Читать книгу Debora gaan huis toe - Helene de Kock - Страница 7

HOOFSTUK 1

Оглавление

Desember 1966

DOKTER DEBORA SCHLAGERFELDT staan met die pasgebore baba in haar hande. Ervaar soos altyd die opwel­ling van blydskap by die wonderwerk van lewe. ’n Lyfie wat uit die baarmoeder beur. En dan op ’n Godgegewe oomblik suurstof intrek en begin skree. Sy doen ’n vinnige ondersoek. Alles lyk wel. Die lamplig blink op die kindjie se gladde, ronde wange en bolyf toe dokter Tristan Murray die kind by haar aanvat. Hy lê die huilende baba met ’n teer gebaar op die uitgeputte ma se bors. Praat sag met haar.

Debora staar vasgevang na die toneel. As sy vanmiddag, toe sy nog op die langpad huis toe was, kon weet dat sy vannag saam met haar pa en hierdie man in ’n werkershut ’n baba sou vang, sou sy dit beswaarlik kon glo. Alhoewel, noudat sy na haar pa se verligte gesig kyk, is dit seker nie vreemd nie. Al het sy dogter net ’n klompie ure gelede permanent huis toe gekom, is dokter Marnitz Schlagerfeldt soos altyd op sy pos.

Die oomblik stol terwyl sy in die lamplig na Tristan Murray se hande kyk. En sy weet dat dié man wat vandag haar lewe binnegekom het, haar laat soek na ’n antwoord sonder dat sy voorheen geweet het dat daar ’n vraag is. Soos in ’n rolprent speel die afgelope dag en nag deur haar kop. Sy her­leef binne sekondes die afgelope ure.

Om tot ’n slotsom te probeer kom. As daar een is.

Huis. Debora glimlag verlig toe sy onder die eik voor die kalkwit dubbelverdieping van haar ouers stilhou. Aan die oorkant is die Victoriaanse huis met die groen spitsdak. Nou oom Erik en Aunt Elizabeth se huis. ’n Baken op hierdie Oos-Vrystaatse dorp waar mens van hier af die mistige toppe van die Maluti’s kan sien. Maar steeds is die huis aan almal beter bekend as ouma Debora Schlagerfeldt s’n. Daar waar dit behaaglik na vars brood en soetkoekies ruik.

Verligting golf deur haar. ’n Verlange wat eindelik geblus word. Nêrens op aarde voel sy so geheel en al haarself nie. Hierdie twee huise is haar tuiste. En hierdie keer is dit finaal. Sy is klaar met klaarmaak-vir-huis-toe-kom. Nooit weer hoef sy uit te werk hoeveel jaar nog voordat sy haarself ’n dokter kan noem en kan terugkom na haar grootwordplek nie. Laas jaar was haar hospitaaljaar in die groot Boksburg-Benoni Hospitaal. En vooraf die jare se geswoeg op Tukkies. Nou is sy amper sewe en twintig en gereed vir als. So voel dit.

Sy het aspris nie laat weet wanneer sy kom nie. Want sy wou self in haar Volkswagen-kewer hierheen ry. Alleen die lekkerkry beleef om aan die einde van die pylreguit pad die Maluti’s se pers spitse teen die kobaltblou van die lug te sien.

Die laatmiddag se koel oostewind het stewig opgesteek. Dit lig haar lang, digte hare uit haar nek toe sy uitklim. ’n Olyf­groen stasiewa staan op die sypaadjie. Kuiermense, of iemand wat haar pa buite spreekure kom sien.

Sy bly staan, het ’n oomblik nodig. Haar kop vol gedagtes wat ongeorden soos ’n trop skape oral heen mik. Sy moet hulle in die kraal kry voordat sy instap. Anders sien haar ma en haar pa dinge raak wat is en ook wat nié is nie. Twee arende wat hul kleintjie met ’n oerdrif bewaak. As sy hulle daaroor kapittel, trek hulle net skouers op en sê dis omdat sy destyds toe die bomme geval het, gebore is. Want hulle is strenger met haar boet en sus wat sewe en agt jaar jonger as sy is, maar nie so oorbeskermend nie. Sy wonder wat hulle gaan kwyt­raak as sy aankondig dat sy mettertyd vir haar ander blyplek naby die dorpshospitaal gaan soek. Hulle sal eers geskok wees en dan martelaar speel. Haar mond pluk geamuseerd. Lief het sy hulle. So innig dat sy hulle hul eienaardighede glimlaggend vergewe. Maar die een of ander tyd sal hulle moet leer dat stil dokter Debora haar eie kop volg.

Sy kyk oor die straat na die Victoriaanse huis. Sy sien uit om haar ouma en ook oom Erik en Aunt Elizabeth en hul dogter Catherine, wat op die dorp skoolhou, weer te sien. Tyd te hê vir hulle. Natuurlik vir haar neef Dieter ook. Hy is die afgestudeerde kroonprins wat die Schlagerfeldts se plaaslike winkelryk eendag moet oorneem. So spot hy van jongs af wrang met homself.

Ouma Debora woon in die gastevleuel aan die agterkant. Sy en tant Rebekka, wyle oom Heinrich se vrou. Haar Joodse tant Rebekka werk bedags op die dorp by prokureurs en Ouma is meesal saam met haar Engelse skoondogter bedrywig in die kombuis. So het Debora immers haar ouma Debora en Aunt Elizabeth leer ken. Twee vroue wat al geselsend sy aan sy kan werk sonder om stry te kry. Aunt Elizabeth het as skoondogter tog wel haar stempel afgedruk. Die huis, volgens Debora se ma, Margot, ruik baie meer na suiker en kaneel as voor die oorlog. Vir haar ouers is alles steeds in twee kategorieë ingedeel: vóór die oorlog en ná die oorlog.

