Читать книгу Niggie - Ingrid Winterbach - Страница 5
Hoofstuk 2
ОглавлениеVan die boer se plaas beweeg hulle vroegoggend teen die steil helling bergop. Laat die kom waarin die boer se huis tussen die voetheuwels lê agter hulle. Bereik mettertyd ’n smal pas, waar hulle deur die berge kan gaan. Aan weerskant van die smal paadjie skiet die kranse loodreg langs hulle op. Dik sedimentêre lae modder- en sandsteen duidelik sigbaar, sien Reitz, met doleriet-intrusieplate. ’n Bergreeks van die Karoosisteem – die klipformasies so anders as die dramatiese voue van die Kaapse plooiingsgebergte. Die perdepote klink op die los klippers en die eggo’s laat voëls vervaard van die smal rotslyste opvlieg. In die grotte moet wildeheuning wees, bobbejane en die luiperd wat skuil en hurk. ’n Koue rilling gaan by hulle ruggrate af, hoewel dit helder oordag is. Die hemel ’n smal strepie weerklinkende blou direk bo hulle koppe.
Toe hulle deur die berg kom, maak ’n uitgestrekte gelykte voor hulle oop. Van hier beweeg hulle direk noordoos. Hulle volg ’n roete langs die droë loop van ’n rivier. Waar moontlik bekyk Reitz met geoefende oog die rivierwal vir tekens van fossiele wanneer hulle kort rukkies afsaal. So beweeg hulle minstens ’n halfdag ver.
Om twaalfuur toe hulle skaduwees kort om hulle hakke is, kom hulle drie swart mans op perde teë. Die mans dra hoede en komberse. Een dra die verweerde baadjie van ’n Kakie-uniform. ’n Ander dra ’n veer in sy hoed.
“Van alles en nog wat,” sê Ben onderlangs.
Die twee groepe kom teenoor mekaar tot stilstand.
“Wat wil julle hê?” vra Willem. “Ek vertrou dat julle nie die Kakies help nie.”
Die mans praat in Xhosa onder mekaar. Die leier maak ’n handgebaar wat lyk na ’n vredesteken.
Hy en Willem buig formeel na mekaar.
Dan gaan die groepie sonder om te groet by hulle verby.
“Vanaand sluit hulle by generaal Pettingale aan,” sê Ben.
“Hulle is onbewapen,” sê Willem, “soos dit hoort.”
Die res van die dag kom hulle niemand teë nie. Hulle beweeg deur ’n landskap met lae heuwels, doringbome en hoë gras. Die vlakte maak geleidelik oper. Hulle laat mettertyd die Koueberge agter hulle.
In die laatmiddag gaan hulle deur ’n groterige syspruit van ’n rivier – die Seekoeirivier dalk, wonder hulle. Kan met geen sekerheid sê nie. Hulle beweeg steeds noordoos, in die rigting van die Oranjerivier.
“O bring my terug na die ou Transvaal,” sing Ben sag.
“Ons is nog ver daarvandaan, ou Ben,” sê Reitz, “danksy Senekal se taktiese vernuf.”
“Die held van Skeurbuikhoogte,” sê Ben.
“Van Allesverloren en Droogleegte,” sê Reitz.
Hulle soek skuiling teen die hang van ’n groterige kliprant met groot, los rotsblokke. Vind ’n vlak grot. Maak vuur. Eet die kos wat die boer vir hulle ingesit het.
Jong Abraham is weer onsamehangend.
“Met die bef beroer,” sê hy.
“Abraham, wat skeel?” vra Willem. Afgetrokke.
“Kornuitsonde,” sê Abraham, en sy oë rol effens.
“Slegte nag,” sê Ben vir Reitz. “Abraham is erg opgeruie.”
Dit is middel-Februarie, die ergste somerhitte begin afneem.
“In hierdie streke word dit goed koud snags,” sê Ben.
“Onder die grond loop daar kimberlietpype,” sê Reitz, “maar of daar diamante in is, kan nie met sekerheid gesê word nie.”
“Moet dit in ieder geval nie te hard sê nie,” sê Ben.
Hulle grawe vlak holtes vir lêplek om die vuur.
Willem sien na jong Abraham om.
“Onrustig vanaand, ou Reitz?” vra Ben.
“Aa,” en: “ai tog,” sê Reitz. Vryf met die hand oor sy gesig.
Hy bly lank in die vlamme staar, want agter sy rug en in die skaduwees het hy vermoedens van teenwoordigheid. Van iets troebels wat hy agtergelaat het, maar wat hom mettertyd sal inhaal.
*
Die son kom op. Hulle is die vorige oggend van die boer se plaas weg, en drie dae vantevore van kommandant Senekal se walaer.
Senekal se kommando was die afgelope week of twee, drie in die omgewing van Beaufort-Wes gebaseer, nadat hulle sedert Oktober van die vorige jaar ’n aantal kere sonder sukses by generaal Smuts tydens een van sy invalle in die Kolonie probeer aansluit het. Nadat hulle hom in Desember weer in die omgewing van Vanrhynsdorp misgeloop het, en na die skermutseling met die Engelse by Allesverloren kort daarna, het Senekal skynbaar moed opgegee en sy soektog na Smuts laat vaar.
Ben en Reitz kon nie besluit wat die ergste was nie: die vergeefse rondswerwery agter Smuts aan, of die vasstaan op een plek daarna.
Die vier van hulle is op pad om jong Abraham na ’n gunstiger omgewing te bring – na sy moeder op Ladybrand – as sy haar nog daar bevind.
Kommandant Senekal (sy oë agterdogtig vernou; sy kop in ’n wolk tabakrook gehul) het sy toestemming hiervoor gegee, op voorwaarde dat hulle op pad ’n brief aan generaal Bergh oorhandig. Die generaal hou hom iewers in die Kolonie naby die Oranjerivier in die omgewing wes van die Skeurberge skuil.
Toe hulle vertrek, oorhandig Senekal aan hulle ’n verseëlde brief vir die generaal en ’n kaart met aanduidings hoe om by sy kamp uit te kom.
Willem Boshoff is ’n man van in die vyftig – die oudste van die vier. Hy is groot van gestalte. Gewigtig, stadig, statig. Hy praat min. Sy oë is helder soos water. Voor die oorlog was hy posmeester op sy tuisdorp. Hy het Abraham onder sy vlerk geneem die dag nadat Abraham se ouer broer langs hom doodgeskiet is by die slag van Droogleegte. Sedert dié dag het jong Abraham nie weer ’n verstaanbare sin kon sê nie.
Abraham Fouché kan nie ouer as twintig wees nie. Sy jeug is daarmee heen. Wie weet hoe sy lewe onder gunstiger omstandighede daar sou uitsien?
Reitz Steyn is lank, met ’n traagheid en aarseling in sy bewegings. Sy gelaatskleur is rooi en sproeterig. Sy ooglede is swaar, sy mond sensueel en geneig tot pruilerigheid, wat miskien die indruk kon skep van iemand wat oordrewe op die plesier van die sintuie ingestel is. Maar wat dan van die onderliggende senuweeagtigheid, die skugterheid in sy omgang met mense?
