Читать книгу Tiendes van silwer - Helene de Kock - Страница 4
2
ОглавлениеPietman trek die swaar voordeur agter hom toe en slaan sy baadjie se kraag op. Dis snerpend koud so vroeg in ’n Parys wat heelweek nog windgrys is. Vanmôre is dit stiller; daar kom geen rukkerige stote om die hoek nie en die lug is ylblou. Maar dis klamkoud soos wat net Parys in Desember kan wees – mistroostig en tog ook wonderlik opwindend. Daar is iets wat aan die blinkgereënde keistene en loodblou dakteëls kleef wat die stad omtower, dink hy en stap straataf in die rigting van die Tuileries.
Surita slaap nog. Hy het net ’n briefie teen haar kamerdeur gaan plak. “Ek het lus om te stap. Sal terug wees vir ontbyt. Liefde, Pietman.” Hy het die briefie eers bekyk, dit opgefrommel en weer dieselfde bewoording neergeskryf, maar sonder die “liefde”. In die plek daarvan het hy net een groot kruisie gemaak.
Hy stap vinniger. Dis of sy gedagtes hom jaag tot binne-in die groot tuine tussen die natbleek standbeelde van konings en kunstenaars. Digby is die grys kolos van die Louvre en verder weg kan hy die vuilbruin spits van die Eiffeltoring sien. ’n Swermpie mossies naby ’n klein dammetjie sketter verskrik weg toe hy nader kom. Daar is nog ’n vars oggendstilte in die park.
Hy gaan sit op ’n verlate bankie onder ’n ry kaal swart eike. Sy blik gly oor die naakte standbeelde van Griekse godinne, volg afwesig die helderrooi sweetpak van ’n flukse drawwer wat girts-girts op dik sole verbygaan. Toe eers laat hy sy kop toe om die gedagtes een vir een uit te pak. Dáárvoor het hy nog maar min kans gekry vandat hy en Surita twee weke gelede by haar familie – die Druets – aangekom het.
Hy sug swaar, maar dis tog of ’n fyn, soet tinteling deur hom trek. Surita . . . Die mees lieftallige meisie wat hy ken. En loshande die mooiste. Die lang blonde hare, vol van die geur van rose. Die blouselblou oë wat ’n man met skerp kritiese intelligensie kan betrag, net om oomblikke later die kyk van ’n volbloednimf te dra. Surita Otto wat skromeloos onskuldig haar sagte, soepel lyf uitbundig teen hom aandruk en haar mond vir hom gee met ’n oorgawe wat baie belofte inhou. En tog vee hy wat Pietman is die liefdewoord uit op daardie briefie en sit ’n kruisie, ’n terloopse soentjie, in die plek daarvan! Hy verstaan homself nie.
Aan die ander kant: Surita het baie fasette. Juis dít prikkel hom. Maar dit maak hom ook onrustig. Sy het ’n magnetisme wat hom voluit vir hierdie verhouding wil laat gaan, maar hy rem weg asof hy erns op ’n afstand wil hou. En hy dink hom dood aan die verhouding. Sy brein werk oortyd – want een plus een het in dié geval allerlei moeilike moontlikhede.
Só maak hy somme – tel op en trek af, maar die boeke wil nie klop nie. Daar is iets wat weg is. ’n Eenvoudige gegewe soos ’n sent of twee wat die kasregister kan deurmekaar maak. En hy kan om die dood nie sy vinger daarop lê nie. Die afgelope jaar al pla dit hom; krap soos ’n allergie van duister oorsprong in sy binneste.
Hy druk sy bevrore hande in sy baadjiesakke en stap stadig aan om by die voetstuk van ’n standbeeld te huiwer. Hy staar boontoe na die vaalgroen, veryste gesig van die skrywer Baudelaire. En hy dink aan gister toe hy en Surita ook hier kom stap het. Die wind was onguur, het gepluk aan haar hare en jas. Hy het geril en luidkeels die slegte weer verwens. Sy het laggend haar geelblonde kapsel vir die wind gegooi.
“Dis omdat jy nie verstaan nie!” het sy gesê. “Die wind kan nie anders nie. Hy moet oor Frankryk waai.”
“Hoe so?” wou hy half oorbluf weet.
