Читать книгу Die Grysland-verblyf - Jaco Fouché - Страница 5
Hoofstuk 1
ОглавлениеToe die vrou van Personeel Phillip bel om te sê hy is weer aangestel en hy net “O” sê, het sy bygevoeg: “Maar, meneer, is jy nie bly nie?”
Heelparty mense wat in die maatskappy se diens is, meen dis ’n voorreg, maar Phillip het voorheen daar gewerk en het die lang dae en die kantoorpolitiek onthou. Hy was besig om die salaris te bepeins. Hoewel die werk hom nie eintlik aangestaan het nie, sou die salaris hom toelaat om te spaar. Hy het ander planne gehad as om lewenslank ’n kantoorwerker te wees.
Die bedrywighede van die maatskappy, wat in Bellville geleë is, is finansieel van aard. Die plek bied produkte aan mense wat wil spaar en belê en verseker, en Phillip is betrokke by geringe administratiewe takies wat die aanbod van produkte moet stimuleer en bespoedig. Dis waarskynlik nie ’n slegte werk om te hê nie.
Phillip is dertig jaar oud en ’n skilder wat een uitstalling agter die rug het. Diegene wat die uitstalling gesien het, het hom gaaf behandel en gesê dis goeie werk vir ’n jong man. Oor “goed” sou hy nie kon sê nie; hy was wel seker dat dit belangrik is om te skilder.
En hy het gedagdroom dat die skilderye vir hom geld sou verdien, genoeg om miskien sy werk te los. Hy het geweet die meeste skilders se finansiële vooruitsigte is nie wat ’n mens belowend kan noem nie, maar hy het tog op ’n redelike inkomste gehoop, sodat hy groot erns kon maak met die volgende uitstalling. Hopelik sonder om onderbreek te word deur die eise van daaglikse roetine en werksverpligtinge.
Sy eerste skilderye het hy gemaak toe hy vyf-en-twintig was en vir Rita geken het. Rita met die blonde kop en mooi mond, sy wat hom ondersteun het, tot die ondersteuning blykbaar nie meer die moeite werd was nie. Rita wat steeds by hom spook soos in ’n ou Afrikaanse storieboek. Rita wat dit duidelik gestel het dat hy meer verantwoordelik moet word, of dis verby met hom.
Miskien, dink hy soms, is hy net te lui om te werk. Maar wat anders is daar om met jou tyd te doen as om jou fortuin na te jaag?
Vir Rita het hy deur ’n vriend ontmoet. Dit was in ’n woonstel in Bellville en hy het op ’n bank in die vriend se woonstel gesit en sy het na hom gestap en haar linkerhand uitgehou en gesê: “Rita.” Hy het haar hand met sy regterhand geneem en sy het gesê: “Verkeerde hand.”
Daarna het hulle die verwagte dinge gedoen: na musiek gaan luister, gaan fliek, gaan uiteet, by mekaar se vriende gekuier. Sy was ’n ontvangsdame by ’n dokter. Die verhouding het heg geraak en hulle het trou aan mekaar gesweer, maar ná twee jaar was dit blykbaar tyd om daardie trou te onttrek, en hulle is uitmekaar.
Teen die tyd dat hy weer by die maatskappy begin werk het, was die uitstalling slegs weke tevore. Hy het gevoel soos hy dink skilders voel – besig met die dinge van die kwas – maar hy sou nie juis ’n “kunstenaarslewe” leer ken nie. Daar was uiteindelik twee onderhoude, een in die koerant en een op die radio, maar hy was nie tydens een gemaklik nie.
Hoe op aarde is ouer kunstenaars so gemaklik wanneer hulle oor hulleself praat? het hy gewonder. Dit kan net welslae wees wat soveel selfvertroue bring, goeie tegniek, ’n oog vir kleur, gunstige besprekings in die koerant, die kameraadskap van ander skeppendes.
Sy foto het een keer verskyn en mense het hom hier en daar gelukgewens. Verder het hy ’n smakie gekry van wat hy gemeen het die high life moet wees: by ander uitstallings, gedigvoorlesings wat kuns as tema gehad het, een keer ’n ete aan huis van ’n skilder, waar mense wyn gedrink en jazz geluister het terwyl gekleurde ligte oor skilderye laat speel is.
