Читать книгу Anderkant die vloedwaters - Helene de Kock - Страница 3
1
ОглавлениеDit is ’n miserabele aand om op die pad te wees, dink Bernard. Hy tuur gespanne oor die stuurwiel, verwens die reënvlae wat teen die windskerm swiep. Dit lyk nie asof die reënveërs enigiets uitrig nie. Tog beweeg hulle rukkerig heen en weer oor die ruit.
Dit is bedompig in die motor en sy hemp kleef aan sy bolyf vas. Hy het in Pretoria al sy das afgehaal en sy baadjie uitgetrek. Maar dit was ná ’n gesprek met sy ma. Hy is lief vir sy ma; gesels graag met haar oor alles en nog wat, behalwe een onderwerp.
“Bernie, kon jy nie maar ’n bietjie ontdooi het toe Marina hier aangekom het nie? Al gee jy niks meer vir haar om nie, kan jy darem net gaaf probeer wees, my kind.”
“Ma, ek is baie haastig. Ek het net kom oë wys. Ek sit al van vanoggend watter tyd in daardie vergadering van die Koringraad en ons het nou eers verdaag. Wat ek eintlik wou kom sê het, is dat die Raad vir ons nuwe glashuise gaan skenk. Dis wonderlik, Ma. Die goed kos ’n fortuin en nou kry ons dit as ’n geskenk.”
“Bernie, dis nou gaaf, maar Marina was afgehaal. Jy kon darem net verneem het hoe dit met haar gaan.”
“Ek het dit met opset nie gedoen nie,” het hy ergerlik gesê en gevoel hoe dit warm word onder sy kraag. Die gesprek het ’n gevaarlike koers ingeslaan en hy het uit ervaring geweet dat hy teen wil en dank ingesleep word. Natuurlik het hy toe heeltemal die verkeerde ding gesê.
“Ma moet asseblief ophou om Marina so aan my op te dring. Wat tussen ons was, is vir goed verby.”
Sy was kwaad. Maar hy ook. Daarom het hy haar bitsig afgejak.
“Dis ek wat moet besluit of sy vir my die regte keuse is, nie Ma en Ma se vriendinne nie.”
Sy het hom dadelik daarvan beskuldig dat hy te ontledend in sy verhoudings is. Hy wil alles perfek hê, en dadelik. Hy moes een ding besef en dit is dat hy goeie troumateriaal is. ’n Man met ’n doktorsgraad word bejeën as iemand wat sekuriteit aan ’n vrou kan bied.
Toe het sy weer op die ou snaar getokkel: “Kom terug akademie toe. Doen wat jou pa gedoen het, my kind. Wat lol jy om so afgesonderd op ’n navorsingstasie te werk? Buitendien stel jou werk onmoontlike eise. Een dag daar naby Bethlehem, die volgende in Malawi en net daarna Kaap toe om weer daar koringproewe te evalueer. ’n Vrou sal dit nie verdra dat jy voortdurend weg van die huis af is nie.”
Toe kon Bernard dit nie meer hou nie. Hy het sommer blindelings losgetrek: “Ag Ma, iewers behoort daar ’n vrou te wees wat besef dat ’n landbounavorser nie ’n glansloopbaan het nie, maar wel ’n waardevolle.”
Hy het moedeloos gewonder of dit dan heeltemal onmoontlik vir haar is om te verstaan wat hy doen. Weet sy dan nie dat die mens nie soos ’n kommandowurm kan bly eet sonder wetenskaplike beplanning nie?
Bernard sug diep en trap die versneller weg. Soms maak sy ma se onbegrip hom neerslagtig, veral as sy begin torring oor meisies. Boonop het hy die flater begaan om ’n meisie se naam te noem toe hy sy ma groet voor hy ry. Ene Lindie wat by Voortrekker skoolhou, ’n baie aangename mensie met wie hy goed oor die weg kom.
“Bring haar so gou moontlik huis toe, Bernie,” het sy ma ingenome gesê.
Toe hy nog wou beduie dat hulle mekaar kwalik ken, het sy geesdriftig begin beplan: “Jy sal self beter voel as jy haar eers vir my kom wys het.”