Debora glimlag toe sy na die beleë ou plek staar. Dis ’n huis vol generasies. Sy wonder hoe gaan dit met die hardkoppige Dieter en sy ewe rebelse pa so saam in een huis. Hy is al van die begin van die jaar af hier om in die winkel, bekend as Debora en Seuns, te help. Met sy MCom-graad en al. Driftige Dieter met sy koperkuif en felblou oë wat net so ’n talent vir kosmaak soos sy ouma het. ’n Lekker neef om te hê. Hy en Jakob, oom Heinrich se seun, is haar beste vriende. Hulle wat haar selfs beter begryp as haar ouers. So vermoed sy. En nou gaan Jakob trou en wie weet of hulle hom nog so gereeld gaan sien. Sy ken skaars die Kaapse meisie wat hy tydens sy studiejare op Stellenbosch ontmoet het. Suzaan de Wet, ’n vooraanstaande wynboer se dogter wat musiek gestudeer en op die donkerkop-Jakob verlief geraak het. Debora het haar nog nooit gesien nie, bloot omdat sy nog nooit op Bethlehem kom kuier het nie. Volgens tant Rebekka por Suzaan hom aan om hom as prokureur by ’n firma in die Kaap aan te sluit. Dis of iets in Debora se keel wil vassteek. Sy was sekerlik naïef om te droom dat sy en Dieter en Jakob hier, op die dorp waar hulle saam grootgeword en skoolgegaan het, weer saam sal leef en werk. Hierdie twee manne, albei ’n klompie maande ouer as sy, was immers nog altyd haar steunpilaar.

Sy draai om om na haar ouerhuis te stap want sy sal eers later daar oorkant gaan groet. Stellig saam met haar pa en ma en die kleintjies, soos wat sy aan haar sibbe dink.

Haar ouers se huis is mettertyd oorgebou. Ma Margot en wyle ouma Susan Scott het vroeër, toe die huis klein en on­toereikend was, hier gewoon. Maar toe haar pa Marnitz en ma Margot ná die oorlog uit Engeland terugkom, het hulle stelselmatig die huis reggemaak en aangelas totdat die plek nou selfs vir die Victoriaanse kasarm hier oorkant kompetisie kan wees. Dit het dan tot ’n balkon voor die hoofslaapkamer. Haar pa sê dis sodat hy en haar ma kan sterre tel as hulle wil, en dan soen hy haar ma. Sy het nog nie mense teëgekom wat so baie soen nie.

Sy staan nog en mymer toe die glasvoordeur oopswaai en haar broer en suster in die tuinpaadjie op haar afgestorm kom.

Wena, amper so lank soos sy, val haar eerste om die hals, trane in haar oë. Die morning glory-oë van wyle oupa Dieter wat die Schlagerfeldt-kleinkinders op ’n streep gemeen het.

“Debora! Kon jy mens nie laat weet het nie!” snak haar sus dramaties en soen haar.

“Jy klink soos Mamma,” laat Debora gelate hoor. Maak haar ander arm oop vir Ewert wat haar met die kamma ongeërgd­heid van sy negentien jaar hande in die sakke staan en beskou. Hy kom nader en gee haar ’n stywe druk.

“Bly jy’s hier,” sê hy net. Hy glimlag toe sy hom soen.

“Wel, jy’s net betyds,” gaan Wena aan. “Alles wat belangrik is, gebeur mos hierdie maand.”

“Wat’s nóg nuus?” spot Debora droog.

Haar suster neem haar dadelik ernstig op. “Wel, Jakob is al oorkant by Ouma-hulle. Dis nou vir ’n laaste kuier by die huis voor sy troue. Natuurlik Dieter en sy nuwe meisie ook. Hulle almal kuier hier tot ná Nuwejaar. Maar dis nog niks. Tristan Murray is ook hier.” Wena se oë sper. “Hy bly sowaar hier oorkant die straat by oom Erik-hulle vir ’n paar weke voor Jakob se troue. Hy gaan strooijonker wees.”

“O,” sê Debora koel. “Maar wat maak hy nou eintlik hier? Hy bly mos in die Kaap.”

“Ja, maar hy was mos nog nooit in die Oos-Vrystaat nie en toe dag hy hy beter kom kyk voordat Jakob trou en ook permanent in die Kaap gaan woon. Maar dis nie die ding nie, Debora. Jy moet hom sién. Hy’s pýnlik aantreklik.”

“Nè.” Sy onderdruk ’n glimlag. Kan haar net indink hoe “pynlik” beïndruk haar suster deur die man kan wees. Nie dat Debora hom al self gesien het nie. Net deur die jare by Jakob van sy universiteitsvriend Tristan Murray gehoor. Deesdae glo ’n hartspesialis by Groote Schuur. Toe Jakob destyds Maties toe is om in die regte te studeer, het hy die man tydens ’n naweekkuier op ’n wynplaas ontmoet. En by hom aanklank gevind. Sy vriend en mentor. So praat hy altyd van Tristan.

“Ma-hulle is in die stoepkamer,” keer Ewert haar gedagtes weg. “Tant Trudie-hulle en die kleintjie is hier.”

