Читать книгу Debora gaan huis toe - Helene de Kock - Страница 8

HOOFSTUK 2

Оглавление

SY SLAAP TOT die moeg uit haar uit is. Teen elfuur kom haar ma in met ’n koppie tee. Swart en soet, soos sy daar­van hou.

“Ag, dankie, Mamma. Is Pa al weg?”

“Ja, hy is weg spreekkamer toe. Maar hy het streng opdrag gegee dat jy moet bly slaap.”

Debora neem eers ’n sluk tee. “Ma, dit moet end kry. Ek is nou ’n dokter. Julle moes my ook vroeg wakker gemaak het.”

“Nee wat, vat jy dit nou maar rustig. Ouma Debora het al gevra na jou. Jy sal vanmôre maar moet gaan dag sê.”

“Ek sal ’n bietjie later gaan, Mamma. Ek wil eers ’n paar dinge doen.”

Wena kom ingewals. Sy het ’n bitter kort tennisrokkie aan. “Kom speel saam,” nooi sy laggend. “Jakob gaan ook speel. Dieter moet winkel toe.”

“Anderdag,” antwoord Debora. “Ek vind nog eers my voete.”

“Daai selfde voete sal eersdaags onder jou uit wees.”

“Nee wat,” stry Debora en strek haar arms bo haar kop uit. “Ek het al baie oulike mans gesien en nie eers een kon my knieë laat swik nie.”

Haar ma se oë vernou. “Daar is altyd ’n eerste keer, Debora.”

“My liewe Ma,” sê sy. “Ek staan nou nog by Tuks bekend as die aster wat in die ryp gestaan het sonder om te verwelk.”

“Wat beteken dit nou eintlik?” vra Wena verstom.

“Seker dat ek nog redelik aanskoulik is ten spyte van die ys wat my omhul.”

Wena kom sit op die voetenent van die bed. “Is dit waarom jy nooit eintlik gesleep het nie?”

“Is dit wat my tydgenote se jonger boeties en sussies skin­der?”

Wena kry ’n kleurtjie. “Wel, ja. Deirdre Veenstra wat saam met my sielkunde swot se ouboet was saam met jou in die klas.”

“H’m. Dit was Daan Veenstra met die gekweste ego. Kon nie nee vir ’n antwoord vat nie.”

“En toe?” por Wena.

“Moet ek regtig verduidelik? Ek het wel gesleep. Net nie aanmekaar met dieselfde ou nie.”

“Toemaar, jy sal nog,” sê haar ma hoopvol.

“Bly klou aan die hoop, Moedertjie.”

Soos gewoonlik ruk haar ma haar op en stap uit om na die kos te gaan omsien. “Ek kom nou help met middagete!” roep Debora berouvol agterna.

Sy gaan bad en trek ’n ligblou rok aan. Haar donker hare laat sy oor haar skouers golf.

Toe sy in die eetkamer kom, staan die kos klaar reg. Net toe kom Marnitz met ’n donderende stap die huis in.

“Wat is fout, liefste?” wil ma Margot weet toe hy hulle elk met ’n druk groet en aan tafel gaan sit.

“Mense wat nie wil hoor wat hulle moet hoor nie,” antwoord hy kortweg. “Oom Claassen moet ’n opehartoperasie kry en hy dink ’n teelepel medisyne en drie pille gaan help.”

Margot skep gou vir hom in. Geurige wors, gevlokte aartappels en vars groenboontjies. Hy het net ’n uur om te eet om weer stiptelik tweeuur by die hospitaal te wees. “En toe?” por haar ma begrypend.

“Gelukkig was Tristan Murray daar en het hy hom mooi­tjies oorreed om Kaapstad toe te gaan. Groote Schuur.”

Debora kry vir haar nog groenboontjies. “Ek dag dié Tristan kom net rondkyk om te sien hoe die Vrystaat lyk.”

Haar pa sluk ’n mondvol weg en beduie: “En ek dag jy het gisteraand al gehoor hy is ’n werkesel?” En toe sy verleë swyg: “Kyk, Debora, daar’s nou vir jou ’n goeie dokter. En nie net klinies gesproke nie. Hy is goed met mense. Toe ek al oom Claassen se nek wou omdraai, het hy die hele prosedure van die operasie vir hom so rustig verduidelik dat die oom gedink het hy is self deel van die oplossing pleks van die probleem.”

Margot begin lag en Debora ook. Maar nie so heelhartig nie. Dat sy wonderlike dinge oor Tristan hoor, maak haar bang. Sê nou net dis waar. Want as dit is, gaan sy probleme hê. Dis ’n wete wat intuïtief in haar vasknoop.

Toe sy wil saam spreekkamer toe, kry sy ’n kwaai kyk. “Jy rus vandag of jy kan vergeet van ’n vennootskap.”

“Goed, Pappie,” terg sy in ’n klein stemmetjie en soengroet hom voordat hy uitstap. “Nou, Mamma, ek gaan my kamer bietjie regpak en nes dit vyfuur is, gaan ek maar oorkant toe. Dan het Ouma al seker klaar ’n middagslapie gevang.”

“Ek kom by jou sit, Debora. Dan gesels ons.”

Sy leun oor om haar ma te klapsoen. “Dit sal heerlik wees. Ek het na ons geselsies verlang.”

In haar kamer pak Debora haar hangkas netjies reg soos sy dit graag wil hê. Sy en haar ma bekyk haar klere met ’n kritiese oog. Sy sal miskien ’n paar nuwe goed moet kry. Die knap tannie Richter wat straataf woon, beduie Margot, sal moet help. Sy kan self die crimplene by die rolle materiaal in Debora en Seuns gaan uitkies want sy wil nie iets hê wat ge­stryk moet word nie. Wanneer haar werk eers in alle erns begin, sal die crimplene sorg dat sy ten minste onder die wit jas kreukelvry bly, sê haar ma.

Debora lag. Stem saam. Later sug Margot diep. “Liefkind, ek gaan jou nou eers hier los en by tant Sina Pienaar in die ouetehuis inloer. Sy is siekerig. Maar ek sal voor ete terug wees, hoor.”

“Natuurlik, Mams, sê groete.”

Debora se gedagtes dwaal na haar aankoms gister. Iets bly haar pla. Klein Santie van tant Trudie se toestand het beslis versleg sedert sy haar een naweek in Julie gesien het toe sy vir ’n blitsbesoek kom kuier het. Sy begin vermoed dat tant Trudie nie so gereeld as wat sy moet die kind se voorgeskrewe medisyne gee nie. En asma is nie kinderspeletjies nie. Trudie Tredoux is ’n koppige vrou. Sy het eenkeer voor Margot Schlagerfeldt en Debora gesê die ding dat kinders heeldag pille en goed moet drink, is nonsens. Haar oudste dogter het dan nooit so gesukkel nie. Santie sal dié asmastorie ontgroei. Toe het dit Debora vaagweg geamuseer. Maar sy moes al ge­leer het. Mense doen met oorgawe die mees afbrekende en gevaarlike dinge. Soos om nie hul kinders se medisyne volgens voorskrif te gee nie omdat hulle kwansuis van beter weet.

Toe die gedagte eers posgevat het, kan Debora dit nie hou nie. Sy klap die hangkasdeur toe. Stoot haar leë tas diep onder die bed in. Sy is eintlik nes haar pa. As daar iets is wat haar terstond ontstel, is dit mense wat hulle nie uit hulself kan verlos nie. En tant Trudie is by uitstek nie daartoe in staat om haar eie warse idees te laat vaar nie.

Sy kan nie langer wonder of Santie gereeld haar medisyne kry nie en sal die situasie later vanaand met haar pa bespreek. Dis nou as hy vroeg genoeg terugkom en die etery oorkant die straat verby is.

