Читать книгу So lig soos klip - Jacques Pretorius - Страница 6

Twee

Оглавление

Die kind het oats geëet omdat hy groot en sterk wou word soos wat Ma hom belowe het. Groot en sterk soos Jet Jungle. Soos wat die radio elke weeksdag om sesuur, net voor aandete, belowe het. Eers het hy saamgesing met die kenwysie: Jet-Jungle! Jet-Jungle! Jet-Jungle what a man you get! Get Jet! Elke middag het hy saamgesing en die opgewondenheid het saam met die deuntjie tot ’n klimaks gegroei: Get Jet!

Die storie was in Engels, maar op drie kon hy dit al net so vlot soos Afrikaans praat. Ma en die radio het hom geleer. En Jet Jungle het die skelms ’n ding of twee geleer.

Eenkeer was daar ’n spesiale Jungle Jet in die pak oats – Jet Jungle se vliegtuig! Jy moes dit so op die stippellyne vou, en dan in die vliegtuig se neus ’n tweesentstuk sit. Jy het ’n lyntjie aan een vlerk vasgemaak en dit dan om en om laat vlieg. Om en om het hy dit laat vlieg, om en om. In die getekende venstertjie het Jet Jungle stip voor hom uitgestaar.

Hy het skielik die toutjie gelos. Hy wou kyk waarheen Jet Jungle vlieg; hoe ver hy sal trek. Die vliegtuig het skuins getrek, teen Ma se bruin blompot op die kaggelrak vas. Die pot het stadig omgetiep en geval, soos ’n bom wat Jet Jungle uit die vliegtuig gelos het.

Hy het sy ma agter hom gehoor, en voordat hy kon omkyk, het haar stem hom getref: “Hoekom breek jy my goed?” het sy gegil. Sy het hom aan die skouers gegryp en sy lyf geruk. “Hoekom! Hoekom! Hoekom!” Haar vingers het om sy arms geklem; haar naels het seer in sy vleis in gedruk. Hy kon nie antwoord nie en daar het net ’n hees geluid uit sy keel gekom.

Sy ma het opgehou skud en weggekyk. “Jy is stout. Ek gaan jou los,” het sy gesê en weggeloop, in die gang verdwyn. Die voordeur het agter haar geklap. Hy het stil bly staan en geluister hoe die sleutel in die slot knars. In die kajuit van sy vliegtuig het Jet Jungle steeds net stip voor hom uitgestaar en stukkies van die pot, die klein skerp stukkies, het oor die vloer gestrooi gelê.

Ek onthou dat sy eers lank op die rand van die bed gesit het, haar hande weerskante van haar op die matras. Later het sy haar bene opgelig en omgeswaai, kruisbeen op die bed gesit. Herinneringe is ’n Satan. Dis ’n siek soort genade as hy net in jou kop nesskop en nie ook in jou hart nie. As hy eers in jou hart ook is, gebeur wat daardie aand gebeur het. Dan is selfs God te skaam om te vertel wat gebeur het. Dalk wen die Duiwel tog soms. En dis met klein dingetjies, ’n reuk, geluid, ’n prentjie, dat hy sy oorwinnings behaal.

Twintig minute later het die kind se ma met ’n brood en ’n pakkie sigarette van die winkel af teruggekom. Dunhill. Die rooi pakkie. Dertigs. Die plat pakkie.

Sy ma het sommer so doodgewoon die deur oopgesluit en ingestap. Toe sy die deur agter haar toeklap, het sy ’n rukkie voor hom gaan staan, en hy het haar bene vasgegryp en gegil: “Mamieeeeeeee!”

Sy het met ’n vuis waarin die pakkie sigarette geklem was teen sy kop gedruk. “Bly nou stil of jy kry nie kos nie,” het sy gesê.

Later die middag sit hy met ’n groen karretjie voor die voordeur en speel toe sy pa by die huis kom. Hy los die karretjie oombliklik en gryp ook sy pa se been vas. Die swaar en warm druk van sy pa se palm op sy kop was amper soos om iets moois te sien of iets lekkers te proe en hy wou sy pa nie los nie.

Sy ma groet sy pa nie.

“Wat?” sê sy pa.

“Niks.” Sy ma draai om en loop kombuis toe.

“Hoekom?” sê sy pa en laat val sy tas hard op die vloer. “Wat de fok het ek nou weer gedoen?”

Hy klem sy pa se been stywer vas.

“Niks.”

“Niks? Jy sê nie eers behoorlik hallo nie.”

“Ek’s sorry. Ek voel net nie lekker nie.”

“Nou wat warra jou, hè? Nou wat warra jou?” Sy pa buk af en trek die kind se hande weg van sy been; gee twee groot treë na sy ma toe.

“Hierdie kind maak my mal,” sê sy ma. “Hy dryf my teen die mure uit.”

“Hoekom? Wat maak hy?”

“Ag, man, hy’s net spiteful. Hy doen alles die teenoorgestelde van wat ek sê. As ek sê sit, dan staan hy, en nou het hy vandag die pot wat my ma my vir ons anniversary gegee het, gaan staan en breek.”