Ben Maritz is korter as Reitz, van middelmatige bou, met ylerige donker krulhare en ’n breë, oop voorkop (verbasend sterk gelyn vir ’n man van sy leeftyd). Hoewel sy glimlag ironies is, is die uitdrukking in sy oë verrassend sag en meelewend. Aan sy ongewoon ekspressiewe neusvleuels is sy reaksie op ’n situasie soms af te lees. Nie ’n persoon wat homself voorop stel nie; iemand van wie die energie spontaan uitvloei na die wêreld óm hom.
Ben is ongeveer vyf en veertig jaar oud, Reitz ’n jaar of drie jonger.
Hulle deel ’n hartstog vir die natuurlike wêreld. Hierdie gedeelde hartstog het die basis van hulle vriendskap gevorm – toe hulle toevallig saam by die Lichtenburgkommando onder kommandant Celliers beland het, nadat hulle aan die begin van die oorlog elk by ’n ander kommando aangesluit het.
Albei is sedert hulle jeug besig met waarnemings en optekenings van die natuur. Ben is so lank hy kan onthou al bedrywig met die bestudering en versameling van plantjies en insekte; altyd op soek na nuwe spesies. Hy is aan die South African College in Kaapstad in die natuurhistorie opgelei en Reitz in Engeland as geoloog. Hy was in Johannesburg as myngeoloog werksaam, alvorens hy hom in Pretoria gevestig het, waar hy besig was met ’n optekening van die geologiese kenmerke van die Middelveld toe die oorlog uitgebreek het.
*
Vroegoggend ril hulle, trek die baadjies stywer om die skouers, wanneer die koue oggendluggie agter op hulle nekke en op hulle wange en ore kom lê. Sit hulle tog voort op die tweede oggend.
Aanvanklik is hulle geselserig. Maak praatjies. Bewonder die landskap wat skynbaar eindeloos voor hulle uitstrek. Die lang gras is wuiwend. Klipkoppies voor hulle en lae berge wat soos molshopies in die verte opstoot.
Ben wys hier op ’n struik en daar op ’n voël.
Oordag word dit steeds behoorlik warm.
Oor die middaguur rus hulle in die skadu van ’n boom.
Reitz bekyk die grond aandagtig, op die uitkyk vir ’n ongewone klip, of fossiel.
Ben Maritz maak ’n tekeninkie van ’n peul. Bekyk ’n plantjie. “Aasbloem,” sê hy.
Jong Abraham sit regop met sy rug teen die boom. Houterig soos ’n pop. Willem spreek hom salwend dog ferm aan, probeer hom kry om iets te eet en te drink. Uit sy eie het die jonge skynbaar nie meer aptyt nie.
Hulle raadpleeg die kaart. Nog geen herkenbare bakens in die omgewing gevind nie. Maar volgens Willem se kompas beweeg hulle nog in die regte rigting. Noordoos.
In die agtermiddag is hulle stiller. Groot wolke beweeg oor die landskap.
Op ’n afstand sien hulle ’n trop wildsbokke. Hulle sien dassies op die los rotsblokke en een of twee springhase.
In hierdie omgewing sou hulle dus van vleis verseker wees, wanneer die biltong en meel wat die boer vir hulle saamgegee het, op is.
Skemer saal hulle by ’n lae koppie af. Skuil soos die vorige aand onder die oorhang van ’n rots, aan die kant van die koppie. Elkeen hol vir homself ’n slaapplek langs die vuur uit.
Hulle maak pap. Eet in stilte.
Na ete lees Willem uit die Bybel voor. Hy lees Spreuke 3 voor en doen daarna ’n gebed.
Voor hy gaan slaap, maak Reitz aantekeninge in sy joernaal, soos elke aand. In vergelyking met die Kaapsisteem, wat tydens die halfskemer, leë voorwêreld van die Devoon tot stand gekom het, is die Karoosisteem jonger, en onvoorstelbaar waterryk tydens die Perm- en die Triastydperk, met ’n oorvloed aan plante en diere, skryf hy. Dit is gevorm na wydverspreide vergletsering, gevolg deur ’n lang tydperk van mere, deltas en moerasse, wat tydens die Trias in woestynagtige en vulkaniese toestande geëindig het. Dit bly steeds verwonderlik, skryf hy, die talle oorblyfsels van die vroegste en mees primitiewe soogdiervoorgeslagte wat moes behoue gebly het in die grond onder ons voete – in die rotslae van die Beaufort-, Ecca- en Stormbergseries. Soveel geheime wat die aarde nog moet prysgee. Soveel wat ons nog omtrent haar verborgenhede te wete moet kom.
Omdat die oorhang en koppie min skuiling bied, slaap hulle nie gerus nie. Tot onlangs het hulle nog die beskerming van die groter getalle van die kommando geniet. Nou is hulle op hulle eie. Oordag in hierdie oopte is hulle ’n teiken vir wie ook al sin het om hulle op ’n afstand in te wag en geluidloos te oorval.
Reitz bly steeds onder die indruk van die boer se verhaal van sy afgestorwe eggenote en van sy droom van die triekstervrou. Hy kan nie sê op watter manier die verhale by hom aanklank vind nie. Hy weet alleen dat hy daarvan onrustig geword het.
*
Die oggend van die derde dag breek glorieus op die horison. Skoonheid om die keel van toe te knyp.
Vroegoggend is daar ’n geniepsige koelte in die lug. Hulle raadpleeg die kaart. Volgens berekening behoort hulle teen dié tyd al een van die bakens teëgekom het. So nie is hulle verdwaal. Of Senekal het hulle ’n streep getrek.
Soos hulle verder gaan, bekyk hulle die omgewing met selfs groter aandagtigheid as die vorige dag.
Die landskap is steeds aan die verander. Doringbome en struike word minder; die wuiwende gras maak plek vir lae bossies en kleiner struikgewassies.
’n Voël roep: kek-kek-kek-kek. Die blouvalk, sê Ben.
’n Ander voël roep: lielielie-leeeei. Die sandhoender, sê Ben.
Af en toe vra Ben Reitz uit na ’n aspek van die land; van die geologie van die omgewing.
Hulle moet gereeld afsaal sodat jong Abraham geleentheid kry om te rus.
Soms is die skaduwee waarin hulle hom laat sit bitter karig.
Willem praat bemoedigende woorde met hom. Moedhou, Abraham, dis nie meer lank nie. Ons is op pad.
Dan kyk Willem op na die lug. Sy bleekblou oë óóp soos die oppervlakke van water, gereed vir die weerkaatsing daarin van wolke.
Abraham kyk stip voor hom, met die intense swart oë in sy vermaerde, bleek gesig.
Ben bekyk aandagtig die aktiwiteit van die miere by sy voete.
“Word jy iets wys van hulle bedrywigheid, ou Ben?” vra Reitz.
