Читать книгу Nadraai - Jaco Kirsten - Страница 4

2

Оглавление

Die ateljee op die onderste verdieping van die veelvlakkige huis tussen die bome in Higgovale, teen die laer hange van Tafelberg, bied ’n kalm ontvlugting van sy alledaagse lewe. Die dik mat en ondervloerse verhitting maak dit knus in die winter, en die skaduwees van die talle bome koel in die somer. Die mure is vol geraamde planne van klassieke geboue regoor die wêreld.

Vir Rocco is dit ’n oase van stilte en fokus. Hier kan hy die alledaagse uit sy gedagtegang verban. Hier doen hy geen werk vir sy firma nie. Hier speel hy en droom hy en leef hy sy stokperdjie uit met die bou van skaalmodelle van ikoniese konstruksies. Die laaste paar jaar bou hy Frank Lloyd Wright-geboue. Veral Wright se huise. Dié metode met al sy detail is vir hom ’n bykans meditatiewe ervaring waartydens hy op een ding konsentreer en aan niks anders spesifieks dink nie.

Hy werk van planne af en begin deur volgens skaal die mure uit ligte hout en karton te sny met ’n messie met ’n skalpel-lem. Daarna bou hy oor ’n kwessie van ’n paar maande die huis laag vir laag, amper soos ’n skilpop. Wat sy huise besonders maak, is dat wanneer jy die dak afhaal, jy na die meubels binne-in kan kyk. Sommige daarvan bestel hy oor die internet uit Amerika, maar ander maak hy self met spesiale gereedskap vir miniatuurmeubels.

Soms gaan soek hy in Exclusive Books in die Kaapse Waterfront nog boeke oor Frank Lloyd Wright vir die rak teen die ateljee se agterste muur. Wanneer hy so ’n boek koop, sal hy dit dae lank bestudeer en met ’n swart inkpen sketse en aantekeninge in sy swart Moleskine-boek maak. Helga het al gevra hoekom hy soveel tyd en energie aan ou, bestaande geboue bestee. Dit het hom gegrief, maar hy het dit ter wille van die vrede onderdruk.

Vanaand sit Rocco weer by sy werkstafel en werskaf. Die skuifdeur laat vars lug in, en daardeur sien hy die tuin en stroompie ’n entjie verder ondertoe. Die deur is net op ’n skrefie oop, want dis delikate werk en ’n windvlaag kan sy notas en die ligter stukke hout en karton versteur.

Soms, as hy al ’n paar uur in sy ateljee besig is, voel hy skuldig. Omdat hy nie aan Helga aandag gee nie en omdat hy dié tyd kon benut het om met nuwe idees vir projekte vorendag te kom. Dan troos hy homself dat hy inspirasie put uit die bou van die modelle.

Een van Wright se bekendste ontwerpe was Fallingwater, ’n huis wat staangemaak is bo-oor ’n stroom wat oor klipplate vloei. Dis ’n veelvlakkige konstruksie van beton en klip en is voltooi in 1939 – die jaar waarin sy pa gebore is. Dit het Rocco nog altyd gefassineer dat op min of meer dieselfde tyd as wat die Simboliese Groot Trek plaasgevind het, skaars ’n eeu na die oorspronklike, daar mense was wat so vreesloos vorentoe die toekoms in gekyk het. Hy het al baiekeer gewens dat hy in daardie tyd geleef het, want dit het soms vir hom gevoel of daar nie veel meer uitdagings in die argitektuur oorbly nie. Dat daar geen konvensies meer is om te breek nie.

So modern en vernuwend as wat Wright was, het hy landskap en ligging eerbiedig, want Fallingwater bied uitsigte in alle rigtings sodat die omliggende woud bewonder kan word. Dit onderbreek nie die vloei van die stroom nie, dit staan wydsbeen bo-oor. Dit bestaan in verhouding tot die onmiddellike omgewing en nie ten spyte daarvan nie. En daarin, glo Rocco, is ’n les te vinde. Hy wil nooit geboue ontwerp wat die landskap oorheers en nie in harmonie daarmee verkeer nie.

Sy viervlakkige huis toon ’n hele paar ooreenkomste met Fallingwater. En dis nie toevallig nie, want toe hy ’n paar jaar gelede hierdie erf gesien het, was die bou van so ’n huis een van sy drome. Die stroompie vloei weliswaar ’n ent onder die huis verby, maar die boomryke, skuins erf bied die perfekte agtergrond vir so ’n huis. Daarom het hy eers ’n kleiner weergawe van Fallingwater gebou voordat hy begin het met sy huis se ontwerp.

Al was daar heelwat verskille tussen Fallingwater en sy uiteindelike ontwerp, het dit Rocco behaag dat daar wel ’n hele paar ooreenkomste was. Ooreenkomste waarvan net hy bewus was. Met elke meet, sny, pas en plak van nóg ’n stuk van ’n Wright-huis, het dit gevoel asof hy sy gedagtes suiwer. Asof hy weer ’n ou meesterstuk lees.

Nou is hy besig met Robie House. Struktureel is dit nie so ingewikkeld soos Fallingwater nie. Wat dit egter vir Rocco besonders maak, is dat dié ikoniese Wright-ontwerp in 1909 voltooi is – skaars ses jaar nadat die Wright-broers die eerste beheerde enjinaangedrewe vlug in die geskiedenis van die mensdom uitgevoer het.

Die ander ding waarvoor Rocco waardering het, is dat die kliënt, Frederick C. Robie, ’n ingenieur was met baie spesifieke dog eenvoudige vereistes: hy wou ’n huis met oopplanruimtes hê wat brandbestand is. Verder kon Wright basies doen wat hy wou. Dit moet enige argitek se droom wees, het Rocco gedink toe hy as jong student die eerste keer daarvan gehoor het.

Die binnekant van Robie House is redelik maklik om as skaalmodel te bou. Selfs die meubels, wat ook deur Wright ontwerp is, is taamlik hoekig en maklik om in skaal te herskep. Daar is ’n sekere doelmatige suiwerheid aan die ontwerp omdat een persoon vir alles in die huis verantwoordelik was.

Dis ’n ontwerp met drie vlakke. Onder is ’n speelkamer, biljartkamer, die sentrale verhittingstelsel, waskamer en stoorplekke. Die ingang is ook op dié verdieping. Maar jy kon reguit met trappe opstap na die volgende ruimte, in wese een groot vertrek wat deur ’n kaggel in ’n sitkamer en eetkamer verdeel is. Die slaapkamers is bo, op die derde vlak.

Terwyl hy aan Robie House werk, het Rocco al gewonder of hy nie daardie benadering kan wysig en op Suid-Afrikaanse wonings van toepassing maak nie. ’n Half versonke, vensterlose grondverdieping, met die leefruimtes op hoër vlakke. Nie net sou hy só van die grond se natuurlik insulasie gebruik kon maak nie, dit sou ook makliker wees om te beveilig aangesien potensiële inbrekers op ’n laer vlak as die vensters sou wees.

Maar elke keer wat hy daaraan gedink het, het hy skuldig gevoel omdat hy die suiwerheid van Wright se ontwerpe so wou verdun. Dan weer, wat sou Wright gesê het as hy vandag ’n Suid-Afrikaanse argitek was?

Dis gedagtes wat kom en gaan terwyl hy hom by die werkstafel besig hou, kaalvoet en in ’n swart T-hemp en jeans, met John Hiatt se kreunende stem wat uit die luidsprekertjies in die vier hoeke van die ateljee vloei.

Hy tel ’n houtpaneel op. Dis om ’n buitemuur van Robie House mee te bou. Hy sien dat die een hoek, waar hy met sy klein elektriese Dremel-toestel gesaag het, ’n paar growwe splinters het wat hy sal moet afskuur. Hy trek een van die laaitjies teen die muur bokant die werkstafel oop om ’n stuk van die baie fyn skuurpapier uit te haal. Sien daar is niks oor nie. Hy raak vies vir homself omdat hy nou garage toe moet stap waar hy nog gereedskap en voorraad bêre. Sy konsentrasie is verbreek.

Hy maak die garage se deur oop en voel-voel na die ligskakelaar. Toe die neonligte nog flikker voordat hulle behoorlik aangaan, stap hy al met die gegalvaniseerde staaltrappe af tot in die garage, wat vanweë die skuinste van die erf ’n halwe vlak laer as die res van die huis is. Aan die agterkant is ’n reeks staalkabinette waar hy al die goed bêre. Die skuurpapier behoort aan die regterkant te wees. Hy sien ’n swart plastiekkrat bo-op daardie kas wat taamlik skeef staan en die simmetrie versteur. Hy gaan staan op sy tone om dit reg te skuif, dan raak hy nuuskierig oor wat nou weer in die krat is en haal dit af om gou te kyk.

Toe Rocco die deksel afknip, is hy verras om sy ou nutria-bruin militêre uniforms aan te tref. Hy het vergeet waar hy dit gebêre het. Dis netjies opgevou, so al asof dit weer gedra gaan word. Bo-op lê ’n maroen beret met ’n lapkenteken: twee vuilwit vlerke aan weerskante van ’n valskerm met ’n bokkop in die middel. Hy tel die beret op en sit dit op sy kop. Dit voel vreemd bo-op sy welige, kraaglengte hare. Hy haal dit af en sit dit eenkant neer.

Op die boonste hemp lê twee epoulette. Elkeen het die enkele ster van ’n tweede luitenant. Daar is ook ’n maroen krawat, ’n groen seilgordel, ’n maroen seremoniële gordel en skouerflitse. Hy wonder waar sy brons-valskermvleuels is. Daar is net die swart geborduurde vleuels op elke hemp en baadjie se bors. Hy moes dié van metaal iewers anders gebêre het.

Vir ’n oomblik besin hy oor die feit dat iets waarvoor hy jare gelede so hard moes werk so onbelangrik geraak het dat hy kon vergeet waar hy dit gebêre het. Dan pak hy alles terug in die krat en sit dit weer op die staalkabinet, perfek gelyk met die voorste rand.