Sy pa draai om na hom toe. “Wat de fok is jou storie?” vra sy pa. “Hè, piskop?” Sy pa se gesig is nou reg teen syne.

“Niks nie, Daddy.”

“Niks nie? Fokken niks nie? Hmm?”

“Nee, Daddy.”

“Nou hoekom is jou ma so gewarra, hè?”

“Ek weet nie, Daddy.”

“Kom, vertel my. What’s the name of the game?”

Hy begin huil. “Ek weet nie, Daddy,” sê hy.

“Jy warra jou ma, nou wil jy nog tjank ook?” sê sy pa. “Soos ’n piskoppie.”

Ek het my hand by haar kraag ingedruk, haar sleutelbeen hard en warm gevoel, my voorvinger onder haar brastrap. Sy het my hand vasgegryp en agteroor op die kussings geval. Al die dinge wat ons vrees of nie verstaan nie, het ’n vloek geword. Groot dinge. Gevaarlike dinge. God se dinge. Die donderweer, die bliksemstrale. Die liefde van die lyf. Die lyf self het ’n vloek geword. En bloed? Dit is die grootste vloek. ’n Vloek wat klewerig rooi deur ons are stoot totdat die noodlot dit uit ons ruk. Bloed is die grootste vloek.

In standerd ses het die kind se beste vriend, Roelf, vir hom ’n venster op ’n vreemde wêreld oopgemaak. ’n Polisiewêreld, het die kind eers gedink, maar eintlik was dit maar net die gewone wêreld, iets anders as sy ma en pa se wêreld, iets anders as toe deure en harde woorde.

Roelf-hulle het op die plotte buite die dorp gewoon. Soms is hy toegelaat om ’n naweek daar oor te slaap, en dan het hy en Roelf die Vrydagmiddag ná skool al populierbos toe getrek. Dit was in die verste hoek van die plot en buite hoorafstand van enige ander mense. Hulle het Wilsontoffies en Coke gehad, soms biltong of droëvrugte, en altyd ’n kassetspeler wat met batterye werk. Die Scope. En Roelf se vloekwoorde. Die kind het gelag wanneer Roelf gevloek het; Roelf het so anders as sy pa gevloek.

Hulle het gewoonlik met die skoolbus tot by die plot gery, en by die huis het hulle altyd eers die honde gegroet; dan het hulle by die kombuisdeur ingegaan, die sifdeur agter hulle laat klap en Roelf se sagte ma gegroet.

Een Vrydag is hy weer met die bus saam met Roelf plotte toe. Soos altyd het hulle die honde gegroet, by die kombuisdeur ingegaan en die sifdeur agter hulle laat klap. Roelf het sy boeksak neergegooi en hulle het sy ma gegroet. Soos altyd.

Die inkbevlekte hoeke van Roelf se seilboeksak het verder na binne gekrul, en hy het geweet Roelf se handboeke lyk presies ook so. Roelf se ma het gefrons, haar seun stil aangekyk. En toe sien hy dit ook: Roelf was anders. Sy staan, sy praat, alles was anders. Toe het Roelf sy hand in sy skoolbaadjie se binnesak gesteek en ’n koevert uitgehaal. Hy het dit op die kombuistafel neergeplak.

“Wil julle koffie hê?” het sy ma gevra en sonder om vir ’n antwoord te wag haar rug na ons gedraai en die ketel aangesit.

“Ek is opgeroep, Ma” het Roelf gesê.

Roelf se ma het ’n rukkie by die ketel gestaan, toe uitgeloop en die kombuisdeur hard agter haar toegemaak. Die ketel het kwaai gestoom.

Die volgende naweek is die kind saam met sy neef en twee niggies na die munisipale swembad. Hulle het almal ’n handdoek in die een hand en koeldrankgeld in die ander gehad, en as hulle gaan swem het, het hulle die koeldrankgeld sommer onder die handdoek gelos. Die groot swembad se water was altyd yskoud en ná ’n paar minute het hulle op die warm plaveisel gaan lê totdat hulle ophou bewe het. Hul lekkerste gesels was daar met hul nat lywe op die warm sement.

Die kind het lê en kyk hoe sy oudste niggie, wat al in standerd agt was, se tieties so effens by die kant van haar swembroek ondersteek. Sy het met haar wang op die sement gelê en so ’n bietjie vir hom gelag. “En?” het sy gesê, op ’n grootmensmanier.

“Wat?” het hy gesê.

“Wat gaan jy maak as jy groot is?”

Hy het gekyk hoe ’n druppel van sy niggie se ken afloop en ’n donker kolletjie op die sement maak. Hy het gedink aan Roelf wat sê “ek is opgeroep, Ma,” en hy het skielik gewens hy was al groot. Hy het bewus geraak van die growwe sement onder sy elmboë en knieë en heupbene, opgestaan om sy handdoek te gaan haal en dit langs sy niggie kom oopgooi. “Eendag as ek groot is,” het hy gesê terwyl hy weer sy lê kry, “gaan ek ’n polisieman word.”

