Читать книгу So lig soos klip - Jacques Pretorius - Страница 5

Een

Оглавление

“Versamel jy skoenlappers?” vra sy. Ek sien haar lippe beweeg. Sy wink. Ek moet net by haar uitkom. As ek net my hand in my hempsak kan kry, as ek net my vingers by die patroon in my bosak … Ek weet sy kopersnoet lê onder die blou materiaal en blink. Hy lê daar en blink soos ’n droom. Hy sal my wegvat. My blink ontsnapping. Hy neem my na haar toe. Haar oë is sag, haar stem vol troos. Kyk, sy wink, my liefste, liefste blink genade.

Op die konstabel se eerste dag in Sharpeville het Reël Nommer Een soos ’n koeël deur hom geruk. Hy het teen die dowwe gewapende glas van die Casspir se ruit gedruk, asof dit sou oopmaak en uitkoms bied. Hy het die naarheid probeer afsluk, probeer om nie te voel nie. Niks het hom daarop voorberei nie. Nie een van hulle het so iets verwag nie. Om hom was al die gesigte strak en grys van ongeloof en afgryse.

Onderweg van die basis na die township het hulle nog geselsies gemaak, stories en grappe vertel. Hulle was op pad na ’n nuwe avontuur. Die Casspir het sussend gebrom, skipagtig gewieg en hulle gesellig gestem. Hulle het vertel van operasies en arrestasies, insidente. Kollegas wat dom foute gemaak het. Snaakse situasies. Dom misdadigers. Makkers wat gesneuwel het. Noue ontkomings en bravade. Soos toeriste het hulle met die vinger gewys na alles wat vreemd en nuut was. Kyk! Kyk!

“Jissis, check daai fokken maer brak. Dis nou ’n fokken vlooitaxi.”

“’n Bosluisbarracks.”

Hulle lag.

“Fok! Kyk hoe vuil is die donnerse plek.”

Kreun.

“Kyk daai donner met sy nuwe fiets. Seker gefokken steel.”

Lag.

“Check die kak op daai dak.”

Lag.

“Wie de donner grou al hierdie fokken gate?”

“Wat de fok is dit met al die klippe in die pad? Pleks die fokkers eerder werk.”

Mompel.

“Jissis! Hoekom is daar so fokken baie rook?”

Kreun.

“Hoe de donner kan die fokken mense so leef?”

Stilte.

Die swart lede praat nou en dan gedemp in Zoeloe, tuur met wilde, donker oë by die ruite uit. Hulle antwoord nie op die sinnelose vrae van hul wit makkers nie. “Ewu, laba belungu!” sê een. Mthobisi is sy naam, konstabel Mthobisi. “Yini bangaqondi lutho? Abazi kanti ukuthi laba bantu abanakuzikhethela? Bayizithutha kanti futhi abanandaba!”

Uit die bietjie Fanagalo wat die konstabel ken, weet hy Mthobisi sê iets oor onreg en onnoselheid. Hy probeer Mthobisi se oë vermy. Hy voel ongemaklik; dink weer aan sy pa. Ma se man. Dis by sy pa dat hy Fanagalo geleer het, sy mynwerkerpa.

Mthobisi-hulle weet nie die konstabel verstaan nie; hy het nog nooit ’n aanduiding gegee dat hy hul gesprekke kan volg nie. Hulle moenie weet nie, reken hy, dis sy behoud. En hy verstaan meer as net grepies van hulle gesprek, méér as net die woorde.

Maar ook hulle het stil geword. Net die diep geloei van die Casspir se enjin. Niemand durf iets sê nie. Dit is nie Suid-Afrika dié nie. Dit is nie die land waarin hulle tot dusver geleef het nie. Dit is die hel dié, en die geringste woord sal die duiwel se aandag op húlle vestig.

Die radio se gekraak laat ’n siddering deur die benoude ruim van die Casspir gaan. Al die oë draai na Schoeman, die radiooperateur wat links voor sit, die gehoorstuk vat en koponderstebo vir die sein wag.

– Mike Oskar Vier, Mike Oskar Vier, kom in vir Beheer, berig oor.

Schoeman draai die radio se volume harder; kyk fronsend iewers teen die dak vas.

– Beheer, dis Mike Oskar Vier. Stuur, oor.

– Ja, Mike Oskar Vier ons het berig gekry van ’n lyk by Sharpevilledam. Kan julle gaan ondersoek instel? Oor.

– Ja, Beheer, het jy vir ons ’n spesifieke ligging? Oor.

– Negatief. Negatief. Al inligting is dat dit by die dam is. Soek maar rond. Oor.

– Roger dit, Beheer. Ons sal gaan kyk.

Dit was vir hulle ’n onbekende omgewing en dit het byna ’n halfuur geduur tot by die dam, wat maar net ’n klipgooi ver was. Hulle het van die pad af die veld ingery om by die damwal te kom. ’n Ent veldin, water se kant toe, het ’n donker hopie tussen die vaal gras uitgesteek. Hulle het nader gery. Eers vlak langs die hoop kon hulle iets onderskei wat soos ’n liggaam gelyk het.

Die enjin het doodgeruk en hulle het stadig uitgeklim. Hulle was styf gesit en koud. Almal was verlig om ná twee uur in die skemer benoudheid uit te klim in die helder oopte in. Die meeste het eers opgekyk na die wye, ylblou lug voordat hulle in die kring om die swart bondel kom staan het.

