Читать книгу Nadraai - Jaco Kirsten - Страница 3

1

Оглавление

Iewers aan die bokant van ’n steil skihelling in die Italiaanse Alpe staan ’n middeljarige man en kyk na die wit vallei onder hom. Sy donker stoppelbaard is silwergrys op sy ken en kakebeen. Hy dra ’n swart skibroek en rooi baadjie, donker handskoene, swart skihelm en skibril met spieëllense waarin die berglandskap waarteen hy skaars ’n spikkel is, weerkaats word.

Hy kyk aandagtig na die lang, smal dorpie wat vir twee kilometer van links na regs verby hom strek en asem diep deur sy neus in. Die skoon, koue berglug prikkel sy neusholtes en hy voel ’n nuwe lewenslus in hom opwel.

Net drie dae gelede was hy nog by sy argiteksfirma in ’n snikhete Kaapstad. En omdat hy nie geakklimatiseer het soos wat ’n mens geleidelik doen wanneer die seisoene wissel nie, verwonder hy hom aan hoe amper buiteruimtelik vreemd sy nuwe omgewing vir hom voel. Hy kom al vir dertien jaar elke winter Alpe toe, maar hy kan steeds nie gewoond raak aan hierdie visueel oorweldigende landskap met sy skelwit, blou en groen palet wanneer die son so helder skyn soos vandag nie.

Aan die oorkantste hange, op die wit skuinstes tussen amper groteske rotsformasies en digte lanings bome, sien hy klein, donker spikkels. Spikkels wat vinnig teen die berg af ski met ritmiese, wye boë om die snelheid te beheer. Hy staan en kyk vir ’n rukkie, asof gehipnotiseer, na daardie ritmiese dans van spoed, daardie balanseertruuk tussen swaartekrag, vaardigheid en waagmoed.

Hier waar hy op sy eie ski’s staan, is dit – afgesien van die skihysers se ritmiese klik-klak, die ski’s se “ggggh-ggggh” en die sneeuplanke se meer skor, steurende “ggghôôô”-klanke – ’n stil wêreld omdat alle geluide behalwe dié in jou onmiddellike omgewing deur die sneeu gedemp word.

Hy verstel sy skibril, maak seker dat sy polse deur sy skistokke se lusse gedruk is en stamp sy stewels beurtelings op die ferm sneeu sodat hulle stewig in die bindmeganismes vasgeknip is. Dan haal hy diep asem en leun vorentoe oor die kruin van die steil helling wat amper soos ’n afgrond vir hom lê en wag.

Die kombinasie van die gladde ski’s en die lae weerstand van die goed voorbereide, gekompakteerde helling maak dat hy vinnig versnel. Hy voel die koue Alpynse lug teen sy neus en wange. Sy hart begin vinniger klop en hy konsentreer sterker op sy balans, sy gewigsverplasing op die ski’s en op die ongelykhede van die helling. ’n Ent voor hom sien hy ’n keerheining van oranje plastieknette aan die rand van ’n skerp draai na links, met ’n afgrond na regs.

Hy draai vinnig na regs, in die rigting van die afgrond. Menslike instink en tegniek stry soms teen mekaar wanneer jy, soos hy, eers as volwassene leer ski het. Dan moet jy dit meganies eerder as instinktief benader. Daarom behels elke helling, elke blinde afgrond waarop hy afpyl en elke skerp hoëspoeddraai ewe veel ’n amperse meditatiewe fokus as die adrenalien-inspuiting.

Toe sy draai na regs die punt bereik waar hy al teen vyf-en-veertig grade weg van die helling na die afgrond toe draai, verplaas hy met ’n vloeiende beweging sy gewig van sy linker- na sy regterbeen. Hy verander onmiddellik van rigting. Sy ski’s sny deur die digte sneeu en gooi ’n poeierboog na weerskante, bo-oor die oranje plastieknet op die rand van die afgrond nou skaars twee meter van sy regterski af.

En so hou hy aan: helling na helling, ten spyte van sy brandende bobeenspiere. Die ekstase wat hy ervaar, is bedwelmend.

Rocco de Witt het ’n moeilike jaar agter die rug. Nou en dan ontspan hy op die meer gelyke dele om asem te skep – maar dan hoor hy die kenmerkende “ggggh-ggggh”-klank van iemand wat hom inhaal en neem sy mededingende geaardheid weer oor. Toe hy uiteindelik net voor 13:00 met ’n sierlike boog aan die voet van die helling tot stilstand kom, plant hy sy stokke, maak sy ski’s los en haal sy iPhone uit sy sak. Hy moet uitvind waar Helga is sodat hulle iets by een van die vele nabye restaurantjies kan gaan eet.