Sy het haar handpalms teen sy wange gedruk en haar mooi mond getuit. “Sies tog, jy’t nooit Aardrykskunde geswot nie,” het sy gepruil. “Weet jy dan nie dat daar geen bergreekse tussen Parys en die Noordpool is nie? Daar’s niks wat die wind keer nie. Die wind trek sy asem daar bo by die pool in en blaas alles tot aan die Alpe en die Pireneë plat. En . . . hy gaan my wegwaai as jou sterk lyf my nie verskans nie!”
Onweerstaanbaar! Haar lippe was halfoop en haar geurige hare het om sy kop gefladder. Hy het haar vasgegryp en die wind se stormwoede het sy bloed in golwe deur sy lyf gejaag. Haar warm mond en bewende liggaam het sy wil en wete laat vermurwe totdat hy self soos ’n sneeuvlokkie wou wegdwarrel. As sy tóé gesê het sy wil met hom trou, sou hy ingestem het, sy kop geknik het soos ’n marionet aan toutjies.
Hy swaai hom om en stap weg, deur die smeedysterhekke wat op die Place de la Concorde uitgaan tot op die plein waar die verkeer kolk en maal asof daar skielik ’n karnaval geopen het. Hy druk deur die haastige mense, wens opeens dat hy iewers kan wees waar dit doodstil is.
Hy loop terug na die Louvre, aarsel en koop toe tog maar ’n kaartjie. Al drentelend loop hy, raak gaandeweg los van homself tussen die soms pynlik mooie kunswerke. Hy vergaap hom weer aan Da Vinci se Mona Lisa, Veronese se asemrowende Huwelik in Kana en kunswerke van Titiaan en Botticelli – totdat die een wonderbaarlike indruk in die ander vervloei en hy vermoeid eenkant gaan sit.
So was dit gister ook.
Want Surita het haar met ’n snak van haar asem uit sy arms losgemaak en ’n diep teug koue lug ingetrek. “Kom ons loop liewer, Pietman de Waal!”
Hy het na haar bloesende gesig gekyk en wrang geglimlag, haar hand gevat. Hulle het die beskutting van die kolossale museum opgesoek en ure lank deur die sale gedwaal totdat hy later moeg gekyk was.
“Wanneer eet ons ’n hamburger?” het hy lui gevra.
Sy het haar kop geskud. “O nee, De Waal! Jy kan nie hier uitgaan sonder dat jy Monet se Waterlelies gesien het nie!”
“Maar ek hét al,” het hy flou geprotesteer. “My ma het my eenkeer kom wys, maar toe was dit somer en dit was so warm dat ek oor roomys gekerm het . . .” Maar Surita het haar vingers oor sy mond gevou.
“Stil, hoor. Buitendien jok jy. Die Orangerie het ’n spesiale uitstalling van die Impressioniste dié maand. Dis ’n klein museum net agter die Jeu de Paume en ook deel van die Louvre. Oom François sê ons móét net na Monet se Waterlelies gaan kyk! Toe, kóm nou!”
Maar hy was nie lus nie. Surita se oë het geblink van opwinding; haar wange rooi. En hy het ’n jongmanswens gewens: dat hulle alleen op ’n eiland mag wees en dat nugter verantwoordelikheid net ’n hersenskim moet word. Hy het ook gewens dat Surita se oom François en tante Yvonne Druet nie so ’n rigiede program aan hulle wou opdwing nie. Elke liewe dag is daar iets om te doen, iets om te sien, iets om te eet, te drink, te koop en les bes, iets om te bepeins. Intellektueel is hy wraggies versadig. Heeltemal dik. Dis min of meer wat hy toe gesê het ook: “Luister, Surita, kom ons loop sommer net die strate plat. Dan koop ons tonne tjoklits en eet dit op sonder dat jou oom en tannie daarvan weet.”
Sy het hom half uit die veld geslaan beskou, toe net gelag. “Jou baar ding!” het sy speels en effens gedemp uitgeroep. “’n Mens sou nooit kon raai dat jy so ’n geslypte man is nie!”
“Hoe bedoel jy?” wou hy opreg verbaas weet.
