Читать книгу Helene de Kock Keur 2 - Helene de Kock - Страница 7
4
ОглавлениеHierdie Karel het kaliber, dink Jessica vir die soveelste maal sedert sy by mevrou Geyer gehoor het dat Daniël nie op hom laat wag het nie. Dat hy met sy innemende glimlag by haar losiesplek opgedaag het om haar te sien.
“So asof julle nog laas in soete harmonie uitmekaar is,” snork Karel minagtend toe hy een aand teen skemer saam met haar gaan stap.
Jessica byt op haar lip en haak gemeensaam by hom in. Die afgelope dae is dit asof hy innerlik bedaar het, want die arm wat hy dadelik om haar skouers slaan, is broederlik vertroostend. Al weet sy dat dit hom iets moet kos. Jare se stil, stuwende bewondering sal nie in ’n goeie man se hart sommer weer gaan lê nie.
Toe hulle ’n kwartier later met hygende asem tot bo-op ’n sandsteenkoppie klouter, tuur sy oor die bosse populiere en die rooiblink plaasdam wat onder hulle lê, en sê: “Jy is my heel beste vriend, Karel Malan.”
“Ek weet,” sug hy, “en dis nie maklik nie.”
Die woorde is so warm, so eg dat daar trane in haar oë spring. “Wat moet ek tog doen?” fluister sy. “Ek sal hom byna elke dag by die Regsfakulteit raakloop. En … ek sal nie weet of ek moet lag of huil nie.”
Hy knik sy kop gewigtig en sy mond vertrek effens. “Die waarheid word selde in flitse geopenbaar, Jessica. Om te weet wat is wát in die lewe, moet ons bereid wees om deel van ’n proses te word.”
Sy staar hom vraend aan, vee met haar handpalms die trane weg. “Hoe bedoel jy nou?”
Hy blaas sy asem hard uit en toe hy praat, is sy stem laag en gedrewe. “Ek bedoel dat ’n mens moet bereid wees om te soek as jy wil vind. Dis immers wat ek gedoen het toe ek jou hierheen saamgebring het.”
Sy byt haar lip vas, voel hoe haar ken beef. “Maar nou het jy nie gevind nie, Karel. Dit was verniet …”
Hy trek haar met een haal teen hom vas en vou haar toe asof sy ’n bang kind is. Sy laat hom begaan; voel die warm, wrang emosie wat hom noop om teen haar hare te fluister: “Maar dit was nie verniet nie, Jessica. Ek het immers die waarheid gevind.” Hy laat sy arms sak en sy staan effens tru, kyk op in sy oë.
“Watter waarheid? Die een wat jy gesoek het?”
“Nee, natuurlik nie,” sê hy en vee ’n stringetjie los hare van haar voorkop af weg. “Die waarheid is dat jy nie vir my bedoel is nie. Jou hart is elders, al weet jy self dalk nie waar nie. Die waarheid is ook dat ek wel my weg sal vind sonder jou, maar ook dat ek altyd daar sal wees vir jou. Maak dit vir jou sin?”
Sy knik stadig en ’n glimlag roer om haar mond. “Ek wil nooit jou vriendskap verloor nie, Karel. En ek gaan jou nog baie nodig kry, ek weet dit net. Ek het net geen idee hoe ek gaan voel wanneer ek Daniël weer sien nie.”
“Wel, daarop kan ’n mens jou nooit voorberei nie. Geniet nou liefs die paar dae hier op Populier. Dalk bou jy ’n soort kalmte daardeur op.”
Karel het ’n punt beet, besef Jessica een middag toe sy saam met Anna sit en perskes skil om in te lê. Dis of die oesbedrywigheid op die plaas en die gesellige gewerskaf in die huis salwend op haar gemoed inwerk. En nie net dit nie. Sy voel al meer gebonde aan Populier en sy mense.
Dis kompleet asof sy en Anna mekaar maar altyd geken en begryp het. En Karel pas al snoesiger in die leemte wat sy altoos voel omdat sy nie ’n broer het nie. Ook Adam is goedig gaaf met haar, en Jansie bewonder haar openlik: “O, om soos jy te lyk, Jessica! Veral nou sal ek wat wil gee om daardie latlyfie van jou te hê. En jou hare … so swaar en blink.”