Hy het Helga ontmoet toe sy uit Duitsland modelwerk in Kaapstad gaan doen het. Hulle woon reeds vier jaar saam, ten spyte van sy ouers se effense ongemak met die stand van sake – al is hulle darem al verloof. Sy is blond, lenig en beeldskoon. Nes al Rocco se vorige meisies. Behalwe natuurlik dié wat donker, lenig en beeldskoon was. Op twee-en-vyftig voel hy nog steeds nie gereed vir trou nie, maar die verlowing was ’n manier om sy ouers, die gemeenskap en natuurlik ook vir Helga tydelik tevrede te stel. Hulle verhouding is sy langste tot dusver. Soms het hy al gewonder of die feit dat sy Duits is – en derhalwe as redelik gesofistikeerd beskou word – nie meegebring het dat hy haar tekortkominge makliker oor die hoof gesien het nie.

Haar Duitse karakter het hom van die begin af gefassineer. Sy is soms brutaal eerlik, as’t ware taktloos. Ander kere is sy weer byna kinderlik naïef oor sommige dinge. Só het sy ’n hekel in die miljoene Moslem-Turke in haar geboorteland wat volgens haar “besig is om Duitsland se karakter te vernietig”, terwyl sy terselfdertyd voel dat “Afrikaners se onverdraagsaamheid onverskoonbaar is”. Sy kan stug en geïnhibeerd voorkom, net om later die dag aan te dring op die mees avontuurlike seks waaroor enige viriele man kan droom. Net om weer na ’n oënskynlik konserwatiewe persoonlikheid oor te skakel.

Nadat Rocco sy iPhone aangeskakel het, wag hy om te sien of hy ’n SMS gekry het. Na ’n paar sekondes kom daar twee deur. Daar is ook ’n missed call van ’n vreemde nommer.

Helga se SMS lui:

Ich bin im Mario’s

En die een van ’n onbekende selfoonnommer:

ja jou bliksem ek soek jou. antwoord jou foon vir ’n slag. bel my bietjie balsak. Gert Malan

Vir ’n oomblik is Rocco de Witt stoksielalleen, al is hy omring deur ’n klein skare skiërs naby die hyser se draaihekke aan die onderkant van die helling. Trouens, hy is nie eers meer in die Alpynse dorpie Livigno nie. Hy voel nie eers meer die koue lug in sy neusgate nie.

Dis drukkend warm in die groot vliegtuigloods waar die jong donkerkop-luitenant voor sy toerusting kniel. Hy kom agter hy het nie toiletpapier ingepak nie. Dan kyk hy op na die troepe ’n entjie weg wat by hulle eie toerusting kniel en onderlangs gesels. Twee valke van Delta-kompanie, 1 Valskermbataljon, gaan deelneem aan ’n operasie. Valskermsoldate word nie in pelotons ingedeel nie. Dis ’n praktiese reëling, want ’n peloton bestaan uit ses-en-dertig soldate, maar ’n Dakota het net plek vir vier-en-twintig militêre valskermsoldate en ’n Puma-helikopter vir twaalf. Daarom bestaan ’n valk uit vier-en-twintig soldate. Dis weliswaar minder as ’n gewone infanteriepeloton, maar dis ’n uitgesoekte en hoogs gemotiveerde groep jong soldate wat net so hard kan baklei as ’n groep die helfte groter.

“Hei, Van der Merwe!” roep hy uit. “Het jy kakpapier ingepak?”

“Nee, luitenant!”

“Watse sleg troep is jy? Gaan kry vir ons elkeen ’n rol, man!”

“Raait-o, luitenant,” antwoord die troep laggend en begin toilette toe draf.

Vir die soveelste keer gaan hy aandagtig deur die toerusting wat voor hom op die betonblad uitgepak is. Sy battle jacket is klaar gepak, al die pasgemaakte sakke vol. In die een sak is sy A52-radio. In die ander is ekstra batterye, agt magasyne vol ammunisie vir sy R4, nóg ammunisie in boksies, ’n paar M26-handgranate, twee waterbottels, wit-fosforgranate, geel-rookgranate, ’n kaart, bomverbande, ’n paar energy bars en twee klein blikkies kos. Hy sit sy notaboek en pen in sy bosak. Hy’t ’n hol kol op sy maag, amper soos voor ’n groot rugbywedstryd op skool. En ’n snaakse smaak in sy mond, amper metaalagtig. Hoekom is sy mond so droog? Hy’s lus vir nog water. Hy raak bewus van fyn sweet op sy voorkop en vee dit af met die rugkant van sy hand.

