Читать книгу Gruispad na Tóg Wat - Helene de Kock - Страница 4
2
ОглавлениеPierre Nienaber stap uit die groot moderne landbougebou van die universiteit en klim in sy motor. Gedane sake, dink hy toe hy wegtrek, het geen keer. Hy is pas meegedeel dat die universiteit hom met graagte as gevorderde nagraadse student terugverwelkom. Te meer omdat hy so uitstekend gevaar het die vorige jaar. Hy strek sy skouers ergerlik in die donkerblou kleurbaadjie wat die nagraadse studente dra, om die morbiede gevoel wat hom kort-kort met mening pak, van hom af te kry. Hy moet nou ophou om aan hierdie besluit van hom te dink as gedane sake. Dit was ’n positiewe ding wat hy gedoen het, wat veel vrug gaan afwerp. Dit móét hy glo!
Hy bestuur sonder veel konsentrasie deur die nog leë strate. Die eerstejaars kom eers oor ’n paar dae, en die res begin ’n week daarna. Hy het vroeg gekom, want die atmosfeer op Tóg Wat, en ook op Sterk Water, na sy besluit bekend geword het, was bepaald nie bevorderlik vir ’n goeie gemoedstoestand nie. Buitendien was daar nog die kwessie van ’n titel vir sy M.A.-verhandeling. Noudat hy finaal besluit het om met Landbou-ekonomie aan te gaan, lê dié moeilike keuse egter nog voor, en daarvoor het hy ’n bietjie tyd nodig.
Hy draai in ’n besiger deel in en kies dan links in Lynnwoodweg koers. Hy sal by die inwonende professor van sy ou koshuis gaan tee drink, besluit hy. Hy moet nog iewers losies kry en dalk kan prof. Van Greunen en sy vriendelike vrou ’n bietjie lig werp op dié sake.
Hulle is dan ook opreg bly om hom te sien. Pierre Nienaber was ’n uitsoek-student. As lid van die studenteraad en ook lank lid van die huiskomitee, het hy respek op alle vlakke afgedwing.
“Pierre!” roep mev. Van Greunen uit toe sy die deur vir hom oopmaak, “maar dis gaaf dat jy kom kuier het!”
Maar hy skud sy blonde kop. “Ek kom nie net kuier nie, mevrou,” sê hy toe hy gaan sit in die bekende sitkamertjie van hul woonstel aan die koshuis. “Ek kom verder studeer.”
“O?” Sy probeer nie eens haar verbasing verbloem nie, en lyk verlig toe haar man se studeerkamerdeur oopgaan en hy binnekom.
“Pierre – dag, man!” groet die gryskopman met ’n breë glimlag. “Ek wou sê dis jou stem wat ek hoor. Nou waar’s Lizette?”
Nes altyd! dink Pierre. Prof. van Greunen slaag steeds daarin om sy vinger rég op ’n seerplek neer te sit. Wonderlike vermoë wat dié man het om reg deur ’n mens te kan sien, soos menige student al moes ontdek.
Pierre groet hom met die hand en antwoord reguit: “Sy het verlede week begin skoolhou op Bethlehem.”
“Ek sien,” sê die professor net, gaan sit langs sy vrou op die bank.
“Jy kom seker terug koshuis toe?” vra mev. Van Greunen. “Hier is heelwat opseggings en ek is seker ons sal dit kan reël; jy weet mos ons is altyd maar te bly oor die meer senior studente.”
“Nee, mevrou,” antwoord Pierre met ’n stram laggie, “ek dink tog nie so nie, maar baie dankie.”
Dié slag sit die professor vorentoe. “Waarom nie?” vra hy, en dis ’n vraag wat ’n antwoord wil hê.
Pierre weet ook beter as om nou ompaadjies te loop. En hy sê: “Ek wil nie weer op die ou paaie loop nie, professor.”
“Hmf! Klaar met die dinge van ’n kind, nè?” spot die ouer man fyntjies en merk die gloed wat in die sterk, jong nek klim. “Wel, hier is nogal heelwat losiesplekke in die omtrek. Jy sal seker nie te ver van die universiteit of die proefplaas wil wees nie?”
“Nee,” skud Pierre kop, “u het dit reg, ek wil graag sommer hier naby woonplek kry.”