Kiewiet is by met een van Jansie se lofredes op Jessica se voorkoms. Dis na een van sy sessies by die droogoond en hy is in sy plaasuniform, ’n oorpak wat ruik na gistende koring, en ’n wilde kuif, vaalbruin van die fyn kaf. Hy sluk sy koffie vinnig weg en plak die beker op die kombuistafel neer. Sy hande gaan na sy heupe en ’n oomblik lyk dit asof hy ’n rits woorde gaan kwytraak. Maar hy vang Anna se blik en maak sy mond toe, kyk stip na Jessica se fyn, taai vingers wat knap aan die sappige perske skil en draai in sy spore om om mompelend oor sy skouer te groet.
Eintlik, dink Jessica, is dit al wat pla. Die feit dat Kiewiet om die een of ander rede nie wil vrede maak met haar teenwoordigheid hier op Populier nie. Ook Jansie sit met oopmond-ergerlikheid en kyk na die sifdeur wat hy weer agter hom laat klap het, maar Anna gooi doodbedaard vir hulle drie nog koffie in.
“Ma het darem baie geduld met Kiewiet,” verwyt Jansie ligweg. “As Adam darem soos hy moet maak!”
Maar Anna glimlag onverstoord, staan op om solank aan die stroopsoet konkoksie op die stoof te roer. “Adam sal nooit,” sê sy getroos. “En Kiewiet het net ’n bietjie tyd nodig om ’n nuwe situasie gewoond te raak.”
“Watter, situasie?” vra Jansie gretig en leun vooroor sodat haar ronde buik teen die tafelrand druk.
Jessica skil die laaste perske in haar bak en lag saggies vir die bloesende verwagting op Jansie se gesig.
“Daar is nie werklik so iets nie, hoor. Maar Kiewiet staan baie skepties teenoor my. Ek neem hom nie kwalik nie. Dit klink altyd banaal as mense sê hulle is net goeie vriende. Maar hy sal nog sien – dis al wat ek en Karel werklik is. Baie goeie vriende.”
Jansie se gesig val ooglopend, maar Anna glimlag wyslik toe sy van die kokende perskes in flesse begin skep. “Jy verstaan vir Kiewiet,” sê sy sag en tevrede.
Jessica wil haar reghelp, maar sluk liefs die woorde weg. Anna wil niks weet van haar Kiewiet-kind nie. Sy sal stellig nie glo dat hy nou die dag, toe sy wat Jessica is saam dorp toe gery het, nie een enkele woord op pad soontoe met haar gepraat het nie. Behalwe dat hy haar bot beveel het om haar sitplekgordel ordentlik vas te maak en by die kafee ’n paar rand in die hand gestop het met die opdrag om vir hulle suigstokkies te koop vir die pad terug. Nee, Anna weet sekerlik nie dat Loek-alias-Kiewiet met rooi suigstokkies maak soos wat kettingrokers met sigarette maak nie. En dat hy haar net één aangebied het en toe gesê het die res is syne, en basta.
Jessica buk vooroor en haal nog ’n perske uit Jansie se bak, begin met intense konsentrasie daaraan skil. Anna en haar skoondogter se geselsies oor die baba wat kom, raak stadig weg. Sy hoor die klank van hul stemme, maar nie die woorde nie. Sy sien nou nog die suigstokkie bol staan in Kiewiet se stoppelwang, hoor sy ongeërgde geneurie saam met Leonard Cohen wat Everybody knows ritmies oor die radio uitkreun. En haar half geskokte verbasing toe hy eensklaps by ’n grondpaadjie afdraai en tot by ’n ry kronkelende wilgers ry.
“Klim uit,” het hy beveel en die stokkie na sy ander kies verskuif, “dan wys ek jou iets.”
Sy het effens bedug agter hom aangeloop deur die lang gras tot onder die koepels van die klamgroen bome. Toe eers het sy die bosse riete gewaar en die blink weerkaatsing van damwater.
Kiewiet het omgedraai en sy vinger voor sy lippe gesit, haar aan haar arm saam met hom afgedruk sodat hulle hurkend deur die riete kon loer. Sy het dit nie gewaag om na hom te kyk nie, was net skerp bewus van sy warm, sterk vingers wat nog op haar voorarm gerus en skielik stywer geklem het toe daar ’n geritsel vanuit die riete opklink. ’n Paar skelrooi vinke het raserig uit die boonste fladdering van rietblare gevlieg en sy het liggies geskrik. Sy hand het paaiend oor haar arm gevryf en sy het geheel en al verstil onder die aanraking. Maar voordat haar gedagtes aan die roer kon kom daaroor, was daar weer die skuifelende geluid van iets wat skugter deur die riete beweeg.
