Читать книгу Wanneer woorde onnodig is - Jacolet van den Berg - Страница 3

1

Оглавление

Aria glimlag toe sy die tafeltjies met die roomkleurige tafeldoeke en bosse geel tulpe op die strand sien staan. Die blomme het haar vriendin seker ’n plaas se prys gekos. Moeder natuur was Sandra vandag genadig. Dis een van daardie pragtige dae in die Kaapse winter.

Al skyn die son, het Aria ’n mus oor haar donker hare getrek. Dis nou nog redelik warm, maar sodra die son begin water trek, gaan die luggie knyp.

“Aria!” Sandra kom gou nader toe sy haar sien. “Welkom.” Sandra beduie met ’n wye gebaar na die fees op die tafels. “Wat dink jy?”

Aria gee haar vriendin ’n klapsoen op die wang. “Fantasties. Dis net jy en Deon wat julle huweliksherdenking in die winter op die strand sal vier.”

“Dis sommer die viering van ’n nuwe begin ook. En ’n lekker kuier saam met ons vriende. Jy weet ek is ’n sucker vir sentimentaliteit. Dit móés net by Blouberg gehou word omdat ons hier ontmoet het.”

“Ja, ja, jy het die storie van die groot ontmoeting al meer as een keer vir my vertel.” Aria sit haar arm om Sandra se skouers. Met haar rooi hare weggebind, lyk haar vriendin vandag pragtig in die liggeel rok en woljas.

“Ja toe, jy glimlag verniet nou so vir my. Jou dag gaan kom. Eendag wanneer jy jou storie oor en oor vertel, sal ek geduldig luister. Ek belowe.”

Aria lag joviaal. Haar storie moet nog geskryf word. Waarskynlik moet sy nie asem ophou daarvoor nie. “Jy is gelukkig dat die dag so mooi uitgedraai het. Ek sal nou wel nie waag om my tone nat te maak nie, maar dis windstil en sonnig, als wat ons harte begeer.”

“Ja, ek weet. Ek sal vanaand op my knieë gaan. Deon het gedink dit sal te winderig op die strand wees. Ek het behoorlik lank aan sy arm gedraai. Wag, hier kom Deon se niggie en haar verloofde. Laat ek hulle gou groet.” Sandra stap heupswaaiend weg.

Aria kyk haar vriendin agterna. Sedert hul troue ’n jaar gelede glimlag Sandra altyd en is daar iets sensueels in die manier wat sy beweeg. Dalk is dit wat ware liefde aan ’n mens doen.

’n Paar van Aria se vriendinne staan na aan waar die branders breek en lag elke keer wanneer hulle moet padgee.

Sal sy ook maar daarheen stap? Liewer nie.

Sy bly eerder weg van die water. Eintlik sit sy nie haar voete in seewater nie. Noem dit ’n fobie, maar sy is gemaklik om net op die sand te bly. Kranige swemmer wat sy is, het sy op hoërskool laas in die branders baljaar. Sy is haar universiteitsjare op Stellenbosch deur sonder dat ’n brander om haar enkels gebreek het en sy beplan om dit so te hou.

Sy vou haar arms om haar lyf. Die grys trui is knus en hang net-net oor die noupassende denim. Haar donker, kniehoogte-stewels sal beslis later help om haar teen die koue te pantser.

Sy haak haar skouersak oor een van die stoele en draai om see toe. Met haar oë toe, voel sy hoe die son liggies oor haar vel streel. Die gedruis van die branders is oorweldigend wanneer sy so met toe oë daarna luister. Dis asof sy die krag daarvan intenser ervaar en dit tot binne-in haar are kan voel bruis.

Haar oë vlieg oop toe ’n hand om haar elmboog sluit. Deon glimlag vir haar, en sy beantwoord dit met ’n breë glimlag.

“Geluk met die spesiale dag, dokter Loots. Jou vrou het my verseker ons vier groot dinge vandag.”

“Dankie. Maar ek is nie meer dokter Loots nie. Van Maandag af is ek ’n korporatiewe werker. Sandra het besluit ons vier dít sommer ook vandag.”

“Jy sal altyd dokter Loots bly. Dis nie iets wat jou sommer net so los nie, korporatief of in praktyk. En jy gaan tog steeds vir Medline werk. Al verskil is dat jy gaan help om nog hospitale te vestig in plaas van om te praktiseer. Dis jou tyd om aan te beweeg en al hierdie nuwe dinge gaan ook deel van jou word. Dis opwindend. Rede om te vier.”