“Regtig?” glimlag Debora. “Is die klein laatlam nog so oulik?”

“Seker, ja. Sy tel al tot by tien.”

Net toe kom die grootmense by die voordeur uit en almal steek verstom vas. Debora sien hoe haar pa kwalik sy ongeduld bedwing, dit dan nie meer kan hou nie en verby almal druk om groot treë tot by haar te gee. Hy pluk haar tot teen sy skouer, raas by haar oor. “Jy moes laat weet het.”

“Nee wat,” lag Debora en druk sy lang lyf vas, kyk hom speels in die oë. “Ek maak mos nou nes ek wil.”

Sy sien die konsternasie op sy gesig, hoe hy hulpsoekend na haar ma kyk wat met Trudie se kleinding op die arm staan. So is dit dan maar nog. Dokter Marnitz Schlagerfeldt se gevoeligste swak plek is sy oudste dogter. En natuurlik haar ma Margot. Maar dié ding dat hy nie kan laat gaan nie. Hy gaan nog swaar kry. Sy los hom en stap na haar ma toe wat haar bedaard glimlaggend beskou. Dis tant Trudie wat soos altyd nie haar mond kan hou nie.

“Ai, Debora-kind. Maar jy’s maer. Nee kyk, nou moet jou kind gevoer word, Margot. Dit help nie sy’s ’n dokter en sy …”

“Toe nou maar, Trudie,” keer haar ma laggend. “Ouma Debora sal mos nou sorg.”

Debora soen haar ma en vat die dogtertjie by haar, druk haar gesig in die warm nekkie tot die kind kraai.

“Liefieding!” roep sy uit. “Hoe oud is jy al?”

Die kind hou drie vingers op. “En myne naam is nog Santie, tannie Dora.”

Debora lag en voel ’n brandende teerheid in haar opstoot. Die brose ou lyfie wat sy destyds saam met haar pa in die lewe help bring het. Die eerste bevalling waarmee sy een vakansie gehelp het. En die Tredouxs se histeriese blydskap oor die dogtertjie wat gekom het toe haar ma al in die veertig was en haar oudste kind kwalik jonger as Debora. “Hoe gaan dit?” vra sy vir tant Trudie en staan nader vir die gebrui­k­like smak­kende kus. Sy soengroet ook vir Faan Tredoux. “Oom lyk goed!”

“Dankie, Debora, en jy ook, hoor. Ek sê as ’n vrou die regte rondings het, kan die middeltjie maar dun wees.” En hy lag heerlik terwyl sy vrou tsk-tsk. “Nou ja, ons het bietjie ingery om by Debora en Seuns ’n klomp goedjies te kom kry. Mens sukkel bietjie op Ficksburg. Goeie winkels, maar het nie altyd presies wat mens soek nie.”

“Ja, noudat Erik ou Eisenstein se plek ook oorgeneem het, is dit mos dié koopplek hier op Bethlehem,” gooi tant Trudie haar stuiwer in.

“Mens is bly oom Erik doen so goed,” beaam Debora, maar haar oë staan stil op die klein gesiggie van die kind op haar arm. Te bleek. Sy streel oor die tingerige arms en fyn hande. Die kind stoot haar arms om haar nek en Debora druk ’n soen op die syerige bruinblonde hare. “Julle moet gou weer kom kuier,” sê sy en hoor die dringendheid in haar stem. Sy sal met haar pa oor die kind moet praat. Sy blou oë is self effens gekweld op Santie.

“Julle’s verniet so bekommerd,” sê tant Trudie en vat haar kind by Debora. “Sy’s al baie beter.”

“Ek glo sy is,” glimlag Debora gerusstellend. “Maar bring haar vroeg volgende week na my toe, asseblief. Ek wil hê sy moet my heel eerste pasiënt wees.”

“Dit sal grênd wees,” knik tant Trudie ingenome. “Maar eers ná die Bloukrans-partytjie, hoor. Ek vat sommer Borstol saam soontoe. En natuurlik Zink-Pyn Specific. Help vir amper als.”

Debora knik met moeite. Natuurlik help Borstol. En Zink-Pyn Specific. Vir ’n paar verdwaalde kwinte en kwale. Maar nie vir Santie se probleem nie. Sy glimlag effentjies sodat tant Trudie, wat haar fyn dophou, nie onnodig skigtig raak nie. Maar haar binneste kook. Want sy en haar pa klassifiseer vir tant Trudie onder dié klompie pasiënte wat ernstige griep gedurig wil weggorrel.

“Nou dan groet ons,” sê tant Trudie.

Debora kus en waai, maar haar kop maal. Bloukrans se Oujaarspartytjie is legendaries in die kontrei. Maar dis nog ’n rukkie in die verskiet. Sy sou die kleintjie graag eerder wou sien.

Met die mense weg, gaan die Schlagerfeldts die huis in. Ewert het opdrag om sy suster se bagasie uit die Volkswagen te gaan haal en die kar tot onder die wilg langs die motorhuis te trek.

“Jy’s seker moeg,” kloek Margot al om haar toe sy bo in haar kamer kom. “Ek stuur vir Wena om vir jou tee te bring. Ek sal dit maak, anders vergeet sy weer om die siffie te gebruik en ek weet hoe haat jy los teeblare in ’n koppie.”

Debora skud net haar kop toe haar ma uitloop.

“Ek sien julle later!” roep haar pa van onder af. “Is uitgeroep na Daniëlsrus se kant toe. Debora, kom jy saam?”

