Читать книгу 'n Week van passie - Hetta Kotze - Страница 3
1
Оглавление“Môre, direkteur.”
Jon van Jaarsveld beantwoord die ontvangsdame se groet en bekyk voorportaal van Môreson Kliniek krities in die verbygaan. Die vloere blink en die blomme in die houer op die toonbank is vars.
Die ander ontvangsdame kyk ook op van haar rekenaar en glimlag vir hom. Haar kliënt hys hom orent en hou sy hand na Jon uit.
“Magtig, JD, ek moes nou twee maal kyk om jou agter daardie pak klere te herken.”
“Gert! En nou?” Jon skud die groot man se hand en kyk besorg na hom. “Dit lyk of jy pyn het, maat.”
“Ja,” kreun Gert, “dis my rug. Die onderste werwels pla wanneer ons muurbal speel. Ek het eergister iets bo uit ’n kas gehaal en skeef getrap met die afklim. Ek kan nie leef van die pyn nie. Dokter Wilsnagh sê ’n operasie is al opsie. Hier kom Emma ook nou, sy het my ID in die motor gaan haal.”
“Dis ’n verligting om ’n bekende gesig hier te sien, JD,” sê Emma Beetge en stoot die identiteitsdokument oor die toonbank na die ontvangsdame toe.
Kommer lê vlak in haar oë toe sy na Gert draai. Sy lê haar hand beskermend op die groot man se arm. “Ek hou al so lank aan dat hy na daai rug moet laat kyk, maar jy weet mos hoe hardkoppig hy is.”
“Hy is in veilige hande hier,” stel Jon haar gerus. “Sterkte, Gert. Ek sal later weer by jou uitkom.”
Jon kyk op sy polshorlosie toe hy buite sig is. Amper tyd vir sy vergadering, as die hyser nou net dadelik sal kom … Daar is nie vanoggend tyd om met die brandtrap op te draf nie. Hý het die boete vir laatkommers ingestel en sy bestuurspan sal hom dit laat ontgeld as hy laat daar instap.
Die hyser skuif oop toe hy daar kom en hy wag hoflik dat die besoekers en groetende verpleegpersoneel uitsyfer, voor hy binnestap en die knoppie vir die vyfde vloer druk.
Hy is moeg, dink hy toe die deur begin toeskuif. Sielsmoeg. Fisiek skort daar niks, maar dis asof niks hom meer bevredig nie. Daar is geen passie meer in sy lewe oor nie. Nie vir sy knap huishoudster se vyfstermaaltye nie, nie vir die verhoudings met die verskeie aantreklike metgeselle in sy lewe nie, nie eens vir die sukses van die kliniek en die winste wat Môreson die afgelope jaar toon nie.
En dis vir hom die vreemdste. Die sukses het nie vanself gekom nie, maar deur baie harde werk van sy kant af. Die kliniek was sy babatjie en hy het dit tot wasdom help lei.
Wasdom! Hy glimlag skeef. As hy na die sakelys vir vanoggend se vergadering kyk, lyk dit eerder asof Môreson nog ’n tiener is, soos sy wispelturige dogter. Tog is dit wat hom nog altyd geprikkel het: die verskeidenheid.
Hy pers sy lippe saam. Die verskil is net dat hy die kliniekuitdagings met gemak kan hanteer. Wat Taryn betref …
Hy frons toe die hyser tot stilstand ruk en die deur weer oopskuif. Iemand moes dit dringend ontbied het.
’n Jong vrou kom binne en leun verby hom om die knoppie vir die vierde vloer te druk. Die geur van seep en suurlemoenblare omvou hom vir ’n oomblik voordat sy terugtree. Groot groenbruin oë vee koel oor hom en sak dan na die oop lêer in haar hande. Sy is in hospitaaldrag geklee: ’n donkerblou los broek met ’n ligblou katoenhemp. Die lang wit baadjie bo-oor en die stetoskoop om haar nek sê dat sy een van die dokters moet wees.
Sy moet nuut wees, dink hy. Hy het haar beslis nog nie tevore by Môreson opgemerk nie. Hy kan ook nie onthou dat sy mediese superintendent iets van ’n nuwe intern gesê het nie.