“Seker.”

“Jy sien mos uit na die verandering, of het ek my misgis?”

“Ja, natuurlik. Jy weet ek het my werk by die hospitaal geniet. Meestal. Maar dis asof ek nie heeltemal daarvoor in die wieg gelê is nie. Ek het maar altyd gewonder oor die dinge anderkant die hospitaaldeure. Nou gaan ek uitvind en ek kan eerlikwaar sê dat ek daarna uitsien.”

“Ek hoop jy kry in jou nuwe omgewing die uitdagings wat jy wil hê. Soos ek jou ken, gaan jy dit maak werk. Maar ek en Sandra gaan jou by die hospitaal mis.”

Hy glimlag. “Ek is bly jy is hier, Aria. Sandra het gesê dat jy vanoggend eers hospitaal toe was.”

“Ja, ek was uitgeroep na ’n traumageval. Die pasiënt moes berading kry voor die mediese ondersoek kon begin.” Sy brei nie verder uit nie, daarvoor is haar werk te konfidensieel.

“Altyd gereed om die gebrokenes heel te maak.”

“Nie heel te maak nie. Hulle net te lei om die staaldraadjie in hul samestelling wat hulle regop hou te vind.”

“Dis wat ek gesê het.” Hy knipoog. Kyk dan oor haar kop, en sy glimlag verbreed terwyl hy wuif. “Aha, hier is Reuben nou. Laat ek jou voorstel. Jy moes al gehoor het dat ek praat van my goeie vriend Reuben, maar ek dink nie julle het al ontmoet nie. Hy is pas terug in die Kaap na tien jaar in Johannesburg.”

Aria draai om en volg Deon se blik. Daar is reeds heelwat gaste, maar sy weet dadelik na wie Deon verwys. ’n Ligtekopman kom nader gestap. Lank en breedgeskouer. Selfs in die middel van die winter kan sy die son op sy hare sien.

Ja, sy het al nou en dan van hierdie ou universiteitsvriend van Deon gehoor.

Hy kom tot by hulle en hou sy hand na Deon uit. Sy glimlag is breed en daar is trefkrag in sy oë toe die twee mans groet. Die reguit lyn van sy neus is opvallend en die donkerblou van sy oë weerspieël die see agter hom.

“Reuben Rademan.” Hy is nie veel ouer as sy nie, dalk twee of drie jaar. Die lagplooitjies om sy oë lê nog vlak en die kreukel tussen sy oë is sag. “Aangename kennis.”

“Selfde, Reuben Rademan. Ek is Aria Brink.”

Hy glimlag en vat haar hand in syne. Selfvertroue straal uit sy oë en die hoek van sy ken bevestig dit. Hy laat haar hand nie dadelik gaan nie. Die grys baadjie span effens om sy skouers en Aria kry ’n glimp van sy sonbruin nek wat by die geruite blou hemp uitsteek. Sy verbleikte jeans pas perfek aan sy lyf.

“Aria Brink? Dié vriendin waarvan Sandra gisteraand gepraat het?” Reuben se blik is soos die warm sonnetjie op haar gesig.

“Einste.” Deon sit sy arm om haar skouers en gee haar ’n ligte drukkie. “Ons het al jou sondes van vervloë dae gisteraand voor die kaggel opgehaal.”

“Ek wil eerder nie vra wat julle alles te vertelle gehad het nie. Ek het ’n sterk vermoede my ego gaan nie gepoets word nie,” lag Aria.

“Sandra het een of twee staaltjies vertel van julle M-jaar op universiteit.”

“Mmm, dis die jaar wat ons mekaar ontmoet en ’n woonstel gedeel het. Sy en Deon was reeds ’n paartjie. Ek hoop nie jy het enigiets geglo wat Sandra opgedis het nie. Ons was nog jonk en …”

“Dis nou te laat vir verskonings.” Deon klop haar goedig op die skouer. “Reuben weet genoeg om hom in sy spoor te laat trap. Van die ou wat jy agternagesit het toe hy jou sak gegryp het tot die keer wat jy voorgegee het om dronk te wees sodat jy nie saam op die blind date hoef te gegaan het nie. En toe Sandra baie bekommerd vroeër huis toe gaan om haar besope vriendin by te staan, tref sy jou in jou oefenklere voor die televisie aan besig om pilates te doen.”