Hulle het ’n paar uur gelede die laaste briefing gekry. Twee valke gaan saam met lede van 101 Bataljon en elemente van Spesmagte ’n Swapo-basis tweehonderd kilometer in Angola in aanval. Die operasie is die afgelope paar weke tot vervelens toe ingeoefen. Almal het geweet dat iets gaan gebeur. Hulle het net nie geweet wat, waar en wanneer nie. Dit was geklassifiseerde inligting wat van bo af sou kom wanneer die tyd reg is. Daardie tyd was gisteraand.

Die troepe is stiller as gewoonlik en orals is daar ’n senuagtige energie te bespeur. Hy weet wat sy rol is. Elkeen is gefokus, maar tog is daar ’n onsekerheid in die lug. Gaan hulle almal lewend deur hierdie ding kom? Hoe akkuraat is die inligting? Hoeveel teenstand gaan Swapo bied? En sê nou die aanval duur langer as wat beplan is? Want dan kan die Angolese in die nabygeleë basis probeer om Swapo te kom help. Om nie eers van die Kubane te praat nie. Wat dán?

Toe hy majoor Myburgh sien, staan hy op en stap nader. Hy salueer, knik sy kop en groet, amper in een beweging.

Die ander man salueer terug. “Hoe lyk dit, is alles reg?”

“Ja, majoor.”

“Ons moet net nog ’n bietjie bystaan, luitenant. Die lugmag fok ons al weer rond. Daar’s blykbaar fout met een van die Daks. Hulle sal binnekort hier wees, dan kan ons klim.”

“Reg so, majoor.”

Toe die twee Dakotas omtrent gelyk op Ondangwa-lugmagbasis se aanloopbaan land, begin die troepe spontaan hande klap en fluit. Stafsersant Willem Nel, die kompanie-sammajoor, kyk hulle afkeurend aan. Hy wys hulle egter nie tereg nie omdat enige sammajoor wat sy sout werd is, weet dat jy nie manne net voor ’n aanval onnodig kortvat nie. ’n Half anarchistiese uitbundigheid is aan te beveel in oorlogstyd, dit moet net reg gekanaliseer word. Daarom kners hy maar op sy tande.

’n Ruk later stap hulle na die olyfgroen valskerms wat in rye in die hangar staangemaak is. Die afstuurders teken elkeen se naam, rang en magsnommer aan teenoor die nommers van sy valskerm en noodvalskerm. Daar is ’n gerusstellende bekendheid aan die roetine wat die onsekerheid oor dít wat voorlê in ’n mate besweer.

Dan begin help hulle mekaar om die valskerms aan te trek. Sersant Malan tel sy valskerm vir hom op en hou dit agter hom gereed. Eers steek die jong luitenant sy bene deur die los bande en tel dan die skouerbande soos ’n rugsak oor sy skouers. Dan maak hy die knip op sy borsband vas en trek dit styf voordat hy dieselfde met die beenbande doen. Daarna help hy sersant Malan om dieselfde te doen. Toe hulle klaar is, tel hy die noodvalskerm op en knip dit voor aan sy harnas vas. Noudat albei tevrede is dat alles reg sit, help hy en Malan mekaar om hulle opgevoude R4’s aan die regtersy vas te trek, die loop na onder.

Hulle gaan sit en wag in rye. Vir ’n ruk probeer elkeen om nie te dink aan die operasie wat voorlê nie. Die aandag is op die onmiddellike. Knippe, gespes, bande, hake en klein verstellings. Sy valskerm is swaar en hy voel tegelyk benoud en opgewonde. Buite die hangar kan hy die oop militêre aanloopbaan sien. Aan die ander kant is kort gras en wit sand tot waar die heining begin, met doringbome verder aan. Die lug is vandag helderblou.

Nou en dan probeer iemand die spanning verlig met ’n aweregse opmerking. “Medic, het jy Tampax ingepak? Want Van der Merwe is ’n doos – as hy bloei, moet jy hom kan help,” sê een troep byvoorbeeld en ’n paar ander lag uitbundig. Maar so gou as wat dit begin, raak hulle weer stil.

Die jong luitenant is op sy senuwees, maar doen sy bes om kalm te lyk. Daar is soveel gedagtes wat deur sy kop maal. Hy dink aan sy ouers wat nie ’n benul het van die soort ding waarmee hulle hier besig is nie. Hy wonder hoe die sprong gaan afloop. Hulle het nog net twee nagspronge gedoen – een tydens die valskermkursus en een tydens opleiding op De Brug buite Bloemfontein ’n paar maande later. Om geld te bespaar is hulle tydens die inoefening van hierdie operasie met vragmotors naby die denkbeeldige teikengebied in die opleidingsterrein afgelaai.

