Читать книгу Gruispad na Tóg Wat - Helene de Kock - Страница 3

1

Оглавление

Dis doodstil rondom hom. Die oggendgrou is maar pas verdryf en die wêreld slaap nog. Waar hy staan, is dit ruig, begroei met dik somergroen grasse en jong lote, en dieper in staan die populiere dig met blare blink-fladderend in die môreluggie. Maar voor hom, sover as wat die oog kan sien, rol die bultende, geelryp koringlande van Tóg Wat, erfplaas van die Nienabers. En hy is Pierre Nienaber . . .

’n Nienaber van die Nienabers, soos die mense sê. ’n Rasegte Riemlander uit die room van die Vrystaat. Enigste erfgenaam van ou Koot Nienaber; oogappel van sy moeder Susan; aanstaande skoonseun van ou ryk Giel . . . en die joos weet wát nog alles van wát, dink hy, en verbaas hom dadelik dat so ’n banaliteitjie kon uitglip uit sy andersins so gedissiplineerde gedagtegang. Vanwaar tog ’n mens se gedagtes? wonder hy met deesdae se nuwe soort verlange; vanwaar ook jou begeertes? Waarom staan storm en drang sommer een oggend saam met jou op en dwing jou soos ’n kopsku resiesperd ál weg van die gekarteerde baan af?

Sy oë dwaal na waar ’n grys rokie bo die werkershuise begin spiraal, en hy sien ’n paar kinders uitkom om kroeserig teen ’n oostemuur in die sonnetjie te gaan sit – die vaak nog meester oor hulle. Dis net hy wat geen slaap in hom het nie, wat geen rus deur die nag kon kry nie, en nou ook geen frisheid in die oggend nie.

Waar, wonder hy vir die soveelste maal, gaan soek ’n mens die oorsprong van ’n gedagte, of die bron van ’n vae onrus – iets wat jou soos klam mis oortrek en wat jy nie kan raak vat nie? Hierdie swart bedruktheid betas hom nou al ses dae lank vanuit ’n donker hoek, en dis al asof hy nie self lig daarop wil werp nie. Bang? vra hy homself af. Ja, dalk tog ’n bietjie bang! ’n Mens lê nie graag die vinger op ’n ding wat soos ’n ploeg die gladde oppervlak van jou lewe kan kom omdolwe nie.

Dit het begin kop uitsteek verlede Saterdag toe hy en sy pa ’n paar laaste draaie by die stropers in die lande gemaak het, en Koot Nienaber hom op sy kortaf manier na sy seun gewend het, pas nadat hulle in die bakkie teruggeklim het.

“Wanneer,” het hy gevra, “besluit jy en Lizette waar ons julle opstal moet bou?”

Miskien was dit die blote vraag, of dalk die manier waarop sy pa homself en al die ander belangstellendes ingesluit het by die bouery van sy en Lizette se huis, hy was nie seker nie – maar verset het soos ’n skielike sooibrand in hom opgestoot. Hy het die venster aan sy kant afgedraai en vir die eerste keer geïrriteerd gevoel dat sy pa hom nooit toelaat om te bestuur as hulle twee alleen is nie. Hoog tyd ook, het hy besluit, vir ’n man wat die honneursgraad in landbou met lof gekry het, om krapperig te raak oor dingetjies. Hy het sy oë gehou op die geel stroper wat soos ’n gulsige, monsteragtige sprinkaan deur die koring vreet, en ongeërg, onbelangstellend gevra: “Hoe bedoel Pa nou?”

Hy kon aan die besliste manier waarop sy pa die bakkie in rat sit, en die gewoer van die agterwiele toe hulle wegtrek, hoor dat hy hom kwaad gemaak het. Sy pa hou nie van woordspeletjies nie; hy hou daarvan om tot ’n punt te kom en sy make te maak.

“Ek bedoel,” het die ouer man nietemin geantwoord, “dat julle darem nou al lank sloer. ’n Mens begin wonder of julle ooit nog wil?”

Dit was sy beurt om kwaad te word – ’n kwaad wat ontspring het uit sy aanvanklike verset, en smeulend ontvlam het in sy woorde. “Ons sloer nie, Pa, ons leer mekaar ken. Ons jonges spring nie in ’n ding soos . . . soos júlle . . .”

“Pierre!”