Hy kry amper dadelik die skuurpapier wat hy kom soek het en neem vier velle voordat hy die staaldeur toemaak. Dan stap hy op met die trappies, skakel die ligte af en trek die deur agter hom toe.

Later sien hy dat hy reeds drie uur lank aan Robie House werk. Daar is nog soveel om te doen, maar hy staan op, maak die skuifdeur toe en skakel die lig af.

“Are you still awake, Schatzi?” roep hy saggies op na die vlak waar die slaapkamer is. Dis doodstil. Sy moet al slaap. Hy voel weer skuldig.

Dis halfdonker in die sitkamer van die nederige huis in 5de Straat, Boksburg-Noord. Die enigste opvallende geluid, afgesien van ’n motor met ’n raserige uitlaatpyp wat elke nou en dan verbyjaag, is dié van die ou yskas in ’n hoek van die kombuis met sy dennehoutkaste en bruin linoleumvloere.

Die vrou in die sitkamer hekel sonder om ’n woord te sê. Af en toe staan sy op om vir haar ’n beker koffie te gaan maak. Sy gaan telkens eers tot by die deur van die hoofslaapkamer, waar haar man amper bewegingloos lê en swaar asemhaal. Die gordyne is toegetrek. Langs die bed is ’n klein radio wat saggies RSG uitsaai. Só sag dat jy nie maklik kan hoor wat die omroepers sê nie. Hulle word periodiek deur ’n paar advertensies en dan ’n liedjie onderbreek, voordat die stemme weer oorneem. Praat hulle op die oomblik oor tuinmaak?

Toe die vrou nogmaals seker gemaak het dat haar man geen asemnood het of kwaai ongerief verduur nie, stap sy kombuis toe. Daar gekom, skrik sy vir die skril geluid wat die stilte verbreek en lig die ivoorkleurige telefoon se gehoorbuis.

“Hallo, dis Susanna Malan …”

“Hallo, Ma, dis Gert,” kom die stem.

“Ag, hallo, my kind. Hoe gaan dit met jou?”

“Nee, goed, Ma. Hoor hier, ek kan nie lank praat nie. Ek wil net weet of Ma-hulle al die geld gekry het? Ek’s jammer ek het dit nie vroeër inbetaal nie, maar dinge gaan bietjie rof hier rond.”

“Ag, dankie, my ou kind. Ek sal netnou bank toe stap en gaan kyk. Pa was net vanoggend bietjie onrustig, anders het ek vroeër gaan kyk. Hy sukkel weer om asem te kry.”

“Ma moet my maar laat weet hoe dit gaan.”

“Ek sal, my kind. Jy moet jouself asseblief oppas, hoor jy?”

“Ja, Ma, moenie worry nie. Ek’s nou klaar met daai ander werk daar bo. Van nou af gaan ek baie veiliger goed doen.”

“Lief vir jou, my kind. Mooi bly.”

“Dankie, Ma. Kyk asseblief mooi na Pa, hoor?”

“Baai.”

Die raserige motor dreun weer voor die huis verby en doof haar seun se laaste woorde uit. Sy sit die gehoorbuis stadig terug op die mikkie en kyk uitdrukkingloos na die muur voor haar. Dis vol geraamde foto’s van tye toe hulle almal jonger en met goeie gesondheid geseënd was. Gert het so mooi in sy uniform gelyk. Sy gesig was skoongeskeer en sy donker hare netjies kort geknip. Daar is ’n ander, kleiner foto van hom waar hy in ’n woestynagtige gebied met ’n sonbril en AK-47 staan.

Sy wens hy het ’n veilige loopbaan in die Spoorweë gekies, soos sy pa. Of ’n ambag soos sy ooms. ’n Fitter and turner. Of dalk ’n boilermaker of electrician. Maar haar kosbare Gert wou altyd army toe gaan. Hy was van kleins af lus om terries te gaan skiet. Hy kon selfs met ’n rugbybeurs gaan studeer het. Maar die roep van soldaatwees was te sterk.

Soms blameer sy haarself daarvoor. Want toe Gert klein was, het haar broer Boet gereeld by hulle kom kuier en vertel hoe hulle in 1976 saam met ’n kolonel Breytenbach in Angola geveg het. En hoe hulle so ver gevorder het dat hulle die liggies van Luanda gesien het voordat hulle die opdrag gekry het om om te draai. Dan het klein Gert met groot oë na Boet gesit en luister. Boet was lief daarvoor om sy army-boshoed saam met sy siviele klere te dra. Met ’n handgranaat se pen by die hoed se band ingedruk. Soms het hy bietjie te veel gedrink, dan het hy vir Pik Botha, die Amerikaners en die CIA begin uitskel. Daarna het hy gewoonlik in sy oranje Ford Capri met die Gunston stickers geklim en iewers in die nag heen verdwyn.

“Neo-klassisisme? Ag nee, you must be joking …” sê Rocco half geïrriteerd terwyl hy op en af in sy kantoor loop met sy foon teen sy oor.

“Maar hierdie ou is loaded! Hy weet nie wat om met sy geld te maak nie.”

“Ek weet dis ’n groot projek, maar die Vader weet, kliënte moet darem ook kan luister na argitekte se insette. Ek bedoel, die kelder is smack-bang in die middel van die Franschhoekvallei. Wil hulle nie iets minder kitsch oorweeg nie? Ons kan selfs iets kontemporêr Cape vernacular doen …”

Die man aan die ander kant is opgewonde. Hy verduidelik dat die ryk Gautengse kliënt wat onlangs ’n wynplaas gekoop het, pertinent genoem het dat hy ’n kelder en proelokaal in ’n neo-klassieke styl wil hê.

“Jirre, jy weet. Hierdie mense uit Gauteng. Is dit ’n BEE-tipe?” wil Rocco weet.

“Nee, hy’s Afrikaans. Hy besit Matrix Data.”

“Wat? ’n Afrikaanse IT-miljoenêr? Ek moes geweet het. Hy bly seker in Pretoria-Oos. En hy wil seker ook ’n grasdak-lapa aan die agterkant aannaai met ’n vyf-kar-garage langsaan vir sy BMW’s en Land Cruisers.”

Die man hou aan verduidelik hoe belangrik die kliënt is en dat die projek baie werd is.

Tot Rocco hom onderbreek: “Luister, ek het ’n incoming call. Ek bel jou later terug, oukei?”

“Goed. Later dan.”

Hy sien eers wie dit is wat bel net voor die stem kom.

“Yes, Malan hierso, hoe gaan dit?”

“Nee, oukei, en jy?”

“Ek het vanoggend geland en myself uitgesort. Ek bak bal by die Waterfront. Hoe lyk dit, gaan ons nog ietsie eet vandag?”

“Jammer, man. Natuurlik. Ek het vergeet om te bevestig, maar dis alles op my foon se dagboek. As die ding moet wegraak, is ek heeltemal in my moer in.”

“Waar kry ek jou?” vra Malan.

“By die Da Gama Tavern in Groenpunt, het ek mos gedink.”

“Nou waar de fok is dit?”

“Gaan na Google Maps op jou foon en soek die BP-vulstasie in Main Road, Groenpunt. Da Gama Tavern is net om die hoek, in Alfredstraat. Dis ’n bietjie van ’n hool, maar jy behoort dit te kry. Daar is ’n parkeergarage so tien meter in die straat af, links. Parkeer eerder daar, dan is daar minder van ’n kans dat ’n bergie jou lastig val. Die fokken goed is orals,” hoor hy homself sê.

Hy is eintlik verras dat hy so praat. Die laaste paar woorde het met soveel gemak uit sy mond gekom. Was dit omdat hy dink Malan sal so praat?

Nadat hy sy wit Land Rover Discovery 4 in die parkeergarage gelos het, stap Rocco na die Da Gama Tavern.

Buite waai drie vlae: van Suid-Afrika, Portugal en Hamilton Rugbyklub – laasgenoemde omdat dit die laaste ruk dié plaaslike klub se uithangplek geword het. Bryn Ressell, die eienaar, het glo ’n lang verbintenis met Hamiltons.

As dit nie vir Ressell was wat Da Gama Tavern ’n paar jaar gelede gekoop het nie, was dit al gesloop. Sedertdien het hy nog ’n perseel in die nuwe gebou oorkant die ou taverne bekom en is Da Gama nou dubbel so groot soos voorheen, met ’n oop area onder sambrele tussenin.

Rocco druk die twee deurtjies, wat herinner aan dié van ’n cowboy-kroeg in ou flieks, oop en stap in. Na die skerp sonlig buite is dit donker hier binne en dit neem hom ’n paar sekondes voordat hy behoorlik kan fokus. Nou kan hy die vaalgeel melanientafels en kroegsitplekke van rooi kunsleer beter uitmaak.

Links van hom, in die holte voor die kroegtoonbank, sit drie jongerige ouens by ’n ronde tafel. Hy herken hulle as ouens wat in die filmbedryf werk en knik in hulle rigting. Die stoele voor die kroegtoonbank self is al vol, vermoedelik gereelde klante wat met ’n bier byderhand weglê aan die een of ander Portugese dis.

Dan gewaar hy hoe twee middeljarige mans opstaan by ’n smal tafeltjie regs teen die muur. Dis die kans waarop hy gewag het en binne oomblikke sit hy op die stoel wat na die deur toe kyk, sodat hy kan sien as Gert Malan instap.

Een van die kelnerinne kom nader. Sy’s in haar vyftigs en moes op haar dag redelik aantreklik gewees het. Haar hartseer oë verklap dat haar lewe nie uitgewerk het soos wat sy dit wou hê nie. Sy soek dit nie, maar jy kan nie help om simpatiek teenoor haar te voel nie. Rocco wonder hoekom hy altyd meer simpatie het met buitengewoon lelike en mooi mense as met diegene tussenin.

Die deure swaai oop. Dis ’n donkerkopman in sy vroeë vyftigs. Hy is sterk gebou met ’n effense pens en dra ’n denimbroek, stapskoene, ’n langmou-kakiehemp met opgerolde moue, Oakley-sonbril op sy kop en ’n bonkige duikhorlosie aan een gewrig. Die man kyk rond in die taverne, maar ook vir hom vat dit ’n paar sekondes om aan die donkerte gewoond te raak. Dan vind hulle oë mekaar en wink Rocco hom nader.