Dis al laatmiddag toe hulle na die twee wagtende Dakotas op die aanloopbaan marsjeer. Hulle klim op met die trappies en begin om die vliegtuie van voor af vol te maak. Dis nie gewone sitplekke nie, maar twee rye wat opklap aan weerskante en na mekaar toe kyk.

As bevelvoerder van sy valk, klim hy laaste in sodat hy eerste sal kan uitspring. Hy het ’n Lumistick op sy valhelm. Binne-in die vloeistof in die plastiekbuis is daar ’n glasbuis met nog vloeistof. Wanneer jy die buitenste buis knak, breek die glas en meng die twee vloeistowwe om ’n hele paar uur te gloei.

Die laaste persoon in hulle valk het ook een op sy valhelm en wanneer hulle uitspring, sal die ander in die lug kan sien waar die voorste en agterste punt van die dalende string soldate is. Dan behoort hulle gouer te kan hergroepeer. Dit werk egter selde heeltemal so in die praktyk.

“Where were you, Rocco? I’ve been waiting for fifteen minutes,” sê Helga met ’n stewige tikkie verwyt in haar stem.

“Ag, sorry, Schatzi. I just … uh, had to go through some messages.” Rocco hoop hy lyk na sy normale self.

“Are you okay?”

“Yes, I’m fine. It’s just some work-related shit. And I’m a little bit tired.” Dan vervolg hy gemaak opgewek: “You should’ve seen me. One of these days I’m going to ski so well, your parents will beg me to marry you.”

“Oh, please,” sug Helga. “The last thing I want is the clone of a German husband.”

“Is that why you got yourself an African?” spot Rocco.

“Of course. Didn’t you know all German women have jungle fever, bunga bunga? We have the hots for you African men, you know.”

“Ah, but I feel exploited. You don’t care for my feelings – you’re only after my big boerewurst!”

Hulle lag ondeund terwyl hy onder die houttafel oor haar lenige bobeen streel. En toe hy ’n gulsige sluk vat van die bier wat die kelner voor hom kom neersit het, besef hy dat die reuk vanuit die kombuis hom herinner aan dié van oorlog. Hitte. Dinge wat brand. Hout, diesel, plastiek, rubber en stukkende voertuie. En mense.

Rocco kyk met ’n mate van frustrasie na sy horlosie, want dis maar halftwaalf op ’n Donderdagoggend en hy wens al klaar die week is verby. Dit was tot dusver eintlik ’n goeie week, maar vandag wil hy net wegkom van die kantoor af. Dit voel asof die naweek na regte nou moes begin het sodat hy sy vlieërplank agterin sy ivoorwit Land Rover Discovery 4 kon gooi en deurry na Blouberg of Sunset Beach. Hy kyk weer na sy horlosie, dié keer nie om te sien hoe laat dit is nie, maar met ’n tikkie tevredenheid. Dis ’n IWC Portugieser Chronograph, vervaardig in Schaffhausen, Switserland. ’n Rolex is vir tipes soos Schabir Shaik en ander BEE-trogvreters, glo hy, en daar is te veel mense wat Omegas en TAG Heuers dra. Hulle raak soos aambeie, elke tweede poephol het een.

Hy wou lankal ’n IWC Portugieser hê, maar het nog altyd gevoel die tyd is nog nie heeltemal reg nie.

Twee jaar gelede het hy egter die veiligheid van Hunter & Vennote verruil vir die waagstuk om White Rock Architectural Design te begin. Na twaalf jaar as vennoot by die ou, gevestigde H & V was hy nie langer lus om kantoorblokke en winkelsentrums te bou nie. Elke keer as hulle getender het vir nóg ’n sekuriteitsontwikkeling of wynkelder vir ’n nouveau riche Europeër, het dit vir hom gevoel asof hy sy beginsels verraai. Hy wou regte geboue skep, nie die argitektoniese eweknie van Pick n Pay word nie. Die dag toe hy sy aandeel in die vennootskap verkoop, het hy reguit na die IWC by Van Deijl Juweliers in die Kaap gegaan. Eerstens ter motivering om met harde werk die praktyk suksesvol te maak en tweedens as beloning vir sy waagmoed. En derdens om sy ego ’n hupstoot te gee.

