Читать книгу Die Grysland-verblyf - Jaco Fouché - Страница 6
Hoofstuk 2
ОглавлениеWat hom gerusstel, is boeke, e-pos en die bietjie tekenwerk wat hy nog doen. Die geskrewe woord kan hy baasraak, meen hy, en sy sosiale lewe het verskraal tot feitlik uitsluitlik elektroniese korrespondensie.
Hy kan nou kortaf met ’n kollega wees en dan verlig gaan sit en ’n hartlike brief aan ’n kennis skryf, natuurlik met kuns as onderwerp. Hy sien uit na e-pos soos ’n verliefde tiener; hy kom saans in kantoor toe om lang briewe te skryf aan mense wat hy nooit sien nie.
Hy het selfs ’n Gautengse vriendin via e-pos ontmoet, en vir maande wissel hy woorde met haar. Sy het ’n brosjure gesien met van sy skilderye daarin afgedruk.
Jou werk het my diep getref, skryf sy. Ek hou van jou liggaamstudies, al daardie posture, maar jou gesigte staan my die meeste aan. Jou gesigte lyk of hulle soveel weet. Hy antwoord vernaam: My geheim is plagiaat. Ek plagiariseer die lewe. Ná hy die e-pos versend het, skaam hy hom vir dié uitspraak. Hy hoop geen ernstige kunskritikus kry ooit iets so verspot te lees nie.
Toe hulle oor die telefoon begin gesels, lyk ’n persoonlike ontmoeting moontlik. Maar sy gretigheid taan: hy het ’n spesmaas dat hulle mekaar in lewende lywe net sal ontnugter. Sy is seker nie die eksotiese wese wat hy hom voorstel nie, en hy is beslis nie die skerpsinnige skilder wat sy waarskynlik in gedagte het nie. Om die waarheid te sê, hy is ver van skerpsinnig af. Eenkeer op skool het hy sy IK-punt te siene gekry. Dit was 108 – maar min vir ’n man wat hoop hy sal eendag as geniaal gereken word.
Ook is daar ’n man met wie hy gereeld korrespondeer. Sy naam is Theo en hy het ’n boek gepubliseer. Hulle ruil menings uit wat kort duskant anargistiese begeertes gaan draai. Nie een hou van sy werk nie, en albei droom van geld en roem. Of, as dit dan nie anders kan nie, van berugtheid.
Daag die bestel uit, skryf hulle vir mekaar. Na die maan met die establishment. Konfronteer die hoër klasse. Vind uit wat hulle dink. Maar sal dit die moeite werd wees? Sê nou dit verskil nie veel van wat hy reeds dink nie?
Wat beteken dit? Wat gebeur wanneer ’n mens jouself uit die samelewing gewerk het wat jou so frustreer? Dan het jy geen tuiste meer nie. Wat is dan jou voorland? Die tronk? ’n Armbuurt? ’n Kultus? Dan is jy lid van ’n donkerder samelewing, waar jou lewe in gevaar sal wees en jy met boosheid flankeer.
Verdere sosiale bedrywighede is die gereelde fliek saam met Ben, die filmentoesias. Dié man verteenwoordig, vermoed Phillip, sofistikasie en geleerdheid. Hy het jare lank gestudeer en noem professore op die naam. Hy werk in die boekebedryf en verstaan Phillip se ontevredenheid oor sy werk. Maar sy raad is om aan te bly en eerder op die spanning te steun vir inspirasie as om op onverstandige wyse te bedank.
Soms is daar ’n kerkdiens. Phillip gaan na die Katolieke Kerk, Saterdagaande om sesuur oorkant die poskantoor in Bellville. Hy probeer die ander aanbidders die kniebuigery en die vingerkruis nadoen en verwonder hom aan hoe die dienste andersins ooreenstem met dié van die NG Kerk. Hierdie kerk is net mooier, met beelde en gewade en kleur. Verder kom die woorde (hoewel in Engels) en die verloop van die diens bekend voor.
Hy gaan totdat die priester, wat ná die dienste by die deur staan en mense groet, hom opmerk en vir hom begin knik en glimlag asof hy ’n pastorale ontmoeting in die vooruitsig stel. Wat Phillip daar maak, weet hy self nie. Hy kan dit ook nie verduidelik nie en hy bly eerder weg.
