Читать книгу Wat Meisies moet weet - Jan van Elfen - Страница 5
Uit jou nate
ОглавлениеLiggaamlike veranderinge
Soos alle kinders het jy van geboorte af baie vinnig gegroei. In ’n stadium kon jou ma nie voorbly om nuwe klere te koop nie. Jou skoene was kort-kort te klein.
Toe groei jou liggaam skielik stadiger – waarskynlik hier tussen jou agtste en tiende verjaardae. Saam met die afname in jou liggaamlike groeitempo het jou innerlike gevoelens ook ’n windstilte beleef. En met rede: In dié rustiger tyd kon jou liggaam ’n bietjie asemskep nadat dit in die groeiproses baie energie opgebruik het.
In hierdie stadium hoef jy nie afgehaal te voel en te dink dat jou maats jou almal gaan verbygroei nie. Die rusperiode duur net ’n kort tydjie – op die meeste ’n jaar of twee. Dit is net die stilte wat die adolessente groeistorm voorafgaan.
Dán groei jy weer so geweldig baie dat jou bene miskien vir jou te lank en jou voete te groot lyk. Jy is dan ook geneig om lomp te voel. Jou groei vind egter nie net in lengte plaas nie. Skielik sien jy veranderinge in jou liggaamlike proporsies. Jou heupe word ronder. Die gebied om jou tepeltjies begin uitbult, asof bye jou daar gesteek het. As jou huismense jou ’n bietjie daaroor terg, moenie kwaad word nie. Hulle kan mos nie help om dit raak te sien nie en hulle bedoel niks leliks nie. Dit is ook nie iets om oor skaam te wees nie en dit is ’n teken dat jy normaal ontwikkel. Jy sal ook vind dat daar donshaartjies begin groei op plekke waar daar vroeër niks was nie – in die oksels onder jou arms en op die ronding bokant jou geslagsdele (pubis).
Menstruasie
Die ryping van die inwendige geslagsorgane vind ook plaas. Een van die dae gaan jou eerste maandstonde (menstruasie) verskyn. Daarmee word bedoel die bietjie bloed wat ongeveer een keer per maand deur die vroulike organe uitgeskei word. Die eerste verskyning daarvan staan bekend as die menarg. Hierdie gebeurtenis is die keerpunt in ’n meisie se puberteit – die begin van haar vrouwording. Dit is die eerste stap op die lang pad na volwassenheid.
Daar kan nooit met sekerheid voorspel word wanneer ’n meisie gaan begin menstrueer nie. Deesdae is die gemiddelde ouderdom vir die menarg dertien jaar. Daar is egter die haastiges wat op elf, of selfs op nege, al begin. En daar is diegene wat eers aanstaltes maak om te menstrueer nadat hulle die skool verlaat het. Dit sal jou niks baat om jou te kwel oor wanneer jy gaan begin menstrueer nie. Die groeiproses geskied nie gelykmatig nie. Party babas kry tande en begin kruip voor hul tydgenote. Op die ou end kou en stap almal ewe fluks.
Dieselfde geld die verskyning van die maandelikse bloeding. Party meisies se borste is al goed ontwikkel, dan menstrueer hulle nog nie. Ander se puberteit word deur menstruasie ingelei en kan hulle onverhoeds betrap, maar uiteindelik bereik almal volwassenheid.
Tyd vir ’n bra
Wat jou geval ook al mag wees, die styfheid en uitsetting van jou borsies sal jou nie ontgaan nie. Hierdie uitsetting kan nogal ongemaklik wees en selfs ’n bietjie seer voel. Die borsvergroting kan ook oneweredig geskied as die een bors vinniger ontwikkel as die ander een. Om jou daaroor te kwel is nodeloos. Net soos niemand se twee ore presies eners lyk of ewe groot is nie, is daar min vroue wie se borste presies simmetries ontwikkel. Mettertyd sal albei jou borste tog die proporsies aanneem wat die natuur vir hulle bestem het.
Jy kan wonder oor wanneer jy ’n bra moet begin dra en of jy nie dalk al een behoort te dra nie. Die antwoord op albei vrae is dat ’n bra (verkorting van die Franse woord brassière) vir gerief en na eie voorkeur gedra word. Die doel daarvan is om die borste te ondersteun en gemakliker te laat voel. Dit verrig geen ander nuttige funksie nie. Die storie dat jou borste mooier sal ontwikkel as jy ’n bra dra, is uit die duim gesuig.
Ja, ’n mens moet darem ook erken dat ’n bra gedra kan word om die oog te bedrieg – om klein borsies voller te laat lyk of om die buustelyn te beklemtoon. ’n Bra word dus partykeer gebruik bloot om ’n vrou vrouliker te laat voel en lyk. As jy begin wonder of jy ’n bra moet aanskaf of nie, behoort jy jou ma of iemand anders wat dalk die moederfiguur in jou lewe is, te vra. Onthou, sy het ook hierdie lewenstadium deurgemaak. Sy sal van ondervinding praat as sy sê hierdie of daardie tipe bra is die geskikste vir jou bou. Dit is belangrik dat die bra gemaklik pas en jou nie knel of skaaf nie, anders voel jy ongemaklik en selfbewus.
Daar is nog redes waarom jy jou ma of die moederfiguur in jou lewe in hierdie saak behoort te ken en liefs moet saamneem as jy jou eerste bra gaan koop. In die eerste plek kan sy jou help om die beste waarde vir jou geld te kry. Ten tweede sal julle moet besluit uit wie se sak die geld daarvoor moet kom. Moet jy jou sakgeld vir hierdie en toekomstige aankope van onderklere gebruik? Indien wel, dan is dit ’n goeie tyd om vir ’n ekstratjie in jou maandelikse toelaag te vra.
