Читать книгу Tiendes van silwer - Helene de Kock - Страница 3
1
Оглавление“Het jy dalk vir my ’n potskerf?” vra Keppie met sy gesig na die muur gekeer. Hy lê al van gisteraand af en staar na die plakkaat van ’n bloedjong Grace Kelly bo sy koshuisbed. Vergeet maar van Julia Roberts en die Pfeiffer-vroumens, sê hy altyd – dáár’s nou vir jou ’n ware Pretty Woman!
Pietman de Waal sug innerlik waar hy voor die venster staan en afkyk op die diepgroen grasperk tussen die twee manskoshuise. Toegegee, dink hy, Grace Kelly was baie mooi, maar dis nie die punt nie. Nee, hy ken mos daai potskerf-storie van ou Keppie. Elke jaar dié tyd soek hy die spreekwoordelike potskerf om die rou sere wat sy toetspunte laat, mee te krap. En elke jaar is Pietman se antwoord dieselfde: Nee, swaerie, jy moes die rampspoed sien kom het. Nou is daar nie eens ’n ashoop naby nie. Al wat jy kan doen, is om jou oudste T-hemp te skeur en daai asbak vol stink stompies op jou kop om te keer. Dalk sien ou prof Henning dit as ’n teken van berou of iets.
Miskien, dink Pietman nou, moet hy Keppie dié jaar anders benader. Hy self het eintlik nie meer raad met hierdie pêl van hom nie. Keppie is die goedheid self; hy is eerlik en lojaal, maar so sonder woema soos ’n pap flitsbattery. Dís nou wat sy akademie aanbetref. Op alle ander gebiede leef hy dat die vonke spat. Maar feite is feite: Keppie sleep Fisika 1 al drie jaar lank en soos wat dit vir Pietman lyk, ken hy nog nie die verskil tussen swaartekrag en sonsverduistering nie. Maar van sterre tel, weet hy als!
“Keppie,” sê Pietman ongeduldig, “lig jou uit die velle en begin swot. Ek is nou keelvol vir jou gekerm.”
“Ekskuus dat ek leef,” brom Keppie net en trek sy kop met die laken toe. Maar Pietman is op dreef.
Buitendien, as hy ’n ding wil sê, dan sê hy hom en dan kan wie ook al nou maar vies wees.
Hy loop pluk die duvet van sy kamermaat se swart krulle af. Keppie se oë vlieg oop en hy veer orent.
“Is jy befoeterd, my ou?” wil hy weet. “Géé my goed!”
“Nee,” antwoord Pietman bedaard, tree vorentoe en gooi die beddegoed met ’n boog by die oop venster uit. Maar hy weet mos hoe vinnig Keppie is en die duvet het nog nie op die grasperk onder beland nie toe is die man al op hom en hy keer die hou net betyds met ’n voorarm weg. Dis net arms en bene soos hulle oor die koshuisvloer rol. Maar hulle ken mekaar se baklei. Hulle is nie verniet al drie jaar lank kamermaats nie. En vanoggend is hulle gou moeg; bly sommer in ’n hopie op die mat in die middel van die vloer lê. Dis Keppie se mat wat hy glo by sy groottante geërf het en dit bestaan feitlik nog net uit fraiings.
“Klim af van my mat af,” sê hy dikbek, “en loop haal my beddegoed.”
“Ek sal dit oorweeg,” sê Pietman en strek hom lui uit, “maar dan moet jy begin leer, swaerie. Jy gaan wragtig nooit graad vang nie!”
Keppie se donkerbruin oë blits meteens onder die woeste kuif en dit lyk of hy hom moet inhou om nie weer ’n hou na Pietman te mik nie. Toe blaas hy sy asem hard deur sy neus uit, sy kleur hoog.
“Luister, pêl, my akademiese welstand is my saak en net myne. Verstaan?”
“Nee!” sê Pietman driftig. “Ek verstaan nie waarom jy niks aan die saak doen nie! Swot en kry klaar!”
Keppie trek sy sterk vingers deur sy lang nekhare en kyk speurend na Pietman. “Jy weet, my ou, jy klink nou nes my stiefma. Sy wil ook altyd hê ek moet klaarkry. En ek is nie lus nie. Dis lekker op die kampus. Die lewe hier pas my.” Daar is iets soos uitdaging in die groot donker oë wat hy op Pietman rig en ’n oomblik verstom dit sy vriend werklik. Dis nie Keppie dié nie, dink hy. Hy is nie soos gewoonlik net sommer vies omdat hy aangespreek word nie. Daar is iets anders fout.
