Читать книгу Wanneer woorde onnodig is - Jacolet van den Berg - Страница 4

2

Оглавление

Aria gaan sit die bordjie op een van die tafeltjies neer en snak byna na haar asem toe sy omdraai.

Reuben staan voor haar. Die glimlag om sy lippe is warm genoeg om enige vrou se temperatuur op te stoot.

“Moet ek jou aan van die ander gaste voorstel, of ken jy almal?” Dis die eerste ding wat in haar kop kom, en dit klink lamlendig.

Sy oë lag haar uit.

Sy voel verleë oor die simpel voorstel. Nou klink dit asof sy van hom ontslae wil raak.

“Ek kan myself voorstel, dankie. Maar ek ken darem ’n paar van die gaste. Ek wou eintlik hoor of jy ’n entjie strandaf wil stap. Ek was lanklaas op Blouberg, en die uitsig is vanmiddag besonders.”

“Dit is ’n helder dag. Die lug is skoon ná gister se reën.”

“Wil jy jou baadjie aantrek?” Hy mik om haar baadjie van die stoel af op te tel, maar sy keer hom.

“Nee wat, dankie. Dis darem nog nie so koel nie.”

Die eerste rukkie stap hulle in stilte. Die lug is verfrissend. Aria kyk na hulle voete wat in pas loop en dan na Tafelberg wat in die laatmiddagson soos ’n ikoon bokant die stad uitstaan. Standvastig en vertroostend.

“Het jy die Kaap gemis terwyl jy weg was?”

“Ja en nee. Johannesburg is deel van my, want ek het daar grootgeword. Die passie en die energie van die mense is eie aan die stad, en ek het dit geniet om deel daarvan te wees. Mense wat nog nooit daar gebly en gewerk het nie, sal dit nie verstaan nie. Dis een van daardie plekke waar jy jou vlerke kan sprei en weet dat jy met die regte geloof groot hoogtes gaan bereik.”

So maklik, ja, mits jy genoeg geld het om die vlerke te koop en die landing sag te maak. Aria sê dit nie hardop nie. Nog ’n aanmerking oor geld sal hom dalk net laat dink sy het regtig ’n obsessie daaroor. “Mense soos ek. Ek was al daar vir ’n kort besoek, maar ek dink nie ek verstaan heeltemal waarvan jy praat nie.”

“Dan het jy iemand nodig om jou oë oop te maak. Dalk kan ek jou eendag die dinge gaan wys wat Jan Alleman nie noodwendig raaksien nie.”

“Hopelik met jou straler,” spot sy saam, maar die blik in sy oë ontredder haar heeltemal.

“Ek kan dit seker reël as jy dit verkies.” Daar speel ’n fyn glimlaggie om sy mond.

Sy weet nie of hy ernstig is of skerts nie en gaan staan hande in die sye om na hom te kyk, sien die tergery in sy oë en skud haar kop ongelowig. “Een: dit is nie wat ek verkies nie. En twee: hoekom bied jy so iets aan vir iemand wat jy van geen kant ken nie?”

“As ons dan nou in syfers praat … Een: sê hulle almal. En twee: want ek kan.”

Aria lag. “Jy het unresolved issues, Reuben Rademan.”

“Het ons nie almal nie?” Die gevoel in sy blou oë is versluier agter ’n sinisme wat nie by hom pas nie.

“Het ek ’n sensitiewe snaar geslaan?” Sy kyk meer aandagtig na hom. “Hoekom bly ek die gevoel kry dat ek jou al voorheen gesien het?”

“Ek het jou beslis nog nie ontmoet nie. Ek sou dit onthou het.”

“Miskien verbeel ek my.”

“Ek het nogal daardie effek op vroue. Gryp hulle verbeelding aan, jy weet.”

Sy kan nie anders as om weer te lag nie en mik om terug te stap. Hy verdien beslis nie ’n antwoord nie.

Hy val langs haar in, en sy kyk om na die spore wat hulle tot hier toe getrap het. Sy spoor lank langs haar fyner een.

“Kom ons stap terug. ’n Terapiesessie langs die water het my nog nooit aangestaan nie. Veral nie in boots nie.”

“Wat is fout met water?”

“Dit is nie ’n plek wat my rustig stem nie.”

“Dis veronderstel om terapeuties te wees. Ek het ’n seilboot. Het dit in my studentedae aangeskaf en dit al die jare by die familiestrandhuis gelos. Die afgelope twee naweke het ek dit herontdek en was ek elke dag op die water. Glo my, as jy jou vlerke wil sprei …”

“Nee, dankie. Ek is nie lus vir ’n Titanic-episode nie. Man ontmoet meisie, sprei saam vlerke, sink saam.”

“Hulle het nie saam gesink nie, een het die wal bereik. Op ’n boot.”

“Wat is so wonderlik daaromtrent? Dis depressing om die minste te sê.”

“Seker nie veel nie, maar alle bote sink ook nie. Ek kan met jou wal toe swem as ons in die moeilikheid sou beland.”

“Ek kan baie goed swem, dankie.”

“Dan verstaan ek nie jou probleem nie.”

“Ek hou nie van die see nie.”

“Hou nie van nie … of is bang vir?”

Sy skud haar kop. “Ek moes geweet het jy het ’n boot. Is dit wat ryk, ongetroude mans doen wanneer hulle verveeld is of ’n meisie wil beïndruk?”

“Nee, deesdae is fietsry en polo glo hoog op die lys. Maar om meisies te beïndruk, is nie eintlik my forte nie.”

“Te besig?”

“Dit ook, ja.”

Hulle is al amper terug by die ander gaste, en hy gaan staan om weer na die stad te kyk wat van hier gesien so rustig teen die voet van die berg lê.

Sy loer onderlangs na hom. Wat het hulle pas gedoen? Kan dit flirt genoem word? Dis seker tweede natuur vir hom. Dis mos hoe mans soos hy met vroue praat, want hy weet die knieë van almal om hom is aan die lam kant. Dis wat selfvertroue aan ’n mens doen. En geld. Magtig, sy moet nou ophou om die geldkwessie op te haal. Dalk is sý die een met die onopgeloste issue.