Sy het haar skouers teruggetrek, haar ken uitgestoot. “Pietman,” het sy sag gesê, “’n mens moet jou hou by die vorm waarin jy gegiet is. En ek en jy is baie dieselfde. Ons is die bevoorregtes van die samelewing. Goeie agtergrond; baie geld. Goeie geleerdheid; baie geleenthede. Volg jy wat ek sê?”
“Nee,” het hy eerlik geantwoord, en die subtiele gekrap-krap het weer in sy binneste begin. Wat foeter sy met sulke ingewikkelde dinge? Hy het hoeka ’n hekel aan mense wat eenvoudige goed wil opsmuk sodat dit verwikkeld moet lyk. Ouens wat probleme wil aanspreek en ondervang, pleks daarvan om dit te pak en op te los.
Op daardie oomblik het die sensuele genot van so flus skoon verdamp. Hy was sommer die joos in. “Kyk, Surita, ek is bevoorreg, maar ek is ’n man, nie ’n pop nie. Kunsmatigheid maak my naar. Buitendien, te veel klem op verfyning bring dalk spookasem voort, pleks van ’n lekker taai toffie.”
“Dis nou vrotsige simboliek!” het sy ergerlik laat val.
Hy het gesug, haar paaiend aan die skouers gevat. “Ag, Surita, al wat ek bedoel, is dat ons gewoonweg net moet lééf! Dinge geniet sonder om alewig vooraf met statistiese presisie die voor- en nadele op te weeg!” Hy het haar mond in protes sien oopgaan en haastig beduie: “Eenkeer toe ons in Engeland was, het ek en my ma op ’n trein geklim sonder dat ons geweet het waarheen dit gaan. Dit was wonderlik opwindend om die vreemde stasies te sien verbyskuif en uiteindelik te besef dat ons op pad is Oxford toe! Die hele dag was propvol verrassings, want ek en my ma het elke oomblik soos ’n pakkie oopgemaak. Dit . . . dit was baie lekker,” het hy lammerig afgesluit toe sy nog nie juis geesdrif toon nie. Hy moes tóé al geweet het dat hy ’n fundamentele fout begaan het.
“Pietman,” het sy gesê, “jy is besig om my met jou ma te vergelyk.” Hy wou stry, maar sy het haar vingers dwars oor sy lippe gesit. “Nee, luister goed. Ek het respek vir jou verlede. Maar dis nou verby. Net wat ek en jy ervaar, het betekenis. En ek doen nie dinge op die ingewing van die oomblik nie. Alles in my lewe is georganiseerd. Dis tog seker nie so onaanvaarbaar nie, is dit?”
Soos tóé, ken hy nou ook nie die antwoord nie. Hy weet wragtie nie of dit hom grensloos irriteer of net krapperig amuseer nie. Daarom het hy liefs stilgebly. Maar hoe lank, wonder hy, kan ’n man swyg voor hy lostrek? Want hulle het toe maar gaan kyk na die uitstalling in die Orangerie. En haar oom François was reg. Monet se persblou en lila Waterlelies was ondraaglik mooi in die skemerte van die groot ovale vertrek. Hulle het met ingehoue asem, vingers verstrengel en skouers teen mekaar gedruk, na die werk bly staar. Die oomblik wou soos ’n rimpeling uitkring oor die beskilderde doek.
’n Soet en ragfyne emosie het in hom oopgevou – soos by ’n mens se eerste gewaarwording van aanskoulike, sensuele genot. Hy was lus om Surita net daar sag te soen. Maar sy het dit goedgedink om hom ’n lesinkie te gee oor die lewe van Monet. In ’n paslike fluistertoon natuurlik, maar dit het die oomblik soos ’n bel laat bars. Hy het niks van die goed bewoorde relaas gehoor nie, haar in stomme teleurstelling staan en aanhoor. Maar toe sy skielik op haar horlosie kyk en hom ietwat gejaag aan die hand neem, het hy hom nie eens verset nie. “Kom,” het sy gemaan, “ons gaan laat wees en tant Yvonne het vir ons kaartjies gekry vir die Comédie Française. ’n Stuk van Molière!”
En vanaand is dit opera toe. Madama Butterfly . . .