“Nou ja, dan het ek net die plek vir jou,” sê mev. Van Greunen. “Hier is ’n ouerige vrou wat kamers uithuur aan nagraadse studente. Daar is ook ’n paar mediese studente, maar almal so van hul vierde jaar af. Dit gaan glo stigtelik, hoor ek.”
Die uiteinde van die saak is dat mev. Van Greunen sommer dadelik dié mev. Postma bel en een van die twee laaste kamers wat nog beskikbaar is, vir Pierre in die hande kry. Pierre is haar innig dankbaar, want in der waarheid het hy vir ’n kamersoekery nie juis die hart nie. Hy verlang ineens so na Lizette, na haar fisieke nabyheid, dat sy keel skoon wil toesnoer by die gedagte dat dit hy is wat hom op hierdie weg begeef het, wat, soos dit vir hom voel, al verder van haar af weglei.
Nadat hy saam met die twee ouer mense tee gedrink het, en beloof het om gereeld te kom inloer, groet hy hulle en vertrek na die adres wat mev. Van Greunen aan hom gegee het.
Hy is skaars uit sig of mev. Van Greunen draai bekommerd na haar man. “Wat dink jy, Klaas? Is daar fout tussen hom en Lizette?”
Hy vryf ingedagte oor haar skouer. “Nee . . . Nee wat, ek sou nie so sê nie, maar ek dink dat ons in die tyd wat kom, baie aan Pierre Nienaber sal moet dink. Hy is ’n algehele individualis, en hy het homself nog nie gevind nie. Hy was nog altyd ’n gedrewe soort mens, maar die laaste paar jaar was Lizette hier om hom te laat vergeet van sy soeke. Sy is mooi en intelligent genoeg daarvoor, jy weet dit tog.”
Sy knik.
“Maar nou is sy nie hier nie; ek wil haar amper krediet daarvoor gee dat sy hom teruggestuur het.”
“Ek stem saam,” sê mev. Van Greunen, “maar ek glo tog nie Pierre laat hom heeltemal deur haar lei nie.”
“Nee, natuurlik nie, my vrou! Nie hý nie, hy behoort aan homself, maar hy het haar lief!”
“Ja, o ja . . . Dit kon ’n mens sien elke keer dat hulle hier by ons kom tee drink het. Ek sal hulle mis. Hulle was van dié wat gereeld hier gekom het.”
“Ja,” beaam die professor, en voeg by: “Ek sê dit nie maklik nie, maar vir Pierre Nienaber is daar net een vrou, en dit is Lizette de Wet. Ek hoop net hy kom ook iewers langs die pad tot dié slotsom.”
“Ek gaan ’n ogie oor hom hou,” besluit mev. Van Greunen dadelik. “Ek het hom mos darem voor my oë sien mens word hier.”
“Jy doen dit nie,” belet die professor haar. “Hy wil nou ’n mán word, wat triomfantelik uit die stryd tree, en hy gaan nie daarvan hou as sy ma saamgaan oorlog toe nie!”
“Nou praat jy in raaisels!” beskuldig sy.
“Glad nie. Wat se skielike gestudeerdery is dit met hom? Dit was nie nodig dat hy hiérheen kom vir sy meestersgraad nie. Met spesiale vergunning kon hy net daar op Tóg Wat aan sy tesis gewerk het, en af en toe ingekom het universiteit toe vir kontrolering. Nee, hy wou wég, en ek dink nie hy weet self waarheen nie. Ek ken hom mos.”
Sonder baie soek, kry Pierre mev. Postma se huis. Dis ’n groot ou plek, net ’n paar blokke van die proefplaas af, in ’n erf vol jakarandabome. Toe hy uit die motor klim en eers ’n rukkie bly staan, is daar ’n suisende stilte om hom. Hy kom oomblikke later agter dat dit die wind in die kantagtige blare van die jakarandas is. Dis so rustig, dink hy, en dit stel hom ook gerus. Ook die aanskoue van die kalm ou huis met die groot houtluike, toegemaak teen die warm son, laat die gefladder op sy maag bedaar. Dis ’n gewone huis, geen Sodomsplek nie, dink hy, en kry toe lag vir sy eie grondelose vrees. Waarom dink hy ook nou juis dat hy gebyt gaan word vandat hy sy kop in die ding gesteek het? wonder hy. Gee toe aan homself dié lawwe antwoord: omdat ek ook maar altyd meer astrant as dapper is! Watter verstandige siel sal ’n meisie soos Lizette van hom af laat weggaan en self in ’n windrigting laat spat as hy met haar kon getrou het en in ’n betaalde huis op ’n erfplaas kon gaan woon? Miskien lê hierin juis die toets van sy verstandigheid . . .