“Ek het die boot met ’n rede aangeskaf. Deels om ’n vrees te help besweer, maar toe kom ek agter dis ’n ideale manier om weg te breek van alles en almal, en my kop skoon te kry.”

“Versuip al jou duiwels in die see?”

“So iets.”

“Ek moet dus geëerd voel dat jy my saamnooi?”

“Ja.”

Sy glimlag. “Ek is ’n kopdokter, jy gaan dalk spyt wees jy het my op jou boot toegelaat. Ons sal miskien eers deur alles wat jy oorboord wil gooi, moet sif.”

Hy kyk belangstellend na haar. “Ek het gedink jy werk saam met Sandra. Dat jy ook ’n dieetkundige is.”

“Nee, ons deel net spreekkamers by die hospitaal. Dis gerieflik so, om die huur en ontvangsdame te deel. Ons is nie kollegas in praktyk nie. Ons het mekaar in ons vyfde jaar op universiteit ontmoet. Ek was desperaat op soek na verblyf en iemand gee my toe haar nommer.

“Haar pa wou nie hê sy moes alleen bly nie, en sy is toe so gaaf om haar gerieflike woonstel met my te deel. Ons was albei nagraads, die reëling het ons dus goed gepas. Ons het dadelik gekliek en het twee jaar saamgebly voor sy by Medline op Somerset-Wes begin werk het. Ek het ’n jaar later daar begin omdat die geleentheid daar was en Sandra so positief oor die hospitaal was.”

“Goeie bestuur.” Hy sê dit met ’n glimlag.

“Seker waar. Die hospitaalbestuurder is aangenaam, maar die personeel kry min met hom te doen. Hy is ’n besige man. Matrone Vermaak is die een wat die septer in die sale swaai.”

Hulle gesels droog ’n rukkie op. Stilte hang lig tussen hulle.

Reuben maak keel skoon, en sy kyk weg van die brekende branders en terug na hom. Iets aan sy profiel pluk weer aan haar geheue.

“Weet jy wat? Dalk het ek jou verlede jaar by Sandra en Deon se troue gesien.”

“Ek was nie by die troue nie. Hulle het dit taamlik gou gereël, en ek was op daardie datum in Europa. Dit was ’n besigheidsbesoek wat ek nie kon verander nie. Hoekom wonder jy steeds daaroor? Dalk het jy my net êrens op kampus gesien.”

“Ek weet nie. Seker maar omdat dit so op die rand van my geheue huiwer.”

Hulle stap weer verder terwyl sy in haar geheue rondsoek na ’n herinnering aan hom, maar dan verander sy doelbewus haar gedagtegang.

Wat maak dit in elk geval tog saak?

Die son het vinnig gesak tot laag oor die watervlak en die lug verkleur tot ’n sagter skakering. Sy kan aan haar gesig voel die luggie koel nou vinnig af.

“Julle is net betyds vir nagereg. Glo my, hierdie suurlemoenkaaskoekies is nie te versmaai nie. En die macaroons nog minder. Kan ek vir julle koffie skink?”

“Dankie, Sandra, maar jy hoef ons nie te bedien nie, ons skink sommer self. Jy kan ons net geselskap hou.” Reuben trek twee koppies nader en kyk vraend na Aria.

“Dankie.” Sy kyk hoe hy die eerste koppie volmaak.

Sandra vou albei haar hande om die warm koppie. “Ek begin nou koud kry. Ek dink dis tyd om ’n baadjie aan te trek.”

“Ek stem saam.” Aria trek die mus laer oor haar ore en gaan tel haar baadjie van die stoel af op. Sy wuif vir Daleen wat haar hande vraend lig en groot oë maak. Daleen het hulle seker gesien stap.

Toe sy terugdraai, staan daar twee brunette by Sandra en Reuben. Die een staan so naby aan Reuben dat Aria wonder of die vrou onder sy blad wil inkruip.

Hy vermy haar blik toe sy weer nader gaan. Haar oë soek na waar sy die koppie koffie neergesit het, maar dis nie meer daar nie. Sandra kug en maak weer ’n koppie koffie vir haar vol, gee dit aan. Die brunet teenaan Reuben teug versigtig en koulik aan Aria se oorspronklike koppie koffie.

“Aria, laat ek jou voorstel.” Sandra beduie na die brunet onder Reuben se arm. “Dis Amanda. En dit is haar vriendin …”

Sy huiwer by die naam en Amanda help haar. “Charmain.”

“Dis reg, jammer.”

Aria se blik ontmoet Reuben s’n, maar syne bly niksseggend. Sy voel effens verleë omdat sy hom nie ken nie en nogtans voel hy moet iets vir haar verduidelik.

Ongemak daal ragfyn oor hulle neer en kom lê in die holtes tussen hulle.

Aria vat ’n slukkie koffie en brand haar tong. Sy hou haar oë afgewend en blaas vies oor die koffie.

“Liefie, ’n partytjie op die strand is so quaint. Ek hou daarvan,” sê sy vir Reuben en draai dan na haar vriendin. “Charmain, dink jy nie dis oulik nie?” Charmain beaam, en Amanda straal. “Ek dink ons moet ons verlowingspartytjie eendag ook op die strand hou, liefie. Dalk in die lente.”

Reuben antwoord nie dadelik nie.

Aria kyk verbaas na hom.

Hy lyk effe ambivalent, maar herwin gou sy selfvertroue. Die glimlag om sy lippe verklap niks van sy gedagtes nie. Hy sit sy hand op Amanda se skouer en gee dit ’n drukkie. “Jy het te veel planne.”

Sandra lig haar wenkbroue.

Aria se mond val byna oop van teleurstelling en verbasing. As háár verloofde haar so antwoord wanneer sy blosend van geluk oor ’n venue besluit, slaan sy hom sweerlik met haar handsak oor die kop. Genade, die man kan seker darem opgewonde oor die vooruitsig lyk!