Die firma White Rock A.D. beslaan die boonste vlak van ’n kleinerige, opgeknapte vierverdiepinggebou met fasades van beton, glas en staal in die De Waterkant-area tussen Somerset- en Strandstraat in Kaapstad. Dis net drie blokke van Rocco se ou firma af. Sy kantoor is die toonbeeld van eenvoudige minimalisme met ’n donker houtvloer, spierwit mure met ’n paar geraamde foto’s en ’n eenvoudige houtlessenaar. Eenkant staan twee leerbanke en oorkant hulle ’n groot boekrak. Teen die ander muur staan ’n outydse tekenbord. As hy vorentoe by die groot, raamlose vensters uitkyk, het hy ’n pragtige uitsig op Tafelbaai en as hy omdraai, sien hy Seinheuwel en Leeukop, met die statige Tafelberg net links daarvan. Hy was byna al orals in die wêreld en afgesien van miskien Rio de Janeiro, is daar geen stad met so ’n dramatiese uitsig nie.

Die gevierde Britse rubriekskrywer A.A. Gill het gesê dat jy nie werklik goed kan skryf met ’n mooi uitsig nie. Dis asof dit inmeng met jou vermoë om mooi beelde op te roep. Asof dit moeiliker is om met sterk gedagtes vorendag te kan kom terwyl jy skoonheid aanskou. Party dae, as hy wonder hoe hulle ’n sekere projek moet benader, trek Rocco die blindings voor sy vensters toe. Dan weet almal hulle moet hom nie onnodig steur nie.

Die verantwoordelikheid van ’n eie firma is iets waaroor hy al ’n paar keer diep moes nadink. Hy was soms bekommerd oor waar die volgende werk vandaan sou kom en het aanspreeklik gevoel vir die toekoms van sy klein personeel. Daar is net ses van hulle. Tog was daar altyd die groter vryheid om te waardeer, en die gebrek aan politiek so eie aan ’n groter firma.

Rocco kyk na sy foon. Skielik onthou hy die SMS van twee weke gelede. Hy gaan na sy inbox en scroll af tot hy die vreemde nommer sien, en maak dit weer oop.

ja jou bliksem ek soek jou. antwoord jou foon vir ’n slag. bel my bietjie balsak. Gert Malan

Tussen hulle twee lê daar amper ’n kwarteeu soos ’n groot, leë stuk veld. Het hy nog iets vir Malan te sê? Soveel kere het hy al ou kamerade raakgeloop, net om ’n gevoel van verwydering te beleef. Hy het skuldig gevoel omdat hy nie meer opgewonde is dat hy hulle teëgekom het nie. Ook omdat hy nie moeite gedoen het om kontak met sy ou makkers te behou nie. Maar waaroor praat ’n mens tog? Jy kan net soveel keer “die goeie ou dae” ophaal. En dan? Hoe vind jy weer aanklank by iemand wat ’n heel ander rigting ingeslaan het – merendeels ’n voorstedelike een vol karavaanvakansies, skooltoere, gemaklike klere, Crocs, middelslag-sedanmotors, ’n oormaat vetterige vleis, boepense, chroniese medikasie, spatare en lidmaatskap van ’n charismatiese kerk?

Rocco druk op Call en wag. Wat gaan hy sê? Dat hy bly is om van hom te hoor?

Malan antwoord. “Ja, jou windgat kont, hoekom bel jy nou eers terug? Is jy nou te goed vir ons?”

“Malan? Yes, man, jammer ek bel nou eers … Ons, ek en Helga – my verloofde – was bietjie oorsee met vakansie en … Ag, jy weet mos hoe duur oorsese oproepe is.”

“Ja, maar jy’s mos deesdae ’n ryk fokken argitek – wat worry jy oor geld!”

Rocco voel ietwat geïrriteerd. Hy kan nie sy vinger daarop lê nie, maar is klaar spyt hy’t Malan gebel. Nogtans wil hy vriendelik bly.

“Ja, ja … So, waar het jy my nommer gekry? En hoe weet jy ek’s ’n argitek?”

“As ek jou sê, moet ek jou skiet, ha-ha! Nee, man, ek het op Facebook gesien jy’s bevriend met Vingers van Wyk en toe vra ek hom vir jou kontakbesonderhede.”

“O, oukei. En wat doen jy?”

“Nee, man, ek werk die laaste agt jaar aan en af oorsee. Sekuriteitswerk in die Midde-Ooste, jy weet. Maar dinge staan nou einde se kant toe. Ek is terug. Ek het ’n plaas gekoop in die Oos-Kaap. Wild en sulke goed. Ons het allerhande planne.”