Hy laat die oop motordeur onder sy hande met ’n slaggie toeklap en skrik effens toe die voordeur skielik oopgaan en ’n klein bondeltjie meisiekind met ’n bos heuningkleurige hare uitgewaai kom. Sy steek op een been op die stoeptrappie vas, skud die skouerlengte hare uit haar oë en kyk ietwat verbaas na hom, spring toe weer weg soos ’n klein wilde perdjie om die hoek van die huis. Hy wil eintlik lag kry vir die meisiekind se haastigheid. Hy bly half afwagtend staan en kyk lank nadat die fladdering van haar wye geel rok reeds verdwyn het. Toe stap hy met die trappies op en klop aan die voordeur.
Die vrou wat die deur oopmaak, is duidelik in haar vyftigerjare en het ’n kalm gesig. Sy is smaakvol gekleed en sy dra haar gryswit hare in ’n bolla.
“Jy moet Pierre Nienaber wees,” sê sy toe hy nog asemskep vir ’n groet. “Ek is mev. Postma.”
“Aangename kennis, mevrou.”
Sy nooi hom in en hy stap saam met haar deur die ruim voorportaal met sy blink kleiteëls na die sonnige sitkamer waar gemakstoele in groepe van drie of vier gerangskik is. Ronde koffietafels met potjies blomme op voltooi ’n mooi prentjie. Hulle gaan sit naby ’n groot venster, wat op die voortuin uitkyk, en mev. Postma stel hom sommer dadelik gerus: “Jy behoort daarvan te hou hier, mnr. Nienaber. Almal wat ek inneem, is ernstige studente en hier is nooit groot lawaai nie.”
Pierre bedank haar en hulle bespreek nog ’n paar kleinigheidjies. Toe stel sy voor dat hy kom kyk of hy van die kamer hou.
Die kamer is op met die trappe, die eerste deur links. Pierre is aangenaam verras. Dis ’n besonder groot kamer met ingeboude kaste en plankvloere met ’n los mat. Die venster laat baie lig in, en hy kyk slegs vlugtig rond voordat hy aan haar sê dat dit presies is wat hy wil hê.
Dis eers ’n paar uur later, toe al sy goed uitgepak en reg is, dat hy ’n oomblik lank op die enkelbed gaan lê en dut – en homself oopstel vir gedagtes en herinneringe aan Tóg Wat en aan Lizette.
Die laaste paar weke op die plaas was moeilik. Pa Koot en Pa Giel was geskok en verontreg. Veral verontreg. En toe daar tydens die laaste week of wat van die stroopseisoen nog ’n paar buie sterk reën uitsak, was die gort behoorlik gaar. Vasgekeer in die huise en met die wete dat met elke druppel wat daar val, die lande meer onbegaanbaar raak, het die gevoelens gou kookpunt bereik. En voordat hy homself kon keer, het Pierre met die hele sak patats van sy verdere studie vorendag gekom, en dit op heel die verkeerde sielkundige moment.
Dit was op ’n dag toe ál die beskikbare koring wat reeds voor die reën afgestroop was, klaar gedroog was en die manne soos bere binnenshuis loop en brom het. Sy ma het hom en sy pa geroep vir koffie.
“Sit tog en bedaar,” het sy ma ewe kalm gesê en na sy pa se bewolkte gesig gekyk. “Dit sal wel ophou reën.”
“Sê wie?” het sy pa baie soos ’n kind binnensmonds teruggekap, en sy beskuit diep in die geurige koffie gedruk.
Maar sy ma is nie elke man se maat nie, en sy het haar tot haar volle lengte gestrek, haar rosige gelaatskleur ’n skakering dieper. “Sê die Een van Wie jy afhanklik is!” het sy sag geantwoord en met mening haar koffie begin roer.
Pierre moes lag kry toe hy sien hoe sy pa se mond oop en toe gaan, en toe bly. ’n Mens antwoord ook mos nou nie op so iets nie, dis tog die volle waarheid. Maar Koot het die glimp van ’n lag op sy seun se gesig gewaar, en sy gefrustreerde frustrasie op hóm afgevuur.
