Читать книгу Die antie met die pienk rok en ander stories - Jan Spies - Страница 5

’n Berg is nie ’n molshoop nie

Оглавление

(vir Harri)

Ek is eenkeer met vakansie daar in Albertinia se omgewing, toevallig in ’n tyd toe die streek wat daar die “Duinewêreld” genoem word, heel deur die molle ingeneem is. Dis so ver as jy kyk, die een molshoop op die ander.

En dit was púre molle. Ek het nie self van hulle gesien nie, want ’n mol is vir die oog mos ’n skaars ding. Maar volgens die mense my vertel het, moes party amper so groot soos dassies gewees het. Nou ja, ’n sekere oubaas, ’n ene oom Toppie, met wie ek baie lekker gesels het, vertel my toe dat hy ná ’n groot gesukkel darem sy grondjie skoon gehad het van die molle. En hy was nie danig trots daarop nie.

En één ding was wis en seker: oom Toppie se plasie sou sonder molle bly. Want hy het geweet hoe om ’n mol se sake te werk. As daar een inkom, lê hy hom voor, en as die mol skop, dan skiet oom Toppie met sy .22-geweer net onder die bokant van die hopie grond – so van tien, vyftien tree af. En dan is dit verby met die mol. Al wat jy moet doen, is om suutjies te werk. Jou aanloop en jou loop sit moet sagkens wees, anders is die mol so wantrouig dat jy ’n dag lank vir hom sal sit en wag. En as jy eers jou sit gekry het, durf jy ook nie roer nie.

Op dié manier, vertel oom Toppie, het hy op sy eentjie só gaaf leer regkom dat hy g’n hulp met die plaag nodig het nie. Al wat hy weet, is dat daar, waar daar ’n wil is, ’n weg ook is.

Ek steur my toe nie verder aan die molbesigheid nie, en ek hou vakansie, en ek en oom Toppie gesels wanneer ons mekaar raakloop, oor alles waaroor daar te prate is, behalwe oor molle – want daaroor het ons kláár gepraat (oom Toppie vertel nooit twee keer dieselfde storie nie, en hy praat ook nie aanmekaar oor dieselfde ding nie) – tot een môre dat hy my raakloop waar ek onder ’n boom met ’n boek sit.

“Wat sit lees jy dan so vroemôre hier?” vra hy. “ ’n Storie,” sê ek.

“Kry jy dan nooit genoeg van stories nie?” vra hy.

“Nee,” sê ek, “sonner stories sal ek nie bra deur die wêreld gekom het nie.”

“Nou watse storie is dit dié wat jy nou weer lees?” wil hy weet.

“Oor die rotvanger van Hameln,” sê ek. “Nou wat het hý gemaak?” vra oom Toppie.

En ek vertel hom die storie van die Sigeuner wat glo op 26 Junie 1259 in Hameln aangekom het en by die inwoners hoor dat dié dorpie bepes was van die rotte. Die Sigeuner neem dit toe op hom om die mense van die plaag te verlos, en daar word op ’n bepaalde vergoeding besluit. Al wat die kêrel toe doen, is om op sy fluit te speel, en daar kom al die rotte na hom toe, en hy stryk met hulle aan na die Weserrivier toe en daar laat versuip hy die hele spulletjie. Hy kom toe trug, maar om dit vir die mense na so min moeite gelyk het, weier hulle om hom sy beloning te gee. Hy neem toe weer sy fluit en dié keer speel hy ’n deuntjie wat al die kindertjies na hom toe aanlok. En daar stap hy met hulle aan na die Koppelberg toe. Die berg gaan toe met ’n spelonk voor hulle oop en die fluitspeler verdwyn met die kindertjies daarin, en die berg gaan weer agter hulle toe.

Net een ou dogtertjie het oorgebly, want sy was ’n kreupele en kon nie byhou nie, en sý het toe vertel wát dit in die deuntjie was wat hulle so agter die vreemdeling aangelok het.

“En wat was dit toe?” vra oom Toppie.

Ek sê ja, dit kan ek vir hom baie mooi sê, want hier staan dit in die fluitspeler se eie woorde in die boek wat ek lees. Hy het dit kwansuis later self vir ’n groot skrywer vertel.