“Wassit met jou?” vra Pietman en stut homself op een elmboog sodat hy met oorgawe kan luister.
Keppie sit regop en slaan sy arms om sy opgetrekte knieë, sy mond saamgepers. “Ag, dis sommer niks. Eintlik moet ek dit maar net doen en klaarkry.”
“Wat?” por Pietman, nou nogal geïnteresseerd. Keppie lyk werklik omgekrap.
“Huis toe gaan,” sê hy sugtend. “Vir die hele naweek.”
“O . . . ek sien,” sê Pietman. Nie dat dit die waarheid is nie. Nee. Maar hy weet mos dit gaan nou niks help om verder iets uit Keppie te probeer kry nie. Hierdie huistoeganery van hom is al van hul eerste jaar af ’n netelige kwessie. Hy sê niks en ’n mens moet hom liewer ook nie uitvra nie. Toe een van hul vriende hom destyds speurend begin uitvra het na sy herkoms, het hy kort en kragtig gereageer: “Kyk, man, ons is van die gewone Fouries. Dié sonder ’n stamboom. Hoe ons grootvaar aan die suidpunt beland het, weet ek nie en ek stel ook nie belang nie. Al wat tel, is dat ek, Keppie Fourie, nou hier op Tuks is. Orraait?” En toe die knaende mannetjie nog wou karring, het hy hom voor die bors aan sy Disneyworld-T-hempie vasgevat en geskud-skud. “Luister, my ou. Ek gaan dit net een keer sê. Ek en my soort is nou nie agterlik nie, maar ons is eenvoudig. En ons het nie geld nie. My beursie is leeg – soos in boomskraap. Ek is hier omdat my oorlede ma se tante daarvoor sorg. Afgesien van my kewertjie, besit ek zero. Dus is ek die vrygewigste ou op kampus. Ek het niks om uit te leen nie en daarom bied ek alles gratis aan!”
Die ou het sy duur T-hempie uit Keppie se vingers losgeruk en woedend gesê: “Ek het niks nodig nie, Fourie! My pa sorg goed vir ons!” En toe die kring se belangstelling luiweg in sy rigting draai, het hy sy meerkatgesig in Keppie s’n gedruk en gesmaal: “My pa dien in die topbestuur van hierdie land se vervoerwese, ou pêl, en ek ry ’n BMW!”
Die mannetjie is op die plek uitgejou, want sy mond was hopeloos te groot. Maar Keppie het hom meteens met byna kameraadskaplike vriendelikheid betrag en gesê: “Nou toe nou! Dat ons nou soveel gemeen moet hê, nè? My outoppie bestuur mos ook. Jy kan maar sê hy is ook in die vervoerwese!”
Die manne wou hulle breek. Blykbaar was dit net die meerkat wat nog nie geweet het nie: Keppie se pa werk op die paaie. Dit het die meeste van hulle al tydens oriëntering uitgevind toe die seniors wou uitvis wat almal se pappies vir ’n lewe doen – indien een van hulle dalk ietsie op die kampus doseer. Keppie het hulle dadelik gerusgestel. Sy pappie is geensins ’n pretbederwer nie. Sy werk is om te sorg dat almal sonder hobbels kom waar hulle moet. Seepglad van punt A na punt B. Dis so eenvoudig soos dit.
Nee, Keppie dra sy herkoms met ’n vrolike glimlag – solank niemand te veel uitvra nie. Dis hy wat Pietman is wat ongemaklik was toe hy moes sê dat hy nie ’n pa het nie. Oorlede toe hy tien was. Maar hy was ’n dokter. Dit help, die ding dat sy pa darem iets was, so het hy homself al meermale probeer troos. Want die ou bekende, hol gevoel het steeds in hom kom lê as hy ander ouens saam met hul pa’s sien. Soms beny hy selfs vir Keppie. Padwerker ofte nie. Hy hét immers nog ’n pa. Iemand op wie se skouer hy kan leun. Al is die iemand nie juis ’n iets nie.
