Читать книгу Niggie - Ingrid Winterbach - Страница 6

Hoofstuk 3

Оглавление

Gert Smal lei hulle na die kamp teen die agterkant van die groterige koppie, wat meesal uit los rotsblokke bestaan. Teen die hoogste kant is ’n grot met ’n diep oorhang, en ’n soliede rotswand daarnaas. Voor hierdie rotsoorhang is ’n groot, oop ruimte met ’n vuurmaakplek. Daaromheen, op verskillende plekke tussen die groot rotsblokke, is ’n aantal skerms opgerig. Die los rotse en die digte struikgewas lyk of dit aansienlike beskerming bied. (Meer as wat hulle in ’n lang tyd gesien het.) Hier van bo is die plaashuis goed sigbaar in die effense kom onder hulle.

Dit is reeds donker toe hulle aankom. Die manne om die vuur is besig om te eet. Daar is die benewelende reuk van vleis en pap.

Hulle word deur Gert Smal aangesê waar hulle hulle slaapplekke vannag kan maak. Daar is grasse en hotnoskooigoed wat hulle as matrasse kan gebruik. Môre sal Esegiël vir hulle ook skerms bou, sê hy, niemand kan ’n skerm bou soos daardie Kaffer nie.

Esegiël word aangesê om hulle perde te versorg, wat saam met die ander ’n ent verderaf teen die koppie gehou word.

Hulle neem met dankbaarheid plaas by die vuur. Behalwe Gert Smal met die boefgesig is daar Japie Stilgemoed – ’n maer, seningrige man met ’n skerp, intense gesig en hare wat wild en regop van sy hoë voorkop af weggroei. Behalwe ’n snor, is sy gesig gladgeskeer. Daar is Kosie Rijpma – ’n klein, delikaat geboude man, met welig krullende donker hare, ’n kort, netjies geknipte, donker baard, en donker, sielvolle oë – wat ineengedoke sit en niemand aankyk nie. Daar is Ruieben Wessels – ’n groot man met ’n lewendige, maar verweerde gesig, ’n ruie baard en hare, groot hande en een been wat kort onder die knie af is. Daar is Seun – ’n maer jongeling, jonger as jong Abraham – nie veel ouer as veertien, vyftien nie – met ’n kortgeskeerde kop en ’n haaslip. Daar is Gert Smal se hond, ’n slank dier met geel oë wat agterdogtig knor en onwennig op ’n afstand bly. En daar is Esegiël, gehurk net buite die onmiddellike gloed van die vuur.

“Genade, ou Ben,” sê Reitz sag, onderlangs vir Ben, “wie het ons nou almal hier?”

Ben antwoord nie, maar sy neusvleuels sper senuweeagtig, soos wanneer hy onseker is van ’n situasie.

Hulle is so honger dat hulle aanvanklik moeite het om op iets anders as die kos te konsentreer. Willem moet selfs vir Abraham maan om stadiger te eet.

“Stadig,” sê Gert Smal, “anders kots julle vanaand algar op ’n streep.” Hy skink kort-kort sy blikbeker flink vol uit ’n bottel.

“Honger gehad afgelope dae?” vra Ruieben. En gooi ’n been na die hond wat uit die skadu nader sluip om dit op te tel. Sy neem dit in haar bek en gaan weer by Gert Smal se voete lê. “Tág,” sê hy, “die honger kan lélik aan ’n man se derms vreet. Van honger kan julle my niks vertel nie!”

Na hulle geëet het, skuif Japie Stilgemoed nader aan die vuur en lees uit die Bybel voor. Hy lees Job 27 vanaf die eerste tot die drie en twintigste vers: Job wat sy onskuld voor God handhaaf; Job wat sy vriende daarop wys hoe min ooreenkoms daar tussen hom en ’n goddelose is; Job wat erken dat die reg van God dikwels in die ondergang van goddeloses geopenbaar word, hoewel dit nie op hom toepaslik is nie, want hy is geen goddelose nie.

Nadat hy gelees het, bid hy – ’n skugter maar innige gebed. Hy dank God dat die nuwelinge veilig by hulle aangekom het, en hy bid dat God hulle almal spoedig met hulle geliefdes sal herenig. Daarna sing hulle ’n gesang. Dit is veral Willem wat vanaand uit volle bors sing – vol dankbaarheid en lof.

Daarna bring Gert Smal nog ’n bottel te voorskyn, en skink vir elkeen ’n forse skeut brandewyn. (Hulle durf hierdie gebaar van gasvryheid nie van die hand wys nie. Reitz wíl ook nie.)

Jong Abraham proes en Willem klop hom op die rug, vee sy mond versigtig af. Maar die groot weldadigheid wat kort voor lank deur hulle liggame sypel, is vanaand nie te versmaai nie, en Reitz weier nie die bottel wanneer dit weer en weer die rondte doen nie.

“Die generaal,” sê Gert Smal, “het nooit ’n tekort aan voggies nie – oorlogsbuit,” sê hy, en glimlag soetlik-smalend. “Die generaal skroom nie om te vat wat hom toekom nie.”

Gert Smal wil weet hoe hulle by Senekal se walaer uitgekom het, maar hy luister met sy kop skuins gedraai asof hy nie wil hoor wat hulle sê nie. ’n Wantrouige frons tussen sy wenkbroue met die swaar, opvallende vou. Hy drink kort-kort uit sy beker.

Reitz het aan die begin van die oorlog by die Johannesburgkommando onder aanvoering van kommandant Ben Viljoen aangesluit, en het na die slag van Donkerhoek by die Lichtenburgkommando onder aanvoering van kommandant Celliers beland, waar hy sy vriend Ben ontmoet het. Vandaar was hulle ’n tyd in die Noord-Vrystaat met manne van die Kroonstadkommando in die veld. Onder aanvoering van kommandant Nel was hulle so ver as Kimberley, maar moes na die slag van Slangfontein by kommandant Senekal aansluit.

Ben het aanvanklik by die Winburgkommando onder kommandant Vilonel aangesluit, voor hy saam met Reitz by die Lichtenburgkommando beland het.

Willem het in die Middelburgkommando onder aanvoering van kommandant Fourie geveg voor hy by kommandant Senekal se walaer aangesluit het. Daar het sy goeie vriend Frederik Fouché by die slag van Droogleegte gesneuwel, en Willem het die vriend se jonger broer sedertdien onder sy vlerk geneem. En hy wys na jong Abraham, wat bewegingloos voor hom in die vlamme staar.