Pietman leun agtertoe en laat sy kop teen die koue muur rus, kyk afwesig na ’n troppie skoolkinders voor ’n groot kunswerk en hoe hul juffrou met baie handgebare iets aan hulle beduie. Hy wens opeens dat alles nog so eenvoudig was dat dit verduidelik kon word.
Hy staan sugtend op en stap deur die hoë sale buitetoe. Maar die sonnetjie het steeks geraak, skuil kort-kort agter laagdrywende grys wolke. En hy kry ’n wilde lus om sommer weer op ’n trein te klim. Dalk na Beaune of weswaarts na Mont-Saint-Michel . . .
Dis toe hy die deftige woonstel in die Rue Saint Honoré binnestap en die huishoudster sy baadjie swygend by hom vat dat hy weet: Hy’s klaar met somme maak. ’n Man laat hom nie vasvra of voorsê nie. Nie ’n man der manne nie – soos wat Keppie sou sê.
Hy wens ineens Keppie was hier. Dan sou daar darem pret gewees het! Keppie sou ook daarvan gehou het om sommer net rond te loop. Hulle sou dalk iewers ’n lang Franse brood gekoop het saam met ’n stukkie klassieke Pont l’Évêque-kaas en ’n bottel soeterige Montbazillac-wyn. Dan sou hulle die eerste openbare park opgesoek het en hulle op ’n bankie tuis gemaak het om so proe-proe die wêreld te beskou.
Die Druets en Surita sit nog aan ontbyttafel toe hy binnestap. Hulle kyk beleef op, glimlag met hul mondhoeke.
“Jammer dat ek laat is,” sê hy toe hy langs Surita gaan sit, “maar die uitstappie het my goed gedoen.”
“Mooi,” sê tant Yvonne en glimlag. “Ek hoop net nie jy is nou te moeg om saam met ons te gaan inkopies doen nie. Ons wil na die Samaritaine se uitverkoping gaan en dan tee drink op die daktuin. Die uitsig is fabelagtig en . . .”
“Liefs nie!” keer Pietman, ook glimlaggend, en oom François kyk belangstellend op van sy croissant af wat hy liggies aan ’t piets is met botter en patee.
Tant Yvonne se keelsenings trek styf, haar wenkbroue lig. Surita sit haar mes effentjies te luid in die klein bordjie neer. Maar hy druk deur. As Keppie nou hier was, dink hy in sy agterkop, sou hy my op die skouer geklop het. Hy glimlag weer oorredend na die twee vroue se kant toe – daardie skewerige glimlag wat sy ma altyd spottenderwys sy Tom Cruise-paspoort noem. En hy sien hoe hulle smelt. Tant Yvonne se skouertjies verslap en Surita se mond word weer sag.
“Luister, ek weet dis te veel gevra, maar kan ek nie asseblief vanoggend tuis bly nie? Ek het hoofpyn en miskien moet ek ’n bietjie rus voor vanaand se opera.”
Oom François glimlag fyntjies en rol ’n stukkie bros croissant van die een kies na die ander, knik wyslik. “Geniet die rus!”
Yvonne klik soetjies met haar tong en bied pille aan. Surita staar voor haar op haar bord en kerf haar broodjie aan flentertjies.
Na ete kry sy hom op die balkon met die smeedystermeubels en beskutte immergroen plante.
“Jou ma het gebel toe jy uit was,” sê sy bot. “Sy’t bekommerd geklink – meer as gewoonlik.”
Pietman voel hoe ’n ysigheid deur hom trek. Sy ma was juis so ongewoon tranerig toe sy hulle op die lughawe weggesien het. Sy het hom styf vasgehou en met haar gesig teen sy skouer gesê: “Pas jouself op, Pietman! En kom gou terug!” Surita het nog ewe getroos: “Toe maar, tannie, ek sal mooi na hom kyk!”
Hy bly half magteloos staan, kyk weg oor die blougrys dakteëls.
“Bel jou ma,” sê Surita skielik simpatiek en kom staan dig teen hom, hou haar mond. Hy buig sy kop werktuiglik, soen haar sag. “Toe kom,” sê sy weer. “Bel haar en stel jouself gerus. En ek sal by jou bly ook as jou kop seer is.”
“Sal jy?” vra hy bly.