Partykeer wil-wil Pietman hom skaam as hy so aan die man dink, maar dan luister hy maar soos die ouens praat en hy besef al hoe meer: Geld praat en posisie imponeer. En ’n man is op universiteit om die een of albei dinge te doen: om te leer hoe om met geld te werk sonder dat dit opraak, en om so slim te raak dat ander mense jou as diplomaties beskou.
Hy bekyk Keppie soos hy daar sit met die wêreld se gewig wat sy fris skouers afrem. Hy klik met sy tong.
“Jy weet, pêl, jy maak die lewe vir jouself onnodig moeilik. Gaan ’n slag huis toe en geniet dit. Wie weet hoe lank jy en jou pa mekaar nog het.”
Keppie se blinkbruin oë skuif nadenkend na sy kant toe. “Jy weet nie hoe baie dink ek daaraan nie, Pieta. Maar dit maak dit nog nie maklik om huis toe te gaan nie.” Hy spring meteens op. “Ek gaan nou maar my beddegoed haal en stort aangesien jy my rus so verstoor het. Kyk dat niemand aan my plakkaat vat nie, hoor!”
“Goed,” beloof Pietman laggend soos elke ander oggend. Vandat een van die ouens vir Grace Kelly ’n snor geteken het toe Keppie een nag om twaalfuur ’n aria onder die stort gelewer het, is hy paranoïes oor sy plakkaat. Dis ’n ander ding wat Pietman nie so mooi verstaan nie. Keppie het Grace se swart snor een kyk gegee en brullend die gang afgestorm, deure oopgestamp en moontlike verdagtes se beddens met een haal van sy kragtige boarms omgedop. Toe het hy spierwit en bewend in die middel van die gang gaan staan en skreeu: “As een van julle blikslaers weer aan die prinses raak, sal ek sy strot uitruk en dit aan sy ma pos! Vat aan haar en jy is dóód!”
“Hemel, Keppie,” het Pietman verslae gesê, “’n mens sou sweer die vroumens leef nog en jy’s verloof aan haar!”
“Sjarrap!” was Keppie se antwoord en hy het hom op sy bed neergevel en heelnag met die kussing op sy kop geslaap. Die volgende dag het hy ’n nuwe plakkaat van Grace Kelly loop soek – die een wat nou bo sy bed hang en waarin die mooi vrou ’n outydse, maar asemrowende eenstuk aanhet. Dis uit een van haar rolprente geneem en Pietman moet toegee dit laat ’n man kyk. Maar tog, dit bly vreemd dat ou Keppie half histeries raak as ’n mens net met ’n vinger op die plakkaat druk. Die ouens terg hom baie, maar om die een of ander duistere rede het niemand nog weer met ’n viltpen naby Grace gekom nie. Miskien omdat dit heeltemal geloofwaardig voorkom dat Keppie se sterk hande ’n strot morsaf kan druk.
Pietman gaan sit op die vensterbank om af te kyk na waar Keppie sy beddegoed op die grasperk bymekaarmaak. Aanmerkings word vanuit die kamers geskreeu en hy skree luiters terug. En Pietman wonder opeens: Wat sal Keppie maak as iemand nou weer aan Haar Hoogheid vat? Hy dink soos blits, pluk die sloop van sy kussing af, hou dit soos ’n sluier net onder Grace se blou oë en druk dit aan weerskante met wondergom vas. Nou is die roomwit skouers bo die swart eenstuk mos mooi toe.
Hy sit ewe onskuldig by sy lessenaar toe Keppie met sy vrag beddegoed inkom.
Daar is ’n doodse stilte, toe gooi Keppie die beddegoed neer en los ’n kragwoord, loop trek die kussingsloop versigtig weg. Toe smyt hy dit na Pietman se kant toe. “Moet dit nooit weer doen nie,” sê hy sag, maar afgemete.
Pietman sit sy pen neer en draai hom dwars in sy stoel. “Dit was net ’n grappie, swaerie. Ek het gedink dis dalk meer kuis om haar hals toe te maak.” Maar toe hy die bleek ring om Keppie se mond sien, weet hy opeens wat hy al lankal vermoed het: Hierdie plakkaat is nie net ’n prentjie nie. Nie vir Keppie Fourie nie. Daar kruip iets weg agter die foto van die beeldskone prinses. Iets wat ’n sterk emosie in Keppie ontketen.
“Toe nou maar,” paai hy. “Ek belowe jou ek sal nie weer nie.”