“Snerp,” sê Abraham toonloos.

“Celliers, Vilonel en Fourie se móére,” sê Gert Smal.

“En mag ons verneem,” vra Willem hoflik, “watter paaie julle manne hier na die generaal se kamp gebring het?”

Gert Smal spoeg ’n stokkie waaraan hy gekou het uit. Hy vat ’n sluk uit die bottel. Hy gee ’n abrupte laggie.

“Ou Japie daar oorkant,” sê hy, en beduie na Japie Stilgemoed, “kan nie meer goed hoor nie – ’n bom het iewers langs hom ontplof. Dié het lank die buiksiekte en skittery gehad. Hy was so verswak en vermaer dat jy met hom niks kon uitrig nie.”

Japie Stilgemoed luister aandagtig; knik instemmend.

En is hy nou heeltemal herstel? vra Willem besorg.

O ja, o ja, hy is beter, sê Japie Stilgemoed, en kyk anderpad.

“Ou Kosie,” en Gert Smal beduie kortliks in die rigting van Kosie Rijpma, “was predikant in die vrouekamp hier anderkant voor hy die kluts kwytgeraak het. Dié het ons dolend in die veld gekry – malkop. Sy gat in die kamp saam met die vrouens gesien. Van sy malgepeuter kon niemand iets wys word nie. Hy is nou nog nie altyd ewe by nie.”

Kosie Rijpma kyk uitdrukkingloos; weerlê nie hierdie inligting nie.

“Arme man,” sê Willem met meegevoel.

“Beref,” sê jong Abraham toonloos.

“Ruieben het sy been by Dwarslêersbos verloor,” sê Gert Smal, “nou is die ou van g’n godsnut meer op die slagveld nie.”

Ruieben knik.

“Bogte,” sê jong Abraham. Hy is bleek en rusteloos. Willem lyk besorg.

“Rustig, boet,” sê hy, en probeer hom oorreed om ’n bietjie water te drink.

Geen woord van Gert Smal oor sy eie bewegings nie, val dit Reitz op.

Gert Smal warm nou eers behoorlik op, aangehelp deur sy beneweling. As hy ’n naam of ’n pleknaam nie onthou nie, klap hy sy vingers in Esegiël se rigting, wat dan dadelik die ontbrekende feite vanuit die skaduwees verskaf.

“Piet Joubert se móér,” sê Gert Smal. “Hy moes die Engelse in die see gejaag het, reg aan die begin, toe ons nog die voordeel van beweeglikheid gehad het. Die beleg van Ladysmith was ’n klug! Die manne kon beter gebruik gewees het. Joubert moes die troepe by Nicholsonsnek agterna gesit het. Die Vrystaters was die beste skerpskutters – die Heilbronners alleen kon by Nicholsonsnek die Kakies op hulle moer gegee het! Einde April was die manne al ontmoedig. Hulle het al begin huis toe gaan. Hulle fut was uit. Hulle het te lank lê en wag op aksie. Joubert het hulle laat lê en hulle gatte af verveel, toe hulle nog vol daadkrag en aksie was – toe hy hulle moes toegelaat het om die vyand die see in te jaag!”

So en in dié trant voer Gert Smal die woord. Ruieben voeg soms iets by. Japie Stilgemoed sê min en Kosie Rijpma sê geen dooie woord nie, en hulle is die eerste om op te staan en na hulle eie slaapplekke te gaan.

Seun, kom Reitz agter, kan weens sy gesplete verhemelte nie net nie behoorlik praat nie, maar kom ook effens traag van begrip voor. Hy kommunikeer – nét met Esegiël en Gert Smal – deur middel van handgebare en onverstaanbare geluide.

Die hitte van die vuur, die kos en die drank maak hulle lomerig; Reitz het groot moeite om te konsentreer op wat gesê word; hy probeer nouliks Gert Smal se gepraat volg.

“En mag ons verneem,” vra Willem later – namens hulle almal – taktvol, soos hulle hom ken, toe Gert Smal se oë stokstyf en glasig in sy kop staan, toe sy spraak al goed aangetas en sy taal onbehoorlik ruig is, “waar die generaal op die oomblik is?”

“Jy mag vra, neef,” sê Gert Smal, “maar ek kan nie vir jou sê nie, want die generaal se bewegings is ’n geheim. Aanvaar maar dat hy met ’n paar manne op ’n klein strafekspedisie uit is. Hulle het die verdomde Kakies op hulle móér gaan gee.”

Laatnag, die naglug koel en geurig, die geluid van krieke oorverdowend, ’n koel ruising soos van populiere en water op ’n afstand, die sterre behoorlik aan die skitter en verskiet; toe Willem en Abraham al gaan inkruip het, en Reitz en Ben al aansienlik benewel is (nie onaangenaam nie), sê Gert Smal skielik: “Ons gaan môre bo in die kloof heuning haal. Julle twee kom saam,” en hy beduie na Reitz en Ben.

Hulle bereik hulle beddens net betyds, dankbaar vir die matrasgoed op die grond; voel nouliks die nagkoue en die vroemôre dou, slaap soos in geen nag nie, slaap soos klippe, onder die hewige gekolk en geswaai van die sterre.

*

Die volgende oggend word Reitz en Ben albei met ’n groot skeelhoofpyn wakker. Hulle kreun toe Gert Smal hulle wakker maak. Hulle moet opstaan. Hy het nie heeldag nie.

Willem en Abraham bly by die kamp. Reitz en Ben gaan saam met Gert Smal, wat energiek vooruitstap. Dit lyk of hy veel beter as hulle bestand is teen die oormatige inname van benewelende vog.

Van die kamp stap hulle met ’n klein paadjie tussen los rotsblokke deur af tot naby die rivier. Aan die oorkant is geen oewer nie – ’n kransmuur styg daar loodreg die lug in op. Hulle stap ’n hele ent af, met die rivier op hulle linkerhand, verby die populierbos, tot by ’n punt waar daar ’n skerp daling in die oorkantste wal is. By ’n vlak driffie steek hulle die rivier oor deur van klip tot klip te spring. Nou bevind hulle hulle aan die voet van ’n smal kloof, en swenk vandaar na links.

Reitz en Ben het moeite om by Gert Smal te hou. Hulle kla albei van tyd tot tyd onderlangs. Gert Smal wil ons dóódmaak ou Ben, sê Reitz. Hy sal aan wreder maniere dink om dit te doen, as hy regtig wil, sê Ben.