“Nie net word ek iets wys nie,” sê Ben, “maar ek het pas die allerinteressantste ingewing gehad. Aangaande hulle bedrywigheid.”
Wanneer hulle rus, wys Ben die sandkewer uit en die gomtor, die oogpister en die toktokkie.
*
Volgens Willem se kompas beweeg hulle steeds noordoos.
Hulle praat – hieroor en daaroor – maar nie oor wat hulle onlangs agtergelaat het nie.
Met name die kommando onder aanvoering van kommandant Servaas Senekal.
Die held van Skeurbuikhoogte, het Ben hom soms genoem – onderlangs, uiteraard.
Held se agterent, sê Reitz dan.
Die kommandant het meesal oordag voor sy tent sit en rook. En sy vergeefse planne beraam. Dit wil sê wanneer die kommando nie voortvlugtend was nie.
Hy het ’n swart manelpak met pluiskuil gedra (soos generaal Maroela Erasmus, het van die manskappe gespot). Sy humeur selde goed. Sy oë uit fokus gerook en wantrouig vernou. Sy vermoë om die verkeerde taktiese besluit te neem skynbaar onbegrens.
Ou platkop weer in ons midde, sê Reitz dan sag.
Ou Reitz, sê Ben, die man het ’n verantwoordelikheid teenoor die volk om planne te beraam.
Se gat, sê Reitz dan. Of: Ai tog. Of soms in ’n onbewaakte oomblik: Die volk se ondergang is reeds beklink.
Versigtig, het Ben dan vermanend gesê, sekere dinge moet liefs ongesê bly.
Wanneer die kommando van die een na die volgende staanplek beweeg het, het dit Reitz en Ben die geleentheid gegee om wanneer moontlik in die omgewing veldwerk te doen. Hulle bevindinge het hulle in hulle joernale opgeteken. Hierdie joernale gaan oral met hulle saam – vir die wis en die onwis.
Die res van die kommando het meesal oordag in die skadu geslaap, kaart gespeel en gedobbel, om die tyd te vul. Weinig van die burgers het nog gelees of gereeld briewe geskryf om die dralende tyd om te kry.
Op die duur, die afgelope weke, het Reitz en Ben albei toenemend ontnugter met die verloop van die oorlog geraak. (Nie een van hulle was ooit ’n vurige voorstander van die stryd nie – Ben nog minder as Reitz.)
Is daar nog ’n leier oor wat sy sout werd is, ou Ben? vra Reitz. Dan sê Ben: Nou vra jy die verkeerde man. Of die verkeerde vraag.
Oor watter heuwel of lae koppie of vanuit watter windrigting, het Reitz gewonder, sou daar ’n boodskapper kom met goeie nuus – óf ’n opdrag, óf ’n aanduiding van ’n uitweg?
Kommandant Senekal se oordeel het nie verbeter nie, sedert hulle uit noodsaak gedwing was om by sy kommando aan te sluit in die vroegherfs van die vorige jaar. Trouens – wat daarvan oor was, was hy sigbaar aan die verloor. Daarbenewens had hy ’n swakheid vir vrouevlees en enige gepaardgaande vorm van beneweling: hetsy uit die bottel, óf aan die hand van die kruid – tabak of andersins.
Op dié manier is die bewegings van die kommando eerder bepaal deur die beskikbaarheid van bogenoemde, as deur die aanwesigheid van die vyand.
By Norraspoort het hy hulle byna in ’n gevaarlike strik gelei toe hy ’n sekere weduvrou heethoofdig agtervolg het. Mooi voorbeeld van dwarsgange gevorm deur intrusiegesteentes, het Reitz net voldoende tyd gehad om in die verbygaan op te let.
Eers by Skeurbuikhoogte en kort daarna by Allesverloren het hulle skrams met die vyand slaags geraak en nie goed daarvan afgekom nie, maar by Droogleegte – ongeveer drie weke vantevore – het hulle na twee dae se bloedige gevegte laatmiddag vyftien dooies begrawe, waaronder die knap verkenner Faan Oosthuizen, en jong Abraham se ouer broer. Die konfrontasie by Droogleegte kon vermy gewees het – die einste Faan het Senekal ten sterkste afgeraai om daar met die Kakies slaags te raak.
Verby die grafte het Reitz die aand oor die vlaktes van sandsteen uitgekyk en gedink: nou het ek genoeg gehad van bloedvergieting.
Hier het ons nou ’n goeie man verloor, ou Reitz, het Ben sag langs hom gesê. Een van die laaste goeies.
Oorkant hulle het Willem se bleekblou oë verbete die lug dopgehou. Asof vir ingewings en tekens.
By Droogleegte het jong Abraham se broer langs hom gesneuwel. Sy kop en bors is weggeskiet. Abraham het ure lank met sy broer se liggaam in sy arms gesit – totdat Willem hom daar weggelei en sedertdien in sy sorg geneem het. Die gesneuwelde broer was ’n vriend van hom.
Daarna was jong Abraham se toestand sleg, hy het opgekrul in die tent langs Reitz en Ben se tentjie gelê. Hy het nie weer samehangend gepraat nie – hy het onverstaanbaarhede geuiter, los frases, verwarde krete; snags het hy angsdrome en hallusinasies gehad. Hy het nie geëet nie, hy het nie beweeg nie. Sy liggaam was rigied soos dié van ’n dooie.
Dis toe – na Droogleegte – dat Reitz en Ben enkelsillabies en onderlangs met Willem begin praat het by die kookvure saans.
Hier ’n woord en daar ’n opmerking. Eers het Willem gesê: Die broer se bloed roep om vergelding. Vergeet van vergelding, het Ben gesê. Daar is nie meer plek of tyd vir vergelding nie.
Totdat hulle besluit het: so waai die wind en nie anders nie. Willem moet jong Abraham van Senekal se walaer wegneem na sy moeder, waar hy versorg kan word, en Reitz en Ben sal hulle vergesel, want op sy eie kan Willem nie gaan met die verswakte, geskokte jongman nie.
Intussen het Ben – meer as Reitz – dit begin oorweeg om die wapen neer te lê, die eed te teken, en na sy vrou en kinders terug te keer. Reitz het gesê: Jy weet wat die Boere doen met verraaiers.
Die plan was nou om jong Abraham terug te neem na sy moeder in Ladybrand. Vandaar sal Ben by sy vrou en kinders aangaan in sy tuisdorp Burgershoop, suidwes van Ladybrand. (Hy het hulle meer as ’n jaar gelede laas gesien.) Daarna sal hy en Reitz desnoods by ’n ander kommando aansluit. Maar nie weer terug na kommandant Senekal se walaer nie. Kom tyd, kom raad, maar nie weer terug na Senekal nie.
Senekal het teësinnig sy toestemming daarvoor gegee dat hulle Abraham na sy tuisdorp terugneem, en op ’n oggend, sewe dae vantevore, vertrek die vier van hulle met brief en kaart.