Aan die ander kant stem die gedagte van Reuben en Amanda se verlowingspartytjie op die strand haar minder opgewonde. Sy het nie die indruk gekry dat Reuben amper ’n verloofde man is nie.

“Noudat jy hierheen getrek het om by my te wees, kan ons die knoop seker maar vroeër eerder as later deurhaak?”

“Ek moes hierheen kom sodat ek die groep hier in die Kaap kan uitbrei. Dit was onvermydelik.”

“Ag … dié groep.” Amanda maak aanhalingstekens met haar vingers in die lug en lag vir Aria en Sandra asof hulle ’n grappie deel. Sy trek Reuben aan die arm. “Kom ons sit êrens. Ek wil nie my skoene vol sand maak nie, en die hakkies sak weg.”

Die drie gaan sit op die naaste stoele.

Aria en Sandra bly alleen staan. Die koffie is darem al drinkbaar, maar Aria se tong is seer en sy sit die koppie op die tafel neer. Sy het in elk geval haar lus daarvoor verloor.

“Wie gaan help opruim?” Aria vra dit sommer om die gesprek van flussies in ’n ander rigting te stuur.

“My skoonma het gereël dat mense kom skoonmaak. Ons kan ontspan en net hier wag tot hulle arriveer. Hier kom sy nou juis aangestap.”

Aria vat ’n laaste kaaskoekie in haar hand en stap daarmee na waar Daleen en Nita op die sand sit. Sy sak langs hulle neer en laat haar tande in die ryk nagereg sink.

“Die man oor wie se koms julle so opgewonde was, is nie ’n vrye vis nie. Hy het reeds ’n hoek in die bek.”

“Wat? Ag, nee!” Daleen gooi haar hande kamma moedeloos in die lug.

Aria glimlag vir haar vriendin. “Toemaar, dis nie asof jy besig was om Reuben in te katrol nie.”

“Nee, maar jý kon.”

“Julle ken my. Ek besit nie ’n visstok nie.”

“Elke vrou het een of jy dit nou wil weet of nie. Dis in jou glimlag en jou oë. In hoe jou hare val en jou heupe swaai.”

Nita lag net so hard soos Aria. “Ai, Daleen, jy kyk te veel stories.”

“Hoeveel glase sjampanje het jy in, Daleen? Jy moet nog vanaand bestuur, ek hoop jy onthou dit.” Aria vee die lagtrane uit die hoek van haar oog.

“Net een. Dis nie sjampanje wat praat nie.”

Die gesprek draai na ligter hospitaalsake. Nita vertel van ’n stuitige ou omie in die mediese saal wat haar en die ander verpleegsters die afgelope week so lastig geval het, en hulle lag lekker vir die man se eskapades. “Gelukkig word hy môre ontslaan!”

Dan word Nita skielik ernstig. “Ek het gesien jy was vroeër by die verkragtingpasiënt, Aria. Ek was vroeër vanmiddag gou by die saal aan.”

“Ja. Dit was die enigste geval waarvoor ek laatoggend uitgeroep is. Ek moes eers die prosedure met die pasiënt deurgaan voor hulle met die ondersoek en behandeling kon begin.”

“Dis verskriklik. Ek weet nie hoe jy dag na dag deur al die moeilike dinge met die pasiënte werk nie.”

Aria haal haar skouers op. “Net soos jy dit doen.” Sy wil nie oor haar pasiënt praat nie. Nita weet in elk geval dat wat tussen haar en die pasiënte gesê word, konfidensieel is.

“Wat het gebeur?”

“By die huis oorval.”

“Helder oordag?”

“Luister, vriendin, ek wil nie nou daaroor praat nie. Ek luister liewer na julle teorieë oor die visse in die see en strategieë hoe om mens se stok te maneuver.”

“Jammer, dit was ongevraag van my. Ek ken die reëls en jou protokol.”

Toe Aria later weer vir Sandra opsoek, sien sy Reuben in haar rigting mik, maar sy draai haar rug op hom en soek gou ander geselskap op.

Hy wil waarskynlik net groet, maar ná sy amper-verloofde haar opwagting gemaak het, het teleurstelling in haar kom nesmaak. Sy is nie nou lus om hom in die oë te kyk nie. Sy is nie desperaat nie en het beslis nie meer as net ’n vriendskaplike ontmoeting verwag nie. Hulle het immers gemeenskaplike vriende. Sy is net teleurgesteld omdat hy nie aanvanklik laat blyk het dat hy byna verloof is nie – en dan behandel hy sy aanstaande nog so vreemd ook. Effens afsydig, asof hy haar maar net toevallig ken.

Die gaste is al heelwat minder, want noudat die son laag sit, is haar baadjie en stewels nie meer genoeg om die kilte wat teen haar vel opkruip uit te hou nie.

“Sandra, ek dink ek gaan nou ook aanstaltes maak. Dit was heerlik, maar nou soek ek my warm huis. Waar is Deon dat ek hom ook kan groet?”

“Hy is by die ouens wat kom opruim het. Hy sal nou terug wees, maar ek kan hom sê jy het kom groet.”

“Nee, dan wag ek gou om hom ook te bedank.”

Terwyl sy en Sandra gesels, kom Reuben nader. Sy aanstaande is nie meer onder sy vlerk soos feitlik die hele tyd vandat sy gearriveer het nie. Hoe sou hy dit reggekry het om haar hier in die Kaap agter te laat?

“Dit was gaaf om jou te ontmoet, Reuben. Ek is nou net besig om te groet. Aangesien jy nou hier bly en van tyd tot tyd by Sandra en Deon kuier, sal ons mekaar seker weer sien.”

“Selfde. Dit was aangenaam om met jou te gesels.” Hy steek sy hand na haar uit, amper asof hulle besigheid gedoen het. Heeltemal te formeel vir die gemaklike atmosfeer wat vroeër tussen hulle geheers het.