Na ’n hele ent se stap oor ongelyke terrein, word die klipperigheid geleidelik vervang deur grasveld met aalwyne en doringbome hier en daar. Mooi die onverwagse oorgang in die landskap – die groenigheid in hierdie oorwegend bar, rotsagtige omgewing. ’n Hele ent verder hoor hulle die gedruis van water. Moet ’n waterval verder op in die kloof wees, sê Ben.

Hy wys allerlei dinge uit. Die grassprinkaan met sy lang, skraal liggaam en toegevoude vlerke, wat geheel groen en roerloos op ’n grashalm sit. Hy wys die pen van ’n ystervark uit, die kuttels van die rooiribbok, die skuilplek van die kleinkolmuskeljaatkat en die rooimeerkat. ’n Hamerkop roep en bo hulle in die lug sirkel die roofarend.

Alles moet hy in die verbygaan uitwys, want Gert Smal duld nie dat hulle talm of vertoef nie.

Gert Smal, hoewel energiek, is vanoggend stuurs. Hulle pogings om versigtig uit te vra na waar hulle die heuning gaan haal, is vergeefs. Hulle het gou agtergekom dat Gert Smal nie van vrae hou nie – hy wil self die vrae vra.

Maar na hulle ’n hele ent weg is, sê Gert Smal skielik: “Oompie ken baie trieks. Hy kan ook dinge vooruit sien.”

Oompie? Reitz kyk na Ben, Ben haal in die stap sy skouers op.

“Trieks van watter aard?” vra hy omsigtig.

“Dit sien julle wel,” sê Gert Smal kortaf.

“En wat sien hy?” vra Reitz nog later, ewe behoedsaam.

“Enigiets,” sê Gert Smal, “hy sien enigiets.”

“Berei jou voor, Ben,” sê Reitz sag.

“Mag ’n mens hom iets vra?” vra Ben.

“Dis nie nodig om hom iets te vra nie,” antwoord Gert Smal bars.

“Wat wil jy weet, ou Reitz?” vra Ben, buite hoorafstand, in die stap.

“Aa,” Reitz vryf oor sy gesig, wat teen die tyd rooi en sweterig is. “Dis die vraag – wat wil ek weet?!”

Toe hulle ’n ent met die kloof op is, word hulle ineens van ’n ent hoër op met klippe bestook. Hulle val plat.

Gert Smal lê op sy maag, maak sy hande bak voor sy mond en skree rigting bergop: “Gots, Oompie, skei uit! Ons kom in verdomde vrede!”

Verdomde vrede, eggo dit deur die kloof.

Doodse stilte van bo. Maar die klippe val nie meer nie.

“Goeiste, ou Reitz,” sê Ben sag, “wat is ons nou te wagte?”

Kort daarna bereik hulle die middel van die kloof, en sien die hut in die omgewing van gelyk groen grasland.

“Dis waar die ou swernoot woon,” sê Gert Smal.

Op ’n afstand kom die ou man hulle tegemoet.

Hy kom hulle met uitgestrekte arms tegemoet, en hy dra ’n gekreukelde reënjas – soos die een (stel Reitz hom voor) waarmee die verslane Piet Cronjé na twaalf dae uit die bunker te voorskyn gekom het, die kluts so goed as helemaal kwyt na die vier en twintig uur se onophoudelike bombardement waaraan die Engelse hulle onderwerp het.

Aan sy voete het Oompie tuisgemaakte sandale van gras en leer, kunstig geweef, met dik leersole.

Toe hy by hulle kom, groet hy hulle met groot hartlikheid. Hy kyk hulle lank en indringend in die oë. Asof hy in hulle wildvreemde gesigte iets vertrouds wil eien. Sy pupille is klein en swart, sien Reitz, amper onsigbare spikkels – klein tonneltjies wat na sy binneste donkerte lei.

“Vriende,” sê hy, “ek was julle te wagte!”

Eers met klippe bestook, en nou hartlik verwelkom.

Oompie is van onbepaalbare ouderdom en kort, maar stewig gebou. Sy oë is klein en lig. Sy vel is olierig en effens blas. Sy baard is yl; sy hare is lank, sluik en vetterig. Iets Oosters aan hom, dink Reitz. Hy gee ’n reuk af soos galsterige botter.

Hy neem hulle na sy hut en laat hulle op ’n bankie in die son sit.

Hy self sit op ’n groot los klip.

Vandag is vir hom ’n besondere dag, sê hy. Dit is die geboortedag van sy ou vader, wat reeds etlike jare gelede die tydelike met die ewige verwissel het.

Reitz merk hoe klein en vlesig sy hande is, haarloos, met skerp gepunte vingers, en ’n blouerigheid onder die nael. Hy is soos iemand uit ’n ander tyd; uit ’n ander ryk – ’n Oosterse ryk.

Waar hy aanvanklik dringend in hulle gesigte getuur het, staar hy nou terwyl hy praat onafgebroke oor hulle skouers, die vertes in – sodat sowel Reitz as Ben nie die versoeking kan weerstaan om een of twee keer vlugtig om te kyk nie, na ágter hulle. Na waar Oompie in die verte staar terwyl hy praat.

Hy praat oor sy oorlede vader. Hy praat oor die oorvloed van die skepping en geheimenisse van die natuur. Hy praat mymerend en soms met bewoënheid. Hy bly lang rukke stil.

Wat Reitz opval, is die intensiteit van sy gesig. Terwyl hy praat, trek sy gesig jou soos ’n magneet.

Gert Smal kou deurentyd aan ’n vuurhoutjie.

“Hoe lyk dit, Oompie,” onderbreek hy skielik die man. “Onlangs iets gesien?” Hy vra dit met ’n mengsel van agting en skamperheid. Hierdie half respekvolle toon val Reitz op, want dit is so ver hy kan oordeel, ongewoon vir Gert Smal.

“Het julle tabak?” vra die man skielik. Sy bewoënheid ineens op ’n einde. “Het julle vir ’n ou man iets lekkers?” vra hy klaaglik, slu.

Gert Smal haal uit sy baadjiesak iets wat hy oorhandig. Oompie rol dit oop. ’n Rolletjie pruimtwak. Hy kou. Maak sy oë toe van die lekkerte.

Reitz wonder of Oompie Gert Smal se vraag gehoor of onthou het.

Gert Smal krap rusteloos met ’n stokkie tussen sy tande.

Oompie krap in sy hare. Spoeg ’n stukkie twak uit. Kyk voor hom op die grond.