“Wat soek jy op ’n dag soos vandag by twee ou mense? Jy en Lizette behoort iewers te sit en handjies hou! Dis eintlik al wat mens op só ’n dag kan doen!”
“Koot, jy kan jou skaam!” het sy ma probeer wal gooi, wel wetende dat haar Koot nogal onhebbelik kan raak in een van sy reënbuie. Maar dit was al die derde reëndag, en Koot het hom nie laat keer nie.
“Het julle toe al ’n bietjie gepraat oor die huis?” wou hy weet, soos altyd ’n man wat ’n saak tot ’n punt wil dryf.
Pierre het wyslik geswyg en stadig aan sy stomende koffie begin proe, bewus daarvan geraak dat sy ma se blik op hom verskerp het. “Pierre?” het sy ter wille van die vrede gepor, en ter wille van háár het hy ’n soort antwoord gegee.
“Ons hét gepraat, ja.” Koot het met ’n tevrede sug teruggesit en figuurlik die hand na sy enigste seun uitgesprei. Want noudat die mannetjie erken dat hulle wel daaroor gepraat het, kan welwillende pa en eiesinnige kind mos kommunikeer, wat.
“En sy wil anders as jy?” het hy heel vriendelik Pierre se dikke swye probeer peil.
“Sy wil glad nie,” het Pierre kortweg geantwoord, en stadig opgestaan omdat hy gevoel het of hy reg bo-op die tafel kon spring.
Waar was sy pa se aanvoeling vir atmosfeer! Was hy dan die afgelope tyd geheel en al onbewus van sy seun se stormagtige gemoedsgolwe? het Pierre met wrang refleksie gewonder. Maar nou ja, Koot Nienaber was nog nooit iemand wat van frekwensie kon verander nie. En tóé ook het hy in verdwaasde onbegrip van sy blondekopvrou na sy blondekopseun gekyk.
“Sy wil nie?” het hy gevra in skone verbasing.
Tog het Pierre op daardie oomblik bevryd gevoel, kompleet asof daar ’n snaar in sy borskas losgespring het, en hy kon asemhaal. “Net so, Pa, en ek moet nou heeltemal eerlik wees en erken dat ek ook nie wil nie! Ek wil nie trou nie en ek wil nie huis opsit nie. Nie nóú nie.”
“Anderdag is sy leuse!” het sy pa tussenin gevlam. “Hoor jy daar, vrou? Hoeveel jarre der jarre vry hy nie al na die meisiekind nie, hou ons almal aan ’n lyntjie, en nóú kom hy sê hy wil nie!”
“Nee!” het Pierre uitgeroep, en weer gaan sit asof hy daardeur ook sy stemtoon kon verlaag. Hy het nie sy pa se vonk-en-vlam-geaardheid nie, en wou regtig geen lelike rusie ontketen nie. “Nee, Pa, dis Pa wat my aan ’n lyntjie probeer hou! Ek is baie lief vir Lizette, maar ek wil nie nou al plaas toe kom nie!”
“Is dit die hele ding, Boet?” het sy ma sag gevra, en die smeking in haar stem het hom nie ontgaan nie. Sy kon nog nooit harde woorde tussen haar enigste seun en die man wat sy liefhet, verdra nie.
Pierre het na haar kant toe geglimlag. “Is dit so vreeslik?”
Sy het haar kop effens geskud, haar hand na haar man toe uitgesteek. Hy het dit geneem, half ingedagte, sy gesig die ene frons soos wat hy hierdie nuwe dinge van Pierre probeer uitpluis.
“Is dit omdat ek ook nog hier op Tóg Wat is?” het hy naderhand met verrassende bedeesdheid gevra. “Of skrik die trouery jou rêrig so af?”
“Ag, Pa.” Hy was opreg verleë. “Ja en nee op albei vrae, maar dis eintlik ék. Ek weet nie so mooi nie!”
Sy pa het ’n suur laggie oor sy gesig laat trek. “Jy laat my baie dink aan my pa, weet jy? Hy kon ook so hot en haar aan die wik en wonder gaan, en sommer ’n koers inslaan. Want dis seker wat jy nou weer wil doen, nè? Vir hoe lank, wonder ek . . .”
“Lank, Pa. En dis nie sommer net ’n koers nie – ek wil gaan verder studeer. My meestersgraad kry, dalk nog verder.”