“Oukei, en wie is ‘ons’ ”?

“Ag, dis sommer ’n paar ouens wat ek die laaste paar jaar leer ken het. Twyfel of jy hulle sal ken. Maar hoor hier, ons moet ’n slag bymekaarkom.”

“Ja, dit sal lekker wees,” sê Rocco en wil dadelik sy tong byt.

“Weet jy van enige lekker plekke in die Kaap? Maar net nie een van daai fancy plekke vol moffies nie, oukei?”

“Raait, laat ek dink. Miskien moet ons Da Gama Tavern toe gaan. Hulle het nogal lekker kos en dis ’n regte pub.”

“Het hulle Red Heart?”

“Oorgenoeg.”

“Hoe lyk dit dan met later die week?”

“Oukei, wat van Vrydag, so laatmiddag? Dan hoef ek nie met ’n dronklyf terug kantoor toe te gaan nie.”

“Dit kan werk vir my, De Witt!”

Rocco beëindig die oproep. Dit was op ’n manier tog goed om weer Malan se stem te hoor. Miskien moet hy nie so hard op die ou – en homself – wees nie. Miskien sal hulle lekker kuier. Hulle was dan saam in die oorlog. En dis mos ’n band wat vir altyd bly, of hoe?

“Anastasia, ek gaan vandag en môre Design Indaba toe,” sê Rocco vir sy administratiewe towenaar, sekretaresse, gasvrou en beredder van krisisse.

Anastasia October is ’n skraal mens, getemper deur ’n harde lewe op die Kaapse Vlakte. Sy kompenseer daarvoor deur hiperhoflik te wees en met ’n sagte, amper gedempte stem te praat. Sy is die beste voorbeeld waarvan Rocco weet van hoe deursettingsvermoë jou bo moeilike omstandighede kan laat uitstyg.

Hy het haar by Hunter & Vennote leer ken. Sy was eers ’n tea girl en skoonmaker. In ’n stadium het sy uit haar eie begin help om die firma se lêers te orden. Sy’t kennelik ’n aanleg vir dié soort ding gehad en weldra het hulle haar begin touwys maak in basiese rekenaarvaardighede. Uiteindelik het hulle vir haar ’n pos geskep as administratiewe assistent. Die eerste dag wat sy met haar “kantoorklere” by die firma aangekom het, het almal spontaan hande geklap – en het sy begin huil van blydskap en verleentheid.

Rocco weet nou nog nie hoekom hulle so goed oor die weg kom nie. Sy het altyd die gewoonte om hom te “meneer” – nadat hy haar seker ’n jaar lank gevra het om hom op sy naam te noem. Op ’n dag het sy skynbaar gemaklik genoeg in sy teenwoordigheid begin voel om hom soms op sy naam te noem, hoewel sy steeds sukkel met “jy” en “jou” – vandaar die gebruik om soms ’n sin aanmekaar te flans soos: “Meneer Rocco, hoe was Rocco se naweek?” Dit bly meestal steeds “meneer Rocco”. Af en toe sal hy haar kamstig kwaai aankyk totdat sy skaam glimlag: “Maar meneer Rocco is mos ’n meneer, meneer.”

Toe hy by Hunter & Vennote bedank het, was Anastasia een van die eerste mense buite die vennootskap vir wie hy daarvan vertel het.

“Maar, meneer Rocco, hoe dan so?”

“Anastasia, ek begin my eie firma. Wil jy vir my kom werk? Ek sal jou ’n goeie werk en ’n verhoging gee. Ag toe, sê ja.”

“Maar wat moet ek daar doen, meneer Rocco?”

“Jy moet my regterhand wees. Die admin bymekaar hou. Notules, planne, aansoeke, my dagboek help hou en nou en dan hand bysit met die catering as ons vergaderings hou. Want ons gaan ’n klein firma wees. Ons sal elkeen moet multi-task dat dit klap. Maar jy sal jou eie kantoor hê. En ’n parkeerruimte. Toe, wat sê jy?”

Sy’t ’n rukkie stilgebly voordat sy geantwoord het: “Meneer Rocco, ek moet vrou-alleen twee kinders grootmaak. Hierdie kwessie maak my bietjie onrustig. Sê nou dit werk nie uit nie. Dan sit ek op straat.”

“Ek verstaan goed hoe jy voel, Anastasia. Maar ek sal jou nie drop nie.”

En toe White Rock A.D. drie maande later sy deure oopmaak, toe is Anastasia October daar.