Die dag trek al ver en sy besluit om vir vanaand se ete by oom Erik-hulle klaar te maak. So ’n tuiskoms word ouder­gewoonte heel eerste saam met ouma Debora en oom Erik-hulle in die Victoriaanse huis gevier. En met tant Rebekka ook by kan dit net lekker wees. Sy vang haar onderlip vas want sy onthou oom Heinrich, tant Rebekka se oorlede man, goed al was sy maar dertien toe hy oorlede is. Laggende oom Heinrich wat maar net nie sy halfgebroke liggaam heeltemal uit die oorlog kon kry nie. So sê ouma Debora altyd. Hy het net daardie een winter griep gekry wat hom weggevat het soos wat vloedwater ’n droë tak vat. Die Joodse tant Rebekka met haar donker oë is sedertdien alleen.

Debora bekyk haarself in die lang spieël teen die muur. Besluit om deftiger aan te trek. Dit is per slot van rekening ’n familieviering met dié dat sy nou tuis is. Sy kies ’n appelkoos­pienk rok met ’n fleurige romp, borsel haar dik hare tot dit swartblink om haar skouers hang. Sit ook perskepienk lip­stiffie aan en lilablou oogskadu. Sal sy nog parfuum aantik? Sy het haar ma se passie vir lekkerruikgoed. Laas toe hulle in wyle mevrou Shavinski se huis in Londen was, het sy en haar ma en Wena juis Harrods toe gegaan om parfuum te koop.

Haar gedagtes draai loom om Londen. Sy ken die plek immers van babatyd af. Toe die bomme val, was sy saam met haar ma en mevrou Shavinski en later haar pa in die Morrison-­skuiling in die sitkamer van die skakelhuis in Lisson Grove. Sy onthou dit met ’n ontstellende klaarheid.

Maar sy moet ophou om aan daardie huis as mevrou Sha­vinski s’n te dink. Die plek is aan háár nagelaat deur dié Joodse dame by wie haar ma tydens die oorlog gebly het. Vreemd. Sy wat Debora Schlagerfeldt is, besit ’n smal drieverdiepinghuis in Londen. Die gedagte laat ’n handvol herinneringe los. Vandag moet sy aan lekker dinge dink. Goed wat suiwer genot bied. Soos parfuum koop in Harrods. ’n Bietjie hedonisties, sou haar pa wel spot. Maar iets wat veral sy en haar ma uit hul hart geniet.

Dis juis tydens een van hul Julievakansies in Engeland dat sy onherroeplik verlief geraak het op die parfumeur Dana se Tabu. Die stylvolle vrou agter die toonbank het haar met haar destydse poniestert op en af gekyk en so ewe laat val: “This, young lady, is an avant-garde perfume for the independent and unpredictable woman.”

“Wel, ék hou daarvan,” het Debora op Afrikaans laat val, die vroulike, vars geur ingeadem en toe neus in die lug laat hoor: “A woman who doesn’t wear perfume has no future. Coco Chanel said that.”

Dit was een van vele onvergeetlike vakansies wat hulle oorsee gevlieg het. Soos baie ander Britse somervakansies was hulle as gesin saam in mevrou Shavinski se huis. Dit was ’n ongewoon warm somer en hulle almal, tot haar ernstige pa, was vrolik. Hulle het ’n paar maal probeer om ’n wintervakansie daar deur te bring maar Wena en Ewert het so gekerm oor die nattigheid en die koue dat haar pa summier besluit het nie gou weer nie. Van toe af het hulle sommige Julie­maande soontoe gegaan.

Verlede jaar was sy wel vir ’n korte week in Londen maar Wena en Ewert het verpligtinge gehad wat hul vakansie in Engeland in die wiele gery het. Sy skat dit sal moontlik van nou af beter gaan want sy kan immers sorg dat sy Julie­maande verlof kry.

Die Londense huis word al jare deur die bure opgepas. Teen ’n fooi, natuurlik. Gawe meneer en me­vrou Dunworthy en hul enigste seun Freddy, wat aan Cambridge sielkunde studeer.

Eintlik wens Debora dat sy ’n slaggie alleen soontoe kan gaan. Haar huis vertrek vir vertrek kan verken sodat sy haar stempel daarop kan afdruk. Sy onthou die ou Joodse dame wat dit aan haar nagelaat het, mevrou Shavinski, so goed. Sy weet sy was die kind wat die oumens nooit gehad het nie. Vandat sy heel klein was, ken sy die Shavinski-huis, soos wat hulle gesin die plek daar in Lisson Grove steeds noem. Tydens die Tweede Wêreldoorlog en daarna het sy dikwels saam met haar ouers daar gekom. Veral toe sy piepklein was, moes sy en haar ma noodgedwonge daar woon want haar pa was toe nog in Frankryk as Britse agent besig om die Franse Résistance te help. Hy praat nou nog nie maklik oor daardie tyd nie. Sy weet hy het tydens een van sy missies vermis geraak, was voortvlugtend en is in ’n skermutseling met die vyand gewond. Baie maande het verloop voordat hy per boot van­uit Le Havre na Portsmouth kon ontvlug om vir die eerste maal sy dogter te sien.

Debora onthou ook die oorlog helder, want teen die tyd dat dit opgehou het, was sy al ’n opgeskote dogtertjie. Sy sien dit in los beelde, soos in swart-en-wit films met ’n klankbaan wat so werklik is dat sy soms ril daarvan. Ook ander prente wat haar verbeelding seker uit haar geheue laat loskom. Byna soos ’n voorprent wat net flitse van ’n storie wys. Sy onthou die gehuil van die sirenes, die gefluit van die bomme, die benoud kleine Morrison-skuiling in hul beknopte woonstel naby Guy’s Hospital nadat haar pa van die oorlogswond herstel het en sy werk as dokter kon voortsit. Dan was daar me­vrou Shavinski se Morrison-skuiling waarin hulle meermale tydens ’n kuier moes koes as die sirenes begin skree.

Genadiglik is daardie tyd verby. Sy staar nikssiende in die spieël. Vir Wena en Ewert bestaan die oorlog nie, maar sy kan selfs nou die angs vaagweg voel klop. Die gevoel dat die asem te vlak in haar bors sit. Haar pa en ma se beskermende arms om haar in die Morrison. Dit bly vir haar wonderbaarlik dat ’n ystertafel met syklappe so effektief kon skuiling bied. Dis net, haar ouers mag nie weet hoe sy werklik daaroor voel nie. Dit sal hulle net nog meer beskermend teenoor haar maak.

Sy poeier haar neus en tik nog ’n bietjie Tabu agter haar ore en in haar hare. Sy kyk na haar lyf, weet dat almal weer ’n eiertjie gaan lê omdat sy maer is. Veral neef Dieter kan so met haar te kere gaan dat sy haar vererg en dan eers tree Jakob besadig tussenbeide. So is dit nog altyd.

“Los tog vir Debora,” sal hy glimlag. “Sy is mos rond waar sy rond moet wees.” Dan word sy nog ergerliker want haar borsmaat is wel iets wat opgemerk kan word, so beweer haar ma altyd vroom. So sal dit sekerlik vanaand ook gaan.

Sy hoor haar ma in die kombuis werskaf en roep soontoe. “Ek gaan nou na Ouma toe. Sien julle later daar, hoor.”

Sy glip by die voordeur uit, steek die stil stofstraat oor en maak die Victoriaanse huis se voordeur saggies oop. Sy klop nooit. Want sy hoef nie. Vandat hulle van die oorlog af teruggekom het toe sy amper ses was, is sy ook deel van hierdie huishouding.

Dis stil binne. Aunt Elizabeth en oom Erik is seker nog by die winkel. Dieter en Jakob-hulle ook. Vandat Debora en Seuns so uitgebrei het, is elke beskikbare hand nodig en naweekgaste word ook soms ingespan. Sy wonder of Tristan nog saam met haar pa by die spreekkamer is.

Debora loop deur die gang trappe toe. Sy sal gaan loer of haar niggie Catherine tuis is en daarna agtertoe na die gastevleuel gaan om te sien wat maak ouma Debora. Sy spring die trappe ligvoets twee-twee op maar toe sy op die trapportaal kom, steek sy vas. Reg voor die badkamerdeur staan Tristan Murray. Hy het net ’n handdoek ongeërg om sy heupe gedraai. Sy hare kleef nog nat aan sy voorkop vas. Gelukkig, dink Debora onsinnig, is dit kort gesny. Sal gou droog word.