“Nou maar laat ek hoor,” sê oom Toppie.

“Ek sal dit vir Oom lees,” sê ek. “Maar dis in Hollands.”

“Jy kan maar lees,” sê hy, “ek verstaan dit, want ek is daarin gekatkiseer.”

En toe lees ek vir hom wat die rotvanger vir die skrywer gesê het:

“Voor de ratten floot ik van rozijnen en spek, van open provisiekasten, van een land zonder vergif en vallen; voor de kinderen floot ik van speelgoed en wafels, van booten en zigeunerwagens, van een land zonder school en bedtijd …”

“Ja wragtag,” sê oom Toppie, “dít kan jy glo. Met sulke deuntjies lei hy hulle die ewigheid in. Maar ék sê vir jou, as daar één ding is waarmee darie rotvanger sy moses rond en stomp sou teukom, is dit met ’n mol.”

“Hoe dan so?” vra ek.

Hy sê: “Man, by ’n ding wat vir alles wat nie stilte is nie, so bang is soos darie rotte vir gif was, maak jy met geen geluid hond haaraf nie; ook nie met musiek nie. By ’n mol sou hy juis sy fluit moes neergesit het. Jy moet met niks werk wat kan geluid maak vóór die mol dood is nie, anners verneuk jy jou soos darie ou mannetjie van die Landboudepartement wat vir ons hier wou kom wys hoe ons moes molle uitroei.”

Dit klink vir my of dit ’n interessante storie sou kon wees en ek vra oom Toppie verder daarna uit. En om dit ’n molstorie was wat hy my nog nié vertel het nie, was die oubaas op sy stukke. Om die waarheid te sê, hy was verbaas dat hy my dit toe nog nie vertel het nie, want sonder om my oor molle te verveel, sê hy, kon hy ál die ander gepraat oor dié blinde nasie maar gelos het en my reg aan die begin net die één storie vertel het.

En toe val hy weg:

Man, die Boerevereniging laat weet ons lat daar ’n kêrel van die Landboutegniese Dienste hier na Gouritzriviermond toe sou kom om vir ons ’n demonstrasie te lewer van hoe ’n nuwe uitvindsel van hulle werk. Dis dan nou glo ’n patent waarmee ons die molle moet uitroei. Ons sal nooit weer ’n mol sien as darie affêre eers ingespan word nie.

En so is die hele Duinewêreld se mense op dié dag hier by die Mond. En later – hier kom ry die amptenaartjie met ’n yslike lôrie aan. En agter op die bak sit sy assistent tussen ’n klomp gassilinders met meters en horlosietjies en ingewikkelde goeters. Dit lyk amper of hulle ingerig is om tot uit ertappels en petats olie te kom maak.

En die kêrel gee sy lesing, en toe sal die demonstrasie kom. Ons moet dan nou net gou ’n vars molshoop soek. Maar man, ons ken toe omtrent elkeen ál die molle wat ons pla, op die naam. Want elke man hou die molshope in sy omgewing dop. Jy sien mos ’n mol aankom; die varsheid van die hope wys mos vir jou na watter kant toe die dreksel aan die versit is.

En daar’s toe een van my ou vriende wat ’n spesiale mol het wat hy so graag wou vrek hê. Hy volg dan nou glo dié mol al hóé lank en het al alles probeer, maar nou is die mol reguit op pad na sy petatlandjie toe. En as daar nie gekeer word nie, is hy die volgende dag tussen die petats. En sy plasie is ook sommer naby vir die demonstrasie.

Nou maar dis ’n goeie plan, sê die ou beamptetjie en hy vlie daar innie lôrie agter die ou vriend van my aan, en ons anner klomp in ’n groot optog agterna – amper soos die rotte en kinners agter darie fluitspeler aan van wie jy vertel.

Dit was toe ook nie moeilik om uit te maak waar die mol moet wees nie, want daar lê ’n hele rits hope van vaal af al varser en varser tot by nou se hopie grond wat nog rooierig is van die klamte. Gelukkig is dit toe ook nog net ná ’n reëntjie, en die mol is ekstra bedrywig. Ons almal wat ’n mol ken, wil natuurlik stilte hê, maar die beamptetjie sê nee, daar’s g’n stilte nodig nie. Net ’n klomp gas in die gang wat die mol gegrawe het, is genoeg. Ons kan maar rondstaan en praat. Die óú manier van molle doodmaak se tyd is uitgedien.