Hy roer sy skouers ongeduldig. Dis nog iets wat hom irriteer, nes sy dertienjarige tienerdogter se buierigheid. Hy het baie meer kontak met die personeel gehad toe hy mediese superintendent was. Die hoëvlak-interaksie met kollegas het hom digby die intensiteit van teaterdiens gehou, na aan die hartklop van die sale, waarheen pasiënte kom om te herstel, en soms om te sterf. Dit het die geskerts, die kameraderie van sy jare as sjirurg – die beste jare van sy lewe, toe hy en Mariska dikwels saam geopereer het – naby gehou.
Die sale is vandag besig en die hyser stop op elke vloer. Ook glad nie na die doktertjie se sin nie, sien Jon geamuseerd. Sy het die lêer al by die tweede vloer toegeklap en tik nou ongeduldig met haar middelvinger daarteen.
Die engelgesiggie verraai niks. Sy dra haar dik, okkerneutbruin hare kort gesny, weggekam van haar gesig af en argeloos agter haar ore ingevee. Weerbarstige krulle in haar nek rebelleer teen die totale beheer. Haar gesig is ovaalvormig, met ’n lieflike vel, sag en glad. Soos Taryn se vel – wat sy nie lank gaan behou as sy aanhou rook nie.
Die dokter vee haar hare weer agter haar oor in en hy sien dat sy ’n ring aan haar ringvinger het. By die vierde vloer stap sy uit en verdwyn in die gang af. Die loshangende klere kan nie die bewegings van haar soepel liggaam verdoesel nie.
Jon grinnik toe hy vorentoe leun om die knoppie te druk wat die hyserdeur vinniger sal laat toegaan. Daar kan nie veel met hom verkeerd wees as hy darem nog ’n mooi vroumens kan waardeer nie.
Op die bestuurskantorevlak stap hy dankbaar uit na sy kantoor toe. Net gou sy goed bymekaarkry en dan konferensiesaal toe. ’n Koppie sterk koffie sal lekker smaak ná die drama by die huis vanoggend.
Wilmari Neveling adem die geur van die hospitaal diep in toe sy op die vierde vloer uitstap. Vandat sy ’n dogtertjie was, het die hospitaalmilieu haar bekoor. Sy huiwer ’n oomblik voor sy die onkologie-afdeling binnegaan. Toe het sy nog baie drome gedroom, maar as volwassene moes sy die harde realiteit van die lewe in die gesig staar.
Juis dit wat haar grootste smart was, het nou haar grootste uitdaging geword, mymer sy. Sy maak die lêer oop om die kamernommer na te gaan en stoot dan die saaldeure oop.
Stafverpleegster Tiyika Mabaso staan op toe sy by die saalontvangs kom.
“Môre, dokter. Suster Viljoen sal nou by jou wees,” maak sy verskoning. “Sy gesels net met die familie van die pasiënt in kamer vyf.”
“Dis in orde,” knik Wilmari. “Ek is eintlik hier om Bettie Fryer te sien. Sy is mos in kamer drie?”
Tiyika knik. “Ek stap saam met jou.”
Daar is vier beddens in die kamer waar die agtjarige Bettie Fryer is. Die ander drie vrouepasiënte lê en lees of slaap, maar Bettie sit kiertsregop in haar bed met ’n langhaarpop en speel. Sy het ’n wit nagrokkie aan en ’n wit haarband in haar netjies gekamde hare. Op die kassie langs die bed staan haar ontbyt nog onaangeraak.
“Haar ma was die hele nag by haar,” sê Tiyika onderlangs. “Die pa werk nagskof. Hy sal seker netnou hier wees. Hulle maak beurte.”
Wilmari haal die lêer aan die onderpunt van die bed uit die rakkie. “Môre,” glimlag sy vir die kind. “Jy lyk so besig met daardie pop, is sy ook siek?”
Groot bruin oë in ’n bleek gesiggie word op Wilmari gerig. “Nee. My ma het haar gisteraand vir my gegee. Gaan jy weer ’n naald in my arm steek?”
Wilmari skud haar kop terwyl sy deur die lêer blaai. “Dis nie nodig nie. Hulle het dit gedoen sodat ons kon sien wat fout is met jou, nou weet ons mos. Ons gaan probeer om jou weer gesond te maak. Nie net ek nie, maar ’n hele klomp van ons. Ons noem dit ’n mediese span.”