“My goeie fok, De Witt!”

“Goed om jou weer te sien, Malan …”

Hulle skud hartlik blad en gee mekaar ’n klop op die skouer.

“Sit gerus. Wat gaan jy vat?”

Die kelnerin kom oor met ’n bedeesde glimlag.

“My liefling, gee vir my julle koudste draught.”

“Sy’s Portugees, sy kan nie Afrikaans praat nie …”

“Por favor, posso ter uma cerveja!” sê Malan vir haar en kyk dan na Rocco. “En wie’t gesê die army het ons niks nuttigs geleer nie?!”

“So, wat doen jy in die Kaap?”

“Nee, ek het eintlik deurgekom om bietjie kit te laat maak. Hier is mos ’n ou wat vir ons webbing volgens spec maak. Jy ken mos die Three Spears-rugsakke – daai ouens wat in die tagtigs rugsakke gebou het?”

“Ja?”

“Nou, hulle het mos ons Pattern 80-webbing gemaak. Ja, man, daai webbing wat die Padvinders in die bataljon gebruik het, nè? Nou, hulle maak nog steeds webbing en kit, so ons laat hulle vir ons battle jackets en goed maak.”

“Hoekom het jy webbing en battle jackets nodig?”

Malan kyk eers vinnig om hom rond, dan leun hy vorentoe op sy elmboë.

“Ek, ons … wel, ’n paar van die ouens, ons werk mos in die Midde-Ooste.”

“O ja, nou onthou ek. Waar nou weer, in Irak?”

“Nee, almal is al weg uit Irak uit. Ons werk nou in Afghanistan. Seker al vir die laaste vyf jaar. Dis maar waar die werk en die geld is. Ek weet nie vir hoe lank nog nie, maar darem.”

“Is jy nog getroud?” vra Rocco.

“Ja, weer ’n keer” antwoord Malan met ’n wrang glimlag.

“Was jy nie …”

“Ja, die teef het my al tien jaar gelede gelos. Ons het mos diamantvelde in Angola opgepas en toe ek eendag op die vliegtuig wou klim terug Luanda toe, toe keer die prokureur my voor met die dagvaarding vir ’n egskeiding. Kan jy glo? Ek wou hom net daar gebliksem het, maar toe het Fires … jy kan hom mos onthou van die bataljon se dae … toe keer hy my.”

By die tafel langsaan sit ’n groepie mense gesellig en kuier. Die een ou se gesig lyk vir Rocco bekend. Hy dink hulle’t ontmoet toe hy saam met een van sy pelle in die advertensiebedryf hier kom kuier het. Sover hy kan onthou, is dit die skeppende hoof van een van die advertensie-agentskappe hier naby. Die man het ’n hipster-haarstyl met ’n langerige kuif en ’n stywe T-hemp met Che Guevara se gesig op. Hy kyk op en hulle knik vir mekaar.

Malan merk dit op. “Dit lyk my jy is nou ’n tipiese Kapenaar.”

“Hoe so?”

“Jy groet die moffies – en daai een is nogal ’n Kubaanse moffie daarby!” Daarop bars Malan uit van die lag.

Rocco hoop niemand het dit gehoor nie.

“Wanneer laas het jy met luitenant Cameron gepraat?” vra hy vir Malan.

“Het jy nie gehoor nie? Hy’s dood, so sewe jaar gelede.”

“Waaraan?”

“Kanker. Fok, die ou het net skielik sleg begin voel en toe kak hy ’n maand of twee later.”

“Jirre, dis blind.”

“Kan jy vir stafsersant Homberg onthou?”

“Dis mos hy wat kruppel was na die antipersoneelmyn?”

“Ja, die einste! Hy’s ook op sy laaste bene, lyk dit my.”

“Hoe so?”

“Fokken alles. Suikersiekte, hartmoeilikheid, rumatiek … Ek hoor die ou sukkel ook maar finansieel.”

Die donkerkop-kelnerin verskyn langs hulle. “Two draught beers for you.”

“Muito obrigado!” sê Malan.

“Prazer.” Sy loop glimlaggend weg.

“En wat het geword van sersant Meiring – daai kortgat?”

“Ja, die klein doos. Hy’t mos saam met ons begin werk by Strategic Solutions. Kan jy onthou van daai fokop by Soyo, toe ons en Unita die kak uit mekaar geskiet het?”

“Ja, toe Heyl se broer doodgeskiet is?”

“Einste. Wel, hy’s mos eers agterna dood in Suid-Afrika nadat hulle sy een long moes uitsny. Maar hulle sê dat Meiring kak aangejaag het daar en toe fire hulle hom.”

“Watse kak?”

“Jy weet hy’t mos maar altyd gehou van suip?”

“Jy kon dit seker van ons almal sê …”

“Ja, maar Meiring kon nou behóórlik suip. En hy was verantwoordelik vir die radiokamer. En toe kom daar die een of ander kak met die komms. Daar was rumours dat hy skelm gesuip het net voor die ops. Dat hy eintlik nog gesuip was toe die ops aan die gang was. En toe Greyvenstein en Van Dalen en van die ander diknekke eers daarvan hoor, toe spat die kak. Hulle het hom op die eerste vliegtuig huis toe gesit.”

“En nou?”

“Laas wat ek gehoor het, is hy ’n total alkie. Hy’t seker al so drie of vier keer probeer ophou drink. Maar dit hou net vir ’n jaar of twee. Hy’t al omtrent alles verloor – vrou, kinders, die hele fokken lot. Laas wat ek gehoor het, het hy in ’n karavaan in iemand se agterplaas gebly.”

“Het jy al besluit wat jy wil eet?” vra Rocco.

“Jirre, ek het nog nie eers my tweede bier in nie en jy wil al eet,” terg Malan.

“Nee, jislaaik, maar ek raak nou erg dun, man.”

“Oukei, wat beveel jy aan?”

“Kyk, hulle het specials op die swartbord – kyk daar oorkant teen die muur – maar alles is eintlik oukei. Ek hou nogal van die geroosterde sardyne en die trinchado.”

“Maar waar’s die vleis?”

“Jy’s ’n regte Dutchman, Malan.”

“En jy’s ’n regte snobberige moffie-Kapenaar!”

Rocco lag gedemp, maar skielik voel dit weer vir hom asof daar ’n duisend myl tussen hom en Malan is. Hulle het mekaar hoe lank gelede leer ken? Twee- of drie-en-dertig jaar? Hoeveel water het nie intussen in die see geloop nie?

“Maar vir wie werk jy in Afghanistan?”

“Man, ek werk vir Sallyport. Dis … dis ’n klomp Amerikaners. Ons verskaf close-quarter protection for USAID. Opheffingsprogramme, daai soort kak. En hulle installeer ook generators. Maar nie hierdie klein generatortjies wat jy ken nie. Ek praat van groot fokken generators wat soos ’n huis lyk.

“Want sien,” en dan kyk Malan oor sy skouer asof in ’n refleksaksie, “die plekke is obviously fucked-up geskiet, oukei? So hulle het nie krag en daai soort ding nie. Die camel jockeys is moerse taai – hulle kan oorleef op brood, sigarette en lou tee – maar as daar nie elektrisiteit is nie, dan bly die plek in die fokken donker eeue. En, wel, dan gaan dit nie die Amerikaners baie goed laat lyk nie, gaan dit?

“So, ons job is om die ouens van USAID op te pas waar hulle ook al gaan, sodat hulle alles wat fucked-up is, kan fix. Of eerder, minder fucked-up maak.”

“So ek neem aan julle is gewapen?”

“Tot die fokken tande toe, tjom.”

“Waarmee?”

“Kyk, ons dra Beretta 9 mils, Glock 17’s, M4’s en M203’s – daai M16’s met ’n veertig-millimeter-granaatlanseerder onderaan. Party ouens gebruik ook Heckler & Koch 516’s. En ons het meer ammo as wat ons sal kan uitskiet in ’n kontak! Maar eintlik probeer ons kontak vermy. Want as jou kliënt kak stamp, is almal se dag bederf.

“Ons ry sulke Chev Blazers, dis ’n SUV, met bietjie bulletproofing in. So meestal doen ons konvooie. En dis waar die fokop inkom. Want die slegte ouens weet presies hoe so ’n konvooi lyk. So, ons probeer om nie twee dae dieselfde roetine te volg nie. Want as daai klomp lapkoppe dit eers uitgefigure het, het jy groot kak.”

“Hoe bedoel jy?”

“Check, as hulle ons ge-ambush of in ’n hinderlaag probeer lei het, het ons nog ’n kans gestaan. Maar hulle looi ons met IED’s.”

“IED’s? Wat’s dit?”

“Improvised explosive devices – afstandbeheerde bomme langs die pad. En hulle kan jou slég opfok. So ons bly maar wakey-wakey. Ons gebruik ook jammers wat selfoonseine jam, want ons het agtergekom die konte gebruik selfone om die bomme te detonate. Maar nou gebruik hulle weer ander maniere. Dis eintlik maar altyd ’n fokken lottery.”

Rocco voel hoe die tweede bier na sy kop toe gaan. Half duiselig, maar op ’n goeie manier. Nou voel hy weer nader aan Malan as ’n ruk gelede. Hy leun vorentoe.

“Hoe werk dit? Hoe het jy by Sallyport uitgekom?”

“Kyk, die meeste ouens ken mekaar van die army af. Nadat ek in ’95 weg is by 4 Recce, is ek mos Strategic Solutions toe. Reguit na groot kak in Sierra Leone. Wel, toe daai job klaar is, het ek mos huise begin bou saam met my neef. Wel, dit was nou ’n fokop. En toe die kak stamp in Irak en hulle private kontrakteurs begin soek, het baie van ons ouens die kans met al twee hande aangegryp.