Die enkele woord was genoeg. Hy het goed geweet hy’t te veel gesê, maar hy het ook geweet dat hy rede had om seer en kwaad te voel. Al het sy pa se woorde ook hul oorsprong in opregte vaderliefde gehad. ’n Man moet tog sy eie ding kan doen sonder deurlopende kommentaar van buite! En hy wás jammer dat hy na sy pa se mooi verhouding met sy ma in daardie verband verwys het. Hoe sal sy pa tog ooit verstaan dat hy en Lizette wat mekaar van kindsbeen af ken en liefhet, tóg nie oorhaastig is om te trou nie? En nie net dit nie: hulle is nie rég vir ’n huwelik nie. Sy pa, wat net op ’n dag sy ma in ’n vol straat sien loop, haar agterna gesit, en homself aan haar voorgestel het; sy pa, wat met haar getrou het net drie maande ná daardie onkonvensionele ontmoeting en dit, dank die hemel, nog nooit berou het nie – hoe sal hy kan verstaan dat hy wat Pierre is, Lizette ook werklik liefhet, maar tog geen begeerte voel om hom en haar nou al te bind nie?

“Goed dan,” het sy pa weer probeer, “wanneer julle mekaar dan goed genoeg ken, moet jy my laat weet waar julle die huis wil hê – bo-op die bult naby die rooi land, of onder by die klofie en die populierbos. Dis nogal mooi dáár.”

So gaan dit, het hy wrang gedink. Op Tóg Wat is dit Pa wat neul oor my en Liz, en op Sterk Water is dit oom Giel wat sit en droom oor die dag wanneer ek met sy enigste ooilammetjie trou. Die rede is natuurlik voor die hand liggend: Tóg Wat en Sterk Water grens aan mekaar, en na die troue sal Koot en Giel kan agteroor sit en rus. In teorie, natuurlik. Dis die ou klassieke situasie waar ouers graag hul kind met die geskikte – wat dit ook al beteken – lewensmaat getroud wil sien. En in dié geval is daar ook ’n hele paar byvoordele: ’n gesamentlike boerdery in die samesnoer van twee groot erfplase; ’n duur droogoond met slegs een eienaar (in teorie!) pleks van twee . . . Eintlik behoort ek rasend van dankbaarheid te wees, het hy skaam gedink; nie elke landboustudent kan gaan boer nie, en dan boonop op só ’n skaal en met geen skuld nie! Ek en Lizette sal ’n splinternuwe huis betrek, een wat ongetwyfeld elke luukse sal hê, en ek sal ’n boer met bates wees – nie net die ooglopende bates nie, maar ook dié waarvan die banke alte graag sal wil weet. Miskien sal dit na alles nie so sleg wees nie. Miskien . . .

Dit het hom meteens laat dink aan die oorsprong van die plaas se naam, Tóg Wat. Volgens oorlewering het van die eerste Nienabers hier aangekom, die tóé nog wilde graswêreld bekyk en gemeen dat hulle miskien, miskien hier ’n bestaan sal kan maak. En hulle het terstond hul plek afgebaken en dit Miskien Tog gedoop. Ná twee jaar van wonderlike oeste en sonnige voorspoed is die plaas blymoedig herdoop na Tóg Wat. Nou ja, het hy mismoedig gedink, miskien sal ek tóg hier kan leef en gedy.

Sy pa moes sy swye as ernstige en positiewe nadenke vertolk het, want hy het hom lig op die skouer geklop toe hulle langs die droogoond by die skuur stilhou.

“Ja wat, dink maar daaroor. Jy het nie net teenoor jouself ’n verantwoordelikheid nie.”

“Hm,” het hy nog half ingedagte geantwoord, “teenoor Lizette seker ook.”

“En teenoor Tóg Wat. Daar moet ’n erfgenaam wees vir Tóg Wat én Sterk Water.” Die gedreun van die oond vlakby het sy woorde gedemp laat klink.

Dis tóé dat Pierre wawyd nugter geword het, en – koud geskrik – na sy pa bly staar het. Op sy pa se bruin, verweerde gesig kon hy duidelik sien dat dit ’n kwessie is wat al lank by hom spook. Dalk by oom Giel ook. En by wie nog . . .?

“Pa!” het hy gesê, sy stem sidderend van skielike erns. “Ons is nog nie eens verloof nie!”

En toe het sy pa se onderliggende ongeduld deurgebreek: “Nou ráák dan verloof, magtig, man!”

Die bakkie het vir hom te klein geword; dit het kompleet gevoel asof die staalkajuit soos ’n vuis om hom saamtrek, en hy het uitgespring, die deur onsag toegemaak en blindweg aangestap droogoond toe – die dreuning van die masjien op dieselfde frekwensie as die woede-vibrasie in sy liggaam. Hy het verby die stilstaande trekker geloop, waaraan die masjien van die droogoond gekoppel word, tot by die groot silinder waarin die nat, vars gestroopte koring drooggeblaas word, en met sy hand aan die werker beduie dat hy maar kon loop; hy sou sy dienssessie by die oond oorneem. Die man het geglimlag en verkas, en Pierre het ’n vinnige, geoefende oog oor die oondtemperatuur gegooi en gaan sit, toegelaat dat die brul van die masjinerie sy denke verswelg en dreunend die emosie by hom oorneem. Dit was tóé dat hy met soveel bedruktheid begin dink het aan sy mooi toekoms, met soveel sorg vir hom uitgelê deur sy pa, sy ma, oom Giel. Net Lizette het nog nooit teenoor hom ’n woord gerep of ’n vinger gelig om sy aandag te vestig op hul toekoms saam nie.