“Dis droë tye, broer,” sê hy. “Selfs die bytjies weet dit.” Hy maak ’n dramatiese gebaar met sy regterhand. Kyk nie op nie. Op ’n afstand na regs sien Reitz vir die eerste keer die byekorwe, en ’n entjie verder, twee koeie wat wei en hoër op ’n paar skape.

Die kamp se vleis- en melkvoorraad, dink Reitz.

Oompie staan op. Lyk skielik oud en vervalle – ’n ou man in ’n verweerde, olierige reënjas. Wink hulle die hut binne.

Na die helder sonskyn neem dit Reitz se oë ’n tydjie om aan die skemerte in die hut gewoond te raak. Maar dit is die reuk in die hut wat hom die eerste tref, ’n vermenging van diervel, galsterige botter en iets anders, iets wat hy nie onmiddellik kan plaas nie. ’n Koel reuk, soos van swamme, of slyk; iets medisinaals. Ben, sien hy, snuif ook ongemerk om die geur te eien.

Die hut is warm binne. Daar is ’n bed aan die een kant, ’n growwe houttafel met stoele, en ’n stoof aan die ander kant – teenoor die deur. Op ’n houtrak teen die agterste muur is daar ’n verskeidenheid glasflesse en melkkannetjies. Die klipvloer is bedek met los bok- en jakkalsvelletjies. Dassievelkarossies. Teen die een muur ’n oopgespalkte slangvel. Uit hierdie vertrek is daar ’n binnedeur wat vermoedelik na ’n tweede vertrek lei.

Oompie beduie dat hulle by die tafel moet sit.

“Versterkwater,” fluister Ben skielik, en Reitz plaas dadelik die koel, medisinale reuk.

Oompie skink dikmelk uit ’n kleipot op die tafel in blikbekertjies. Hy beweeg stadig en met groot oorwoënheid.

In die swak lig het Oompie se reënjas ’n groenerige skynsel – asof dit lank aan druppende water blootgestel is, asof dit mosbegroei is; asof hy daarmee onderwater geswem het.

Hoewel Reitz dors is, sit die suurmelk vas in sy keel.

Hulle sit by die groot, growwe houttafel, regoor die deur, maar Oompie sit nie saam met hulle nie, hy bly deurentyd besig. Hy werskaf by die stoof. Terwyl hy besig is, praat hy. “Julle het boeke,” sê hy. “Julle het groot boeke waarin julle skryf. Julle is manne met geleerdheid. Julle dra kennis van berge en dale. Van die kragte wat berge vorm. Van die voëls van die hemel en van die blomme van die veld. Van die diertjies en die insekte. Julle ken elkeen by sy soort en naam. Maar julle is nog nie aan die einde van julle lang reis nie.”

“Wys vir hulle ’n paar trieks, Oompie,” onderbreek Gert Smal skielik.

Dit lyk nie of die ou man hoor nie. Hy bly steeds by die stoof besig. “Julle swerf al lank rond,” gaan hy voort, sy rug steeds op hulle gedraai. “Julle is moeg geswerf. Julle het weggegaan van ’n leier wat julle nie goedgesind was nie. Wees voortdurend op julle hoede. God se weë is onnaspeurbaar, maar die mens se weë is verraderlik. God laat Hom ken deur sy skepping – maar die mens se motiewe bly altyd onleesbaar. Een van julle is gekwel. Dit hang met gevoelens van skuld saam.”

Reitz voel hoe die hare op sy arms orent staan.

Gert Smal raak rusteloos. Maak sy tande met ’n stokkie skoon.

“Wys vir hulle ’n paar trieks, Oompie,” sê hy weer.

Maar Oompie ignoreer hom soos wat ’n mens met ’n lastige kind doen.

Op hierdie punt het Gert Smal skielik genoeg gehad. Hy staan op. Hulle moet vertrek, sê hy. Hulle kan nie heeldag hier sit nie.

Oompie se gesigsuitdrukking verander soos handomkeer.

“Julle het nie dalk vir ’n ou man iets – lekkers – in die vooruitsig nie?” Hy vra dit weer skelm, wulps selfs.

“Ons sal kyk wat ons kan doen, Oompie,” sê Gert Smal kortaf. “Ons kan niks belowe nie.”

Voor hulle gaan, oorhandig Oompie ’n bottel heuning en drie kannetjies melk aan Gert Smal.

Toe hulle groet, val hy hulle weer om die hals. Groet lank en innig. Hou sy arms in seëning oor hulle uitgestrek toe hulle gaan.

*

Die tog bergaf is vinniger as bergop. Gert Smal spring energiek vooruit, soos ’n bok van klip tot klip. Kennelik vol energie na die ontmoeting. So nors en swygsaam as wat hy vanoggend was, so spraaksaam is hy nou.

“Die ou swernoot is so geil soos ’n bokram! Hy vat kort-kort vir hom ’n nuwe vrou.”

Gert Smal spring swierig van klip tot klip. “Op ’n tyd het hy baie vroue in die omgewing gehad. Ons kon nie voorbly om hom te voorsien nie,” sê hy.

“Goeiste,” sê Ben. “Hoe lank woon hy dan al hier?”

Maar hierdie vraag verkies Gert Smal om nie te beantwoord nie.

Reitz gee Ben ’n vinnige onderlangse blik.

“As hy en die nuwe bruid mekaar ’n slag deeglik bewerk het,” gaan Gert Smal voort, “dan spreek die ou skarminkel met ’n gevleuelde tong! In ’n geil tyd profeteer hy soms dat die heuwels klap.”

“En hoe dikwels gebeur dit?” vra Ben versigtig.

“Gotsverdomme,” sê Gert Smal. “Nie meer so dikwels nie. Nie meer so maklik om hom in die voorsiening te hou nie. Daar is nie meer soveel jong Kaffermeide in die omgewing oor nie. Almal afgesterf óf na kampe weggevat óf so vermaer dat hulle nie meer aansienlik is nie.”

“Ag, so,” sê Ben, en hy talm ’n paar oomblikke belangstellend by ’n insek op die grond voor hom. Reitz kan sien hoe graag Ben sou wou vertoef om die kewer van naderby te bestudeer, maar Gert Smal het nie lus vir talm nie.

“Die generaal hou die ou hier,” sê Gert Smal oor sy skouer – hulle sukkel om hom weer in te haal – “want hy het nie ’n goeie uitwerking op die manne nie. Hy maak hulle onrustig.”

“Op watter manier?” vra Ben, ’n entjie agter Gert Smal, altyd versigtig, want Gert Smal hou nie van vrae nie.