En ek dink wragtag, dié mannetjie mag sy gas ken, maar sý land se molle is seker nie óns molle nie. Maar voor ek nog kon so ver kom om iets te sê, toe praat een vannie anner manne.

Hy sê: “Maar magtag man, die hele wêreld hierlaans is net die ene gang; hiervandaan af tot by mý plaas. Die hele distrik, kan jy sê, is hol onner.”

Nee, sê die ou beamptetjie toe, ons hoef ons nie te bekommer nie. Dis hý wat ’n studie van molle gemaak het en hy weet wat hy doen. Maar hy doen niks. Hy staan net daar rond en order sy assistent. Dié se naam, hoor ons uit al die bevele, is Alfons.

“Alfons, bring die gassilinders. Alfons, bring die pomp. Alfons, bring dit; Alfons, bring dat.”

En toe moet Alfons die varsste gat oopgra en allie pype wat nodig is aan die gassilinders skroef, en toe die pomp weer aan een van dárie pype. En so kan Alfons dan uiteindelik die vernaamste pyp van al die pype in die molsgat steek en daarna begin pomp. Dis toe ’n gewone motorkarpomp.

Die affêre werk toe, soos dit my gelyk het, só lat Alfons van die een kant af pomp en dan stoot die gasse uit die bottels deur die koppelpype tot in die pyp wat in die gat ingesteek is.

En die beamptetjie staan en stel net aan die meters op die gasbottels. Dan’s dít te veel en dát te min, en dan weer annersom. Maar dis die hardste werk wat hy doen: net hier en daar ’n kraan oper of toeër draai.

En Alfons pomp.

Ek kyk later of die aarde nie swel nie.

En Alfons se keel fluit vannie moegheid amper ’n deuntjie. Maar die beamptetjie sê niks. Hy weet kwansuis presies hoe lank daar gepomp moet word, want kort-kort kyk hy op sy horlosie, en dan staan hy eers weer ’n ruk so alwetend stil lat jy sou sweer hy weet presies hoe ver die mol nou al die gees aan ’t gee is.

So staan hy tot hy skielik sê: “Holt. Bring die graaf, Alfons, en kom grou hom uit.”

En ons staan nader om te sien hoe die afgestorwe mol lyk.

En Alfons grawe. Maar daar’s geen teken van ’n mol nie. Alfons staan later tot by sy kieliebakke in die gat, so diep tonnel hy agter die mol aan. Dit lyk my skoon hy gra ’n graf. (Nou ná jy my die storie orie fluitspeler vertel het, sou ek sê dis ’n gat minstens so groot soos die een wat daar in die berg oopgegaan het.)

En ek het darem nog bietjie moed gehad lat hy die een of anner tyd op die mol sou afkom, maar toe hy eers pêrekuldoppe begin uitgôi daar uit die gat uit, toe weet ek darie mol sal nog baie nageslagte hê as een van ons anner hom nie op óns manier van kant maak nie. Want dis nie net molle wat ons in hierdie stuk wêreld ken nie; ons ken ook die aarde onner ons voete. En ons weet lat die arikreukeldoppe in die oertyd deur die Strandlopers hierlangs weggegôi is, ná hulle dit leeggeëet het. En daarná is die duinesand bo-oor gewaai, en dis in dié lekker sand lat die molle hou. Wat sal ’n mol nou in die óú grond onner die pêrekuldoppe loop soek? So, ons wis die mol is veilig. En Alfons moes dit ook al begin dink het, want hy kyk taamlik moedeloserig daar onner uit die gat op vir sy baas en hy stamp met die graaf op die harde klip.