Hulle kyk mekaar swyend aan. Meet en weeg. Amper asof laas nag nooit was nie. Sy kan die silwergrys van sy oë selfs in die skemerlig van die portaal uitmaak. Die stipheid van sy blik maak haar kriewelrig.

“Is jy uitgeslaap?” vra hy gesellig.

Sy knik net.

“Dit lyk so. Maar ek gaan vannag die bed seermaak, dié kan ek jou sê. Ek en jou pa was nogal bedrywig vanoggend.”

“Ek glo so.” Haar blik vee versigtig oor sy borskas en sy bloos onbeheers, kyk vinnig weg. “Ek soek eintlik na Catherine. Is sy dalk hier?”

Hy glimlag grinterig. “Ek skat sy en Aunt Elizabeth en die manne is nog by die winkel.”

“O.” Haar blik steek weer op een bruingebrande skouer vas. Sy draai om, sê oor haar skouer: “Ek gaan my ouma soek.” Sy klink kompleet soos klein Santie van tant Trudie as sy beduie dat sy haar ma wil hê. En sy is innig dankbaar om die kombuis te bereik sonder dat sy omgekyk het. Want sy wou dit dringend doen. Seker maak dat dit regtig die Tristan van gisteraand is. Die een wat gesê het sy het kleur aan die nag gegee. Die een saam met wie sy tot die vroeë oggendure gekuier het. Sy gaan staan in die kombuisdeur, bewus van ’n vreemde emosie wat opstuif. Dit verdamp egter voordat sy kans kry om dit behoorlik te ervaar.

Selina staan voor die stoof en roer aan iets wat na tamatie en uie ruik. Toe sy omkyk, word haar gesig blink van blydskap.

“Hallo, my Deboratjie!” Sy word summier in die vrou se mollige arms toegevou.

“Hallo, liewe Selina,” lag sy. Die man daar bo vir ’n oomblik vergete. Sy gee die vrou ’n druk. “Nou’s ek vir altyd en altyd tuis.”

“Ek hoop mos so.”

“Nou maar wag, laat ek gou eers na Ouma toe gaan.”

Debora is uit by die kombuis en by die verslete stoeptrappies af. Loop oor die werf na die sogenaamde gastevleuel waar ouma Debora en tant Rebekka nou bly. Haar ouma is alleen vandat haar oupa, herr Dieter, soos almal hom genoem het, ’n klompie jare gelede sag in sy slaap heen is.

Sy onthou met ’n vlagie weemoed die tyd toe ouma De­bora nog hierdie huis met ’n ferm hand regeer het. Tog staan dié regering eintlik steeds. Want Aunt Elizabeth het sodanig verafrikaans dat sy die leisels in die huis stewig vas­hou en op so ’n manier dat die formidabele ouma Debora steeds deel daarvan is. Al is dit dan nou net deur soggens by die kombuistafel te sit en “orders gee”, soos Selina soms spot.

Debora onderdruk ’n laggie. Ouma Debora is ’n handvol, dit weet almal. Maar sy is gek na haar skoondogters en so uitgesproke daaroor dat al haar naastes dit goed weet. Sy het Marnitz se Margot lief soos ’n eie kind, vir die Joodse Rebekka van oorlede Heinrich is sy lief soos wat Naomi vir Rut was, en Erik se Elizabeth is ’n vrou na haar hart. Dis wat Ouma ge­reeld laat hoor: ’n vrou wat tegelyk kan vasvat en tou gee. Dié dat Dieter en Catherine sulke oulike kinders is. En tog, oor haar kleinkinders praat sy versigtig. Sê net dis groen koring. Al lyk dié koring vir haar na die heel beste in die hele distrik.

Toe Debora deur die agterste eik se diep skadu loop, moet sy erken dat sy allerlei dwaalgedagtes oproep om nie aan die man in die handdoek te dink nie. Dokter Tristan Murray. Die blote vorming van sy naam op haar lippe laat ’n krieweling op haar maag ontstaan. Skoenlappers, besef sy ergerlik. Maar daaraan het sy nog nooit geglo nie. As ’n pasiënt haar begin vertel dat haar sestienjarige tuis buitengewoon afwesig voor­kom en weet te vertel dat ’n aardige fladdering op die maag voorkom, gee sy summier vir hulle medisyne. ’n Gewone toni­kum. Bidomak, of so iets. As dit ’n seun is, raai sy die moeder aan om die kind Tromp van Diggelen se oefeninge te laat doen. Oefening en ’n koue stort verdryf glo allerlei onheilighede. Dit beweer haar twee neefs, Dieter en Jakob, mos. Dis nie dat sy onsimpatiek na pasiënte luister nie, dis net dat sy reken sulke simptome is fiktief. Altans, sy het tot gisternag toe so gedink.

Debora klim die twee trappies na die stoep voor die gastevleuel en voel hoedat haar wange opnuut gloei. Sy is inder­daad al oor haar kliniese benadering tot jeugdige verliefdheid oor die vingers getik. Een van die senior dokters in die Boksburg-Benoni Hospitaal het haar eendag vertel dat sy ’n fout maak deur nie deegliker na jong pasiënte se denkbeeldige klagtes te luister nie.

“Dokter Schlagerfeldt,” het die man gesê, “klagtes is altyd ’n simptoom van iets dieperliggends. Daar is meer ingewikkeldhede in die mens se gemoed as in sy liggaam. Jy moet die arme kinders genadig wees.”

“Hoe bedoel u nou?” Sy was opreg verbaas oor dié stukkie filosofiese teregwysing. Maar het gedink dis bietjie onvanpas aangesien die jong matriekdogter wat toe pas saam met haar ma by die hospitaal aangekom het, bepaald siek was. Die meisie se pols was vinniger as wat dit moes wees en haar maag het gepyn. Fisieke simptome nadat haar kêrel haar afgesê het. Debora het geweet dat sulke simptome nie abnormaal is nie. Dis net dat sy moeilik aan die graad van erns gebyt het.

Sy het stywerig geantwoord: “Dokter Theron, ek verstaan dat u bekommerd is. Ek is egter nie so diep besorg nie. Die meisie sal daaroor kom as haar ma net ’n bietjie verstandiger is. Minder oor die kind piep. Die liefde gooi heelwat mense summier soos ’n wildeperd af, so verneem ek eerstehands by ander mense.”

“En het jy dit vir die moeder genoem?”

“Ek het, ja. Ek het gesê sy moet haar dophou, soveel moont­lik by haar wees en na haar luister. En ek het ’n paar pilletjies gegee.”

“Watse pille, dokter Schlagerfeldt?”

Sy was vuurwarm. Maar het eerlik geantwoord: “Twee Aspirins en ’n klein bottel Aktivanad as tonikum. En ek het die kind aangemoedig om aan sport deel te neem.”

“O. Maar die kennis wat jy opgedoen het van die chemiese reaksie tussen twee verliefdes, was tweedehands, dokter De­bora.” Die man het haar net geterg, maar hy het aan haar dun nerf geraak.

Sy wil nog die gesprek volledig herroep toe sy amper die trappe na die gastevleuel se stoep mistrap. Sy klik met die tong en gee die paar treë na haar ouma se oop kamerdeur. En steek vas.

Dan is dit waar. Skrik spring tot in haar keel. Haar pa het haar die afgelope tyd per brief en telefonies probeer waarsku. Sy wou dit nie regtig glo nie. Sy moes geweet het hy verswyg dit doelbewus sodat sy self kan sien. Die agteruitgang was skielik. En nie haar pa of sy vennoot, dokter Geertse, kon dit nog akkuraat diagnoseer nie.

Die skemerrooi sonlig val skuins oor Debora Schlagerfeldt se geboë kop. Die silwergrys bolla kry ’n koper skynsel.