“Die manne begin dink hulle sien gesigte en hulle hoor stemme. Hulle dink hulle droom drome.”

Hulle stap ’n ruk in stilte.

“En bowendien,” sê Gert Smal, “hy is ons byeman. Hy het ’n manier met die bye. Hy praat met hulle. Hulle steek hom nooit.”

“Ag, so,” sê Ben, sonder om te geïnteresseerd te klink.

Nog later, toe hulle byna terug by die kamp is, sê Gert Smal: “Die ou is eintlik ’n groot toornaar. Hy was net nie vandag op sy stukke nie.”

*

Die aand om die vuur is Gert Smal aanvanklik knorrig, sy uitgelatenheid van die middag blykbaar reeds weer op ’n end.

Maar kort voor lank, na die Bybelvoorlesing en gebed, na die aandgesang, bring hy weer die bottel te voorskyn, en trek hy los met sy tirade. Dié keer is Ben en Reitz versigtiger met hoeveel hulle drink.

“Piet Cronjé se móér,” sê Gert Smal. “Die ou keer in 1889 vir Jameson by Doornkop,” sê hy, “en dis die enigste ding wat hy ooit gedoen het wat die moeite werd is. Paul Kruger koop al wapens dat dit klap in 1888. Geslepe ou bliksem. Alfred Milner begin die onderhandelingsproses in die rigting van oorlog stuur. Alfred Milner se móér. Twee en twintig duisend Uitlanders teken ’n petisie. Oom Paul moes hulle van die begin af kortgevat het. Nog voor hy en Milner in Bloemfontein bymekaar gekom het.”

Gert Smal spoeg ’n stukkie stok uit. “Milner was van die begin af bo Oom Paul se kerf – hy onderhandel kastig oor die tydperk vir die stemreg vir Uitlanders. Dit was maar ’n manier om Oom Paul te druk tot hy nie meer kon nie. Eers sê Oom Paul: Nee, sê hy, dit kan nie. Later kan hy dit nie meer vat nie en hy huil soos ’n verdomde vrou. Julle wil my land hê, sê hy,” sê Gert Smal bitter. Hy vat ’n sluk uit die bottel. Hy gaan voort.

“Terwyl hy nog sy trane wegvee, lag Alfred Milner in sy mou. Se moer. Milner se móér. Nee, sê Oom Paul na elke toegewing, nee, verder kan dit nie. Stuur die troepe, sê Alfred Milner. Hy het geweet, die swernoot het geweet. Op 22 September word die ultimatum gestel: die Uitlanders kry volle gelykheid en mag stem na een jaar. Dit kom daarvan dat Oom Paul hulle nie reg van die begin af vasgevat het nie. Party mense het gedink Oom Paul bluf. Hy laat Jan Smuts sy ultimatum opstel. Hulle vra vir arbitrasie. Hy moes geweet het, Oom Paul kon geweet het, daar sou geen arbitrasie wees nie. En Alfred Milner het gekry wat hy wou gehad het – hy het sy oorlog gekry.”

Gert Smal vat ’n helse sluk uit die bottel. Hy staar verbete in die vuur. Asof al hierdie dinge kort vantevore gebeur het, nie drie jaar gelede nie. Asof dit anders kon verloop het.

“Alfred Milner se héle verdómde Engelse móér,” sê hy afgemete, en vat nog ’n sluk uit die bottel. (Vanaand neuk Gert Smal nie nog met ’n beker nie.)

“Ons het ons leër op die been gekry,” sê hy. “Drie geslagte wat saamveg. Maar ons was nie gereed vir die oorlog nie. Net so min as wat die verdomde Britse leër gereed was vir die oorlog.”

Kort voor lank gaan Japie Stilgemoed en Kosie Rijpma slaap. Maar Esegiël bly deurentyd op ’n afstand in die skadu sit, net buite die lig van die vlamme. En die hond met die geel oë lê waaksaam by Gert Smal se voete.

“Esegiël is hans grootgemaak,” sê Gert Smal skielik, “hy het nooit sy eie mense geken nie.”

“Arme Kaffer,” sê Willem.

“Esegiël ken ons geskiedenis,” sê Gert Smal, “oor die geskiedenis en die Bybel kan jy hom nie vasvra nie.”

“Arme Kaffer,” sê Ben sag.

“Die enigste ding wat jy hom nie kan leer nie,” sê Gert Smal, “is om ’n grap te verstaan. Verseg of die Kaffer kan kop of stert uitmaak van wat vir ons snaaks is. Of hoe sê ek, my ou swarte?” en hy draai om en gee vir Esegiël ’n stukkie vleis aan die punt van ’n knipmes aan.

“Julle kan hom enigiets vra,” sê Gert Smal weer, en wag afwagtend.

“Vra hom of hy ’n siel het,” sê Ben sag, buite hoorafstand.

Willem, wat gehoor het, kyk Ben betigtigend aan. “Hy is gekersten,” sê hy, “hy is tog ’n Christen, soos ons almal.”

“Ja?” sê Gert Smal, ongeduldig.

“Wat is president Steyn se geslagsregister?” vra Reitz.

Esegiël, gehurk in die skaduwees, gooi sy kop agteroor dat sy oogwitte glim. Sy lippe beweeg ’n paar oomblikke in woordelose preweling voor hy begin opsê.

Doodse stilte toe hy klaar is.

“Reg?!” roep Gert Smal triomfantlik.

“Vir my klink dit reg genoeg,” sê Reitz – wie se vader ’n kleinneef van die ou president was.

“Wat het ek julle gesê?!” sê Gert Smal. “In die hele land is daar geen Kaffer wat sy gelyke is nie!”

Kort hierna gaan Willem en jong Abraham ook slaap. Toe Reitz en Ben later opstaan, laat hulle Gert Smal nog vurig aan die betoog in die geselskap van die swygende Ruieben en die slapende Seun agter.

In die nag droom Reitz van magtige kranse en van vuur op water.

*

Die volgende dag sê Gert Smal vir Esegiël aan om hulle te help om skuilings te bou – soos hulle almal het. Hy het instruksies van die generaal, sê hy, dat hulle voorlopig hier moet bly.

“Goeiste,” sê Ben sag, “wat hy wanneer gekry het?”

“Ai, tog,” sê Reitz onderlangs vir Ben, “hier gaan ons lank bly. Dit vra vir beraadslaging. Diep en ernstig.”

“Dit wil so voorkom,” sê Ben.