Lizette, lieflike Lizette, dink hy waar hy nou na die oggendlig staan en kyk. Sy Lizette met die swart hare en dromerige blougroen oë.

Die fout, dink hy, terwyl hy sy oë laat gaan oor die lande waar die stropers al begin loop het – ás daar dan ’n fout is – lê nie by háár nie. Nee, sy het nie hierdie beklemming veroorsaak nie. Sy is nie besitlik nie. Nie een dag in die vyf jaar wat hulle ’n vaste verhouding het, het sy hom laat voel dat sy selfs in haar verste gedagtes besig is met ’n doelwitbegroting nie. Daar was slegs die onderlinge begrip dat hulle eendag, ééndag die weg van alle verliefdes sou volg. Miskien, dink hy, was hulle al twee juis bang vir ’n oorrypheid in hul verhouding. Dalk het hulle hierdie vrees oordryf en te veel afstand tussen hulle laat kom. In so ’n mate dat hy hom nooit gebonde gevoel het nie. Verbonde wel. Daar is ’n baie innige band tussen hulle, wat soms woorde oorbodig maak. Die moontlikheid is ook daar dat hulle te veel op mekaar se begrip staatmaak en sake nie genoeg bepraat nie.

’n Herontdekking van mekaar, dink hy toe hy stram oor die dounat gras begin huis toe stap, is net wat ons nodig het.

Tot hierdie slotsom gekom, voel hy heelwat beter, en tuis erg hy hom geensins toe sy ma bekommerd aan hom sê dat sy pa ergerlik na hom verneem het voordat hy maar alleen weg is lande toe nie.

Hy gaan verklee fluit-fluit in ’n denim-oorpak en vat die trekker en sleepwa lande toe, soos sy pa versoek het.

’n Herontdekking, sou Pierre Nienaber uitvind, kan ook in ’n moeisame tog ontaard, wat jou soms laat wonder of jy hoegenaamd nog op koers is.

Maar soms soek ’n mens ook die fout op een plek om dit op ’n ander te verberg. En Tóg Wat en Sterk Water en Lizette het vir Pierre so verweef geraak met sy eie lewe, dat sy perspektief daaromtrent newelagtig geraak het – soos dié van iemand wat al so lank na ’n baie mooi en geliefde skildery kyk dat hy vergeet het dat die instellingspunt nie heeltemal voldoen aan kunsvereistes nie, totdat iemand eendag ’n opmerking daaroor maak.

En dis nou vreemd, maar vandat sy pa so neul oor die huisbouery, sien hy ’n hele paar dinge vanuit ’n ander hoek. So is dit dan dat hy begin twyfel oor sy verhouding met Lizette, maar tog knaend bewus bly dat die verhouding tussen hom en sy pa in werklikheid verswak het sedert hy van universiteit af terug is. Hoe graag hy ook al wil, hy sal dit nie op die lange duur aanhoudend kan opsyskuif nie. Dit begin deesdae aan die basis van sy bestaan vreet. Want Tóg Wat, besef hy, is syne maar ook nie syne nie. Om saam met ’n man soos Koot Nienaber só ’n plaas te kan bestuur, moet ’n mens jou storie ken – en Pierre kén sy storie; dis net dat hy dit so bitter moeilik vind om dit te vertel. Hy is bereid om, soos altyd maar, baie by sy pa te leer, maar nie om geheel en al onder sy heerskappy te staan nie.

Nee, dink hy ook op hierdie oggend terwyl hy met die trekker en sleepwa aanry lande toe, daar lê nog groot probleme voor wat nog groter aanpassing gaan verg. Die vraag is net – van wié?

Teen die tyd dat hy met die wa by die wenakker van die boonste lande indraai, steek die son op sy skouers en agterkop, en brand al die oggendvreugde uit hom uit. Dis ook nie net die son wat hom laat pap voel nie – dis eerder ’n sekure aanvoeling, fyn geslyp deur die jare, van ’n vuurwarm toornigheid in sy nabyheid. Want daar langs die oorkantste wenakker sien hy dat een van die stropers weer bly staan het, en hoe sy pa met ’n boog afspring en handeswaaiend vir ou Piet beduie om nader te staan, allawêreld! Die gort is gaar, weet Pierre toe hy die wa netjies tot stilstand bring en self ook afklim om te gaan kyk. En dit nogal die nuwe stroper!

Hy loop stil-stil tot daar en dan agter om die stroper om te kyk waar sy pa en ou Piet werskaf, en dink met diepe ergerlikheid daaraan dat daar al tot in sy stap iets verskonends is. Hy benader sy pa asof hy oortree het! En, dink hy, Pa gaan reageer asof ek hét!