“Ouma?” Maar haar stem is te sag en sy probeer weer: “Ouma Debora?”

Daar is ’n roering maar dis of die nek die kop nie lekker wil lig nie. ’n Stil verslaenheid kom lê in Debora. Die oumens voel ver verwyderd. So anders as vroeër jare toe hulle twee nie na genoeg aan mekaar kon kom nie. Sy weer die herinneringe af en gaan vat die maer vingers vas. Toe eers lig die ouer vrou haar kop, frons toe sy haar oë oopmaak.

“Deboratjie,” kry sy krakerig uit. In haar glimlag skuil vergane skoonheid. Sy lig ’n hand, vee lig oor Debora se wang. “Ek is so bly jy is hier.”

“Ek ook.”

Debora leun vooroor om haar op haar voorkop te soengroet. Een beaarde hand hou haar terug en sy word soos altyd fyn bekyk.

“Purperwinde,” mymer sy.

“Ouma?”

“Ek sê maar net. Jou oë is soos jou pa en oupa Dieter s’n. Blou soos purperwinde. Jou ouma Susan het altyd van morning glory-blou gepraat.”

Debora knik. Male sonder tal moes sy al na dié storie luister. Al is ouma Susan al voor haar geboorte dood. Maar iets het by die bekende woorde ingesluip. ’n Afwesigheid. Iets wat haar bewoë maak. “Ouma,” sê sy en streel oor die hand wat teen haar wang rus. “Ek is nou vir altyd hier.”

Die oumens knik haar grys kop stadig asof sy dit nie mooi glo nie.

Sy staan op, gaan sit in die ander leunstoel regoor Ouma. Net toe sy wil begin gesels, hoor sy ’n voetval op die stoep. Binne oomblikke staan Tristan se gestalte die deur vol.

Ouma Debora sit regopper. Die metamorfose is merkwaar­dig, dink Debora wrang. Die man het klaar invloed hier. “Kom binne, Tristan.” En met ’n vinnige blik na haar kleindogter: “Hy dring daarop aan dat ek meer moet beweeg. Dis glo my hart wat my deesdae so terugsit.”

“Maar dit weet ons mos.”

Debora se impulsiewe beswaar word doodgeglimlag. Deur dokter Tristan Murray én haar ouma. Die silwergrou oë glim doelgerig toe hy vorentoe kom en haar ouma uit die stoel tot op haar voete lig. “Dis tyd vir ons stappie, Ouma. Kom jy saam, Debora?”

Sy raak stom. So asof hy die septer in die hand het. Meer nog, asof hy en sy mekaar lankal ken. Sy wonder floutjies wat haar pa se reaksie hierop sou wees. Want sy moet teësinnig erken: die man het ’n onmiskenbare teenwoordigheid. Asof sy dit ná laas nag nie weet nie.

“Ja, kom,” por ouma Debora aan. Sy lyk so gelukkig dat Debora die kapsie wat sy wil maak, met mening terugsluk en soos ’n kind agter hulle aandrentel. Tristan begelei die ouer vrou sonder enige moeite met ’n arm stewig om haar middel oor die stoep, die trap af en oor die wye agterste grasperk tot by die rand van die perskeboord sodat hulle drie vol in die rosige lig van die sakkende son staan.

“So ja,” glimlag hy en kyk oor Ouma se kop na Debora. “Is dit nou nie gesellig nie?”

Sy knik stywerig. Dis amper onmoontlik om nie terug te glimlag nie. Haar neef Jakob het mos altyd gesê die man is ’n ware heer. Seker dié dat hy hom saam met Dieter as strooijonker uitgekies het. Wat sy verder waarneem, is sy skerp doktersoë wat ’n pasiënt noukeurig dophou. Sy weet hy merk die vlakkerige asemhaling, dat hy kyk na die klop van die pols in die slap vel van die oumenskeel.

“Kom, nog so ’n entjie dieper die boord in. Pluk self ’n vrug en ek sal dit loop afspoel om te eet.”

Debora voel ontwrig toe Tristan weer ’n slag na haar omkyk. Haar hart skop liggies toe hy haar oë ’n paar tellings lank hou. Die skerp blik trek haar weer in. Dit voel of hy in haar kop in kan sien. Sy kyk vervaard weg na waar twee hadidas ’n entjie van hulle drie af op die gras wei. Haar mond is droog en haar lyf voel vreemd afwesig. Maar toe sy haar hart weer reëlmatig voel klop, lig sy haar ken en loop self nader om ’n rooiwang­perske te pluk. Sy merk bedaard op: “Dis ’n goeie ding, dié stappery, Ouma. Dit sit kleur in die wange.”

“Ja, Marnitz probeer my ook heeltyd aanpor, maar hy is nie altyd beskikbaar nie. En Erik is te kwaai. Hy skrik as ek net struikel. Sê ek moet my liewer stil hou.”

Debora sien Tristan se wenkbroue lig. “Gebeur dit dan dikwels dat u struikel?”

“Soms, ja,” gee sy traag toe, maar laat die gesprek wegswenk. “Kyk net daardie lekker grote. O, dit sit bietjie hoog?”

Tristan steek ’n arm uit en pluk die vrug. Debora vat dit by hom om dit by die buitekraan langs die grasperk te gaan afspoel.

“So ja,” sê sy toe sy weer by hulle kom en breek die sappige perske middeldeur om dit pitloos vir Ouma aan te gee. Deurentyd is sy bewus van Tristan se blik wat oor haar gaan. Dis die soort kyk wat haar as student mateloos vies gemaak het. Takserend. Tot haar verstomming irriteer dit haar nie nou nie want daar is ’n stil eerlikheid aan sy kyk. Buitendien weet sy ná laas nag iets van hom. Hy is nie oppervlakkig nie.

Voordat sy verder daaroor kan besin, bepaal Tristan sy aandag stip by Ouma wat stadig aan die vrug peusel. ’n Gemaklike stilte omgeef hulle en toe hulle wil terugloop, kondig Tristan aan dat hy eintlik vir Debora en Ouma etenstafel toe kom haal het. Die ander is al almal terug van die winkel en maak seker klaar om aan te sit. Dieter se meisie, Annalien, is ook hier. Sy en haar ouers woon glo op die dorp.

“Ek sien uit om almal weer te sien,” sê Debora.

“Ek glo jou,” sê Tristan. “En ek sien weer uit na die Ou­jaarsparty bo in die berg op Bloukrans. Ek hoor dis dié okka­sie op die kalender. Jakob het my spesiaal genooi omdat ek nie so iets ken nie.”

Debora knik. Die man praat asof hy hier hoort. Aan die een kant fassineer dit haar en andersyds wil-wil sy hom keer. Maar sy glimlag is oop, sy stemtoon nugter en daar is geesdrif in sy woorde. Dis dieselfde man van gisteraand en vanoggend. Haar gedagtes vat en los aan hom, sodat sy haar rug op hulle draai om nog ’n perske te pluk. Sy trek die skil behendig af, konsentreer op die soetheid daarvan op haar tong. Agter haar praat Ouma saggies met hierdie Tristan. Amper fluisterend. Maar sy hoor tog. Hy vra haar uit na haar slaappatroon. Of sy uitasem voel. Of iets ooit op haar borskas druk. Hy’s ’n slim dokter. Vang die pasiënt met ’n ondersteunende arm en sjarmante geselsies terwyl hy simptome uitvis.

Om hulle sak die skemeraand en diepblou skadu’s kom lê onder die bome. Die vredigheid daarvan sus Debora, maar ’n onderliggende rusteloosheid pak haar beet.

Sy pers haar mond saam toe sy weer omdraai. Hulle kyk albei afwagtend na haar. Sy lig haar wenkbroue. “Wat?”

Tristan se ferm mond roer. “Aunt Elizabeth het eintlik ge­vra dat ons gou moet maak.”

Waarop sy eers huiwer, en toe kwaaierig antwoord: “Ek kom mos.”

