Читать книгу Anderkant die vloedwaters - Helene de Kock - Страница 4

2

Оглавление

“Jy moet sommer na my koring ook kom kyk,” brom Hendrik toe hy Bernard Linde groet. “Dit het ’n siekte.”

“Ek sal beslis kom kyk, Hendrik,” glimlag Bernard, “maar kom ons praat eers oor die dinge wat jou hinder.”

Hulle stap sitkamer toe waar Grieta klaar vir hulle ’n teeskinkbord met ’n bord vol tamboesies laat neersit het.

“Sy weet mos jy hou so baie daarvan,” sê Hendrik met sy grinterige stem.

“Ag, twak,” lag Bernard, “sy het geweet sy kan my daarmee sag maak. Wil natuurlik hê die staat moet weer draad span.”

“Haai, nee . . .” lag Hendrik verleë, maar sy blik bly gespanne op Bernard. Toe hy sien hoe lekker die amptenaar weglê, trek hy met al sy griewe los. Bernard eet die laaste een op en sit nog met die nasmaak van die smeltlekker koekies in sy mond toe hy sy hande met ’n besliste gebaar op sy knieë plaas.

“Kyk, Hendrik, die saak staan so. Jy weet net so goed soos ek dat die staatskas ’n vlak bodem het. Jy sal moet help span aan daardie draad. Die beste oplossing gaan natuurlik wees om ’n dubbele heining te span . . .”

“Grieta het ook so gesê,” beaam Hendrik met toenemende geesdrif en sy groot hande beduie saam.

“Het sy? Maar dan is sy mos ’n vrou met visie, Hendrik. Dalk werf ek haar nog om vir die staat te kom werk.”

“Ek sal die kompliment oordra, dok Bernard!” lag Hendrik.

“Laat ek dit sommer self doen, jong. Waar is Grieta dan?”

“Sy lê ’n bietjie,” antwoord Hendrik haastig. “Kry mos dikwels skeelhoofpyn.” Dit lyk asof hy tot elke prys wil voorkom dat Bernard by Grieta inloer.

“Foei tog. Nou sê maar groete en beterskap, hoor.”

“Gaaf, kom ek gaan wys jou my koring . . .”

Toe hulle kwalik tien minute later in ’n groen koringland staan met die son op hul koppe en bruin voorarms, merk Bernard dat die dokter se bakkie met die grondpad verbyry opstal toe.

“Sien jy nou,” sê Hendrik asof die ander man met hom gestry het. “Daar gaan die dokter nou vir Grieta inspuit.”

“Hoop dit help,” antwoord Bernard. Hy frons toe hy ’n hand vol blare op sy palm hou. “Lyk na bruinaarsiekte. Die bruin spikkels op die blaar is waar die chlorofiel al vernietig is. Jy sal met ’n swamdoder moet spuit. Maar kry liewer ’n plantpatoloog ook om raad te gee.”

Maar toe hy na Hendrik kyk, sien hy dat hy voorlopig vrede het met bruinaarsiekte. Hy tuur met oë op skrefies huis se kant toe waar dokter Viljoen se bakkie onder die wilg langs die huis staan.

Nou ja, dink Bernard, hy is seker maar bekommerd oor Grieta. Dalk is sy selfs sieker as wat hy sê. Hy probeer nogtans weer: “Jy sal moet spuit, Hendrik. Die aaropbrengs gaan kwaai benadeel word as jy dit nie gou doen nie.”

“Natuurlik, natuurlik,” sê Hendrik gejaag. “Nou ja, dankie, dok. Ek voel nou beter oor die draad en die koring. Ek wil maar liewer huis toe om te hoor wat die dokter sê,” en hy stap haastig weg.

Terug in sy eie kantoor vergeet Bernard van die Malans. Die inhokkie op sy lessenaar staan toringhoog en hy spring aan die werk om alles weer weg te kry. Daar is ’n kragonderbreking by een van die groeikabinette en hy moet ’n paniekbevange student help om die noodkragopwekker weer aan die gang te kry of maande se werk aan sy proefskrif kan binne tien minute daarmee heen wees.

Die middag ontvang hy ’n besoekende professor van die Oregon-staatsuniversiteit en eers toe dié weg is, kan hy weer aan sy eie werk aandag gee. Hy werk tot sy skouers stram en sy oë moeg is.

So ja, dink hy tevrede, nou kan ek rustig ’n vleisie op die kole gooi en agteroor sit. Dalk roei ek nog ’n entjie op die dam. Dit sal nog lank lig wees. Dit is dan nou eers sesuur.