Dit is ook so.

Koot Nienaber kyk op van die gebreekte stroperketting, met die geregverdigde ergernis van ’n man wat in sy eerlike arbeid deur die ontydige imperfeksie van ’n blote meganisme gedwarsboom is. Maar omdat hy Koot Nienaber is, omsluit hierdie ergernis oombliklik die aardbol en almal wat daarop wandel, toe sy oog op sy enigste seun in sy silwerskoon denimpak val.

“Dit moet ek seker maar verwag!” bars hy los. “Staan die blessit stroper; dan staan als! Want die man wat moet kyk dat die koring nie in die droogoond vlam vat nie, loop lekker los in die lande rond!”

“Pa?” protesteer Pierre, en hy voel die ligte bewing in sy vingers toe hy hulle na sy heupe lig. “Ek is hier omdat Pá my laat kom het!” Sekondes lank begluur die twee mekaar soos wafferse opponente in ’n kryt, en dit terwyl albei weet dat daar geen werklike argwaan is nie, dat Koot bloot besig is om uiting te gee aan ’n nuk. Hy is net nie in staat om my as volwaardige volwassene te sien nie! dink Pierre. En vanmôre is die môre dat ek nou net nie lus is daarvoor nie! Hy maak sy mond oop en laat sy asem geluidloos uitglip. Toe sê hy tog paaiend: “Laat ek nou maar hier regmaak, dan gaan Pa liewer droogoond toe.”

Dit was die regte én die verkeerde ding om te sê. Enige toehoorder sou hom daarvoor krediet gegee het, maar Koot vat dadelik vlam. Hy laat hom nie voorsê nie, veral nie as hy goed weet hy was sommer onhebbelik nie.

“Wat sal jý nou hier kan regmaak?” brom hy binnensmonds en begin karring aan die stroper se binnegoed. “Te treurig om tot trou te kom, en nou wil hy kom maak en breek op allerhande ander plekke!”

Pierre ken sy pa; hy weet hy soek nou net skoor en dat hy nie eens na sy eie woorde luister nie. Maar hy het genoeg gehad. Vir die eerste maal in baie jare is hy eensklaps sielsat. Hy voel hoe ’n woede deur hom vee soos ’n skielike wind wat stof laat opslaan. Hy is blind kwaad.

“Pa,” sê hy, en sy stem is sag, “los vir my en Lizette uit. Julle wil net die vervlakste huis bou om seker te maak dat die plase saamgesnoer word; julle dink nie eens daaraan dat ons planne nie op die oomblik by julle s’n inpas nie.”

Sy pa veer orent en Pierre bly vinnig stil. En hierdie keer gluur hulle nie – hulle kyk en meet, en met ’n rare flits van insig besef Koot dat die vader die kind vertoorn het. Hy sê net: “Moet jou nie vermetel hou nie, Pierre.”

En hy keer Pierre nie toe dié omswaai en wegstap nie. Hy buk net en gaan aan met sy werk, maak asof hy glad nie ou Piet se spytige geklik van die tong hoor nie.

Pierre stap ewe beheers na die bakkie, wat langs die land geparkeer staan, klim in en ry terug werf toe. Hy hou onder die groot kol bloekoms stil en gaan na die droogoond. Die werker wat daar aan diens is, beduie dadelik bo die dreuning van die oond uit dat die gastoevoer traag is, en sal Pierre nie asseblief daaraan stel nie? Pierre knik en beduie terug, vir die tweede maal binne ’n paar dae, dat hy die man se diens sal oorneem. Dié lyk effe verbaas, maar aanvaar dit met ’n glimlag. Toe hy uit is, stel Pierre weer aan die gastoevoer en klim toe uit teen die silinder waarin die koring drooggeblaas word om ’n handjie vol koring te kry om vog te meet. Terug op die grond stap hy met die korinkies na die vogmeter, en eers toe hy seker is dat die koring nie te vinnig droog word nie, gaan sit hy eenkant op ’n bakkie en laat toe dat die oggend se gebeure hom pak.

Nooit, dink hy, sal Koot Nienaber verstaan dat ek nie soos hy is nie, dat ek nie soos ’n snuiter gehiet en gebied kan word nie, dat hy my tot in my siel irriteer as hy van my praat asof ek die lompheid van ’n verliefde standerdagtseun het. En hier is ek nou op Tóg Wat, soos wat beplan is – klaar gestudeer en reg vir die boerdery, en dis ook al. Want ek is volwasse genoeg om te weet dat Koot Nienaber nooit sal verander nie, en ek is bereid om hom te aanvaar nes hy is, want ek is lief vir hom. Dit is egter nie genoeg om ook vir my ’n menswaardige bestaan op Tóg Wat te verseker nie. Miskien het ek te gou plaas toe gekom. Die tyd vir Tóg Wat is nog nie ryp nie. En vir Lizette? vra hy homself direk af. Sit dan lank peinsend in die wete dat hy nie wéét nie.