“Goed,” sê Keppie bot en gryp sy handdoek om te gaan stort.
Hy is skaars uit toe ’n eerstejaar Pietman kom roep. “Daar’s telefoon vir u, geëerde oom De Waal, en ek het solank die gehoorbuis mooi warm gevryf sodat u goed kan hoor.”
“Skoert!” beveel Pietman, opeens niks lus vir dié gekskeerdery nie. Die ontheffing is hoeka verby en hy is buitendien moeg vir die post-matriekmannetjies se uitbundige geesdrif. Dis of die eindeksamen hulle ontsenu en dan swel hulle uit hul nate. Pleks dat hulle stilbly en swot.
Ek word oud, dink Pietman toe hy gangaf loop telefoon toe. Pret is nie meer wat dit was nie. Dis nie meer snaaks dat Keppie so droogmaak nie en die eerstejaars verveel hom. Miskien, dink hy toe hy die gehoorbuis optel, is ek net moeg.
“Pietman? Sjoe, maar julle kan ’n mens laat wag!”
“Jammer, Ma,” paai hy. En toe, met ’n onverwagte flikkering van besorgdheid: “Ma klink gedaan. Is als reg?”
Daar is ’n kort stilte en dis of hy haar kan hoor asemhaal. Maar sy lag haar sagte keellaggie. “Ja wat, jong. Solank ’n mens kos en klere het, kan dit seker nie te sleg gaan nie.”
’n Droë irritasie sprei in Pietman se bors. Sy ma het ’n manier in die laaste tyd om sulke sêgoed kwyt te raak wat haar kompleet nes ’n ou tannie laat klink. En sy is maar skuins bo veertig. Selfs jongmense dink vandag dat veertig nog fleurig is. Sy behoort nog die aura van jonkheid om haar te hê soos wat sy tot onlangs toe nog gehad het. Maar laas keer toe sy gebel het, het sy ook so iets gesê wat aan hom bly krap het lank nadat sy afgelui het: “Geld en goed is nie alles nie, Pietman. Sonder dit ontdek ’n mens jouself dalk heelwat makliker.”
“Ma,” sê hy skielik benoud, “vir wat praat Ma so asof Ma aan depressie ly? Ek ken Ma mos nie so nie!”
“Ag Pietman,” huiwer sy, “miskien moet ek jou nie daarmee belas nie. Maar . . . dit raak deesdae sommer so skielik eensaam hier by die huis en dan wens ek dat . . .”
Hy is nie seker of hy haar woorde mooi begryp nie en sy klink so geheel verlore dat hy vinnig vra: “Hoekom vra Ma nie vir Oupa om ’n bietjie te kom kuier nie?”
“Ek het al. En Oupa kom dié naweek.” Sy aarsel weer voordat sy versigtig vra: “Pietman, wil jy nie ook maar huis toe kom nie?”
“Goed,” willig hy dadelik in. “Mag ek dan maar vir Surita saambring? Sy kuier altyd so lekker by Ma.” Dié vegie met die heuningkwas is nodig, glo hy, want sy ma en Surita het mekaar nog nie heeltemal gevind nie. En hy besluit om dit aan te dik: “Sy sê net nou die dag dat sy Ma se geselskap stimulerend vind.”
“Werklik? Ek, weer, het die indruk gekry dat ons maar nog voel-voel kuier. Maar dit daar gelaat. Ek sal dit waardeer as jy die naweek alleen kom, Pietman. Ek het jou nodig.”
Hy onderdruk die onmiddellike ergernis wat in hom opstu, maan homself om begrypend te wees. Sy ma is oupa Murray se enigste kind en sy het haar man vroeg verloor. Hoe lank sê Oupa nou weer duur verdriet? Vir altyd. Soos ’n skadu bly dit by jou om soms genadig weg te raak tot die dag dat die son jou weer vaskeer. Dan is dit ál onder jou voete. Wegkom kan jy nié.
“Goed, Mams,” willig by half moedeloos in, tref op ingewing ’n kompromis: “Maar ek kom eers Saterdag. Ek en Surita is na ’n partytjie genooi. Professor Henning se seun word mondig.”
