Читать книгу Ondersoek my hart - Ilze Beukes - Страница 4

2

Оглавление

Die nuwe dag breek wolkloos aan. Madelie sluit die klasdeur oop terwyl Handré en Arno haar boeke na binne dra. Dis tog te oulik hoe hulle haar reeds vroeg ingewag het, gereed om haar boeke te help dra toe sy in haar Volla stilhou. Vandag moet die klas gister se agterstand inhaal, en dan wil sy kuns met die kinders doen.

“Dankie, julle twee.” Twee glimlaggende gesiggies kyk blinkoog na haar en maak haar hart warm. Dis hoekom sy hierdie werk doen. Kinders is nog so onaangeraak deur die lewe en so opreg. Wat ’n voorreg om elke dag met hierdie vars jong geeste te werk.

Handré glimlag en babbel opgewonde. “Juffrou, ek en oom Ian was gisteraand by Mamma. Ek het sommer op haar bed gesit en TV gekyk. Pappa het vir my ’n nuwe rekenaarspeletjie gekoop en toe ons huis toe kom, het oom Ian vir ons pizza gekoop. Ek het by sy woonstel op sy rekenaar gespeel.”

“Het Pappa nie gisteraand saam teruggekom nie?”

“Nee, hy bly by oupa en ouma in Welkom tot Mamma uitkom.”

“Sjoe, maar dis darem gaaf dat hulle daar bly, nè?”

Hy knik. “Juffrou moet een aand by my en oom Ian kom rekenaarspeletjies speel. Dis baie lekker by hom.”

“Jong, juffrou is bietjie besig in die aande. Maar ek is baie bly jy kuier lekker by jou oom.”

Sy sien die teleurstelling op sy gesiggie, maar gelukkig maak die klok ’n einde aan hul geselsie. Sy leer eerder hekel as om ’n hele aand in die man se geselskap te wees. Sy is seker hulle het niks gemeen nie. Tog dans sy beeld vir ’n oomblik in haar gedagtes terwyl die ander kinders die klas binnestap. Hulle gaan staan by hul banke en beantwoord haar groet met ’n singende: “Goeiemôre, juffrou Botma.”

Die kinders is gehoorsaam en hulle gaan so vinnig deur die werk dat sy die kas in die hoek oopsluit en pakkies pastelle begin uithaal voordat die klok vir pouse lui. Wat ’n heerlike dag. Sy is so bly sy het haar hartsbegeerte gevolg om ’n onderwyseres te word, al wou tannie Mercia graag hê sy moes ’n loopbaan in kuns volg. Kuns maak tog in elk geval steeds ’n groot deel van haar lewe uit.

Na langpouse bring Handré vir haar ’n sjokolade-oliebol in ’n papierservet. “Hier is vir juffrou ’n doughnut.”

“Haai, baie dankie, Handré.”

“Juffrou, Handré se oom is baie ryk,” haak Vicus af en lyk baie ingenome met die stukkie informasie waaroor hy beskik.

“O, nè?” sê Madelie terwyl sy haar wang vasbyt en ernstig probeer lyk.

“Ja, juffrou, hy het vir Handré honderd rand vir snoepie gegee.”

Dadelik is haar erns nie meer net aangeplak nie. Sy frons: “Handré, is dit die waarheid?” Sy hoop tog nie die kind het …

“Ja, juffrou.” Handré kyk onseker na haar. Asof hy nie mooi weet hoekom sy kwaai klink nie.

Madelie kyk hom ondersoekend aan en sien hoe sy gesig bleker raak. “Handré, het jy broodjies vir pouse gehad?”

“Nee, juffrou, dis hoekom oom Ian vir my die geld gegee het. Sy brood was op.”

“Hmm … en wat koop jy toe?”

“Doughnuts, juffrou.”

“Juffrou, juffrou, hy het vyf geëet en ’n blik rooi gaskoeldrank ook gedrink,” snip Vicus. “Maar hy het vir my en Rohan ook elkeen een gegee.”

“Genade, Handré!”

Hy vryf oor sy maag. “Juffrou, ek voel nie baie lekker nie.”

“Ek sou so dink.”

Voor sy iets verder kan sê, ruk sy lyf twee keer en gooi hy oor haar skoene op.

“Ag nee, Handré!” Sy spring vinnig agteruit, maar haar skoene is reeds besmeer.

