam was, voor die gees te roep nie. Veral nou, terwyl sy stem in haar ore klink, sal dit baie, baie maklik wees.
“Gaan slaap nou,” herhaal Wiam. “Ek sal jou môreaand so teen nege-uur se kant skakel, dan gesels ons weer.”
Hy sit dadelik die hoorbuis neer sodat sy aan ’n dooie foon nag sê toe sy haar stem terugkry.
Sy loop katvoet deur die stil huis na haar kamer. Haar pa moes al gaan lê het, want sy gewaar hom nêrens nie. En toe sy die laken oor haar trek en die stilte van die nag op haar toesak, ervaar sy ’n brandende verlange na Wiam. Die eerste maal in ’n lang tyd smag sy na sy nabyheid, maar weet terselfdertyd met onwrikbare sekerheid dat sy steeds Duitsland toe gaan. Hoe is dit moontlik, wonder sy wroegend, dat ’n hart aan twee liefdes getrou kan wees? En tog, net so lief soos wat sy vir Wiam is, so is haar hart aan haar musiek verknog.
Dit voel vir haar asof sy skaars ’n oog toegemaak het toe haar ma glimlaggend met ’n koppie koffie binnekom.
“Toe, toe,” sê Gerda, “die son sit al dóér, Madel! Een van die dae is jou speeltyd ook verby. Dan is dit jóú beurt om vroeg-vroeg koffie te maak.”
“Wiam drink nie juis koffie nie,” mompel sy vakerig, maar skrik haar nugter toe sy die koppie by haar ma vat. Dit is nou die regte tyd, besef sy. Sy sal haar ma moet vertel.
Sy sit die koppie stomende koffie op die spieëltafel neer.
“Ma,” begin sy, “ek wil dringend met Ma praat . . .”
“Ag, dit kan wag, Madel,” sê Gerda en pluk die gordyne oop. “Daar is honderde dingetjies waaroor ek en jy eers moet besluit. Bernice, die bloemiste, kan nie waarborg dat sy vir ons pienk rosies vir die blommemeisietjies en vir jou ruiker in die hande kan kry nie, en ek wil beslis niks anders hê nie. Ek dink die beste sal wees as ons iemand kan kry om vroeg die oggend Vereeniging toe te ry en dit dáár te kry – die bloemiste Noeline is glo gewillig om dit te verskaf.
“Dan is daar nog ’n ding – ek is nie heeltemal tevrede met die trourok se sleep nie. Ek dink dit moet korter wees, anders sal jy voor die preekstoel staan en dan lê die punt nog by die kerkdeur. Dit is mos darem nie asof jy in die Westminster-abdy gaan trou nie! Ek het destyds toe hulle die kerk ingewy het, al gedink die paadjie kansel toe is darem te kort vir ’n bruid met ’n behoorlike sleep aan haar rok.”
Die stortvloed woorde spoel oor Madel, en dit het dieselfde uitwerking as yskoue water. Sy vergeet dat sy netnou nog doodmoeg gevoel het, en toe sy op haar voete kom, besef sy dat sy van kop tot tone aan ’t bewe is.
“Ma!” sê sy so hard dat Gerda omswaai waar sy in Madel se uitsetlaai na goedjies staan en kyk. “Ma, ek gaan nie meer trou nie!”
“Ag bog!” sê Gerda onverstoord, en lig ’n gehekelde kaslappie uit die laai om dit in die lig te beskou. “Drink jou koffie, dan sal jy beter voel. Alle bruide voel maar so! Dis bloot senuwees, of as jy nou ingewikkeld wil raak, kan jy sê dis die mens, en veral die vrou, se intuïtiewe vrees vir die onbekende. Toe wikkel, Madel, die koffie word koud.”
Die ou mislikheid wat haar as kind dikwels oorval het wanneer sy so oordonder word, kom oor haar en sy haal diep asem om dit te beheers. Ingewikkeld raak? Senuwees? Waarom publiseer haar ma nie ’n boekie nie? wonder sy bitter – Gerda Vermeer se Tien Pittige Puntjies vir die pad na ’n Vreesvrye Bestaan. Nommer een: hou die blink kant bo; nommer twee: hou jou liewer in; nommer drie: vergeet daarvan; nommer vier: (dis nou te sê as jy teen dié tyd nog probleme het): dink aan vyf dinge wat jou gelukkig maak . . .
Woede vlam in Madel op.
“Ma,” sê sy, “as Ma dit dan nie wil glo nie, sal Ma maar moet sien! Ek herhaal: ek gaan nie meer trou nie! En meer nog, ek is lankal nie meer ’n kind nie. Miskien moes ek dit eerder aan Ma gesê het, want ek besef maar alte goed dat Ma nog altyd te besig was om agter te kom dat ek volwasse geword het.”