Ouma kyk haar verbaas aan maar die man se oë is vol binnepret. “Mooi. Sien jou aan tafel.” Daarmee lei hy Ouma behendig terug oor die donker wordende grasperk en sy sien hoe hy haar met albei hande by die stoeptrappies oplig. Toe eers kom sy tot haar sinne. Wat makeer haar? Sedert laas nag het die lawwigheid haar beet. Boonop is sy tot haar ergernis seker die man, hartspesialis wat hy is, het dwarsdeur haar gekyk en haar fladderende hart duidelik waargeneem. Diagnose: jongmensverspottigheid in die simpelste graad. Prognose: van verbygaande aard. Hopelik. Anders sal sy gedokter moet word. Met kwaai woorde. Haar eie, want niemand anders mag weet nie. Sy onthou vroegoggend se pratery oor die inry­teater. Jakob, besef sy, vergelyk haar met ’n inryteater. Jakob nogal, die een wat alewig met sy neus in ’n boek sit.

Debora kry haar kop in rat. Hierdie man en haar neef Jakob moet bloot geïgnoreer word. Want dit sal die dag wees dat dokter Debora toegee aan die onwillekeurige, chemiese reaksie van haar liggaam. Sy is in beheer. En sy sal haar nie verder deur hierdie slim man laat bekyk of aansê nie. By die buitekraan gaan spoel sy haar hande af maar toe sy by die agterdeur instap, loop Dieter en Jakob haar so amper onderstebo.

“My magtie, ons hoor nóú by Tristan dat jy al van gister af hier is! Jy sou mos eers Saterdag gekom het?” Dieter, en hy klink soos altyd ergerlik. Maar hy druk haar vas om haar kaplaks! op albei wange te soen. “My rietdun ou niggietjie,” tempteer hy haar soos van ouds. Inderdaad het niks verander nie. Debora is teen haar sin geamuseer.

“Ja, nè.” ’n Opgeruimde Jakob wat haar kom soen. “Dis soos jy sê, ou Dieter, sy het nog nooit juis ’n behoorlike skadu gegooi nie. Maar welkom tuis, nig.”

“Ja, welkom, hoor,” blaf Dieter en lag want hy weet goed watse uitwerking hul tergery op haar het.

Maar van nou af sal sy haar handhaaf op ’n manier wat hulle sal stomslaan. “Mag ek darem praat noudat Tristan reeds gepraat het?” vra sy koel. Albei mans gaap haar aan. En Jakob snap eerste, soos altyd.

“Ha! Jy’s jaloers op die man.”

Sy voel hoedat haar wange warm word. “Moenie laf wees nie. Dis net, hy …”

“… neem oor?” glimlag Jakob en sy weet dat hy presies begryp.

“Ja, nogal,” antwoord sy bedaard. “Maar kom vertel my van jou troue met skone Suzaan. En Dieter, ek wil weet van jou nuwe meisie. Nogal ’n nuwe dorpenaar, hoor ek. Is sy al hier?”

Dieter stoot sy vingers deur sy rooibruin kuif. “Annalien Reyneke, ja. Sy gesels met my ma in die eetkamer.”

“En?”

“Wat wil jy hê moet ek sê?” vra hy kwaaierig maar gedemp. Sy morning glory-oë is weerloos.

Jakob antwoord namens hom: “Sy’s die een, dink ek. Annalien kan haar oë net vir die oomblik wat sy hulle knip van hom af hou.”

“Ag, twak,” trek Dieter los, maar Jakob en Debora lag so hard terwyl hulle eetkamer toe stap dat sy protes verlore gaan.

Almal is inderdaad al hier. Ouma Debora sit reeds aan die kop van die tafel. Die ander staan rond. Debora word gegroet asof sy ’n pelgrimstog tot hier afgelê het. Oom Erik druk haar styf vas. Aunt Elizabeth lyk bewoë toe sy haar soen, Catherine kom val haar demonstratief om die nek. Die fraaie tant Rebekka kom soengroet ook en glimlag lief met haar. Vra uit na haar welstand op haar liewe, eienaardig formele manier. Hou haar hande vas terwyl sy praat. Debora word aan Annalien voorgestel, ’n fyngeboude meisie met blonde krulhare en ’n innemende glimlag. Sy merk dat Dieter ’n besitlike arm om haar middel het. Annalien steek ’n hand uit om Debora te groet en sy voel dat die greep ferm is. Sy is uitgaande, maar moontlik ook iemand wat weet wat sy uit die lewe wil hê.

Dit is so dat almal bly is om Debora te sien. Ook haar ma kom gee haar weer ’n druk en Wena en Ewert lyk sowaar trots op haar, beduie aan almal wat wil hoor dat hul ousus nou eindelik tuis is.

’n Benoudheid pak haar. Vanwaar hierdie gevoel om gou eers pad te gee sodat sy haar kop bymekaar kan kry? Dis hier­die dokter Tristan wat skuins agter ouma Debora staan en die familiereünie betrag. Toe hy haar oog vang, kyk hy weg en fluister iets vir Jakob, wat instemmend knik en stou­terig glimlag.

Sy voel uitgesluit maar sy herstel vinnig. Dan moet Jakob en sy goeie vriend maar hul geselsie geniet. Sy gaan sit aan ouma Debora se linkerkant terwyl die ander oral aan die lang tafel hul plek inneem. Tristan kom sit ewe langs haar sodat haar simpel hart begin tik. Sy wonder benoud of sy nie iets onder lede het nie.

Almal vat oudergewoonte hande en sy skrik toe die man sy vingers oopsprei vir hare. Sy kyk hoedat hy haar hand warm in syne toevou. Nog nooit was sy so bewus van ’n ander mens nie. Dit moet wees omdat hy ’n spesialis is. Die meeste spesialiste dink mos hulle is gode. So praat sy haarself studenti­koos moed in.

“Dankie, liewe Vader,” bid oom Erik swaartillend, “dat ons almal hier bymekaar mag wees. En seën tog die hande wat die kos berei het. Amen.”

Toe die bakke vol kos op ’n ry aangegee word, trek die tafelgenote soos altyd tegelyk los om elk ’n woord in te kry.

Daar kom ’n klein verposing in die geselsery, en Debora sê lakoniek: “En dis al.”

Almal lag hardop. Behalwe Tristan wat hom duidelik aan die geselskap verwonder en net vraend glimlag.

Dis Dieter wat hom inlig: “Jy sien, dokter Tristan, Ouma sê mos altyd ‘Genug’ as sy dink dinge het nou ver genoeg gevorder. Toe wou Debbie dit destyds ook opsluit haar sêding maak. Dis nou toe sy uit Engeland hier aangeland het.”

“En toe?” lag Tristan ook en draai amper dwars sodat Debora genoop is om na hom te kyk. Sy blik op haar vernou sodat pretplooitjies langs sy oë vorm. “Vertel,” por hy sag.

Jakob praat die waarheid. Die man neem oor. Maar Debora hou haar stemtoon neutraal. “Toe sê ek nou maar goed, dis dan Ouma se sêding. En ek maak ek my gesegde maar: ‘Dis al’. Dis my stopwoorde as ek nou regtig klaar my sê gesê het.”

“Nou toe nou,” en die man glimlag dat sy linkerwang ’n kreukel maak. Debora sluk droog en vat die bak met botterige, fyngekerfde peperboontjies by Ouma aan. Skep vir haar daar­van in en Tristan hou ewe sy bord sodat sy vir hom ook moet inskep.

“Is dit jóú afgesaagde sêding?” glip dit uit toe sy vir hom snysels skaapboud en gebraaide aartappels met suurroom ook moet inskep. Jakob kyk haar terstond verwytend aan. Sy haal ongeërg ’n skouer op, hou haar blik op haar bord want sy voel ouma Debora en die ander se oë op haar.

Tristan glimlag onverstoord. “Lyk my in dié gesin moet mens jou woorde mooi agtermekaar kry.”

“Genug,” laat ouma Debora soetjies val. “Vertel jy ons liewer van die Kaap en van al jou hartavonture.”