Nog twee kinders in die klas kan die naarwordgeluide nie uitstaan nie en volg Handré se voorbeeld.

Madelie se maag ruk self, maar sy dwing haarself tot kalmte, hou haar hand oor haar mond en neus en trek haar skoene uit. Sy stuur die kinders uit die klas voor nog een naar word. ’n Skoonmaker word dadelik ontbied terwyl sy Handré op haar stoel laat sit met die asblik voor hom. Die ander twee sit bleek in hul banke.

Sy praat kalmerend met hulle, lei hul aandag af. Die skoonmaker daag op en help haar om die klas weer leefbaar te kry. Adelina vat ook Madelie se skoene weg om hulle te gaan skoonmaak. Madelie vee haarself met Wet Wipes af.

Dit is nou net fantasties! Vir ’n dokter weet hy ook maar min van kinders en gesonde eetgewoontes. Daar is wel ’n stemmetjie wat haar waarsku dat sy onredelik is en hom nie ’n regverdige kans in die omstandighede gee nie. Maar steeds behoort hy van beter te weet.

Nadat sy haar hande in die wasbakkie in die klas gewas het, gooi sy die vensters wyd oop sodat die vars lug en sonskyn die vertrek binnevloei.

Madelie loop na buite om die raserige Graad 3’s terug in die klas te kry.

Sy haal ’n matrassie uit wat sy altyd agter die kas bêre vir sulke noodgevalle en gooi dit langs haar lessenaar. Sy wys vir Handré om daarop te kom lê. Hy skud sy kop skamerig heen en weer, maar toe hy haar gesig sien, gaan lê hy gou op die matras. Die ander twee kinders se kleur kom darem geleidelik terug in hul gesigte nadat hulle elkeen ’n glas water gedrink het. Ten minste is hul klere skoon.

Sy deel vir die hele klas groot velle papier saam met die pastelle uit en toe hulle aan die werk is, loop sy uit met haar selfoon en dokter Ian Duvenhage se visitekaartjie.

Sy tik die nommer op die selfoon in. Die oomblik dat Ian Duvenhage aan die ander kant antwoord, val sy met die deur in die huis: “Kan jy asseblief vir Handré kom haal? Hy het naar geword in die klas en moet skoon klere aantrek. Jy kom ondersoek hom net nie weer hier in die klas nie.” Sy sny die oproep af voordat hy ’n behoorlike kans kry om haar te antwoord.

Sy is glad nie lus vir ’n onderonsie met hom nie. Madelie druk die interkom se knoppie.

“Benita, stuur Handré se oom asseblief deur sodra hy hier kom. Handré moet huis toe gaan, want hy is siek.”

Na ’n hele ruk sien sy deur die vensters hoe Ian Duvenhage met lang, haastige treë aangestap kom. Sy glip by die klas uit en maak die deur agter haar toe. Hy lyk omgekrap en die alte bekende frons is op sy voorkop.

“Dokter, ons moet praat!”

“Waar is Handré? Ek het nie tyd vir …”

“Op ’n matrassie in die klas. Ek het ook nie tyd vir al die onderbrekings wat jy veroorsaak nie.”

“Waarvan praat jy?” Hy steek sy hand na die deurknop uit.

Sy skud haar kop en beweeg voor hom in. “Wag, luister eers!”

Sy volg sy blik na haar voete en voel hoe haar wange verkleur.

“Genade, werk jy wraggies kaalvoet?”

Sy skreef haar oë. Hy kyk haar al weer aan asof sy ’n bogsnuiter is. “Natuurlik nie! Dis jou skuld dat ek nie my skoene aanhet nie.”

“Ekskuus?” hy staar haar aan asof sy mal is.

Sy haal diep asem. “Het jy vir Handré honderd rand vir snoepie gegee?”

Hy lyk oorbluf. “Ja, ek het, maar wat het dit te doen …?”

“Hy is net nege. Weet jy wat het hy als gekoop?”

“Wat het sy snoepiegeld te doen met die rede hoekom ek hier is? En met jou kaal voete?”

Madelie klem haar vuiste saam in haar sye. “Alles! Hy het agt doughnuts gekoop, waarvan hy vyf self opgeëet het. Ook ’n blik rooi gaskoeldrank. Hy moes pouse baie honger gewees het, of hoe?”