Lizette de Wet sit kruisbeen op haar bed en kitaar speel. Sy tokkel gedagteloos aan ’n deuntjie, haar oë somber op die wolbehangsel teen die muur, haar blik na binne gekeer. As Pierre dink dat sy innemende Lizette onbewus gebly het van sy bedekte bedruktheid, het hy dit mis. Nog al die jare was sy fyn bewus van elke nuanse van sy gemoed. Selfs die heel eerste keer toe hulle van mekaar bewus geraak het, het sy intuïtief geweet dat hy ’n onafhanklike, vrye gees is – en dit altyd sal bly.

Sy sit die kitaar stadig langs haar op die bed neer en sak agteroor teen die kussings. Sonder die geringste geestesinspanning plaas sy haarself terug in daardie dag toe sy so onverwags op hom afgekom het waar hy in Sterk Water se diep spruit swem.

Sy het die middag sommer in die veld gaan stap, moeg geleer aan ’n toets. Sy was in standerd nege en buitendien moeg vir leer. Dit was ál asof daar ’n holte is, waar die groot mense beduie ’n mens se hart veronderstel is om te wees. Dit was ’n knaende gevoel, byna soos honger, wat haar rusteloos en kortgebaker gemaak het. Wat sy nou juis in die veld kom soek het, het sy ook nie geweet nie, want die stilte en die ruimte en rustigheid het haar eerder ontstem. Dan maar spruit toe, wat, dáár kan sy onder die bome gaan sit en wens sy gaan liewer dood as om nog een dag so droewig min lus vir die lewe te wees!

Sy het hom gehoor nog lank voordat sy hom gesien het. Soos wat dit geklink het, het sy gedink daar is minstens drie van hulle. Daar was ’n woeste geplas en gespat, en een keer ’n luide lag met ’n helder weerklank; tóé ’n geproes en borreltjies vol wanklank soos wanneer ’n mens laggend onder die water verdwyn. Sy het nuuskierig nader gestap, gesorg dat sy agter die stamme van die digte wilgers bly. Maar dit was onnodig, het sy besef toe sy amper by die wal was, want hy sou haar in elk geval nie sien kom het nie. Hy was so geheel ingestel op die intense genot van sy waterwêreld.

En sy het met net soveel oorgawe na hom bly staan en kyk. Sy kon om die dood nie haar oë van die seun in die water afhou nie. Hy het soos ’n dolfyn gespeel, sy bruin lyf glimmend nat in die middagson, sy kop met die donkernat krulhare agteroor gegooi in ’n lag. Hy het met sy mond nog oop onder die water weggeraak en sy het aan die kragtige gekarring van die watervlak gesien dat hy heellyf uit die water gaan spring. Sy het in een beweging haar hande op gebring, oor haar oë geplaas en omgeswaai. Betyds om sy verbaasde gil te hoor toe hy druipnat uit die water skiet en haar opmerk.

“Whaaaa . . .!” het hy kwaad geskreeu. “Gaan weg, vroumens!”

“Toe maar . . .!” het sy nog met toe oë teruggeskreeu, die lag onmiskenbaar in haar stem. Toe dieper tussen die bome inbeweeg. Agter ’n stam gaan sit en wag. Dalk sou hy kom . . .

Sy het natuurlik goed geweet wie dit is. Wie het nie geweet van oom Koot se Pierre wat op Bethlehem in die koshuis is nie? Hierdie skool was mos nie goed genoeg vir hom nie! In haar vreemde, soekende bui was sy sommer lus en konfronteer hom daarmee, net om te sien hoe hy reageer. Sy het die wye groen rokkie platgestryk oor haar bene en haar kop kwaai geskud sodat haar swart hare lank en los oor haar skouers gewaaier het.

Sy het nie lank gewag nie. Met die handdoek ongeërg swiepend teen sy klam kuite, sy breë skouers waterpas in die handdoekhempie, het hy aangestap gekom na haar toe. Vlak voor haar op sy hurke kom sit en gesê: “Afloerder!”

Sy het kalm in die songebruinde gesig met die fel blou oë opgekyk en onverstoord geantwoord: “Oortreder!”

Oomblikke lank het hul oë mekaar gehou, gemeet. En toe het sy tot haar eie soete konsternasie gemerk dat daar ’n heel ander uitdrukking in sy blou oë kruip. ’n Byna onwillige glimlag het sy ferm mond versag.

“Jy het mooi groot geword,” het hy lui gesê.

Sy het haar oë met die dik swart wimpers neergeslaan en die kompliment op volwasse wyse gehanteer.