Toe hy terugdrentel kamer toe, draai los flardes van die gesprek in sy kop rond. Hy voel opnuut kriewelrig. Hy het minstens twee maal ’n halwe waarheid gepraat: Surita dink allermins sy ma is stimulerende geselskap. Sy sê wel pront dat Anita de Waal ’n mens op jou tone hou. Sowat van ’n geskerm met woorde het sy lank laas teëgekom. En Surita behoort te weet. In haar sielkundestudie leer sy glo heelwat van ingewikkelde mense. Sy sal wel kan ontleed waarom ’n skatryk vrou soos sy ma skielik neuroties raak oor blyplek en kos. Dis absurd as jy daaraan dink dat haar enigste seun ’n rooi Duitse sportmotor ry en sy self nie skroom om gou op ’n vliegtuig te spring iewers heen nie. Wat hom op ’n ander gedagte bring: Hy en Surita vlieg oor minder as drie weke Parys toe. Sy het familie daar en dié het hom saamgenooi om Kersfees by hulle deur te bring. Spesiaal gebel om die sakie persoonlik te skik. En toe’t sy ma nie besware gehad nie. “Gaan maar wat,” het sy onbelangstellend gesê. “Ek en oupa Murray sal maar so saam-saam Kersfees hou.”
Surita het maar floutjies hierop gereageer: “Ja wat, dan sal sy mos nie te alleen wees nie, jong. Sy voel dalk net ’n bietjie bedreig omdat jy nou hierdie Kersfees saam met my gaan wees.”
“Ek glo nie,” het hy geskerm, vies gewens dat Surita hom nie so in ’n hoek wou dryf nie. Of dalk was dit sy ma wat hom hoek toe wou keer. Hy weet nie. Hy weet net dat hy nie van die gevoel hou nie. So asof die twee vroumense in sy lewe net ’n bietjie te naby aan hom wil kom. En ook dit klink belaglik. Want Surita is ’n droommeisie en sy ma is die liefste ding. Partymaal verstaan hy homself ook nie mooi nie.
By die kamerdeur steek hy vas. Keppie staan voor die Grace Kelly-plakkaat – sy rug nog blink van die waterdruppels; ’n handdoek om sy onderlyf. Met ’n voorvinger stryk hy saggies oor die prinses se halslyn, so teer asof hy die vrou lyflik by hom het en sy hom toelaat om in eindelose verwondering aan haar borste te raak.
Dit word opeens koud in Pietman. Dis asof hy op private eiendom oortree. Hy koes geluidloos in die gang in, byt sy lip vas. Hy het gesien wat hy nie moes sien nie: ’n man se diepste, mees intieme versugting. Iemand anders sou dalk nou die kamer ingebars het en die oomblik in skerwe laat spat het. Dis immers ’n manskoshuis dié. Gevoelens word summier oopgespalk en gedissekteer. Emosie is op die oog af goedkoop. Wys hoe jy voel en jou murg word uitgepluk. Maar dit was nog nooit so tussen hom en Keppie nie. Keppie is sy vriend. Tussen die manne skeer hulle ook gek, maar hulle kon nog altyd mekaar se harte respekteer. Daarom is hy so bekommerd. As Keppie ’n obsessie het met ’n dooie prinses, het hy ’n ernstige probleem!
Hy loer skigtig om die kosyn. Keppie staan nog net so, maar dié keer is sy hand laer gekelk om die plat, eendimensionele kurwe van die outydse baaikostuum. En hy praat saggies, sy stem skor. Pietman maak net hier en daar ’n woord uit: “My liefste . . . Hoekom doen jy dit? Ek . . . Weet ook nie!” En toe hy sy hand lig om met een vinger sag oor Grace Kelly se blinkgladde papierwang te streel, fluister hy duidelik: “My engeltjie . . . engeltjie . . . engeltjie . . .”
Pietman tree weer terug in die gang, loop tot by die trappe en kom dan fluit-fluit teruggeloop. Toe hy die kamer binnekom, het Keppie die handdoek in ’n rol gedraai en staan hy sy breë rug met harde skuurhale en afdroog. Sy donker oë kyk skrams verby Pietman terwyl hy hom vinnig aantrek. Toe hy klaar is, sê hy: “Ek gaan biblioteek toe as jy my dalk soek.”