Maar dit is toe hy met ’n skimp die onpersoonlike digitale syfers van sy lessenaarhorlosie sien dat hy doodstil bly staan. Dit is nie net sesuur nie, sien hy, dit is ook vandag die vyftiende dag van die elfde maand, die dag waarop hy veronderstel is om Lindie van Velden te vergesel na die muurbalklub se jaarlikse geselligheid.

Sy voete kry vlerke. Hy hol die leë gebou uit, al met die pad af huis toe en vergeet skoon om soos ander aande te kyk na die wonderlike uitsig oor die skemerpers dam. Hy sien nie die hadidas wat verskrik en skreeuend opvlieg van die groot grasperke toe hy verbyhardloop nie. Hy is skoon die kluts kwyt. Hy gaan laat wees en boonop het hy vergeet om vir die meisie ’n blommetjie of iets te bestel. Nou sal hy nog by die kafee ook moet stilhou om vir haar ’n doos sjokolade te koop.

Teen die tyd dat hy voor die siersteenkoshuis van die groot skool teen die rantjie stilhou, is hy behoorlik omgekrap. Hy verafsku dit om dinge te vergeet en om te jaag. Nou is hy ruim twintig minute laat ook. Genoeg om enige meisie se bloed te laat kook.

Hy is oneindig verlig toe hy haar in die koshuisportaal inwag en sy met ’n glimlag te voorskyn kom. Sy lyk baie mooi. Haar swart hare lê blink om haar kop en haar donker oë kyk hom vriendelik aan.

“Hallo, Bernard. Moenie so skuldig lyk nie, hoor! Ek wed jy het ons afspraak vergeet.”

“Ek het, ja,” erken hy eerlik. “Dis onvergeeflik van my.”

“Nou ja,” lag sy spottend, “solank jy berou het, is alles reg. Altans, dis wat my ma altyd gesê het wanneer ek stout was.”

Hy lag net, neem haar aan die arm en stap uit voor die groepie nuuskierige toeskouers verder kan aangroei. Toe hy haar in die motor help, sê hy: “Jou ma het jou baie mooi grootgemaak. So vergewensgesind en tegemoetkomend. Sê my, is jy altyd so?”

Sy oordink die vraag; antwoord eers toe hulle by die skoolhek uitry.

“Ek dink dat ek altyd tegemoetkomend is, ja. Maar wat vergewensgesindheid betref, het ek nog nie by sewentig maal sewe gekom nie. Miskien kry ek dit eendag reg as die genade baie groot is . . .”

Hy blik verras na haar. Dan is sy nie net oulik nie, dink hy, maar diep ook, en hy lig sy hand van die stuurwiel en raak haar wang vlugtig aan.

“Ek hou van jou, Lindie van Velden.”

“Dankie,” glimlag sy ingenome en strengel haar vingers inmekaar op haar skoot.

“Jy lyk baie mooi ook, juffrou Van Velden. Rooi pas jou. Agter op die sitplek lê daar vir jou ’n doos sjokolade waarmee ek jou guns wou koop. Dankie dat ek dit nie hoef te doen nie.”

“Doktor Linde,” antwoord sy met haar mooi, welluidende stem, “as dit elke keer so aangenaam is om jou te vergewe soos dié keer, sal ek dit stellig aanhou doen.”

Maar hy skud sy kop heftig.

“Dit sal nie nodig wees nie. Ek sal van nou af altyd betyds wees.”

“’n Man van haastige beloftes,” terg sy hom toe hulle voor die Royal-hotel stilhou, en die woorde kwets hom so dat hy liewer niks verder sê nie. Sy is dalk reg. Hy praat asof daar nog ’n klomp kere gaan wees. En waarom nie? vra hy homself ergerlik af. Ander mans van my ouderdom is lankal getroud. Party is al pa ook. Ek kan ook ’n verhouding met welslae aan die gang hou, veral as my ma in Pretoria is en nie kort-kort sake probeer vooruithelp nie.

“Kom,” sê hy net toe hulle uitklim. Toe hulle by die voordeur van die hotel instap, onthou hy met ontstellende helderheid hoe hy die vorige aand die vreemde vrou se tasse vir haar hier ingedra het. Hy verbeel hom dat hy weer die geur van haar parfuum kry – warm en fluweelsag. ’n Mengsel van frangipani en ander blomgeure, het hy toe gedink. ’n Eksklusiewe geur.