Sy hoor die moegheid in sy stemtoon. Hy word nie jonger nie. Om kort-kort in die distrik uitgeroep te word eis sy tol. En dis amper skemer.

Sy gryp haar dokterstas en ’n trui. “Ek kom, Pappa!”

Dis toe hulle haar ma groet dat sy die blonde man in die voordeur opmerk. Hy staan amper die deur vol. Fris en lenig. Dit moet die hartdokter wees, skiet dit haar te binne. Die “pynlik” aantreklike een.

“Hallo, Tristan,” glimlag haar pa. “Kom jy saam? Kraamgeval op ’n plaas.”

Die man se silwergrys oë rus vlugtig op Debora. Hy knik innemend. “Ek sou graag wou.”

“Nou toe dan. Debora, dis nou dokter Tristan Murray van Groote Schuur se hartspan. Ons ry met die Citroën.”

Sy steek ’n stywe hand uit. Hy druk dit ferm, soek haar blik sodat sy verbouereerd wegkyk toe sy sê: “Aangenaam. Ek hoop u geniet die verblyf hier.”

“Noem my Tristan. En dis lekker hier, dankie.”

“Sit voor by my pa,” sê sy by die motor.

“Nog nooit. Ek sit agter, dan kan julle gesels. Jy was glo lanklaas hier.”

Sou dit ’n soort tweedehandse verwyt wees? wonder sy toe hy die deur vir haar oophou en sy inklim. Basta met hom. Sy sal gesels omdat sy wil. Tot haar verligting klets die man glad nie. As sy haar kop draai, kan sy uit die hoek van haar oog uitmaak dat hy agteroor sit en uitkyk na die velde en landerye.

Die wit, breëbek Citroën ry die dorp uit tot op die grondpad voordat hulle begin gesels. Stilte tussen haar en haar pa het nog nooit gepla nie. Daar is ’n konneksie, het Debora al baie vermoed, wat anderkant bloed en senuwees gaan. Hulle dink so eenders. Behalwe natuurlik oor haar onafhanklike streep.

“Hoe gaan dit regtig, Debora?” vra haar pa en sy glimlag toe sy na sy ferm hande op die stuur kyk.

“Baie goed noudat ek terug is. Maar Pa weet mos die Boksburg-Benoni Hospitaal is groot en ek kon nie eintlik persoonlike bande met pasiënte smee nie. Ek het wel baie geleer, hoor. Heelwat geweldswonde aanskou. Motorongelukke, messteke en daardie klas goed. Selfs ’n paar koeëlwonde.” Sy gesels nog, vertel van ’n paar ernstige gevalle waar bene of arms afgesit moes word. Hy luister fronsend, oë op die dik gruis van die grondpad.

“Baie goeie ondervinding,” merk Tristan Murray van agter af op en sy kyk om. Sy het amper van hom vergeet.

“Ja, dit was,” knik sy stram.

Dit raak weer stil en Debora verlustig haar in die verdonkerende landskap van geelryp koringlande, blinkblaarkerspopuliere en sandsteenkoppe.

Haar pa draai in by ’n plaaspad. Daar staan ’n verroeste naambord met die woorde Koortsenhoek. Daïrus en Hanta Koort­sen. Die Citroën wieg heen en weer op die bedrieglike los gruis en die kar klim soms teen ’n skuinste uit voordat dit weer die spoor kry. Sy sien hoe haar pa konsentreer, want as daar een ding is wat jou nes ’n steeks perd kan afgooi, is dit ’n grondpad.

“’n Hospitaaljaar kan moeilik wees,” sê haar pa later rus­tig, trap liggies rem om ’n sloot in die pad te vermy. “Baie reën hier gehad,” gaan hy aan en klik met sy tong. Hy wys lande se kant toe. “Kyk die erosie. Daïrus moes hoër klipwalle hier­langs gemaak het. Kyk al die sandsteenklip wat hy kon gebruik het.”

Sy glimlag. “Het Pa nog altyd Pa se mes in vir oom Daïrus?”

“Hemel, Debora, jy weet hoe stiksienig party mense is. En Daïrus Koortsen is by uitstek totaal blind vir wat om hom aangaan. Hy hiet en gebied almal. Hy dink alle mense is so ge­dagteloos soos skape. En sy arme vrou, dié ja en amen op als.”

Debora swyg liewer. Ongewoon dat haar pa so gal afgaan voor ’n vreemdeling. Dalk is hulle nie so vreemd vir mekaar nie? Nietemin, sy ken ook die Koortsens. Klein Daïrus was saam met haar op skool. Moeilikheid is vir hom lekker. En as daar nie is nie, dan maak hy dit. Soos die dag toe hy die skool se jare lange tuinwerker met sy kadetstewel van agter geskop het toe die man nie gou genoeg na sy sin groet nie. Genadig­lik het Dieter die knaap blitsig bygekom. Self ook in die hoof se kantoor beland, maar met die kenmerkende uitgesproken­heid dat hy nie kon nalaat om Daïrus te tugtig nie aangesien dié se eie pa dit nie doen nie. Dit was ’n affêre wat kort dus­kant die plaaslike koerante gaan draai het. Dis nou van haar neef Dieter, hy kan self moeilik wees as dit moet. Maar immers raak hy ontstig oor dinge wat hy meen nie reg is nie. Daïrus Koortsen Junior doen net; hy dink selde.