Hy dink: as hy net die moed het, sal hy Katoliek word. Dit sal gaaf wees om die dinge aan te leer wat ’n mens moet aanleer, om van voor af te katkiseer, om iets nuuts aan te pak. Maar daar bly dit, by dink daaroor.
By Alkoholiste Anoniem is daar ook ’n soort heenkome. Woensdagaande sit hy in die vergadering en luister hoe mense vertel van hulle stryd teen die dranklus – ’n stryd wat hy lankal weer verloor het. Drank is belangrik in sy lewe, weet hy magteloos. Dis soos medisyne.
By die vergaderings drink hy koffie saam met mense wat soms sake met mekaar doen, of wat bevriend raak en oor en weer kuier. Op ’n keer gaan hy vir ’n naweek weg saam met ander lede van die groep. Dis ’n naweek vol besprekings. Hulle hou sessies en inspireer mekaar, konfereer oor hoe moeilik hulle huwelike en werk is, lag vir mekaar se onbesonnenhede, praat soos mense wat al als gesien het. Hier by AA, wanneer die groep saam lag vir iets wat die spreker gesê het, wanneer hulle aan die einde van die vergadering hande vat en saam koor: “Keep coming back, it works”, voel hy dat hy iewers hoort, al drink hy skelm.
Hy is bewus van die een of ander leegheid, die een of ander gebrek aan dryfkrag, die een of ander oortuiging dat hy te min tyd aan die geestelike afstaan. Hy is verveeld en ontevrede en toenemend skrikkerig vir alles. Hy is besig om sy tyd met onbenullighede te verkwis. Hy wil wegbreek en sien nie kans daarvoor nie.
Wat in ’n mate verlossing bied van die verwarring, is af en toe se naweek by Andy in Rosebank. Dan, wanneer hy in die gesig van sy skoolmaat kyk en sy stem hoor, onthou hy weer sy kinderdae: die speel op strande, uitstappies in die berge, kuiers by mekaar se ouerhuise, ’n gelag terwyl ’n tennisbal rondgeslaan word. Hy gaan Vrydagaand met die trein deur en bly tot Saterdag- of Sondagmiddag. Hulle drink bier en rook sigarette en speel rekenaarspeletjies en braai en gaan soms uit.
Phillip mor oor sy werk en sy lus om te skilder, en dit word geduldig aangehoor. “Die korporatiewe lewe is baie veeleisend,” sal hy sê, en só eerder wegbly van sy spesifieke afkeer van sekere kollegas en allerlei verpligtinge.
Op sy beurt het Andy klagtes en ontevredenheid uit die gasvryheidsbedryf, en hy vertel: “Een van ons sjefs het bedank en maak nou ’n restaurant oop in die omgewing waar hy gewerk het. Dis teenstrydig met sy kontrak en nou moet ons hof toe.” Of hy sê: “Ek raak darem lus om iets op my eie aan te pak.”
Is dit net planne en dagdrome, soos die lus om oorsee te gaan woon? Andy is ’n sjef, maar hy dink aan ’n spysenieringsbesigheid. Hy kan bestellings neem en bak en kos kook en aflewer. Anders kan hy moontlik in die rekenaarbedryf geholpe raak, want hy stel belang in rekenaars en is bedrewe daarmee – meer as Phillip die programmeerder.
Verder sien Phillip hoe Andy en sy vriendin toenemend huisliker raak, al minder uitgaan, praat van ’n groter woonstel.
Hulle trou een Dinsdagoggend by Binnelandse Sake in Wynberg.
Phillip gaan met die trein deur vir die geleentheid, waar die vrou wat die seremonie lei kennelik net soveel as hy geraak is deur die gebeurtenis. Daar is min mense – net die paartjie en drie vriende, wat hom insluit. Een van die ander gaste het ’n videokamera.
Phillip glimlag vir ’n vrou, wat terugglimlag, en die dag is lekker. Maar hy dink daar is beslis minder vordering in sy lewe as in ander mense s’n.
Ná die troue is daar iets om te eet by die bruid se ma se woonstel. Toe ry Andy en sy nuwe vrou om ’n week lank Oos-Kaap toe te gaan.
Phillip gaan terug werk toe, waar hy plesier daaruit put om te vertel dat hy ’n troue by Binnelandse Sake bygewoon het eerder as ’n duur Saterdagaandaffêre. Veral sy bestuurder – ’n man met ’n voorliefde vir die mooi huis, die duur broek, die skoon motor, en iemand wat in arbeidsadel glo slegs wanneer dit welvaart meebring – lyk of hy nie veel dink van so ’n troue nie. Dis genotvol om sy misnoeë te aanskou, en Phillip maak die man se reaksie af as burgerlik en naïef. Sy baas is ’n beperkte man.