Hy wou nie verder na haar luister nie. Sy sou nooit begryp dat daar nie ’n konsep vir die verhouding tussen ’n man en ’n vrou is nie. Sy is so gretig om hom getroud te sien dat sy ander belangrike dinge uit die oog verloor.
’n Golf van verligting stoot deur hom toe hy Villiers se ligte deur die reën sien opdoem. Hy moet stilhou om brandstof in te gooi. Dié verposinkie sal dalk sommer sy kwelgedagtes laat vervaag, wie weet? Hy is so moeg getob oor hom en sy ma. Hy wil hom van haar losmaak en tog ook nie omdat hy vir haar lief is.
By die vulstasie word hy met ’n breë, wit glimlag verwelkom. Hy en die joggie ken mekaar al. Dit is al baie jare dat hy gereeld van Bethlehem af Pretoria toe ry.
“Naand, Simon,” groet hy. “Maak maar vol, hoor.”
“Naand, meneer. Hoe ry jy dan so in die reën rond?”
“Ag wat, Simon, ek sal maar sê dis nie uit eie keuse nie. Ek sou liewer nou by my huis wou wees. Jy seker ook, nè?” knoop hy ’n praatjie aan.
Simon knik geesdriftig.
“Ja, en nog baie ander mense wens ook so. Kyk, die bus wat altyd Vrydae hier verbykom, het gaan staan. Daar is fout met die verkoeler. Die mense sit nou maar daar binne en wag dat die nag moet verbygaan.”
“My aarde tog,” sê Bernard, draai om en sien aan die ander kant van die vulstasie, half in die donkerte, ’n groot bus staan. Dit is een van die tussenstedelike busse wat naweke by klein dorpies hierlangs aandoen. Rye gesigte kyk afwagtend deur die toegewasemde ruite.
Hy besef dat hy die enigste motoris is wat op die oomblik hier stilgehou het. Die passasiers dink seker dat hy hulp bring. Hy onderdruk die gedagte dat hy tot hulp kan wees. Hy gaan immers net tot op Bethlehem.
Hy probeer hom nog losmaak van die lot van die passasiers, toe die voorste deur oopswaai en iemand in ’n swart jas en met tasse in albei hande uitbeur. Dit is ’n vrou. Sy het ’n swart serp om haar kop. Bo-op dra sy ’n swart breërandhoed. Sy het ook ’n donkerbril op. Sy kom kop onderstebo aangestap en Bernard se moed sak in sy skoene. Hy wens hy kon vinnig in die motor spring en wegjaag. Hy weet so seker as wat hy leef dat sy gaan vra om saam te ry. Hy is daarvan bewus dat Simon met ingehoue asem staan en kyk wat gaan gebeur. Hy draai om en vermy sy oë toe hy hom betaal.
“Sies tog,” fluister Simon en skud sy kop.
Toe is sy by hulle. Sy bly daar staan tot Bernard poeletjies water om haar skoene sien vorm. Hy kyk teësinnig op. Haar middel is dun, selfs in die dik, goed gesnyde jas. Dit is van handskoenleer, sien hy. Sy oë spring na haar gesig. Maar die flou neonbeligting van die vulstasie weerkaats in die groot brillense en haar mond is donkerrooi teen die wit gelaat.
“Kan ek u help, juffrou?” vra hy beleef.
“Asseblief.”
Die woord is niks meer as ’n preweling nie, byna ’n kreun.
“Toe maar, ek sal u graag oplaai. Ek gaan egter net tot by Bethlehem.”
Sy knik net en hy besef verleë dat sy dit reeds weet. Sy nommerplaat sê dan so.
Hy leun vooroor om die tasse by haar te neem en sien met ’n skimp dat sy op haar onderlip byt toe sy dit aan hom oorhandig. Sy het iewers seer, flits dit deur sy gedagtes. Hy sit die tasse neer en maak vir haar die linkerdeur oop. Sy skuif versigtig in en hy ruik die geur van frangipani. Sy sug toe sy dankie sê. Hy laai die bagasie in, knik vir Simon wat nou weer breed glimlag en klim in.
“Ek is mevrou Smit,” sê sy net toe hy die motor wil aanskakel. “Van Johannesburg.”
“Aangenaam,” sê hy toe hy wegtrek en die reën die motor weer eens in sy eie natblink wêreld toevou. “Ek is Bernard Linde.”