Toe sy weer sien, stap vyf ligroos flaminke op hul dun pienk bene die vlak water voor hulle in. Die voëls het met ’n soort komieklike grasie deur die water gewaad, hul roosrooi weerkaatsings wiegend op die mosgroen vlak. Nou en dan het een sy lang nek in die water gesteek op soek na iets te ete. Dit was ’n volkome vredige toneel. ’n Soel, skemer oomblik vol aandbries en warm, klam geure. Iewers dieper in die wilgers het ’n ontydige sonbesie saggies begin sanik, byna soos bloed wat singend in ’n mens se ore suis. Sy het gevoel hoedat haar spiere onder sy hand ontspan en sy het suutjies afgekyk. Sterk, lang vingers wat haar stil hou sodat sy nie ’n skielike beweging maak en die rus saam met die voëls verwilder nie. Hy het ook skielik afgekyk, hul oë so naby mekaar dat sy haar eie, effens verwronge refleksie in syne kon sien en die soet framboosgeur van die lekkergoed op sy lippe kon ruik.
’n Kolgans het snaterend uit die riete gevlieg en toe Jessica haar asem verskrik insuig, het die flaminke met swaar vlerkslae uit die kalm water opgestyg. Een het hoog bo die oppervlak heserig gehonk-honk. Kiewiet het haar sonder seremonie saam met hom opgetrek en haastig begin terugstap motor toe. Toe hy die deur vir haar oophou, het hy onverwags gesê:
“Mooi, nè? Ons was gelukkig om hulle te sien. Die flaminke kom nie elke jaar nie en hulle broei nie dikwels nie. Ook net een enkele wit eier wat die mannetjie en die wyfie om die beurt uitbroei.”
“Dis baie interessant,” het sy gesê. “Dankie dat jy my kom wys het.” Al verstaan ek nie waarom jy juis het nie, het sy gedink.
Toe hy inklim, het hy in sy hempsak gevis en nog ’n suigstokkie na haar toe uitgehou. Sy het dit met ’n klein laggie geneem.
“Weet jou ma hoe baie lekkergoed jy eet?” het sy gespot.
“Ja,” het hy doodernstig geantwoord toe hulle weer met die grondpaadjie aanry teerpad toe. “Sy bepreek my heeldag daaroor. Ook omdat sy weet hoe selfsugtig ek is. Ek deel nie sommer my swiets nie!”
Sy het na sy profiel met die reguit neus en sterk ken gekyk en geproes van die lag. Dit was net nie moontlik om te glo dat dit Loek de Jager was nie. Hierdie Kiewiet in sy kakiekleurige oestydmondering, sy warboel van ’n swart kuif en harde baard, en sy skaamtelose passie vir kinderswiets is nie eens van dieselfde planeet as Loek nie.
Hy het ’n slurpgeluidjie gemaak soos wat hy die stropies van die rooi lekkergoed suig en toe kwaaierig na haar kant toe gekyk. “Wat lag jy, professor?”
“Omdat ek nie mooi weet met wie ek te doen het nie. Is dit nou Kiewiet of Loek de Jager wat skielik so vrygewig met sy lekkers is?”
Sy hande het om die stuurwiel verstyf en kwalik vyftig tree verder het hy langs die teerpad onder ’n verdwaalde bloekom stilgehou. Toe draai hy sy bolyf stywerig na haar toe en vir die eerste maal kon sy mooi Loek de Jager se koel blik in Kiewiet s’n sien glim.
“Luister, professor Theron, Loek de Jager is nooit vrygewig nie en Kiewiet is net soms gaaf. Moenie allerlei afleidinkies maak nie.”
Sy het die warm bloed na haar gesig voel stoot. Nee wat, het sy vies gedink, Kiewiet en Loek is ewe verwaand. Wat het ek dan verwag? Haar mondhoeke het skeefweg gelig, maar sy het hom vierkant in die oë gekyk.
“Ek beskik oor genoeg feite om gegronde afleidings te maak, meneer De Jager. Ek het genoeg van Kiewiet en Loek gesien om te weet dat albei sku is vir te veel aandag … Of dalk is ek verkeerd. Dalk smag hulle juis daarna?”
Dit was sy beurt om witkwaad te word. Hy het die taai suigstokkie op die paneelbord neergeplak en oomblikke lank was sy vol mond saamgepers.
“Jy is geregtig op jou opinie. Jessica, en ek op myne.”
Sy het in die swart oë gekyk en gesien dat die sweempie gemoedelikheid wat nog die middag tussen hulle wou ontkiem, weg was. En sy was skielik ook moeg vir enige speletjie. Sy kon nie voorgee dat dit nie saak gemaak het wat hy dink nie.