Voor sy matriek-eindeksamen het almal lank reeds hul oproepinstruksies gekry. Hy het gewag en gewonder, elke dag vol afwagting die posbus gaan leegmaak, maar sy brief het weggebly. Elke brief wat nie sy oproepinstruksies was nie het vir hom gevoel soos ’n poets wat die posman bak. Dit het gevoel asof dit die posman was wat hom ontneem van die avontuur en glorie van diensplig. Die uniform sou van hom ’n volwaardige mens maak. Hy sou gesag hê. Die grootmense het altyd met respek en met sagte stemme en ernstige kyke oor dienspligtiges gepraat, soos wanneer ’n mens spookstories vertel. Hy het dit broodnodig gehad, hierdie avontuur en glorie, om ’n man te word, uiteindelik van sy pa se grappies weg te kom, maar ook van sy ma wat g’n mooi woord meer vir hom te sê gehad het nie. Sy het hom voortdurend afgejak, kortaf met hom gepraat en hard na hom gekyk asof sy hom oor iets kwalik geneem het, asof hy in die pad van iets was. As hy maar net ’n lid van Die Mag kon word sou hy die een wees wat die reëls laat geld.

Roelf het op sy pa, oom At, se aandrang aansoek gedoen om sy diensplig by die Suid-Afrikaanse Polisie te doen. Roelf het toe reeds by die plaaslike polisiekantoor begin werk en het net gewag vir die eerste inname by die polisiekollege in Pretoria-Wes.

Lank nadat Roelf reeds weg was polisiekollege toe, het die kind die weermag gebel om uit te vind waarom hý nie opgeroep is nie, maar hulle het nie geweet nie; hulle het niks van hom geweet nie. Miskien het sy vorms weggeraak, het die stem oor die foon gesê. Dalk het hy skool gebank toe hulle daardie dag kom opnames maak het. Die redes maak nie nou saak nie, hy moet net sorg dat hy gaan. Die man het sy besonderhede geneem en gesê hy sal gou van hulle hoor, hy moet hom nie bekommer nie.

Toe hy ná nog twee weke niks hoor nie, en al sy vriende reeds op ’n trein na wie weet waar vertrek het, het hy die vier kilometer na die polisiekantoor geloop en daar vorms ingevul. Hierna moes hy psigometriese en mediese toetse in die buurdorp se polisiekantoor aflê. ’n Week later het hy daar vir vrywillige diensplig aangemeld. Hy was opgewonde soos ’n kind – sy manwees het uiteindelik aangebreek. Vir die eerste keer in sy lewe sou hy soos ’n grootmens behandel word.

Hy was sestien in matriek, en toe hy tussen die manne in die polisiekantoor sit, was hy maar nog sewentien. Omdat hy eers daardie jaar agttien sou word, het hy nie vir die eerste inname gekwalifiseer nie. Hy moes nog ses maande as leerlingkonstabel werk – by sy ma-hulle woon en elke dag polisiekantoor toe loop. By Ma en haar man.

Hy moes in netjiese siviele klere gaan werk, en altyd in die kantoor, nooit veldwerk nie. Hy het die tyd verwyl deur vorms, lêers, dokumente en prosedures te bestudeer. Elke vorm het ’n kode gehad: SAP13 vir bewysstukke wat in die SAP13-stoor gebêre is; SAP14 wat ingevul word wanneer ’n persoon in hegtenis geneem is en selle toe gaan of “geboek” is; die SAP22 waarin die besittings opgeteken word wat die geboekte met sy inhegtenisname by hom gehad het; die J88 is die mediese vorm wat ’n dokter invul wanneer hy ’n beseerde ondersoek; die J70 is die kwitansie wat uitgereik word wanneer iemand ’n boete betaal. Sy gunsteling was die J534, die register van boetes wat die polisie uitskryf vir BMR-misdade – geringe misdrywe soos rusverstoring.

Een Dinsdagmiddag het die cheesevan – dit is wat hulle die geel vangwaens genoem het – voor die gebou stilgehou. By die toonbank in die aanklagkantoor het hy, die studentekonstabel, van die J534 opgekyk, en toe die bestuurder die agterdeur van die wa oopmaak, het hy die skraal figuur met die vaal hare wat uitgespring het, herken. Die skeur aan die binnekant van die linkerhak van die Doc Martin-stewel het hy van sy skooldae onthou. Die ou was ’n jaar of twee voor hom in matriek, en hoewel hy nooit sy naam geken het nie, kon hy die gesig goed onthou. Hy was ook een van die naamloses, maar hier in die aanklagkantoor het hy ’n naam gekry: Steyn. R.M. Steyn, het op die vorm gestaan wat die bestuurder van die cheesvan op die toonbank neergeplak het. Roland Steyn. Sy oortreding: winkeldiefstal. Sy vonnis: lyfstraf.

Steyn het net vinnig oogkontak gemaak en die studentekonstabel het verontwaardig besef dat die gevonniste hom nie herken het nie. Die aanklagkantoor-bevelvoerder – almal het net van ’n AKB gepraat – het die studentekonstabel met ’n potlood gegooi om sy aandag te trek. “Hei, gaan sê vir die SB, hy moet kom vir lyfstraf,” het hy gesê en op sy tafel na nog ’n potlood gesoek. Hulle het ’n stasiebevelvoerder altyd ’n SB genoem.