Tot sy verbasing sê sy niks. Sy vrese dat hy dalk heelpad Bethlehem toe sal moet gesels, verdamp. ’n Digte swye kleef haar aan, sluit hom uit, sodat hy eers kilometers verder waag om te vra: “Is Bethlehem dan u eindbestemming?”
Sy skrik effens. Die vol, rooi mond roer en hy kan nie onderskei of sy wou lag of wat nie.
“Ek sal vannag in die hotel slaap,” sê sy ontwykend en sonder om eens in sy rigting te kyk.
“Daar is meer as een,” hou hy moedswillig vol.
“Die Royal,” antwoord sy sag.
“Ken u dan vir Bethlehem?”
Sy antwoord weer nie; haal net haar skouers op in ’n gebaar wat enigiets kan beteken. Maar die beweging moes haar seergemaak het, want sy snak na haar asem en byt weer haar lip vas. Sy sak effens vooroor en vou haar arms stadig oor haar bors.
Sy het pyn, dink hy. Sê nou sy is ernstig beseer en beswyk hier in die motor langs hom? Dit sal vir jou ’n gemors afgee!
“Kan . . . kan ek vir u iets te drinke aanbied?” vra hy.
Dié slag kyk sy na hom. Altans, hy vermoed so, want sy het haar kop gedraai en hy kan die dofblink uiloë van haar bril onderskei. Vreemd dat sy dié ook nog dra, dink hy. Dit is die hoed en serp. Dit maak byna haar hele gesig toe.
“Wat het u?” vra sy met haar sagte, goed gemoduleerde stem.
“Koffie,” antwoord hy verlig. “Ek kan u ongelukkig niks sterkers aanbied nie.”
“Koffie sal nou baie lekker wees, dankie.”
Wanneer sy nie so verskriklik stil is nie, het sy nogal iets, dink hy. Wat dit ook al mag wees. Hy hou op die oop strook langs die pad stil en skakel die motor af. Toe reik hy na agter waar die mandjie met die fles koffie is.
“Gaaf,” glimlag hy, “ons is gelukkig. My ma het nog koekies ook ingepak.” Hy raak bedrywig met die fles en die twee plastiekbekertjies waarop sy ma altyd aandring.
“Netnou het jy lus om twee maal stil te hou. Jy moet tog asseblief ’n paar maal stilhou, boetie. En dan drink ’n mens mos nie elke keer uit dieselfde beker nie.”
“Daar is ongelukkig net swart koffie. Maar ’n mens kan dit baie soet maak,” skerts hy toe hy dit vir haar aangee en haar skraal, fyn hand dit by hom vat.
“Bitter, dankie.”
“En ’n koekie? Daar is wel versiersuiker op.”
Sy gee so ’n beduidenis van ’n laggie.
“Dit sal lekker wees. Hoe paradoksaal dit ook al mag klink. Bitter koffie en soet-soet koekies.”
Hy verluister hom; vergaap hom so aan haar mond toe sy praat, dat hy vergeet om die koekie aan te gee en sy haar hand, palm na bo, daarvoor uitsteek. Hy plaas die kolwyntjie versigtig daarop en sien hoe sy dit fyntjies begin eet. ’n Oomblik hou sy op, kyk vlugtig na hom en vra gesteurd: “Gaan ek nou alleen eet?”
“Natuurlik nie,” kry hy sy stem terug. “Ek wag net om te hoor wat jy daarvan dink. My ma is ’n baasbakster.”
“My suster ook,” sê sy afwesig en toe met ’n vinnige kopknik na sy kant toe: “Die kolwyntjies is heerlik. Lekkerder as sus s’n. Ligter, sou ek sê.” Toe eet sy verder. Knabbel-knabbel, al met die pienk, versierde randjie op tot by die kersie en dan weer af tot die hele koekie opgeëet is. Hy gee nog een aan voordat sy hoef te vra en toe hy hom kom kry, eet hy net so smaaklik aan die kolwyntjies wat hy al dikwels verwens het. Eintlik hou hy nie van soetigheid nie. Maar om dit so proe-proe te eet, lyk meteens ongelooflik lekker. Dit is ook.
“Dis op,” sê hy naderhand toe hy met sy hand in die mandjie rondvoel en daar niks meer is nie.