Aria se wange brand, en sy klik haar tong. “Ek kon nie toe bekostig om gimnasium toe te gaan nie. Jy kan my verlede nie teen my hou nie, daardie voorvalle was al ses, sewe jaar gelede. En ek hoef jou seker nie te herinner dis swak smaak om my vir jul vermaak te gebruik wanneer julle eie stories opraak nie.”

“Ja, toe nou maar. Jy was nie die hoofonderwerp van vermaak nie. Reuben het ’n paar stories van sy eie gehad.”

Deon wil verder uitbrei, maar Sandra kom nader en onderbreek hom. “Liefie, al ons gaste is hier. Verwelkom gou almal en doen jou speech, dan kan ons begin kuier.”

Aria staan ’n paar treë weg, en terwyl Deon praat, hou sy die blonde man oorkant haar dop. Sy kan nie onthou dat sy ooit vir Reuben op kampus gesien het terwyl sy gestudeer het nie. Hy is ouer as sy.

Vir Deon het sy ook eers leer ken toe sy en Sandra vriendinne geword het. Deon het met sy huisdokterjaar op Worcester begin en dit was die eerste jaar wat hy nie meer op kampus was nie. Hulle het hom dus nie gereeld gesien nie. Dis seker waarom sy en Reuben mekaar nooit raakgeloop het nie. Hulle het sekerlik in verskillende kringe beweeg. Tog is daar iets bekends aan hom …

Deon sluit sy kort toespraak af en daarmee die formaliteite. Die gaste begin opnuut gesels en klink reeds taamlik vrolik.

Aria luister net met ’n halwe oor na die gesprek van die groep vroue langs haar omdat haar oë bly dwaal na Deon en Reuben. Toe sy Sandra gewaar waar sy iets skink om te drink, stap sy daarheen. “Dis ’n lekker partytjie en die kos lyk heerlik.”

“Dankie, my skoonma, die bobaaskok, het die meeste van die tapas gemaak. Hoewel sy nie daarvan hou as mens van kok praat nie, sy is ’n ‘sjef’.”

Aria glimlag. “Lekker om so ’n handige skoonma naby te hê.”

“Ja, tot sy aangebied het om ons binnehuisversiering te doen. Sy is nou wel taamlik sjiek, maar sy verstaan nie kontemporêr op ’n beperkte begroting nie. Sy en skoonpa sal kwansuis bydra, maar ek weier volstrek. Geld by skoonmense vat vir luukses gaan nie deug nie. Gelukkig stem Deon saam. Ek dink my skoonma is heimlik verlig oor Deon se nuwe pos. Dit hou groter moontlikhede vir finansiële sukses in.”

“Dis darem nie asof julle sukkel nie, wat meer wil sy hê?”

“Haar probleem is sy ken die Rademan-familie te goed. En as jy jou eie insecurities nie uitgesorteer het nie, ontgeld jou kinders dit.”

“Die Rademans? Praat jy nou van Reuben Rademan?”

“Ja, hy kom uit ’n welgestelde familie. Hulle is belese, berese en het baie geld.”

“Mmm, op ’n manier kan ek dit sien. Dit het dalk iets met sy perfekte ontwerpersklere te doen.” Sy knipoog vir Sandra. “Jy moenie jou skoonma ’n harde tyd gee nie.”

“Nee, ek sê maar net. Ek hou van my skoonma solank sy haar by haar eie huishouding bepaal. Nie almal van ons kan so ongeërg wees oor die res van die wêreld soos jy nie.”

“Ek moet maar so wees. Ek het nie ’n skoonma wat my met geld en lekker kos kan of wil volstop nie, my eie ouers kan dit nie eens doen nie. Ek is ’n plain Jane. As ek my nie afvee aan die wêreldse dinge nie, gaan ek binnekort Prozac moet gebruik.”

“Jy is allesbehalwe ’n plain Jane.”

“Jy weet wat ek bedoel.”

“Nee.”

“En as julle twee so frons? Is julle nie veronderstel om vrolik te wees nie?” Reuben praat skielik langs Aria.

Haar antwoord stol op haar lippe. Sy stem herinner haar aan die timbre van die oseaan. Dis diep, maar tog ook nie. Sag, maar nie soos fluweel nie, eerder soos goed afgewerkte hout of die geruis van water.