Op pad huis toe kan sy nie anders as om aan Reuben te dink nie. Sy het sy geselskap nogal geniet. Sy manier van praat, sy lyftaal en die kyk in sy oë het haar geïnteresseer …

Tot die verloofde natuurlik haar opwagting gemaak het. Gelukkig dat Reuben belangstellings het wat haar nie prikkel nie. Rykmanseun, die tipe ou met vinnige motors en bote. Regtig! Dis ’n cliché wat haar nie aanstaan nie.

Sy het ’n eenvoudige agtergrond. Het in die middelklas grootgeword en moes maar soms sonder dinge klaarkom. Tog was sy oukei. Sy was gelukkig … meestal. Tot die tragedie gebeur het en sy haar ousus verloor het. Onherroeplik. En dit ná drie jaar waarin sy haar suster bitter min gesien het terwyl Ansu op Stellenbosch was. Sy kon nie wag om ook universiteit toe te gaan en by haar aan te sluit nie. Sy moes net nog matriek slaag.

Maar ’n fratsgolf in Gordonsbaai het dié droom laat verkrummel. Sy onthou die verskriklike dag nog so goed toe hulle die tyding van Ansu se dood gekry het. Haar ouers was gebroke, en sy ook.

En daar was vir hulle geen hulp nie.

Sou dit makliker gewees het as hulle berading gekry het soos iemand by die kerk aanbeveel het? Dalk. Maar haar ouers het nie daaraan gebyt nie. Hulle het alleen deur die ding geworstel en nooit heeltemal klaarheid gekry nie.

Miskien is dit die rede vir haar absolute passie vir trauma-berading. Trouens, sy wéét eintlik dit was die hopeloosheid wat haar ouers ervaar het wat as dryfveer gedien het om haar ’n M.A. in sielkunde en ’n Ph.D. in traumaberading te laat behaal.

Sy was onverskrokke, haar ouers net ’n tikkie onbelangstellend.

Aria ry in die boomryke straat af waarin haar kompleks geleë is. Die groot bloekombome aan weerskante van die pad stem haar rustig. By die hekke wag sy geduldig dat hulle oopskuif. Sy gaan nou die gasverwarmer aansteek en met warm sjokolade en ’n boek op die bank opkrul.

Een voordeel van alleen wees: daar is geen behoeftes van ’n ander waaroor sy bekommerd hoef te wees nie. Haar tyd en haar blyplek is haar eie. Die nadeel? Die stilte wat om haar hang is soms swaar en die sjokolade raak dikwels oud voor sy die inhoud van die houer kan opgebruik.

Die melk is partykeer suur voor die bottel leeg is, en soggens wanneer sy wakker word, moet sy haarself in die spieël groet sodat sy ’n stem kan hoor. So, ja, sy is nie heeltemal onbewus van die stremming wat alleen wees op haar psige plaas nie, maar sy is ook mal daaroor om die deur agter haar toe te trek en te weet sy is tuis en in beheer.

Sy het al ’n rukkie onder die snoesige kombers op die bank opgekrul en in haar boek verdiep geraak, toe haar selfoon lui.

Ongevalle se nommer. Sy antwoord dadelik.

“Naand, Aria, Alice hier. Ag, ek is verskriklik jammer om jou op hierdie onhebbelike uur te steur, maar hier is ’n geval waarvoor jy sal moet inkom. Dokter Vermeulen het aangedring. Hy wil die pasiënte nie saal toe laat gaan voor jy hulle nie gesien het nie. Daar was ’n motorongeluk, en een van die insittendes is in ’n kritieke toestand. Die ander twee, ’n man en vrou, het minder ernstige beserings, en sal net oornag vir observasie opgeneem word, maar hulle hanteer die gebeure sleg. Die vrou is histeries, hoewel sy ’n kalmeermiddel in het, en die man is net mooi die teenoorgestelde. Hy reageer glad nie op ons nie. Sy vitals is normaal, so hy is buite gevaar.”

“Dankie, Alice. Ek sal oor vyftien minute daar wees.”

Hulle lui af.

Aria gooi die kombers op die bank neer. Sy skakel die gasverwarmer af. Hopelik sal die hitte ’n bietjie talm en haar huis nie yskoud wees wanneer sy terugkom nie.

Sy is gewoond daaraan om enige tyd van die dag of nag uitgeroep te word. Dis seker maar nog ’n voordeel van alleen bly – daar is niemand wat sy verontrief nie.

In elk geval is dit goed dat die saal die protokol waarvolgens hulle kan bepaal of dit nodig is om haar te kontak, of nie, stiptelik volg. Hulle verwys pasiënte onmiddellik en maak seker hulle word binne agt-en-veertig uur gespreek. Hoe gouer traumaslagoffers berading kry, hoe beter is die pasiënt se kans om die gebeure te verwerk. Dit gebeur selde dat sy ’n pasiënt tot die volgende dag laat wag.

Sy verruil die gemaklike sweetpakbroek vir jeans, ’n trui en baadjie. Sy sit haar mus op haar kop en gryp die motorsleutels van die rakkie langs die deur.

Medline S, soos die kliniek onder die personeel bekend staan, is net drie kilometer vanaf haar blyplek, en sy ry die afstand binne ’n paar minute. Voor die hospitaal parkeer sy op een van die parkeerplekke wat vir personeellede geallokeer is en beur stywerig teen die koue uit die motor.

Die wind het intussen opgekom en die glasdeur lê soos ’n welkome heenkome voor haar.

Sy is weereens bewus van hoe indrukwekkend die gebou is. Dit maak haar trots om deel van Medline Somerset-Wes te wees. Die omgewing doen haar praktyk goed. Volgens Deon is die hospitaalgroep baie suksesvol in Johannesburg, daarom dat hulle na die res van die land begin uitbrei. En nou het hy sy spreekwoordelike wit jas verruil om met dié uitbreiding te help. Soos sy verstaan, gaan hy by die topbestuur van die groep aansluit.

Dankie tog dat Deon en Sandra in die Kaap bly en nie Johannesburg toe hoef te verhuis nie.