Maar hy wonder wat presies sy standpunt teenoor sy baas en sy ander kollegas is. Wil hy aan hulle die boodskap oordra dat hy nie soos hulle is nie? Verbeel hy hom hy is verhewe bo ekonomiese verpligtinge en die behoefte aan status?
Nee. Hy is nie. Hy hunker na geld en status. Maar hy wil sy geld as skilder verdien en sy status as kunstenaar vestig.
Hy gaan soms na vriende in die stad, vriende wat hy nooit sou leer ken het as hy nie ’n uitstalling gehou het nie. Dis gegradueerde mense met gegradueerde ingesteldhede. Dis BA-mense. By die werk is daar eerder BCom-mense – ’n spesie wat nie te veel van BA’s dink nie, weet hy al. Een van hulle praat van BA Useless, en ’n ander sê neerhalende dinge oor musikante. Maar Phillip het ’n BA-hart, dis vir hom duidelik.
Handelsmerke – klere, motors – is nie prominent onder hierdie mense nie. Trouens, van hulle maak blykbaar ’n punt daarvan om eenvoudig aan te trek en te ry. Lees en espresso’s en duur wyn is egter belangrik. Die regte flieks is belangrik. As jy van aksieprente hou, sorg jy dat jy krities oor sulke prente praat en na “die genre” verwys. Dis ook belangrik om nie na gewilde Afrikaanse musiek te luister nie.
Saam met hierdie mense bring Phillip af en toe ’n aand by kuierplekke in die stad deur. Dan kritiseer hulle lustig mededingers se werk en bespiegel oor hulle kunstige paaie vorentoe. Daar is vae maar ambisieuse planne oor wat nog geskryf en geskilder moet word. Meer nog: oor wat nog geskryf en geskilder kán word.
Want is dit nie so dat die meeste kunstenaars maar dilettante is nie? Hoe moet jy maak met die sware wete dat vele geroep word, maar min word uitverkies?
Een van Phillip se vriende sê: “Het die bleddie Picasso nie tot in alle eras als gedoen wat die moeite werd was om te doen nie? Hoeveel geslagte leef nie in die skadu van enkelinge nie!”
Iemand anders voeg by: “Dit wys jou dat demokrasie eintlik ’n onnatuurlike verskynsel vir die mensdom is. ’n Oligargie gebaseer op vermoëns is eerder wat ons beleef.”
Dit sal, neem Phillip en sy vriende hulle voor, anders wees vir hulle geslag. Hulle sal skilder en skryf en die kultuur, die Afrikanerkultuur, deur die dal van onbenulligheid en banaliteit dra.
“Wees geduldig, my volk,” spot iemand. “Jou redding is byna hier.”
Die nuwe vriendekring kan ’n mens seker as progressief beskryf. Hulle rook byvoorbeeld dagga. Phillip gaan saam op ’n inkopiesessie in die middestad. Sy vriende moet hom wys waar koop jy die kruid en hoeveel jy daarvoor betaal. Hy haal die geld in ’n videospeletjie-emporium naby Groentemarkplein uit. ’n Groot swart man neem die noot en stap die nag in. Ná seker ’n kwartier is hy terug met ’n sakkie dagga.
Dis ’n avontuur en Phillip voel gereken. Hy leer om straatwys te word; hy verkry ervaring.
Hulle stap Tuine toe, lê daar op die gras in die nag en rook. Stap oor ’n straat na ’n restaurant en ’n polisiebakkie ry verby en die een polisieman wys vir hulle vinger, seker oor die laat uur. Sit in die restaurant en lag vir die simpelste goed, wil nie loop toe die plek toemaak nie, word omtrent deur die moeë kelners uitgedra.
Hy sak in ’n woonstel inmekaar pas nadat hy nog ’n trek geneem het en bly minute lank op die vloer lê terwyl die wêreld, die koddige lewe, sy hol bestaan, vir hom duidelik word. Sy nuwe vriende wil hom bybring, maar dis lekker so op die harde vloer. Dis lekkerder as in die harde werklikheid met sy gereelde werksure, sy juk van skilderye wat gemaak moet word, sy verstommende las van sosiale vereistes.