Sy sug diep. Dat dinge in hierdie land nie lekker is nie, is mos vir almal wat enigsins hul kop gebruik duidelik. Dis ’n feit wat haar dikwels ontstel. En sy weet die Koortsens leef met oogklappe aan. So sê haar ma ook altyd. Sy kan nie anders as om saam te stem nie. Want links, skuins teen die hang van die sandsteenkop, klou daar ’n klompie strooise. Sommige dakke kort nuwe grasdekking. Ander se mure is besig om gevaarlik oor te hel afdraand toe. Aan ’n slap draad tussen twee houtpale wapper wasgoed.

Haar pa klik met sy tong toe hy haar blik vir ’n oomblik volg. “Ja, dis soos wat jy dink. As mens nou sien hoe netjies en gerieflik Casper Pienaar se werkershuise is, dan kan Daïrus Senior hom skaam.”

“Maar, Pa, julle ken mekaar tog al donkiejare. Waarom praat Pa nie met hom nie?”

Hy snorklag. “Wag en kyk. En terloops, Debora, doen asseblief alles wat ek jou aansê om te doen as ons daar kom.”

“Maar natuurlik, ek …” Sy kyk in die syspieëltjie maar Tristan Murray sit woordeloos en uitkyk na die skemering wat die koppe persrooi kleur.

“Nee,” gaan haar pa ongekend driftig voort, “daar is niks natuurliks daaraan nie, glo my. Mens kners op jou tande van begin tot einde.” Hy blaas sy asem vinnig uit. “Jy vra waarom praat ek nie. Of waarom praat Casper Pienaar nie. Maar die Koortsens en baie ander soos hulle hoor en sien niks meer nie. Dis geriefliker.”

’n Stilte maal en Marnitz skud sy kop. “Kyk, Debora, mens kan ook nie almal kwalik neem nie. Ek is soos die meeste ander mense nie apaties nie, maar ek is ook geen aktivis nie. Ek is net ’n dokter. En ek leef my oortuigings uit.”

“Dis die heel verstandigste,” laat Tristan van agter af hoor. “Leef en laat leef.”

“Ja,” stem Marnitz saam, “maar dis juis daardie ‘laat leef’ wat baie mense nie begryp nie.”

“Dis ook ongetwyfeld waar,” beaam Tristan rustig.

Debora vra nie verder uit nie. Verwonder haar tog weer dat Marnitz Schlagerfeldt so vryelik voor Tristan Murray gesels. Sy weet mos al jare dat haar pa nie eintlik politiek praat nie. Hy leef dit, soos hy sê. Daardie belangrike politiek tussen mens en mens.

Die sandsteenopstal doem agter die hang op. Haar oë vee oor die netjiese werf met die akwablou swembad in die voortuin, die geteëlde dak.

Met die stilhou voor die huis verskyn Daïrus Koortsen Senior se bonkige gestalte uit die skadu van die voorstoep.

“Dag, dokter!” bulder hy. “Kom in, kom in!”

Hulle klim uit, maar Marnitz bly dokterstas in die hand by die motor staan. “Nie nou nie, Daïrus. Ek wil by die pasiënt kom.”

“Nog nooit nóú al nie!” roep die man en wink hulle nader. “Kom, Hanta het heerlike kos gemaak. Spesiaal vir julle. Nogal drie dokters. Sysie sal haar wat verbeel.”

Marnitz bly staan. “Ek wil eers die pasiënt sien,” sê hy stomp.

Hanta kom by die voordeur uit, spierwit voorskoot om die mollige middel. Sy druk-druk aan haar hare toe sy Debora sien en glimlag lief. “Nou toe. En nou het ons die klein dokter­tjie ook hier.”

Debora ril. Iemand wat enige vorm van ’n verkleinwoord gebruik om haar te beskryf, daal onmiddellik in haar estimasie. “Middag, mevrou,” sê sy bot. Tristan knik net.

“Nou toe kom,” nooi Hanta weer met ’n senuagtige blik na haar man. “Julle moet eers eet. Sysie kan mos maar wag.”

“Ek wil die pasiënt sien,” hou Marnitz aan. Sy woorde weer­klink in die laatmiddagstilte.

Hanta kom nou al met die stoeptrappe af. “Agge nee, kyk, ek het baie moeite gedoen, hoor. Skaapboud en als. Watse pasiëntstorie is dit nou? Sysie is al lank in kraam en nog ’n uurtjie sal nie ’n verskil maak nie. Hoor my maar.”

“Hoe lank is sy al in kraam?” vra Debora koud.

“Ag wat. So van gistraand se kant af en …”

“Waar is sy?” vra Marnitz.

“By die strooise, natuurlik,” antwoord Daïrus Senior, klaarblyklik ook skielik warm onder die kraag. “Waar anders sal sy wees?”

“Sy behoort in die hospitaal te wees,” antwoord Marnitz koud. “Julle weet hoe sy met die eerste baba gesukkel het.” Hy draai om om ’n ent met die pad terug te ry in die rigting van die strooise.

“Wag. Wag tog!” roep Daïrus vies. “Ek sal julle met die trek­ker vat. Die pad soontoe … Nou met die reëns is dit …”

“In ’n toestand?” sê Debora en met dié trippel Hanta op dikkerige bene nader en kom vat haar aan die arm.

“Kom, jy gaan tog sekerlik nie saam soontoe nie. Jy kan by my en die seuns kom sit en eet terwyl die manne loop help.”

“Ek gaan beslis eers soontoe. Is daar lopende water?”