Ian vryf sy nek. “Wel, hy wou nie die pap eet wat ek in die huis gehad het nie en daar was nie brood nie, toe gee ek vir hom dié geld vir snoepie. Ek het nie gedink …”

“Wel, vir die eerste keer stem ons saam oor iets: Jy het nie gedink nie.”

“Toegegee. Ek is nie gewoond daaraan om kosblikke te pak nie.” Sy blik dwaal weer na haar voete. “Waar is jou skoene? Wat het dit …?”

“Handré het op my skoene naar geword en die skoonmaker het hulle weggevat om skoon te maak,” sê sy vies.

Ian se oë rek. “Ek is jammer!”

Hy lyk so verleë dat haar hart teësinnig vermurwe. Sy sug. “Ek sê jou wat, ek sal liewer van nou af elke dag vir hom ’n kosblik pak tot sy ma terug is.”

Ian glimlag. Daar duik kuiltjies in sy wange. “Baie dankie, ek sal jou ewig dankbaar wees. Dit gaan nogal wild in die oggende.”

Madelie knik net, want skielik het daardie glimlag haar asem weggeslaan. Sy draai om en gaan die klas binne met Ian op haar hakke.

Handré staan bleek van die matrassie op.

Madelie is egter seker hy dik aan om ekstra simpatie van sy oom te kry.

Ian tel die seuntjie se tas op en kyk na haar. “Ek skuld jou.”

Sy skud net haar kop en maak die deur agter hulle toe nadat die twee uit is. Sy kyk na haar kaal tone en wikkel hulle. As sy eerlik met haarself moet wees, is dit nogal lagwekkend. Haar mondhoek krul op terwyl sy terugloop na haar lessenaar.

Die res van die dag verloop rustig. Die kinders vergeet gou van alles en raak deur hul tekeninge meegevoer. Na skool sit Madelie in haar klas en wag tot die personeel reeds huis toe is voordat sy kaalvoet die gang af loop na die kombuis om na haar skoene te gaan soek. Hoekom Adelina dit nie vir haar teruggebring het nie, is ’n raaisel. Dalk het sy maar net vergeet.

Madelie stap die kombuis binne. “Adelina, is my skoene al droog?”

“Juffrou, daardie ander man het gesê hy moet dit saam met hom vat.”

“Watter ander man?”

“Die pa van daai siek kind.”

Madelie trek haar asem in, stamp met haar voet op die grond. Oeg … sy sal hom vermoor.

“Juffrou, het ek verkeerd gedoen?”

“Nee, toemaar, sommer ’n misverstand.” Sy draai om en marsjeer kopskuddend klas toe. Is dit ’n siek grap? Hoe durf hy haar skoene vat? Die vernedering! Sy skaam haar morsdood en nou sal sy kaalvoet moet huis toe ry. Sy wou nog eers winkel toe gegaan het.

Die inmengerige, vermetele vent! Het die man ’n verdraaide sin vir humor?

Terug in die klas pluk sy haar lessenaar se laai so ergerlik oop om haar motorsleutels te kry dat dit kletterend op die vloer beland. ’n Buisie gom, krammer, penne, potlode en ’n notablok volg, asook ’n blikkie goue sterretjies wat oopskiet.

Dit is nou net fantasties! Wat nog? Die man bring eenvoudig die slegste in haar na vore.

Met ’n sug tel sy eers een vir een sterretjie op en bêre daarna alles weer in die laai voor sy die klasdeur agter haar toesluit. Sy stap na haar Volla en skuif agter die stuurwiel in. Op haar polshorlosie sien sy dat die tyd haar reeds ingehaal het: Sanet gaan binne minute by haar blyplek afgelaai word.

By haar meenthuis glip sy vinnig in ’n kortbroek en toppie met spaghetti-bandjies. Die weer is drukkend. Hier gaan beslis een of ander tyd ’n storm losbars. Die denimbroekie is bietjie kort, maar sy sien regtig nie vir iets warmers kans nie. Bo-oor trek sy een van haar pa se ou hemde aan waarin sy gewoonlik verf. Dit hang oor die broekie en bedek darem effens meer van haar lyf.

Toe Sanet daar aankom, help sy haar om gemaklik by die eetkamertafel te sit. Sy vryf oor die kind se koppie. “Dis ’n mooi bandana!”

“Dankie, tannie! Ek het dit by Mamma gekry.”

“Rooi pas jou mooi!”