Die dogtertjie kyk weg en trek aan haar pop se hare. Toe kyk sy op en vra met die direktheid van ’n kind: “Gaan ek weer gesond word? My mamma huil baie.”
Tiyika draai weg en begin die bed langsaan regtrek. Wilmari knik stadig. “Ek dink so. Onthou dat ons altyd slimmer word, en beter medisyne kry.”
Die kind kyk haar stip aan en knik dan tevrede. “Ek glo in Jesus,” sê sy.
Wilmari sluk en lig haar stetoskoop van haar nek. “Kom ons luister ’n bietjie hoe klop daardie hart van jou vanoggend.”
Martha Viljoen, die eenheidsbestuurder, loer ’n rukkie later om die deur. “Môre, Wilmari. Ek sal nog so tien minute in my kantoor wees, dan moet ek weer weg vir ’n vergadering.”
Wilmari knik en laat die stetoskoop sak. “Ek is nou by jou.”
Sy glimlag vir Bettie. “Ek sien jou môre weer. Jy moet jou kos probeer eet, sodat jy sterk kan word om teen die siektekieme te baklei.”
Bettie kyk halfhartig na die skinkbord. “Ek sal probeer as my pappa kom. Hy maak soos ’n trein dat ek kan eet.”
Martha se blou oë verhelder toe Wilmari by haar kantoor instap. Haar blondgetinte hare is netjies versorg, en dis net die plooie om haar oë en mond wat verraai dat sy al aan die verkeerde kant van vyftig is.
Sy staan op en druk Wilmari styf teen haar vas. “Dit was te lank, kind. Jy lyk nog net so pragtig soos altyd. Hoe gaan dit met Bennie en jou ma-hulle?”
“Bennie is deesdae wildbewaarder by die Impunzi-natuurreservaat en is baie gelukkig daar,” sê Wilmari toe sy oorkant Martha gaan sit. “My ma is steeds in Londen, en my pa kry in Zimbabwe swaar saam met die plaaslike mense. Hy sê dit gaan goed. Die kerke probeer maar voorrade deurstuur soos hulle kan.”
Martha sug. “Ja, dinge lyk maar sleg in ons buurland. Ek en Lappies gaan ook maar aan met die lewe. Partymaal voel dit of Rheeder enige oomblik weer by die huis kan instap.” Sy glimlag effens. “Ons kon dit nog nie oor ons hart kry om die kamer met al sy navorsing en monsters in weg te maak nie.”
Wilmari trek haar vinger oor die punt van haar lêer. “Ek mis hom self nog baie. Hy was so lewenslustig. Dit was vir hom die swaarste, dink ek, aan die einde, dat hy nie krag gehad het vir enigiets nie. Bennie het gesê hy sal help wanneer julle reg is vir die kamer. Daar is baie van die goed wat hulle in die natuuruitstalling en lesings by die reservaat kan gebruik. Hy het ook met ’n dosent by die universiteit gepraat en hulle stel belang in items vir hulle uitstalling.”
“Dankie.” Martha kyk ingedagte na haar. “En nou werk ek en jy saam in die onkologie-afdeling?”
“Twee soldate in dieselfde afdeling teen ’n gemeenskaplike vyand,” stem Wilmari saam.
“Jou tyd by die navorsingseenheid is amper voltooi, nè? Nog net een jaar. Waarmee is julle nou besig?”
“Ek werk hierdie jaar direk onder professor Tayban,” sê Wilmari. “Ons span fokus op kankerepidemiologie.” Sy staan op. “Jy’s haastig, ek sal jou ’n ander dag meer daarvan vertel. Ek wil darem net sê dat dit vir my ’n voorreg is om saam met jou hier te kan werk, Martha. Môreson Kliniek is bekend vir sy uitnemendheid, op alle gebiede.”
“Daarvoor kan jy JD bedank,” sê Martha. “Dokter Jonatan De Klerk van Jaarsveld, ons direkteur. Hy hou ons almal op ons tone. Perfeksie is sy leuse.”
Sy stap saam met Wilmari in die gang uit. “Sal jy ’n rukkie vir meneer Fryer kan wag? Hy het netnou geskakel om te sê hy is op pad. Hy wil baie graag met jou oor Bettie gesels.”