Hanta hap na lug en Daïrus Senior se gesig is ’n donderwolk. “Vrou, sê vir Anna sy moet een van die leë dromme volmaak, dat ek dit ook maar aanry. Wat mens nie nog als moet doen nie.”

“Nog heelwat,” sê Marnitz. “Skoon handdoeke, en bring ten minste drie olielampe. Of stormlampe. Ons moet kan sien wat ons doen.”

Tien minute later sit Debora, haar pa en ’n steeds swyende Tristan op ’n wa agter die trekker en skud dat hul tande klap. Daïrus is op die trekker en praat nie ’n woord agtertoe nie. Debora hoop die drom met water en die ander benodigd­hede kom gou. Langs haar leun Tristan agtertoe en stut hom op sy hande.

“Ek het baie lanklaas só gery,” glimlag hy na haar kant toe. Sy glimlag terug maar woorde ontwyk haar. Sy is oorbewus van sy lang liggaam hier langs hare. En hulle is hier vir ’n bevalling. Die bloed stuif in haar gesig op. Sy is ongekend verleë en tegelyk kwaad vir haarself. Hoeveel bevallings het sy al saam met mans hanteer? Dosyne. En hier sit sy haar en verknies oor een aantreklike, gesoute dokter wat saam met haar so iets gaan ervaar. Moontlik is dit die eerste maal dat sy die woord “pynlik” begryp soos wat Wena dit gewoonlik bedoel. Net hier kry dit end, besluit sy en draai haar gesig weg na waar die donkerte al teen die hang af kruip.

By die strooise klim hulle haastig af. Debora trap amper mis en Tristan gryp na haar. Albei arms is stewig om haar nog voordat sy haar asem kan intrek. Hy los haar net so vinnig. “Dankie,” prewel sy ontstig.

Daïrus wys met ’n voorvinger na die derde werkershut van regs. “Nou toe, ek sal netnou die ander goeters bring.”

“Maak asseblief gou.” Marnitz klink doodsaaklik.

Debora hoor die yl gekerm nog voordat sy by die deur van die skemer hut inbuk, haar pa en Tristan kort op haar hakke. Die vrou op die katel in die hoek se asem kom rukkerig. Haar kop rol heen en weer op die pap kopkussing waar die gansvere al begin uitpeul. Om haar sit ’n klompie vroue, moedig haar aan. Marnitz vra hulle om die vertrek te verlaat.

“Hier is nou drie dokters,” sê hy toe hulle geredelik uitloop. “Ons sal haar mooi kan help.”

Die vrou kalmeer toe sy Marnitz herken. Glimlag selfs bewerig toe sy Debora en Tristan opmerk.

“Toemaar, Sysie,” sê Marnitz net, wag tot haar asemhaling effe egaliger word voor hy sag en met vaardige hande oor haar buik voel. “Luister, Sysie, ek gaan jou ondersoek. Dit kan dalk bietjie seer wees. Is dit reg so?”

Sy knik maar haar trane blink in die lamplig. Debora vat haar sakdoek en vee dit saggies af. Vou haar vingers om die een skraal hand. Tot haar verbasing stap Tristan om die bed en gaan hou Sysie se ander hand vas, sy gesigsuitdrukking bemoedigend in die yl verligte vertrek.

Sysie gil toe Marnitz vinnig die ondersoek doen, maar hy praat heeltyd paaiend.

Toe die volgende sametrekking begin en Sysie begin kreun, gaan staan hy langs Tristan en sê: “Sy is goed ontsluit en die kind lê met die kop na onder. Dit behoort nie te gekompliseerd te wees nie. Maar mens weet mos nooit.”

Dit word ’n lang, moeilike nag.

Gelukkig daag die gekookte water en ander “goeters” gou op. Nogal twee sterk flitsligte saam met die drie olielampe. Tristan neem onmiddellik beheer daarvan. Skyn die lig waar hy moet en doen dit asof hy daagliks die kollig wie weet waar laat val.

Alhoewel Sysie merkbaar kalmer is vandat hulle opgedaag het, word dit duidelik dat die bevalling komplikasies gaan hê. Tristan beweeg nou en dan tussen die ligte wat hy opge­stel het en die bokant van die bed om na Sysie se hartklop te luister. En wanneer hy dit doen, merk Debora, praat hy kalmerend met die vrou. Syself maak kort-kort ’n lappie nat en vee die beswete gesig af. Die kontraksies begin Sysie so uitput dat sy byna nie kan druk toe dit tyd word daarvoor nie. Debora moet haar aanpor om asem te haal, wat sy al snik­kend doen.

“Nee, Sysie, nou moet jy regtig ophou huil. Die baba het jou trane nodig,” sê sy later streng en sien hoedat haar pa en Tristan glimlag.

Dit het Sysie se aandag ook getrek. “H-hoekom?”

“Omdat jy sal uitdroog van al die huil en die kleintjie wil sy mamma graag met mooi ronde wange sien.”

Toe glimlag die vrou ook. Teen die tyd dat die drukpyne in alle erns kom, is sy al heelwat meer besadig. Maar dis toe dat die moeilikheid begin. Pas nadat die kop van die kind uit is, roep haar pa haar nader. “Kom, die kind se skouers sit vas.”

Genadiglik weet sy wat om te doen. Sy is ook skerp bewus daarvan dat Tristan elke beweging van haar dophou. Hy help haar gou om Sysie om te draai sodat sy op haar hande en knieë kan staan en druk. Maar dié slag wil die veranderde posisie nie help nie.