Eers maak Esegiël ’n sterk struktuur van latte en matwerk. Latte wat hy by die populierbos gaan sny het. Wat dan bedek word met ligte dekgras. Esegiël werk stadig, metodies en noukeurig. Hy buig en vleg die jong groen latte. Hy dek en herdek. Hy knoop en weef. Die raamwerk staan stewig, die bedekking is dig. Daarna word die hut uitgevoer met hotnoskooigoed en ander geurige grasse word op die grond neergelê.

Die hele tyd wat hy werk, sing Esegiël sag gesange in ’n aangename, diep stem.

Japie Stilgemoed staan skugter nader, stel voor dat die opening van die skerm noord wys, omdat die koue winde altyd uit die suide kom.

Die skerm is stewig en so te sien, waterdig. Met ’n lekker sagte bed van matrasgoed waarop hulle hulle skamele komberse kan gooi – in teenstelling met die nat komberse en die lekkende tente waarin hulle die afgelope maande vertoef het, en wat hulle agtergelaat het toe hulle by kommandant Senekal se laer weg is. ’n Voortreflike bedekking teen watter weersomstandigheid ook al. Beter beskerming as wat hulle tot dusver in al die maande op kommando had.

“’n Bed met ’n prys, ou Ben,” sê Reitz, “vertrou jy die vrede?”

“Vrede?” sê Ben, “wie het gepraat van vrede?”

Later die oggend vra hulle by Gert Smal toestemming om hulle klere in die rivier te gaan was. Wat hy gee, maar nie sonder ’n klomp dreigemente nie. Na hulle besoek met Gert Smal aan Oompie die vorige dag het hulle heelwat om oor te praat. Dit doen hulle liefs buite hoorafstand van die ander.

Hoewel hulle dus onvergesel na die rivier mag gaan, bly hulle tog deurentyd van Seun se teenwoordigheid agter rotsblokke ’n entjie hoër op in die omgewing bewus.

Van die kamp stap hulle met dieselfde paadjie na die rivier as waarmee hulle die vorige dag met Gert Smal na Oompie is.

Hulle was hulle liggame, hulle was hulle klere. Ten spyte van die fris oggendluggie baljaar hulle uitgelate soos otters in die water. Wanneer was hulle laas in water? Daarna sit hulle op die rotsplate in die son om droog te word.

Hulle albei se nekke, gesigte, voorarms is bruin verbrand, maar Reitz merk hoe weerloos bleek die res van Ben se liggaam is. Hy is so maer dat sy ribbes wys, en sy liggaam het ’n blouerige bleekte, wat skerp afsteek teen die donkerte van sy hare. Sy eie lyf, veel rossiger, is ook heelwat hoekiger as voorheen.

In die kransmuur wat loodreg voor hulle opstyg aan die oorkant van die rivier maak ’n groot verskeidenheid voëls nes. Ben eien dadelik die oewerswawels, die bos- en die kransduiwe. Die rooi kaffervinke en die visvangertjies. Laer af met die rivier is die geborrel en getjik-tjik van die geelvinke, die vliegroep van die rooivinke en die harde gefluit van die koringvoël duidelik hoorbaar. Verder weg hoor hulle bobbejane blaf. Hier is dit paradyslik welig.

Daar is vir seker otters in die omgewing, meen Ben, hy het hulle uitwerpsel gesien van hopies vergruisde, spierwit krapdop en skulp. Die watermuishond dink hy sal ook hier hou. Daar is ’n oorvloed van insekte: daar is naaldekokers, sê Ben, motte en skoenlappers, kewers en besies, wespe en watermotte – ’n groot verskeidenheid spesies. Ben is opgewonde. Dit is anders hier as die bar omgewings waardeur hulle die afgelope maande beweeg het.

Smiddae sal die krans ’n diep skaduwee oor die rivier gooi, maar nou is dit nog sonnig hier, met net die skaduwees van oorhangende takke.

Reitz wys vir Ben hoe goed sigbaar die horisontale en vertikale doleriet-intrusieplate tussen die opeenvolgende sedimentêre lae van kakiekleurige skalies, kleipilkonglomerate en sliksteen is. Hierdie gange en plate kruissny die sedimentêre lae soos loodgieterspype, sê hy, en hierdeur het die vuurwarm lawa na bo ontsnap. Hy wys ook vir Ben hoe op sommige plekke die lawalaag die sandsteen aan weerskant gebak het, so warm was dit.

En die rivierwal teenoor die kransmuur, wat hoër word ’n entjie verder af met die rivier, meen Reitz is ’n ideale plek om na fossiele te soek.

Maar hoewel hy die omgewing geologies interessant vind, vind hy dat dit ook ’n ánder, onbepaalbare aanspraak op hom maak.

“Ben,” vra Reitz ’n rukkie later versigtig, “wie en wat dink jy het ons hier? Waar dink jy het ons tereggekom?”

“Sien dit as ’n opvangskamp,” sê Ben, “vir tydelike en permanente gevegsongeskiktes.”

“Wat is ons?” vra Reitz, “tydelik gevegsongeskik?”

“Ons is nog van onsekere status,” sê Ben, “enigiets tussen drosters en verraaiers. Spioene selfs.”

“Nou ja,” sê Reitz, “daar het jy dit nou. Senekal se werk.”

“Dit word wel alles mettertyd duidelik,” sê Ben, “ek het goeie goed van generaal Bergh gehoor. Hy is skynbaar ’n intelligente en redelike man.”

“In teenstelling met Senekal,” sê Reitz.

“In teenstelling met Senekal. Intussen kry elkeen van ons ’n takie om te verrig,” sê Ben, “totdat daar oor ons lot beslis word.”

“Kouse stop,” sê Reitz. “Ek hou dit nie.”

“Gedenk altoos Senekal se waansin,” sê Ben.

“Ons kampgenote lyk die een so verskrik en bedremmel as die ander,” sê Reitz. “Gert Smal is nouliks ’n redelike gespreksgenoot. Kosie Rijpma het nog g’n dooie woord gesê nie. Die arme Seun kan met moeite ’n paar onverstaanbare geluide uitkry. Ruieben lyk ’n rowwe diamant. Japie Stilgemoed skarrel weg as mens net in sy rigting kyk.”

“So sku soos die aardvark,” sê Ben.

“En Esegiël tel nie,” sê Reitz.

“Nee,” sê Ben, en hy glimlag, “hy tel nie.”