“Dit was wonderlik,” sê die vrou sag en vryf haar vingers teen mekaar om van die krummeltjies ontslae te raak. “Ek . . . was besonder honger.”
“Nog koffie?” vra hy vinnig, maar sy skud haar kop.
“Nee dankie. En baie, baie dankie dat u my opgelaai het.”
“Ag wat, dis werklik ’n plesier.”
Maar as hy gedink het dat die verversinkies haar sou laat ontdooi, het hy dit mis. Sy is net so swygsaam soos vroeër; antwoord kwalik wanneer hy haar iets vra.
Toe hulle Bethlehem binnery en die straatlampe haar sigbaarder vir hom maak, kyk hy tersluiks na links. Sy sit gespanne daar. Haar vingers is inmekaargedraai en haar vol mond saamgepers. Iets is gewis fout. Iets het hierdie mens deur die nat reënnag hierheen gedryf. En hy wens hy kon weet wat dit is.
Maar toe hy voor die Royal-hotel stilhou, klim sy flink uit, trek haar asem hoorbaar in asof sy te skielik beweeg het en blik hom dankbaar aan toe hy haar tasse tot in die voorportaal dra.
Toe steek sy ’n hand na hom uit en hy kry weer die ligte, eksklusiewe geur van haar parfuum.
“Nogmaals dank, meneer Linde. Nou kan u werklik maar gaan. Ek sal self verder regkom.”
Haar hand is koud en klam, ten spyte van die jas en die rit in die warm motor, dink hy ontstem.
“Laat dit goed gaan, mevrou,” sê hy net, draai om en stap uit. Hy klim in die motor en sien vaagweg deur die fyn, siftende reën hoe sy met albei arms op die toonbank leun toe sy met die klerk praat. Toe trek hy weg en hy is al uit die dorp op pad navorsingstasie toe, toe dink hy steeds aan haar. Al was die ontmoeting kortstondig, het sy hom vreemd geroer. Dalk omdat sy so bot en swygsaam was. Eintlik was sy geheel en al afsydig. Net haar slanke liggaam in die swart jas met die swart serp en hoed op die kop en die donkerbril was daar. Die enigste keer dat hy gevoel het dat sy ’n mens is, was toe sy die koekies met soveel verfynde oorgawe verorber het.
Hy klik vererg met sy tong. Dit is sommer nuuskierigheid van sy kant af. Dié dat hy so bly wonder oor haar. Dit is nou verby. ’n Toevallige ontmoeting met ’n vreemde vrou wat eienaardig opgetree het. ’n Getroude vrou daarby.
Toe hy by die navorsingstasie se groot sandsteenhek stilhou om in te teken, het die reën opgehou. Maar die wag staan koulik nader in sy kakiejas. En Bernard glimlag effens wrang. Hy is terug op die Hoogland. In die koel bergwêreld met sy sjampanje somers. Net vanmôre sou dit snikheet gewees het, maar ná die reën is dit koel genoeg vir ’n trui.
“Naand, Karools. Hoe gaan dit hier?” groet hy terwyl hy inteken.
“Baie nat,” sê die man gemeenplasig. “Vanjaar reën dit maklik. Hier is baie swartslange ook. Ek en Janman het net gister twee gesien.”
Bernard het al geleer om nie hierdie wêreld se gelofies te minag nie en hy knik plegtig.
“Dan kan jy maar weet dit gaan nog baie reën,” sê hy en wuif toe hy deurry.
Anderkant die groot saal waarin daar gesellighede en simposiums gehou word, draai hy regs af tussen die rye wit huise. By die laaste een in die laan draai hy in. Hy was gelukkig om ’n huis te bekom. Die lang jare in die enkelkwartiere het hom moeg gemaak vir ’n saamboerdery met ander. Hy hou van geselskap, maar is eintlik ’n alleenmens.
Dalk dié dat hy so sukkel om getroud te kom. Dit is omdat hy so lekker alleen bly hier in sy eie huis, dink hy guitig. En watter man sal nie? ’n Asemrowende uitsig op Loch Lomond met sy groen oewers en digte rietbosse waar duisende watervoëls hul tuiste het. Menige naweek sit hy rustig en visvang of gaan met sy bootjie op die stil, kalm water uit, net om ure lank te sit en kyk na waar die Malutis blou teen die suiderkim staan.