Hulle rook oor die volgende aantal weke weer, twee keer, drie keer, vier keer. Tog is die kruid nie ’n goeie idee nie, want dit kan net neuk, so ’n verleidelike gewoonte. Dis sy vermoede. ’n Mens gaan by ’n punt kom waar jy nie kan omdraai nie en dan swig jy voor die opiumdrome en is jou lewe vernietig. Dan word jy net nog ’n man wat in sy poging om beter te wees in werklikheid slegter was. Dan eerder drink.
Wat dus oorbly, is togte met die trein in stad toe en laat aande in ou kroeë.
Naby St. George-katedraal is ’n kroeg vir swart kliënte waar die kroegman hom nie eintlik wil bedien nie, maar hy staan geduldig en wag. Weldra het hy twee biere waarmee hy by ’n tafel gaan sit. Die musiek is onbekend, seker Wes-Afrikaans, maar dit maak nie saak nie. Rus daar nie ’n verpligting op die wit Afrikaanse man om Afrika te omhels nie?
Daar is egter Afrika-vroue wat net so graag omhels wil word, en nadat een ’n ruk lank na sy attensies gesoek het, loop Phillip, wat nie aan homself dink as ’n baie progressiewe mens nie.
Hy besoek ’n plek waar almal swart dra en lang hare en baard het. Dit lyk soos ’n byeenkoms van satanistiese bikers, maar hy voel nie onveilig nie. Dis veel, veel beter om hier te sit as by sy lessenaar in die maatskappy se gebou in Bellville. Hy sit daar in sy blou denim en taankleurige trui, sy hare kort, sy gesig skoon.
Van die mans kyk lank na hom, nuuskierig, of moontlik uitdagend, maar hy sorg dat hy vriendelik wegkyk. ’n Dronk of bedwelmde vrou, in swart en bruin, sê vir hom: “Jy moet pasop vir my. Ek’s white trash.” Phillip sê: “Jy moet vir mý pasop. Ek is bestuursmateriaal.”
Sy hang om sy nek, ’n ouerige vrou met swartgekleurde hare en plooie tussen haar neus en wange.
Hulle speel potspel. ’n Man in swart en silwer daag op en dring daarop aan dat Phillip onmiddellik padgee. Die vrou raak kwaad en begin met die man stoei. Sy slaan hom met ’n leë bierblikkie en hy gryp haar aan die keel. Phillip het genoeg gedrink om ridderlik te voel en wil tussenbeide tree, maar ’n ander man vat hom aan die kraag en druk hom by die deur uit.
“Vir wat sal jy haar beskerm?” vra hy. “Dis sy meisie. Loop eerder voor hy jou iets aandoen.”
Phillip haal gewoonlik die laaste trein terug Bellville toe, maar hy mis dit een aand. Daar is niemand by hom by wie hy kan oorbly nie en hy bring die nag in die stad deur, aan die loop van die een plek na die ander. Hy sit in deurnagkitskosplekke en maak sketse van tafels en vensters en mense, gaan by kroeë in en drink bier. Wanneer hy genoeg gedrink het, vertel hy die mense om hom dat die lewe tot sy reg kom in ’n skildery. Toneel, landskap, figuurstudie – dis wat die wêreld sin gee. Kyk wat het Toulouse-Lautrec gedoen vir nagklubs.
Teen die oggend gaan hy stasie toe en hy klim op die trein, moeg en vaak. Hy kry die behoefte om te bid dat hy rigting sal kry. Hy raak aan die slaap en iemand maak hom wakker, ’n meisie wat lyk of sy nie ouer as twintig kan wees nie. Sy gee vir hom ’n traktaatjie wat sê dat die tyd min word vir die sondaar – Jesus Christus kom binnekort die oes inhaal.
Hy staak die nagtelike besoeke aan die Kaap en probeer hom eerder aan stigtelike dinge toewy, soos om skilderye te beplan wat gebaseer is op sy ervarings tydens die laat aande.
Maar wat beteken dit tog vir ander mense: die kroeë, die treinwaens, die pleine en die voorportale van die geboue waar hy verbygeloop het? Al die gefuif en dronkenskap, die mense wat hy ontmoet het wie se name hy nie onthou nie of in die eerste plek nie gehoor het nie. Al die potspel, al die gesprekke oor mense wat hulle rug op die burgerlike lewe gedraai het, mense soos Kerouac en Pollock en Van Gogh – wat beteken dit tog?