Aunt Elizabeth lag by voorbaat en oom Erik se een mondhoek lig. Selfs haar pa en ma lag en Wena loer bewonderend na die hartspesialis. Ewert rol net sy oë. Dis Jakob wat haar inlig: “Jy sien, Debbie, Ouma en Tristan gesels graag oor hartsake en …”

“Is dit nou anatomies gesproke?” val sy hom in die rede. “Geen dieper gevoelenthede nie? Kliniese feite?” Sy vat ’n groot hap van die groenboontjies, proe die branderigheid van die dis. Wonder wat haar makeer. Dieter, en veral Jakob, gaap haar nou openlik aan. Seker omdat sy so al oor die geliefde mentor se heilige nerf skraap.

“Wel,” lag Tristan, “hier het ons nou duidelik met ’n huisarts te doen.”

“Hoe so?” wip Debora haar en kou vinniger.

“O, dis goed bedoel, hoor. ’n Huisarts kyk sekerlik meer holisties. Met ander woorde omvangryk, na alle aspekte van …”

“Ek weet wat holisties beteken,” haak Debora weer af en die stilte aan tafel suis.

“In daardie geval,” gaan hy bedaard aan, “sal jy weet dat jy as huisdokter moontlik dieper as ek na die geestelike of liewer, die abstrakte sy, van die hart kyk.”

“Gaan aan,” kry sy uit en weet dat sy met moeite haar waardigheid behou.

“In welke geval jy beter van die spreekwoordelike hartsake sal weet.”

“Ag, my aarde,” bars Dieter uit van die lag. “Debora is hope­loos met hartsake.”

“Dieter,” spreek sy pa en ma hom tegelyk aan en Jakob stamp aan hom. Tristan Murray lig sy kop geïnteres­seerd.

“Vertel,” laat hy saggies hoor.

Debora wil soos jellie van haar stoel afglip. Maar albei haar neefs is nou op dreef. “Wel, dokter Murray, hier is nou vir jou ’n komplekse geval,” begin Jakob met sy stoutseunglimlag. Sy felblou oë, so eie aan die Schlagerfeldts, glim van genot.

“Inderdaad, dokter,” gaan Dieter asof afgespreek aan. “Onse Debbie het ’n reputasie dat sy harte met ’n eerste afspraak middeldeur laat kraak. Sy was op die Tuks-kampus bekend daarvoor dat sy nie ’n aster is wat sonder lewensgevaar gesleep kan word nie.”

“Hoe dan so?” Tristan se stem is tergend laag en Debora voel sy blik op haar gloeiende gesig. Die res van die tafelgenote verlekker hulle ook in haar dilemma.

“Hulle is laf, dókter,” verweer sy gou en hou haar hand op toe haar ma vir haar nog vleis wil inskep. “Ek weet vir ’n feit dat hulle hoegenaamd nie oor harte beskik nie.” Daarmee probeer sy haar neefs doodkyk maar Dieter en die kwansuis saggeaarde Jakob grynslag soos toe hulle klein was. Die aand se ellende is vir seker nog lank nie verby nie.

“Nou dít is ’n interessante verskynsel. Amper soos jellievisse wat nie hart of brein het nie?”

Sy is verras oor die onverwagse steun van Tristan se kant af. Knik net plegtig maar moet konsentreer om nie te tevrede voor te kom nie.

“Nee, jimmel!” roep Dieter uit. “Ons probeer die man teen gewisse uitwissing waarsku en dan beledig hy ons.”

“Toemaar, ek het ’n baie sterk oorlewingsdrang,” lag Tristan en kyk spottend na Debora.

Dis ouma Debora wat weer die perke stel. “Genug! Gaan kry jy en Dieter vir ons die nagereg, Debora.”

In die kombuis kry hulle die bakke malvapoeding en room­ys met warm vla.

“Vir jou en Jakob gee ek nog elkeen ’n donnerse seer inspuiting,” sis Debora toe sy die roomys aanvat.

Dieter grynslag. “Debbie, ek het netnou self dié poeding aanmekaargeslaan en ek kan dalk net besluit om nie vir jou in te skep nie.”

Dis alombekend dat Dieter Schlagerfeldt so goed soos enige vrou kan kook en bak. Wanneer dit hom pas, natuurlik. En hy sal dalk net sy dreigement uitvoer. Daarom sluk sy haar antwoord want sy is lus vir poeding, maar haar hoë hakke klik-klik op die gepolitoerde houtvloer toe sy terugstap tafel toe. Sy moet konsentreer om nie met die bak vla en al neer te slaan nie.

Die geselskap het genadiglik politiek se kant toe geswenk. Dis net haar pa wat voor hom sit en staar. Politieke praatjies is vir hom taboe. Seker ’n oorblyfsel van sy oorlogservaring. Maar oom Erik praat met ’n frons.

“Mens weet wraggies nie wat jou te doen staan nie. Nou die dag het ek ’n Indiërman met wie ek al jare lank besigheid doen, genooi om in die hotel te oornag voordat hy terugry Durban toe want dit was al baie laat. Sal daardie klein Froneman van Gansvlei dit nie hoor en my en die arme mens toe­takel nie!”

“Wat het hy gesê?” vra Margot en sit haar hand paaiend op Marnitz se arm.

“Wat het hy nié gesê nie,” antwoord Erik suf. “Geskel en met die Veiligheidspolisie gedreig. Gesê ek moet my ’n slag aan die wet steur. Teen daardie tyd was Ibrahim Naidoo al by die deur uit en in sy kar om voor donker uit die Vrystaat te wees.” Die swye om die tafel swel dik. “Wel, dis seker beter om die minste te wees as om toegesluit te word. Maar dit is nou soos dit is.”

“Ag, ek wonder of hulle regtig sal,” brom Dieter rebels.

“Van watter ‘hulle’ praat jy?” vra Marnitz sag.

“Wie ook al, oom Marnitz,” sê Dieter. “Nou die dag sit ek en ou Fanjan Motse se kleinseun Thabo op die bankie in die park by die Jordaanrivier en gesels. Ek het hom raakgeloop toe die winkel skielik uit suurdeeg geraak het en ek gedink het ek sal gou by Greenberg kan kry. Toe gesels ons twee woorde met mekaar. Vra hoe dit gaan en so aan. Hy studeer mos nou vir predikant op Witsieshoek.”

“En toe?” fluister Aunt Elizabeth wat gewoonlik eerder toe­hoorder as prater is. Debora kyk ook benoud na Dieter se kant toe, al begryp sy maar alte goed dat hy en Thabo sekerlik net sitplek gesoek het. Want op al die bankies in die parke is daar bordjies wat sê Slegs Blankes.

“Toe nog niks, Ma,” antwoord Dieter maar sy stem is koud. “Ons het net gesels soos wat twee mense wat mekaar goed­gesind is mos maar doen. Soos wat ek op universiteit met die swart studente van Turfloop ook gesels het. Hel, dis mos net …”

“Dieter!” maan oom Erik. Hy het nog altyd kru taal belet, veral aan tafel.

“Ek bedoel, hemel,” sê Dieter vroom, “dis mos net gesels. Toe kom sersant Sarelse daar verby en dreig om ons albei tjoe­kie toe te vat. Omdat ons wat gedoen het?”

“En toe?” Teen dié tyd sit die statige Aunt Elizabeth kierts­regop. Sy ken haar oudste.

“Ag, Mammie,” bedaar Dieter, “toe sê ek maar orraait, ek is baie jammer dat ek vir Thabo Motse gevra het hoe dit met hom gaan.” Debora sien hoe Jakob agter sy hand glimlag.

“En toe laat ou Sarelse julle gaan?” por Aunt Elizabeth verder.

“Ja wat, hy’t nie ’n saak gehad nie. En ek weet ook nie of hy nie maar nes ons voel nie. So als is nou weer orraait.”

“Oh, Dieter, dear,” sê Aunt Elizabeth sugtend, “please do not use that word. Speak either English or Afrikaans.”