*
Agtermiddag kom hulle drie mans teë met ’n hond. Hulle het die groepie op ’n afstand aangedraf sien kom.
Die mans is geklee in inheemse drag. Meesal gebreide velle – mantels van karos – wat hulle dra met die binnevel na buite. Om hulle nekke, heupe, enkels en gewrigte dra hulle krale van sade, skulpe en knopies. Houtkrale en tande. Hulle dra vere en enkelriempies, sandale van leer, en oorbelle. Hulle dra vreemde hoedjies van vel. Die een se hoedjie is van ’n dierpels waarvan die twee oortjies van die dier aan weerskant regop staan sodat dit lyk of hulle luister. Die een het iets wat lyk na ’n vlieëslaner – ’n houtstokkie met ’n klossie perdehare vooraan. Hulle dra geen gewere nie – hulle lang spiese is handgemaak. Die leier het ’n breë, oop gesig. Hulle lyk nie onvriendelik óf onredelik nie.
Reitz dink: Op God vertrou ons dat die mense ons goedgesind is. Want hier in die oopte van die veld is daar geen skuilplek of wegkomkans nie.
Die leier rig hom tot Willem. Willem die imposante – groot, straal van hulle al vier die meeste gesag uit.
Die leier beduie met groot heftigheid. Wys met ’n kragtige beweging van die regterhand vóór hom. Sy arm beskryf ’n sirkel langs sy oor verby, kom op ooghoogte tot stilstand – vier vingers teenmekaar aangedruk – en val dan tot langs sy sy. Hierdie beweging herhaal hy vier tot vyf keer.
Willem probeer kennelik sy bes om te verstaan wat die man probeer sê en beduie.
“Ek kan sweer,” sê Ben sag, opgewonde, “dat die mense afstammelinge van die !Kora of selfs Gonnahottentotte is. Wie sou kon dink dat daar nog van hulle in die omgewing is! Ek sou dink dat hulle almal lankal uitgesterf is.”
Willem kyk beurtelings aandagtig in die rigting waar die man beduie, en dan weer na die man self.
Om hulle súis die stilte.
Willem skud sy kop net stadig heen en weer.
Die leier beduie weer en maak skielik met die wysvinger ’n snybeweging oor sy keel. En beduie weer met die hand.
“Genade,” sê Reitz. “Keelaf, ou Willem. Ons of hulle.”
“Iemand anders,” sê Willem, vasberade.
“Dié mense praat geen taal nie,” sê Reitz. “Dis ’n versameling gorrelings en roggelings.”
“Die taal is ’n vorm van !Kora-Hottentots,” sê Ben, “volgens my so goed as uitgestorwe! Geen wonder dat ons daar niks van begryp nie!”
Ben is opgewonde; Willem is bekommerd.
Die mans het ’n vleisreuk en hulle velle blink asof dit met vet ingevryf is. Reitz kom agter dat hy hulle geur dieper insnuif, omdat hy honger is.
Nou bring die leier skielik ’n velsakkie te voorskyn uit die gelaagde dieptes van sy klere.
Hieruit haal hy ’n stukkie papier.
Hy hurk op die grond, vou die papier oop: ’n kaart.
Hy wink Willem met ’n elegante handgebaar nader.
Willem hurk langs hom.
Die hond staan met gespitste ore.
Die ander staan op ’n respekvolle afstand.
“Ons lot word hier beklink, ou Ben,” sê Reitz sag, “en ons weet dit nie eers nie.”
“Verbasend,” sê Ben met verwondering. “Verbasend die mense hier.”
Reitz maak ’n lae, sagte geluid in sy keel: ’n sagte uitroep of kreet, omdat hy skielik merk dat daar uit die sagte voue van die kleinste, en vermoedelik jongste van die drie mans se klere iets lewendigs te voorskyn kom. Die snoet van ’n kleinerige dier. Moet ’n meerkat of iets wees. Die man laat die diertjie uitkruip en op sy arm sit. Reitz probeer onderlangs vir Ben beduie.
Die hond spits sy ore aandagtiger.
Willem vou die kaart oop. “Hiervan word ek nie veel wys nie,” sê hy. Hy laat Ben en Reitz dit sien. Op die oog af onontsyferbaar. Willem wil dit aan die leier teruggee.
Hou die kaart, beduie die man.
Willem vou dit stadig op. Sit dit in sy baadjiesak.
Die jong man met die mak meerkatjie, wat sy gesig deurentyd half afgewend gehou het, kyk skielik skalks op, en teen die kant van sy gesig, half oor sy gladde wang, sien Reitz vir ’n oomblik ’n klossie vere blink. Dieppers, rooigroen in die gloed van die laaste namiddaglig.
Hulle groet. Klim op hulle perde. Die mans draai om en draf weg. Word vinnig kleiner.
“Dit kan een van twee dinge wees,” sê Willem. “’n Lokval deur die Engelse of ’n afvaardiging gestuur deur generaal Bergh.”
“Ou Willem,” sê Ben lakoniek, “ter wille van ons sieleheil stel ek voor ons aanvaar dit as laasgenoemde. Wat my meer interesseer, is waar hierdie mense vandaan kom. Ek kan sweer, ek kan my kop op ’n blok sit. Die kleredrag. Die taal. Alles dui daarop.”
Laatmiddag soek hulle weer skuilte aan die kant van ’n lae kliprantjie. Een van die weiniges in die omgewing. Eintlik nouliks ’n rantjie – meer ’n versameling los rotsblokke.
Hulle maak vuur. Bekyk die kaart wat hulle by die groepie gekry het. Dit is dun verweer van die herhaaldelike oop- en toevou. Gegewens is in potlood aangebring en byna onleesbaar. ’n Woord wat min of meer lyk op Skeurberge word aangedui en ’n paar ander byna onontsyferbare bakens: kruise, sirkels, pyltjies. Hulle besluit dat die kaart enigiets kan beteken, dat hulle dit net sowel in goeie geloof kan aanvaar en kyk of dit mettertyd iets duideliker maak. Hulle is egter nog steeds op Senekal se kaart en Willem se kompas aangewys.
Hulle het die afgelope twee dae te skerp noordoos beweeg, sien hulle.
“Onverklaarbaar,” sê Willem nadenkend. “Onverklaarbaar waar die mense aan die kaart gekom het.”
Toe hulle in hulle holtes ingewurm lê, gereed vir slaap, vra Reitz vir Ben of hy ook die meerkat op die man se arm gesien het.
Dit was nie ’n meerkat nie, sê Ben, dit was ’n muishond – ’n streepmuishond – om presies te wees.
Hulle maak beurte om wakker te bly – een van hulle moet die heeltyd waaksaam wees.
Toe dit Reitz se beurt is, sit die maan reeds hoog en helder in die oop naghemel. ’n Jakkals tjank. Die nagveld is wyd en uitgestrek. Die sterrehemel is dig en luisterryk, so groot van einder tot einder dat dit lyk of die koepel van die hemel gelig het. Hy sit regop by die vuur, probeer so goed moontlik warm bly, sy baadjie en kombers oor sy skouers.
