Читать книгу Volmink - Hennie Aucamp - Страница 5
Twee stories oor sensuur
ОглавлениеJulle praat nou so van sensuur (sê oom Toon Lourens), maar al sensuur waarvan ek weet, het ek in die bediening leer ken. (Oom Toon was dikwels ouderling.) Van die rolprente en boeke waaroor julle mannetjies so warm raak, weet ek goddank niks nie. Ek lees my Bybel, my Kerkbode en my Farmer’s Weekly. Ek het wel ’n keer of twee na die toverlantaarn gaan kyk in die landbousaaltjie op Witkop, maar die affêring het kort-kort gebreek, en dit was die beste tye, want dan kon ’n man ’n pypie rook en gesels, voor die geflikker weer beginne. Soos veertjies voor jou oë, die hele tyd; soos die eerste donse van ’n sneeu. Ek is elke keer met net so ’n kop huis toe. (Niemand durf vra hoeveel smolletjies oom Toon gehad het nie, voor en na.)
Wat ek van sensuur gesien het, het my baie laat nadink. Oor die mens en sy beperktheid. En oor die onsienlike. (’n Lang pouse vir die stop van ’n pyp.) Wat skielik sienlik word.
Ek sal haar by haar bynaam noem, dan kom ek niemand te na nie: Hofkar. Dis nie ’n mooi naam nie, en dis jammer, want sy was ’n mooi vrou, veral destyds, met die sensuur. Ná die ding het sy skielik begin oud word, want dit vat aan jou, om so voor mens en God gedaag te word. Hofkar: oor sy so trots agter haar perde gesit het, of dit ’n koets of ’n ding is. Selfrespek is een ding, maar trots, asof jy na pypkaneel ruik, en ’n ander na …: nee, dit gee aanstoot. Seker dié dat hulle sê: eie roem stink.
Staan ek te lank stil by onwelriekende dinge vir julle fynlakenkêrels? Maar stank is nou eenmaal deel van die lewe; en dis deel van my storie.
Die hele gemeente het lekker gekry toe sy tot ’n val gekom het: en dít is stank. Om namens God te sê: nou raak iemand gestraf vir sy sonde.
Ek moet my storie verder terug loop haal. Hofkar was getroud met … nou noem hom Jan, ’n bywoner by ou Rooie. Hy het op die land inmekaargesak, agter die ploeg. ’n Goeie einde vir ’n boer, sou ek reken, so in die nat aarde in: die eerste saad van die komende oes. Of dalk het die dominee dit gesê, by die begrafnis. Ewentwil, Jan is dood, en Hofkar moes dorp toe trek. Sommer gou ook; net na die begrafnis. Hulle sê ou Rooie se vrou het agter die ding gesit; ek kan dit nie beaam nie. Hofkar het min op straat verskyn, en altyd in swart geklee; het naaldwerk ingevat, want geld was maar min. Rooie het in die begin gesorg: ’n slagding, melk, botter. Maar later niks. Toe die stories begin loop het. Onder daardie swart rok, het die vrouens alwetend gesê. Dit, op sigselwers, is nie snaaks nie; baie wedu’s gee geboorte. Maar nie tien maande na haar man se dood nie.
Natuurlik moes die kerk ingryp. Nie oor hy wil nie. Oor hy moet. Wie is die vader van die kind, wou die Kerkraad weet. En ek was een wat dié vraag gevra het. “Jan,” het sy gesê, regop soos altyd, haar swart rok effens blinkerig van baie dra, maar netjies. Oor en oor dié één antwoord: “Jan.” “Maar suster,” het Dominee ongemaklik gesê, “die natuur het sy wette. Dis tog onmoontlik.” “Niks is onmoontlik voor God nie,” het Hofkar gesê en Dominee aangekyk of hy ’n skoolseun is. “Lees maar u Bybel.” Dis toe dat Dominee begin kwaad word het. “Wat u nou daar sê, suster, grens aan heiligskennis. U wil tog nie beweer nie …” Soos die dag van gister hoor ek haar sê: “Sy was ook ’n eenvoudige vrou, soos ek, een van die volk.” Verdere redenasie was nutteloos. Iemand het gepraat van ’n gestig. Maar op watter grond? Owerigens was sy so normaal soos ek en jy, net trotser.