“Onthou jy vir Kevin Kennedy? Hy was ’n kaptein by 4 Recce. Hy’t my gekontak. Hy’s nou ’n diknek daar by Sallyport.”

“En hoe’s die geld? Jy sal dit mos nie vir peanuts doen nie?”

“Kyk, die geld is goed. Maar die werk is tos. Ek bedoel, ons kan nie eers drink nie. Jissis, weet jy hoe hartseer is ’n steakbraai saam met Coke? Ons is twee maande aan, een maand af. Fok, soms wil ek net ’n Pommie of ’n Yank bliksem. Die fokken goed werk na ’n maand verskriklik op ’n mens se tiete.”

Die kelnerin is weer by hulle.

“What would you like to eat?”

“Bring us a starter of chorizo and tentacles,” sê Rocco, “and two more beers. When we’re finished with that, we’ll have a medium Portuguese steak for this gentleman, and grilled sardines for myself.”

“Abrigado,” neem die kelnerin weer haar vertrek.

Malan kyk haar agterna. “Ek dink sy laaik my.”

“Oukei,” vra Rocco, “so, is julle ’n deurmekaarspul van verskillende lande?”

“Ja, kyk, die oud-Spesmagte-operators raak maar min. En dié wat oorbly, raak maar oud. Ons is eintlik ’n groot deurmekaarspul. In ons compound is daar Kiwi’s, Aussies en ’n paar Yanks.”

Vir ’n oomblik is Gert Malan stil. “Maar ek raak nou gatvol vir daai soort werk, tjom. Dis nie meer lekker nie. Al die ou operators raak nou lank in die tand. Ek bedoel, as jy reeds vyftig geslaat het, kan jy nog adminwerk daar doen. Maar om elke dag konvooie op te pas en in fire fights betrokke te raak? Die ander probleem is dat daar nie meer Suid-Afrikaners is wat die werk kan doen nie. Spesmagte … wel, jy kan jou indink watse kak deesdae daar uitkom. En die Taakmag raak ook al hoe meer ‘getransformeer’, so daar is min wit ouens wat deur die stelsel kom. En die Marmite-monsters stel mos nie juis daarin belang om sekuriteitskontrakteurs te wees nie.” Daar is ’n afkeurende uitdrukking op Malan se gesig. “So wie bly oor? Jy kan mos nie eenvoudig laaities van die straat af vat en soontoe stuur nie.”

“Wat wil jy nou doen, Gert?”

Die kelnerin kom sit die twee bakkies met gebraaide skywe chorizo en calamari-tentakels voor hulle neer, saam met Portugese broodrolletjies en ’n houer met olyfolie en balsamiese asyn. Hulle sê dankie met ’n knik van die kop.

“Kyk, ek het die laaste paar jaar moerse baie geld gespaar. Ek het mos eers daai sekuriteitsmaatskappy in die Baai begin so ’n paar jaar terug. Maar my vennoot was ’n fokken skelm eks-poeliesman wat meer gedrink en gelunch het as enigiets anders. En toe ek sien, toe’s die besigheid bankrot.

“Maar ek en twee ander manne wat saam met my in Afghanistan werk, het mos nou ’n wildplaas naby Kirkwood in die Oos-Kaap gekoop.”

“Wil jy begin boer?”

“Wel, nie heeltemal nie. Ons wil dit ontwikkel as ’n toeriste-lodge en bietjie wild instoot. Maar die ander ding wat ons wil doen, is om anti-poaching-opleiding te gee. Weet jy watse aanvraag daarvoor is met al die renoster-poaching?”

“Ek kan my net indink …”

“Ons wil ook nou begin konsulteer. Jy weet, met ons Spesmagte-agtergrond kan ons vir die mense spesifieke opleiding gee. Ons het ook al daaraan gedink om soort van ’n reaksiemag te stig. As daar enige hot spots is, dan gaan ons soontoe met ’n span ouens en kyk of ons die poachers kan vang. Ons het ’n paar eks-32-troepe en vyf Ovambo-spoorsnyers, so kak sal die poachers kak.”

Rocco merk op: “Ons Afrikaners like mos maar van ’n stukkie grond. Al doen ons dalk nie veel nie. Net vir die gedagte.”

“Moenie vir my sê jy’t nog nie vir jouself ’n plasie gekoop nie,” kom dit van Malan.

“Om die waarheid te sê, ek het. So ’n stukkie grond ver weg van alles waar ek nou en dan kan bal bak.”

“Waar is die plek? Boer jy met iets?”

“Dis daar in die Tankwa-Karoo. Maar al wat eintlik daar aangaan, is my buurman wat veld huur vir sy skape se weiding. Ek is seker al die laaste twee jaar besig om vir my ’n naweekhuis daar te bou. Maar dis maar ’n work in progress. Ek eksperimenteer met allerhande ekovriendelike boutegnieke, maar dit vat tyd omdat daar niemand op die plaas is nie, behalwe as ek nou en dan bietjie aanbou en werk. Dan gaan huur ek ’n paar hande op die buurplaas.”

“Hoe groot is die plaas?”

“Ag, jong, dis so sesduisend hektaar. Maar dis moerse afgeleë, want jy ry omtrent honderd-en-dertig kilometer grondpad om daar uit te kom. Ek het al gedink om vir my ’n ligte vliegtuig te koop omdat daar darem ’n aanloopbaan is.”

“’n Aanloopbaan? Regtig?”

“Ja, kyk, ek sal seker ’n paar polle moet uittrek, maar hy’s in ’n redelik goeie toestand. Ek sal nou nie met ’n Lear of ’n Citation daar wil gaan land nie, maar iets soos ’n Cessna Caravan of Pilatus Porter sal maklik lam. Jy moet net nie die landing opfok nie, want niemand gaan daarvan weet nie. Ek bedoel, dis moerse afgeleë en jy gaan net aasvoëls vir geselskap hê.”

“Ek sal graag wil gaan kyk hoe dit daar lyk,” sê Malan. “Ek het mos ’n oom gehad wat in daai geweste geboer het, daar na die Gannagapas se kant toe. Ek het as kind gereeld in die Tankwa gekom.”

“Nou ja, as jy een naweek daar wil gaan uitspan, dan moet jy my net sê. Laat ek jou solank beduie waar ek die sleutel bêre.”

Rocco sluit die voordeur versigtig oop sodat hy Helga nie wakker maak nie. Hy probeer so ligvoets moontlik deur die geteëlde voorportaal loop. Maar omdat hy nie so nugter is as wat hy kon wees nie, weerklink die geluid van ’n lomp voetval in die dubbelvolume-vertrek.

Hy stap na die spens langs die hipermoderne ontwerperskombuis waar hy die meeste van sy wyn bêre en skakel die lig aan. Onder, laer as die laagste rak, het hy rye kleipype opmekaar gepak vir die wynbottels om in te lê. Hy haal ’n bottel Kanonkop Paul Sauer 2004 uit voordat hy sy hand in die boks Lindor-sjokolade op die middelste rak druk en ’n hand vol uithaal. Hy trek die kurk behendig in die kombuis uit voordat hy met ’n glas van die rooiwyn op ’n rusbank naby die vermaaksentrum gaan sit. Hy vat eers ’n groot sluk voordat hy na die CD-rak sak.

Sy wysvinger gly oor die CD’s. Vanaand is hy lus vir iets melancholies, ’n weerspieëling van die warboel van emosies wat hy ervaar. Presies hoe lank terug het hy Malan laas gesien? Nege-en-twintig of dertig jaar gelede? Hy dink dit was toe hy ’n jong student in Pretoria was, ’n jaar of twee na diensplig. In 1989 of 1990, daar rond. Hulle het nog Farm Inn toe gegaan, waar hulle verskriklik dronk geraak het. Terwyl die orkes gespeel het, het Malan agteroor afgeval van die tafel waarop hulle gestaan en dans het.

Rocco onthou hy het eenkeer gelees dat die menslike liggaam elke sewe jaar elke enkele sel vervang. Hy en Malan is dus op sellulêre vlak ander mense as wat hulle al daardie jare gelede was. Dit is eintlik nog net herinneringe wat hulle deel.

Dan gewaar hy Dire Straits se Brothers in Arms. Hy sit dit in die CD-speler en kies die laaste snit, wat ook die album se titelsnit is. Mark Knopfler se kitaarspel klink op, met wat klink na onweer op die agtergrond. Dan raak dit stil en ’n trekklavier trek los voordat Knopfler met ’n amperse prewelsang inval:

These mist-covered mountains

Are a home now for me

But my home is the lowlands

And always will be

Some day you’ll return to

Your valleys and your farms

And you’ll no longer burn to be

Brothers in arms …

Rocco sluit vir ’n oomblik sy oë. Hulle voel meteens baie moeg.

Through these fields of destruction

Baptisms of fire

I’ve witnessed your suffering

As the battle raged higher

And though they hurt me so bad

In the fear and alarm

You did not desert me

My brothers in arms …

Hy maak sy oë oop. Die CD het klaar gespeel en hy besef hy moes ’n rukkie aan die slaap geraak het. Die huis is doodstil.

Hy staan op en loop kombuis toe, waar hy die halfleë bottel wyn neersit. Nou’t jy ’n goeie bottel wyn opgefok, dink hy. Daarna loop hy lomp slaapkamer toe en probeer saggies langs Helga in die bed klim. Sy beste pogings ten spyt, word sy wakker.

“Where were you, Rocco? It is almost midnight.”

“You know I kuiered with Gert Malan today …”

“Until now?”

“Uh, yes, we had a lot of catching up to do. Lekker slaap, Helga.”

“You are drunk, Rocco. Good night.”

“Meneer Rocco moet onthou van vanmiddag se site meeting, nè?” sê Anastasia October gemaak kwaai.

“Dankie dat jy my herinner het, Anastasia. Wat sal ek tog sonder jou maak?”

“O, meneer kan maar die flattery los vir ’n ander dag. Soos wanneer ons weer praat oor verhogings,” sê sy op pad uit by sy kantoor.

Rocco het ’n dofheid in sy kop. Hy sukkel om te konsentreer. Selfs die eenvoudigste take voel vandag hopeloos te ingewikkeld. Dis asof sy brein se prosesseerder heeltyd sukkel met die sagteware.