’n Mens kan net hoop jy kry iets om te doen wat vir jou lekker is. Wat is daar om aan te pak anders as die take wat jou genot verskaf? En wat verskaf meer genot as ’n skildery wat voltooi is?
Aan die ander kant: wat verskaf minder plesier as saai en onbenullige take en die daaglikse geselskap van kollegas wat glad nie soos hy na die wêreld kyk nie? Dis eienaardig hoe bedreigend polishouers en huisverbandbetalers daar kan uitsien.
Die hoogtepunt van Phillip se week, noudat hy nie meer saans Kaap toe gaan nie maar ’n stemmige lewe lei, is die treinritte Saterdagoggende. Hy het jare laas ’n motor besit; hy spaar soveel moontlik vir eendag se bedank sodat hy nie nou die uitgawe van ’n voertuig wil aangaan nie. Hy maak dus op skoensool en treinsitplekke staat.
Hy staan sesuur op, stort, skeer, drink koffie en rook ’n sigaret in die tuin voor sy gehuurde tuinwoonstel. Dan stap hy die twaalf of wat minute van sy blyplek in Tiende Laan, Boston, na Bellville-stasie, waar hy net voor of net ná sewe ’n trein na Kaapstad haal.
Die doel van hierdie uitstappies is grotendeels vir rekreasie, maar hy neem gewoonlik ’n notaboekie en pen saam. Dis vir aantekeninge en sketse op die trein, waar daar soms interessante gesprekke gevoer word en waaruit hy ’n blik kry op die tuine, erwe, skrootwerwe en agterplase van die noordelike voorstede. Hy let op dinge soos nuwe graffiti, watter skoorstene die spesifieke oggend rook, paartjies of groepies mense by die stasies, en maak vinnige sketse. Hy vermoed dis ’n slegte gewoonte om net vinnig te skets, eerder as om ordentlike prente te probeer maak, maar dis asof hierdie dae ’n voorbereiding is op iets groots. Hy sal nog, vertel hy homself, by die eintlike werk uitkom.
In die stad eet hy ontbyt by die Wimpy Bar onder Strandstraat – altyd die Wimpy, want daar sit heelparty ander enkelinge, sodat hy nie ontuis voel nie. En die koffie was lekker lank voor Wimpy besef het hulle kan dié feit in reklame gebruik.
Daarna dwaal hy deur die strate terwyl hy probeer onthou presies hoe spel jy flaneur, beskryf hier en daar tonele in sy notaboekie (met die uitstalling wat die reeks skilderye moet word in die gedagte), beland onvermydelik in museums en galerye, staar na groot skilderye en verwens die talentvolle skilders, neem pamflette wat hy by die uitstallings kry (wat hy dalk later sal bestudeer, dalk ook nie), gaan sit in die Tuine, drink iewers ’n koppie koffie. Teen twaalfuur gaan hy terug Bellville toe, soms taamlik ontnugter deur en ontevrede oor die leegheid van sy bestaan.
Dis nie ’n slegte lewe nie, maar hy is alleen en verveeld en iets sal moet verander. Iets sal moet gebeur. Wat presies sal dit wees? En durf hy uitsien daarna? Geen situasie hou vir ewig aan nie, maar is so ’n tydelikheid nie juis iets om te vrees nie?
En dié iets gebeur. Stelselmatig. Hy word snags wakker met die oortuiging dat daar pas iemand in sy kamer was. Dit gebeur oor en oor.
Dan begin hy soggens op pad werk toe agterdogwekkende figure opmerk: mense op stoepe of aan die vee in hulle opritte terwyl hulle hom betrag, aan die praat oor tuinmuurtjies terwyl hulle koppe na hom draai. Motorbestuurders sal na hom kyk terwyl hulle op selfone praat. Koerantverkopers staar hom agterna.
Eenkeer roep ’n bejaarde vrou hom nader en vra: “Waar bly jy, seun?”
Sy het hom dalk al talle male verby haar huis sien stap en wou ’n bietjie geselskap soek, maar hy antwoord ontwykend en maak hom uit die voete voor sy klaar gepraat het, oortuig daarvan dat sy die een of ander skadelikheid vergestalt. Dit was iets aan haar ouderdom, die krom lyf, die beplooide gesig, die helder blou oë. Hy dink die hele dag aan haar.