“Natuurlik!” Sy glimlag. “Ek sal net weer vir tannie Yvonne vra of dit haar planne nie te veel sal omkrap nie. Sy sien nou so uit na die inkopietog!”
Pietman maak sy mond toe en byt op sy tande. Hy kan maar die idee van ’n stil, huislike middag saam met Surita groet. Dit sal ongetwyfeld tant Yvonne se planne te veel skommel.
En hy is reg. Toe Surita die onderwerp aanroer, werk haar tante se keelsenings weer en dis Pietman wat gul sê: “Ag nooit, Surita! Gaan saam met tant Yvonne. Jy is mos nie aldag by haar nie! En moenie jou bekommer nie, ek sal doodreg wees.”
Tant Yvonne glimlag al haar plooie weg en antwoord ewe ruimhartig: “Nou ja, daar het jy dit! Maar bel eers jou moeder, Pietman. Ek sal Jeanne aansê om vir jou lekker flou tee te maak, maar dan moet jy gaan lê!”
“O . . . baie dankie,” sê hy, maar voel ’n benoudheid agter sy borsbeen swel. As hy nie oppas nie, gaan hierdie Franse vrou en haar mooi niggietjie sy lewe vir hom leef. Die idee tref hom soos ’n skoot koue water en hy kry opeens heimlik lekker oor die wit leuentjie. Sy kop is ver van seer af. Maar as hy nog so ’n bietjie beter toneel speel, kan hy dalkies vanaand se opera ook ontduik.
Toe die vroumense weg is en die stywegesig-Jeanne vir hom sy tee gebring het, trek hy die telefoon nader. Sy ma antwoord byna dadelik en soos male tevore verstom hy hom dat ’n mens met iemand anders oor die lengte van ’n kontinent en die breedte van die see kan gesels asof die persoon langs jou staan. “Ma!” sê hy bly. “Ek hoor Ma soek my?”
Daar is ’n kort, hewige stilte. So asof sy haar emosies eers op hok moet kry. Hy ken haar mos. Sy het die manier om haar asem op te hou as sy nie mooi weet hoe om haar woorde in te span nie. Toe hoor hy haar futloos sê: “Hallo, Pietman. Ja wat, ek soek jou mos maar altyd. Gaan dit goed?”
“Baie goed dankie, Ma. Maar wat klink Mams so moeg?”
Weer die stilte. En ’n diep sug. “Ag, my kind, dis Kerstyd en ek mis jou. Gelukkig is oupa Murray darem hier. Hy sal bly tot na Nuwejaar.”
“Dan het hy regtig gekom?” Pietman is bly. Oupa Murray kom nie graag Johannesburg toe nie – hy wat dikwels luidkeels sweer hy verlaat nooit weer Potchefstroom se buitewyke nie, want in die stad is daar te veel mense en te min voëls; hy wat, sy groot lading kennis ten spyt, ligvoets fietstrap saam met die studente en smiddae op die wal van die Mooirivier onder die wilgers sit en droom.
Sy vraag ontlok darem ’n laggie. “Ja, hy kuier nou al ’n week lank hier en dit help nogal. Jou oupa is ’n wyse mens, Pietman. Jy is baie gelukkig om hom nog te hê. Al is Pappa weg, is oupa Murray nog daar. Ek . . . is so innig bly daaroor.” Dis of haar stem stok en sy swaar moet sluk om die emosie af te kry. En dit ontstem hom. Als is nie pluis nie.
“Wát is dit?” wil by trompop weet. “Ma klink nie lekker nie.”
Sy gee ’n blaaslaggie. “Ag toe nou! Lyk my jy verlang na my! Geniet jy darem die vakansie saam met Surita?”
“Ja en nee,” sê hy doodeerlik. Want dis nou een ding: hy jok nooit vir sy ma nie. Sy het ’n neus vir leuens en van kleins af het hy geleer dis die beste om liefs oop te maak en te bieg, want as sy jou vang dat jy lieg, raak dit net te warm.
“Hoe so?” vra sy en hy hoor verlig die sprankie werklike nuuskierigheid in haar stem.
“Wel, dis nie veel van ’n vakansie nie. Dis meer soos ’n kursus wat ek loop. Ek moet juis vanaand na Madama Butterfly gaan kyk. Maar sê my gou, waarvoor is ek nou weer alles allergies?”