Die studentekonstabel het ’n oomblik na die AKB gekyk, terwyl hý voortgegaan het om iets in die VB (voorvalleboek) te skryf. Die studentekonstabel het weer vinnig na Steyn gekyk, maar hý het afgekyk na sy wriemelende vingers.

Die studentekonstabel het met die koue, donker gang met sy rooibaksteenmure afgestap, bruisend van opwinding en senuagtigheid. Dit is die eerste keer dat hy met die kaptein sou praat! Hy het voor die beige deur gaan staan, ’n sekonde of twee geaarsel om die saluut-en-eerbewys in sy kop te oefen, en toe geklop.

“Binne.” Die stem was afgetrokke.

Die studentekonstabel het die deur oopgemaak en trots gestrek, soos hy geleer is en in sy kop geoefen het. Net strek, want jy mag nie sonder ’n hoofdeksel salueer nie. Die kaptein, wat sy pet opgehad het, het teruggesalueer, en die studentekonstabel het soos ’n laerskoolkind op ’n prysuitdeling geglimlag. “Middag, Kaptein. Kaptein, sersant Drotski sê Kaptein moet kom vir lyfstraf. Ek bedoel, daar is iemand vir lyfstraf en Kaptein moet kom.”

“Dankie.”

“’M, Kaptein?”

“Ja?”

“Mag ek maar saamkom, Kaptein?”

“Wil jy kyk?”

“Ja, Kaptein.”

“Ja, orraait.”

“Dankie, Kaptein.”

Terug in die aanklagkantoor was die studentekonstabel steeds opgewonde, maar niemand het hulle aan hom gesteur nie. Nou is hy ’n slag aan die ander kant wanneer geboelie word. Het Steyn dan nie gesien dat hy altyd aan die ontvangkant was nie? Waarom sien Steyn hom nie raak nie? Hoekom sit hy net daar in die hoek, en so besorg oor sy eie lot? Kyk my in die oë en erken tog net wie ek was! wil die studentekonstabel skreeu. Op skool het nie eens die naamloses hom raakgesien nie. Dit is sy oomblik van glorie, maar niemand merk dit op nie. Soos op skool sien niemand hom raak nie. Roland Steyn sit koponderstebo in die hoek, vroetel bewerig met sy hande, asof hy sy vingers tel. Die studentekonstabel is sowel verlig as teleurgesteld dat Steyn nie sy opgewondenheid opmerk nie. Verlig omdat hy nie om Steyn se onthalwe skuldig oor sy eiewaan sou hoef te voel nie, maar teleurgesteld dat sy glorie so min impak het.

Die kaptein kom met ’n lang rottang in en glimlag joviaal. “Right, wie se gat gaan brand?” vra hy.

Steyn steek ’n bewerige hand op en glimlag skeef, ooglopend in die vergeefse hoop dat, indien hy vir die kaptein se grappie lag, hy ’n bietjie genade sal ontvang.

“Ja, ou maat, jy is nie ’n sissie nie is jy?” Die kaptein glimlag nog breër.

“Nee, Kaptein.” Steyn probeer dapper lyk. Die kaptein se vriendelikheid laat hom weer hoopvol glimlag.

“Kom, stap saam,” sê die kaptein en loop met lang treë na een van die sydeure.

Steyn volg gedweë, sy hande diep in die sakke en arms styf teen sy sye gedruk, asof hy koud kry.

Die studentekonstabel het agter hulle aangeloop, deur die binnehof na die selle waar ’n swart konstabel een van die deure oopgesluit het. Hulle het die koue, donker sel binnegegaan en Steyn het onmiddellik met sy rug teen die verste muur gaan staan en die kaptein smekend aangekyk. Die studentekonstabel het nie geweet wat hom nou te doen staan nie en het skaapagtig geglimlag terwyl die kaptein die rottang met ’n paar oefenhoue deur die lug laat blaf het. Die studentekonstabel kon Steyn se vrees aanvoel en het self senuweeagtig begin word. Ná die derde oefenhou het Steyn begin huil.

“Ag nee, kom nou! Jy’t mos gesê jy’s nie ’n sissie nie,” smaal die kaptein en laat sy rottang nog ’n keer blaf.

“Ek’s bang, Kaptein.” Daar is nou ’n kermklank in Steyn se stem.

“Jy maak my nou net die moer in.” Die kaptein se glimlag is weg. “Jy wil my nie die moer in maak nie, wil jy? Wil jy nou hê ek moet jou harder bliksem?”

Steyn maak sy keel skoon, gooi sy kop effens dramaties agteroor en sug diep. “Nee, Kaptein.”

Die studentekonstabel weet die kaptein gaan in elk geval sy beste gee.

“Ons wag net vir die dokter,” sê die Kaptein meer bedeesd.

Steyn laat sy kop sak, pers sy oë styf toe en vee met sy regterhand oor sy gesig.