’n Oomblik lank het hy die behoefte om Lindie van haar te vertel. Maar hy stuit die woorde betyds. Wat is daar nou om te vertel? flits dit deur sy kop toe hy saam met haar deur die portaal na die onthaalvertrek stap. Daar het eintlik niks gebeur nie. Niks wat ’n oorvertellery regverdig nie.

Toe hulle almal gegroet het en elk met ’n glasie sjerrie in die hand staan, leun hy oor na haar.

“Hou jy van parfuum?” vra hy onverwags.

Sy is klein en moet haar kop lig om mooi in sy gesig te kyk. Sy lyk effens uit die veld geslaan.

“Waarom wil jy weet?”

“Nou ja . . . ek wil maar solank vasstel waarvan jy hou. ’n Mens weet nooit wanneer verbreek ek dalk weer my belofte en moet ek jou guns probeer koop nie.”

“Haastige beloftes, nè?” sê sy weer en wys speels met ’n vinger na hom. “En waarom juis parfuum? Wat weet jy buitendien daarvan?”

“Nogal baie,” antwoord hy gemaak gekrenk. “Ek is die enigste kind en my ma het tyd gehad om my baie dinge te leer.”

“Ag so? Dan is jy nie net ’n akademikus nie; nog ’n fynproewer ook?”

“Jy kan maar so sê, ja,” knik hy plegtig.

Haar wenkbroue lig en sy pruil.

“Ek sien jy glo my nie, Lindie. Ek sal dit maar moet bewys. Kyk, die jongste parfuum op die mark, dis nou van die huis van Jean-Louis in Parys, is Angelique. Stry?”

Haar mond gaan van verbasing oop.

“Nee, ek stry nie . . .”

“En nog meer: Angelique is natuurlik so genoem om iets engelagtigs in die samestelling van ’n vrou te suggereer. Boonop is dit ’n baie subtiele mengsel van frangipani, magnolia en sekere seldsame naglelies. Almal wit blomme. Die idee wat dit moet oordra, is dié van reinheid en onaantasbaarheid.”

“Wag!” roep sy halt met ’n klein handjie in die lug. “Het jou ma jou dit geleer?”

“Ja, sy het die proses aan die gang gesit. My alles van reukwater vertel. Op ’n toer saam met haar en my pa het ons een keer die suide van Frankryk besoek. Grasse se laventelvelde en dies meer. Daar het my eintlike belangstelling ontstaan. Daar is ’n hele sielkunde verbonde aan die parfuumbedryf, weet jy?”

“Hm, dis gewis interessant. Maar gaan iets van die misterie van parfuum nie verlore nie as jy dit so . . . so klinies ontleed?”

“Kom ons dink daaroor na,” sê hy ernstig. “Ja, tog. Vat nou maar koring. Dis ’n gewas wat my bekoor. Om in ’n geelryp koringland te staan met die son op jou vel, is wonderlik. Dan moet die wind nog net opsteek sodat die are begin golf en jy die geur van ou hout kry. Ek sê jou, dis ekstase.”

“Sien!” sê sy triomfantlik en haar donkerbruin oë glim, “jy het dit nie ontleed nie. Jy het jou net oorgegee aan die herinnering van so ’n oomblik in ’n goue koringland.”

Hy blik haar effens verbaas aan.

“Ja,” sê hy oplaas. “Dis waar . . . Dan het jy iets beet. ’n Mens moet ’n besliste onderskeid tref tussen wetenskaplike ontleding – wat ek terloops ook baie geniet! – en ’n oorgawe aan genot.”

“Nie genot nie,” sê sy ferm. “Dis meer as dit.”

“Ja,” antwoord hy geesdriftig, “so iets is suiwerder as genot. Dis . . .”

“Geluk. Dis wat dit is. ’n Mens is op so ’n tydstip byna volkome gelukkig. Alle ander dinge vervaag.”

Tot sy oë lag saam.

“Jy’s reg!”

Hy neem ’n slukkie van die sjerrie, tuur ’n oomblik in die glasie en sê toe: “Ek is bly ek het jou leer ken, Lindie. Waarom het ons nog nie voorheen so gesels nie?”

“Jy was nog nie voorheen laat nie. Berou doen iets aan jou!”

Hy lag lekker, en toe hulle saam met die ander by die keurig gedekte tafels gaan aansit, is hy volkome ingestem vir ’n heerlike aand.

Toe hy haar laat die aand by die koshuis gaan aflaai en sy uit die motor wil klim, hou hy haar lig aan die arm teë.