Madelie draai na die CD-speler wat op ’n rakkie staan. “Wag, ek sit weer daardie musiek aan waarvan jy hou.” Sy druk die knoppie, en strelende klanke vul die vertrek.

“Ek gaan volgende keer vir tannie die nuwe CD bring wat ek vir my verjaarsdag gekry het. Dis baie mooi!”

“Maak so, ek sal dit graag wil hoor!” Madelie skuif die stapel tydskrifte wat sy vroeër op die sitkamertafel neergesit het, nader aan haar kunsstudent. “Ons gaan vandag met ’n nuwe kunswerk begin, Sanet, maar eers soek ons inspirasie. Blaai ’n bietjie deur hierdie tydskrifte. Miskien is hier ’n prent wat jy wil teken.”

Madelie hou die kind dop terwyl sy deur die tydskrifte blaai en hier en daar ’n prent uitskeur wat vir haar mooi is.

“Oe!” roep Sanet skielik toe sy by die foto van ’n perd kom. Haar hele gesiggie straal. “Kyk die mooi perd, tannie! Dit lyk net soos die perde wat my oupa op sy plaas gehad het. Toe ek klein was, het Pappa altyd saam met my gaan perdry wanneer ons op Oupa se plaas gekuier het. Dit was baie lekker tye.” Skielik verskrompel haar glimlag. “Ek wens ek kan weer een keer op ’n perd ry, maar Oupa lewe nie meer nie en die plaas is verkoop.”

Madelie voel hoe ’n knop in haar keel kom sit. Sal Sanet se gesondheid ooit weer van so ’n aard wees dat sy kan perdry? Die leukemie en die bloedarmoede wat daarmee gepaard gaan, het haar swak gemaak. Die chemoterapie wat sy as behandeling kry, is genadeloos op haar liggaam.

Nee, Madelie, betig sy haarself, jy moet positief dink. Jy moet sterk wees vir hierdie meisietjie. “Ai, poplap, dis jammer. Maar dalk moet jy ’n kunswerk van jouself op ’n perd se rug maak om jou aan al daardie goeie tye te herinner?” Sy gaan sit langs die dogtertjie. “ ’n Perd is ’n moeilike onderwerp, maar dis mos hoekom tannie hier is, om vir jou tegnieke te leer.”

Sanet kyk met blink oë na Madelie. “Dis ’n goeie plan, tannie! Kan ek sommer dadelik begin?”

Madelie sit al die verfkwaste en potjies verf voor Sanet neer en glimlag toe sy sommer dadelik ’n verfkwas optel, in die verf doop en begin om die agtergrond eerste te skilder soos Madelie haar geleer het. Dis ’n uitdaging om vir Sanet en die ander kindertjies met kanker kunsklasse te gee, want angs dreig gedurig om Madelie te oorval elke keer wanneer sy dink aan al die toetse en behandelings wat hulle in die hospitaal moet ondergaan.

Maar hul innerlike krag maak háár sterker.

Toe tannie Mercia ’n paar jaar gelede weer daarop aangedring het dat sy ’n berader moet gaan spreek, het die vrou juis aanbeveel dat Madelie haar moet blootstel aan dít wat sy vrees – met die nodige morele ondersteuning van vriende en familie, natuurlik. Madelie kon dit egter nie oor haar hart kry om ’n hospitaal binne te stap nie.

Toe loop sy haar ou klasmaat Sonja Tredoux weer raak wat deesdae by die Kankervereniging van Suid-Afrika werk. Madelie wou eers sover moontlik die onderwerp van die siekte vermy, maar sy kon nie meer anderpad kyk toe sy die stories hoor van kinders wat sommer hier op hul dorp en die omliggende areas daarmee worstel nie. “Tannie, hoekom gee tannie verniet kunsklasse vir al ons kinders wat …”

Madelie sien hoe Sanet haar nie sover kan kry om die woord hardop te sê nie, en deernis oorval haar. “Ag, my skattebol, ek is lief vir julle en verstaan so bietjie van alles waardeur julle gaan. Toe ek jonger as jy was, was my ma ook baie siek.”

“Lewe tannie se ma nog?”

Madelie skud haar kop. “Ongelukkig nie.”

“Tannie, ek is nie bang nie. Ek is net bekommerd oor Mamma, sy vat dit baie swaar, en ek wil nog so baie dinge doen.” Madelie hoor hoe hard Sanet probeer om die trane te onderdruk.