“Hoekom, Kaptein?” vra die studentekonstabel skielik, deels uit nuuskierigheid en deels uit simpatie vir Steyn.

“Hy moet die gevonniste voor en ná die tyd ondersoek.”

“Hoekom, Kaptein?” vra hy weer, weliswaar sagter om nie die kaptein te affronteer nie. Wat hy eintlik wou vra is: Sjoe! Is dit dan so erg?

“Dis maar die reëls,” antwoord die kaptein terwyl hy ongeduldig heen en weer stap met die rottang wat soos ’n leeumannetjie se stert agter hom kwispel.

Die dokter is ’n ouerige man met ’n besonderse diep frons. Hy het die deur versigtig oopgedruk en vir die kaptein geknik, sy stetoskoop uit ’n leertas gehaal. Steyn het paniekerig weggeruk toe die dokter sy bloeddruk wou neem. “Hou stil,” het die dokter sag beveel en, nadat hy klaar was, na die kaptein gedraai en met dieselfde gelykmatige stem gesê: “Hy’s reg.” Die dokter het uitgeloop om buite te gaan rook en te wag totdat hy weer geroep word om die finale ondersoek te doen.

“Trek uit jou klere! Hou aan jou onderbroek.”

Steyn trek sy klere stadig uit en vou kledingstuk vir kledingstuk sorgvuldig op, so asof hy probeer tyd wen vir ’n wonderwerk om te gebeur. Toe hy sy broek begin opvou, bars die kaptein woedend uit: “Toe, toe, toe! Maak fokken gou!”

Steyn laat sy halfgevoude broek val en skuifel nader.

“Right, buk en hou aan die kante van die houtbankie vas. En moenie opspring nie, want dan gaan ek jou niere fokken uitbliksem, en moenie met jou hande keer nie, want dan is jou vingers af. Het jy my?”

“Ja, Kaptein.”

“Toe, kom, dis gou verby,” paai die Kaptein. “En ek wil jou nie hoor huil nie.”

“Nee, Kaptein.”

Die kaptein het aangetree soos ’n gholfspeler wat afslaan. Hy het sy greep op die rottang reg gekry, die swaaiafstand met ’n wye armbeweging bepaal en toe die treë vir ’n kort aanloop afgemeet.

Met die eerste hou het Steyn soos ’n hond getjank en spoeg het soos uit ’n sproeier deur sy sidderende lippe geblaas. Sy bene en arms het geruk en bloed het deur sy onderbroek gesypel. Die tweede hou het vinnig daarna geval, asof die kaptein hom wou verras, en Steyn het huilend op sy knieë neergesak, sy hande steeds aan die bankie geklem. Meer bloed het deurgesypel, en daar was nou ook ’n bruin vlek in die middel van sy onderbroek. Die reuk het die studentekonstabel naar gemaak. Hy wou uit, weg uit die vertrek, maar het gefassineerd, soos na ’n ongeluk bly staar. Hy kon sy oë nie van Steyn afhou nie, en het net kort-kort na die kaptein se verbete gesig geloer. Dit doen hy aan ’n wit man en nogal ’n mede-Afrikaner? het die studentekonstabel gedink. En dit sonder ’n tikkie genade?

“Kom, staan op dat ons kan klaarkry,” sê die kaptein.

Steyn kom stadig en bewerig regop. Hy kantel sy kop en vee die trane aan sy boarm af, mompel iets, te sag om te hoor. Ná die derde hou laat los hy die bankie, tol met ’n hoë, skril geluid om en steier in die hoek vas, ineengekrimp, piepend. Sy hande biddend voor sy verwronge gesig.

Die kaptein is nou briesend; hy dreig Steyn met erger straf indien hy nie sy pak soos ’n man vat nie. Steyn skuifel weer tot by die bankie. Hy bewe onbeheersd.

Nog drie houe val. Steyn se sitvlak is ’n bloederige bruin gemors, sy sidderende lyf oortrek met hoendervleis, asof hy kouekoors het.

Ná die sesde hou is die kaptein weer sy joviale self. “Ek hoop nie ek sien jou weer hier nie, ou bulletjie,” sê hy, byna vaderlik. “Jy moet ’n man word op wie ek trots kan wees. Afrikaners is nie kriminele nie.”

Die studentekonstabel kan sien dat die kaptein die straf nie persoonlik bedoel het nie, maar dat dit vir hom tog ’n belangrike saak is. Hierdie wreedheid is ’n beginselsaak, ’n middel tot ’n heilige doel.

“Dankie, Kaptein,” het Steyn geprewel en koponderstebo, huilend bly staan terwyl die dokter hom ondersoek.

Die studentekonstabel het stil saam met die kaptein terug stasie toe geloop. Hy het probeer om heeltemal in die pas met die offisier te loop, byna te marsjeer, regop en trots. “Ja,” het die kaptein gesê, sy blik ernstig vyf tree voor hom op die grond. “Nou weet hierdie klein etter ook dat daar niemand hier rond is wat ’n rottang swaai soos ek nie. Kak sal hulle kak, sê ek jou, net as hulle hoor dis ek wat hulle gaan moer.”