“Wat maak jy as jy so sit?” vra sy kollegas soms skertsend.
“Ek vang weer ’n slag my siel op,” sê hy altyd. “Waarom loop bly julle op die dorp? Hier by die navorsingstasie is daar nog Lebensraum soos die Duitsers sal sê.”
“Ja toe,” antwoord hulle gereeld, “jy was net gelukkig om ’n huis te kon kry. Daar is mos nie genoeg huise vir ons almal nie.”
“Ag wat,” is sy antwoord, “dis net omdat julle vrouens almal eerder op die dorp wil woon. Ek het nie ’n vrou wat aan my voorskryf waar ek moet bly nie!”
Dit is ’n ou ding dié dat die manne hom almal sy verblyf beny, en sy huis is ’n gesogte kuierplek. Baie van sy kollegas was saam met hom op universiteit en hulle is ’n gesellige klomp.
Toe hy langs die wit, vierkantige huis met sy rooi gepoleerde stoep stilhou, kom sy twee honde, Polka en Masurka, springend om die hoek. Die twee kollies spring hom byna om van vreugde en trippel voor hom uit die huis binne toe hy sy goed begin afdra.
Hy lag en gesels met hulle en skud sy kop toe hulle snuiwend by die kosmandjie bly staan.
“Jammer! ’n Vroumens het die kolwyntjies opgeëet. Nou nie dat die ounooi in Pretoria al ooit besef het dat sy hulle eintlik vir julle twee lummels bak nie, maar nou ja. Terloops, dis ’n wildvreemde vrou wat die koekies opgeëet het. Sy het soos ’n skim uit die nag verskyn en weer verdwyn. Nou nie heeltemal nie. Ek het haar by die hotel gaan aflaai. Maar troos julle daaraan, my honne, sy sal nie weer jul kolwyntjies eet nie.”
Die twee honde luister na hom met skewe koppe. Masurka sug oplaas en sak af om met haar kop op haar pote te lê. Hy lag en buk om hul ore te vryf.
Toe stap hy deur na sy slaapkamer en skakel ligte aan so ver as wat hy loop. By die telefoon langs die bed gaan hy staan. Sal hy of sal hy nie? Sy skouers roer ergerlik. Dit is tog net ordentlik om te bel en te verneem of die vroumens reggekom het in die hotel. Sy vingers blaai koorsagtig deur die telefoonboek en hy sug effens toe hy die nommer van die hotel kry.
“Goeienaand, juffrou. Dis Linde van die navorsingstasie. Ek wil net weet of mevrou Smit toe wel daar by julle plek gekry het.”
“Mevrou Smit? Hier is nie so iemand ingeskryf nie, meneer.”
“Maar . . . ek het haar self netnou daar afgelaai. Ek het nog haar tasse ingedra ook.”
“O, maar wag, daardie vrou het dadelik ná u vertrek ’n taxi ontbied en is toe vort.”
“Waarheen?” vra hy, maar verwag nie ’n antwoord nie. “Toe maar, dankie,” sê hy nog voor die dametjie begin protesteer dat sy werklik nie weet nie.
Hy stap uit stoep toe, gaan sit in die donker op een van die rottangstoele en die honde gaan lê by sy voete. Hy tuur na die dam se kant toe. Die wolke begin plek-plek wegtrek en daar lê strepe sterlig op die water. Paddas koor in die riete en ’n ent verder klink die helder geroep van ’n naguil op. Gaandeweg omvou die rustigheid hom en dink hy nugter.
Vergeet dit nou, maan hy homself. Mevrou Smit het stellig nou al veilig by haar bestemming aangekom. As sy ’n taxi ontbied het, sal sy tog seker nie te ver ry nie. Sy moet iewers in die dorp of distrik wees en het nie kans gesien om hom te vra om haar daarheen te karwei nie. Wat natuurlik op verfyndheid en ordentlikheid dui. Alhoewel sy stasie toe ook kon gegaan het. Hy leun vooroor, plaas sy elmboë op sy knieë en sy kop op sy hande. ’n Ligte bries laat die water rimpel en breek die yl ligstrepe in stukkies. Hy sien die ligte van ’n paar plaasopstalle aan die anderkantste oewer en sy gedagtes laat die vreemde vrou los. Môre moet hy Hendrik Malan van Wilgersvlei gaan spreek. Hy kerm al hoeka dat die grensdraad tussen sy grond en die navorsingstasie s’n stukkend is en nou word die wilgers aan sy kant as brandhout opgekap deur die staat se arbeiders.