Wilmari knik. “Miskien kan ek dan sommer van die ander pasiënte ook besoek. Ek het vorderingsverslae by die bestralingsafdeling gekry. Ek sal met verpleegster Mabaso reël.”
“Ek moet gaan,” sê Martha haastig. “Kom eet by ons die naweek, dan gesels ons lekker. Lappies verlang net so na jou.”
Toe Jon die konferensiesaal binnestap, wag sy afdelingshoofde reeds daar.
“Môre,” groet hy en pyl op die koffiemasjien af. “En dié tertjies?”
Salomien Bruwer, die bemarkingsbestuurder, kyk op van die papiere wat sy voor haar orden. “Ek het bestel. Dis nog lank voor middagete.”
“Eintlik probeer ek minder eet.” Jon laai ten spyte van sy protes twee tertjies in sy bord en gaan sit.
“Moenie ondankbaar wees nie,” berispe Peet Brink, die operasionele bestuurder. “Ons gaan die energie nodig hê, het jy die agenda gesien? Salomien sê daar is boonop ’n gas.”
Jon trek sy agenda nader en kyk vraend na Salomien. “Gas?”
“Jammer.” Sy hou ’n vel papier na hom uit. “Hier is die nuutste agenda, JD. Professor Tayban van die Mediese Raad se onkologie-navorsingseenheid het gistermiddag laat gevra of hy net kortliks inligting kan deurgee. Een van sy span het vandag by Môreson begin.”
“Nou ja, laat ons afskop,” sê Jon. “Reël asseblief dat die professor dadelik hierheen kom wanneer hy opdaag.”
Hy het skaars met die vergadering begin toe professor Tayban binnestap. Hy bedank hulle vir die kans om te gesels en gee ’n kort oorsig van sy eenheid se studie oor die verspreiding en beheer van kanker, asook die grondoorsake.
“Ek vra dat julle asseblief vir dokter Neveling julle volle samewerking en ondersteuning sal gee,” sluit hy af. “Sy is een van ons uitblinkers en ons sien met groot afwagting uit na haar verhandeling. Is daar enige vrae?”
Jon dink dadelik aan die vrou in die hyser. Sy is toe nie so jonk as wat hy gedink het nie – sy is feitlik ’n spesialis in eie reg. Hy wonder wat ’n pragtige jong vrou motiveer om ’n uitdaging soos kankernavorsing aan te pak. Sou sy getroud wees?
Professor Tayban beantwoord die enkele vrae en maak dan verskoning.
Toe hy uit is, kyk Jon na sy operasionele bestuurder. “Jy’s aan die woord, Peet.”
“Dis die derde aanval in twee maande,” sê Peet. “Ons kry die saak nie opgelos nie, JD.”
Jon frons. “Is dit dieselfde aanvaller?”
Peet knik. “Selfde modus operandi, en hy beperk sy teikens tot ons vroulike personeel. Wat my pla, is dat die aanvalle in intensiteit toeneem. Ons sal moet keer of ons gaan ’n verkragting op ons perseel hê, of erger. Die sekuriteitsbestuurder sal saam met Norman Khoza, die hoof van ambulansdienste, ’n strategie uitwerk. Intussen is sekuriteit by die deure en in al die gange verskerp.”
Soos die vergadering vorder, skud Jon sy gevoel van lusteloosheid af en neem die tinteling van betrokkenheid en uitdagings trompop pak weer oor. Hy kyk na die agenda en dan na sy polshorlosie.
“Knap gedaan, dis minder as ’n uur en ons is amper klaar. Die laaste agendapunt.” Hy glimlag vir Salomien. “Jou naam is by hierdie een – Impunzi! Wat beteken dit?”
Salomien gooi haar lang blonde hare terug oor haar skouer en haar bruin oë vonkel. Sy het dit met opset so gedoen, weet hy dan, om belangstelling by almal te wek.