Reitz weet sy is daar. ’n Teenwoordigheid: agter die klippe, en agter die daaglikse ommegang en snags, agter die drome en die nagreuke en die sagte geroep en geskarrel van klein diertjies. Hy dink: Hulle word deur ’n membraan geskei waarteen sy aandruk, en druk, om na hom toe deur te bars.
*
Vroegoggend is hulle stram van die nag se slaap.
Hulle sit koulik om die vuur gehurk. Maak ’n potjie pap. Drink ’n bekertjie koffie. Nog van die boer se voorrade, en dit raak min.
“Oordink die volgende,” sê Ben skielik, terwyl hy voor hom in die vuur staar.
“Twee en ’n half jaar gelede is ons in die naam van die president opgeroep. Omdat dit ons vaderlandse plig was, het ons by ons kommando’s aangesluit.”
Hy bly ’n rukkie stil. Willem en Reitz kyk afwagtend.
“By Boskop is Frederik Botha in die kop geskiet,” sê Ben, “ons pa’s het mekaar goed geken. By Elandslaagte het ’n bomskerf my neef Johannes in die sy getref; hy is drie dae later dood. By Nicholsonsnek het Frans Bothma en Kleinjan Beukes langs mekaar geval. Lewer- en maagwond onderskeidelik. Ek het hulle albei goed geken. By Leerlaagte, Vleesfontein en Skulpkraal het ons altesaam tweehonderd man verloor – waaronder my swaer, Jurie Botes. In Januarie vanjaar het Sakkie Ehlers en ses ander die eed onderteken. Hulle is al sewe tereggestel. Ek en Sakkie het as kinders saamgespeel. By Paardeberg het vierduisend man oorgegee en is gevange geneem. Oorlogsgevangenes. Weggestuur. Ek weet van ten minste drie manne daar wat ek geken het. By Skeurbuikhoogte is van ons beste manne gevangene geneem, en by Droogleegte,” hy kyk in die rigting van jong Abraham ’n entjie daarvandaan, “nou ja,” sê hy.
Hy bly eers stil.
“Ek weet nie hoe dit met my twee broers gesteld is nie. Ek het lanklaas berig van hulle gehad.” Ben kyk lank voor hom na die vlamme. Dan sê hy sag: “Ja, ja.” Hy knip sy oë sonder om sy blik van die vlamme af te wend. “Ek het van die begin af geweet,” sê hy, “daar kom van hierdie oorlog niks goeds nie.”
Hulle bly almal stil. Die belangrikste bly ongesê, dink Reitz. Ben praat nie oor die welsyn van sy vrou en kinders nie; hy weet nie vir seker waar hulle hulle bevind nie. Ewe min as wat Willem weet of sy vrou nog op die dorp met haar twee getroude dogters en dié se kinders is.
Willem se hande hang willoos slap tussen sy knieë. Sy oë is bleek soos rivierklippe.
“Ek glo nog in die eer van ons saak,” sê hy, en hy staan op en gaan na jong Abraham, wat skeef opgebondel teen ’n klip aangeleun sit. Hoekig uitgeteer.
Reitz draai van die vuur weg. “Ben,” sê hy na ’n ruk, “een van die mans gister. Een van die mans wat ons teëgekom het. Die een met die mak muishond. Was dit nie dalk ’n vrou nie?”
*
Soos hulle dieper die land inry, beman met Senekal se kaart en die onontsyferbare een van die drie swart mans in inheemse kleding, met die dae wat nouliks merkbaar korter word en die nagte langer, volgens die kompas nou in ’n meer noordwestelike rigting, sien hulle in die daaropvolgende vier dae soggens sonsopkomste van ongewone prag en saans sonsondergange van ongewone glorie in purper, roos en goud – meer indrukwekkend, majesteitlik, dramaties as wat hulle in die afgelope maande teëgekom het in hulle omswerwinge.
Soggens sê hulle min. Stram na die nag se koue en ongemaklike slaap. Onseker oor wat die dag gaan oplewer. Vriend of vyand uit watter onverwagte oord. Onseker of hulle die regte roete volg. Voortdurend gespanne, op die uitkyk vir ’n lokval of hindernis. Vir enige verdagte stofwolkie op die horison wat klinkend óm en óm hulle sirkel in nimmereindigende uitgestrektheid.
Ook in die loop van die dag is hulle minder geneig om te praat. Willem hou jong Abraham voortdurend in die oog. Snags waak hy sorgsaam oor hom. Die jongman slaap selde rustig. Hy prewel en kreun en roep soms in onverstaanbare frases uit. Dan kom Willem se stem gerusstellend, deurbreek hulle onrustige drome. So laat hulle hulle ook gerusstel – Reitz en Ben. So slaap hulle asof met die ore gespits soos honde, gekeer na welke windrigting van waaruit hulle die geringste vermoede van ’n geluid gewaar – iets anders as die gewone naggeluide, die geskarrel van klein diertjies, die veraf roep van die jakkals en soms die uil, die geswiep van vlermuise, die sagte en soms onrustige gesnork van die perde.
Sy is daar bedags, vir Reitz, yl soos die maan se deursigtige skyf, en snags steeds dringender, die vermoede van die vrou, agter drome en in geluide en in die skitterende roetes van die verskietende sterre.
Op die vierde oggend kom hulle op ’n wa af met drie geraamtes daaronder. Twee volwassenes en dié van ’n kind. Tussen die mierneste in die harde veld met die skamele graspolletjies. Geen tekens van die oorblyfsels van trekdiere nie. Iemand moes daarmee weggekom het. Net die barre wa, klaarblyklik geplunder, want niks het daarin oorgebly nie, selfs die wiele gestroop. Nie moontlik om te sien hoe hulle dood is nie. Wa geplunder, beeste en perde daarmee heen.
“Dit moet die mense wees van wie …” Ben kyk of Abraham buite hoorafstand is, “die mans beduie het dat die keel afgesny is.”
Abraham sit en kyk met groot verstarde oë. Gee nie aanduiding dat hy hoor wat gesê word nie.
“Alles afgevat,” sê Willem.
“En die aasvoëls en aasdiere het seker die laaste opruimingswerk gedoen,” sê Reitz.
“Aasvoël eet die vlees, jakkals eet die vlees en bene, kraai wag vir aasvoël om die karkas oop te maak, baardaasvoël eet die murg in die bene, brommer lê haar eiers in die vlees, en mier eet die bietjies vleis wat oorbly,” sê Ben, half ingedagte.
Hulle klim van die perde af.
Willem lei Abraham weg om ’n entjie daarvandaan in die skamel skadu van ’n paar boompies uit te rus.
“Net hier is hulle vuurtjie doodgemaak,” sê Ben, en skop teen ’n groot verswarte klip.
“Aardig,” sê Reitz, en voel ’n rilling by sy ruggraat afgaan.