Die studentekonstabel luister na die kaptein se diep stem, die rustige selfversekerdheid daarvan. Hy weet die kaptein sal nou ophou praat oor rottangs en straf, dat dit net sy aanloop is tot ’n gesprek oor lewenswysheid, beginsels en ’n heilige doel. Links, regs, links, regs loop hy en die kaptein oor die binnehof, links, regs … Maar hulle bereik die aanklagkantoor se deur sonder dat die kaptein nog ’n enkele woord sê.

Sy het van die kussings na my opgekyk, haar een hand om die pols van my hand wat nog onder haar kraag was, die ander sag agter my nek; sy het my afgetrek na haar. Wanneer het ek ’n ander mens geword? Toe? Lank, lank voor dit het ek myself Kiewiet begin noem; dit was my nuwe naam. Seker minstens ses maande lank het ek volgehou my naam is Kiewiet, en net daarop gereageer. En net Engels gepraat. Ek wou my nie meer met myself en my wêreld assosieer nie. Ek wou my werklikheid en myself herontwerp. Ek wou transformeer tot iemand wat vir Ma meer aanvaarbaar sou wees. Háár ma was Engels en ek het gedink sy sal van my Engels hou. Maar wat is ’n naam, ’n taal, ’n lyf, ’n gesig? Is dit ek? En wie is ek? Is ek dit wat ander sê ek is? Ek weet dit nou nog nie, maar ek weet dat ek verander het.

Die studentekonstabel het nagskof gewerk toe die berig deurkom. Daar is oproeriges op Hoofrifweg wat motors met klippe gooi. Die AKB het ’n voertuig na die toneel gestuur, en ’n halfuur later het die cheesevan met groot vaart tussen die aanklagkantoor en die selle stilgehou. Sersant Putter en konstabel Mbandla het uitgeklim en ’n bebloede man agter uit die cheesevan gesleep. Die man het hom probeer loswriemel en vir ’n vale geskop, geslaan en gestoei. Sersant Putter het hom om die nek gegryp en met die vuis in die maag geslaan. Hy het soos ’n knipmes gevou en na asem staan en hyg.

Sersant Putter het ’n kopbeweging na sy kollega gemaak en Mbandla het sy tong vasgebyt, met sy linkerbeen vasgetrap, sy regterbeen agtertoe gegooi en die geboë man in die gesig geskop. Die man het reg agteroor geslaan en sy kop het die grond met ’n hol geluid getref. Hy het na sy oopgebarste oogbank gegryp en soos ’n fetus opgekrul. Bloed het by sy gesig afgestroom.

Mbandla het oor die man gaan staan en sy kaak met die hak van sy stewel teen die teerblad vasgetrap. Van waar die studentekonstabel in die deur van die aanklagkantoor gestaan het, kon hy die man se kakebeen hoor kraak en hy het gesien hoe witgeel stukkies saam met bloed en speeksel uit sy mond borrel. Mbandla het aanhou skop en in Zoeloe op hom geskreeu. Die man het sy arms om sy kop geklem en gillend gehuil.

“Fogghen hond!” het Mbandla geskreeu en weer en weer geskop. “Fogghen hond!”

Mbandla het aangehou totdat daar nie meer ’n geluid van die man gekom het nie. Hy en Putter het hom toe na een van die selle gesleep en daarin toegesluit. Hulle het hom in die aanklagkantoor kom inboek: ’n SAP14 ingevul, maar geen J88 nie. Dit is oorlog, het die studentekonstabel gedink. ’n Stryd om oorlewing. As daardie man lig daarvan afkom, gaan almal karre met klippe gooi. En as jy eers ’n klip gegooi het … wie weet wat volgende is?

Die volgende middag het adjudant Pieterse hom ingeroep.

“Middag, AO,” het hy eerbiedig gegroet.

Die adjudant het stip na ’n vel papier in haar regterhand gesit en kyk. “Ja, middag,” het sy bot gesê. “Hier is jou papiere. Jy gaan Saterdag kollege toe. Hier is jou brief en ’n lys met als wat jy moet saamvat. Sorg dat jy betyds is.” Sy het opgekyk, maar haar grys oë was op iets anders agter hom gerig, haar vaal gesig uitdrukkingloos. Sy het die dokument oor die lessenaarblad na hom gegooi en weer voortgegaan om ander vorms te teken.

Hy het vinnig vorentoe getree en die brief van die lessenaar opgeraap. Uiteindelik! Uiteindelik! Hy het na adjudant Pieterse gekyk om te sien of sy sy vreugde opmerk, maar sy was steeds besig met ’n vorm voor haar. Sy was nie eens meer van hom bewus nie.

Dit was herfs. Die veld voor die huis in East Rand Property Mines se Old Married Quarters in Boksburg was geelwit en die groot wilgerboom op die hoek het reeds byna al sy blare verloor.