“Dis die Zoeloewoord vir duiker,” verduidelik sy aan die nuuskierige vergadering, “en dis die naam van die reservaat in die Magaliesberge waar ons ons kwartaallikse spanbou vir dokters en afdelingshoofde gaan hou. Soos altyd is dit verpligtend vir almal en julle gesinne is welkom. Teken asseblief die volgende datums aan …”
Jon sit sy pen neer en hou haar dop terwyl sy die reëlings vir die spanbou deurgee. Daar is nie eens ’n vonk van entoesiasme vir die naweek by hom nie. Dit sal Taryn goed doen om saam te gaan, besluit hy meteens, al weier sy. Dit was deel van die tirade vanoggend: dat hy nie genoeg tyd saam met haar deurbring nie.
Salomien kan help om haar besig te hou, dink hy, hulle het vroeër tog goed oor die weg gekom. Hy onthou nog Taryn se teleurstelling toe die verhouding tussen hom en Salomien skipbreuk gely het.
Hy het vir ’n wyle gedink dat Salomien Mariska se plek in Taryn se lewe sou kon inneem, maar dinge het nie so uitgewerk nie. Ook maar goed so. Hy was nog te emosioneel ná sy vrou se ongeluk. Wanneer hy weer ’n gasvrou vir sy huis en ’n gesellin aan sy sy kies, sal hy koelkop en wetenskaplik te werk gaan. Die jeugliefde wat hy en Mariska gedeel het, was eenmalig. Hy verwag nie om ooit weer dieselfde te voel oor ’n vrou nie.
Salomien kyk vraend na hom en hy besef dat sy wag dat hy die vergadering afsluit. Hy doen dit en versoek dan dat sy die program vir die naweek met hom uitklaar voor sy die reëlings finaliseer. Daar moet darem iets vir Taryn wees om te doen.
“Dokter?”
Wilmari kyk op van die aantekeninge wat sy in Martha se kantoor sit en maak.
Tiyika beduie met haar kop. “Meneer Fryer is hier.”
Bettie se vader is ’n skraal man met ’n sagte gesig en ’n ferm handdruk. Agter hom staan twee seuns.
“Gaan sê solank vir Bettie dag,” sê hy, “ek wil net gou met die dokter praat. En moenie weer al haar lekkers opeet nie!”
“Sy het dit vir ons gegee!” sê die langste van die twee verontwaardig. “Pa weet mos.” Hulle verdwyn in die gang af.
Wilmari se hart gaan uit na die bekommerde man voor haar. “Sit gerus,” nooi sy.
“Hulle vertel my dat jy kankernavorsing doen, dokter,” sê hy. “Is daar hoop vir Bettie? Is daar iets wat julle slim mense vir haar kan doen? Ek en my vrou verstaan ook nog nie presies hoe leukemie werk nie.”
Wilmari sit haar pen neer. “Leukemie is een van die moeilike kankers om te genees,” sê sy stadig. “Ons weet reeds dat daar oormatige hoeveelhede witbloedselle geproduseer word. Die oorsaak van die siekte is nog nie bekend nie, maar ons weet wel dat dit die milt affekteer. Daar is sukses behaal met beenmurgoorplanting. U weet seker dat die bloedselle wat in die beenmurg vervaardig word, verskil van dié wat in die milt, mangels en soortgelyke limfatiese weefsel vervaardig word. Die witbloedselle wat in die been vervaardig word, se taak is om die infeksie van enige kiem wat die liggaam binnekom te beveg.
“Bettie sal chemoterapie moet ontvang. Ek sou aanbeveel dat die behandeling so gou moontlik ’n aanvang neem. Sodra die kankertelling verlaag is, kan ons ’n oorplanting oorweeg, mits ’n geskikte skenker gevind kan word. Familielede van die pasiënt is gewoonlik goeie kandidate, omdat die oorplanting baie minder kans het om verwerp te word deur die liggaam.”
Hy leun vorentoe met geboë skouers en Wilmari lê haar hand bemoedigend op sy arm. “Daar ís hoop, meneer Fryer. Maar daar lê ’n steil ent pad vir julle en klein Bettie voor.”
“Dankie, dokter.”
Hy staan sugtend op en hou sy hand na haar uit. “Dankie dat jy vir my gewag het.” Sy gesig is somber toe hy wegdraai.
Wilmari hou een van haar besigheidskaartjies na hom uit. “Ek sal seker nog ’n paar maande hier wees. Skakel my gerus as julle vrae het. Ek het ook ’n spreekkamer op die grondvloer, as jy en jou vrou wil gesels.”