Dis asof ’n onsigbare elektriese stroompie deur haar lyf loop toe sy na hom kyk. Vae herkenning roer in haar. Iets in sy gesig ís bekend. Sy het hom al voorheen gesien. Dalk tog op kampus.

“Ons bespreek of Aria ’n plain Jane is of nie.” Sandra glimlag skertsend vir Reuben.

Sy oë talm op Aria, langer as wat nodig is.

Weer ervaar sy die vreemde bewustheid van hom. “Dis nie heeltemal waar nie.” Sy weet nie hoekom sy dit nodig vind om te verduidelik nie. Haar wange word warmer, en sy kyk verleë weg.

Hy lag, en die plooitjies om sy oë waaier ’n titseltjie dieper. “Sandra, ek sien jy het iets om te drink. Kan ek vir jou iets skink, Aria?”

“Dankie, ’n glasie sjampanje sal lekker wees.”

Sandra glimlag. “Geniet dit. Hier is nie baie nie, julle sal later maar op die warmer drankies moet fokus. Ek is versigtig om alkohol in die publiek te bedien. Maar verskoon my eers, julle. Ek moet darem probeer om ’n goeie gasvrou te wees. Ek sal graag nog wil gesels but duty calls.”

“Ja, toe.” Aria gee haar vriendin ’n speelse hou op die boud. “Gaan wees sjarmant.”

Sandra sluit by ’n ander groepie gaste aan, en Aria wag effens onseker terwyl Reuben die sjampanje skink. Vat sy net die glasie en loop, of is hulle nou veronderstel om oor ditjies en datjies te gesels?

Reuben draai na haar, maar gee nie dadelik haar glas nie. “Is jy lus om te sit?” Hy beduie na twee stoele.

“Ja, maar dáár op die sand.” As hy lus het vir gesels, gesels sy graag.

Hy kyk na waar sy beduie en knik. “Moet ek vir jou iets kry om op te sit? Dalk een van die stoelkussinkies?”

Sy kan nie anders as om vir hom te lag nie. “Jy grap seker?” Sy trek haar trui net effens op en sak dan kruisbeen op die sand neer. Hy huiwer, en sy klop liggies op die sand langs haar. “Dis net sand, jy kan maar sit. Daardie ontwerpersjeans van jou sal nie vuil word nie.”

“Dis nie die sand waarvoor ek bang is nie. Binnelandse stadsjapies is darem nie almal bang vir seesand nie.” Hy maak hom gemaklik langs haar, en sy kyk hoe hy sy glas in die sand staanmaak. “Ek het lanklaas op die strand gedrink.”

“Ek kan nie sê dat ek al ooit op die strand gedrink het nie.”

“Nie?” Hy kyk verbaas na haar. “Jy was mos op Stellenbosch? Is dit nie onvermydelik dat mens die een of ander tyd in jou studenteloopbaan iets sterks op die strand sal drink nie?”

“Nie noodwendig nie.” Sy draai haar oë weg van hom. Kyk hoe die branders breek en terugtrek. Sy hou daarvan om na die see te kyk en doen dit ook gereeld, maar dit stem haar nooit rustig nie – vir haar is daar ’n ewige onderliggende onstuimigheid.

Sy kyk terug na hom. “Dis ’n gevaarlike ding om te doen.”

“Jy is reg.” Sy oë verdonker effens en die glimlag op sy gesig taan. “Studente doen soms onverantwoordelike dinge.”

“Ek is gewoonlik reg.” Sy haal haar skouers amper gelate op en vat ’n lang teug van die sjampanje.

Die kepies langs sy mond trek weer dieper. “Sê jy.”

“Maar ons is lankal nie meer studente nie en is nou mos uiters verantwoordelik. Ek drink graag vandag ’n glasie sjampanje op die strand om my vriende te vier.”

“Is jy … uiters verantwoordelik?” Die manier wat hy na haar kyk, laat dit voel asof die sjampanje deur haar are borrel.

“Natuurlik, ja.” Dit lyk allermins of hy haar glo. “Lyk ek dan nie verantwoordelik nie?”

Hy kyk lank ondersoekend na haar, sy donkerblou oë peinsend.

Sy begin lag. “Jy het nie soveel tyd nodig om te besluit nie. Gewoonlik vorm mens binne die eerste tien sekondes ’n opinie oor iemand anders. Is jý dan nie verantwoordelik nie?”

Hy haal sy skouers op. “As dit net tien sekondes vat, het jy seker reeds jou opinie gevorm.”