“Mammie, almal sê orraait of oukei.”

“Dit maak dit nog nie reg nie,” kap oom Erik terug.

“Nes die politiek, Pa. Omdat almal Nat stem, maak dit dit nog nie reg nie. Wag maar net, julle sal sien.”

“Wie sê ons sien nie? Die vraag is wat om te doen? Dis ’n toestand en dis soos dit is.”

“Die ergste is dat dit nie net hier is nie,” probeer ouma Debora floutjies om die gesprek in ’n ander rigting te stuur, maar dis olie op oom Erik se vuur.

“Kyk, Ma, dit weet ons. Vat nou maar daai artikel in Huisgenoot so ’n paar jaar gelede, ’n ruk ná Sharpeville, as ek reg onthou. Rasseonluste by ’n hoërskool in Jacksonville in Flori­da. En andersyds in Philadelphia is ’n blanke seun op straat deur vier jong swart seuns doodgeskiet. Harlem in New York is ’n buurt waar niemand snags op straat wil wees nie. Die wêreld sal iets moet begin doen om mense weer in harmonie met mekaar te kry. Nee, só kan die mensdom nie aangaan nie.”

Was daar al ooit harmonie? wonder Debora en Tristan stamp liggies aan haar. Fluister by haar oor: “Moenie sinies wees nie.”

Sy kyk verstom na hom. Kan hy gedagtes lees? Sy mondhoeke lig effens toe haar oë syne ontmoet sodat sy vinnig op haar bord kyk.

Daar stol ’n swaar stilte en Debora merk dat Annalien on­gemaklik voor haar uitstaar. Dieter het klaar probleme, vermoed sy. Aunt Elizabeth het haar netnou vertel Annalien se pa dien in die Volksraad. Dat die regering vanaand aan hierdie tafel bevraagteken word, staan die meisie glad nie aan nie. Aan die een kant kry Debora haar jammer. Sy het, soos vele ander mense, dalk nog nooit bewustelik oor die politiek gedink nie. Aan die ander kant kan só ’n gesprek tussen hier­die klomp haar net goed doen.

Debora se pa het toe sy op hoërskool was al vir haar gesê dat die meeste mense geen politieke bewussyn het nie. Hulle neem nooit afstand van hulself nie, het hy beduie. Sien niks werklik raak nie. En die meeste van hulle wat wel oor politiek besin, praat net hul malle maai af daaroor. En praat help nie. Jy moet leef wat jy glo.

Dit doen haar mense wel. Al sit hulle nou almal verleë oor die trant van die gesprek. En dis ’n verleentheid wat na onsekerheid en ’n groeiende gramskap toe oorhel. Want daar is dinge wat eenvoudig nie weggewens kan word nie. Daar is segregasie, daar is rasseonluste waar mense doodgemaak word en Verwoerd – al was hy hoe verkeerd – is drie maande gelede helder oordag in die parlement vermoor.

Nee magtag! het haar pa glo daardie dag uitgeroep. Van wanneer af is geweld die antwoord op alles? Moor ons mekaar nou uit? Pleks dat ons saamstaan en dinge uitpraat. Regmaak. Met nugterheid en deernis. Dis wat hierdie land kort.

Ewert het haar nog telefonies vertel hoe geskok almal oor Verwoerd se dood was en dat dit die meeste is wat hy hul pa nog in een asem hoor sê het. In die Schlagerfeldt-familie verskil ons beskaafd, het hy glo bygesê. Jy moor nie ander uit wat nie soos jy dink nie. Pa is verskriklik ontsteld, Debbie. En ons ook. Al is apartheid verkeerd. Want dis heluit verkeerd. Nee, hemel tog, dinge kan nie so aangaan nie. Dis wraak en weerwraak.

Debora sit amper sonder om asem te haal. Ewert se woorde van daardie dag weerklink in haar kop. Dit kos net ’n gesprek soos hierdie een om almal om te ellie, besef sy. Nee, die toe­stand in die land is allesbehalwe ideaal. Al oortuig die grootste gros wit mense hulself dat dit is. Of het oogklappe aan. Of weet werklik nie wat als onder die oppervlak broei nie. Want joernaliste kan glo nie skryf oor wat hulle alles sien gebeur nie, so word in die wandelgange gefluister. So die meeste blankes weet werklik nie presies hoe erg die graad van onderdrukking en verguising is nie. En ja, as dit nie vir haar pa se sterk oortuigings was nie, was die hele klomp Schlagerfeldts dalk ook so siende blind. Maar, so vertel haar ma altyd, Marnitz Schlagerfeldt het ná die oorlog sy broers en hul vrouens se oë oopgemaak. Hulle kyk skerp, sien raak.

“Gee aan die sout en peper,” verbreek Marnitz die ongemaklike swye. Tot Debora se verligting lag almal. Selfs Tristan. Al merk sy dat hy nog sukkel om te snap dat sekere sêgoed in hierdie familie hul eie betekenis het. Want “Gee aan die sout en peper” is in hierdie kring selfs kragtiger as Ouma se “Genug!”. Die familie het oor jare heen geleer as Marnitz dít sê, is die bedoeling dat ’n streep nou dadelik getrek moet word.

“Finish en klaar,” voeg Dieter skaars hoorbaar by.

Marnitz staan op. “Goeienag, almal. Môre is daar twee mangeloperasies en wie weet wat nog. Dankie, Elizabeth en Ouma, en almal. Wel te ruste.”

“Gaan jy nie koffie drink nie?” por ouma Debora. Marnitz buk net om haar op die voorkop te soen. Maar ouma Debora sit haar voet neer. “Nein, Marnitz! Ons sluit nie só ’n aand sonder musiek af nie!”

“Beslis nie,” ondersteun Jakob haar. “Ek gaan my viool kry. Of hoe, oom Erik?”

“Natuurlik, ja.” Erik se kop is duidelik nog by die amper hittige gesprek. Maar hy staan ook op om solank agter Marnitz aan sitkamer toe te stap dat hulle hul instrumente kan stem. Catherine gaan ook want sy is die een wat op die klavier begelei. En Jakob beduie dat hy en Ewert vanoggend vroeg al met die viool en fluit geoefen het aangesien hy mos vir sy bruid in die kerk gaan speel.

Die vroue en ook Tristan dra fluks borde en bakke terug kombuis toe. Net toe Debora die borde in die wasbak gepak het, draai sy om om Tristan vlak agter haar te sien. “Speel jy dan nie ook nie?” vra hy sag.

Sy skud haar kop. “Nee, daardie talent het my en Wena en ook vir Dieter verbygegaan. Hy kan nie eens noot hou nie.” Sy laat sak haar stem: “Nes Aunt Elizabeth. Hulle bly selfs in die kerk liewer stil. Vorm net die woorde met hul lippe.” Sy kom agter dat sy asemrig praat en haar hande wil beef, sodat sy hulle haastig agter haar rug hou. Tristan se wenkbroue lig maar hy swyg beleefd.

“Kom, laat ons gaan.” Sy stap vinnig gangaf sitkamer toe en hoor sy voetstappe agter haar aankom. In die ruim vertrek is daar nog net plek oor op die tweesitplekbank naby die deur. Debora is genoop om haar op die kleiner bank tuis te maak met Tristan knus langs haar ingepas. Sy kan die roering van sy lyf voel soos wat hy asemhaal.

Die Schlagerfeldt-orkes, soos hulle gou in die familie be­kend gestaan het, speel vanaand ekstra mooi. Marnitz laat sy tjello, wat maar altyd hier in die ou huis by die Bechstein-klavier staan, sing. Erik en Jakob se viole speel roerend saam. Dis manne wat mekaar en hul musiek goed ken. Ewert se fluitklanke sweef ver bo die ander musiek. Hulle begin by Mozart en Beethoven, dan Rodgers en Hammerstein en toe lekker popliedjies van Elvis soos “It’s Now or Never” en “Are You Lonesome Tonight?”. Tot ouma Debora, wat vroeër skepties oor hierdie Elvis-kêrel was, se regterskoen tik-tik lustig op die maat daarvan.