“Mag ek jou soen?” vra hy sag, en toe sy woordeloos knik, kelk hy haar gesig in sy hande en soen haar voorkop, haar wange en haar mond asof sy ’n klein dogtertjie is vir wie die nagsê ’n ritueeltjie is.

“Jy het my nog nie gesê watter parfuum jy verkies nie,” sê hy sag.

“Nie Angelique nie,” glimlag sy en raak skugter met haar vinger aan die kuiltjie in sy ken.

“Wat dan?” vra hy geïnteresseerd en leun agteroor.

“Ek . . . weet nie . . . Miskien kan jy my sê. Ek is nie werklik op die hoogte met dié dinge nie . . . enne . . . eintlik behoort ek te wees . . .”

“Jy is op die hoogte van alles wat saak maak, meisietjie,” sê hy. “Hierdie ander dinge is sommer net ’n spel.”

“Ek sien . . .” mymer sy. “Jy stem dus saam met Balzac.”

“Hoe bedoel jy nou?” vra hy geamuseerd.

“Frans is my ander hoofvak. Ek weet wat Franse skrywers alles gesê het. Balzac het beweer flankeer is ’n wetenskap.”

Hy frons.

“En jy dink ek flankeer met jou?”

Sy knik.

Hy lag.

“Jy is weer eens reg. Maar een ding moet jy onthou, Lindie, ek pak alles in die lewe met erns aan. Glo my maar . . .”

“Ek glo jou, doktor Linde. Maar nou moet ek gaan. Môre moet ek weer skoolhou, en . . . wat die parfuum betref, moet dit eksoties wees. Dit moet my laat dink aan ’n sonnige eiland en aan warm, blou waters . . .”

“Speserye,” sê hy. “En ’n sweempie ilang-ilang.”

Die woorde bly haar by, bekoor haar, sodat sy stil haar kamer binneglip en in die donker op die bed gaan sit met haar beste rok en al. So kry haar twee vriendinne, Karien en Hannah haar.

“Wat sit jy so?” wil Hannah dadelik weet en skakel ewe prosaïes die lig aan sodat Lindie haar oë vinnig knip.

“Jy kan mos sien hoekom sy so sit,” sê Karien en sak op die stoel by die lessenaar neer. “Die man het haar in sy mag, dis duidelik.”

“Ag, loop slaap,” glimlag Lindie en staan traag op om te begin uittrek. Hannah val skuins op die bed neer en betrag haar aandagtig.

“Hm, ek sien nou ook wat Karien sien. Jy het die skoot hoog deur en ook nie van vandag af nie. Dis net vanaand sigbaarder.”

“Ek wens julle wil ophou,” sug Lindie. “Ek en Bernard Linde het bloot saam ’n geselligheid bygewoon.”

Lindie stroop die rooi rok van haar af en binne ’n paar oomblikke het sy ’n ligroos nagrokkie aan. Sy lyk bitter jonk, en Karien sug hoorbaar toe sy sê: “Moenie vir ons kwaad wees nie, Lindie. Kom sit en luister.”

“Ek sal, ja,” glimlag Lindie en gaan sit langs Hannah. Sy krap in haar bedkassie se laai, haal ’n groot stuk sjokolade uit en breek dit in drie dele.

“Hier, eet dit op, want ons het nog ’n hele doos vol. Bernard het dit vir my gegee. Ek weet wat julle wil sê. Doktor Linde is ’n deurtrapte oujongkêrel. Wat laat jou dink dat hy nou ewe skielik sy alleenloperbestaan sal laat vaar? Dink jy werklik dat jy mooier en interessanter is as al die ander meisies wat hy voor jou die hof gemaak het?”

Hulle weet eintlik nie wat om te sê nie. Sy glimlag.

“Ek dink dit nie, hoor. Ek weet nie waarom Bernard my nou juis uitgesoek het nie. Dit kon ewe goed een van julle gewees het. Volgens hoorsê het hy nog nooit enige meisie langer as drie of vier maande uitgeneem nie. Ook nie op universiteit nie. ’n Joolkoningin, ene Marina Britz, het glo die langste rekord as metgesellin van die hartebreker, Bernard Linde. Hy het vier maande lank met haar uitgegaan. Hy het haar selfs huis toe genooi en sy het ’n paar naweke by hom en sy weduweemoeder deurgebring. Dié verhouding, of wat ’n mens dit ook al wil noem, het skielik geëindig nadat mevrou Linde by ’n teepartytjie laat blyk het dat Bernard nou eindelik tot rus gekom het. Interessant, nè?”

Die ander twee sit haar muisstil en aanhoor. Oplaas fluit Hannah onvroulik.