Dankie tog! dink Pietman. As Keppie biblioteek toe gaan, is daar dalk ’n geringe kans dat hy sal studeer. Maar sy hoop word summier platgeslaan. Net voordat Keppie uitstap, draai hy hom om en sy joviale mond trek wrang: “Vergeet dit, Pieta. Ek gaan nie swot nie. Net stilsit sodat ek myself ’n slag kan hoor dink.”
Ons ken mekaar te goed, dink Pietman sugtend toe Keppie uit is. Ons lees mekaar se gedagtes en dis half gevaarlik. Netnoumaar kry Keppie snuf in die neus oor my gewroeg oor Surita. Keppie weet hoeka dinge krap ’n bietjie tussen my en my meisie.
Hy onthou wat Keppie nou onlangs ewe nonchalant gesê het: “Pieta, dis ’n oulike pop daai. Maar jy sal mooi moet dink. As jy haar nie vasvat nie, gaan sy jou lewe vir jou reël.”
Hy het hom nogal vir Keppie vererg daaroor. Miskien juis omdat dit so half waar is. Surita is ontsettend mooi. Sy het ’n lyf en ’n mond wat na ’n man se kop gaan. En sy is gaaf en sy is vrek slim. ’n Dodelike kombinasie. Maar sy is ook dominerend en koppig. As hy nie oppas nie, kry sy die oorhand in hul verhouding. Hy sal nog vir haar die begrip van vyftig-vyftig moet tuisbring. Maar wat, daarvoor is daar nog baie tyd.
Hy loop tot voor Grace Kelly se plakkaat en tuur skreefoog na die beeldskone blonde vrou. Ou Keppie, dink hy, ek wonder wie van ons twee is nou eintlik die lafste. Jy wat gepik is met ’n papierpop, of ek wat spartel in die net van een van die mooiste kampuspoppe. Moenie laf wees nie! betig hy homself dadelik. Jy is nog g’n gevang nie. En dit ís soos jy gedink het: Daar’s baie tyd. As ’n man twee en twintig is, lê die hele lewe mos nog voor. Surita sal dit ook moet besef. Hy wil eers sy LL.B. verwerf voordat hy aan trou dink. Miskien ’n ruk op ’n kibboets gaan werk, in die Andes gaan klim . . .
Hokaai! Net voordat jy dit als doen, moet jy eers B.Proc. deurkom! praat Pietman homself tot voor die boeke. Maar sy gedagtes maal steeds om sy ma. Laas naweek toe hy ook Johannesburg toe was om haar verjaardag saam met haar deur te bring, was sy bleek en afgetrokke: “Wassit tog, Mams?” wou hy later half ongeduldig weet. “Ma hoor nie ’n woord wat ek sê nie!”
“Ek hoor,” het sy sugtend gesê. En toe sonder aanloop: “Wanneer kom jy en Surita terug van Parys af?”
Hy was stomgeslaan. Sy weet tog goed dat dit net na Nuwejaar sal wees. Toe al het hy begin wonder of daar dalk iewers fout is. Dis al maande dat sy ma so afwesig is. Praat oor ditjies en datjies en peper hom dan skielik met ’n vraag wat hom skoon ontsenu.
“Wil Ma nie hê dat ek moet gaan nie?” wou hy ergerlik weet. “Ek weet Ma is nie mal oor Surita nie, maar dan moes Ma vroeër gepraat het. Nou is al die reëlings getref.”
“Natuurlik . . . natuurlik,” het sy haastig gepaai en met ’n skraal hand deur haar kort rooibruin kapsel gevee. Sy het skielik so jonk en weerloos gelyk met haar groot blou oë en sagte mond dat hy week geword het.
“Mamma-lief,” het hy gesê soos toe hy klein was, “is daar iets fout?”
“Nee wat,” het sy met ’n stywe glimlag gesê en opgestaan om sy kuif deurmekaar te krap en hom ’n klapsoen op sy voorkop te gee. “Geniet jou jong lewe, Pietman. Die skroewe word alte gou vasgedraai en dan wurg ’n mens.”
Hy wou dadelik die gesprek ontknoop sodat hy ook kan weet van watse skroewe sy praat, maar daar het mense opgedaag en die deftige meenthuis gevul met glanspraatjies en bolangse filosofietjies sodat hy nie weer kans gehad het om alleen met haar te wees nie.