Die lyk was half verbrand, half kaal en vol kapwonde. Pangawonde. Dit moes ’n teregstelling gewees het, ’n impimpi. Die nek, bors en gesig was verkool. Dit het nie gelyk of die liggaam borste gehad het nie; dit moes die lyk van ’n man gewees het. Plek-plek het wit vet by die swart gebarste vel uitgepeul. Hier en daar was wit been sigbaar. Die lippe het grynsend van die tande weggeskeur.

– Beheer, Beheer, kom in vir Mike Oskar Vier, berig oor.

– Stuur, Mike Oskar Vier.

– Ja, Beheer. Ons het die lyk gekry. Dit is in die veld aan die noordekant van die dam. Oor.

– Ja, dankie, Mike Oskar Vier. Staan net vir ons vas. Ek stuur ’n voertuig met ’n trailer om die lyk te kom oplaai.

Hulle het weggedraai van die lyk en begin gesels. Die meeste het sigarette aangesteek. Die konstabel het nie gerook nie. Soms het iemand gelag en dan het hy sydelings na die lyk geloer. Ook na die swart lede. Hulle was stil en afgetrokke.

Hulle het gewag. Hulle kon die lyk nie los nie; papierwerk moes gedoen word. Die dood moet opgeteken word. ’n Stukkie staatsgenade wat elke dooie, ongeag wie dit is, gegun word. Die man moet begrawe word, tien teen een as anonieme armlastige. Iewers moet van hom ontslae geraak word.

Skemer het die rook van konkavure oor die stofpaaie en sinkplaathuise gebring, dit skuif in oor die veld, oor die lang skadu’s van kragpale en enkele voetgangers. Die wêreld word kleiner; die oë begin werktuiglik soek. En toe hoor hulle dit: Vanuit die dynserigheid kom die dreunsang, en toe ’n donkerder skadu soos ’n muur, ’n massa mense wat agter hul diep stemme op hulle afloop.

By die Casspir was dit skielik doodstil. ’n Hadida het gillend opgevlieg, en asof dit die teken was, klap daar vanuit die skare ’n skoot. Nog een.

“Jissis, hulle fokken ref ons!”

Hulle duik in die Casspir se buik in. Die enjin begin stotter, ruk dood. Die agterdeur wys na die aanstormende massa, en voordat die deur toegemaak kan word, tref iets die staal. Die konstabel draai die sleutel weer en hoor die Casspir se skakelmotor skor karring.

Reël Nommer Een …

Die dreunsang word harder, dreigender, dit is asof die geluid al die lug uit die ruim dryf.

– Beheer, Beheer, kom in vir Mike Oskar Vier, berig oor.

– Stuur, Mike Oskar Vier.

– Ja, Beheer hier het ’n skare gevorm en hulle is besig om op ons te skiet. Hulle kom al nader. Ons versoek onmiddellike bystand. Ek herhaal. Ons versoek onmiddellike bystand. Oor.

– ’M, ja, Mike Oskar Vier. Is julle nog by die Sharpevilledam? Oor.

– Dis ’n positief, Beheer. Positief. Oor.”

– Roger dit.

– Beheer aan alle voertuie. Beheer aan alle voertuie. Berig oor …

Reël Nommer Een …

Deur die rook is die dansende, springende mense nou duidelik sigbaar. Die polisiemanne druk die loop van hul R1gewere deur die skietgate en staar stil deur die koeëlvaste ruite vol spinnerakbarste. Hulle wag vir die bevel. Hulle kan sien hoe van die voorste mense klippe opraap en na hulle slinger. Die klippe val al hoe nader aan die trok. En toe van links ’n beweging wat ’n warreling in die skare veroorsaak – stof, ’n gebrul van enjins. Twee Casspirs kantel log oor klippe en miershope en kom weerskante van hulle tot stilstand. Die skare se diep dreunsang verander in ’n skril gejil. Hulle kom tot stilstand. Die swart konstabels praat hard en vinnig. “Ingabe yini sifanele ukufela la masimba?”

Dié keer verstaan die konstabel niks. Saam met die ander sit hy en kyk hoe die nag toesak.

Toe dit donker en stil genoeg is, klim hulle uit en laai die lyk op die sleepwa wat aan een van die ander trokke gehaak is. Hulle verlaat die toneel in ’n konvooi. Die konstabel sien hoe die voertuie se ligte in die donker rondsping en wip. Hy vat aan die sak op sy bors en voel die patroon swaar daarin lê. Reël Nommer Een, dink hy.

Ek het roerloos langs haar op die bed gelê. Daar was ’n smeersel bloed op haar maag. Haar lyf het geruk. Sy het haar slaaphemp afgetrek, moeisaam regop gekom, ’n ruk op die kant van die bed bly sit en toe voor die venster gaan staan. Sy het die gordyn oopgetrek en ’n ruk net so bly staan. Toe sy terugdraai, het sy haar kop laat hang. Ek het die laken afgeskuif, die vlek op my dy gesien. Háár bloed. Sy het net daar bly staan. Willoos, koponderstebo. Toiingrige hare. Wat het gebeur? God, wat het gebeur?

So lig soos klip

Подняться наверх