Eers sien dié nie eens wat aan die gang is nie, want hy het eenkant toe staan en kyk en ’n deuntjie aan die fluit gewees – nou nie om die mol te probeer nader lok soos darie fluitspeler die rotte nie, maar om die tyd om te kry. Want sy senuwees moes hom teen dié tyd al begin pla het. Maar hy sien toe tog wat Alfons gesien het, en wat ons geweet het. En tóé was hy haastig. Hy het net gespook om daar weg te kom. Toe order hy nie net meer nie; hy hélp ook. En so is hulle bedremmeld daar weg. Miskien het die ou beamptetjie darem geleer dat hy nog nie genoeg geleer het nie. Of dit wel gebeur het, sal ons maar moet sien as hy dalk weer eendag ’n demonstrasie kom hou, maar ek glo nie dit sal gou wees nie.

“Nee, boeta, dit kan ek vir jou sê, darie fluitspeler van wie jy lees, kan vir molle fluit van petatlande en wortels en knolle vir alle molle, maar as hy hulle nie soeitjies een-een, en sónner musiek, voorlê nie, sal hy nie eers sien hoe één van hulle skop nie, wat staan dit nou nog uitkom!” So maak oom Toppie sy storie van toepassing op die geskiedenis van die fluitspeler van Hameln.

“Vir ’n mol help geen masjinerie of fluite of ’n hele bênd nie. Net met ’n .22 kry jy iets uitgerig, want die mol moet dood wees vóór hy jou hoor. As jy die storie omkeer, is jou kys not.”

Ek sê: “Ja, Oom, dit lyk my ’n mens kry nie alles in die lewe met ’n liedjie of ’n fluit reg nie.”

“Dit sal flúit kos as jy net dáámee jou dinge in hierie wêreld wil regkry,” sê hy. “Want kyk nou die rotte en die molle: as jy die een nader fluit, fluit jy die anner een weg – nie om die deuntjie wat jy fluit, hom afskrik nie, maar om hy nie van musiek hou nie. En eintlik nog erger as dit: enige geluid behalwe sy eie is vir hom dié van ’n vyand.” Ek sien oom Toppie maak klaar om aan te stryk, maar hy kom nie tot loop nie. Dis nes of hy nog iets wou sê, maar nie weet hoe nie.

“Waaraan dink Oom nou?” vra ek toe in die hoop dat die skelm ding ook kan naam kry.

“Nee,” sê hy, “ek dink maar net daaraan lat ’n storie ’n wonnerlike ding is.”

Maar ek sien dis nog nie die eintlike ding wat gesê wil word nie, en ek bly kyk vir oom Toppie in sy oë. En toe praat hy nog ’n keer. “Sê my,” sê hy, “dink jy darie ou met die fluit sou vir die molle net so mooi kon geswye het as wat hy vir die rotte gefluit het? Ek bedoel: lat sy stilbly so ’n krag gehad het lat dit eintlik die molle kon getrék het.”

“Hoekom vra Oom so ’n snaakse vraag?” vra ek.

Toe lag hy.

“Ek wonner sommer hoe ’n mens soos jy die storie sou moes maak lat hy oor molle en nie oor rotte gaan nie … as jy, sê nou maar, wou gehad het lat darie ou met die fluit hierie Duine van molle moes kom skoon fluit.”

“Ek weet nie, Oom,” sê ek. “Al wat ek weet, is dat ’n mens ’n fluit sou moes hê wat ’n stilte kan flúit. Of anders gestel: ’n mens sou moes ’n fluit hê wat álle geluid stil fluit.”

Toe skud hy sy kop en hy begin loop.

“Dan is ons óú manier tog nog die maklikste,” hoor ek hom sê. En toe weet ek dat ’n storie oor fluitspel vir molle selfs ingewikkelder as die landboubeamptetjie se apparaat sal wees om te bou. En ás jy hom regkry, is hy nog altyd vir die ore van mense bedoel, en húlle hoor net wat hulle wíl hoor.

Die werklike towerfluit wat ’n mens nodig het, smaak dit my, sou een moes wees waarmee jy tegelyk vir rotte van spek en rosyntjies, vir kinders van speelgoed en wafels, vir dié van dít en vir dárie van dát, en dan vir molle ’n stilte kon fluit.

Met só ’n fluit sou ’n mens vir almal ware geluk kon bring, of vreeslike ellende.

Die antie met die pienk rok en ander stories

Подняться наверх