Madelie gaan staan agter Sanet, sit haar hand oor die dogtertjie se hand waarin die verfkwas rus. “Ek wil jou gou iets wys!” Sy tel haar handjie op en doop die verfkwas in die verf. Begin met enkele klein kwashale voëltjies in die blou lug teken wat Sanet pas geskilder het. “Hoe lyk dit vir jou? Dis vinnig en maklik, maar maak ’n groot verskil aan ’n prent!”

Sy sien hoe die ingehoue spanning uit die liggaampie vloei. “Sjoe, tannie, dis baie mooi! Ek wil nou self probeer.”

Madelie los haar handjie en kyk hoe Sanet self voëltjies op die papier skilder.

“Mooi, Sanet! Jy het baie talent.”

“Dankie, tannie!”

Madelie sluk hard aan die knop in haar keel.

Die les vlieg vinnig verby terwyl hulle gesels oor skool, Sanet se maats en sommer allerhande dogtertjiedinge.

Nadat Sanet se ma haar kom oplaai het, gaan sit Madelie weer voor haar eie esel en skilderdoek terwyl haar gedagtes ver terug na die verlede gly.

Sy meng ’n grysblou kleur wat by haar gemoedstoestand pas en begin skilder. Sy leef haar in in haar werk.

“Jy vat vreeslike kanse met die voordeur so wawyd oop.”

Die stem wat haar gedagtes onderbreek, laat haar ruk van die skrik. Toe sy omswaai, staan Ian en Handré voor haar.

“Ons het die klokkie buite gedruk sonder reaksie. Gelukkig het ’n motor in die kompleks in gery, toe kon ons ook inkom.”

Die man het ’n manier om met die deur in die huis te val. Hy het ’n denimkortbroek en T-hemp aan. Hy lyk glad nie na die ongenaakbare dokter van vroeër nie. Inteendeel.

Madelie kom orent en vee verleë oor haar pa se ou hemp. “Ja, ek ee … die interkom is buite werking, ek moet iemand kry om dit reg te maak. Maar jy is seker reg, ek behoort versigtiger te wees.”

“Wat maak juffrou?” vra Handré terwyl hy vorentoe loop en langs die esel kom staan.

“Ek skilder.”

“Sjoe, dis mooi. Wie is dit?” vra hy en wys na die esel.

“Dis my pa. Ek wil dit vir hom vir sy verjaarsdag gee.”

“Kan juffrou my ook leer?”

“Handré, wag nou eers. Juffrou is besig! Ons het net dié gebring.” Ian lig die twee inkopiesakke op wat hy dra. Handré vat een sak uit sy oom se hande en hou dit na haar uit.

Madelie vat dit by hom.

Handré lyk of hy kan spring van opgewondenheid.

Dit moedig haar aan om binne-in te loer. Sy kyk met ’n glimlag na Handré voor sy ’n skoenboks uithaal en dit oopmaak. Binne-in is ’n nuwe paar sandale. Sy trek haar asem verwonderd in: dit is presies wat sy vir haarself sou gekies het.

“Um … e … dankie,” sê sy en voel hoe verleentheid oor die gebaar haar gesig warm kleur.

“Jy was seker baie kwaad oor ek jou skoene gevat het? Maar ek moes die grootte kry om vir jou ander te kon koop. Daar was geen nommer op die ou paar nie, toe vat ek die skoene maar om hulle teen die nuwes te pas. Miskien was dit nie so ’n goeie gedagte nie?”

“Ek moet erken, dit was nogal vreemd. Ek moes kaalvoet huis toe ry, maar baie dankie vir die skoene. Hulle is mooi. Dit was nie nodig nie.”

“Madeliefie, ek is regtig jammer. Dit is die minste wat ek kan doen. Kan ek jou so noem? Noem my Ian, asseblief.”

Madeliefie? Het sy reg gehoor? Die man is lekker simpel.

Dan sien sy hoe Handré sy hande oor sy mond druk om sy lag weg te steek.

O, so. Nóú weet sy waar Ian aan Madeliefie kom.

Sy bars uit van die lag, en Handré skater saam. “Ek dink jy is verkeerd ingelig,” stik sy. “My naam is Madelie.”

Ian gryp die seuntjie om sy lyf in ’n stoeigreep en vryf speels met sy vuis teen sy kop. “Handré, jou klein klits.”

