Читать книгу Volmink - Hennie Aucamp - Страница 6
Die swart hings
ОглавлениеAdèle sorg self vir die toebroodjies: dat elke sny fyn genoeg is. Die brood, die salm, die komkommer. Ingevoerde salm, van Skotland af. In die lig van hierdie land wat reeds teen elfuur hard is, kan sy elke besonderheid in die weefsel sien, half pienk, half oranje, soos ’n vrug van vlees. Haar vingers sluit om ’n sny salm. Sy druk dit fyn, vee daarmee oor haar lippe, proe die sout, en begin huil.
“Wag, nooi,” sê die bruin vrou Klara sag, “ek sal klaarmaak. Dis tyd dat nooi gaan aantrek.”
Eers het die “nooi”-sêery haar geïrriteer: dit het geklink of die bediendes met haar spot. Maar Madam wou sy ook nie wees nie; nie op korttermynkontrak nie. En die sangerige “nooi” het vir haar aanneemlik geword, want dis half neutraal, soos haar staat in die huishouding: meer gas as vrou.
Halfpad teen die trap uit onthou sy iets. “Klara, het Jakob al …?” Sy vergeet die woord, maar Klara verstaan. “Netnou al verby, nooi.”
Die sambrele vir die balkon. Die balkon van die buitegebou wat op die kraal en die stalle uitkyk. En agter die staldeur is die hings en die merries spuls; jy weet van hulle, al is hulle stil.
Prins bepaal die plaas. Wanneer daar geëet word. En of daar geslaap gaan word. En ook in haar slaap is die swart perd aanwesig. Hy runnik tot diep in haar vogtige drome.
Ek moet minder grimeer, dink Adèle, of heeltemal ophou daarmee; klei en lanfer word, soos Griekse vroutjies. Maar sy gaan voort, want eerlikheid is nie vandag haar krag nie. Wanneer sy die stiffie neerlê, lyk sy strak en gemesseld, soos ’n transvestiet.
Sy druk haar gesig in die wasbak; spoel al die verf af. Ek het my hare, my tande, my houding; en dit moet genoeg wees, ook vir hom.
Hy stoot die deur oop onmiddellik na hy geklop het. Dis ’n demonstrasie: elke ding op die plaas moet weet hy is besitting. “Die mense is al hier,” sê hy bruusk, maar nie kwaad nie: hy kan bekostig om geduldig te wees.
“Het jy gereël met die redery?”
“Wag nou,” sê hy, en tik met sy peits teen sy blink kamas. “Dit kan wag.”
Sy staan met haar rug na hom toe, maar moet tog vra dat hy die knopies van haar rok vasmaak. Dis ’n lugtige rok, wolkerig, lenteblou; net die snit verhoed dat dit te jonk raak. Sy voel sy asem in haar nek; die volgende oomblik is sy hande op haar borste.
“Nee,” sê sy skril. Maar haar lyf is gewillig.
Hy lag, en loop venster toe, waar hy na die stal se kant uitkyk. “Die kontrak het nog nie verstryk nie,” sê hy plaerig. “Kom, jou gaste wag.”
Leon, die vrygesel, is daar; die Van Zyls, die Benades en die Grovés. Tia van Zyl het ’n niggie saamgebring, maar sy stel Marco en Adèle gou gerus: “Skokvas, my hartjies; sy reis gereeld oorsee.”
“Jy lyk mooi,” sê Leon spontaan. Adèle vat selfbewus aan haar gesig. Dit voel kaal sonder grimering.
Die optog stap oor die werf na die skuur toe. Die vrouens, almal te geil uitgedy, behalwe Adèle en die niggie uit Durban, het aangetrek soos vir ’n tuinparty; wyerandhoede en lang handskoene. Die elektriese lig van die somerdag slaan van die werf af op en word deur die gekalkte buitegeboue weerkaats. Dit word ’n aanslag wat die oë laat traan en dié wat het, soek na hul sonbrille. Die sonbrille is in elk geval wenslik, vir die oomblikke op die balkon. Jy wil jou emosie geniet, maar afgeskerm, soos ’n sweiser by sy vlam.
In die halfdonker van die skuur moet die brille weer afgehaal word; die trap na die balkon is steil en vra om konsentrasie, en ook om onderskraging, wat die mans geredelik aanbied, en die vrouens met wellustige gilletjies erken.
Leon sorg dat hy agter Adèle is. Hy druk sy wang ’n oomblik lank teen haar dy.