Jong Abraham lyk of hy ’n aanval van die ritteltits gaan kry. Willem laat hom voorkomend versigtig aan ’n bietjie brandewyn proe – geskenk nog deur die boer. Reitz durf die afgelope dae steeds minder in Abraham se rigting kyk. Hulle water raak min – hulle is knaend op die uitkyk vir ’n stroompie. Die meel is byna op. Gelukkig dra Ben kennis van eetbare knolletjies in die omgewing.
*
Nou begin dit voel asof hulle nie meer vordering maak nie. Hulle beweeg deur ’n bar gebied met klein bossies, lae heuweltjies op ’n afstand. Geen boom of stroom nie. Miershope en af en toe ’n klipsalmander.
Soos hulle verder noord beweeg, steeds dieper die onbekende in, begin hulle steeds minder praat, of begin hulle op ’n ánder manier praat. Toe hulle pas by die kommando weg is, was dit anders, maar na hulle besoek aan die boer was dit asof hulle geleidelik stiller begin word. En so met elke dag saam, dieper die land in, word hulle steeds minder geneig om hulle gedagtes met mekaar te deel. Miskien is dit dat hulle gedagtes, soos die plantegroei, kariger word.
Die landskap raak geleidelik oper en platter. Die afstande tussen einder en einder kom groter voor. Hulle gedagtes dwarrel gewoon weg. Dit word yl en lig soos tolbos. Hulle sien die horison. Hulle sien die veranderende wolkformasies. Hulle sien die skaduwees van die wolke oor die landskap beweeg. Hulle sien die bossies, die klippe en die mierneste. Wat moet hulle hierby voeg?
Taaibos, sê Ben soms. Hardepeer en kriedoring, sê hy nadenkend, afgetrokke. Aalwee en bitteraalwee. Bitterboegoe. Kankerbos. Bitterwortel en kankerblaar. Huilbos. Hulle weet nie of hy meer iets spesifieks uitwys en of hy homself aan die name herinner nie.
Elke dag net nog ’n lekseltjie water, en saans die lippe met brandewyn natmaak. Bedags begin hulle blare kou. Uintjies en knolletjies. Oordag is dit warm. Snags is dit koud. Waar moontlik skuil hulle langs ’n rots, ’n groterige grondwal, enigiets in die plat uitgestrektheid wat effens meer beskerming bied, sodat hulle vuur kan maak sonder om gesien te word.
Hulle het die boer agtergelaat, met sy verhulde verdriet, asof hy hulle nooit van sy droom vertel het nie. Nog verder terug het hulle die kommando agtergelaat, asof hulle nie al die maande aan die slopende daaglikse roetine daarvan onderwerp was nie. Hulle raak los van die moer, van waarvandaan hulle gekom het, en van waarheen hulle op pad is. Hulle vorige lewe ontbind. Hoe gou gebeur dit, dink Reitz. Hoe gou het hulle alles agtergelaat. Hulle het nie meer naspeurbare wortels nie.
Willem se sorgsaamheid teenoor jong Abraham vorm ’n web van vastigheid, ’n stewige maar onsigbare net waarin hulle gevang word, sodra hulle wil verdwyn, sodra hulle wil oplos en ontbind soos warrelstoffies.
Vroeër was hulle taal ruier, hulle reaksies skerper; hulle was meer op mekaar ingestel. Nou is Willem hulle hoeder, of moeder, ewe veel as jong Abraham s’n. Dit is Willem wat bedags sê: Dis goed Abraham, hou moed. Siedaar, Abraham, hou moed. Rustig nou, Abraham, rustig nou. Ons is op pad.
Na vryheid, sê Ben een keer, en lag sag.
Die son skeef teen sononder. Sieal, sê Reitz. Siels, sê Ben, en: Stoksielsalig.
Abraham se diep swye raak dieper oordag; soms is hy bibberend teen skemer; snags word sy prewelings koorsagtig en meer dringend. Straks, prewel Willem in sy slaap. Rustig, prewel hy. Dit sal verbygaan, Abraham, prewel hy, met die tong swaar van benewelde maar waaksame slaap. Ook hulle word vertroos deur Willem se vertroosting van Abraham. Dit vorm ’n nagtelike skans teen die oorwig van bose drome en onderdrukte verlangens, en pynlike herinnerings aan ’n brose orde.
Een oggend is Willem se oë so helder soos spoelklippe en daar loop trane oor sy wange. Reitz kyk verskrik weg en merk dat Ben, toe hy dit merk, se gesig diep rooi word.
*
Toe die vlakte op sy wydste oopmaak en beskerming en skuiling die karigste is, toe is hulle swye die diepste. Toe neem die landskap oor en vat die gedagtes uit hulle hoofde en die woorde uit hulle monde. Hulle merk die gang van die son, hulle sien die plek waar die horison die hemel ontmoet, hulle hoor die geluid van die perde se pote.
So woordeloos swygend as wat die dag is, so skrikwekkend en chaoties is hulle droombeelde. Hulle hol saans steeds dieper lêplekke in die grond uit as beskerming teen die geniepsige koue in die vroemôre. Soos Hottentotte, sê Reitz. Hy raak banger vir slaap, hoe nodig hy dit ook al het. Want net vóór sonsopkoms, tydens die fase van diepste slaap, word hy soms hortend wakker uit drome met die mees onverkwiklike inhoude. Dooie oë. Dooie tande. Bloederige hare. Half benewel, maar te verskrik om weer in te slaap.
Die aarde hier was vroeër ’n reusemoeras gewees, sê hy een oggend, met iets soos verwondering.
Toe hulle ’n punt bereik na ’n paar dae waar die omgewing so bar en verlate is, so van God en mens en geskiedenis ontdaan, so stil dat die stilte bedags ’n aanslag op die binneoor is, toe sien hulle in die verte die yl hoepel van ’n lae bergreeks.
“Moet die Skeurberge wees,” sê Ben.
“Aalmoesie,” sê Abraham skielik. Almal lag, van verbasing oor die herkenbare woord. Selfs Abraham lag, ’n kort, skewe laggie. En dit is soos ’n teken, as hulle ooit vir een gesoek het, dat hulle tot so ver oorleef het.
*
Die veraf bergreeks begin steeds vaster vorm kry.
Die landskap wat voortdurend verander het, begin vaster kontoere kry. Daar is meer bossies, meer struikgewassies, enkele klipheuweltjies op ’n afstand, meer voëls, meer insekte, selfs op ’n afstand bokke, en op ’n rotsblok dassies.
Op die vyfde oggend sedert hulle van die boer weg is, is daar selfs aasvoëls in die lug. Dan moet daar iewers kranse wees, meen Ben.
Hulle kyk skuins op na die voëls in die lug.
“Aasvoëloë,” sê Reitz, “waarmee hulle ons dophou.”
“Aasvoëlvet, as geneesmiddel,” sê Ben.
“Aasvoëlkrans,” sê Reitz, “waar aasvoëls broei.”
“Aasvoëltee,” sê Ben, “laat die diere vrek.”
“Aasvreter,” sê Reitz, “dier wat aas vreet.”