“Jammer hier is nie plek om te dans nie,” sê Tristan toe hulle klaar is en klap saam met die ander hande.

“O, ons dans baie op die stoep,” antwoord Dieter en kyk vir Annalien. Maar dié is duidelik nog omgesukkel oor die politiek en haar glimlag is strak.

“Ons sal nog ’n aand of wat op die stoep dans,” belowe oom Erik. “Spesiaal, voordat Jakob die strop om die nek gaan kry.”

Aunt Elizabeth begin dadelik beplan. “Dit sal een aand ná volgende week moet wees. Dan is Kersfees verby en sal ek heerlike vrugtepons maak om ons af te koel. Mens dans jou skoon warm op die gladde stoep. So lovely.”

Debora gee haar ’n drukkie en lag. Aunt Elizabeth glip altyd terug na Engels as sy nou regtig opgewonde raak. Ook oom Erik raak speels aan sy vrou se koper hare, wat slegs enkele grys stringe vertoon.

Toe Debora saam met haar pa en ma wil terugstap huis toe, hou Jakob haar terug. “Wag, Debbie, ons jongklomp gaan eers afstap dam toe. Dis ’n lieflike aand.”

“Ek moet môre assisteer, Jakob,” protesteer Debora.

“Ag wat, ek moet ook assisteer,” sê Tristan luiters. “Die stappie kan ons net goed doen.”

“Ja, die bloedsomloop en so aan, ou nig,” lag Dieter. “Dit sal help dat jy jouself nie raaksny nie.”

Soos gewoonlik word Debora kinderlik vies vir Dieter maar gee hom net ’n kyk. Besluit dat dié vieswordery vir haar twee neefs seker in haar gene moet wees want sy kry dit oor al die jare heen nie afgeskud nie. So lekker as wat hulle drie saam kon speel, so opruiend kon en kan hulle baklei. Nietemin, sy is lief vir dié twee. Al sal hulle al drie ongetwyfeld aan hul graad van volwassenheid moet werk. En nou, besef sy moeg, is sy hoogdrawend en pedanties. Sy stap swyend saam met die bondel jonges by die tuinhekkie uit en af met die klipperige stofstraat. Agter haar hoor sy hoedat Annalien fluisterend aan Dieter torring om liewer huis toe te gaan. En sy glimlag wrang. Sy ken haar neef. Hy vat dinge net tot op ’n punt.

“Nou toe kom,” sê hy hardop sodat die ander omkyk. “Ek vat Annalien gou huis toe. Ek sien julle netnou.”

Die meisie staan verleë toe almal groet maar sy glimlag darem. “Baie dankie vir die aand.”

Toe hulle ver genoeg weg is, skud Jakob sy kop. “Ek het mos geweet dié ding gaan nie werk nie.”

“Politiek?” fluister Debora toe hy en Tristan weerskante van haar inval.

“Ja, te veel partypolitiek kan ’n verhouding knak. En Anna­lien verstaan dit nie so mooi nie.”

“Hoe so?” vra Tristan met ’n laggie.

Die aandbries trek koel vingers deur Debora se hare en sy glimlag tevrede. Hoe het sy hierdie streek se speelse ooste­wind gemis. “Ja, hoe dan?” por sy ook, meteens heel op haar gemak.

“Wel,” sê Jakob, “’n verhouding is mos vol politiek. Maar dié tussen mens en mens, as jy dít nie verstaan nie, hoe gaan jy onderlinge verskille oor landspolitiek oorbrug?”

“Goeie vraag,” sê Debora. Tristan antwoord nie, stap net stilweg saam. En sy kan haar dit verbeel, maar sy dink sy hoor hom sug.

Die ander giggel en gesels en loop al hoe vinniger met die klipperige afdraand langs. Hulle stap by die hekke van die dorpsdam in en al op die klam grasperk tot aan die oewer waar die bosluisvoëls nou onrustig in die wilgers roer. Spatsels sterlig lê op die stil water. In die verte steek die toppe van die Maluti’s swart af teen die middernagblou van die ruim.

“Dis lieflik,” sê Tristan amper verlangend. “Mens sal hier wil bly.”

“Ja,” antwoord Debora en Jakob tegelyk.

Die jonger klomp raak rusteloos, besluit om terug te stap want Catherine het van die kondensmelkkoek beloof wat Dieter juis gisteraand met die oog op Annalien se besoek gebak het. Glo ’n nuwe resep wat maak dat dit en Ouma se beroemde gemmertert met room van Debora en Seuns se rakke af vlieg.

“Liewe hemel,” sê Debora. “Julle het dan nou net borde vol geëet.”

“Dis amper ’n uur gelede,” brom Ewert.

Tuis drom almal op die agterstoep by die witgeskropte houttafel saam. Bokant hulle hang paraffienlampe wat die donkerte sagkens wegstoot. Hier word die reuseboord se perskes en appelkose elke somer geskil deur elkeen wat lank genoeg aan’t huis vertoef. Nou is die tafel skoon. Die energieke Catherine beveel almal om te sit terwyl sy koffie maak.

Dieter kom net betyds om toe te kyk hoedat die vars laag­koek gesny word. “Net waarvoor ek lus is.” Hy klink vrolik maar lyk verslae. Toe almal se oë op hom is, sê hy: “Annalien is geskiedenis.”

“Finish en klaar?” lag sy suster asof sy dit gewoond is dat hy so gou van mense geskiedenis maak.

Dieter knik bot.

“En nou?” vra Jakob. “Wie gaan saam met jou strooi?”

“Ag, ou Debs, natuurlik. Wie anders sal ek nou vra?”

Debora vat solank die geurige sny koek by Catherine aan. “Praat jy van my?” vra sy vies.

“Ja. En moenie vanaand moeilik wees nie.” Hy kyk haar stip aan. “Asseblief.”

“Goed, dan praat ons later.”

Tristan neem die skinkbord met koffie by Catherine en hou vir Debora.

“Nie suiker nie?” vra hy sag.

“Swart en bitter as dit koffie is,” sê Debora. “Dis al hoe ek dit snags in die hospitaal kon inkry. Die kafeïen het my ’n hupstoot gegee. ”

“Ongetwyfeld.”

Dieter kom vat die skinkbord by hom en hou vir die ander. Vir ’n oomblik is hulle in hul eie klein swye afgesonder, die ander bedrywig met hul eet- en drinkgoed en geginnegaap oor die komende Kaapse troue. Die skone Suzaan wat liewer nie ná die troue ’n bril moet kry nie want dan sal sy dalk sien dat Jakob Schlagerfeldt nie ’n gebore Bolander is nie. Hy luister glimlaggend na almal se bogtery.

“Onverstoorbaar, onse Jakob,” sê Tristan sag langs haar en sy skrik op. Die man het die woorde uit haar gedagtes gevat.

“Inderdaad,” knik sy en draai haar kop om skigtig na hom te kyk. Haar asem stok in haar keel maar haar mond glimlag stadig.

“Mooi,” knik hy. “Ek dink ons gaan vriende word.”

Sy kan nie wegkyk nie. “Jy bly dan in die Kaap.”

“Vriende is vriende, Debora. Afstand maak nie saak nie.”

Haar kop wil nie hierdie gesprek hê nie. Maar sý wil. Woor­de het sy egter nog nie. Sy glimlag net weer en staan op om Catherine met die koppies en koekbordjies te help en is verlig toe almal opstaan en nagsê. Sy loop vinnig saam met Wena en Ewert oor die stofstraat huis toe.

Toe die son deur die gordyne begin gloei, is sy verstom dat sy asof onder narkose geslaap het. Nie een enkele flits van Tristan Murray het in haar opgekom nie. Maar die wakker word bring ’n bewustheid wat sy vir seker nie gisteroggend gehad het nie. Sy weet nou van dokter Murray met ’n wete wat haar onkant vang.

Debora gaan huis toe

Подняться наверх