“Kiewiet,” het sy reguit geantwoord, “ek weet jy dink dat ek dit bloot gerieflik vind om saam met jou broer te kuier. En dis waar dat dit vir my baie lekker is hier op Populier. Maar dis net so waar dat ek Karel as ’n baie spesiale vriend beskou.”
“Hoe spesiaal?” wou hy meedoënloos weet.
“Iemand na wie ek my kan wend as ek hulp nodig het. Karel is ’n ware steunpilaar.”
“Hulp? Van watter aard?”
Sy het weer kwaad geword. Die woorde het kwetsend geklink al was sy stem sag.
“Dis persoonlik,” het sy gekners en nog kwater geword omdat sy toegelaat het dat die man haar omkrap. Tot haar ergernis het hy nader geleun en haar gesig stip betrag. Die donker wenkbroue het opeens saamgetrek en toe het hy skielik die motor aangeskakel. Hulle het in stilte terug Populier toe gery. Maar toe hy haar by die opstal aflaai, was dit kompleet asof daar nooit skerp woorde tussen hulle was nie.
“Onthou om jou warm aan te trek voordat jy na die holkransparty gaan. Ek sal jou en Ma kom oplaai. Adam bly liefs by Jansie en Karel gaan sommer direk van die kantoor af, want Septimus se plaas lê heel aan die ander kant van die dorp.”
“Die holkransparty! Mevrou, so iets het ek nog nie beleef nie;” beduie Jessica toe sy en mevrou Geyer die middag na haar terugkeer sit en tee drink voor die televisie. Sy kry heimlik lag toe sy sien hoedat die ou dame elke woord opslurp. So asof die kuiertyd by haar suster maar drogies was en sy smag na die sappigheid van die lewe.
“En jy sê julle jongklomp het dwarsdeur die nag daar bo in die bek van die grot gesit? En dit sonder om moeg te word?”
“Watwou!” lag Jessica. “Daar was nie tyd vir slaap nie, mevrou. Daar is heelnag skaap op spitte gebraai en ek het nog nooit so baie geëet en gelag in my bestaan nie!”
“Vertel, vertél,” eis sy met ’n soort verlange en Jessica slaan haar arms om haar knieë waar sy op die mat langs die koffietafeltjie sit. Dis opeens ongelooflik opwindend om daardie nag woord vir woord te herroep.
Die soel, soet berglug toe hulle onder in die kloof stilgehou het om met hul pakkasies slaapsakke en kosmandjies teen die steil struikbegroeide helling op te beur tot bo by die grot. Die los wolkies wat speels by die goudgeel maan verbygedrywe het. Die knetterende vure in die bek van die grot en die geur van braaiboud en uie. Sy wat aan tientalle gesigte, glimlaggend in die vuurlig, bekend gestel word. Anna wat die aand inlui met blikbekers vol yskoue vrugtepons. Karel wat later doodmoeg opdaag en hom langs haar op die slaapsak opkrul om ’n uiltjie te knip.
Sy vertel van Kiewiet se kampvuurgrappies wat hoe later hoe kwater geword het, van die manne se bulderende gelag in die stil, donker nag en die vroue se kamma geskokte gegiggel. Van die sorgelose pret om ’n hele nag lank in ’n hol krans fees te vier en van die ongelooflik plegtige stilte waarmee dieselfde pretmakers die eerste sonlig van die nuwe jaar ingewag het.
Bo die swart getande toppe van die anderkantste berge het dit roosgrys begin glim en daar was vakerige roeringe in die grot, koffieketels het begin fluit op die dieprooi kole. Een vir een het die kontreimense uit die bek gekom en stil bly staan en kyk na die koms van die splinternuwe jaar. Jessica het tussen Karel en Anna gestaan en sy het gemerk dat die mense begin hande vashou. Ook hare is vasgevat deur die vrou en die man langs haar en dit was asof haar asem in haar stil geword het. Alles wat so geheel nuut is, is aandoenlik, het sy gedink en haar oë effens geskreef teen die blinkrooi sekel van die son. En sy het bewus geword van iemand wat reg agter haar kom staan het, sy arms weerskante toe uitgestrek om sy broer en sy ma se skouers vas te vat. Sy het omgekyk en hy was so naby aan haar dat sy kenbaard teen haar slaap gerasper het. Hy het sy kop vinnig laat sak en sy mond het oor haar wang gevee. Toe het hy Karel ’n klappie op die skouer gegee en gebuk om sy ma te klapsoen.
“’n Gelukkige nuwe jaar vir julle!” het hy gesê en omgedraai om ’n paar meisies se gretige nuwejaarskusse te ontvang.