Sy het haar verniet bekommer toe sy die nuus van sy posverandering gehoor het. Dit sou eensaam gewees het sonder hulle, al het sy genoeg ander vriende. Deon en Sandra is werklik soos familie. Sy sal deur die spreekwoordelike vuur vir hulle loop. Sandra voel soms soos die suster wat sy so mis.

Dis ’n harwar by ongevalle se ontvangs toe sy by die deure instap. Tog is dit ’n verligting om binne die veiligheid van hierdie mure te wees. Die Kaapse winterelemente is onguur en stem haar vanaand onrustig.

“Aria! Dankie dat jy so gou gekom het. Jy is ’n staatmaker soos gewoonlik. Ons wil die kamers oop kry, maar dokter Vermeulen het aangedring. Pasiënt Rademan is blykbaar dié Rademan van Medline. Die stigter se seun … ons CEO.”

Die suster aan diens kom staan langs haar en beduie na die lys met opnames. “Jou gevalle is dus Rademan – hier is die lêer – en ’n vrou van agt-en-twintig. Haar beserings is lig, ’n paar stamp- en kneusplekke.

“ ’n Taxi wat oor ’n rooi lig gejaag het, het die voertuig aan die passasierskant getref. Die grootste impak was op die agterste passasiersdeur. Die voertuig het getol, toe ’n ander voertuig en ’n muur getref. Albei die voorste passasiers het hulle sitplekgordels aangehad en die lugsakke het hulle werk gedoen. Albei het ligte beserings opgedoen, maar die derde insittende het nie ’n sitplekgordel aangehad nie en haar toestand is kritiek. Sy het hoof- en rugbeserings opgedoen. Die omvang van die skade word nog bepaal. Sy is met die noodhelikopter hierheen gebring en kon gestabiliseer word, hoewel dokter Vermeulen oor die breinswelling bekommerd is. Op die oomblik word sy geprep vir teater.”

“Het julle die familie al in kennis gestel?”

“Ja, hulle is op pad.”

“Goed, ek sal met hulle praat sodra hulle hier is.”

“Reg so, pasiënte Van Vuuren en Rademan is in die private kamers.” Sy rek haar oë effens. “Dokter Vermeulen het gesê die dame kan nie mediese saal toe geskuif word voor jy nie by haar was nie. Sy is histeries. Die paramedikus aan diens sê die ander vrou het sleg gelyk. In die tjopper het hulle gedink hulle gaan haar verloor, maar sy het vasgebyt. Dokter Vermeulen meen dit gaan dinge vir die saalpersoneel makliker maak as jy die twee eers gesien het.”

“Reg, ek sal eerste by die dame inloer.”

“Sterkte. Die deur is toe, want sy ontstel die ander pasiënte en die mense by hulle.”

Aria kyk vlugtig na die naam van die pasiënt voor sy die lêer weer neersit. Amanda. Haar hand verstil op die vorm. Kan dit wees? Amanda en Rademan? Sy wil dit nie glo nie. Die toeval is te groot.

Sy maak die ander lêer oop en verstar. Die klanke van die ongevalle-eenheid vervaag om haar. Koue vingers klem om haar borskas. Sy moet diep asemhaal om haar ewewig te behou. Sy lees vlugtig deur die inhoud. Reuben Rademan. Manlik. Twee-en-dertig. Dit is hý. Wat het die suster nou net gesê? Die uitvoerende hoof van Medline? Kroonprins van sy pa se hospitaalgroep? Hoekom het sy dit nie vroeër agtergekom nie? Sy moes twee en twee bymekaar gesit het.

Haar vingers bewe toe sy die aantekening in die lêer weer lees: ligte besering aan sy regterskouer en die regterkant van sy kop. Sy moet haar dwing om die lêer kalm neer te sit, om te draai en eers na Amanda se kamer te stap.

Die ongevalle-eenheid het drie private kamers wat vir ernstige gevalle gebruik word. Die eenheid is vanaand bedrywig. Blykbaar was hierdie wintersdag in Junie ongelukkig vir ’n hele paar mense. Hier en daar hoor sy klagtes agter die blou gordyntjies, en in haar roer meegevoel vir al die mense. Dié eenheid laat haar keer op keer besef hoe breekbaar die mens is.

Voor die toe deur van die kamer waar Amanda lê, huiwer sy. Haal diep asem. Gewoonlik word sy nie ontstig deur die pasiënte nie. Sy is immers hier om berading te doen. Maar vanaand is haar hart op ’n wegholtrein. Om haar te help fokus kyk sy om haar rond.

Die man oorkant haar het blykbaar ’n onbekende allergiese reaksie, en die seun links van haar ’n rugbybesering. Almal pasiënte wat binnekort op die been gaan wees.

Sy maak haar oë toe en stoot die deur oop. Die gesig wat haar begroet, getuig beslis van paniek. Amanda sit in die bed. Daar is ’n blou knop teen haar voorkop, en haar slaap en wang is opgehewe. Sover Aria kan agterkom, is dit al sigbare beserings. Dít, en natuurlik die skrik. Amanda se oë is gesper en verwilderd. Daar is nie onmiddellike herkenning in die blou kykers nie.

As dit nie vir die gesig was nie, sou Aria geglimlag het oor die hare wat so deurmekaar om die jonger vrou se kop staan.

Amanda se hande kramp om die deken onder haar ken. Dan is dit asof emosie haar van voor af oorweldig, want sy bars weer in trane uit toe sy met ’n bewende hand aan haar opgehewe linkerslaap en die deurmekaar haarbos voel.

“Hallo, Amanda.” Aria glimlag bemoedigend vir Amanda terwyl sy nader gaan. “Onthou jy my van vroeër op die strand?”

Die verwarring in die blou kykers maak plek vir vae herkenning. Amanda vee die trane met rukkerige hande van haar gesig af, maar haar wange bly nat. Sy probeer weer.

Aria gaan sit langs die bed, hou ’n snesie na haar uit en gee haar kans om rustiger te word. Dan reik sy uit, lê haar hand oor Amanda s’n en gee dit ’n ligte drukkie.