“Aaskewer,” sê Ben, “kewertjie wat op dierlike reste leef.”
“Bokdrol,” sê Reitz, “die drol van ’n bok.”
“Bokdruiwe,” sê Ben, “verwant aan die bokduwweltjie.”
“Bokmelk,” sê Reitz, “die melk van ’n bok.”
“Bokdrolbessie,” sê Ben, “die sap is soet en klewerig.”
“Daspis,” sê Reitz. “Die pis van ’n das.”
“Jaspis,” sê Willem, “strate van jaspis en goud.”
“Hemel, ou Willem!” sê Ben. “Hemelkruid – met sy soet geur.”
“Hemelhoog,” sê Reitz, “so hoog soos die hemel.”
“Hawer,” sê Willem, “perde se voer.”
“Gawer,” sê Ben, “gawer as wat Peternella was, kon niemand ooit wees nie.”
Selfs Willem glimlag.
In die trant gaan hulle aan. Hulle oog op die lae, uitgestrekte bergreeks wat steeds vaster vorm kry. Moed bymekaargeskraap?
Hulle moet afsaal. ’n Geweldige stofstorm oorval hulle. Hulle het dit aanvanklik nie op die afstand sien aankom nie. Sit saamgehurk teen die flanke van die perde. Maak hulle lippe nat met die laaste van die louerige water. Kou van die blare wat Ben by hom het.
Toe hulle weer opgesaal het en op pad is, sê Willem skielik: “Kafferwaatlemoenkonfyt – die allerheerlikste wat daar is.”
“Kafferakasia,” sê Ben, “of kaffer-wag-’n-bietjie, ’n soort boom.”
“Kafferbees,” sê Willem, “bees wat aan ’n Kaffer behoort.”
“Kafferbaai,” sê Reitz, “’n soort linne.”
“Kafferbessiebos,” sê Ben, “’n rosyntjiebos.”
“Kafferbier,” sê Reitz, “drank wat Kaffers drink.”
“Kafferarbeid,” sê Willem, “werk wat nie geskik is vir wit mense nie.”
“Kafferbokrooitjie,” sê Ben, “’n groot rooibruin skoenlapper.”
“Kafferbeul,” sê Reitz, “’n beul wat Kaffers teregstel, of ’n verdrukker van Kaffers.”
“Kafferkalmoes,” sê Ben, “meerjarige struikgewas.”
“Kafferklip,” sê Reitz, “klip wat jy in gruis vind wat die aanwesigheid van diamante aandui.”
“Kafferkaptein,” sê Willem, “hoofman van ’n Kafferstam.”
“Kafferkopervlerkie,” sê Ben, “kleinerige, bruin skoenlapper.”
“Kaffergraf,” sê Reitz, “dwarswal oor ’n pad om verspoeling te voorkom.”
“Kafferkraal,” sê Willem, “verblyfplek van Kaffers.”
“Kafferswawel,” sê Ben, “soort windswawel.”
“Kafferpond,” sê Reitz, “naam vir ’n pennie.”
“Kafferoorlog,” sê Willem, “oorlog tussen Witmense en Kaffers.”
“Kafferkoringmuggie,” sê Ben, “klein galmuggie met helder vlerke.”
“Kafferkoring,” sê Reitz, “fyn diamanthoudende gruis.”
“Kaffersendeling,” sê Willem, “sendeling wat onder Kaffers werk.”
“Kafferpyl,” sê Ben, “’n knapsakkerwel.”
“Kafferhalfkroon,” sê Reitz, “ander naam vir ’n pennie.”
“Kaffernasie,” sê Willem, “nasie bestaande uit Kaffers.”
En met dié speletjie vermaak hulle hulle, totdat hulle laatmiddag ’n groenerige gebied bereik, met volop doringbome en aalwyne en – tot hulle groot vreugde – ’n klein sanderige stroompie. (Sytak van die Oranje?) Hulle drink. Vul alle houers. Die diere drink. Teen skemer bereik hulle ’n klipperige heuwel met ’n gerieflike oorhangrots. Kan hier ’n groterige vuur maak, sonder gevaar om maklik gesien te word. Maak ’n klein bietjie pap. Flou koffie. Voor hulle eet aan die karige maal, vra Willem soos elke aand die seën. Nadat hy uit die Bybel voorgelees het, maak hy ’n diep dankbare gebed, waarin hy God dank vir sy barmhartigheid, en vir die water vandag om hulle dors mee te les.
Hulle lê in hulle uitgeholde slaapplekke, digby die vuur. (Willem en Abraham ’n entjie verder, nader aan die agterkant van die rotsoorhang.) Ben en Reitz se joernale soos altyd onder hulle koppe as steun en vir die veiligheid van die boek, sou daar onverwags met die perde iets gebeur.
Ben vra vir Reitz, sag, soos hulle gewoonte is om met mekaar te praat, sodat hulle Willem en Abraham nie steur nie.
“Het jy al ooit gewonder, Reitz,” vra Ben, “hoe dit sal wees as een of ander hemelliggaam die aarde moet tref?”
Reitz dink na. Vryf met die hand oor sy gesig.
“Ek stel my voor,” sê hy, “dat daar eers ’n enorme gloed op die horison sal verskyn, soos ’n vuur – soos ’n onvoorstelbaar reusagtige vuur. Dan die slag. Gevolg deur die reusesiddering, en dan die hittegolwe, golf op golf, wat alles in hulle pad oopskroei en verskrompel. Hittegolwe wat die aarde bar lê.”
“A,” sê Ben, “goeiste.”
“Nog veel meer bar,” sê Reitz, “as enigiets wat ons ons kan voorstel.”
“Meer as die verwoesting van die oorlog,” sê Ben met ’n laggie.
“Véél, véél meer,” sê Reitz, “veel meer as die verwoesting wat ons op plekke gesien het.”
“A,” sê Ben. “Onvoorstelbaar.”
“Ja,” sê Reitz, “onvoorstelbaar.”
*
Die sesde dag sedert hulle van die boer weg is, bereik hulle in die agtermiddag ’n hoogtetjie – ’n effense plato – van waar hulle op ’n afstand ’n plaashuis gewaar.
Hulle bekyk die kaart. Baie dofweg word iets aangedui wat ’n huis sou kon wees. Hulle beweeg versigtig nader. Maar hoe nader hulle kom, hoe duideliker word die verlatenheid van die plek. Daar is geen honde wat blaf nie, geen rook nie, geen beweging op die werf nie.
Teen sononder saal hulle naby die huis af. Stel versigtig ondersoek in. Dit is ’n groot, stewige kliphuis, met breë klipstoepe aan die voor- en agterkant. Voor die vensters en deure is daar planke vasgespyker. Aan die agterkant groei ’n reuse-wingerdstok dig teen die huis, rank op teen ’n prieel. Ben meen dat dit meer as honderd jaar oud moet wees. Die voortuin is oorgroei van onkruid, maar die roosbome is nog sigbaar. Die vensters van die buitekamers is eweneens met planke toegespyker. Die hoenderhok is leeg. Die dam ’n entjie van die huis is halfvol, die water het ’n groen laag bo-op, daar is die swaar reuk van verrotting. Die vrugteboord is ook met onkruid oorgroei, die laaste laatsomer drag lê halfverrot onder die bome. Hulle soek naarstiglik vir iets eetbaars. Vind tot hulle blydskap hier en daar nog ’n oorryp of halfverskrompelde vruggie. Verslind dit met wurm en al.