“Baie dankie.”

Toe sy weer opkyk, was daardie uitdrukking steeds op sy gesig, en ’n klein, klein bietjie skrik daarby.

En sy het saam met hom geweet dat so vry as wat hy ’n paar oomblikke vantevore was, só gebonde was hy enkele sekondes later. Daarom het sy nooit in al die jare sedert daardie dag hom ooit laat voel dat sy hom in ’n rigting wil dryf nie. En allermins sal sy dit nóú doen.

Nee wat, dink sy nou, en staan op van die bed af, strek haar arms in die lug, sy kom nie eens te veel op Tóg Wat nie, want hy moet nie die indruk kry dat sy dit al klaar as haar tuiste beskou nie. Toegegee, op universiteit was hulle onafskeidbaar, en sy het haar daarin verlustig dat hy dáár so geheel en al net hare was. Sy kon aanvoel dat daar ook by hom geen behoefte aan ander was nie. Maar dit was speeltyd, en nou het die skool begin.

Die werklikheid, dááraan moes hierdie verhouding nog getoets word – noudat sy ’n onderwyspos vyftig kilometer hiervandaan met opset aanvaar het, en hy alleen die mas sal moet opkom tussen haar pa en sy pa.

Sy bring haar hand met ’n swaai na haar gesig toe, en gaap liggies, kyk op haar horlosie. Amper tyd om haar te begin regmaak vir vanaand. Pierre het nie baie vrye tyd nou in die strooptyd nie, maar die twee skoolseuns wat oom Koot gehuur het om te help by die oond, maak darem dat hy soms ’n tydjie kan afknyp vir ontspanning. Vanaand is hy vry van ses tot middernag. Dan sal hy weer moet terug Tóg Wat toe om sy sessie by die ewige droogoond waar te neem.

Sy neem haar kamerjapon uit die kas en glip stil deur die breë gang badkamer toe. Sy is sku om iemand raak te loop, want dis asof daar ’n ondertoon van spanning in die huis is vandat sy terug is van universiteit af met ’n graad en diploma agter haar naam – en dit vir almal op Sterk Water en Tóg Wat duidelik geword het dat sy en Pierre nog nie juis begin beplan het vir ’n huwelik nie. Die bom het amper gebars toe haar pa gehoor het dat sy gaan skoolhou en dit nie eens naby die huis nie. Sy moes behoorlik soos ’n plofstofdeskundige te werk gaan om ’n grootskaalse uitbarsting te voorkom. Net haar ingebore kalmte en haar ma se verstandigheid het gesorg dat ou Giel de Wet gemaak het of hy verstaan dat sy en Pierre tyd het. Sommer nog baie tyd . . .

Lizette maak die ruim badkamer se deur met ’n suggie agter haar toe en stroop haar klere met verligting van haar af. Die dag was drukkend warm, byna asof daar reën op pad kan wees. Sy hoop tog nie so nie, want dis sommer behoorlik begrafnis op ’n koringplaas as dit reën in strooptyd. Haar pa is onhanteerbaar, en hy en oom Koot bel mekaar tydig en ontydig en maak almal wat die lyn deel binne ’n halfdag kwaad.

Sy gaan staan onder die stort en draai net die koue kraan oop. Sy staan lank doodstil só met die stromende water oor haar, kom nie eens bewustelik agter dat daar ’n paar trane saam met die water wegspoel nie. Dis asof sy nie meer kan wal gooi teen die slepende droewigheid van die afgelope paar dae nie. Miskien is dit ook maar te wyte aan die hele verandering van leefwyse wat nou op haar wag. Of die afskeid van al die bekendes op universiteit . . .

Maar Lizette is nugter, en sy weet dat dit nie een van hierdie dinge is wat haar hart so wring nie. Daar is iets wat sy sonder twyfel aanvoel – ’n rusteloosheid in Pierre, waarteen sy liefde vir haar nie eens bestand is nie; ’n soort ingebore wanderlust.

Sy dink aan al die baie kere dat hy met rugsak en slaapsak die pad gevat het, nadat hy haar styf in sy arms kom hou het en woordeloos om begrip gesmeek het. En al die baie kere het sy dit onvoorwaardelik aan hom gegee, hom met haar seën weggestuur sodat hy keer op keer met stille dank na haar teruggekeer het. Juis hierdie hoeveelheid tou wat sy hom gegee het, het hom sterk aan haar gebind. En dit was ook nooit gegee in die hoop dat hy homself sal vasdraai nie. Nee wat, troos sy haarself terwyl sy haar vinnig afdroog, hierdie swygsaamheid van Pierre die afgelope paar dae is maar net weer ’n voorspel tot so iets. Net ná strooptyd sal hy stellig na haar kom en effens skuldig verneem of sy vreeslik gaan omgee as hy ’n rukkie lank die pad vat. Ná so ses weke sal hy terugkeer vol staaltjies en haar liewer hê as ooit. Dit is nou maar haar Pierre.