Hy neem die kaartjie en plaas dit sorgvuldig in sy beursie. “Baie dankie.”
In die hyser op pad ondertoe, haal Wilmari ’n foto van Rheeder uit haar sakboekie en streel daaroor. Daar is hoop vir klein Bettie, en vir baie ander. Hoop wat destyds nie vir Rheeder beskore was nie. Sy is trots daarop om deel daarvan te wees. Dis vir haar beter as enige blomme wat sy ooit op sy graf sal kan sit.
Toe sy in haar spreekkamer op die grondvloer kom, trek sy haar dagboek nader en skryf Martha se naam by die naweek in. Dit sal lekker wees om weer by Rheeder se ouerhuis ’n draai te maak.
Sy gaan maak vir haar koffie in die dienskombuis en haal ’n pakkie beskuitjies uit haar laai. Haar deur staan oop en die veraf geluide uit die voorportaal vermeng tot ’n rustige gedreun op die agtergrond. Toe raak sy verdiep in die verslag en ontleding van waarnemings wat sy gedurende haar besoeke gemaak het.
“Dokter Neveling?”
Wilmari kom met ’n ruk terug na Môreson Kliniek. Sy kyk gedisoriënteer op na die fors man wat in haar kantoordeur staan.
Dis dieselfde man wat vanoggend saam met haar in die hyser gery het, onthou sy dan. Die een wat ongeduldig was omdat sy die hyser teruggehou het. Sy irritasie met die stadige hyser daarna was amper tasbaar en het haar eie frustrasie laat verdiep.
Sy knik. “Kan ek help?”
“Ek kom net kennis maak … amptelik.”
Hy stap nader en sy kom regop en skud die hand wat hy na haar uithou. Hy is net so lank soos sy – kort vir ’n man. Rheeder was baie langer. Tog is daar iets aan hom wat ’n onverwagte roering diep in haar bring.
Sy frons. Die hartseer oor Rheeder, en die verlange na hom, oorheers nog haar emosies. Sy is moeg; sy verbeel haar dinge.
“Ek is Jon van Jaarsveld,” gaan hy voort. “Baie welkom hier by ons. Professor Tayban het ons vanoggend tydens die bestuursvergadering kom inlig omtrent jou werk hier. Praat gerus as jy iets nodig het.”
Van Jaarsveld! Wilmari kyk met groter belangstelling na hom. Dit moet direkteur Jonatan de Klerk van Jaarsveld wees – Martha se JD.
“Dankie, direkteur.” Sy vee ietwat selfbewus oor haar deurmekaar hare. Sy het nou eenmaal die gewoonte om haar hare te vryf wanneer sy konsentreer.
“Ek is besonder bly om hier te wees,” sê sy formeel. “Die werk van julle onkologie-afdeling is wyd bekend.”
Hy knik en kyk dan in die kantoor rond. Wilmari onthou Martha se kommentaar dat hy vol nonsens is. Haar blik val op die muurhorlosie en sy besef met ’n skok dat dit al ná agt is.
“Aandete?” Sy blik rus geamuseerd op die leë beskuitjiepakkie en die vuil koffiebeker wat op haar tafel staan. Dan gaan dit na die groot foto van Rheeder. “Wag daar nie iemand tuis nie?”
Wilmari is meteens geïrriteerd. Die laaste bladsy van haar verslag borrel in haar en sy brand om verder te werk. Daarby leef sy al vyf jaar lank haar eie lewe en doen sy verantwoording aan niemand nie. Sy gaan sit weer en tel haar pen op.
“Sal daar nog iets wees, direkteur?”
“Niks dringends nie.”
Hy beweeg tydsaam in die spreekkamer rond en lig ’n houer antiseptiese handwasmiddel by die wasbak op om dit aandagtig te bekyk.
Wilmari vee haar hare ergerlik agter haar oor in. Asof hy nog nooit so ’n houer gesien het nie! Die man is moedswillig. Sy lyftaal sê duidelik dat hy die baas is en dat hy sal loop wanneer dit hom pas.
Sy trek haar skouers op en begin verder skryf. As hy dan sy tyd wil mors, is dit sy saak. Toe sy ’n rukkie later die laaste sin skryf en die boek met ’n sug toemaak, ruk sy van skrik toe sy besef dat hy nog daar is. Hy het hom gemaklik gemaak teen die deurkosyn en staan na haar en kyk.