Die kind se bed het voor die venster gestaan en in die oggende het die son luiwarm daaroor geval. Hy het uitgevat in sy Batman-pakkie op sy bed gelê, na die voëls geluister en patroontjies in die wolke gesien. Dit was nog vroegoggend, voor ontbyt en voor tannie Esmé op die radio. En toe sien hy die gat in die kantgordyn. Groterig, so half in die middel. Hy het opgestaan en op die vensterbank geklim. Die vensterbank was warm gebak; die son en die gordyn sag teen sy wang. Hy het lank na die fyn wit drade van die kantgordyn sit en kyk; nuuskierig ’n voorvinger deur die gat daarin gedruk. Die radio het in die kombuis gespeel; die voëls het in die tuin getjirp. Hy het drie vingers deur die gat gesteek, toe ’n hand, ’n arm … die helfte van sy Batman-lyf. Kyk, Batman vlieg!

Hy het van die vensterbank afgespring en, soos dit Batman betaam, stadig grond toe gesak. Die gordyn het pynlik gekerm, maar hy het gevlieg! En nadat hy geland het, het hy nog ’n keer gevlieg, en nog ’n keer, totdat die gat in die gordyn te groot was. Toe het hy buite gaan speel. Eers ’n paar miere en blare met ’n vergrootglas gebrand en later oor die straat geloop om in die veldjie oorkant die huis te gaan ronddwaal. Daar was niks interessants nie en hy het in die wilgerboom geklim. Met die skurwe bas teen sy wang het hy gedroom van ’n werklike vlug, eendag as hy groot is. Hy sal wegvlieg na enige plek in die wêreld. Wegvlieg van alles af. Van Ma en Pa en die donker huis met sy blink mure.

Soos ’n valk wat vinnig afduik het sy ma se stem oor die veldjie geswiep. Etenstyd! Hy het vinnig uit die boom geskarrel om by die kombuis uit te kom. Dit sal oats wees, of brood met appelkooskonfyt, of dalk grondboontjiebotter en stroop. Met soet tee.

Toe hy die deur oopmaak, gryp sy ma hom en begin hom met haar pantoffel slaan. Hy probeer keer, maar die houe brand teen sy arm, teen sy agterkop, sy bene. “Hoekom?” gil sy ma. “Hoekom?” Dwaf! Dwaf! “Hoekom?”

Hy het maar net gekom omdat sy hom vir ete geroep het, wil hy sê, maar kry nie ’n woord uit nie. Hy het tog dadelik gekom, soos wat sy wou hê.

“Weet jy hoeveel kos so ’n gordyn!” Sy ma se gesig is rooi en haar hare hang deurmekaar oor haar oë. Sy haal vinnig asem, haar bors gaan op en af. Sy gryp hom aan sy arm en sleep hom na sy kamer. “Weet jy?” sê sy en wys met die pantoffel na die kantgordyn met die gapende gat soos ’n groot laggende mond.

“Nee,” het hy gesê. Sy stem was klein en sag. “Nee, Mamma.”

“Want jy gee nie ’n hel om nie.”

Hy het na die gordyn se laggende mond gekyk. “Nee,” het hy gesê. Die gordyn se mond het liggies geroer. Kom vlieg, sê die mond. Weg, sê die mond.

“Nee?” skreeu sy ma.

“Ja,” sê hy.

Ek kon sweer haar lyf het ja gesê – nee, nie gesê nie maar ondergeroep ja, ja, ja! Ons het gaan eet en is daarna na haar plek toe. Ek het die woonsteldeur saggies agter ons probeer toemaak, versigtig, en toe ek omdraai, sit sy op die punt van die rusbank en klop met die hand langs haar. Kom, het sy gesê, kom. Het sy nee gesê? Het sy toe al nee gesê? Ja of nee, hoe moes ek weet? Hoe weet ’n mens, dit is nie asof dit woorde in klip uitgekap is nie.

Elke middag, ná ete en die storie op die radio, het die kind na sy ma-hulle se kamer gegaan en in die hangkas geklim. Hy het die sagte flenniehemde teen sy gesig vasgedruk en die reuk daarvan diep ingeasem. Hy het ’n pa ingeasem. Dan het hy op sy ma-hulle se bed gaan lê, aan sy pa se kant van die bed met sy kop op sy pa se kussing. Hy het doodstil vir sy pa lê en wag. Elke dag.

Hy het die blou Volkswagen voor die huis gehoor, hoe dit stop en dan die deur wat klap. Die hek wat kraak. Die sleutel in die deur. “Hallo,” sê sy pa vir sy ma. Voetstappe. Sy pa staan in die deur, haal sy hoed af en kom buig oor hom. Sy pa ruik warm, na grond en motorsitplek.

Die kind se pa sit in die donker sitkamer op die geskeurde oranje-en-bruin bank. Hy rook Lexington en drink zamalek. Hy gaan sit langs sy pa en wag dat Sol en Gobelét op TV begin. Hy en sy pa sit en kyk na die TV-toetspatroon, ’n ronde bal vol kleure. Sy pa sê niks nie.

Sy ma bring vir hulle kos sitkamer toe en hulle eet terwyl dit nuus is. Op die TV speel die Stem en daar is ’n prentjie van ’n soldaat wat met sy geweer in sy hand vorentoe storm. Die kind spring op aandag, stamp sy ortopediese skoene met hulle ystergespes teen mekaar, druk sy arms styf teen sy sye en gooi sy kop agteroor. Hy doen dit omdat sy ma en pa altyd daarvoor lag.