Tog is dit nie háár Pierre wat ’n uur later voor die deur stilhou nie. O, dit is hy – ongelooflik aantreklik met sy ligte krulhare en songebruinde gesig, en sy lang liggaam in ’n netjiese swart hemp en broek, maar die vreemde, verbete trek om die mond ken sy nie. En toe sy hom tegemoet stap oor die grasperk, skerp bewus van die intensiteit van sy blik, weet sy dat iets in hul verhouding onherroeplik verander het. Ook toe hy sonder ’n woord sy arms na haar uithou en haar vasdruk, kan sy dit voel: Pierre wil ’n wending hê. Na die een of ander kant toe . . .

Haar pa se kamma kwaai stem rasper oor hulle: “Haai-haai! Kyk hoe vat hy my meisiekind so onder my oë! A nee a!” Hy lag luid van die stoep af oor sy eie grappie, en toe hulle half verleë nader stap, sê hy met slegs ’n halwe spot: “Ag dis maar reg so, ou Koot sê my juis gister jy beplan om in die klofie te bou, Pierre?”

Sy benadering kon skaars lomper gewees het, en sy voel beangs hoe Pierre se hand om haar vingers kramp. Sy kan nie verhelp om teen haar aard in sommer los te bars nie: “My jinne, Pa . . .! Los tog julle gekokery! Ons het nog glad nie oor so iets gepraat nie!”

Pierre sien aan die rooi vlekke op haar wange hoe ontstig sy is, en red die situasie knap: “Moenie jok nie, Lizzie, ons baklei al jare oor daardie tweede badkamer en die gesonke sitkamer, en só bly die saak hangende!”

Oom Giel bly stil, sy bebrilde oë soekend na ’n lekseltjie emosie op die twee strak gesigte, om die speelse woorde van die jong man te beaam. Dalk was daar regtig ’n stryery oor die badkamer, as daar maar wás . . . Maar sy Liz het die waarheid gepraat – dit is so dat hulle nog nooit ’n huisbouery bespreek het nie. Hy wonder of ou Koot dit besef . . .

En nou sit Pierre en Lizette in die inry, en die gedagtes aan die huis is tussen hulle. Met elke minuut wat verloop, kom daar ’n muur by. Dit voel vir Lizette of die hamburger en aartappelskyfies haar hele mond vol is en na saagsels smaak. Ook Pierre, met wie se eetlus daar nooit iets skort nie, sit net en knibbel. Halfpad geëet aan sy aartappelskyfies, vou hy dit toe in die pakkie, sit dit op die agterste sitplek neer en skakel die motor aan. Lizette vra nie eens waarom hy dan uitry as die prent nog nie eens begin het nie. Sy weet goed hulle moet praat, hierdie gedwongenheid wat van buite af op hulle druk, wegpraat.

Toe hy uiteindelik stilhou, is dit onder die welige wilgers van die Groenvlei-feesterrein, en toe hy die motorligte afskakel, is dit stikdonker rondom hulle. Lizette voel hoe haar hart met swaar, seer slae klop sodat sy met ’n sug na haar asem reik. Na ’n rukkie skakel Pierre die motor se binneliggie aan, en draai skuins om haar mooi te sien. Hy kyk na haar lang, los raafswart hare wat bloublink glim in die effense liggie, na haar groot oë en die weemoedige trek om haar mond. Ek wil haar hê, dink hy met begeerte, ek wil haar regtig hê. . .

Tog is sy woorde swaar: “Liz . . . Dis ’n groot verantwoordelikheid om ’n plaas soos Tóg Wat te erf.”

Sy lig haar gesig na hom toe en antwoord stadig: “Hm . . . en om ’n plaas soos Sterk Water te trou, is ysingwekkend.”

Hy antwoord nie dadelik nie, draai sy kop weg en staar met ’n frons na sy eie weerkaatsing in die ruit.

“Wat,” vra hy net naderhand, “skort met ons mense in die laaste tyd?”

“Jy bedoel die geneul oor die huisbouery?”

“Ja.” Hy draai terug na haar, kyk stip na haar gesig toe hy sê: “En my pa praat selfs van ’n erfgenaam!”

Haar mond gaan oop en selfs in die swak lig sien hy hoe ’n diep gloed oor haar wange spoel.

“Jy . . . steur jou tog nie daaraan nie!” is al wat sy uitkry.

“O ja, ek steur my wel daaraan,” sê hy in ’n vaste stem, “want dit is tyd dat ek en jy aan vernuwing en verdieping begin dink, Lizette. Ons is . . . nie meer kinders nie!”