Hulle snuif diep aan die geure van verrotting in die boord. Alles hier ineens so koel en geurig, so vrugtig verrot, so skaduryk, so soet, so nameloos, na die oorverligte, harde, bar, eindelose landskap waardeur hulle die afgelope dae beweeg het.
Die beeskraal ’n entjie van die huis is ook leeg.
Dit is dodelik stil op die werf – ’n verlatenheid wat die hart aangryp en knel. ’n Somber bui oorval hulle.
“Waarheen sou die mense uitgewyk het?” vra Reitz.
“Wie sal weet,” sê Ben, “wie sal weet watter onheil hulle hier te wagte was?”
“Kakies op die spoor van rebelle,” sê Willem, beslis.
“Dis goed moontlik,” sê Reitz, “dat die inwoners iewers in die rantjies skuil.”
Goed moontlik inderdaad, want die klipkoppies sal goeie skuiling bied. Hulle tuur in die halfdonker in die omgewing rond, maar in die sterk skemer is daar nie veel sigbaar nie.
Hulle sit besluiteloos op die stoep, aan die suidekant van die huis. Oorval van tamheid en gebrek aan moed, of vooruitsig.
“Ek het ’n gevoel,” sê Willem, en hy hou sy vinger op, asof hy luister, “dat ons naby mense is.”
Reitz kreun sag.
“Goeiste, ou Willem,” sê Ben, “vriend of vyand?”
“Vriend,” sê Willem, sonder aarseling.
Die maan kom op, reeds byna in haar eerste kwartier. Dit word vinnig koud, en hoewel traag om dit te doen, maak hulle ’n entjie van die huis aan die kant van die boord hulle vuurtjie.
“Geduld,” sê Willem. “Ons moet die geloof behou.”
“Van watter geloof praat hy nou, ou Reitz?” vra Ben sag.
Hulle sit digby die vuur. Verwarm hulle hande.
“Noudat ons in die omgewing van mense is,” sê Reitz, “is ek skielik op my senuwees.”
“Die opregte het niks te vrese nie,” sê Ben plaerig.
Willem kyk hom vermanend aan.
Hulle maak ’n skamele potjie pap. Die hitte daarvan is vertroostend, al skiet die hoeveelheid hopeloos te kort. Willem lees uit die Bybel voor. Hy lees Daniël drie en vier: Die vriende van Daniël in die vuuroond, Nebukadnésar se kranksinnigheid. In sy gebed dank hy die Here dat Hy steeds sy hand van beskerming oor hulle hou, en dat hulle daardeur niks het om te vrees nie. (Reitz loer onderlangs na Ben.)
Onder die gebed word hulle skielik van ’n beweging in die omgewing van die beeskraal bewus. Ben en Reitz gryp dadelik na hulle gewere. Versigtig, maan Willem nog, toe daar uit die donkerte in die gloed van die vuur twee mense sigbaar word. ’n Wit man en ’n swart man. Albei hou gewere op hulle gerig.
“Wat soek julle manne hier?” vra die wit man bars. Hy bekyk hulle wantrouig. Hy is korterig. Stewig gebou. Breë gesig, breed oor die wangbene. Krullerige hare. ’n Boefgesig. Hou die kop effens uitdagend vorentoe – veglustig; brutaal. Sy verslete baadjie is met pendorings voor vasgemaak.
Willem verduidelik waarom hulle hier is.
“A!” sê die man. Hy swaai effens op sy voete en sy spraak is ’n raps diktongig. “Op die een of ander sending. Julle wil die generaal sien. Julle lyk vir my na drosters.”
“Ligtelik besope?” sê Reitz onderlangs teenoor Ben.
Agter die man hang die swart man terug in die skaduwee. Hy is lank, sterkgebou, met ’n welgevormde hoof, breë wangbene en ’n donker, prominent gewelfde mond.
Kafferbeul, dink Reitz, onwillekeurig.
Die man draai skielik om na die swart man agter hom.
“Esegiël,” sê hy, met wye gebaar in die man se rigting, “is ’n Kaffer om mee rekening te hou. Julle kan hom enigiets vra. Vra hom iets!”
Hulle kyk algar oorbluf.
“Toe!” sê die man ongeduldig. “Vra hom iets uit die Bybel!” Hy stamp ongeduldig met die geweerkolf. “Of het julle drostermanne nie vrae nie?!”
Ben en Reitz kyk onderlangs na Willem, die bron van hulle Bybelkennis. Willem neem aanstoot, hou nie van die aantyging nie, kry ’n kleurtjie.
“Wie,” vra Willem gewigtig, nadat hy ’n paar sekondes geaarsel het, “wie was die tweelingseuns van Tamar, die skoondogter van Juda?”
Die swart man lig sy kop. Hy neem ’n tree vorentoe. Die wit van sy oë ’n paar oomblikke lank sigbaar in die gloed van die vlamme.
“Die seuns van Tamar,” sê Esegiël, “was Peres en Serag.”
“Reg?!” roep die wit man.
“Reg,” sê Willem plegtig.
“Wat het ek julle gesê?!” sê die man. En hy stamp triomfantlik met sy geweerkolf op die grond.
“Nog iets,” sê hy. “Vra nog iets. Vra iets uit die geskiedenis. Ons eie geskiedenis. Nie Kaffergeskiedenis of Kakiegeskiedenis nie.”
“Onder wie se aanvoering,” vra Ben, “was die Boere by die slag van Nooitgedacht in die Transvaal?”
Willem kyk hom beskuldigend aan, asof hy nou te ver gegaan het.
Is Ben nou moedswillig? wonder Reitz.
Weer eens gee die man ’n tree vorentoe, rol sy oë boontoe dat die witte glim in die vuurgloed, en dink ’n oomblik na.
“Die Boere,” sê hy, “was onder aanvoering van generaal De la Rey, generaal Smuts en generaal Beyers.”
“Reg?!” roep die wit man.
“Reg,” sê Ben.
“Nou wat de hel het ek julle gesê!” sê die man.
Sodra Esegiël geantwoord het, gee hy weer ’n tree terug en staan uitdrukkingloos in die nagskadu.
“Kom,” sê die man ineens. “Ek is Gert Smal. Ek het nie tyd om te mors nie. Kry julle goed. Bring die perde. Kom saam.”
So gaan hulle met ’n paadjie verby die beeskraal, deur ’n laagtetjie, en dan by ’n groterige koppie op, agter Gert Smal aan, met Esegiël die slim Kaffer wat die agterhoede vorm.