Daar was intriges om van te verneem. Dié een het dit en dat geskilder, maar die werk het gebreke – wat jammer is, het hy gehoor. Daar was ook gerugte oor kwaslaster: ’n gebruik waarvolgens modelle doelbewus as kru uitgebeeld word. Daar was professionele afguns, en selfs af en toe beskuldigings van nabootsery. En daarop onvermydelik berigte en gesprekke oor invloed in ’n sekere omgewing. Wat leer ’n nuweling meer, en wat laat hom meer ingesout voel, as skindernuus oor ander op sy gebied?
Van die kennisse wat hy in hierdie omgewing ontmoet het, het vriende geword. Daar was lekker aande en hy het dinge geleer. Hy het byvoorbeeld danksy Ben, ’n filmentoesias, rolprente ontdek waarvan hy andersins nie kennis sou geneem het nie – rolprente waarin die wroeging van Noord-Europeërs humoristies aangebied word. Ook boeke waarin die karakters se lewens nie juis as gebeurtenisvol beskryf kan word nie, maar wat eerder in somber dieptes afdaal. Wanneer jy so ’n verhaal klaar gelees het, is dit met die verligting van ’n duiker wat opkom vir asem en opnuut die betekenis van die lewe besef.
En wat is die aard van daardie betekenis? Sy nuwe kennisse het gesê jy vind dit in ’n vervulde bestaan. Hy het gelet op hoe hulle leef maar kon nooit agterkom wat presies ’n vervulde bestaan is nie. Hy kon wel met sekerheid sê sý idee van vervuldheid kry hy nie in ’n kantoor nie.
Dit was gaaf om in gesprek te tree met mense wat uit hoofde van hulle opvoeding meer kultuurgeoriënteer was as hy. Mense wat die vereiste skilders se werke gaan bekyk het waar dit in oorsese galerye hang. ’n Mens kan sê: Wat is belangriker as om die vereiste skilderye te betrag?
In die kunswêreld bespeur hy ’n vryheid wat hy nie in vorige geselskappe geken het nie, ’n soort vrywaring om sy belangstellings en koddighede op die mou te dra. So het hy en ’n galery-eienaar en nog ’n man een aand in ’n kroeg in Kaapstad gesit. Daar was groot menings oor die kuns, geïnspireer deur die glase konjak in hulle hande en die belangstelling van die derde man in wat hy raaiselagtig avant-garde kuns genoem het.
Later was Phillip moeg vir net sit en luister en hy het besluit om ’n stuiwer in die armbeurs te gooi. Hy het gesê: “Die Amerikaners het nog geen kuns van waarde geproduseer nie.” Die galery-eienaar het na hom oorgeleun en gesê: “Daar is ’n paar noemenswaardige uitsonderings.” Dit was vir Phillip ’n baie snaakse voorval.
Die mense wat hy leer ken het, het hom vermaak met hulle ernstige uitsprake en hulle geneigdheid om duur restaurante te besoek en dan hulle kos in sukkelende Italiaans of Frans te bestel. Liewe magtig, wou hy sê, julle is ’n spul jong Afrikaners en almal kan dit sien en hoor. Wees verstandig en spreek die kelner in Engfrikaans aan!
Maar dus, solank ten minste sommige van die ontmoetings in potspelkroeë en braairestaurante kan geskied, solank mense bereid is om hom toe te laat om aan te dring op die meriete van Amerikaanse strookprente en kinematiese aksierillers, steek hy voelers uit na hierdie wêreld. En is hy bereid om die meriete te oorweeg van Europese films en die werk van afgestorwe skilders.
Dis lekker om sy ou vriende te vertel van die bietjie sukses wat hy gesmaak het en die nuwe omgewing wat hy leer ken – dalk tot hulle irritasie, dis moeilik om te sê. Onder die ou vriende tel Andy, ’n skoolvriend wat in die gasvryheidsbedryf werk en soos Phillip lief is vir aksieflieks en rekenaarspeletjies en bier. Andy woon in die suidelike voorstede van die Kaapse Skiereiland, waar Phillip gereeld gaan kuier.