Die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum is ’n indrukwekkende studie in metaal en glas, ontwerp deur ’n groep argiteksfirmas, waaronder Revel Fox en Van der Merwe Miszewski, oftewel VDMMA. Na al die jare vind Rocco dit steeds moeilik om mededingers se werk objektief te beoordeel. Hy kan die ontwerptaal interpreteer. Hy’s bewus van die proporsies en het waardering vir die gebruik van metaal en glas om die foyers in natuurlike lig te baai. Maar daar is tog ’n mate van jaloesie waarvan hy nie kan wegkom nie. Hy kon dit nog nooit mooi aanvaar as mense wat hy goed ken, aangewys word vir projekte waarvoor hy aansoek gedoen het nie. Deur die jare het hy gevind dat hy makliker en meer afstandelik oor die werk van buitelandse argitekte soos Frank Gehry of Santiago Calatrava kan praat.

Hy weet dis omdat hy hulle nog nooit ontmoet het nie. Hy het nog niks van hulle menslike swakhede geïdentifiseer nie. Hulle is dus net name, met geen negatiewe persoonlike eienskappe waarmee hy hulle kan assosieer nie. Hulle is ook fisiek gesproke te ver van hom verwyder om as mededingers beskou te kan word.

Hy het ’n paar jaar gelede die argitek, akademikus en skrywer Deyan Sudjic se boek The Edifice Complex gelees. Sudjic meen dat opportunisme, egomanie, oppervlakkigheid, ’n aptyt vir sikofante en ’n bereidwilligheid om met tiranne sake te doen, van die eienskappe is waaroor jy moet beskik om ’n suksesvolle argitek te kan wees. Want toe tiranne soos Hitler, Stalin, Mussolini en Saddam Hussein begin het om uiting aan hulle egomanie te gee, was argitekte van die eerste mense na wie hulle hul gewend het vir bystand.

Sudjic glo ook dat baie argitekte eintlik maar bestaande werk plagiariseer. Rocco het baie daaroor nagedink en boonop al gewonder of die negatiewe, egogedrewe impulse wat hy soms betreffende sy mededingers se werk ervaar, spruit uit jaloesie – of skaamte omdat hy homself in hulle herken.

Tot Rocco se ongemak het Sudjic ook in die boek beweer dat die kern van die deursnee-argitek se bestaan nie draai om nut of diens nie, maar eerder om tot elke prys konstruksies te laat verrys, ongeag die uiteindelike gevolge. Soortgelyk aan salm wat desperaat stroomop migreer met net een doel voor oë: voortplanting, en dan sterf hulle. Uiteindelik, sê Sudjic, is die enigste argitekte met ’n gewete dié wat aanbouings of verbouings van bestaande geboue aanpak.

Soos Rocco een aand vir sy jonger broer gesê het nadat hulle heeltemal te veel Jack Daniel’s gedrink het: “Weet jy wat gee my – en enige ander argitek wat sy sout werd is – ’n groot kick? Om by my eie geboue verby te ry en te sien hoe mense daarna kyk. Nee, stáár. Dís wat. Enige argitek wat vir jou vertel dat hy ontwerp ‘om groen te wees’ of ‘ ’n nuwe ontwerptaal te skep’ of wat ook al, praat snert. Ons doen dit vir die ego. Ons almal, die laaste een. Want ons ontwerp nie geboue nie. Ons maak statements. Anders kon jy net sowel oom So-en-so se simpel nefie wat ’n tekenaar is, gekry het om geboue te ontwerp. Dan het alles gelyk soos die kak wat ons Afrikaners vir ons langs die see laat bou. Was jy al op Strandfontein? Of Klein-Brakrivier dalk? Vir my as argitek is daardie plekke die grootste puisies op die vuilste vark se gat. Hoeveel geel klinkerbakstene en nylongaasgordyne kan ’n mens jou indink?”

En hier staan Rocco in die konferensiesentrum. En ja, hy is nogal jaloers op wat hy sien. Oor ’n kwartier gaan Terence Conran praat. Die einste sir Terence wat ’n paar jaar gelede op besoek aan Suid-Afrika gesê het hoe oorskat hy Carrol Boyes se ontwerpe vind.

Dalk is hier iets vir die oog. Nie dat Rocco régtig belangstel nie. Dis meer ’n impuls uit sy amigdala, die primitiewe reptielbrein. Hy kyk onwillekeurig na mooi vrouens, maar sonder om te staar. Om te staar is om openlik verleë te wees.