“Pa,” fluister Debora geluidloos. Hy kyk streng na haar en Tristan.

“Draai haar terug, asseblief. Sysie, probeer vir ons tot op die kant van die bed afskuif en trek jou knieë ver op. Dankie, jy werk mooi saam.”

Sysie kreun, maar toe is daar nie meer genade nie. Debora weet dis nou of nooit. Toe hulle Sysie in die regte posisie het, druk Debora hard met haar hande vlak bo-op die skaambeen. Haar pa glip sy gehandskoende hand verby die bloederige koppie in die oopgerekte vagina in.

“Aaau! Here tog!” gil Sysie.

“Toemaar, Sysie,” troos Debora, “Hy is hier en Hy hoor.” Sy klem die vrou se hand vas. Tristan het die ander hand stewig beet. In haar binneste bid sy so vurig dat sy eintlik haar lippe kan voel roer.

“Debora,” verduidelik haar pa kalm, “nou raak my vingers aan die baba se rug. Ek manipuleer nou die baba se boonste skouer vorentoe. Druk nóú, Sysie!”

’n Bloedstollende oomblik huiwer tussen tyd en ewigheid. Maar toe glip die baba wonderbaarlik uit. Binne oomblikke skree die kind lustig. Debora kan haar pa se verligte sug hoor. “’n Seuntjie!” roep hy uit.

“Baie geluk, Sysie,” lag Tristan en skud die hand wat hy vashou.

Debora vat die babalyfie aan, die lig glimmend op die nat wasagtigheid van die vel. Sy lê hom eenkant op die bed neer, doen ’n roetineondersoek. Alles lyk in orde. Toe gee sy die kind vir Tristan aan. Hy lê die kind op Sysie se bors neer en maak hulle albei met ’n skoon handdoek toe sodat net die koppie van die kind onder sy ma se ken uitsteek.

Iets in die man se hantering van die oomblik is die sneller wat Debora vir ’n oomblik doodstil laat staan.

Haar gedagtes fladder rond, kry koers na die dag wat hier­die oomblikke voorafgegaan het.

Maar sy werk meganies. Doen alles wat sy moet doen terwyl haar kop probeer om hierdie dag uit te sorteer. Sin te probeer maak van die ongekende warm emosie wat sy ervaar.

Sy help met die uitwerping van die plasenta, kyk digby die gloed van die olielamp en Tristan se flitslig of die membraan heel is. Toe help Debora Sysie om weer reg te lê en vat die kleintjie aan om hom nog ’n slag deeglik te ondersoek. Sy voel diep gelukkig toe sy hom weer vir sy ma gee en aankondig dat hy eksie-perfeksie is. Die vrou se trane loop geluidloos. Een vinger vee bewend oor die wangetjies.

“Ai. Hoe moet ek dankie sê?” wil sy hees weet.

“Ons sê almal vir die Modimo dankie, Sysie,” antwoord Marnitz.

Debora vee net sag oor die vrou se voorkop omdat sy self na aan trane is.

Hulle bly nog tot ongeveer vieruur die oggend om seker te maak dat die baba met gemak drink en alles wel is. ’n Nukkerige Daïrus kom haal hulle met die trekker toe een van die werkers hom gaan inlig dat die kind gebore is.

Op pad terug dorp toe is hulle al drie stil. Marnitz sug net een maal hard.

“Liewe Vader, as die kind vasgesit en haar baarmoeder geskeur het …”

“Moenie daaraan dink nie,” is al wat Debora kan uitkry.

Teen die tyd dat hulle tuiskom, slaap almal steeds. Net die stoep- en trapligte brand. Tristan word ingenooi vir koffie. Hy verkies tee en vir die eerste maal glimlag Debora spon­taan met hom.

“Ek ook,” sê sy.

Terwyl sy die drinkgoed maak, praat die twee mans saaklik oor môre se werk by die hospitaal. So asof hulle van ’n gewone kuier af kom.

“Werk jy dan?” wil Debora by Tristan weet en onderdruk ’n gaap. “Ek dag jy hou vakansie.”

“Ek hou beslis vakansie. Maar dis goed om weer in ’n plattelandse hospitaal en praktyk te kom waar probleme soos ’n swerm spreeus op jou toesak en jy hulle twee-twee tegelyk moet vang.”

Marnitz lag sag. “Jy stel dit goed, dokter.”

“Nee regtig, dis baie interessant om weer in ’n algemene praktyk so ’n bietjie op die sypaadjie te staan en kyk.”

“Hy staan g’n op die sypaadjie nie. Ek leer ook by hom,” sê Marnitz pront en gaap agter sy hand.

Debora sit die tee voor Tristan neer en hul oë ontmoet. Sy blik hou hare vas. Heldergrys irisse wat haar laat voel hy sien te veel raak. Juis nou dat sy so deurmekaar voel. Sy draai weg en sit haar pa se koffie voor hom neer. Hy sluk dit oudergewoonte so gou moontlik warm af. Staan op en sê nag.

“Jou pa is spookbleek,” merk Tristan op toe hulle hom met die trappe hoor opgaan. “En na dié nag is dit ook geen wonder nie. Het jy sy liefde vir die ginekologie geërf?”

Sy kyk na die man oorkant die tafel. Blote oogkontak wil haar na suurstof laat hap. Maar sy knik kalm. “Moontlik, ja. Ek sal maar eers ’n paar jaar wag en kyk.”