Die terreinvergadering gaan nogal ’n uitdaging wees. Gelukkig behoort dit nie lank te vat nie. Die kliënte is ’n welgestelde Duitse egpaar wat net ’n gedeelte van die jaar in Kaapstad woonagtig is. Hulle is oor ’n maand terug in die land en hy hoef dan eers weer met hulle puntenerigheid opgeskeep te sit. Vandag gaan hy net seker maak dat die staalversterkings vir die betonblad reg is. Dié word môre gegooi en die ingenieurs wat saam op die projek werk, is mense wat hy vertrou. Hy sal maar sy sonbril opsit, hard konsentreer vir die uur of wat en dan vroeg huis toe gaan.

En vanaand gaan hy en Helga saam met ’n paar vriende uiteet.

Terwyl hy gou seker maak daar is niks wat hy vergeet het voordat hy vertrek nie, kyk hy ook op sy rekenaarskerm. Daar het ’n e-pos gekom wat hom inlig dat iets op Facebook sy aandag verdien. Vir ’n oomblik huiwer hy. Hy is nogal haastig, maar hy kyk op sy horlosie en sien dat hy eers oor ’n halfuur op die terrein hoef te wees. Dit behoort hom nie meer as tien minute te vat op met Buitengracht nie. Hy kliek vinnig op die e-pos.

Gert Malan wants to be friends with you on Facebook.

Hy kliek op die Confirm Friend Request-knoppie. Dan op Malan se profiel. Op twee foto’s is hy op ’n diepsee-hengelboot. Ander is langs dooie bokke in die jagveld. Daar is een geneem tydens ’n rugby-ondersteunerstoer na Nieu-Seeland. ’n Braai of twee. En hier en daar foto’s saam met kollegas in Afghanistan. Daar is ook skakels na artikels oor wildstropery.

Hy kyk wie tel almal onder Malan se vriende. Almal middeljarige mans. Hier en daar ’n ouer een. Rocco herken een of twee oud-senior offisiere van 1 Valskermbataljon. Asook Colonel Jan Breytenbach Public Figure. Dan is daar ’n paar gesigte wat effens bekend lyk, maar hy’s nie seker nie. Hy vermoed hulle was Spesmagte-operateurs net soos Malan. Toe hy self na diensplig universiteit toe is, het Malan Spesmagte-keuring gaan doen en is hy by 4 Verkenningsregiment op Langebaan gestasioneer.

Dis seker maar ’n paar oud-recces. Rocco kyk op sy horlosie en sien hy gaan laat wees vir die vergadering. Hy vat sy iPhone, motorsleutels, beursie en sonbril en stap vinnig by sy kantoor uit.

“Anastasia, ek gaan na die site meeting toe en daarna het ek ’n ander afspraak,” sê hy en voel ’n bietjie skuldig oor die wit leuentjie.

La Perla in Seepunt is sedert 1959 ’n Kaapse instelling en beteken in Italiaans “Die Pêrel”. Deur die dekades het dit daarin geslaag om ’n gewilde seekosrestaurant te bly; nogal ’n prestasie, gegewe die feit dat Suid-Afrikaanse eetplekke selde lank hou. In Gauteng, waar restaurante se gewildheid byna begin afneem sodra dit gewild word, sal ’n plek met ’n oorlewingsinstink soos La Perla haas ondenkbaar wees. Selfs in die Kaap, waar restaurante darem ’n langer lewensduur het, bly dit ’n baken tussen ander eetplekke.

Rocco en Helga hou in die systraatjie langsaan stil. Hulle het nie veel in die ry gesê nie, want hy’s nog tam van gisteraand en sy is nog nors omdat hy so laat ingekom het.

Hulle stap op met die trappies na die patio voor die restaurant.

“Do you have a reservation?”

“Ah, yes, it’s for De Witt – at six.”

“No, it’s for Fischer,” korrigeer Helga. “Remember, I ended up having to make the reservation.”

“Oh yes, of course,” sê Rocco half verleë, half geïrriteerd.

Hulle stap tussen die tafels deur na waar hulle vier vriende reeds voor op die patio sit en wag. ’n Gelag klink op en toe hulle amper by die tafel is, kyk Jandré op en en sê hardop: “Well, look who’s here!”

Rocco trek ’n stoel halfpad vir Helga uit, wetende dat sy as Europese vrou nie hou van wat die deursneeman as hoflikheid beskou nie. Hy kan homself nie sover kry om haar glad nie te help nie, en boonop voel hy ’n bietjie sleg oor gisteraand.

“Hello, everyone,” sê Helga, “sorry we’re late.”

“Not at all, for Cape Town this is still early,” sê Carl met ’n teatrale gebaar met sy linkerhand. “I was just saying to Jandré what a lovely evening this is. There’s hardly any wind.”

Die kelner verskyn en vra wat hulle wil drink. Soos gewoonlik vra Helga of hulle riesling het. Hulle het nie, waarop sy vra vir ’n sauvignon blanc.

“I’d like a Peroni draught, please,” sê Rocco.

Toe hy ’n paar minute later die eerste groot sluk bier vat, is dit ’n lafenis. Hy kan uiteindelik ontspan. Dit was ’n vreemde dag.

Dieter en Katrin is Duitse vriende van Helga wat ’n swaeltjie-leefstyl het. Met ander woorde, hulle is ses maande van die jaar in Suid-Afrika en die ander ses in Duitsland, sodat hulle as’t ware ’n permanente staat van somer beleef.

“So, Rocco, what have you been up to lately?” vra Dieter. Hy is blond met ’n breë, ietwat hoekige voorkop. Sy dun hare is kortgeskeer en sy swart, hoekige brilraam laat hom nog meer formeel lyk as wat hy is. Hy het ’n swart linnehemp by ’n roomkleurige los linnebroek en bruin Birkenstock-sandale aan.

“Oh, the usual. Clients with lots of money and little taste.”

“Oh my God, that sounds just like the Eastern Europeans buying holiday property in southern Europe. You have my sympathy!”

Katrin, wat regoor Rocco sit, dra ’n losserige slooprok van katoen. Sy is behoorlik sonbruin en het lang, donker hare. Hoewel sy ’n mooi vrou is, is daar ’n effens siniese trek om haar mond en is sy geneig om heeltyd die mense om haar dop te hou. Rocco merk vir die eerste keer op watter mooi voete sy het. Lenige, gedefinieerde kuite met slanke enkels en simmetriese voete. Dan kyk hy vinnig weg sodat sy hom nie betrap dat hy staar nie.

“The problem in South Africa is that we don’t really have a distinct architectural tradition. Do you know who South Africa’s first trained architect was?” vra Rocco. “A Frenchman by the name of Louis Thibault. He designed the Castle of Good Hope’s De Kat Balcony. The others, like Herbert Baker, were British and then there were Germans like Carl Hager and Hellmut Stauch. And of course there was a Dutchman called Sytze Wierda. Jesus, is it any wonder we are so confused? If you go to, say, Bavaria, you will find that most houses have the same style, right?”

“Well, not quite,” huiwer Dieter.

“But they are made from the same materials and have the same proportions. In fact, the whole Alpine region has the same common architecture, from a place like Garmisch-Partenkirchen to as far down as the French Haute-Savoie and the Italian Dolomites in the east, don’t you agree?”

“Okay, that is true,” antwoord Dieter geïnteresseerd.

“But in South Africa the styles are very diverse. I mean, if you go to some of the middle- and middle-lower-class neighbourhoods, you can still see houses from the seventies that were built in a faux-Spanish-Mexican style. In the eighties people built square houses with dark face-bricks and in the nineties everyone went for a fake Victorian or cottage-style building. For the past ten years there’s been a total shit storm of fake Tuscan and some Provençal houses.”

“Oh yes, I think we saw those the other day when we drove to Paarl. Aren’t there some next to the N1, near Durbanville?”

“Quite correct. But you should see the east of Pretoria. It’s as if people have no sense of aesthetics, so they go with what they consider to be fashionable. Obviously you have exceptions. In Stellenbosch, for instance, there are a couple of fascinating Bauhaus houses.”

“You are shitting me!” sê Dieter opgewonde.

Van oorkant die tafel kyk Jandré nuuskierig op. Hy is ’n grafiese ontwerper.

“Jy praat snert …” sê hy grootoog.

“I promise,” vervolg Rocco. “You see, there was a German architect called Pius Pahl. Some of his drawings of the Mies van der Rohe buildings are still in the Bauhaus Museum in Berlin. He married a South African woman and after they moved here, he opened a practice in Stellenbosch. The result is that Stellenbosch now has one of the biggest collections of residential homes in the Bauhaus style.”

“That is incredible,” sê Katrin. “Dieter, wir müssen nach Stellenbosch gehen ein Blick auf diese Häuser zu nehmen.”

“But the surrounding houses look really kak,” borduur Rocco voort, vol bravade na die bier op sy leë maag. Almal bars uit van die lag. Hy vat nog ’n sluk bier en kom agter dat hy Helga se volle aandag het. Dat sy blykbaar nie meer kwaad is vir hom nie, laat hom goed voel. Hy’s lief vir hierdie lenige Duitse meisie, al is dit nie altyd maklik om te verstaan hoe haar kop werk nie.

Verder gesels hulle oor ditjies en datjies. Rocco se Duits is goed genoeg dat hy die strekking van Helga en Katrin se gesprek kan volg – dat laasgenoemde sukkel om organiese en vegetariese kos in Kaapstad in die hande te kry.

Hy is nog besig om aan groente en vrugte te dink, toe Carl half spottend opmerk: “Rocco, Helga het my vandag gebel en vertel jy was gisteraand lekker laat uit.”

“E … ja, ek het bietjie probeer inhaal met ’n ou vriend.”

“Watse soort vriend?”

“Ag, sommer ’n ou army-pel.”

“Nee, ek hoor dan jy’t lekker dronk teruggekom!”

“Ja, wat, ons het lekker gekuier.”