“Ek is Aria. Sandra se vriendin. Onthou jy? Ek is die traumaberader hier by Medline S.”

Amanda kyk na haar met groot, verstarde oë. Haar mond gaan oop en toe, maar daar kom nie klank uit nie.

“Ek is hier om jou te help om wat gebeur het in perspektief te plaas. Is dit reg so?”

Amanda knik woordeloos.

“Jy en Reuben is albei oukei, Amanda. En Charmain is in goeie hande. Die beste wat daar is.” Haar stem is rustig, kalm soos kabbelende water. Heeltemal teenstrydig met die dringendheid wat die toerusting in die vertrek om hulle uitskree. “Kan ek vir jou water ingooi om te drink?”

Amanda skud haar kop. Voel weer aan haar slaap, oor haar hare.

“Wat het gebeur, Amanda?”

Amanda vind haar stem, maar toe sy haar mond weer oopmaak, val die klanke skril, staccato soos glas wat breek, tussen hulle. “Dit … het so vinnig gebeur …”

Aria skink ’n glasie water. Hou dit dan na Amanda uit. “Hier, drink. Dit sal jou mond ten minste beter laat voel.”

Amanda reageer nie dadelik nie, maar steek dan tog haar hand uit.

Die skraal hand ruk só dat Aria die glas nie laat los nie. Sy hou dit voor Amanda se lippe en dié drink twee klein slukkies voor sy wegtrek.

“Ons het nog gelag … ek en Charmain. Reuben het iets gesê … ek weet nie eens meer wát nie. Ek het my hand op sy been gesit … na hom gekyk en toe … toe skree hy ek moet vashou en toe kom die slag. Alles in my het geruk.” Sy vryf oor haar nek, haar skouer. “Ek het dit nie sien kom nie, maar ek het gedoen wat Reuben gesê het.” Haar gesig vertrek weer toe trane oor haar wange begin rol. Die klank oor haar lippe is genoeg om tot op die been te sny.

“Dis oukei, Amanda. Julle is nou veilig. Dit was die regte ding om na Reuben te luister en vas te gehou het. In die omstandighede was dit al wat jy kon doen.”

Hierdie keer vat Amanda die glas water self by Aria. Sy mors daarvan op die deken, maar kry tog gesluk.

Toe sy klaar is, sit Aria die glas terug op die bedkassie. “Ek het nie geweet waar voor of agter is nie. Dit was ’n verskriklike gevoel. Toe nóg ’n slag en toe bots ons teen die muur. Die lugsakke het oopgevou … dit het my so laat skrik.”

Aria hou Amanda se hand in albei hare.

“Die skel klank van metaal wat frommel en die reuk van iets wat brand … Ek het gedink ons gaan verbrand. En ons het amper … daar wás ’n brand.”

“Dit was nie julle voertuig wat gebrand het nie.”

“Dit het soos ’n ewigheid gevoel voor hulp gekom het. Die noodwerkers moes die deur by Charmain oopsny en toe sy uit is, het sy … net daar gelê, vol bloed.” Histeriese snikke ruk weer oor Amanda se lippe, en sy druk haar gesig in haar hande. “Ek het haar hand gehou tot hulle my weggedruk het. Oral was bloed.” Haar stem breek skielik af, en sy kyk desperaat na Aria, toe na haar hande asof sy nog bloed daar sal sien.

“Dis goed dat jy haar hand vasgehou het en by haar gebly het. Sy was nie alleen nie, dis belangrik. En nou is sy ook nie alleen nie. Daar is mense by haar wat kan help.”

Amanda knik.

Aria kan sien hoe dit tot die jonger meisie deurdring dat sy veilig is.

“Maar … Charmain? Ek is bang.”

“Jy is bekommerd oor haar, maar jy het self ook vanaand baie deurgemaak. Nou moet jy probeer kalmeer. Ek sal jou laat weet hoe dit met haar gaan sodra ek vasgestel het.”

Amanda reageer nie.

Aria reik weer na haar hand. “Jou familie is in kennis gestel, Amanda. Jy gaan nou vir observasie na die mediese saal verskuif word waar jy vanaand sal slaap. Jou mense kan jou daar besoek. Jy het groot geskrik en is bang Charmain het ernstig seergekry. Ek verstaan dit, maar dis belangrik dat jy vanaand goed slaap. Gebruik die tyd om te rus. As jy dit moeilik vind om te slaap kan jy vra vir ’n slaapmiddel wat ek sal aanbeveel. Ek sal dit in jou lêer skryf en seker maak die saal is bewus daarvan.”

Amanda knik net. Haar hande keer telkens terug na die deken voor haar wat sy in ’n bondel saamklem.

“Maak jou oë toe en haal diep asem.”

Tot Aria se verbasing doen Amanda dit sonder teenstribbeling. “Asem uit. Weer in. Uit.” Sy herhaal die oefening ’n paar keer en kan sien hoe Amanda se gesig ietwat ontspan. “Goed so. Vertel my van jou gunsteling-ding. Het jy so iets?”

Amanda maak haar oë weer oop, en hulle kyk ’n oomblik woordeloos na mekaar. “Ja, my ouma se trouring, my ouma aan moederskant. Dis so pragtig, sy het dit vir my gegee voor sy oorlede is. Wanneer ek dit dra, verbeel ek my ek kan haar nog ruik. Sy was altyd so gesteld op haar voorkoms.”

“Jy het mooi herinneringe van jou ouma.”

“Ja, sy was ’n dame. Mens kon haar altyd deur ’n ring trek.”

“Is daar ’n plek waarvoor jy baie lief is of waar jy veilig voel?”

Amanda hoef nie lank te dink nie. “My ouers se huis in Johannesburg. Dis altyd so lekker om tuis te kom en bederf te word.”

“Wat doen jy graag wanneer jy daar is?”