Andy is ’n gewoonlik sjarmante man wat sy hare sedert die tagtigerjare al lank dra en geduldig werk aan ’n Engelse lewe. Daar is by hom sprake van ’n loopbaan oorsee, moontlik in Engeland, waar hy in sy jong dae in ’n pub gewerk het. Of die Antipodes, wat so ’n aantrekkingskrag vir Afrikaanse mense het. Eendag, eendag . . .
Dis asof Phillip soveel mense ken wat graag elders sou wou wees.
Hy is besig met volgende skilderye, of het minstens ’n begin gemaak. Hy het agt halfklaar doeke waaraan hy al ’n jaar lank karring, saans en naweke. Dit is min. Hy kry nie die tyd en energie om behoorlik daaraan te werk nie, en sy oorspronklike idees het vervaag, sodat wat hy reeds gedoen het vir hom verspot lyk wanneer hy kyk na die helder strepe olieverf oor die ligte agtergrond van die doek.
Daar is skilders wat vieruur soggens opstaan om aandag aan hulle kosbare ambag te bestee, maar Phillip doen dit nie. Dalk is hy ongedissiplineerd. Hy hou nie daarvan om slegs ’n uur of wat op ’n slag aan ’n prent af te staan nie. Hy het ’n hele dag nodig om ’n paar ordentlike vierkante sentimeter werk te produseer. Anders is hy geneig om kort, onsinnige merke op die doek te maak wat ’n mens seker abstrak kan noem, maar wat in werklikheid net verfstrepe is.
Hy moet kans hê om hom in te leef in die werk voor hom voor hy verder kan gaan. Hy moet boeke kan optel om die skilderye daarin krities te bestudeer en hy moet hom kan beroep op die tradisie en hy moet kan terugsit en sigarette rook terwyl hy wonder hoe ander mense genoeg werk vir ’n uitstalling bymekaarkry. Hoe kom skilderye ooit kláár?
Hy het nie genoeg tyd nie. Met sy eerste uitstalling kon hy die grootste gedeelte snags en op af dae afhandel. Soms selfs tydens werksure, toe hy ’n doek kantoor toe gebring en dit langs sy tafel staangemaak het sodat hy tussen oproepe en bestellings deur gou na willekeur kleur kon aanbring. Aanvanklik tot sy baas se vermaak, later tot sy irritasie.
Nou, in diens van die maatskappy wat ’n loopbaan en byvoordele bied, maar wat ook toewyding vereis, verlang hy na die tyd en geesdrif wat hy as arm kantoorassistent tot sy beskikking gehad het.
Hy is nie besig om sy ambisie uit te leef nie. Sy plan is om, goed of sleg, ’n skilder te wees wat sy brood met sy kwas verdien – of toetsbord dan, want hy oorweeg soms rekenaargrafika. En om bekend te staan as ’n skilder, goed of sleg, nie as rekenaarprogrammeerder of klerk of verkoopsman nie.
Hy het niks teen daardie posisies nie en hy weet elkeen van hulle kan vir die regte persoon eenhonderd persent bevredigend wees, maar dit is so dat ’n mens in redelike mate jou identiteit uit jou werk put. Hy was self gretig om trots te wees op ’n loopbaan, maar hy meen daardie loopbaan is lankal vír hom gekies. Nie deur die mog ’t troffe snuffelgidsloting wat hy as werksoeker sonder kwalifikasies toe al goed geken het nie, maar as bevestiging van ’n soort kunssinnige uitverkiesing.
Hy is ’n windsak-idealis, maar hy besef as windsak-idealis dat hoe meer tyd hy in ’n onbevredigende werk met redelike voordele deurbring, hoe groter is die kanse dat hy uiteindelik sal swig voor dit as loopbaan. En dat hy dan sal moet voortwerk op pad na die uiteindelike beloning van ’n pensioen, aan die ander kant van ’n lewe wat hy al besef het maar alte kort is.
Die werk by die maatskappy is nie sleg nie. Hy kom agter, of verbeel hom, dat hy minder kwellinge het as baie ander wit Afrikaanse mans. Swart ekonomiese bemagtiging raak hom byvoorbeeld nie, want hy voel nie verplig om ’n bestuurspos na te streef nie.