“Aag, kom nou, dis niks om oor skaam te wees nie,” sê Carl lighartig. “Ek het steeds kontak met sommige van my weermagpelle.”

Rocco forseer ’n glimlag. Hy voel eensklaps stoksielalleen hier waar hy op La Perla se patio met ’n duur stuk tuna steak voor hom sit. Met ’n duur motor en ’n mooi Duitse verloofde. Hy kan nie die gevoel mooi kleinkry nie, maar dis asof hy op ’n ander plek behoort te wees.

“Regtig?” vra hy.

“Ja, ek het mos eers gaan swot voor ek army toe is. Ek wou glád nie army toe nie. Ek het my oë amper uitgehuil voordat ek op daai trein Heidelberg toe geklim het.”

“Wat was vir jou die ergste?”

“Al die nutria-bruin! Jirre, ek ken die verskil tussen mauve en taupe, maar in die army is dit net bruin, bruin, bruin!”

“In watter eenheid was jy?”

“Ek het JL’s by Leërgimnasium gedoen. Ek was ’n luitenant in die Seiners. Dalk nie die paraatste een nie, maar definitief die een met die beste dress sense!”

Rocco kan nie anders as om te lag nie. Hy leun vorentoe en klink glase met Carl voordat hy ’n sluk vat, terugsit in sy stoel en weer stil raak.

Hy ken hierdie klompie al ’n paar jaar. Hulle is dierbare mense wat baie vir hom beteken. Maar hulle is naïef oor geweld en die papierdun skeidslyn tussen ’n sorgelose aand by ’n duur restaurant waar die meeste mense sandale dra, en ’n wêreld waar mense mekaar moet doodmaak om te oorleef.

Hy voel skuldig dat hy sy vriende so beoordeel, maar kan dit nie onderdruk nie. Sy emosies verwar hom. Op ’n rasionele vlak weet hy dis onregverdig om dit te doen, maar op ’n instinktiewe vlak weet hy daar is diepgesetelde verskille tussen hom en hulle.

Net Malan sal dit verstaan. As hy hom nie bietjie vir Malan sou geskaam het in hierdie geselskap nie, sou dit heel goed gewees het om hom sommer nou te bel en te vra om by hulle aan te sluit. Die gedagte laat hom nog meer alleen voel.

“Why are you so quiet, Rocco?” vra Katrin.

“Ag, I’ve got so much on my plate lately. So much to do, so little time.”

“You and Helga must come visit us again sometime. Then you can do a braai for us again. Dieter can’t braai, he just burns the meat.”

Rocco lag. Dieter weet self watter slegte braaier hy is, maar dit keer hom nie om kwansuis verontwaardig “Ach, quatsch!” te sê nie.

Hierdie mense is wonderlike, goeie siele, dink Rocco. Eintlik beny hy hulle die naïewe onskuld.

“Raait, dis sulke tyd!” hoor die jong luitenant die kompanie-sammajoor skree. Die Dakotas se enjins het pas ’n ent van hulle af begin grom en die spanning is al ’n hele ruk aan die opbou. En opbou.

Kort voor lank marsjeer die twee valke valskermsoldate na die wagtende vliegtuie. Toe hulle inklim, gaan sit hulle op die voorafbepaalde plekke – bakboord, stuurboord, bakboord, stuurboord, bakboord – totdat Valk 3 en 4 van Delta-kompanie almal aan boord is.

Daarna gespe hulle die sitplekgordels vas en haak die soldate aan die stuurboordkant hulle valskerms se statiese lyne vas aan die stroppe verbind met ’n kabel wat die lengte van die vliegtuig loop. Toe hulle klaar opgehaak het, gee elk die tweede strop aan vir die soldaat oorkant hom. Een vir jou, een vir my. Daar is ’n strop vir elkeen, in ’n presiese volgorde wat al vir die jong soldate tweede natuur is.

In die twee Dakotas se rompe is daar ’n oorverdowende dreuning soos die twee motore langsaam spoed optel. Dit is soos die gegrom van gode wat woedend baklei teen die mag van die aarde se aantrekkingskrag. “One-two! One-two-three! One-two-three-four! Let’s go!” skree hulle terwyl hulle ritmies hande klap. Dan lig die Dakotas se sterte en agterwiele stadig en skree hulle: “Up! Up! Up!” terwyl hulle met hulle duime na bo wys. Sekondes later word uitbundig “Airboooorne!” geskree toe die logge metaalrompe met hulle swaeltjievormige vlerke uit die aarde se greep ontsnap en boontoe beur.

Dis al sterk skemer en deur die vensters kan die jong luitenant Ondangwa-lugmagbasis se ligte honderd meter onder hulle sien. Daar is rye tente, hangars, tydelike geboue, ’n paradegrond of twee, alles perfek georden en in skrille kontras met die roekelose gelatenheid van die omliggende landskap. Die Dakota klim grommend en langsaam tot op duisend voet. Die wêreld wat onder die vliegtuig verbyskuif, bestaan uit wit sand, makalani-palmbome en nedersettings met hutte en krale waar vure brand en oerliedere in die aand opklink. Hier en daar is ’n tweespoorpaadjie die enigste sigbare teken van modernisering. Geleidelik verdwyn die son se ligstrale, vervang deur die sagter lig van die maan.

In Ovamboland met sy wit sand is daar baie lig wanneer die maan skyn, en van waar die luitenant skuins oorkant die Dakota se oop deur sit, kan hy goed sien hoe die landskap onder hulle verbygly. Hy voel verwyderd daarvan, amper soos ’n waarnemer, en wonder wat dit beteken. In die vliegtuig is daar ’n skemer effek, want die binneligte is met groen maskeerband toegeplak sodat hulle nie nagblind sal wees wanneer hulle uitspring nie. Daar is net genoeg lig om oor die weg te kan kom.

Hier en daar verstel ’n soldaat sy valskermharnas of verskuif sy geweer. Plek-plek vee een die sweet van sy bolip af met die rugkant van ’n jong, bruingebrande hand. Dis net in ’n oorlogsituasie wat jy soveel jong mans bymekaar sal kry waar hulle so lank in amperse stilte sit. Elkeen weet hoe om te maak. Al weet hulle nie noodwendig wat hulle hier doen nie. Of wie se besluit dit was nie.

Hulle weet hulle gaan ’n Swapo-basis aanval. Hulle het dit al die afgelope maand ingeoefen op Oshivelo, die SAW se opleidingsterrein in die noorde van Suidwes-Afrika. Hulle weet hulle gaan vanaand land en dan twintig kilometer stap voordat hulle met eerste lig aanval, net nadat die vegvliegtuie die teiken gebombardeer het. Hulle gaan nie deel van die hoofaanvalsmag wees nie. Hulle gaan aan die basis se noordelike kant stoppergroepe opstel.

Die doel van die stoppergroepe is om stellings in te neem om vlugtende Swapo’s te stuit. Wat met stuit bedoel word, is dat hulle die Swapo’s gaan doodskiet. En daarna, wanneer die hoofaanvalsmag die vyand se weerstand geknak het, gaan hulle help om die basis op te ruim.

Die hoofaanvalsmag bestaan uit soldate van 101 Bataljon in Casspirs saam met Spesmagte-operateurs van 5 Verkenningskommando, of 5 Recce soos dit in die omgang bekend is. 101 is ’n SWA-gebiedsmageenheid wat uit Ovambo’s bestaan en is ’n gedugte ligte infanteriegroep. Net die offisiere en die meeste onderoffisiere is wit Suid-Afrikaners. Die luitenant is bly dat die Casspirs daar gaan wees. Want hulle het groot masjiengewere bo-op gemonteer. Five-O Brownings, 20 mm-kanonne en side-by-side-gemonteerde 7.62 Mag-masjiengewere.

Sommige van die recces sou ’n paar dae gelede in die nag met vryvalspronge in die gebied geland en sommer ook die landingstrook vir hulle uitgemerk het. Die ander gaan met Casspirs inry en dan saamveg.

Daar word steeds nie veel gepraat nie. Elkeen het hom in sy eie kokon onttrek en die meeste konsentreer op die sprong wat kom. Hulle wéét hulle moet mekaar so gou moontlik in die donker vind, groepeer en begin stap na die teiken. Want as hulle nie betyds is nie, gaan hulle nie voor eerste lig stelling kan inneem nie.

Hy dink aan wat voorlê. Hy is nie bang nie, maar daar is tog ’n onrustigheid in hom. Nie hy of sy troepe het hulle al in so ’n groot geveg bevind nie. Wat gebeur as die eerste een seerkry? Hoe gaan die wonde lyk? En as iemand doodgaan? Hoe gaan dit die ander beïnvloed? Wat gaan hy doen? Hoe sterk sal die teenstand wees? Gaan hulle genoeg ammunisie hê? Gaan hy sterk genoeg leierskap kan gee in die hitte van die stryd?

Die afstuurders luister oor hulle oorfone na die vlieëniers en hulle lyftaal verklap ’n al groter wordende opgewondenheid. Na wat voel soos ’n ewigheid, lui ’n alarmklokkie en skree die afstuurders: “Staan op!” Die soldate herhaal elke bevel hard en duidelik: “Staan op!” Vanaand hoef hulle nie hulle rugsakke voor aan hulle harnasse vas te maak nie, want hulle spring met ligte battle jackets onder hulle valskerms wat net water, ammunisie, ’n dag se rantsoene en bomverbande en drips inhet.

“Gaan uitrusting na! Helmet … borsband, beenbande … opgehaak … vrye beweging aan die kabel … man voor my, opgehaak, vrye beweging aan die kabel!”

“String, verklaar!”

“Vier-en-twintig reg!”

“Drie-en-twintig reg!”

“Twee-en-twintig reg!”

Eindelik: “Een reg, almal reg!”

Die klokkie lui skril.

“Aksiestasies!”

“Een-twee, een-twee!” skuif hulle ritmies in gelid.

Nader aan die oop deur. Die klokkie lui twee keer.

“Staan in die deur!”

“Een-twee! Een-twee!”