Die lappie glip uit Gerda se hande en val op die mat. ’n Diep frons keep tussen haar wenkbroue.
“Voel jy siek, Madel?” vra sy omgekrap. “Ek is bereid om jou histerie te vergeet as jy dalk nie lekker voel nie.”
“Ek makeer niks,” sê Madel afgemete, “en ek is jammer oor wat ek gesê het . . . regtig. Ek weet Ma bedoel nie om my seer te maak nie, dis net dat Ma my regtig nie verstaan nie!”
“Dis waar, ja,” praat pa Piet in die deur, en al twee vroue swaai verskrik om. “Jy verstaan nie vir Madel nie, my vrou, en dalk begryp sy jou ook nie. Al wat ek weet, is dat julle twee nog altyd by mekaar verbygeleef het.”
Sy gesig lyk oud in die oggendlig.
“Ag, Pa . . . ek is jammer,” fluister Madel hulpeloos.
’n Gloed het oor Gerda se gesig gesprei. Haar oë blits.
“Wat gaan aan? Wat gaan onder my neus aan waarvan ek niks weet nie?”
“Jy het gehoor, vrou,” antwoord Piet ferm. “Sy en Wiam gaan nie meer trou nie. Sy het ’n beurs gewen om ’n jaar lank in die buiteland sang te gaan studeer.”
“Dit sal ek nie toelaat nie!” sê Gerda, en daar is histerie in haar stem.
“Dis buite jou jurisdiksie,” sê Piet. Hy kom binne en vat haar stewig aan die arm. “Kom, Madel moet aantrek sodat sy die Du Preez’s van haar besluit kan gaan verwittig. Jy en sy kan later die saak uitstryk – dis te sê as julle dit kán doen.”
Toe hulle uit is, besef Madel dat sy haar asem ophou, en sy laat dit met ’n sug uit. So ja, dit is verby. Nou weet haar ma. Storms sal daar wel nog wees, maar dit was hierdie konfrontasie wat sy die meeste gevrees het. Nou lê die besoek aan die Du Preez’s van Vinkvlei nog voor.
Sy gaan stort en trek vinnig aan. Vir ontbyt sien sy nie kans nie, en besluit om sommer te stap. Dalk doen die vars lug haar goed.
Dit is wondermooi dié tyd van die jaar, en dit is asof Madel ligter van gemoed voel toe sy deur die groen veld stap. Haar oë streel oor die bekende blou berge op die horison, oor die geelbruin sandsteenkoppe wat nader lê en die sagte deining van die koringlande vlak by haar. Sy spring glimlaggend oor die ses groot klippe om oorkant die spruit te kom, en dink hartseer terug aan die talle male wat sy en Wiam so gespring het.
Sy voel lus om net daar op die lap kweek onder die wilgers te gaan lê en herinneringe oor haar te laat spoel, maar druk deur en loop met die uitgetrapte paadjie na die mooi sandsteenopstal.
Sy tref die twee ou mense op die breë voorstoep aan waar hulle soos gewoonlik by ’n ronde tafeltjie hul ontbyt sit en nuttig. Hulle staan al twee op toe hulle haar gewaar, en toe sy nader kom, sien sy dat tant Nella se oë rooi gehuil is. ’n Koue beklemming pak haar beet, en haar mond voel droog toe sy hulle groet.
“Kom sit, my kind,” sê oom Kasper. “Kom sit maar . . . ons weet alles – Wiam het vanoggend vroeg geskakel.”
Madel se lippe beef toe sy tussen hulle op die ou bekende riempiestoel gaan sit.
“Is julle baie . . . kwaad vir my?” vra sy en voel trane in haar oë opstoot. Die eerste maal besef sy watter verskriklike teleurstelling dit vir hulle moet wees. Hul hele lewe draai om Wiam, hul briljante en enigste seun; sy geluk is al wat tel.
Tant Nella lê egter ’n sagte hand op haar arm en oom Kasper skud sy kop.
“Nee, kinta, ons kan mos nie vir jou kwaad wees nie. Dis dinge van die hart dié . . . mens verstaan dit nie.”
“Dankie,” sê Madel, “baie, baie dankie.”
“Dis maar goed so, Madel,” sug tant Nella. “Wiam het ook gesê ons moet dit nie vir jou moeilik maak nie. Maar ek wil net weet, sal jy óóit eendag met hom trou?”
Madel kyk haar reguit aan, maar haar blik skuif weer weg na waar die berge skerp teen die oggendlug afgeteken lê. Toe skud sy haar kop.
“Ek weet nie, tante,” sê sy, en die woorde voel loodswaar in haar gemoed.