Hy het ’n teer punt aangeraak, dié het hy geweet. Dit was nou wel gaaf dat hy gaan leer het, maar sy pa was nie verskriklik beïndruk met sy universiteitsgrade nie. Hierdie geleerdery, het hy menigmaal gesê, is goed en reg, maar net tot op ’n punt. Dan moet ’n man begin vastigheid kry. Vastigheid, het Pierre goed geweet, lê vir sy pa in die konkrete dinge. En hy het sy pa se geskokte reaksie voorsien. Sy ma ook.
“Koot,” het sy gepleit. “Koot, asseblief, laat die kind sy eie lewe lei.” Sy het opgestaan, haar letterlik tussen die twee mans kom inplant.
“Red nou ’n volk . . .!” het sy pa net uitgeroep en uitgestap.
Sy ma het dadelik na hom geswaai, waar hy met saamgeperste lippe en gevoude arms bly sit het. “Boetie . . . Wát is dit? Móét jy regtig . . .?”
Hy het opgestaan, sy arms om haar kom sit. “Ja, Mams, ek moet. Daar is iets wat woel binne-in my. Ek voel nog nie gereed vir ’n bestaan op Tóg Wat en alles wat dit behels nie.”
Sy het haar kop teen sy bors laat sak. “Lê die fout op Sterk Water? Sê vir my, Pierre . . .!”
Hy het haar vlugtig, gerusstellend op haar blonde hare gesoen, wel wetende hoe ’n sagte plek sy ma vir Lizette het.
“Nee, dié versekering gee ek Ma, die fout lê nie daar nie.”
“Jy moet haar nie seermaak nie, Pierre.”
Toe het hy haar weggestoot en tot by die venster geloop, blind gekyk hoe die reën deur die digte lower van die prieel langs die huis tap en drup en tap. En gevoel hoe die bedruktheid hier binne uitswel en hom amper bewoë maak, sodat hy net sy kop stram heen en weer kon skud. Uit die hoek van sy oog het hy net gesien hoe sy ma haar hande in ’n verslae gebaar na haar mond bring, so asof sy hom nie regtig glo nie.
Later daardie aand het hy tog oorgery na Sterk Water, van veraf gesien dat dit net Lizette se lig is wat nog brand, en galsterig gedink dat oom Giel seker selfs in sy slaap hom brommend berus by die ontydige reën. Want hy het die afgelope paar dae die telefoondraad vuurwarm gepraat en gekla. Gedagtig daaraan dat oom Giel ook nie alte vriendelik was die afgelope tyd sedert hy agtergekom het daar haper iets by hom en Lizette nie, het hy die motor geruisloos voor die huis tot stilstand gebring en saggies in die reënnat nag uitgeklim.
Hy het oor die deurweekte grasperk gestap tot voor Lizette se kamervenster en met die punte van sy vingers getik-tik aan die ruit. Haar skadu het na die venster toe aangekom, en toe het sy die gordyn met ’n enkel handbeweging weggestoot en die raam gelig. Die skynsel van haar leeslamp het wasig om haar gehang, dofweg deur die dun nagrokkie gedring sodat hy die vae buitelyne van haar sagte kurwes kon sien. Haar oë was groot in haar verbaasde gesig, haar sagte mond in ’n huiwerige laggie getrek.
“Pierre . . .?”
“Hallo . . .” Die groet het skor uit sy mond gekom. Want by die aanskoue van haar brose vroulikheid het dit hom sonder waarskuwing gepak – ’n wilde lus om haar te besit, om sy liefde vir haar toe te laat om hom te oorspoel. Hy het vinnig vorentoe getree, haar ferm aan haar boarms geneem en haar halflyf uit die venster na hom getrek, met diep versugting teen hom vasgehou, haar warmte deur sy klam klere gevoel.
“Pierre . . .” het sy net weer gesê, en hy het seker geweet aan die half verlore klank van haar stem en aan die oorgawe van haar mond, dat sy hom nie sou teëgaan nie. Die wete het soos ’n vlam in hom gebrand, en soos rook na sy kop gegaan sodat hy byna vergeet het wie in sy arms is. Maar dit het ook begin skroei aan sy gewete, en hy het momenteel gehuiwer toe hy wou vra: Laat my inkom . . . Hy het haar effens van hom weggehou, afgekyk op haar passiestille gesig met die geslote ooglede, en tot verhaal gekom. Sou ’n oomblik van ongeoorloofde ekstase hierdie onrus in my blus? het hy met pyn gewonder. En meteens skerp bewus geword van Lizette se totale weerloosheid omdat sy hom liefhet. Hy het haar kop krampagtig teen sy skouer gedruk, haar warm mond teen sy palm gevoel – en haar toe teruggestoot sodat sy weer binne staan, gesien hoe haar oë in verbasing oopgaan. Sy het vreemd na hom gekyk asof sy van iewers af terugkeer. Toe het sy haar hande stadig oor haar gesig geplaas.