Asof hy haar nie die kans wil gun om twee maal daaroor te dink nie, trek hy haar nader, dwing haar mond na syne en soen haar met ’n drif wat aan desperaatheid grens. Maar toe sy haar hande sag oor sy agterkop plaas en haar oorgee, ontspring daar soveel vertedering uit die liefde wat hy vir haar het, dat drif vervloei en ware begeerte meester word van hom. Dit is hy wat hom met ’n sidderende asemteug uit hul omhelsing losmaak.

“Ons moet maar liewer trou,” sê hy, vee met die agterkant van sy hand saggies oor haar gesig.

Daar is ’n bewing in haar stem toe sy hom antwoord: “Omdat jy voel jy móét of omdat jy graag wil?”

“Ek hét jou lief!” sê hy in verweer, sy hande om haar boarms.

“Ek weet . . . maar die huwelik vra tog ook bereidwilligheid tot gebondenheid?”

Hy neem sy hande traag van haar af en plaas hulle op die stuurwiel voor hom. “Lizette,” sê hy hees, “jy is so pragtig . . . jy skeur my hart aan twee!”

“Dit . . . wil ek nooit doen nie!”

Hy bly doodstil, onmagtig om iets te uiter wat sinvol gaan klink. Hy weet net nie, ag, hy weet tog nie . . .

Lank sit hulle in stilte, omdat albei weet dat vele woorde nie nou veel kan lap nie. Eindelik vra sy reguit: “Wat is dit, Pierre, wat jou in die laaste tyd so ry?”

En hy erken. Al is dit vir hom swaar, erken hy: “Dis my pa. Jy sien, ek het my dit so geheel anders voorgestel. Ek het altyd geweet dat hy maar net hý is . . . jy ken hom tog. Maar ek het gehoop dat as ek my studie voltooi het, hy my as sy gelyke sou beskou. Wel, hy het nie verander nie. Hy wil graag hê dat ek dáár moet wees, maar nie déél daarvan nie. Ek glo nie eens hy weet dat hy so is nie, want hy ken nie so iets soos selfontleding nie. Vir hom is dit heel eenvoudig: Pierre kom plaas toe en hy maak soos ek sê, en ek sal ook vir hom sê wanneer om vrou te vat en ook wanneer om ’n kind te hê!”

Hy bly weer ’n ruk lank stil. “Ek kan nie só leef nie, Lizette. Ek is ook maar net ék. En ek wil nie vasgevat en toegevou word nie – ek sal versmoor . . .!”

“Ek kan dit begryp,” sê sy sag, “en ek wil vir jou iets aanhaal wat ek nou die dag gelees het. Dit gaan so:

‘If you love something – set it free . . .

If it comes back to you, it is yours . . .

If it does not come back – it has never been yours . . .”

“Ja . . .” sê hy ingedagte, “ja.” En toe: “Ek het te vroeg huis toe gekom, Lizette. Ek kan nie langer aanbly nie . . .”

“Wat gaan jy maak?” vra sy kalm, maar haar vingers klem in haar skoot.

“Ek gaan verder studeer . . . of so het ek gedink . . .”

“’n Goeie plan, die énigste, sou ek sê . . .”

“Daar het jy gelyk.”

Daar het ’n subtiele, waaksame ondertoon in hul gesprek ingesluip, en Lizette is die eerste om dit aan te voel. Tog vra sy kalm: “Wanneer beplan jy om te gaan?”

“Binnekort. Lizette . . .?”

“Ja?”

“Wat . . . van óns?”

Sy draai na hom, kyk vlugtig na sy stywe profiel, en toe weer voor haar, en voel vir die soveelste keer op hierdie aand hoedat haar senuwees tot die uiterste toe getakseer word.

“Niks dramaties nie,” antwoord sy kalm, “ons sal maar sien hoe dinge uitwerk.” Maar sy dink: liefste Pierre, as jy werklik seker was, sou jy die vraag nie gevra het nie. Ek weet nie of dit net jou ontuisheid op Tóg Wat is wat jou verjaag nie, maar ek weet wel dat jy nie nou kans sien om my saam met jou te neem nie.

Toe sit hy sy hand oor hare. “Dit sál uitwerk, Liz, jy sal sien. Ek wil net ’n ruk hê om hierdie ding in my lewe te verwerk. Ek weet nie of ek ooit die moed sal hê om my pa dag na dag te opponeer nie; ek is geen vegter nie. Maar ek kan my ook nie meer só laat manipuleer nie.”

“Natuurlik nie,” antwoord sy, en sy bedoel dit. Maar dink weer: En dit, Pierre, beantwoord nog nie die vraag oor ons twee se toekoms nie.

Toe hy haar uiteindelik weer knap voor twaalf voor Sterk Water se opstal aflaai, wil hy haar nog in sy arms terughou, maar sy soen hom vinnig en klim uit.

Gruispad na Tóg Wat

Подняться наверх