Sy giggel opeens, klink jonk. Sy het nog altyd net ’n halwe woord nodig gehad om te begryp. “Laat ek sien . . . daar’s kathare en grassade . . . en mossels . . .”
“Ditsem!” juig Pietman. “Dis naby genoeg! Ons het juis gisteraand slakke geëet. Dosyne van die goed! Dit kon my dalk net siek gemaak het! “
“Pietie, ’n mens spot nie met siekte nie!” proes sy ma en hy hoor hoe sy vinnig iets na Oupa se kant toe beduie. Hy vang selfs oupa Murray se diep gromlaggie op. En toe sy weer praat, klink sy heelwat vroliker: “Jou oupa verskil van my. Hy meen daar is moontlik versagtende omstandighede. Hy sê hy weet van mense wat vir skoenlappers allergies is!”
Hulle korswel nog ’n minuut of wat en toe lui Pietman af, sit ’n lang oomblik na die telefoon en kyk. Dis goed dat oupa Murray by sy enigste dogter kuier. Hulle doen mekaar altyd goed. Eintlik, dink hy, doen ons drie mekaar altyd goed. Hy kan nie onthou dat hy en sy oupa al ooit van mekaar verskil het nie. Nou nie dat daar al baie geleentheid daartoe was nie, want oupa Murray is soos wat hy self spottenderwys sê, iemand wat homself net nou en dan aan die wêreld wy, om daarna weer salig na sy eie domein terug te keer. Toe Pietman klein was, het die woord hom eindeloos gefassineer. Totdat hy oupa Murray een vakansie op Potchefstroom in sy spitsdakhuis in Tomstraat daarna uitgevra het.
“’n Domein, ou seuntjie,” het hy geantwoord, “is ’n heilige plek.”
“Soos ’n kerk?” het Pietman knaend gekerm.
“Nee, nie heeltemal nie,” het Oupa in sy diep gromstem geantwoord. “’n Kerk is allerheilig. ’n Domein is eintlik ’n kroongebied of staatseiendom. Maar vir my is dit elke mens se eie, eie plek waar net hy alleen kan kom. Hy en die Here.”
“Het ek ook so ’n plek?” wou Pietman terstond bekommerd weet.
Oupa Murray se outydse houtwiegstoel het ’n oomblik opgehou kraak en hy het vooroor geleun om Pietman se skouer sag vas te vat. “Ja, seun, jy het ook een. Net hier . . .” En sy sterk vinger met die dik are het voor op Pietman se bors gedruk-druk. “Hiér weet jy wie jy is. Hier staan jy naak voor Hom. Hy sien als; Hy weet als. En dit gaan met jou net goed as jy Hom ook in jou domein toelaat.” Die stoel het weer begin kraak: Tjieeep-tjirrr, tjieeep-tjirrr . . .
Pietman het nog nie mooi alles begryp nie, maar dit was of die woorde die banggeit weggevat het. Domein was nie meer so ’n kwaai woord nie. Dit was half lekker om daaraan te dink. As hy sy oë toemaak, kon hy amper vir Oupa en die Here sien loop in die Potch-domein van hom. Want Oupa se domein kon net in Potchefstroom wees. Hy kon hom nog nooit voorstel dat Oupa op ’n ander plek sou aard nie. Wat nog van met die Here gesels. Nee, Potchefstroom was oupa Murray se plek, het hy vroeg al besluit: die groot erf met sy twee donkerdik eikebome was sy kroongebied. Heen en weer, heen en weer sou hy en die Here loop – en professor wat hy is, sou sy hande mekaar ingedagte agter sy rug vasvat. Die Heer se hande sou natuurlik mooi rustig voor Hom gevou wees soos in die Prentebybel waar Hy met die kindertjies praat . . .
Pietman se mond roer in ’n laggie. Hy het baie lank laas so aan oupa Murray gedink. Miskien omdat hy hom in die laaste paar jaar net so woerts-warts gedurende ’n naweek of wat gesien het. Hy was so besig op universiteit. Daar was die swotwerk en die kampe, die pret en die eintlike plesiertjies – soos Surita.