Hy staan in die Dakota se deur. Onder hom is bosse, bome, krale, palmbome en hier en daar kan hy ’n oop shona uitmaak. Die geraas van die wind hier by die oop deur is iets ontsettends en dis asof dit met die donderweer van die Dakota se twee groot enjins veg om heerskappy. Die wind ruk en pluk terwyl die enjins meedoënloos op een toonhoogte aanhou grom. En deur dit alles kan hy voel hoe sy hart klop. Hoe sy bors lig en sak soos hy al hoe harder asemhaal. Hy wag vir die bevel om te spring. Tien sekondes gaan verby. Twintig sekondes. Hy weet die afstuurders wag net vir die bevel van die vlieëniers oor die oorfone. Agter hom voel hy die gerusstellende teenwoordigheid van een van die ander soldate. Hy is nie alleen nie.

Meteens begin die klokkie skril en aanhoudend lui, soos ’n alarm wat afgaan.

“Go!” klap die afstuurders hom hard op die skouers en instinktief tree hy vorentoe in die donker, stormwindsterkte gat voor hom. Hy val en val en val. Dit voel asof ’n reusagtige hand hom soos ’n muggie die duisternis in klap. Dan voel hy hoe sy harnas stywer begin trek in sy lieste. Instinktief kyk hy boontoe en sien hoe sy valskerm ’n donker kol vorm wat groter raak. Dis oop! Hy hoor hoe die Dakota se gegrom sagter raak.

Hy hoop nie hy breek ’n been wanneer hy land nie. Dit sal nou ’n fokop wees, dink hy terwyl hy om hom kyk. Hy verbeel hom hy sien ’n paar ouens geruisloos in die lug hang. Hy probeer homself al oriënteer. Dan sien hy die twee flitsende strobe lights wat die recces aangeskakel het om die drop zone aan te dui. Die DZ is van wes na oos. Hy is nie in lyn daarmee nie, maar hulle is darem nie te ver van teiken af nie. So twee kilometer noord is ’n rivier, maar hy is effens suid van die DZ se as.

Hy weet hulle behoort die lumi stick op sy helm te kan raaksien. Waar is Barkhuizen s’n? As hy dit kan sien, weet hy waar die string se ander punt is. Maar hy kan nie. Hoe gaan hulle in die donker kan hergroepeer?

Dan sien hy skielik tog die heldergroen skynsel van Barkhuizen se lumi stick. Hy is verlig. Hy weet die landing is naby. Hy begin daarop konsentreer. Voete en knieë styf teenmekaar. Ken op bors. Elmboë in. Hy hoop nie hy tref ’n boom of iets wat hom kan beseer nie. Hier kom dit nou …

Oomblikke voordat hy dit tref, sien hy die grond van Suid-Angola soos grys newels na hom toe aankom. Hy maak hom reg vir die impak. Die tref- en rolslag is veronderstel om een aksie te wees en as jy reg land, gebeur dit vanself. Hy kan voel hoe sy regterheup die grond ’n breukdeel van ’n sekonde na sy voete tref. Dan hou hy aan met sywaarts rol totdat hy op sy linkerbeen tot rus kom. Hy besef hy het skaars gedink oor hoe om die aksie uit te voer terwyl dit gebeur het – het dit dan al ’n paar honderd keer in opleiding herhaal.

Al was dit ’n goeie landing, is hy effens duiselig. Hy kom orent en begin sy geweer losmaak. Dan haal hy vinnig sy valskerm se harnas af. Waar is die ander ouens?

Terwyl hy besig is, hoor hy hoe sy troepe naby hom land. Hy hoor ’n “Ugh!”-klank, een wat gedemp “Fok!” sê, en: “Eina, Jissis!” Ondanks die spanning kan hy die komiese sy daarvan insien. Na ’n ruk is dit stil en begin hulle in fluisterstemme na mekaar roep.

“Hei, wie’s daar?”

“Dis ek, luitenant …”

“Wie die fok is ‘ek’?”

“Du Toit, luitenant.”

“Nou fokken sê dan so. Hoe lyk dit, Du Toit, waar’s die ouens? Sê vir hulle hulle moet hiernatoe kom, na my lumi stick.”

“Reg so, luitenant.”

Dit vat amper vyftien minute om as valk te hergroepeer. Nou moet die twee valke groepeer. Oplaas, na amper ’n halfuur, is almal reg. Wonderbaarlik het niemand met die landing seergekry nie. As iemand het, sou hy hier moes bly tot ’n chopper hom vroegoggend kom casevac.

Stemme praat saggies oor radio’s, met die kenmerkende “kggggh”-klank aan die einde van ’n boodskap. Hulle moet nou groepeer en klaarkry, want die majoor het gesê hulle moet begin radiostilte handhaaf.

Hy kyk vlugtig op in die naglug en sien die helder maan en sterre. Vir ’n oomblik voel dit glad nie asof hy in ’n oorlog is nie. Asof dit ’n naguitstappie in die bos is. Maar die R4 in sy regterhand bring weer die werklikheid tuis. Hy haal ’n waterbottel uit en vat ’n groot sluk.

Dan begin hulle stap volgens die kompas. Elke nou en dan kyk hy af na die dowwe groen gloed en maak seker dat hulle op die peiling bly. Hy tel ook sy treë sodat hy ’n idee het hoe ver hulle vorder. Dis moeilik as jy nie in ’n reguit lyn kan stap nie. Soms is daar digte bosse en bome en soms brand kraalvure honderd meter of wat verder, dan loop jy ’n wye draai om hulle sodat hulle nie kan agterkom jy’s daar nie. So word twintig kilometer naderhand amper vyf-en-twintig. En dis vyf-en-twintig kilo’s waartydens jou oë en ore pal wawyd oop moet wees.

Hy voel al klaar moeg. Dit moet die adrenalien wees wat verdamp het, besef hy. Daar lê nog ’n stywe ent se stap voor. Hoe ver kan dit nog wees? Maar hy’s gewoond aan stap met ’n swaar pak op sy rug. Elke dertig minute gaan hulle staan. Hy kyk nou en dan op sy horlosie om vas te stel hoe lank hulle al loop. Elkeen is intens bewus van wat sy makker voor en agter hom doen en wanneer hy gaan stilstaan, kom die groep binne sekondes tot stilstand. Hy hoef nie te praat nie. Almal weet dat hulle ’n paar minute kan rus en water drink. Hulle battle jackets weeg swaar. Daar is nie eers regtig kos in nie, net noodrantsoene, water en ammunisie. Soveel as wat hulle kan dra. En ’n grondseil om onder te skuil as dit begin reën. Of ’n gewonde of dooie makker iewers heen te dra.

’n Battle jacket is maar ’n soort onderbaadjie met sakke vir ammunisie, granate en radio’s. Hy dra nie een soos die troepe s’n nie, maar Niemoller webbing van olyfbruin seilmateriaal. Die ammunisiesakke is laer af om sy middel en bobene. Spesmagte gebruik Niemoller webbing en hy’t deur ’n kontak een in die hande gekry. Hy hou ook van hoe dit lyk.

Toe die soldate versigtig hulle battle jackets losmaak, is hulle hande en voorarms geswel soos die gewig die bande in hulle skouers laat indruk en die bloedtoevoer belemmer het. Saggies sit hulle hulle R4’s neer. Niemand sê iets nie. Jy hoor hoe ouens water sluk.

“Raait,” sê die luitenant saggies, “dis tyd om te gaan.”

Hulle stap weer aan deur die donker bosse, met slegs ’n flou maan om lig te verskaf.

Die verkeer in Adam Tasweg beweeg nie juis nie. Af en toe druk iemand aggressief op sy of haar toeter. Skynbaar glimlag niemand in hierdie pragtige dorp nie, ongeag of hulle in ’n skedonk of ’n duur voertuig sit.

“Stellenbosch het heeltemal te groot vir sy paaie geraak,” merk Rocco op.

“Ja, the traffic is a bit mad,” beaam Helga.

“Jy begin Afrikaans lekker verstaan, huh?”

“Ik kann bietjie verstehen.”

“Oh, then I’ll have to be careful. Just now you’ll start to understand our secret codes and handshakes.”

“It’s actually quite easy to understand you Afrikaners.”

“Really? How so?”

“You like meat, rugby and drinking.”

“Yes, and German men like wurst, fussball and drinking.”

“I know, that’s what worries me. You are too similar.”

Die oprit na sy ouers se huis op die Jonkershoekpad buite Stellenbosch is gerusstellend bekend. In sy lewe was dit nog altyd een van die min konstante faktore. Maak nie saak waar hy was nie, of dit nou tydens sy diensplig- of studentejare of verblyf in ander lande was, hy’t geweet dat sy ouerhuis altyd daar sal wees as hy terugkom.

Dis ’n wit dubbelverdieping met ’n grasdak. Nie buitensporig groot nie en nogal nederig in vergelyking met die groot huise van die ryk Gautengers wat die laaste dekade of twee in Stellenbosch kom nesskop het.

Rocco wil nog die voordeur oopsluit, toe maak sy ma dit oop. “Hallo, my kind!” roep sy uit.

“Hallo, Ma,” antwoord hy haar voordat hulle soengroet en mekaar omhels. Hy staan terug sodat die twee vroue kan groet. Annette de Witt soengroet Helga en gee haar ook ’n drukkie, hoewel die wedersydse warmte ontbreek waarmee Rocco en sy ma so pas gegroet het.

“Waar is Pa?” vra hy.

“Hy sit en lees sy Rapport in die sonkamer. Kom, kom ons stap sommer deur.”

In die gang tref die goeie bekendheid van alles Rocco opnuut. Hy sien die hall stand met die slingertelefoon, die ou perdrystewels, die gevlegte sweep en die vergeelde portrette van sy oorgrootjies en verlangse familie. En hy wonder vlugtig wat Helga van alles dink.

’n Ent verder is die twee portrette van hom as dienspligtige. Een as jong tweede luitenant wat pas rang gekry het by die Infanterieskool, en een met hom in sy maroen beret en formele step-outs van 1 Valskermbataljon. Hy talm ’n oomblik, bewus van die afstand tussen hom in die hede en die onkundig-vreeslose jongman op die foto’s.