“Jy lyk moeg, dokter Neveling,” sê hy. “Ek hou nie daarvan dat my vroulike personeel so laat saans alleen in ’n verlate deel van die kliniek werk nie. Stel asseblief in die vervolg die sekuriteitswag by die voordeur in kennis sodat hulle hier ook rondtes kan doen. Die agterste ingang is reeds gesluit, so jy sal voor moet uitgaan. Vra die wag om jou na jou motor te vergesel, asseblief.”
“Dankie, maar dis onnodig.” Sy kom orent en lig haar handsak oor haar skouer.
“Ek is al mooi groot, direkteur,” sê sy sarkasties, omdat sy ongemaklik onder sy ondersoekende blik voel. “Ek kan na myself omsien. Is die konsep dat ’n vrou meer beskerming nodig het as ’n man nie al ietwat uitgedien nie?”
Dis asof sy die man se gesig vir die eerste maal werklik in fokus kry. Sy oë agter die brillense is ’n helder, takserende grys, en sy voorkop breed. Die frons tussen sy swart wenkbroue sê dat hy nie haar woorde waardeer nie.
Sy dik swart hare is kort gesny en silwergrys by die slape. Sy neus is ietwat te groot na haar smaak, maar dit pas by sy gestalte. Sy mond is ferm en vol, en sy ken getuig van hardkoppigheid. Hy dra ’n goue ring aan die middelvinger van sy regterhand.
“Ek stap gewoonlik saans voor ek huis toe gaan ’n draai deur die kliniek,” sê hy afgemete, “en ek het gesien jou deur staan nog oop. Jy hoef nie so verdedigend te wees nie. Jy sal ook nog leer dat daar ’n grondige rede is vir elke versoek wat ek rig. Intussen, dokter, rustige nag. En hier by Môreson Kliniek is dit nie nodig om jouself dood te werk nie. Hier slaan ons behoorlike tydsbestuur hoog aan, en word dit as ’n kenmerk van professionaliteit en gebalanseerdheid beskou.”
Wilmari staar sy breë rug agterna. Dan skakel sy die lig af en trek die deur ergerlik agter haar toe. Die gang is helder verlig en sy stap flink voordeur toe. Dat die man haar nou so in die gesig kan vat! Hoe op aarde kan harde werk ooit onprofessioneel wees?
Hy’s oud, troos sy haarself, beslis in die veertig, en heeltemal uit voeling met jonger mense. Die ouer geslag het nie waardering vir die jeug se dryfkrag nie.
Dis reeds donker buite en die koffiewinkel by die ingang is besig om sy deure te sluit. Sy bedank die sekuriteitswag toe hy die voordeur vir haar oopsluit en kies dan koers na haar motor wat aan die kant van die kliniek geparkeer is.
Toe sy om die hoek van die gebou gaan, besef sy dat die beligting daar baie swak is. Sy frons. Daar moet van die ligte buite werking wees. Die donker skadu’s in die verste hoek laat haar meteens ril en sy skuif haar motorsleutel na haar linkerhand om die pepergashouertjie wat sy in haar handsak dra uit te haal.
Vanoggend het sy vlak by die kantingang geparkeer, maar nou, met die ingang gesluit, staan haar motor amper heel agter, by die donkerste muur. Die ander paar motors is baie nader geparkeer, onder die ligte wat steeds brand.
Iets knars onder haar voete toe sy verder stap en sy kyk af. Dis glasskerwe. Die dakligte aan die onderpunt van die afdak is gebreek, geen wonder dis so donker daar nie! Vir so ’n spogkliniek is dit uiters nalatig, dink sy vies. Daarby kan die motors nog ’n pap band opdoen.
In haar kop begin ’n rooi waarskuwingsliggie flikker. Dieselfde liggie wat al so dikwels tydens moeilike operasies soos ’n alarm afgegaan het wanneer ’n krisis op hande is. Sy draai in haar spore om en stap rustig terug na die openbare parkeerarea, terwyl sy in haar handsak vroetel asof sy iets vergeet het.