Amanda dink weer ’n oomblik na. “In die winter lê ek graag op die bank in my pa se studeerkamer terwyl die kaggel brand. Ek luister na musiek. Die vertrek laat my na aan my pa voel. Dis so mooi. Daar is baie boeke en ’n groot venster wat oor die tuin uitkyk. Die ou bank is in donker fluweel oorgetrek. My ma wil daarvan ontslae raak, maar my pa weier. Ek is nogal bly daaroor, want dit lê lekker.”

“Dink vanaand aan jou mooi herinneringe voor jy gaan slaap. Ek weet dit gaan nie maklik wees nie, maar jy moet probeer en dit sal jou help ontspan. As jy goed slaap, sal dit jou help om die gebeure te prosesseer. Ek sal die saal môre bel om te hoor hoe dit gaan. As jy my nodig het, sal ek inkom of jy kan my kom spreek. Die saal sal my besonderhede hê.”

“Dankie.” Amanda se stemtoon het na ’n normale vlak gedaal.

Aria voel tevrede dat dit deur die nag goed met haar sal gaan.

Toe sy die deur agter haar toetrek, huiwer sy voor sy na die kamer stap waar Reuben lê. Die suster kom verby. Aria beduie na Amanda se deur. “Die pasiënt is reg om saal toe te gaan. Sy is kalm, maar nie rustig genoeg om te slaap nie. Ek sal seker maak sy kry ’n slaapmiddel in die saal.”

Haar hart klop luid toe sy Reuben se kamer binnestap.

Hy sit regop in sy bed en kyk nie op van sy hande toe sy langs die bed gaan staan nie.

Ineens pla die skerp reuk vanaand hier in die eenheid haar. Ontsmetmiddel en iets wat haar aan metaal herinner. Die geraas steur haar ook. Niks voel reg nie.

Dis asof Reuben nie hier hoort nie, sy ook nie, maar die gedagte is sinloos. Niemand bly lank hier nie. Almal beweeg aan.

“Hallo, Reuben.” Sy wonder of hy haar stem herken, want hy reageer nie. Lyk ook nie of hy van plan is om dit gou te doen nie. Sy lig haar hand, maar huiwer dan. Ineens is sy bang om aan hom te vat. Wat haar daarvan weerhou, weet sy nie. Gewoonlik raak sy sonder moeite aan pasiënte.

Sy gaan sit op die stoel langs hom.

Hy lyk moeg. Die bleekheid in sy gesig lê vreemd teen die sonbruin van sy vel. Daar is ’n snytjie teen sy regterwang en fyn snymerkies oor sy linkerhand.

“Reuben,” probeer sy weer, maar steeds lig hy nie sy oë na haar nie. Hy maak nie eens ’n geluid om aan te dui dat hy haar hoor nie. “Reuben.” Hierdie keer sit sy haar hand oor syne. Sy vou haar vingers oor albei sy hande. Die vel is koud onder haar aanraking, en sy vat sy hande stywer vas.

Sy kan aan die lyn van sy skouers sien hoe hy verstil. Hoe hy bewus word van haar. Hy is so ’n aantreklike man. Selfs hier tussen die kliniese mure in ’n toestand van skok, kan sy nie anders as om die sterk lyn van sy kaak en die gevoelvolle hoekies weerskante van sy oë op te merk nie.

Toe hy opkyk, skrik sy. Nie omdat hy aan skok ly en die donker blik in sy oë lyk asof hy op die rand van ’n gapende afgrond staan nie. Ook nie omdat hy hom van die werklikheid onttrek het nie, maar omdat herkenning deur haar flits met ’n snydende akkuraatheid wat haar hart uit haar wil ruk.

Sy staar na hom, met ’n droë mond en ’n hol gevoel in haar binneste. Sy blou oë lê donker en diep in die kasse in sy bleek gelaat.

Die spanning in haar lyf druk die asem uit Aria se longe. Sy maak haar mond oop en toe sy sluk, veroorsaak dit byna ’n fisieke pyn.

Reuben Rademan sit voor haar en skielik word sy teruggevoer na die dag toe hulle die tyding oor Ansu gekry het …

En dan na ’n paar weke later toe een van Ansu se vriende, wat daardie noodlottige dag saam op die rotse was, sy opwagting by hulle voordeur gemaak het. Dít alles beleef sy in ’n oogwink opnuut.

Die seer. Die woede. Die aanvaarding.

Hy was by die begrafnis, het sy daardie dag gehoor waar sy in die kombuis koffie gemaak het terwyl hy met haar ouers gepraat het. Sy wou die koffie nie op die koffietafel plaas nie; sy wou dit oor hom uitgooi, maar het dit nie gedoen nie.

Hy moes haar suster daardie dag gehelp het, maar in stede kom hy toe net met simpatie. Kom vertel hy hulle hoe jammer hy is. Die klomp studente was seker te gekuier om te help, maar niemand het dit ooit gesê nie.

Sy het die skinkbord neergeplak en skaars na die jong man gekyk voor sy uit die vertrek gevlug het. Sy blou oë was diep van spanning, sy gelaat bleek onder die sonbruin. Dis wat sy al die jare onthou het. Die kyk in die oë en die bleekheid.

Sy het nie teruggegaan om hom te groet nie. Om die waarheid te sê, het sy daardie dag nie ’n enkele woord met hom gepraat nie. Later het sy deur haar kamervenster geloer toe hy alleen in die tuinpaadjie af loop. Sy blonde hare het so effens weggestaan van sy voorkop asof hy sy vingers daardeur getrek het.

En nou, na al die jare, ontmoet hulle weer.

Sy word bewus van haar hand wat steeds om syne gevou is en trek dit vinnig terug. Haar palm voel skielik koud. Sy vou haar hande eerder in haar skoot.

Hulle kyk net na mekaar.

Sy weet nie waar om te begin nie. Hoe praat sy met hom terwyl dit soos ’n klug voel? Maar sy kan nie anders nie – sy weet sy moet. Sy moet professioneel bly en doen wat van haar verwag word.

Hulle verlede is nie nou belangrik nie. Of is dit?