Kollegas begin vir hom duistere gebaarseine oor die lengte van die oopplankantoor stuur. Soms wuif hy terug, onseker. Daar word soms druk bespreek oor iets wat hom uitsluit maar ongetwyfeld betrek, te oordeel na die kyke in sy rigting. Hoewel hy nooit sy naam hoor nie, weet hy dis van hom wat hulle praat.
Die kos in die kafeteria begin vreemd smaak. Hy kan nie meer kos in sy woonplek aanhou nie en gooi selfs vars voedsel gou weg: daar is ’n onuitstaanbare en onverklaarbare reuk in sy kombuisie.
Die buurman anderkant die tuinmuur het hom begin haat. Phillip weet nie hoekom nie en hy weet ook nie hoe hy dit weet nie. Dis net vir hom duidelik dat die man gewapen in sy tuin rondloop en dalk sal skiet.
Sy e-pos raak verdag: dubbelsinnighede en snedighede kan hy nou onderskei in sinne wat ’n paar maande tevore onskuldig sou gelyk het, en dit van mense wat gereelde en nogal hegte korrespondente was. Ook word sy e-pos onderskep deur die maatskappy se sekuriteit. Hulle sit dit snags en lees terwyl hy hom in sy bed lê en kwel oor wie in sy kamer was.
Naby die kerk kan hy dit nie waag nie: daar is die een of ander ingewikkelde sameswering wat hy nie kan ontrafel nie aan die gang. Saans kom motors by stoptekens tot stilstand en wag dat hy oor die straat stap voor hulle ry.
Die buurman brand vreemde kruie in sy agterplaas – dís die oorsaak van die reuk. Die kruie is bedwelmend, vergiftigend. Een nag word hy wakker en is oortuig dat hy aan die versmoor is. Die reuk is verstikkend. Hy gaan buitentoe, waar dit nog swaarder hang: die reuk van karkasse en ondenkbare lyding onder die stil wolke.
Een oggend vroeg hoor hy hoe rol die buurman die magasyn van ’n rewolwer net anderkant die tuinmuur. Hy sit lank roerloos op sy bed, sy hart in sy keel. Ná ’n ruk weet hy nie meer mooi wat hy gehoor het nie. Dit kon ’n visstok se katrol ook gewees het.
Daar is ’n partytjie by die buurman. Die mense lag en vloek en skel. Elke woord, elke lag dring tot hom deur waar hy in sy kamer met die lig af staan, sit of rondloop. Die geraas, die stemme, die musiek, die gelag raak ondraaglik. Teen tienuur vlug hy om eerder heenkome by die werk te gaan soek. Daar sit hy ’n kwartier lank voor die gedagte aan die bose maatskappysekuriteit hom op- en uitjaag.
Hy stap deur die strate, om elke draai en op elke hoek bedreig deur ’n voetganger of iemand in ’n motor.
Soggens geniet hy nie meer die halfuur se stap werk toe nie, terwyl dit voorheen ’n gawe bietjie oefening was.
Iemand op ’n roltrap kyk lank na hom. Dit dring tot hom deur dat die man hom moontlik wil doodmaak, of dat hy hom wil waarsku teen so ’n gebeurlikheid.
Hy wend pogings aan om te versoen met mense wat hy vermoed nie van hom hou nie, maar hulle slaan nie juis ag daarop nie: die komplot, sover hy kan agterkom, gaan voort. Hy het sy e-pos afgeskaal en let op wat hy oor die foon sê en vir wie hy glimlag. Dit lyk verstandig om min te praat en nie gesprekke aan te moedig nie. Almal is vaagweg bedreigend, sommige net meer as ander.
Hy het ook versigtig geraak vir die egpaar by wie hy die woonstel huur, en hy staar wantrouig na die kassiere in kafees.
Hy berus hom in sy lot. Hy is oortuig daarvan dat hy die dood verdien, dat die uiteindelike moord op hom genadedood sal wees; dit sal hom verlos van ondraaglike skuld. Wat ’n verligting is daar nie in dié gedagte nie.
Nietighede uit die verlede, sowel as misstappe, kom na hom terug. Hier was hy onbeskof teenoor iemand; daar het hy nie iemand anders se behoeftes in ag geneem nie; by daardie geleentheid het hy hom soos ’n gek gedra.