Bernard klik met sy tong en kyk af na Polka en Masurka.
Dit kan ewe goed ou Hendrik se eie werkers wees wat die bome so verniel, dink hy. Hy is juis so vol draadwerk. Dit sal hom niks verbaas as hulle Hendrik die een streep op die ander trek nie. En dit bly maar ’n lollery omdat die pad na sy plek toe oor staatsgrond loop. Hy lag kop agteroor en buk weer om die honde te streel. Dalk is dit Grieta wat hom so moeilik maak. Sy lyk vir hom na ’n kwaai vrou. Maar dalk is sy ’n lam, wie weet?
Lank sit hy nog so. Hy dink aan sy besoek aan Hendrik, sy gesprek met sy ma en aan Lindie van Velden met wie hy tog lekker kan gesels. Sy gedagtes wentel om die moontlikheid om haar aan sy ma te gaan bekend stel. Eintlik nou moet gaan wys, want sy ma het klaar die datum bepaal. Die paar dae rondom Kersfees. Hy kry ’n hol kol op sy maag. Op die een of ander manier sal hy uit dié ding moet kom. Of dalk nie. Tyd bring raad.
In Wilgersvlei se opstal sit Hendrik en peins oor die ding van die wilgerbome. Sy vingers trommel op die bont oliekleedjie van die kombuistafel sodat Grieta ergerlik opkyk waar sy op ’n leunstoel langs die venster kerspitwerk sit en doen.
“Wat hinder jou, Hendrik?” vra sy.
“Niks. Waarom sal iets my nou hinder, my hart?”
Sy gee ’n laggie en gaan maar liewer met haar borduurwerk voort. As Hendrik eers begin trommel, kwel iets hom nie net nie, hy is behoorlik opgevreet van bekommernis. Sy weet goed dit is die wilgerbome wat so opgekap word. Sy wens tog hy wil maar die ding met die proefplaas se mense in die reine bring. Gelukkig het Bernard Linde gesê hy sal een of ander tyd kom hoor wat is wat.
Maar sy wat Grieta is, sal vir hulle sê wat hulle moet doen. Die Liebenbergsvleirivier vorm nou wel die grens tussen die twee plase – die staat s’n en hulle s’n – maar dit is nie genoeg nie. Hulle sal die grensdraad stewiger moet maak. Miskien twee rye ogiesdraad of so iets.
Sy skrik haar boeglam toe daar hard aan die agterdeur geklop word. Ook Hendrik se vingers bly oopgesprei in die lug staan, skoon styf geskrik. Grieta maak ’n kopbeweging na die deur se kant toe en Hendrik staan stywerig op om te gaan oopmaak.
“Vra eers wie dit is!” fluister Grieta bang en staan ook op.
Maar Hendrik luister nie. Hy pluk die deur oop asof hy die een wat geklop het, gaan bespring. Ondanks dié paraatheid, staan hy versteen toe die lang vrou in swart geklee vooroor tuimel en met ’n slag die plankvloer tref. Ook Grieta staan asof sy in haar nommer twee en veertig gegiet is. Al wat sy kan uitkry, is: “Maar die mens het dan ’n hoed ook op . . .”
Dit is toe Hendrik styf-styf buk en die hoed weglig sodat die swaar, blonde hare los raak dat hul oë mekaar skielik en met volkome begrip vaspen.
“Tel haar op,” sê Grieta en haar stem bewe.
Vir die eerste maal in ’n lang tyd gehoorsaam Hendrik sonder om teë te praat. Maar vir die tweede maal skrik hulle hulle yskoud toe hulle haar bril sag van die gesig af lig. In die skel kombuislig lyk die swelsels om die toe ooglede grotesk, die fyn vel bloederig en gekneus. Daar is ’n gapende sny oor die voorkop. Grieta raak sag aan die vol mond en merk dat die lippe binne ook gekneus is. Van haar trane drup op die bleek wange en sy vee dit snikkend af.
“Loop bel vir dokter Viljoen,” sê sy net, en Hendrik verdwyn woordeloos in die gang af.