Maar vergeet die politiek en dink aan die werk. Hy het byvoordele wat hy nie in sy vorige twee werke geken het nie. Hy kan geld wegsit vir die mettertydse droom van bedank-om-te-skilder. Daar is heelwat geselskap van sy eie ouderdom en ’n lewendige maatskappykultuur waarby hy kan inskakel: daar is ’n sportklub, ’n sosiale klub, en die dinge wat werkende jong mense graag saam doen.
Wat die werk self betref, kan hy bevrediging put uit ’n deel van sy pligte, wat amper kompenseer vir die ander deel wat soms onbegryplik is en waarvoor hy nie opgelei is nie. Dele van wat hy doen, verstaan hy glad nie, en lewensversekering bly ’n burokratiese raaisel.
Daar kort wel ’n sekere zing wat hy in vorige werke geken het – die zing van onafhanklikheid. Gedurig word sy werk gemonitor, geweeg, en soms te lig bevind en teruggestuur. Gereeld moet hy met ander mense skakel oor kleinigheidjies soos waar lêers hulle bevind.
In sy vorige betrekking, al was hy sonder medies en pensioen, het hy ’n eie kantoor gehad met ’n hanteerbare adminstelsel. Hy kon direk met kliënte skakel, en hy het die tweelingrisiko van gramskap en goedkeuring self geloop. Hy kon hom die luukse veroorloof van trots wees op sy werk. Niemand het namens hom verantwoordelikheid aanvaar nie en hy moes na sy eie prestasies omsien.
Nou kan hy dit nie meer doen nie. Wat hom opgelê word, is só ’n klein deel van ’n groter korporatiewe geheel dat hy spreekwoordelik steier voor die gedagte van sy eie onbenulligheid.
Dís hoekom mense die loopbaanleer klim, vermoed hy, om dieselfde rede waarom soldate range verwerf: nie net ter wille van toenemende gesag nie, maar om weg te kom van die onbenulligheid. Is hy bevoeg vir daardie klim? En sien hy kans daarvoor? Dit sal beteken hy sal lewenslank met hoofsaaklik dieselfde taak besig wees, in dieselfde omgewing, omring deur mense met ’n ingesteldheid waaraan hy dink as korporatief en burgerlik en wat dreig om hom in te sluk.
Werksuitstappies en -funksies probeer hy vermy. Om ’n dag lank in die buitelug te sit en gesels om braaivleisvure, om ’n uur in ’n lesinglokaal deur te bring terwyl ’n motiverende spreker sy sê sê, om twintig minute lank te vergader om ’n tafel – hierdie dinge word ondraaglik. Hy het nóg die geduld nóg die moed om vriendelik en beleefd te sit en luister na ander mense.
Hy kan nie met die gemak gesels wat hy oortuig is hy vroeër kon doen nie. Hy wil nie meer ná werk ure bestee aan ginnegaap by vriende of potspel speel soos hy eers gedoen het nie. Daar is nie meer sin in sosiale omgang nie. ’n Gesprek moet ’n onderwerp hê en kort en bondig wees.
Grappe kan hy nog verdra, solank dit gou verby is. Vir dubbelsinnighede en sarkasme het hy nie meer tyd nie, hoewel hy dit vroeër jare geniet het. Goedige aanmerkings klink vir hom na beledigings, en hy kan dit nie kleinkry dat meer en meer mense so venynig raak nie.
Waarom, byvoorbeeld, sou iemand hom eendag sê hy dink hy’s Vincent van Gogh? En dit terwyl hyself eintlik dink hy’s Jackson Pollock, die knorrige Amerikaanse skilder wat sy skilderdoeke met verf bedrup het. Of dalk is hy Nikolai Gogol, die eienaardige Russiese skrywer met sy lieflike, skokkende verhale soos “Die oorjas” en “Dagboek van ’n malman”.
In “Die oorjas” is daar ’n karakter soos Phillip, ’n onbenullige klerk wat in ’n departement werk wat baie aan die maatskappy herinner. En in “Dagboek van ’n malman” raak die man met elke inskrywing meer kranksinnig. Is dit nie die werk van ’n skrywer wat iets begryp omtrent die samelewing en hoe dit die individu verniel nie? ’n Kunstenaar wat die mensesiel verstaan?