Oor Rita voel hy ellendig, al het hy intussen gehoor sy het ’n ander verhouding, en al weet hy dat sy baie gou in daardie nuwe verhouding beland het. Sou dit nie net ordentlik wees om jou ten minste ses maande ná die einde van ’n verhouding in te hou voor jy in die volgende persoon se arms val nie? Tog voel hy sleg oor haar.
Rita is die rots wat hom kneus. Sy is die groot mislukking van sy onlangse verlede. Toe hy haar leer ken het, was dit met beloftes van ’n opwindende maar gekoesterde lewe saam. Hy het haar en haar familie van voornemens en planne verseker wat nooit verwesenlik is nie. Wat het gebeur?
Die uitstalling het gebeur, die skilderye wat hy nog altyd wou skilder, die werk wat soveel ure en dae en maande en uiteindelik jare opgevreet het. En alkoholisme het gebeur. En werkloosheid en ’n gebrek aan geld het gebeur.
Daarby was en is hy buierig, weet hy, en dis geen verskoning om van ’n “kunstenaarstemperament” te praat nie. Hy slaan te min ag op ander mense en stel meer belang in wat hy self doen as in hulle bedrywighede. Dis nie net onbedagsaam nie, dis onverstandig, want mense onthou hoe jy hulle behandel. En nou betaal hy moontlik vir daardie onverstandigheid – nou dat hierdie vreemde dinge met hom gebeur.
Hy wonder in watter vorm dit sal kom, sy einde. Hy glo dit sal gif wees, want die reuk in en om sy kamer het teruggekeer. Dis duidelik dat iemand besig is om hom met iets te vergiftig, iets wat deur die slymvliese in die neus opgeneem word. Sy neus is by tye toe, en hy word snags wakker en sy lippe en tong is droog omdat hy deur sy mond asemhaal. Die vensters hou hy toe om die gif uit te hou, maar ook omdat hy vermoed dat mense hom afluister.
Hy is heeltyd gespanne en kan nie juis op sy werk konsentreer nie, want hy bly die ergste verwag. Dag en nag wag hy op aggressie, op konfrontasie, en uiteindelik die einde.
Soms dink hy dit moet moeilik wees om met hom oor die weg te kom, want dit voel of hy skaars kan reageer op wat mense vir hom sê. Tog moet hy taamlik normaal optree, want hy kom in die kafeteria, in die biblioteek, in die supermark, en hy handel sy sake daar meestal sonder voorval af. Mense besoek hom soms, en hy haal oor naweke die trein suidelike voorstede of Kaapstad toe, staan in galerye, sit by poësievoorlesings.
’n Skrywer wat aan hom voorgestel is as ’n Jungiaan met die naam Keet ontmoet hom eenkeer by so ’n geleentheid. Dié betrag hom en stel voor: “Moenie so nerveus wees nie, raak gesuip,” en draai om en loop.
Is dit die soort raad wat potensiële mentors deesdae aan hulle potensiële protégés uitdeel? wonder hy. Dis jammer. Hy sou graag vir Keet wou leer ken en by hom leer. Hy het ’n boek van die man gelees waarin Keet as ’n Jungiaanse oefening die verhaal van Jona in die moderne tyd oorvertel.
Dit geluk Phillip om ’n toekenning vir sy uitstalling te kry. Ná die funksie, in Stellenbosch, gaan hy en ’n paar ander jong kunstenaars na ’n kroeg, waar ’n ervare skilder sit. Die man vra hom hoeveel sy wengeld is, en toe hy traag is om sommer die inligting bekend te maak, gryp die skilder die tjek by hom, kyk daarna, rol dit in ’n balletjie en gooi dit deur die vertrek.
Phillip merk dat hy een van sy dissipels onderlangs oor die bedrag inlig, en ’n ander dissipel is getrou genoeg aan sy leermeester om te sê: “Kyk hoe laaik ek myself.”
So, ja, dis dan die wêreld wat hy wou leer ken het. Hierdie mense se geselskap is waarna hy gehunker het. As hy nie met hulle oor die weg kom nie, as hy nie hier inpas omdat hy nie saam met hulle op universiteit ontgroen is tydens middernagtelike rituele nie, sal hy dit maar net moet verduur.
Toe hy eers besef hy sal sy trots moet sluk en die papierballetjie-voorval vergeet, verloop die aand nie te sleg nie. ’n Mens moet aanvaar daar is meer gewigtige mense op die aarde as jy. ’n Mens moet jou plek ken.