Ben lig ’n plantjie aan sy wortel uit die water. “Laat ons voorlopig ons seëninge tel, ou Reitz,” sê hy, “tot tyd en wyl daar oor ons lot beslis word. Jong Abraham lyk rustig. Daar word skynbaar nie onmiddellik van ons verwag om die wapen op te neem nie. Die omgewing is interessant. Ons bewegings word nie te veel aan bande gelê nie. Ons het droë slaapplek.”

“Die plek is interessant, ja,” sê Reitz, “maar dit maak my ongemaklik.” Hy swyg. Kyk rond. “Hier is iets in die lug wat my hare orent laat staan.”

Ben kyk geïnteresseerd.

“Dis nie na ons besoek aan Oompie nie?” vra hy.

“Ek kan my vinger nie daarop lê nie,” sê Reitz, ontwykend. Vryf oor sy gesig.

“Dit het nie iets te doen met wat Oompie gesê het nie?” hou Ben versigtig vol.

“Daarmee ook, ja,” sê Reitz. “Maar dit het ook met die plék te doen. Hier en by die kamp.”

Ben kyk steeds geïnteresseerd. “Dit word wel duidelik,” sê hy na ’n rukkie.

Dit is twaalfuur. Die son skyn direk van bo. Reitz en Ben raak lomerig van die hitte. Hulle klere lê op die rotse uitgesprei om droog te word. Op die rotsplate sit akkedisse en bak. Groot rivierkrappe hou onder die plat rotse. Waterjuffers hang bewegingloos bo die wateroppervlak.

Na ’n ruk wil Reitz weet waarom Gert Smal hulle na Oompie saamgeneem het. Hy dink daar moet ’n rede wees. Was dit miskien om hulle die skrik op die lyf te jaag, wil Reitz weet. Het hy dalk gehoop die ou man sê iets wat hulle in hulle spoor sal laat trap?

“Goed moontlik,” sê Ben, “met ’n man soos Gert Smal.”

“Die ou het ’n paar raak opmerkings gemaak,” sê Reitz, versigtig.

Ben knik. Hy dink dis ook moontlik dat Gert Smal hulle saamgeneem het sodat hy deur Oompie se opmerkings iets omtrent húlle te wete kon kom – iets omtrent hulle planne en voornemens. “Maar,” sê Ben, “dit is baie belangrik, Reitz, om in hierdie tye ’n mens nie dinge te begin verbeel nie.”

Dit sê hy terwyl hy met groot belangstelling ’n interessante kokervormige kokonnetjie op ’n takkie bekyk.

“Gert Smal is kennelik ’n rustelose en onbehaaglike siel, Oompie het vir al wat ons weet uitsonderlike vermoëns, en ons kampgenote is elk duidelik op sy eie manier gekwes en nie meer geskik vir aktiewe diens op die slagveld nie – maar laat ons die dinge uitmekaar hou, en hoop die generaal is ’n redelike man,” sê Ben.

Reitz moet saamstem. Hy neem hom voor om die dinge uitmekaar te hou en nie onnodig onrustig te raak nie.

Ben verduidelik vir Reitz dat die kokonnetjie in sy hand die grashuisie is van ’n ruspe wat deurentyd daarin woon. “Die vlerklose, wurmvormige wyfiemot vertoef hierin,” sê hy. “Dit word ook graslepeltjie of hawermannetjie genoem.”

Hulle lê ’n tyd lank sonder om te praat op die rotse in die koelte van die oorhangende takke.

“Die skuldgevoelens, Reitz?” vra Ben na ’n tydjie versigtig, “waarvan Oompie gister gepraat het – moet dit vir jou rekening kom?”

Reitz aarsel lank voor hy bevestigend knik.

In die tyd dat hulle mekaar op kommando leer ken het, het hulle nie een ooit uitgebreid vertel oor die lewe wat hulle agtergelaat het nie.

Toe hulle klere droog is, trek hulle dit weer aan en gaan terug na die kamp, waar Gert Smal hulle stuurs inwag. Vir wat het hulle so lank geneem? wil hy weet. Een of ander drosterplan bedink, sê hy. Maar probeer maar niks, waarsku hy, die generaal is nie iemand om as teenstander te hê nie.

*

Die derde aand nadat hulle by die kamp aangekom het, die dag nadat hulle met Gert Smal by die kloof op was, begin Japie Stilgemoed skielik na aandgodsdiens praat. Esegiël het die aand met aartappels by die kamp aangekom. Aartappels wat hy skynbaar self iewers geplant het. Dan moet hulle al lank hier wees, sê Ben vir Reitz.

Japie Stilgemoed vertel dat by die kamp waar hy vroeër was, hulle op ’n keer patats gaan haal het. In die omgewing was alles afgebrand deur die Kakies – behalwe die patats. Hulle het die patats uitgeploeg en in hopies staangemaak. Toe het hulle dit in sakke gesit en op ’n wa gelaai. Dit was volmaan. Hy sal dit nooit vergeet nie – hulle het verby die plek gegaan waar generaal De la Rey die vorige jaar honderd en sestig waens van die Engelse vernietig het. Die stukke en brokke van die vernieling het nog in die omgewing in die maanlig verstrooi gelê.

Japie Stilgemoed staar lank in die vuur.

“Dit was Julie 1901 as ek reg onthou,” sê hy, “die patats was ’n welkome afwisseling van ons daaglikse pap sonder vleis.”

“Cronjé het sy oorwinning by Magersfontein aan De la Rey te danke,” sê Gert Smal, “sonder sy advies het die ou lelik afgekak.”

“In daardie tyd het ek begin besef dat ons onsself in ons krag en in ons swakheid in moeilike en beproewende tye leer ken,” sê Japie Stilgemoed. Hy gooi nog ’n stomp op die vuur. Sy oë is intens, sy hare regop, sy hoë voorkop glad in die gloed van die vlamme.

Gert Smal swyg; Ben knik stadig en instemmend, geïnteresseerd. Hulle wag vir Japie om voort te gaan.

Kosie Rijpma sit vooroor gebuig, sy kombers oor sy skouers. Hy staar met groot intensiteit na die vuur. Sy gesig is stroef, sy oë diep in hulle kasse.

“So,” sê Japie Stilgemoed, “is ons met generaal Kemp se walaers van Februarie tot Mei 1901 van Rooiwal, oor die Skeerpoortrivier, verby Hekpoort aan die Witwatersberg, deur Hartleyspoort, by Groblersnek aan die Magaliesberg verby, verby Vlakfontein en Dwarsfontein en Leliefontein, oor Vlakvarkpan, Tafelkop en Rietpan in die Lichtenburgdistrik. Deur Kwaggashoek, Syferfontein en Bokkraal. By Grootfontein het ons skerp noord geswenk in die rigting van Groot-Marico na Koedoesfontein, toe weer suidoos terug na Kwaggashoek, en deur die Swartruggens tot by Waterval.”