Sy kyk twee keer om na haar motor en dan na haar horlosie en besef met ’n wrang glimlag dat sy ’n toneelstuk vir ’n denkbeeldige gehoor opvoer. Tog voel sy eers gemaklik toe sy by die trappe opstap na die kliniek se ingang toe.
“Sal jy saam met my stap?” vra sy vir die wag. “Ek is dokter Neveling, en my motor staan om die draai geparkeer. Daar lê glasstukke rond en ek wil hê jy moet net seker maak ek ry nie een raak en kry ’n pap band nie.”
Die wag roep na ’n ander een onder in die gang en hulle gesels in hulle eie taal. Die een bly by die deur staan, terwyl sy maat saam met haar om die gebou stap. Hy maak die klap van die holster aan sy sy los en plaas sy hand oor sy wapen.
’n Krieweling hardloop langs Wilmari se rug af toe hy by die gebreekte glas hurk en dan die vuurwapen uit die holster trek en begin rondkyk. Jy sal nog agterkom dat daar ’n grondige rede is vir elke versoek wat ek rig, het Jon van Jaarsveld gesê.
Sy sluit haar motor oop en voel soos ’n bangbroek toe sy eers seker maak dat daar niemand agter die sitplek skuil nie. Sy sluit haar deur en ry versigtig verby die glasstukke na die uitgang toe. Die wag skop ’n paar skerwe uit die pad en by die hoek van die gebou verminder sy spoed om dankie te sê.
’n Motor in die openbare parkeerarea trek uit en baai haar en die wag vir ’n oomblik in helder lig. Sy lig instinktief haar hand voor haar oë om te keer en ’n beweging in haar truspieël trek haar aandag.
Agter, in die donkerste hoek, ’n paar treë van waar haar motor geparkeer was, laat die skerp lig ’n figuur uitstaan. Dit lyk soos ’n man met ’n donkerblou hemp aan. Toe is die lig weg en is dit weer donker.
Sy trap rem en kyk om, dan na die wag om te sien of hy ook iets opgemerk het. Maar hy is besig om die vertrekkende motor agterna te kyk en sy vuurwapen te bêre. Hy lig sy hand in erkenning van haar dank en stap terug na die ingang.
Wilmari kry meteens koud. Sy skakel haar verwarmer aan en hou dit al die pad na haar woonstel toe aan. Daar ry sy dankbaar deur die bemande sekuriteitshek. Sy ontspan eers toe sy haar voordeur agter haar toetrek.
Daar is nog vrugteslaai in die yskas en sy skep roomys bo-op. Sy skop haar skoene uit en gaan sit kaalvoet op die bank met haar een been onder haar ingevou. Sy wonder of Jonatan van Jaarsveld se vrou ook by Môreson werk …
Sy sit die leë bordjie langs haar op die bank neer en lê terug teen die kussing. Sy moet haar ongeduldigheid wanneer sy met werk besig is, leer beteuel. Rheeder het altyd gesê sy raak te gefokus op haar taak en vergeet van mense se gevoelens.
Eintlik was dit heel vriendelik van die direkteur om haar te kom groet. Hy het daarby seker die volste reg om vol nonsens te wees. Volgens wat sy by ander hospitale gehoor het, is JD van Jaarsveld die dryfkrag agter Môreson Kliniek.
Sy skuif die bordjie na die mat toe en swaai haar voete op die bank. Sy twyfel in elk geval of sy baie met hom te doen sal hê; hy beweeg in ander kringe as sy. Hy het ook met ’n ander saak die spyker op die kop geslaan: sy ís oormoeg. Dis vir haar geestelik uitmergelend om so na aan die siekte te werk wat die enigste man wat sy ooit liefgehad het van haar gesteel het.
Sy laat haarself vir die eerste keer toe om weer oor die man in die truspieël te dink. Hét sy dit gesien? Of was dit net die motorligte van voor wat haar nagsig deurmekaargekrap het? Sy moet onthou om vir Martha te vra of daar ronddwalers by die kliniek is. Die wag se reaksie het haar eintlik meer as enigiets anders verontrus.
Sy weet sy moet kamer toe gaan en gaan uittrek en regmaak vir die bed, maar sy het nie die krag daarvoor nie. Sy nestel haar gesig teen die sagte materiaal van die bank se armleuning en gee die stryd teen die slaap gewonne.