“Moenie. . .” het hy gefluister, sy hart rou binne-in hom, “ek het jou lief!” Dit was ook waar, al was dit nie die volle waarheid nie, want hierdie rusteloosheid het sy emosies van hart na drang gestoot. En kan ’n mens ooit ’n soeke stil deur uiting te gee aan ’n drang? Dié besef het hom skaam laat omswaai en hy het teruggeloop na sy motor en sonder veel lawaai vertrek.
Die volle implikasie van wat hy so amper gedoen het, het hom in die onverwagte sonlig van die volgende oggend getref. Terwyl hy saam met sy pa oor die modderige wenakkers stap om te kyk of die lande hoegenaamd begaanbaar is, was hy siek by die gedagte dat hy homself byna vergeet het. En dit met Lizette! Nooit weer, het hy besluit, sal hy toelaat dat ontsteltenis uiting vind in begeerte na fisieke intimiteit nie. Dit kan net nare gevolge hê. Hy sou Lizette gaan sien en weer alles regmaak. Want hy ken haar. Sy is sensitief en sal weke lank sleg voel oor wat gebeur het. En dit was net sy skuld. Wel wetende hoe sy oor hom voel, moes hy nooit laataand na haar kamer gegaan het nie. Baie van die dinge wat sy pa so graag kwyt raak, is tog waar, het hy wrang gedink – ’n mens moenie moeilikheid gaan soek nie; om dit af te weer wanneer dit vanself kom, is heeltemal erg genoeg . . .
Hy het egter geen kans gehad om na Lizette te gaan nie. Toe hy tydens middagete gou wou wegglip Sterk Water toe, het ’n ou vrou, wat van daar af kom, hom voorgekeer. Sy het Lizette help grootmaak en het hom goed geken. Sy het hom by die motorhuis ingewag, en sonder ’n woord ’n brief aan hom gegee, gegroet en geloop. Hy het die ligblou koevert oopgemaak en die paar woorde op die enkele vel ’n paar maal gelees voordat hulle ingang gevind het.
Ek gaan vir ’n paar dae na Annette op Jagtersfontein. Ek het ’n klompie van my goed klaar ingelaai en sal sommer daarvandaan na Bethlehem gaan. Sien jou die Aprilvakansie. Joune, Lizette.
Dit was net sý wat dit sou regkry om ’n paar onskuldige sinne veel, veel meer te laat sê. Die brief was ’n subtiele aanmaning om haar nie te kom besoek op Jagtersfontein nie. Om haar ook nie te kom soek op Bethlehem nie. Sy wou hom nie tóé sien nie.
Pierre ruk soos hy skrik toe daar hard en uitbundig aan sy kamerdeur geklop word. Hy voel swaar van kop en lyf, asof hy ru uit ’n droom wakker geskud is.
“Binne!” roep hy en kom stram orent. Hy is halfpad na die deur toe dit oopswaai en die haastige meisiekind van vroeër vandag daar staan. Hy kry die aardige gevoel dat sy weer haastig is, al staan sy hom doodstil en met groot belangstelling en betrag. Wat meer is, sy eie woorde het eenvoudig opgedroog. Hy staan en kyk na die meisie – ’n klein meisie met heuningkleurige hare wat los om haar kop hang, ’n paar besonder intense bruin oë, blink soos lukwartpitjies, ’n kort neusie en ’n vol mond wat geamuseerd vertrek onder sy blik.
Hy voel ’n ergerlikheid in hom opstoot. Hy is tog allermins lus om bekyk te word.
“Soek jy iets, juffrou?”
Toe lag sy, ’n lekker lag uit haar keel, en hy sien dat haar tande wit en blink en bietjie skeef is.
“My naam is Trix. Kom drink saam met ons ander tee. Ek het hulle gesê jy lyk af die plaas, en toe stuur hulle my om jou te kom haal.”