Sy pa lag nie. “Hulle sê die name van soldate wat dood is,” sê hy.

“Sit,” sê sy ma.

Die kind lê op sy bed. Dit is so donker dat hy niks kan sien nie. Hy hoor sy pa se stem van iewers in die huis, dit klink of hy skreeu, dan iets wat val. Voetstappe in die gang. Dis sy ma, sy huil.

Hy bid:

Ek is ’n kindjie klein

maak my hartjie rein

sodat niemand daarin kan woon

behalwe U alleen.

Hy hou sy oë styf toegeknyp en sien stippels wat ronddryf. Dit is engeltjies, dink hy.

Die kind is reeds op vyf skool toe. Die groot skool. In sy kosblik is toebroodjies met appelkooskonfyt in waspapier toegedraai en ’n plastiekbottel vol melk. Soms deel hy sy brood met Justin, en dan gesels hulle oor die juffrou, oor TV, honde, katte, karre en karate.

In die klas sit hulle in groepies van ses; die tafeltjies teen mekaar geskuif. Langs hom sit ’n meisie met die naam Lorraine. Hy weet haar ma-hulle moet ryk wees, want sy het ’n metaalskerpmaker, een met twee gate, ’n grote vir kryt en ’n kleintjie vir potlode. Die meeste ander kinders het ’n plastiek-skerpmaker wat die potlode se punte breek, en party kinders moet altyd ’n skerpmaker leen. Hý is een van die leners.

Mooi Lorraine. Ryk Lorraine. Suinige Lorraine. Die kind moet altyd vir Bets met die baie sproete oorkant hom vra vir haar groen skerpmaker.

“Dit kos ’n soen en ’n pampoen,” sê sy altyd.

“Ag, Bets, ek gaan jou g’n soen nie.”

“Dan kry jy nie die skerpmaker nie.”

“Ag toe, Bets.”

“Soen pampoen. Soen pampoen. Soen pampoen,” tart sy hom.

Om ’n plastiekskerpmaker by Bets te leen was soos om melk te gaan leen by die bure – suur melk by die suur bure.

Juffrou deel vir hulle ’n prentjie van ’n bak vol vrugte uit. Hulle moet dit in hul boek plak en inkleur. Hý moet ook gom leen.

Lorraine hou ’n kleurpotlood oor die papier en kerf die punt daarvan versigtig met die lemmetjie van haar skerpmaker tot ’n fyn poeier. Sy vryf dit dan met ’n sneesdoekie in om haar vrugte soos ’n gekleurde wolk te laat lyk: geel vir die piesang, oranje vir die lemoen en pers vir die druiwe. Haar vrugtemandjie lyk soos gepoeierde plastiek.

Lorraine se vrugte lyk nie vir hom soos regte vrugte nie. Hy kleur sy prent met lang hale in. Ook geel vir die piesang, maar met bruin strepe daarby – ’n regte piesang het bruin vlekke. Hy gee sy lemoen ’n groen wang omdat dit nog nie heeltemal ryp is nie. Sy perske kry ook ’n rooi kol, en ’n mens kan ook sien dat al sy druiwekorrels nog nie ryp is nie.

Juffrou loop met haar donkiestempel tussen die groepe deur; goeie werk kry ’n stempel, party kinders kry ook ’n mooi woordjie of twee van die juffrou. Jy kan kies: óf ’n stempel in die boek, óf ’n stempel op die voorkop. ’n Stempel in die boek hou vir ewig, maar niemand sien dit nie; ’n stempel op die voorkop hou minstens tot badtyd, maar op die speelgrond en in die straat op pad huis toe kan almal dit sien. Hy wil ’n stempel op sy voorkop hê, waar almal dit kan sien.

Al hoe nader het die juffrou gekom. Eers Lorraine en dan hy.

“Dit is wonderlike vrugte, Lorraine,” sê die juffrou, “baie mooi, my kind.”

Lorraine wil die stempel in haar boek hê. Wag totdat Juffrou myne sien, het hy gedink. Hy het solank sy kuif van sy voorkop gevee en sy kop agteroor gekantel, breed geglimlag en sy tong deur die gaatjie gedruk waar sy voortand uitgetrek is.

“Sies!” sê die juffrou. “Dis lelik.” Sy klink soos sy ma.

Ek het langs haar op die bank gaan sit en sy het haar hand op my dy gesit, dit omgeskuif na die binnekant van my been en met haar blougeverfde naels die naat van my broek gevolg, op, op, op … tot byna bo. Ek het my regterhand op haar hand gesit, oorgeleun om met my linkerhand die hare van haar voorkop weg te stoot. Sy het van onder haar wenkbroue skamerig na my geloer. “Koffie?” het sy gevra, haar oë stadig geknip. Ek kon fyn korreltjies maskara aan haar wimpers sien kleef. Ek wou haar soen, maar sy het opgestaan. “Ek bring vir ons koffie,” het sy gesê.

So lig soos klip

Подняться наверх