“Ek het ja, maar verskeie faktore speel ’n rol, en ek weet teen dié tyd dis nie noodwendig akkuraat nie. Iets laat my dink jy gaan my verras.”

“Ek is bereid om jou toe te laat om jou eie opinie te vorm. Ek sal dalk nie saamstem nie, maar dis jou voorreg.” ’n Effense glimlag pluk aan Reuben se mondhoeke – en dit is vervlaks aantreklik.

“Mmm, selfvertroue. Jy gee nie eintlik om wat ander dink nie.” Sy glimlag saam met hom.

“Ek gee om … wanneer dit geregverdig is.”

“Touché. So wat doen jy terug in die Kaap as jy tien jaar in Johannesburg was? Hoekom Johannesburg se son verruil vir die Kaapse skoonheid?”

“Besigheid.” Hy haal sy skouers op, die glimlag steeds talmend om sy lippe.

“Dan is jy ’n ernstige sakeman?” Anders as wat sy verwag het, vloei die gesprek en hou sy van die gemaklikheid tussen hulle.

“Jy kan seker so sê.”

“Dis seker te ingewikkeld om te vra watter tipe besigheid. Julle sakemanne het mos gewoonlik so ’n komplekse verduideliking dat niemand seker is waarvan julle praat nie.”

Hierdie keer lag hy uit sy maag. “Jy is snaaks, Brink. Hou so aan, en ek stel jou aan vir my persoonlike vermaak.”

Sy geniet die skerts in sy stem. “Is jy seker jy het genoeg geld daarvoor?”

“Ek dink ek sal dit kan bybring.” Geamuseerdheid pluk-pluk aan sy mond.

Aria is ’n oomblik stil. Toe drink sy die laaste van haar sjampanje en laat lê die leë glas langs haar op die sand.

“Ek weet wat jy doen deur die vrae wat jy stel.” Sy blik rus spottend op haar. “Jy dink jy het op diplomatiese wyse uitgevind dat ek taamlik verantwoordelik is, ’n goeie skoot selfvertroue het, in die korporatiewe wêreld is en finansiële vryheid geniet. Ek moet jou waarsku ek is so slim soos ek lyk. Ek ken al die truuks in die boek en kan tussen die lyne lees ook.”

Sy lag ontspanne. “Dan moes jy seker ook agtergekom het ek stel nie werklik belang in hoeveel selfvertroue of geld jy het, of nie het nie. Dit het net so min met my te doen soos jou onderbroek- of skoengrootte.” Sy lig haar hande gemaak verontskuldigend. “So much for conversation making. Verkies jy dan dat vroue nie vrae vra nie sodat jy misterieus kan bly?”

“Misterieus. Werklik?” Hy glimlag vermakerig vir haar. “Vroue hou van selfvertroue en geen vrou stel nié in geld belang nie. Geld is sekuriteit. Dit laat julle mos veilig voel. Dis bloot toevallig dat ek albei het.”

Die wending van hulle gesprek stem haar nou ongemaklik. Geld het haar nog nooit aangestaan nie. “Niks is toeval nie én veralgemening is ’n gevaarlike ding. Jy ken vroue blykbaar nie, meneer Rademan. Die guns wat geld koop, hou ook nie lank nie. Geld kan nie alles wat breek, regmaak nie. Al word die probleem daarmee toegegooi sodat niemand die krake kan sien nie, kom daar in een of ander stadium ’n ligte briesie en waai al daai note in die lug in op.” Haar woorde is skerper as wat sy bedoel het.

Hy antwoord nie dadelik nie, speel met sy vingers in die sand tussen hulle. “So, wat sê jy? Vroue is komplekse wesens en stel in meer as geld en sekuriteit belang?” Sy stem bly lig.

Sy ontspan effens. “Almal met iets tussen die ore is kompleks, selfs my ma se hond.”

Sy lag is so diep en aansteeklik dat sy nie anders kan as om dit te geniet nie.

“Jy ontduik die antwoord, maar dis ’n debat vir ’n ander dag. Nog sjampanje vir jou?” Hy staan op en skud die sand van sy sitvlak af.

“Nee, dankie. Jy het gehoor wat Sandra sê. Nou gaan ek eers van haar skoonma se eetgoed soek.”

Hy steek sy hand na haar toe uit en trek haar op asof hulle kamerade is. “Aha! Die verantwoordelikheidsin.”