Naby die einde van die gang, op pad na die gesinsvertrek waar deure na die sonkamer oopmaak, stap hulle verby die kombuis. Die reuk van skaapboud, gebakte aartappels, spek-en-groenbone, soet pampoen en rys laat hom nog meer welkom voel. Hy voel nie meer soos Rocco die argitek nie; hy voel soos Rocco, die kind van sy ouers.

“Hoe gaan dit met Pa?” fluister hy vir sy ma net voordat hulle by die sonkamer kom.

“Ag, sommige dae gaan dit slegter en ander dae gaan dit weer beter. Hy’s oukei vandag. Hy word net baie gou moeg en dan raak hy moeilik.”

“Hmm, wat’s nuut?”

Daar waar Adelbert de Witt in die sonkamer sit en lees, lyk dit nie asof hy ses maande gelede ’n groot beroerte gehad het wat die helfte van sy liggaam verlam het nie, want die stoel staan só dat sy regterkant na die huis toe gedraai is. Dis eers as jy voor hom kom staan, dat jy sien die linkerkant van sy gesig hang.

“Môre, Pa.” Rocco buk af om sy pa te soengroet.

“Môre, julle twee,” groet sy pa terug en draai styf om sodat hy Helga stip in die oë kan kyk. Dan voeg hy by: “Jy’s darem maar ’n mooi Germaanse meisiemens.”

Helga glimlag ongemaklik, want sy verstaan nie heeltemal wat hy sê nie.

“Hy sê jy’s pragtig, my kind,” sê Annette. Rocco weet egter dat sy heimlik wens hy het ’n Afrikaanse meisie gehad. Een met wie sy dalk makliker oor persoonlike sake sou kon praat. Ongeag Helga se skoonheid en aangename persoonlikheid, het hy geweet sy ma sou nooit werklik na aan haar kon wees nie. Tog, deels vanweë haar liefde vir hom, gaan sy altyd uit haar pad om vriendelik met Helga te wees.

Toe die twee vroue ook sit, vra Rocco: “Schatzi, what can I get you?”

“I feel like some white wine.”

“Pa? Ma? Waarvoor is julle lus?”

“Ek’s lus vir ’n bietjie Roodeberg. Daar’s baie onder in die garage,” sê sy pa.

“Ag, ek sal ook ’n klein glasie vat,” sê sy ma.

’n Rukkie later, toe almal ’n glas in die hand het, vra Rocco: “Wat vang Pa alles deesdae aan?”

“Ek skryf maar aan die boek.”

“Die een oor die universiteit?”

“Ja.”

“Schatzi, my father is writing a book on the history of the university’s medical faculty. You know that he was a professor there?”

“Of surgery,” voeg sy ma by en ’n mengsel van trots en hartseer slaan deur.

“Oh, really? That is fantastic.”

“Ja,” sê Adelbert de Witt, “sodat mense vorentoe kan weet wat ons bereik het met so min tot ons beskikking.” Sy oë trek op skrefies en hy haal vlakker asem.

“Pappa raak moeg,” sê Rocco se ma besorg.

“Los my uit. Ek is nie ’n kind nie. Ek’s net keelvol vir die gemors in hierdie land.”

Rocco voel ’n bietjie verleë oor die uitbarsting voor Helga, want hy weet sy verstaan genoeg van die Afrikaans en dat sy as Europeër min begrip vir die post-apartheid-dinamiek het. Sy sien seker bloot ’n kwaai, bitter ou Afrikanerman.

“Die kos is reg. Kom, laat ons gaan opskep,” sê Annette hoflik maar ferm. “Rocco, sal jy nie jou pa asseblief eetkamertafel toe stoot nie?”

“Natuurlik, Ma.”

Hulle skep op. Adelbert is stil en sy vrou probeer die geselskap aan die gang hou. Rocco doen ook sy bes, maar dis moeilik om uit hoflikheid teenoor Helga Engels te praat met sy eie ma, ’n meisie van Calvinia se wêreld. Boonop is Helga nie lief vir vleis nie.

“Helga, are your parents okay?”

“Yes, Annette. They are okay.”

“Her parents are very healthy,” sê Rocco. Dan besef hy hoe taktloos dit was en kyk onderlangs na sy pa wat met ’n vurk in sy regterhand die kos probeer eet wat sy ma vir hom in blokkies gesny het.

“I wonder,” merk Adelbert op voordat hy met ’n gesukkel ’n sluk rooiwyn vat, “how the Germans feel to always be portrayed as the bad guys in movies. What do you think, Helga?”

“Ag, Adelbert, moet tog nie die kind ontstig nie,” sê Annette.

“No, really. What do you think?”

“Well,” sê Helga, “the older generation is probably in denial, but fortunately they’re becoming an extinct breed. Modern Germany is a very tolerant place now.”

Rocco se pa kyk stip na haar. “So why are you so unhappy with all the immigrants in your country?”

“Adelbert …” sê Annette verleë.

“No, why are you unhappy about the refugees and the problems they cause in German society?”

“Well, Mister De Witt, it’s a complicated question that cannot be answered in a few simple sentences.”

“Ag, Pa, los vir Helga uit. Ons wil tog net lekker eet vandag,” tree Rocco in.

“Ah, yes, it’s the old multiculturalism chestnut, Helga. You see, when I was studying in Europe everyone told me how backward we were. But now … now the same countries are passing laws that outlaw certain cultural practices, especially Muslim minorities. France has disallowed the wearing of burqas in public and Swiss local authorities are refusing to approve the plans for minarets for any new mosque …”

“Ag, asseblief, Adelbert, moenie die kind so ontstig nie.”

Vir die res van die ete is die atmosfeer taamlik stug, met Rocco en sy ma wat sorg dat die trant van die gesprek lig bly. Nadat hulle nagereg geëet het, gaan sit hulle weer in die sonkamer.

“Pa moenie so hard op Helga wees nie,” sê Rocco stilletjies eenkant. “Sy’s nog jonk.”

“Ja, seun, sy is nog jonk. Maar eendag gaan sy ouer wees. Dan gaan sy vir haar mense in Duitsland vertel hoe agterlik ons hier is.”

“Maar Pa moet erken dat ons ’n paar foute gemaak het.”

“Foute?”

“Ja, Pa. Apartheid, die Nasionale Party en … en die Broederbond.”

“Wat van die Broederbond?”

“Pa was dan ’n lid! Wie’t Pa gedwing? Pa wil my tog nie probeer wysmaak dat julle in almal se belang opgetree het nie?”

“O, so nou wil jy vir my preek? Wie dink jy het jou deur universiteit gekry? Wie het jare lank gestudeer en gewerk om jou al die kanse in die lewe te gee? Dink jy alles het in my skoot geval?”

“Ek is nie ondankbaar nie, Pa. Ek probeer maar net sê dat ons die geskiedenis in die oë moet kyk.”

“En jou geslag was onskuldig?”

“Nee, Pa. Maar ons is gebore en ontvang in die apartheidsbestel. Ons het niks anders geken nie. Toe ons ons verstand gekry het, was dit al wat ons geken het. Ons het eers later besef dat dinge nie volhoubaar was nie.”

“Maar nie voordat jy met groot entoesiasme weermag toe is nie …”

“Ek het vir die avontuur gegaan, dit weet Pa tog.”

“Hoekom het jy nie oorsee gaan studeer nie? Ek kon vir jou iets gereël het. As jy eers universiteit toe was, sou die oorlog verby gewees het teen die tyd dat jy graad gevang het.”

Rocco onderdruk ’n sug. Hy is kwaad vir sy pa, maar wil nie aggressief teenoor hom raak in sy toestand nie.

“Ek was jonk, Pa. Ek het opwinding gesoek.”

“En toe gaan maak jy oorlog? Wie’t jou gedwing? Hoekom het jy ’n valskermsoldaat geword? Hoekom het jy nie ’n bleddie Kanarie geword en gaan sing nie? Ons kon gereël het dat jy Youngsfield toe gaan. Maar nee, toe word jy ’n grensvegter. Weet jy hoe bang ons was dat jy iets oorkom? Weet jy hoe dit gevoel het toe ons die oproep kry dat jy in 1 Mil lê?”

Rocco kyk uit oor die pragtige tuin. Sonder om na sy pa te kyk, sê hy: “Ek wou die beste wees. Ek wou Pa-hulle trots gemaak het.”

“Wel, vir wat dit mag werd wees … ons wás trots op jou. Is nog steeds. Ek is net gatvol vir wat in hierdie land aangaan. Gátvol. Verstaan jy?” sê Adelbert met die mond wat skeef hang aan die linkerkant en nie sy drif kan uitdruk nie. Maar in sy oë brand die woede.

“Rocco,” sê Helga terwyl hulle naby Muldersvlei op die N1 noord van Kaapstad klim, “I felt very uncomfortable today at your parents’ house.”

Hy weet nie wat hy behoort te antwoord nie. Sulke tye hou hy hom maar dom.

“Why do you say that?”

“It’s your father. He … he’s very rigid and conservative.”

“Jesus, Helga, what do you expect?”

“It isn’t necessary to be defensive, Rocco. I was only saying how I feel.”

“It’s complicated being an Afrikaner, okay? Especially for people like my parents. They spent the biggest part of their lives believing in a system. A system that is gone. Have some sympathy for them, please.”

“Yes, but apartheid wasn’t just any system.”

“That’s a bit rich coming from a German. Like no one remembers the Nazis and the issue regarding six million Jews?”

“I wasn’t part of that, Rocco. We’ve moved on …”

“Yes, and what if you were born sixty years earlier? With your blonde good looks? You would probably have been the mistress of an SS officer.”

“Bullshit, Rocco!”

“Yes, Helga, my father is rigid and maybe he’s a conservative old man. In fact, he might as well have been just another German. But at least he had a sense of humour when he was younger. How many Germans can say that?”

Die res van die rit terug Kaap toe geskied in ’n kil stilte.

Nadraai

Подняться наверх