Hy stoot sy regterhand deur sy blonde kuif. Dit moet ’n gewoontetjie wees, want hy het dit vroeër in die nag daar in die hut ook gedoen. Toe hy onverhoeds opkyk, sit sy weer vasgevang.

’n Fyn laggie roer om sy vol, ernstige mond. “Jy is veel meer as wat Jakob gesê het jy is.”

“En wat het hy nogal gesê?” kry sy dit kwalik hoorbaar uit. Sy kan behoorlik voel hoe die hoendervleis op haar arms uitslaan. En sy moet konsentreer om reëlmatig asem te haal. Watse twak is dit dié?

Tristan vou sy vingers agter sy kop inmekaar en sy oë vernou. “Hy dink jy is die beste ding sedert die inryteater. Jy is so oop soos die sterrehemel, so natuurlik soos die aandwind en hoogs vermaaklik wanneer mens dit die minste verwag.”

Sy haal diep asem. As haar liewe neef Jakob nie reeds minus mangels was nie, het sy nou oorkant toe gestap en dit vir hom sonder narkose uitgehaal. “Ek gaan hom vermoor,” sê sy en sy weet dat haar gesig nou so uitdrukkingloos is soos wat haar pa s’n soms kan wees. Tristan lag sag; die grys irisse glim silwer.

“Dis nie al wat hy gesê het nie, maar ek kan nou ook iets byvoeg.”

“Maak gerus so,” nooi sy koud.

Hy leun vooroor en lê sy palms boontoe oop op die tafel tussen hulle.

“Om terug te kom na die inryteater. Jy kies self wat gaan wys. En ek dink dis meesal ernstige, stigtelike films. Dan en wan ’n Wilde Weste-prent. Of dalk ’n spioenasieriller. Slegs vir afwisseling en sodat almal tevrede kan wees. Maar … as al die karre weg is en jy alleen onder die maanlig sit, kyk jy na liefdesverhale uit die vyftigerjare en soms selfs na ’n komedie.”

“Soos wat?” vra sy, teen haar sin geboei, al tik haar hart teen haar borsbeen.

Hy glimlag. “An Affair to Remember met Cary Grant en Deborah Kerr. Roerende verhaal. En natuurlik die oulike Pillow Talk met Rock Hudson en Doris Day.”

Haar mond sak oop. Sy sit weerloos voor hom. Hoe op aarde kon hy geweet het dat dit onder haar allergunstelingfilms tel? Jakob, die klikbek, vir seker. Sy trek haar asem diep in. “Wel. Al wat ek kan sê is dat die inrymense ook een of ander tyd huis toe gaan. Na die werklikheid toe. En dis al.”

“Nee, ek glo nie dis al nie. Jy maak van die werklikheid ’n mooie fantasie.”

“Wat bedoel jy?”

“Kyk na vannag, dokter Debora. Wat aaklig kon gewees het vir daardie vrou, het jy met ’n sagte hand help verander. Jy het die nag vir haar vol sterre gemaak.”

’n Gloed trek deur haar lyf, setel in haar wange. “Ek het amper niks gedoen nie. My pa was die held van dié fliek, dokter.”

“H’m. Maar jy het dit in Technicolor gemaak.”

“Is dit ’n kompliment?”

Hy lag. “Dit het Jakob ook gesê. Dat jy onskuldig is. Soms dodelik so. Maar ja, dit is ’n kompliment. Jy het kleur aan die nag gegee.”

Dodelik onskuldig. Praat hy van haar? Sy wat al van barens­nood tot doodsangs aanskou het. Tog is dit sekerlik waar. Die dinge van die hart (as dit nou is wat dit is), maak haar deurmekaar. Soos nou. Soos nog altyd. Net, nou is sy die een wat nie weet wat om te voel of te dink nie.

Sy leun oor om sy leë koppie te vat. Maak die fout om op te kyk. Sy blik hou haar weer vas sodat sy vervaard sluk.

“Ek is honger,” sê hy soetjies.

Sy staar ’n oomblik. “Waarna soek jy, Breakfast at Tiffany’s?”

Hy glimlag so gaaf dat sy pens en pootjies daarvoor val. Toe sy haar kom kry, maak sy roereiers en spek, roosterbrood met plaasbotter en Ouma se appelkooskonfyt.

Tot haar stomme verbasing sit hulle doodstil en eet. Rustig. Weg is die bietjie ongemak van gisteraand voor die bevalling. Dis omdat diep dinge soos sterfgevalle en kinder­geboorte al die nonsens wat vlak sit netjies wegvee, dink sy en vat ’n laaste hap roereiers.

“Waaraan dink jy?”

Sy skrik op en besef dat sy bord seker lankal leeg is. “Ek reken dat so ’n nabyervaring van kindergeboorte mens van binne skoonvee.”

Sy oë word stil. “Jy stel dit mooi. En dis baie waar.” Hy sit weer sy hande met die palms boontoe gedraai langs sy bord neer. Die gebaar is roerend. Dit sluit mens in. “Dankie, Debo­ra,” sê hy. “Die hele nag was nogal ’n openbaring.”

Sy wil nog vra dat hy moet uitbrei, maar hy staan op. Groet sag en stap uit. Sy maak die voordeur stadig agter hom toe.

Toe sy eindelik gaan lê, is sy tot in die been moeg. Maar sy lê tot die môre gryspienk deur die gordyne glim voordat sy wegraak.

Debora gaan huis toe

Подняться наверх