Die seuntjie hou sy maag vas en wys met ’n vinger na sy oom. “Het oom lekker gevang!”

Ian lyk ongemaklik nadat hy Handré gelos het. “ ’Skuus. Madelie, dan. En noem my asseblief Ian.”

Sy byt op haar lip en knik: dit is goed dat die wind vir ’n slag uit die slim dokter se seile is. Hy hou die ander sak na haar toe uit.

“En dit?” vra sy toe sy dit aanvat.

“Sommer net ’n paar goedjies vir die kosblik. Ek belowe dit is alles gesonde goed.”

Madelie glimlag. Sy sien kasies, boksies sap, broodrolletjies, vrugtelekkers en ’n klomp ander goed.

“Dit lyk piekfyn, ek sal sorg dat hy pouse daarvan kry.”

“Nogmaals dankie. Dit gaan my baie help.”

“Plesier. Sal julle ’n koeldrank drink?”

“Dankie, dit sal lekker wees. Dit was ’n besige dag, en ek het direk na werk vir Handré gaan haal en toe gaan uittrek. Daarna is ons winkels toe. Ons het nog nie kans gekry om iets te drink nie.”

“Wie kyk na hom in die middag?”

“Sanna moes nou maar inspring, aangesien iemand my daarop gewys het dat spreekkamers nie die ideale plek vir kinders is nie. Sy werk al agt jaar by my broer-hulle.”

Madelie haal ’n skoon vel papier uit die kas en gee dit vir Handré om op te teken voor sy kombuis toe stap.

Op pad sien sy hoe Ian die veiligheidshek sluit.

Madelie haal vrugtesap uit die yskas en rangskik drie glase op ’n skinkbord. Ian kom die vertrek binne, en haar oë gly oor hom. Die kortbroek wys sy gespierde bene af; hy kom beslis gereeld in ’n gimnasium. Daarvan getuig die T-hemp wat ook styf oor sy borskas span. “Kom ons gaan sit sommer daar by Handré?”

Hy knik, tel die skinkbord op en staan terug sodat sy kan verbyloop.

Madelie sien Handré is in sy eie wêreldjie.

Die musiek speel steeds saggies in die agtergrond. Sy gaan sit langs Handré en drink haar koeldrank.

Ian loop na die venster en kyk uit oor die rivier. “Oulike plek wat jy hier het. Dit lyk so rustig. Ek is mal oor die natuur. Ek kan dae lank buite in die natuur stap en doen soms staproetes wanneer ek tyd kry.”

“Ek is baie dankbaar dat my pa die plek vir my gekoop het. Ek bly lekker hier. Ek hou ook baie van die natuur en buitelewe.”

Hy draai om en glimlag toe sy oë deur die vertrek dwaal. “Jou plek lyk presies soos ek my sou voorstel. Modern en kleurvol.”

“Dankie, dis maar ek. Ek hou nie van vaal en vervelig nie. Is jy en jou broer al lank in vennootskap? Ek weet nie veel van die dokters op die dorp nie.”

“Nee, ek het twee maande gelede van die Kaap af na Kroonstad gekom. Dokter Bruyns was voorheen my broer se vennoot, maar hy het afgetree. Dit was tyd vir my om uit die Kaap te skuif.”

Verbeel sy haar of skuil daar meer agter sy woorde as wat hy sê?

“Buitendien, my broer het die prentjie van om ’n dokter op ’n dorp soos dié te wees, baie aanloklik geskilder, en ek moet sê noudat ek ’n rukkie hier is, stem ek saam.”

Sy sien hoe sy oë begin lewe en hy met entoesiasme en passie vertel: “Omdat die hospitaal so klein is, doen ons algemene praktisyns self kleinerige operasies soos mangels en blindederms, en soms word ons ingeroep om met operasies by te staan wat deur ander spesialiste gedoen word. Dit fassineer my. Ek wou altyd ’n algemene praktisyn word omdat dit is wat my pa en broer doen, maar dalk gaan studeer ek nog verder en word ’n spesialis van die een of ander aard …”

Ondanks die hitte slaan hoendervel op Madelie se arms uit. Sy voel al weer bewerig. ’n Hospitaal fassineer hom? Hulle kan eenvoudig nie meer verskil nie! Sy kyk weg van hom af.

“Hoekom ken jy nie die dokters nie? Bly jy nog nie lank hier nie?” wil hy weet.