Die saak het verloop soos die kerkwet dit gebied. Sy is die heilige Nagmaal verbied. Vir hoe lank nou? Ek kan nie onthou nie. Maar wat ek duidelik onthou, is hoe sy alleen voor die preekstoel gestaan het om haar kind te doop. Trots. En: asof sy nie alleen is nie. Sy het na die niks langs haar gekyk, en haar kind – ’n eersteling, het ek vergeet om te sê – na die niks uitgehou. En opgekyk na die niks. En aan die pragtige tjalie om die kind gevat, asof sy dit aan dié niks wou wys. Volgens die vrouens ’n volmaakte stukkie werk; fyn soos penswol, hierdie tjalie; ’n erfstuk.
Sy het haar hart verhard, het die mense gesê. En ek is ook een – mag God my die voorbarigheid vergewe – wat so gepraat het.
Die volgende dag het die hele dorp haar deur die hoofstraat na die fotograaf sien stap. Daardie tyd had ons nog ’n fotograaf, én ’n barbier, én ’n bank wat elke dag oop is. Sy had die kind by haar, met die lang tjalie wat amper tot op die grond hang.
En dis die fotograaf, ’n klein Engelsman, maar baie oorlams, wat die openbaring gebring het. Hy het in die straat in afgehardloop pastorie toe, heeltemal buite weste, soos ’n springhaas wat vir weerlig geskrik het. En sonder om te klop by Dominee se studeerkamer ingeval, en die foto vir hom gewys, een nog van daardie bruinerige soort. Langs Hofkar en haar baba het gestaan, sy arm om haar lyf geslaan, oorlede Jan.
En dit is wat ek van sensuur geleer het: die laaste oordeel berus by God. (Oom Toon het sy pyp teen sy skoensool uitgeklop; toe koelbloedig oorgehaal, soos ’n gewoontemisdadiger, en reg in die vieruurtjiebos langs die stoep gespoeg. Deur die oop venster het hy in die skemer ingewande van die huis ingeskree: “Koffie-e-e!”)
Die ander voorbeeld (het oom Toon Lourens ná die koffie gesê) het hom in ’n ander distrik, ver hiervandaan, afgespeel. Een van julle hier was al op die bepaalde plaas, want hy’s nou glo histories, maar ek doen ’n beroep op hom om nie my storie aan te gee nie, want daar’s oorlewendes.
Ek ken die plek; dis waar. Was eenmaal daar op ’n studietoer. ’n Regte maanligplek. Bedags is dit bar, want die werf is kaal; die lig verblindend op die wit mure van die strak verdieping en die lang rye buitegeboue wat die woonhuis flank. Net ’n paar bloekombome, maar buitekant die vierkant; verpotte bome, windskeef; en met ’n enkele verdorde tak. ’n Duineplaas. As die wind reg stoot, kan jy die see hoor en ruik. Maar met volmaan, soos ek hom gesien het, is hierdie werf ’n betowerde plek; die wit nie te straf vir jou oë nie, die skaduwees blou. … en in die woonhuis het destyds gewoon (vertel oom Toon verder) ’n weduwee en haar vier kindertjies; almal jonk, kort opmekaar. Die weduwee was ’n prag van ’n mens, en nog minlik daarby. Ek sal haar Mooi Annie noem. Haar man het haar eersteklas nagelaat: die duineplaas, en nog twee ander, dieper in die distrik in, almal onbelas; en spanne kontant in die bank. Maar daar was ’n stipulasie in sy testament wat ek reken onmenslik was: trou Annie ooit weer, verbeur haar kinders hul ganse erfenis.