“Is dit waar?” fluister hy angsvallig.
Sy antwoord hom nie.
Op die balkon staan alles gereed: gedekte tafels, met drank in aangeslaande houers; broodjies met salm en kaviaar. Die wit arena onder hulle sidder van son en weerkaatste lig.
Die niggie uit Durban wil haar ervaring lug, hoofsaaklik om Leon se ontwil. “Die oomblik vóór orgasme,” sê sy skrams agter ’n handskoen, “is die eintlike kleine dood.”
Die mans is skielik skaam, die vrouens half kwaad: die geleentheid het nie ’n priesteres nodig nie, en allermins as sy ’n vreemdeling is.
Mevrou Benade wil ’n wending aan die gesprek gee, maar sê ongelukkig die verkeerde ding:
“En nou gaan jy ons verlaat, Adèle?”
Adèle lag gespanne, terwyl Marco uitdrukkingloos op die kraal afkyk.
“Ons het so eie met jou geword. Jy praat ons taal …” sukkel mevrou Benade voort.
Marco staan op, sy hand op pad na sy broeksak.
“Is die merries behoorlik opgerui?” vra Grové.
“My óú koggelhings, Bismarck. Oud maar nog nie koud nie.”
“Arme bôgger,” lag Benade, “kry net ’n blik op die beloofde land.”
Mevrou Benade voel dat ’n sekere dekorum van pas is: “Pappie, Pappie …”
Twee, drie plaaswerkers loer oor onderdeure van stalle; kyk stip na Marco. Hy trek ’n wit sakdoek uit sy sak; skud dit soos ’n vlag in die skerp lig.
Twee staldeure op die arena gaan oop; ’n skimmelmerrie kom uit, met ’n bietjie aanporring; maar die koolswart hings, Prins, sy flanke blink soos obsidiaan, storm die wit dag tegemoet.
’n Verkyker doen die ronde. Vergete is die drank, die toebroodjies.
Daar is vrees in die merrie se houding, naas afwagting; woede in die hings s’n. Sy ore is platgetrek. Sy stert en harde maanhare lyk blou. Wanneer hy sy stert ritsel, klink dit soos biesies teen mekaar.
Omsirkeling; en dan die oorgawe, voor iemand bedag is daarop, selfs nie die hings nie. Die verkyker wissel rukkerig van hand.
Iets kosmies voltrek hom; ruk ’n gat in die dag. Die primitiewe oomblik is gou verby; maar sy beeld sal náspook, ’n kwellende herinnering word: die steiering op breekdun enkels; die stoot; die golwing van magtige boude.
’n Sjampanjeprop skiet: einde van die eerste ronde.
Ná vier merries en heelwat meer drankies, begin die gaste slordig word. Mevrou Grové stort drank op haar rok, en probeer die vlek met ’n sneesdoekie verwyder.
“Kom,” sê Adèle, “laat ons dit by die huis gaan uithaal.”
En hiermee is die magiese uur verby tot ’n volgende jaar dié tyd toe.
Leon hou sy gasvrou terug by die skuur.
“Ek móét met jou praat.”
“Later?”
“Nóú. Wat gaan jy doen as jy terug is in Londen? Tog nie weer die klub nie?”
Adèle lag te hard. “Dit kán nie. Ná vyf jaar is my markwaarde …”
“Nee, nee,” keer Leon, “vir my …”
Sy lig ’n hand. “Jou oordeel sê niks nie. Jy is betrokke. Nee, ek gaan ’n blomwinkel begin; hy gaan my finansier.”
“Ek kan jou al sien, melancholies tussen bleek rose. Bly; jy het gewoond geraak aan son.”
“Wáár? Wáár moet ek bly?”
“By my.”
“Jy is vir my ’n broer. Goed, ek deins nie terug vir bloedskande nie. Nogtans.”
“Wees redelik. Aanvaar die bereikbare.”
“Ek het hóm lief. O.K., dis onvergeeflik. Sentimenteel. En ’n klad op my professionalisme …”
“Jy en jou professie: ek kon die twee nog nooit by mekaar uitbring nie. ’n Beskaafde mens …”
Adèle probeer Leon se moralisasie onderskep. “Les grandes horisontales,” murmel sy. En harder: “Die rol van die minnares word onderskat. Daar was tye dat sy die kultuur gedra het …”
Leon is nie lus vir opvoeding of woordspelings nie. “Bly,” pleit hy, “jy het iets in ons lewens gebring.”