Sy sluk. Kry haar stem onder beheer. “Nee, dit is nie dit nie. Ek is al twee jaar hier, ek gaan net nie dokter toe nie. Ek is gelukkig ’n baie gesonde mens.” Hy kom nou te na aan haar seerplek en dit maak haar angstig. Tyd om die onderwerp te verander: “Ek gaan vir my pasta maak. Julle kan saameet as julle wil?”

Handré spring op met sy prent in die hand. “Toe, oom Ian, asseblieeeeeef, dan kan ek nog teken?”

Die kuiltjies duik in Ian se wange. “Wel dit lyk my nie ek het veel van ’n keuse nie?”

Madelie, wat bly is dat die kind die spanning verbreek het wat in haar opbou, lag floutjies. “Gaan julle vanaand nog deur Welkom toe?”

“Nee, maar ek sal Suné later bel sodat Handré met haar kan praat.”

Madelie staan op. “Goed, dan gaan ek gou vir ons iets te ete maak. Jy kan voor die TV –?”

“Nee, ek kom saam.” Hy pak die glase terug in die skinkbord en dra dit kombuis toe.

Handré wys vir haar wat hy geteken het.

“Sjoe, Handré, maar dit is pragtig. Ek het nog stempeltjies ook as jy moeg raak van teken.”

“Juffrou, kan ek hulle sien en kan ek daarná TV kyk?”

“Natuurlik! Ek haal hulle net gou hier uit die kas.” Sy haal ’n outydse koekblik uit die kas en maak dit oop. Sit verskillende kleure stempelblokke voor Handré neer en hou daarna die blik wat halfpad vol verskillende soorte stempeltjies is na hom uit.

“Wow, maar dis lekker hier by juffrou. Wens ek kan elke dag hier kom speel.”

Madelie vryf sy hare deurmekaar en laat Handré se wens in die lug hang. Sy wil nie te betrokke raak nie. Soos sake staan, sien sy heeltemal genoeg van sy oom Ian. “Nou toe, hier is vir jou ’n skoon vel papier. Lekker speel.”

Toe sy in die kombuis kom, staan Ian haar en inwag. Hy leun effens teen die kas en kyk na haar terwyl ’n kuiltjie in sy wang duik. Haar hart mis ’n slag. Hy lyk glad nie soos dieselfde ou wat so ongenooid haar klas binnegestorm het nie. Maar sy moenie vergeet dat hy ’n dokter is nie.

“Sien jy kans om die uie te kap?” vra sy.

“Is dit my straf vir die laaste twee dae?”

Sy knik haar kop glimlaggend.

“Goed, gee dat ek jou wys hoe dit gedoen moet word! Ek hou van kosmaak, juffie, dalk leer ek jou nog ’n ding of twee.”

Sy buk voor die laaitjies onder die toonbank, haal ’n voorskoot uit en gooi dit in sy hande.

“Wat moet ek hiermee maak?”

“Trek aan, die olie sal op jou klere spat wanneer jy die uie braai.”

Die oomblik toe die rooi geruite voorskoot met die hoender voor soos ’n borslap om sy bolyf hang, bars sy uit van die lag.

Hy wys waarskuwend met sy vinger. “Jy soek moeilikheid!”

Hy vat die uie uit haar hande sodat sy vingerpunte liggies oor haar vingers streel.

Dit laat weer hoendervel op haar arms uitslaan. Dié keer is dit nie uit vrees nie. Hoe kan een man soveel teenstrydige gevoelens in ’n mens wakker maak?

Terwyl sy die kookwater op die stoof regkry vir die spaghetti, loer sy onderlangs na hom. Met die skerp mes kap hy die uie vinnig op die broodplank. Hy lyk regtig tuis in die kombuis. Terwyl sy na hom kyk, begin trane oor sy wange loop. Hy knyp sy oë toe.

Sy byt haar kieste om nie te lag nie.

Hy het duidelik nie verwag dat die uie so skerp gaan wees nie. Hy sit die mes op die broodplank neer, druk met die agterkant van sy arm teen sy oë en skuif by haar verby waar sy voor die stoof staan. “Sjoe, die uie is skerp. Kraan, asseblief.”

Haar hele lyf tintel toe hy met sy een hand agter teen haar rug druk.