Buitendien, het hy al vir sy pelle by die gym gesê, is die girls in die ontwerpwêreld meestal neurotiese, anoreksiese klone. Bleek, platborstige slaai-eters wat mans beoordeel volgens inkomste en vermoë om saad te verskaf in hulle ál meer desperate pogings om kinders te kry. Dis asof hulle biologiese horlosies in tydbomme verander het.

Eenkant sien hy Sophie by ’n groep luidrugtige vrouens en twee binneversierder-tipe mans staan. Sophie werk by ’n dekormaatskappy en versinnebeeld die soort girl wat hier uithang. Middel-dertigs tot vroeë vyftigs. Het beter dae geken. Baie van hulle is Jewish princesses, óf neuroties, waarskynlik weens swak verhoudings met hulle pa’s, óf damaged goods na ’n egskeiding. Sophie is getroud op negentien, geskei op ses-en-twintig en enkellopend vir die daaropvolgende vyftien jaar. Met die kenmerkende plooimond van ’n middeljarige vrou wat rook.

Hy vang per ongeluk haar oog en sy sweef nader. “Hi, Rocco! Mwha! Mwha!” soen sy hom op haar geaffekteerde manier.

In sy vroeë veertigs het Rocco finaal vrede gemaak met die feit dat vrouens nou eenmaal van hom hou. Hy’t ’n argeloos gemaklike verhouding met sy eie aantreklikheid. Die ouderdom het hom ook goed behandel. Hy het ’n lenige lyf van amper een-komma-nege meter en nog die meeste van sy donker hare, met enkele grys haartjies by sy slape. Sy hare is in ’n modieuse, lang styl wat hy agteroor kam om net-net oor sy kraag te hang. Hannah, sy gay boesemvriendin, het op ’n slag gesê dat hy die ergste van heteroseksuele ydelheid verteenwoordig.

“Oh, my Gawd, how are you doing? I can’t believe a nice boerseun like you is still single …”

“I’m fine, Sophie. And uh, I’m engaged, you know.”

“Engaged?! Oh, my Gawd! Congratulations! And who’s the lucky lass?”

“It’s Helga, the German girl I introduced you to at the J&B Met last year, remember?”

“Oh, my Gawd, you’re right! Ah, well then. Toodeloo, my beefy cupcake, we should do lunch some time!”

“Yes, we should …”

’n Uur of wat later stap Rocco uit. Hy’s nogal teleurgesteld in die voorlegging. Is dit net hy, of lyk alles deesdae dieselfde? Hy loop na Marimba, die restaurant op die sentrum se een hoek. Dis oop vir die breë publiek en nie slegs konferensiegangers nie, daarom wil hy dit opsoek. Hy’s keelvol vir die pretensie. Dis altyd dieselfde gesigte op dieselfde plekke met dieselfde praatjies oor the next big thing.

Hy gaan sit by die kroeggedeelte en bestel ’n Peroni. Hy’s eintlik lus vir ’n Castle, maar bewus van die feit dat die mense hier rond daarop neersien. Dan raak hy geïrriteerd met homself omdat hy enigsins omgee wat hulle dink. Tog … as een van die ander firmas se mense hom sien Castle drink, weet hy, gaan hulle sy vermoëns as argitek in twyfel trek. Nie sy tegniese vermoëns nie, maar sy estetiese oordeel. Watter welaf persoon wil hê sy huis moet ontwerp word deur iemand wat Castle drink? Wat sê die feit dat jy dit drink van jou? Eerder nie die kans waag nie.

Deur die venster sien hy ’n bordjie wat ’n bespreking adverteer. Hy sit sy leë glas neer en stap soontoe. Die tema is “Transcending Eurocentrism: A New Architectural Narrative”. Dit amuseer Rocco. Hy is half nuuskierig, getemper deur ’n mate van sinisme. Dit sal alles afhang van wie die sprekers is. Dan gly sy oë ondertoe.

Dr Amanda Price, Dept of Social and Gender Studies, Grahamstown University

Professor Malusi Ngcobo, Dept of African Studies, Unisa

Prof Pippa McGuinness, Dept of Architecture and Planning, UCT

Vir ’n oomblik weet hy nie wat om te doen nie. Hy raak bewus van die son wat deur die konferensiesentrum se glaspanele skyn en wil omdraai en uitloop. Net toe gewaar hy Gian Stefani, een van die Kaap se voorste argitekte.

“Hey, rocksta!” groet Gian hom op sy gebruiklike manier.

“Hey, capo di tutti i capi!” groet Rocco terug.

“Are you going to attend this seminar?”

“But of course,” jok hy. “I’ve been waiting the entire morning.”

Nadraai

Подняться наверх