“Af die pl . . .! Tj!” Pierre is sommer vies. “Wat weet jy tog van die plaas af? Buitendien, ek bly al jare lank hier in die stad en ek gaan net vakansies plaas toe! Dis glad nie die eerste keer . . .”
Sy hou een klein handjie op, lag nog steeds. “Toe maar, ek wil nie jou lewensgeskiedenis weet nie! Wat ek sien, is genoeg getuigskrif! Kóm nou net . . .!”
Maar hy bly steeds staan, sy hande op sy heupe. “Nou wat bedoel jy . . .?”
“Ag tog!” Sy sug gemaak. “Af die plaas en nog praatsiek ook! Die tee word koud, jong!” Toe draai sy om en hy hoor haar ligvoets die trappe af trippel.
Hy bly oomblikke lank staan, vasgevang in ’n besluiteloosheid wat ’n skaam tiener sou gepas het. Toe klik hy weer hard met sy tong en stap gedwee uit en af met die trappe.
Onder in die groot woonkamer sit ’n tienstuks mans en meisies om die koffietafeltjies en gesels. Hulle bly stil toe Pierre in die deur vassteek. Trix sit bo-op ’n klein tafeltjie, wat sy blykbaar vir haarself uitgesonder het, en drink smaaklik aan ’n groot erdebeker met tee.
“Daar’s hy!” sê sy toe sy hom opmerk, en die ander meisies giggel. “Volgens alle gerugte ’n ervare man van die stad én van die plaas. Maar wat sy bekwaamheid aanbetref, meisies . . . nou ja!”
“Los hom, Trixie!” sê ’n lang man bó die gelag uit. “Ek ken hom. Dis Pierre Nienaber. Jy behoort hom ook te ken.”
Pierre herken hom dadelik en kom in, sy aanvanklike verleentheid skoon weg. Dis Piet Spies wat verlede jaar saam met hom graad gekry het. Maar Trix gee hom geen kans nie. Sy klap haar vingers in die lug soos ’n kind wat sy hand in die klas opsteek.
“Dis hom! Dis nooit anders nie!” juig sy, laat haar hand sak en kyk na hom met ’n soet, breë glimlag wat niemand mislei nie. Sy gaan die nuwe ou treiter tot sy hom mak gemaak het. “Ek het vir jóú gestem met die studenteraadsverkiesing, weet jy! Nogal twéé kruisies gemaak vir so ’n mooi man!”
Pierre buk by die teekan, skink tydsaam en maak asof hy onbewus is van die singende stilte in die vertrek. Dié Trix is ’n opperste klein klits, dit besef hy nou. En soos dit voorkom, kry sy gou-gou al wat broek dra in die holte van haar klein handjie. Wel, nie vir hóm wat Pierre Nienaber is nie! Toe kom hy orent en begin roer aan sy tee, glimlag vriendelik met haar.
“Ai, hoe jammer tog! Dit was nou die één stembriefie wat uitgegooi is. Jy weet, sulke oorentoesiasme het menige kieser al groot teleurstelling besorg!”
Enige ander meisie sou vies gewees het. Lizette sou in die aarde gesink het, maar nie hierdie Trix nie. Sy sit haar beker neer en haar glimlag verander – dit word goedkeurend, asof sy sy staal getoets het en tevrede is.
Die ander lag en bepaal hulle weer by hul eie praatjies. Piet Spies kom staan by Pierre, en hulle begin feitlik dadelik gesels oor hul gesamentlike studierigtings. Piet beduie ook aan hom dat vyf van die ander loseerders ook landboustudente is, en die ander studeer medies. Trix inkluis. Glo ’n knap student, dié Trix, en al in haar vyfde jaar. Dis tydens die gesprek dat Pierre weer haar oog vang – en hou. Sy bekyk hom takserend, nee, sy stroop hom van alle vernis en maak hom bewus van homself en van haar. Haar kleinheid, haar kompakte liggaamsbou, haar bonsende lewendigheid word in detail onder sy aandag gebring sodat daar ’n klein krieweling in hom ontstaan. Irritasie? Ja seker, dink hy, sy hinder my. Twee sulke persoonlikhede soos ek en hierdie meisie kan net bots – of saamsnoer . . .
Dis ’n skielike gedagte wat soos ’n koeël deur hom gaan. Dit mág nie, verweer hy met krag. Want dit sal die verwoesting beteken van alles wat was . . .