Sy soek in sy oë, maar sien niks van die spanning wat sy op sy gelaat en in die lyne van sy gesig lees nie. Sy gaan doen wat sy moet, so vinnig sy kan, en dan loop.

“Hallo, Reuben.” Die woorde kom hees, sag. “Dokter Vermeulen het my ontbied. Ek is die traumaberader hier by Medline S.” Haar stem is onpersoonlik, maar sy kan dit nie verhelp nie. Met alles in haar wese wil sy nou uit hierdie kamer vlug. Sy wil nie voor Reuben sit of hom in die oë kyk nie.

Hy kyk net na haar asof sy nie al haar varkies op hok het nie.

Sy kug en probeer weer. “Sal jy met my praat?”

“Nee, dankie,” verbaas hy haar. Sy stem is sterker as wat sy gedink het dit sou wees. Blykbaar gaan dit ’n selfs korter sessie wees as waarvoor sy gehoop het.

“Jy kan nie nee dankie sê nie.” Verontwaardiging sou nie haar reaksie teenoor enige ander pasiënt gewees het nie, maar sy sukkel nou om in beheer van haar emosies te bly. “Ek wil net oor die ongeluk gesels. Niks meer nie. Wil jy my nie daarvan vertel nie?” Haar stem bly met inspanning kalm.

“Nee.” Hy skud sy kop. Kyk terug na sy hande. “Nie nou nie.”

“Hoekom nie? Was dit dan so erg?”

“Derms uitryg is nie my ding nie. Ek het dit lank gelede gedoen. Dit het duidelik nie gehelp nie, want hier sit ons weer.” Bedoel hy nou die insident waarby haar suster betrokke was? Dié gedagte ruk aan haar hart. Of is daar dalk nog iets wat een of ander onsekerheid in hom na die oppervlak bring.

Sy staan op en draai haar rug op hom. Soek in haarself ’n oomblik langer na kalmte, want eintlik is sy lus om hom nou aan die skouers te gryp en te vertel presies wie sy is. Maar dalk is dit beter dat hy nie die waarheid weet nie. Wat gebeur het, is verby en niks kan dit meer ongedaan maak nie. Hulle kan net uit mekaar se pad bly sodat ou koeie nie uitgegrawe word nie.

Sy haal diep asem en draai weer na hom. “Wat in jou verlede gebeur het, het niks met vanaand te make nie en kon dit op geen manier beïnvloed het nie. Onthou dit. As daar onverwerkte trauma is, sal ou onsekerhede moontlik nou weer presenteer en gaan hulle jou begrip en verwerking van vanaand se ongeluk bemoeilik. Ek vra jou nie om derms uit te ryg of persoonlike dinge uit jou verlede op te rakel nie. Dokter Vermeulen is bekommerd oor jou gemoedstoestand en voel dis nodig dat ek eers met jou gesels voor jy mediese saal toe geskuif kan word vir die nag. Dis eintlik net ’n debriefing om jou te lei om vanaand se gebeure te verwerk.”

Toe hy weer na haar kyk, is sy oë steeds uitdrukkingloos. “Ek is jammer, maar ek wil eintlik nou net alleen wees.”

“Goed. As jy aandring, is daar niks wat ek kan doen nie. Ek sal aanbeveel dat hulle jou na die saal verskuif. Daar is geen rede om jou langer hier te hou nie. Dokter Vermeulen was vanaand oorversigtig.” As hy nie met haar wil praat nie, is daar niks wat sy kan doen nie. Hulle was bekommerd omdat hy hom van sy omgewing onttrek het, maar nou reageer hy toepaslik.

Haar gewete ry haar byna onmiddellik. Dis nie hoe sy werk nie. Alle pasiënte het die reg op professionele diens en om in vrede met hulle hede en toekoms te wees sonder om die verlede telkens te herleef.

“Dankie.”

“Onthou net, jy is nie alleen nie. Jy kan met my praat as jy wil. Amanda en Charmain is in goeie hande.” Sy doen die regte ding. Al wil sy, kan sy Reuben nie aan sy lot oorlaat nie. “Ek sal Deon laat weet jy is hier. Jou naasbestaandes is reeds in kennis gestel.”

Hy knik. “Dankie.”

“Jy gaan oornag bly vir observasie en sal waarskynlik môreoggend ontslaan word. Drink asseblief die slaappil wat hulle in die saal vir jou gaan gee. En maak seker jy slaap die res van die week ook goed. Dis noodsaaklik vir traumaverwerking.”

Dit lyk asof hy wil protesteer, maar hom dan bedink. Of hy oukei is, kan sy nie met sekerheid sê nie. Solank hy weier om oop te maak kan sy hom nie lei om die trauma te verwerk nie.

“Totsiens, Reuben. Ek hoop jy slaap goed.” Al wat sy nou wil doen, is om by die huis te kom en te vergeet sy het Reuben ooit vandag ontmoet.

Tog huiwer Aria voor sy opstaan. Sy kan nie anders nie, sy moet seker maak sy het gesê wat sy moet voor sy gaan. “Jy weet, jy kon dit nie keer of anders opgetree het nie. Dit was ’n ongeluk en nie jou skuld nie. Moenie te hard op jouself wees nie.”

“Jy weet nie wat gebeur het nie.”

“Nie presies nie, nee. Maar Amanda het my haar ervaring vertel en ek het die breë trekke in die lêer gelees.”

“Weet jy iets van Charmain?”

“Net dat sy hoof- en rugbeserings opgedoen het en in teater is. Ek sal die suster aan diens vra om jou te laat weet sodra daar nuus is. Probeer intussen ontspan en slaap.” Sy weet hy gaan hom nie aan haar steur nie, maar sy druk deur. “Haal ’n paar keer diep asem. Dit sal help om die spanning te verlig. As jy môre wil cope, is dit werklik belangrik dat jy vanaand moet slaap.”

Haar monoloog bly onbeantwoord, maar dit lyk darem asof hy gehoor het.

“Goed. Ek gaan jou nou los sodat jy tot rus kan kom.”

Wanneer woorde onnodig is

Подняться наверх