Deon kom sluit weer by hulle aan. “Ek is bly julle gesels so lekker. Ná die tien jaar in Johannesburg het jy baie los drade om hier in die Kaap op te tel, my pêl.”

“Ek weet nie of ek tyd gaan hê vir ál die los drade nie. Ek is hier om te werk.”

Deon gooi sy hande in die lug. “All work and no play? Jy het nog nooit hulp nodig gehad om drade op te tel nie.”

“Dinge verander.” Reuben haal sy skouers ongeërg op.

“Gelukkig vir jou het Aria baie kontakte,” skerts Deon verder. “Sy maak nie verniet almal wat stukkend is weer heel nie.”

Aria rol haar oë vir Deon. Hy is alewig besig om haar siel uit te trek. Sy wuif afwerend met haar hand. “Ek is seker jy sal hom kan help, Deon. Verskoon my nou eers. Ek gaan iets eet en almal groet by wie ek nog nie uitgekom het nie.”

Sy pak ’n paar versnaperinge op ’n bordjie en gaan sluit by ’n groepie van haar vriendinne aan.

“Aria, ons is bly jy maak vir ons ook ’n tydjie. Ons dog daardie aantreklike ou los jou nie weer vanmiddag nie en dat ons eers Maandag gaan hoor waaroor julle twee so koppe bymekaar sit en gesels het. Vertel! Wie is die gorgeous ou?” Daleen se donker krulle bons in die wind en haar bont broekpak wapper om haar lyf. Haar lewendige oë terg.

Aria klik haar tong spytig vir haar onnutsige vriendin. “Daleen, vir ’n suster in ongevalle is jou waarnemingsvermoë taamlik vrotsig.”

“So maklik gaan jy nie wegkom nie. Vertel ons wie die aantreklike man is.”

Aria kyk na Reuben waar hy by ’n groepie mans staan. Hy is aantreklik, ja, so ook ’n paar ander mans wat vandag hier is. Maar daar is iets aan Reuben wat dit moeilik maak om weer weg te kyk. Dalk ís dit sy selfvertroue. Dit straal uit sy hele houding. Hy is ’n man wat weet wat hy het, en wat hy kan en wil doen. Hy staan gemaklik met sy hande in sy sakke terwyl hy aandagtig luister na iets wat een van die ander mans sê.

Met moeite draai sy haar kop weg om op haar vriendinne te fokus.

Sy som mense en hul situasies op, dis wat sy doen, sonder om te dink. Dis soos asemhaling vir haar. Dié dat sy haar oë nie van Reuben Rademan kan weghou nie. Iets aan hom laat haar dink.

“Nee wat, ek het hom ook maar pas ontmoet en kan julle nie veel vertel nie. Sy naam is Reuben Rademan. Blykbaar ’n universiteitsvriend van Deon wat pas teruggetrek het Kaap toe.”

“Dis goeie nuus.”

Aria lag vir Daleen. “Goeie nuus vir wie?”

“Vir ons. Vir die vroue van die Kaap, natuurlik. Iemand gaan baie gelukkig wees.”

Aria snuif minagtend. “Hier is genoeg visse in die see, niemand gaan eens agterkom hier is nog een in die water nie. Al is dit ’n mooi, sterk een.”

Die ander vroue lag.

“Dis wat jy nou sê. Jou oë dwaal nie verniet nie.” Nita vee die donker hare wat in haar gesig waai uit die pad en kyk Aria stip met haar warm bruin kykers aan.

“Ja, toemaar, Nita, ons is nie almal so gelukkig soos jy en Sandra om ’n ring aan die vinger te hê nie.” Daleen slaan haar arm om Aria se skouers. “Party van ons oorweeg nog ons opsies en geniet intussen die uitsig.”

“Jy bedoel seker vooruitsig,” snip Nita.

“Dít ook, ja.” Daleen kyk weer in Reuben se rigting.

“Julle is vanmiddag net laf en lus om nonsens te praat. As dit so aanhou, gaan soek ek meer sinvolle geselskap.” Aria draai haar rug na waar Reuben staan en sien die aankomende brander net betyds. Hulle spring weg.

Aria retireer vinnig.

“Ons praat nie nonsens nie, ons droom ook maar net.” Daar is tergende liggies in Daleen se oë.

Aria maak eerder dat sy wegkom.

Wanneer woorde onnodig is

Подняться наверх