Hy gaan speel potspel in ’n koshuis en is voor dagbreek op Stellenbosch-stasie, waar hy en sy oorkonde op die harde teer sit en wag vir die trein Bellville toe.
Een Saterdagoggend op die suidelikevoorstede-lyn kan Phillip ’n man hardop hoor dink. Dit was nadat hy by Harfield Village op die trein geklim het op pad stad toe ná hy die nag by Andy en sy vrou deurgebring het. Hy het die man en sy metgesel by ’n stasie gesien, miskien Claremont, net voor hulle die trein bestyg het.
Die metgesel trek veral sy aandag: ’n lang, nogal fris blonde meisie in ’n stywe wit bostuk en ligblou jeans. Hulle kom sit op die sitplek skuins oorkant hom, anderkant die gangetjie. Hy kyk so twee keer na die aantreklike meisie, draai dan weer sy kop na die venster. Dis terwyl hy by die venster uitkyk dat die stem duidelik na hom toe kom: “Oh, look, he’s from Bellville.”
Hy kyk verras na die man. “And he’s an artist,” hoor hy die man sê sonder dat hy hom sien praat. Hulle kyk vir ’n lang oomblik na mekaar, tot die man begin frons. Phillip kyk weg.
“He’s from Bellville and he’s an artist,” hervat die stem, en vertel verder waar hy bly, waar hy werk en wie hy ken.
Phillip kyk terug, maar die man se aandag is oënskynlik by sy metgesel.
“And now he’s wondering who’s talking to him. Now he’s wondering: ‘What the hell should I do? Should I shift in my seat? Should I move my legs?’ Now he’s wondering: ‘Should I inhale, should I exhale?’ ”
Tot in die Kaap, seker twintig minute lank, hoor Phillip daardie sagte, deurdringende stem. Hy sit en sweet en sy bene dreig om te bewe. Hy weet nie wat om te doen nie.
Toe die trein by die Kaapse stasie intrek, gaan staan hy agter die twee en wag dat die deure oopskuif. Hy kan nie na hulle kyk nie, en hy sien hulle ook nie weer daarna nie.
Hy gaan voort met sy dag, wat hy in die geselskap van sy BA-vriende deurbring. Dit kan nie ’n aangename kuier saam met hom wees nie. Hy is swak geselskap. Hy dink aan die man op die trein wat soveel van hom weet.
Toe hulle in ’n pub in die Waterfront sit, kyk mense hom vyandig aan. Kelnerinne staar met jammerkry-oë of minagting na hom. Sy vriende se aanmerkings en gesprekke klink venynig, vol dubbelsinnighede en skuins verwysings. Hulle praat oor die groot, groot poging wat nodig is om iewers te kom in die lewe. Is dit nie ’n direkte vingerwysing na hom en sy ambisies nie?
’n Man by ’n ander tafel kyk na hom, draai sy gesig weg en sê iets onhoorbaars. Die ander mense aan die tafel lag kras en hard.
Dis vir Phillip onmoontlik om saam te praat en hy wens die dag om. Waarom lyk almal so onbesorg? Kom hulle nie agter hoe ander mense na hulle staar en onderlangs afkeurende aanmerkings oor hulle maak nie? Is dit net hy wat sien hoe venynig die ander mense is?
Stelselmatig word dit vir hom duidelik hoe vyandig almal is. Soms kan hy hulle ignoreer. Soms kan hy vir ’n dag of twee vergeet van sy vrese. Maar dan ruik hy weer die vreemde reuk, of iemand gaan staan skielik op ’n sypaadjie voor hom en draai na hom asof hy hom gaan konfronteer.
Of hy sien ’n prent in ’n tydskrif, ’n boekomslag in die biblioteek, ’n televisiebeeld. ’n Man wat sy oë skreef laat hom meen sy gedrag word afgekeur; ’n duif teen ’n donker agtergrond dui op vlug; ’n droë landskap weerspieël sy gemoed; muntstukke hits hom aan om te spaar sodat hy gou kan bedank. Selfs ongewone lettertipes laat hom dink net duiwelaanbidders sal so iets gebruik.
As hy op ’n snaakse manier in ’n winkel gegroet word, begin hy wonder wat presies die groeter se motiewe is. Of hy sit op die trein en mense praat oor ’n rolprentster of sportheld, maar gou is hy oortuig dis eintlik oor hom wat daar gepraat word.
Dan is die agterdog terug.