Natuurlik kon sy nie alleen die boerdery behartig nie. ’n Knap jong man wat uitgeboer het weens omstandighede het by haar kom werk as voorman. Wynand, sal ons hom maar noem. En ook hy was skoon van gelaat, soos die Bybel van Dawid sê. Sulke seeblou oë wat reguit in joune kyk. Sienersoë.
Op ’n manier het hy hom soos ’n kneg gedra. Hy wou nie aansit by die tafel nie; sy kos is na sy kamer in een van die buitegeboue gestuur. Wanneer hy in haar kantoor was, moes sy hom amper gebied om te sit: ek was ’n keer by. En daar het hulle die werk van die dag of die week bespreek. Sy was ’n wakker en praktiese vrou, en hy was ’n verstandige boer, sodat hulle soos twee mans met mekaar kon gesels.
Die kinders was gek na Wynand, en het hom in sy buiteplek besoek. Maak nie saak hoe Annie berispe nie; hulle was nie weg te kry van Wynand nie.
En die hele tyd het hy haar “Mevrou” genoem; en sy het hom “Meneer” genoem. Uit respekte, sekerlik; maar ook om hul plekke vir hulself te bepaal: sy, die werkgewer; hy, die onderhorige.
Ná ’n huisbesoek daar – dit was my eerste ouderlingskap – sê ek op pad dorp toe vir die jong predikantjie: “Ek weet nie so mooi nie; daar kan moeilikheid kom.” En hy, ewe verbaas: “Wat bedoel broeder dan nou?” Wat weet sulke snuiters nou ook van verbode vrugte? Hulle trou as hulle nat agter die ore is, en vroutjie moet opsnork terwyl hulle studeer, of sy ouers of die skoonfamilie moet help betaal. Hy het niks gemerk nie, die predikantjie; niks van die onstuimigheid in twee menseharte nie.
Op ’n keer sien ek Annie in die dorpskafee. Net toe kom Wynand binne, hoed in die hand. “Ek is gereed, Mevrou, ons kan gaan,” sê hy toe; maar hulle kyk mekaar nie in die oë nie. En dis teen hulle aard, want albei is reguit mense. En die benoudheid slaan toe om my hart. Hulle ly, dink ek by myself; hulle ly vreeslik, hierdie twee mense. Hoe lank nog?
En ek sien daardie plaashuis laat in die nag, die gerofkaste mure soos karringmelk; en in haar venster brand ’n lig en in sy venster brand ’n lig.
Ook ek kan die toneel sien: die maanlig; die skaduwees agter die ruite. Tussen hulle, soos die ewigheid self, die kaal werf; en albei met die skrik in hul harte. Die wind dreun, en ook die see. En die bloekoms glinster in die maanlig. Dalk het een ’n venster opgeskuif, om die see te ruik. Of beter gesien te kan word.
Dit is Annie wat ’n brief aan die Kerkraad geskryf het. Dat sy met die hele Kerkraad wil praat. Vrou-alleen het sy daar in die konsistorie gestaan, en die storie vertel van die testament. “Ek het my kinders lief, en sal nooit droom om hul erfenis aan te raak nie. En ek het Wynand lief.” Die dominee het iets van owerspel gesê, en toe: “Vergeet hom.” En Annie het met jammerte na hom gekyk en gesê: “’n Mens het sy natuur, Dominee. Ek het klaar gekies. Julle kan een soort raad gee; julle wette skryf dit voor. Maar ek, Annie – en hier sê sy haar van – ek kan dié raad nie aanvaar nie. Ek gaan saamleef met die man wat ek liefhet, en wat vir my kinders ’n vader is. En as my kinders verstand van dié dinge begin kry, sal ons alles aan hulle verduidelik; en hulle sal ons vergewe, wat meer is as wat ons van nou af aan van die mense kan verwag.” En toe roep sy Wynand binne, en ook hy staan daar voor ons, met sy blou sienersoë, en hulle kyk ons aan of ons die skuldiges is.
Wat ek self gedink het, weet ek nou eers. ’n Boer het sy grond lief – en ’n vrou kan ook ’n boer wees – en alle groei is heilig.