Miskien, dink hy nou en trek vir die soveelste maal die boek nader, gaan sy ma ’n nuwe fase binne. ’n Vroeë menopouse of so iets. Een van die ouens in die gang het juis nou die dag gekla sy ma is so moeilik. Hy het laas Sondag net ’n uur later tuis gekom as wat hy beplan het en toe kraak sy sommer. Dalk, dink Pietman, moet hy alles oor die menopouse gaan oplees. Hy is dit aan sy ma verskuldig. Hy is al wat sy het. Oupa Murray sal tog nie van sulke goed weet nie, al was hy ’n professor aan die PUK. Daai tyd se professore het net van hul vak iets geweet. En sy oupa s’n was Handelsreg – so ver verwyderd van vroulike kwale as wat ’n muntstuk van ’n kantonderrokkie is.
Nee wat, dink hy en glimlag, van swot kan hy nou maar vergeet. ’n Uurtjie in Surita se geselskap is wat hy nou nodig het.
Binne minute is hy in sy rooi motor met die afslaankap en brul hy deur Duxburyweg dameskoshuise toe. Voor Klaradyn hou by stil, spring uit en draf met die lang stoep voordeur toe om te laat afkondig. Maar sy geduld word soos altyd seer beproef. ’n Volle tien minute wag hy. Toe eers kom Surita. En soos in die sjokoladeadvertensie vermurwe sy weerstand en sy breinselle smelt. Sy glimlag en sy ruik na rose toe sy haar arms om sy nek gooi en hom net daar in die portaal klapsoen.
“Jou wonderlike ding!” sê sy in sy nek. “Ek wens nou net dat jy my moet kom red! O, ek haat boeke as dit buite so mooi is!”
“Jy bedoel as Pretoria so pers is!” sê hy laggend toe hulle uitstap. “’n Jakaranda kan ’n wrede ding wees dié tyd van die jaar, soos ou Keppie sou sê!”
Sy skiet haar lang blonde hare terug oor haar skouers en kyk anderpad. Soos gewoonlik ignoreer sy Keppie se bestaan vriendelik, maar beslis. “Hy pas nie in nie,” het sy Pietman vroeg in hul verhouding al meegedeel. “Daar is soorte en soorte.”
“Jy bedoel daar is padmakers en dan is daar mense,” het hy skerp gereageer. En toe sy nie dadelik antwoord nie: “Surita, ek weet jou pa is een van die rykste boere in die land, maar ’n pa bly ’n pa, al skrop hy vloere.”
Maar sy was gou om teë te kap: “O nee, Pietman. My pa is ligjare verwyderd van ’n man wat ’n padskraper bestuur. Hulle is nie eens in dieselfde sonnestelsel nie.”
Toe hulle in die motor klim en sy haar mond weer vir hom hou om te soen, maak hy gewillig so, maar een deel van sy brein klik toe soos ’n kluis en dáárin – weet hy meteens duidelik te midde van die soet sensasie – bêre hy vir Keppie Fourie. As hy by Surita is, kan Keppie nie by wees nie. En hy weet opeens ook: Hy sal haar nooit, ooit vertel wat hy vandag gesien en gehoor het toe sy vriend voor daardie plakkaat van Grace Kelly gestaan het nie. So ontbloot ’n man nie sy beste vriend nie. Maar toe haar mond dwingend teen syne roer, stoot hy sy hande deur haar syige hare en gee hom oor aan die sensuele genot van haar warm, geurige nabyheid.
Hulle ry na Hatfield Square, skuif by een van die tafels in om koffie te drink. Dis tóé dat hy weer bewus raak van die effense krapperigheid wat daar tussen hulle is. Dalk is dit net eksamenspanning?
Hy kyk na sy meisie – hierdie Surita Otto oor wie die meeste ouens liries raak – en hy weet een ding: So kan dit nie aangaan nie. Hy is mal oor haar, maar daar is dinge wat hy nie met haar kan deel nie. En dis nie reg nie. ’n Vrou moet só wees dat ’n man sy hart voor haar kan oopmaak, so sê sy ma altyd. Of hy dit voor Surita kan doen, weet hy nog nie.
“Ek hoop ons kry die vakansie in Parys baie tyd om te gesels, Surita,” sê hy met ’n sober erns wat haar haar fyn wenkbroue laat lig.
“Natuurlik sal ons gesels!” Sy lag en raak speels aan sy ken. “Maar dis tog seker nie al wat ons sal doen nie!”