Maar dit vertel Jessica nie vir mevrou Geyer nie. Sy bly ook stil oor die paar ander dingetjies wat daardie nag gebeur het wat haar laat sien het waarom Kiewiet sy eie, eie mens is.
En miskien, dink sy, wil ek nie eens aan myself erken dat ek nou weet waarom Anna Malan haar oudste met ’n eiesoortige liefde liefhet nie. En ek wil nog minder wonder oor Loek de Jager. Hy is nie Kiewiet nie. Hom het ek nog nooit met ’n oog gesien nie. Dié dat ek met ’n skoon gewete nalaat om mevrou Geyer enigiets omtrent haar kassieheld te vertel.
“Dit klink asof jy ’n wonderlike tydjie beleef het, Jessica,” sê mevrou Geyer dromerig. “O, om darem jonk te wees – en die voorwerp van soveel bewondering!”
“So erg is dit nie,” lag Jessica en strek haar bene wat styf geword het van kruisbeen sit. “Die Malans is maar net gawe mense en ek en Karel is soos broer en suster.”
“Ja,” antwoord die vrou half teleurgesteld, “dit kon ek sien toe hy jou kom aflaai. Sommer so ’n ou pikkie op die wang! Maar het jy nie gesê hy het sulke oulike broers nie?”
Jessica huiwer ’n oomblik, glimlag toe net.
“Ja, Adam is ’n prokureur op die dorp en Kiewiet … wel, hy help ook maar daar op die plaas rond. Buitendien, Adam is getroud en Kiewiet het baie bewonderaars wat erg besitlik oor hom is. Hy is nogal ’n haan onder die henne, sou ek sê.”
“Nè? Klink vir my na die tipe wat ’n verstandige meisie liewer moet vermy.”
“Bepaald, ja,” beaam Jessica en sluk haar lag weg toe mevrou Geyer haar met speurende konsentrasie betrag. Dis sommer of die pret uit hul geselsie verdwyn, want sy weet wat die vrou gaan vra. Daarom skud sy haar kop, hou ’n afwerende hand op. “Moenie,” pleit sy. “Ek weet nie wat ek omtrent Daniël gaan doen nie.”
Mevrou Geyer se blik is sag-begrypend, maar sy sê ferm: “Jy sal mooi moet dink, my kind. Ek het jou mos gesê hy kom môreaand die een of ander tyd hier inloer. Hy sê dis dringend dat hy jou moet spreek.”
Jessica bly net swyend sit, leun toe vooroor om die klank harder te stel, want dis nuustyd. Sy loer skuinsweg na mevrou Geyer toe Loek de Jager met charismatiese erns begin lees. Sy wakker, blink blik kyk stip in die kamera, sy swart kuif is plat gekam en hy dra ’n byderwetse donker baadjie met ’n blou hemp en modieuse blommetjiesdas. Hy lyk asof hy ’n gesogte model uit die een of ander Europese modehuis kan wees. Mevrou Geyer sit in stomme verwondering. Jessica byt haar lip vas en voel die lag in haar opwel. As mevrou Geyer hom darem vol stof en kaf by die droogoond kon sien. Of as hy met sy dae oue Kiewietbaard bolwang aan ’n suigstokkie sit en slurp. En wat van die stout grappies om die kampvuur wat die ou manne laat kraai en die jonges laat brul het? ’n Oomblik lank moet sy veg teen die versoeking om mevrou Geyer dit alles te vertel net om te sien hoe sy slap word van stomme ongeloof.
Die voordeurklokkie skel en mevrou Geyer maak ’n handgebaartjie soontoe sonder om haar oë van Loek se lippe af te neem. Jessica staan half gedagteloos op en maak oop. Sy lig haar ken om die lang man onder die stoeplig beter te sien. Die breë ken en vriendelike mond, die lig gekromde patrisiërneus en geelblonde kuif. En die afgelope week sink weg tot in die droesem van haar gemoed. Sy vergeet van Kiewiet en hoor glad nie Loek se stem agter haar in die huis nie.
“Jess?” Sy sien die hartsbekende gesig afbuig na haar toe. “Jessica, dis ek. En ek weet ek is ontydig, maar ek moes net vanaand al kom …”
Dis die onsekerheid in die blou oë, die spanning in die vooroorgeboë skouers wat haar tot besinning bring. Dis of die skrik in haar koud word. Dis mos nie asof sy hom net gister laas gesien het nie. Nee, daar lê ’n lang, leë tyd tussen hulle.
“Kom binne, Daniël,” sê sy kalm.