Hy gaan lê op die bed, hande agter die kop gevou. En hy neem hom voor: in die nuwe jaar gaan hy sorg dat hy meer van sy oupa sien. Hy het selfs lus en vat Keppie een naweek saam Potchefstroom toe om daar in Oupa se groot ou huis met die rooi stoep en wit pilare te gaan kuier. Keppie en die ou mens sal mekaar goed vind – want onder oupa Murray se ietwat stywe akademiese toga, skuil daar ’n bok vir sports. Dit het hy nou weer besef toe hy sy ma so lekker hoor lag het. Verbeel jou! Mense wat allergies is vir skoenlappers! Nou ja, dis nie ’n sleg plan nie. Hy het tog wraggies nie lus om vanaand die lange liefdeslyding van Madama Butterfly saam deur te maak nie.
Toe die vroumense terugkom, belaai met pakkies, lê hy steeds met toe oë in die skemer kamer. Om so ’n bietjie kleur te verleen aan sy volgende wit leuentjie, het hy sy oë met gebalde vuiste gevryf. Die ooglede voel selfs effens opgehewe en jeukerig.
Hy kyk skreefoog na Surita toe sy sag die kamer binnekom, beur steunend orent. “Kop wil bars,” fluister hy. “Moes nooit gisteraand die slakke geëet het nie . . . maar tante Yvonne het soveel moeite gedoen.”
“Haai, foei tog, jong,” sê sy opreg besorg, druk hom terug teen die kussings. Haar lang hare waaier oor sy bors en hy kry lus om haar nader te trek. Maar hy onthou betyds dat hy siek is: allergies vir slakke en vlinders!
Hy laat sy ooglede laag sak en loer vir haar. “Jammer, hoor,” sê hy skor. “Julle sal maar sonder my opera toe moet gaan.”
“Ek bly by jou,” sê sy ferm. “Netnou trek jou keel toe, of iets. My pa het eenkeer sleg siek geword van sonneblompitte. Moes ’n inspuiting kry.”
O vrek! dink Pietman en sy keel wil-wil by voorbaat toesnoer. As daar nou ’n ding is wat sy kop dof maak by die blote gedagte daaraan, is dit ’n inspuiting. “Toe maar,” keer hy met ’n vinnige handgebaartjie, “dis net my kop wat seer is. As ek stillê, is ek môre weer piekfyn.”
Tante Yvonne en oom François kom ook inloer net voordat hulle vertrek na die opera en die vrou se skerp blik skeer oor hom. “Nou ja, so is dit. Jeanne sal vir jou dun sop bring. En ’n antihistamien. Sit af die lig, Surita, en dan gaan eet jy saam met Jeanne. Sy’t heerlike biefstuk in bier gaargemaak. Word gesond, Pietman, want môre gaan ons Fontainebleau toe!”
Toe hulle weg is en Surita sowaar ewe gehoorsaam die lig afgeskakel het, lê Pietman en peins oor die nut van liegstories. Hier lê by nou – ’n bruisend gesonde jong man wat wil bars van lus vir die lewe. En omdat hy gejok het, sit sy meisie saam met ’n huishoudster en smul terwyl die hele wêreld onder in die strate van Parys verbystroom. Swak beplanning, my ou! sou Keppie gesê het. En opeens wens Pietman de Waal met ’n onstuimige dringendheid dat hy Keppie Fourie was. Keppie wat stellig nou saam met sy padwerker-pa by ’n woonwa langs een van die hoofpaaie in die Karoo sit en staar na die kole waarop hul vleisie braai. Salig alleen en vry om te eet en te drink wat voorkom.
Dit kom van lieg! dink hy suur en draai sy kop muur toe, tuur na die effense flikkering van stadsligte wat deur die gordyn syfer. As die waarheid wyk, vlug die vryheid saam. En toe hy Surita gedemp in ’n ander vertrek saam met Jeanne hoor lag, wonder hy of hy haar ooit sal kan vertel dat hy siek gespeel het om ’n opera mis te loop. Miskien as hulle eendag getroud is, neem hy hom kloekmoedig voor, want dan sal hy die enigste vormende invloed in haar lewe wees. Haar skatryk ouers en familie sal nie daar wees om haar sin vir humor te vertroebel nie. Of so hoop hy altans.