Gert Smal kou aan ’n stokkie, sy aandag elders.

“Ek dank die Here,” sê Japie Stilgemoed, “dat ek my by tye van die aakligheid van die dag kon afsluit deur te lees. Tot op hierdie dag is boeke my redding. Wat ek daarsonder sou doen, weet ek nie. Op iedere plek waar ons langs gekom het waar die Engelse boeke agtergelaat het, of waar ons boeke in verlate huise en winkels aangetref het, het ek iets gevind wat my weer verder op die pad kon onderskraag.”

Reitz dink aan die joernale. Daarsonder sou dit ook veel moeiliker gegaan het al die maande.

“Gelukkig het ons in dié tyd vrugte in oorvloed gehad,” gaan Japie Stilgemoed voort. “Ons klere was tóé al aan flardes – die manne het al klere van komberse begin maak. In Februarie het ons die slag van Majuba gevier. Maar ons moes ook generaal Cronjé se nederlaag by Paardeberg gedenk.”

“Se gát!” roep Gert Smal. “Gedenk se gát! Cronjé se móér! Die held van Paardeberg!” sê hy minagtend, en spoeg so driftig ’n stukkie stok waaraan hy gekou het uit dat die slapende hond by sy voete wakker skrik en orentvlieg.

“Foekeren! Foekeren!” sê jong Abraham vervaard, en Willem bring hom met moeite tot bedaring.

“Om van die held van Droogleegte nie te vergeet nie,” sê Reitz sag vir Ben.

Die hardhorende Japie Stilgemoed steur hom skynbaar nie veel aan die onderbrekings nie. Dit lyk asof hy volkome teruggeplaas is in die tyd waarvan hy mymerend vertel.

“Ja,” sê hy, “vrugte het ons wel in dié tyd in oorvloed gehad. Ons het elke dag ’n sak vol lemoene gaan haal. Ons het gebad in die Krokodilrivier. Maar nog belangriker as die vrugte was die boeke wat ons op weg gevind het. Dit was soos skatte! Vir my was dit kosbaarder as voedsel – kosbaarder as goud!”

Willem staan mettertyd op, neem jong Abraham na sy skuiling om te gaan slaap. Die hond met die geel oë slaap weer rustig by Gert Smal se voete. Buite die kring van die vuur is die naggeluide hoorbaar. Die geruislose sigsag gefladder van vlermuise. Die geroep van die uil en soms die geroep van ’n voël iewers by die rivier. Bo hulle hoofde die digte wemeling van sterre. Die nagte word kouer. Die koue lek-lek aan hulle rûe en niere.

Dit het Reitz en Ben opgeval dat daar nooit hier waggestaan word nie. Tensy dit nog een van Esegiël se vele take is – bygestaan snags deur die hond. (Dit help nie om Gert Smal daarna uit te vra nie, want hy maak ’n punt daarvan om geen vrae te beantwoord nie.) Meen Gert Smal-hulle dat hulle te alle tye die beskerming van die generaal geniet; dat hulle hier ten spyte van krygswet minder versigtig hoef te wees?

“Die burgers het tóé al genoeg gehad,” gaan Japie Stilgemoed voort. “Ons predikant het geglo dat Mauser en kanon ons nie sal help met die herwinning van ons onafhanklikheid nie, maar wel die wapens van geloof, liefde, hoop en gebed. Van die manne het dit ongelukkig as teken gebruik dat hulle maar die aftog kon blaas.”

“Seker gedink hulle kan beter by die huis gaan bid,” sê Ben.

Gert Smal snork. “Drosters,” sê hy, en kyk na Ben en Reitz, wat ’n punt daarvan maak om nie op hierdie woorde van Gert Smal te reageer nie.

“Met drosters kan g’n mens ’n oorlog wen nie,” sê Gert Smal bitter, en Ben en Reitz gee mekaar ’n vinnige, onderlangse blik.

Die uil roep weer. “Gevlekte ooruil,” sê Ben.

Japie Stilgemoed gaan voort, noudat hy een maal begin het.

“Op een tog het ons baie perde verloor, ook van die perdesiekte. ’n Ander keer het die weerlig drie perde doodgeslaan. Die aantal voetgangers het die hele tyd groter geword – daar was nie meer plek vir almal op die waens nie.”

“Nooit ’n dooie perd gesien nie,” sê Reitz sag vir Ben. “Nooit ’n perd of muil wat van die perdesiekte gevrek het, sien weggesleep word nie.”

Ben reageer nie, hy luister hoflik na Japie.

“En oral,” gaan Japie Stilgemoed voort, “die aaklige gesig van verbrande en ingestorte huise – die Kakies se handewerk.”

“Ai, tog,” sê Reitz sag vir Ben, “ek het nie krag hiervoor nie.”

Ben se neusvleuels sper effens; die enigste aanduiding van sy geringe irritasie. “Gee hom kans,” sê hy sag vir Reitz, “hy het nodig om sy verhaal te vertel.”

“Op ’n dag,” sê Japie Stilgemoed, “het ons ’n wolk vlieënde miere teëgekom. So iets het ons nooit vantevore beleef nie. Hulle het oral ingekruip.”

“Ai, tog,” sê Reitz weer onderlangs. Hy kan sy groeiende irritasie met Japie Stilgemoed kwalik ontken óf verklaar.

“Tydens ’n nag lange reënbui het die manne soms in miershope geslaap,” gaan Japie onverstoord voort. “Ek het myself voortdurend tot geduld met ons beproewinge probeer maan. Van die toekoms het ek toe – en tot op hierdie dag – niks meer verwag as om weer met my geliefdes verenig te word nie.”

Met die vermelding van geliefdes val daar oor almal ’n groot swye, verbreek deur die geel hond, wat skielik laag begin knor, met die hare orent op haar rug. Daar word ondersoek ingestel, maar niks word verder in die omgewing gehoor nie. Die hond bedaar en kort daarna gaan almal in hulle skuilings inkruip. Almal behalwe Ben en Reitz, wat nog ’n rukkie by die warmte van die vlamme vertoef om ’n laaste inskrywing in hulle joernale te maak.

Niggie

Подняться наверх