Sy vat hom aan die arm en stuur hom direk na die wasbak terwyl hy sy oë toeknyp. Sy draai die water oop en skeur ’n stuk van die handdoekrol af en hou dit na hom uit nadat hy sy hande gewas het. “Sjoe, waar kry jy daardie skerp uie?”

“Vars van my pa se plaas af.”

“So, jy is eintlik ’n plaasmeisie? Ek sou dit nooit geraai het nie!”

“Ek is ’n natuurkind met ’n kunssinnige streep.”

Hy glimlag terug. “Dit lyk my so!”

“Ek en my tannie het ’n rondawel op die plaas waarin ons altyd kunsprojekte doen. Vandat ek kon onthou, het sy ’n verfkwas in my hand gedruk. En jy, het julle altyd in Welkom gebly?”

“Hoe weet jy ek kom van Welkom?”

“Handré het genoem dat sy pa by jou ma-hulle in Welkom oorslaap.”

Hy glimlag. “Ja, ons was almal daar op skool: ek, my broer en ons suster wat nou ’n fisioterapeut in die Kaap is. Kastrol en olie, asseblief?”

Madelie kry ’n kastrol in die kas, hou dit na hom uit. Sy sit ’n houtlepel langs die stoof neer.

“En jy? Enige broers, susters?”

Sy skud haar kop en kyk af. “Enigste kind.”

Sy kry ’n slaaibak en maak ’n mengelslaai met tamaties, komkommer, olywe, fetakaas en slaaiblare. Dan pak sy broodrolletjies in ’n mandjie. Sy loer onderlangs na hom.

Hy braai die uie, voeg later die maalvleis by en geur die mengsel met speserye. ’n Heerlike geur vul die hele kombuis.

Hy sal iemand eendag baie gelukkig kan maak. ’n Sterk, aantreklike donkerkopman, lief vir kinders, wat boonop nog kan kosmaak ook. Hy is seker nie so onaardig soos wat sy eers gedink het nie. As hy nie ’n meisie het nie, sal hy gou genoeg een kry.

Maar sy vergeet nie dat hy ’n dokter is nie. Een wat daarvan hou om operasies in die hospitaal te doen. Hoe sal sy ooit aan so iets kan gewoond raak? Sy skud haar kop. Waar kom dié gedagte nou vandaan. So asof Ian ’n deel van haar lewe kan raak … Is sy nou laf?

Toe alles gereed is, dek sy die klein, outydse, wit geverfde houttafel in die kombuis en hou ’n bottel wyn na hom toe uit.

“Dankie dat jy ons vir ete genooi het. Ek hoop ek is vergewe, want ek kuier lekker. Dit voel of ek ’n goeie vriendin gemaak het.”

Madelie huiwer net ’n oomblik. “Natuurlik is jy vergewe.”

Ian trek vir haar die stoel uit. Voordat sy gaan sit, trek sy gou die verfhemp uit en hang dit oor die agterkant van die stoel. Sy oë volg haar bewegings en haak vir ’n oomblik by die vreeslike klein kortbroekie vas.

Sy gaan sit gou en skuif diep onder die tafel in.

Tipies man, hy wil net vriende wees, maar lees ook maar alte graag die spyskaart wanneer dit voor hom is. Sy het nuus vir hom: hierdie vriendskap het nie byvoordele nie. Nie dat sy nie dankbaar is dat hy net vriende wil wees nie. Sy sal hom nie meer kan bied nie. Vriendskap met ’n dokter – dít kan sy seker baasraak. Die berader sou trots op haar gewees het.

Toe almal om die tafel sit, lig sy haar glasie en kyk hom in die oë. “Op vriendskap.”

Hy klink glase met haar.

Handré babbel tussen die happe spaghetti deur. Hulle eet en kuier heerlik om die kombuistafeltjie.

Ná ete dring Ian daarop aan om haar interkom reg te maak.

Sy laat hom maar begaan en is verbaas oor sy vele talente toe die klokkie werk. Die man is nogal handig. “Dankie, dis gaaf van jou.”

“Ek moet darem iets doen om ons kos te verdien, maar ons sal nou moet gaan. Dié ou moet gebad kom en gaan slaap. Lekker aand verder.”

“Dankie, julle ook.” Madelie kyk hoe hulle by die hek uitstap na sy voertuig. Dit was sowaar ’n lekker aand. Verbasend genoeg.

Ondersoek my hart

Подняться наверх