“Waar hoor jy dit alles?”

“Navraag gedoen. Ek het toevallig eendag besef dat ek en Bernard ’n gesamentlike vriendin het. Hy weet dit nie, maar sy ou skoolvriendin, Anne Fourie, is ook ’n goeie vriendin van my. Ek het haar leer ken toe sy en my broer ’n ruk lank uitgegaan het. Sy het my alles van Bernard vertel toe ek haar uitgevra het. Toe maar, sy het my ook gewaarsku. Maar helaas, my liewe, welmenende vriendinne, haar waarskuwing, soos julle s’n, het op dowe ore geval. Ek is dol verlief op doktor Bernard Linde.”

Daar sak ’n geskokte stiltetjie neer. Hannah verslind drie blokkies sjokolade sonder dat sy dit werklik agterkom. Karien sit verslae terwyl die sjokolade in haar hand smelt.

“Nou ja . . . ek neem jou nie kwalik nie. Die man is verskriklik aantreklik. So groot en bonkig. En dan die gitswart hare en blou oë. Dis genoeg om enige vrou die kluts te laat kwytraak,” sê Karien oplaas.

“Hou jou in,” vermaan Hannah. “Ons is hier om die vuur te blus, nie om olie op die vlamme te gooi nie.”

“Skryf jou leerlinge môre toets oor idiome?” vra Lindie skalks en knipoog vir Karien. Dis genoeg om hulle al drie aan die giggel te sit, en teen die tyd dat hulle klaar gelag het, is Hannah sommer ergerlik.

“Dis g’n grap nie! Ek sal jou elke keer teen Bernard Linde waarsku. Sy soort trou nooit, glo my.”

“Dalk is jy reg, Hannah,” sê Lindie met ’n sug. “Dalk verspil ek my tyd. Maar ek gaan nietemin probeer. Ek kan ook nie anders nie. Elke spesie is trou aan sy aard, en my gene is van die soort wat nie moed opgee nie. As ek ’n plant was, sou ek seker ’n olieboom gewees het. Sy saad kan glo jare lank lê en dan eers . . .”

Sy bly ’n rukkie stil.

“Ek weet,” sê sy eensklaps doodmoeg. “En die saak is al so ver heen dat ek nie meer daaroor kan redeneer nie. Ek wil hom net hê, dis al. Ek sal wag en wag tot hy dit besef en my ook wil hê!”

“O hemel,” sug Hannah, vat ’n hele hand vol sjokolade en verorber dit stilswyend. Oplaas sê sy net: “Nou ja, my skouer sal hier wees as jy dit dalk nodig kry!”

“Dankie . . .” prewel Lindie half ingedagte, trek haar knieë tot by haar ken op en vou haar arms daaromheen. “Maar dalk is dit nie nodig nie . . .”

“Natuurlik nie,” paai Karien en tik haar vrolik onder die ken. “Jy gaan die vrou wees wat hy op langelaas nie kan weerstaan nie. Jy moet net die sagte plek in sy harde hart vind, jong!”

Bernard sit in die donker op die stoep en koffie drink en hy oordink die verloop van die aand. Polka en Masurka lê by sy voete met kwispelende sterte. Hulle hou elke beweging van hom stip dop. Af en toe smak hy sy lippe en dan spring hulle opgewonde op om maar net weer terug te sak as dit blyk dat hy nie wil gaan stap nie. Oplaas sit hy die leë koffiebeker op die stoepmuurtjie neer en sug diep.

Dit was tog lekker, dink hy gelate. Lindie is mooi en vroulik en intelligent en die gesprek het ’n heel interessante wending geneem, deure oopgemaak na nog sulke gesprekke en wie weet wat nog. Ek moet haar maar leer ken, dink hy. Maar die vooruitsig stem hom lusteloos. Dit is kompleet asof ek iemand is wat ’n spogplaas geërf het en nie juis lus het vir boer nie, dink hy wrang.

Hy sit ’n rukkie gedagteloos. En toe, soos iets wat stil in die donker bly wag het op so ’n oomblikkie van gemoedstilte, kom ’n ander gedagte by hom op. Eintlik ’n herinnering: die skemer kajuit van sy motor en ’n vrou langs hom wat fyntjies kolwyntjies eet. Skraal vingers wat die krummeltjies afstof . . .

Hy staan van sy stoel af op. Wat het tog van dié mens geword? wonder hy eensklaps ongelukkig en draai om om liewer maar in te gaan.

Anderkant die vloedwaters

Подняться наверх