“Glamour,” sê Adèle skielik bitter, “the glamour of depravity.”
In die jongste tyd slaan sy al hoe meer oor na Engels. Sy het Afrikaans geleer omdat sy die bruinmense beter wou verstaan, maar toe haar filantropiese sentimente begin afneem het – “As hulle net nie so slordig wou teel nie” – het die liefde vir Afrikaans gebly; ’n soort speelding, Afrikaans, en iets wat haar ’n groter houvas op hom kon gee.
Voor Leon nog iets kan sê, vat sy hom aan die arm. “Kom, die bevlekte mevrou Grové wag.”
In der waarheid is dit net die mans wat voor die huis staan en wag; die vrouens is almal badkamers toe.
Dik Koot Benade vryf sy hande. “’n Man se aptyt is behoorlik gewek, boere,” sê hy, “nou gaan ons weglê voor.”
“En skuinslê daarna,” gaap Grové.
“Maar nie alleen nie,” troef Benade, en knipoog na Leon se kant.
Wanneer die laaste gaste vertrek het – ’n bedonnerde Leon met die niggie uit Natal aan sy arm – stap Marco na die stalle toe.
“Wag,” roep Adèle hom agterna. En wanneer sy by hom kom, is haar stem hoog, omdat sy gedraf het, en ook oor sy woedend is oor sy vermetele houding. “Het jy die agentskap gebel?”
“Wanneer moes ek verdomp tyd gehad het? Dit kan wag tot die laaste toe: ek het my kontakte.”
“Dan gaan ék dit doen, en nóú. Want ek wil afrond en groet.”
“Dan het jy tóg wortelgeskiet?” vra hy met ’n glimlag, en stap flink weg na die stalle toe waar hy tot donker bly.
Sy bly bo wanneer hy uiteindelik binnekom; selfs wanneer die etensklokkie lui.
Ná ’n rukkie kom Klara met ’n skinkbord die kamer binne.
“Nee, nee, ek wil niks hê nie. My kop …”
“Dalk later,” sê Klara prakties. “Ek het tee in ’n fles gegooi, en dan ’n paar toebroodjies. Daar het so baie oorgebly.”
By die deur aarsel Klara. “Ek wens die nooi wil bly,” sê sy vinnig voor sy die deur agter haar toetrek.
Adèle sit strak voor haar en uitkyk, haar dye styf teenmekaar.
Ek het toegelaat dat ek hom liefkry. Hy het dié liefde aangemoedig. Ek haat hom.
Sy trek ’n langbroek aan, en steek ’n rewolwer by die gordel in. Om die knop van die rewolwer te verdoesel, trek sy ’n lomp trui aan.
Hy is nie in sy kamer nie. Vanuit die tuin kyk sy na die vierkant lig van sy studeerkamer. Hy kyk oor sy lessenaar vol papiere na buite: sou hy haar gehoor het?
Sy sluip, sover dit moontlik is, met skaduwees langs na die stal.
Die hings, altyd gespanne, ruk en runnik. “Prins,” paai en pleit sy, “saggies nou, Prins.” Sy maak die bodeur van sy stal toe, bang dat iemand iets sal hoor. Dis nou baie donker in die stal; en net sy en die perd. As sy nader sou beweeg; die rewolwer teen sy slaap druk? Minute gaan verby; tien, twintig. Sy voel bewerig en leun teen ’n baal lusern. Lusern; ammoniak. Dit word die reuke van die donker. Dit prikkel haar; sy wil urineer.
Die bodeur van die stal word oopgestoot; maanlig, en onmiddellik hierna die fel wit van elektriese lig.
“Gee hier.”
Hy is glad nie bang nie; staan breed in die deur, sy hemp oop oor sy harige bors. Hy ken sy merries.
Sy druk die rewolwer in sy broeksak; áf, áf tot waar sy lewe voel. En huil teen sy sweterige bors. Proe die sout op sy vel.
“Ons gaan jou kontrak hernieu.”
Sy kyk op.
“In die kerk,” sê hy. “Jy bly.”
Hulle gaan nie terug huis toe nie, maar klim met die leertjie op na die solder waar Prins se kooigoed is, en stoot die hooi reg. In die kort somernag hoor en ruik hulle hom, en sien vonke onder sy hoewe uit spat wanneer hy op die rivierklippe stommel of kap.