Die puisieprobleem
Skete en kwale speel gewoonlik nie in hierdie stadium ’n groot rol in jou lewe nie. Maar aknee (puisies) versuur talle jong mense se lewe – driekwart van hulle word in die een of ander tyd in puberteit en selfs daarna daarmee gepla.
Puisies verskyn nie toevallig vir die eerste keer in puberteit nie. Dieselfde hormone wat verantwoordelik is vir liggaamlike groei en seksuele rypwording, hits ook die vel se talg- of oliekliere tot oorafskeiding aan. Talg (olie) smeer die vel en beskerm dit, maar kan in oormaat ’n las wees. Dit is veral die kliere van die gesig, skouers en rug wat te veel talg afskei.
Die buise van die ooraktiewe oliekliere en hulle porieë (velopeninge) neig dan om te vergroot. Die opeenhoping van olie en ander onsuiwerhede kan ’n verstopping in die klierbuis vorm. Die suurstof in die lug veroorsaak dat dié proppie swart verkleur. Vandaar die naam swartkoppie.
’n Dieper verstopping vorm ’n witkoppie. Deur die inwerking van ’n ensiem (’n stof wat chemiese reaksies bevorder) in die klierbuis, verander die velolie in ’n vry vetsuur wat in die vellae op die oppervlak uitlek wanneer die klierbuis bars as gevolg van druk weens die verstopping. Hierdie suur gee dan aanleiding tot inflammasie en puisievorming.
Moet jou dus nie laat wysmaak dat vuil bloed of inwendige gifstowwe die oorsaak van puisies is nie – dit is net ’n wolhaarstorie. Dit is ook onsin dat vry puisies veroorsaak. Puisies kan egter wel deur kieme op die vel of aan jou vingers tot infeksie lei en rooi, seer siste word.
Die swartkoppies gee aanleiding tot vlak, geel puisietjies wat genees sonder om littekens (merke) te laat, maar met witkoppies kan dit anders wees as hulle nie behoorlik behandel word nie. Iemand met puisies is dikwels self sy grootste vyand omdat hy dit self verder oor sy vel versprei.
Baie min tieners beskou aknee as ’n nietigheid. Dit laat hulle maklik selfbewus en minderwaardig voel. Jy moet probeer om puisies te aanvaar as ’n normale verskynsel, maar as dit soveel ongelukkigheid veroorsaak dat dit jou hele persoonlikheid aantas, moet daar werk van gemaak word.
Omdat puisies so lelik is en velirritasie veroorsaak, is dit moeilik om nie aan jou puisies te peuter of daaraan te druk nie. Meestal lei dit tot kneusing en sekondêre infeksie, wat puisies en littekenvorming net vererger.
Puisies laat self geen littekens op die gesig nie. Dit is die kneusing en kwaai infeksie wat tot beskadiging en blywende, lelike merke lei. Volg dus dié goue reël: Hou jou vingers van jou gesig af!
Wat gewoonlik gebeur is dat aknee vanself teen die einde van die tiener- of vroeë twintigerjare uitwoed. Die puisies verdwyn dan spoorloos, tensy dit verkeerd behandel of die vel ernstig beskadig is deur infeksie en oorywerige tuisbehandeling, of diep letsels ontwikkel het. Selfs al sou jy letsels oorhou, kan die vel deur ’n plastiese chirurg “gladgeskuur” word nadat die puisies opgeklaar het.
Daar is nog ’n paar feite oor aknee waarin jy sal belang stel:
’n Olierige vel is oorerflik. As jy hierdie veltipe – wat geneig is tot puisies – het, moet jy vroegtydig voorsorg tref deur die vel gereeld te reinig.
Velkleur en geslag speel geen rol in aknee nie.
Aknee dui nie op bloedonsuiwerheid nie. Die vervaardigers van middels wat in die apteek oor die toonbank verkoop word en die publiek met advertensies mislei om so iets te glo, behoort aan die pen te ry.
Sport en ander liggaamlike aktiwiteit in die buitelug vererger aknee beslis nie. Natgeswete klere moet egter nie te lank gedra word nie en jy behoort na oefening te bad of te stort. Vuil klere, veral dié wat ’n growwe tekstuur het, kan wel teen die vel skuur en aknee, veral op die skouers en rug, vererger.
Haarskilfers het ’n negatiewe uitwerking op aknee. As jy skilfers opmerk, behoort die toestand gelyktydig met die aknee behandel te word. Gebruik ’n medisinale sjampoe.
By ’n meisie is aknee geneig om net voor menstruasie te versleg, omdat sy dan meer van die vroulike hormoon progesteroon in haar bloed het. ’n Dokter kan ’n sekere soort voorbehoedpil vir haar voorskryf wat teen aknee kan help. Dit sal ’n seun egter nie help nie, want dié pil kan vroulike veranderinge aan sy liggaam veroorsaak.
Geen deurslaggewende bewyse is nog gevind dat sjokolade, gaskoeldrank, vetterige kos en gebak, die oormatige gebruik van melk en ander suiwelprodukte soos roomys aknee by tieners veroorsaak nie. Volgens die jongste studies kan die gebrek aan ’n gebalanseerde dieet, wat kan lei tot verhoogde insulienvlakke in die bloed, moontlik egter verband hou met die oorproduksie van talg.
Emosies soos spanning en bedruktheid veroorsaak nie aknee nie. Selfbewuste akneelyers kan egter omgekrap en moedeloos word. Waak teen ’n oorgretige gepeuter aan puisies. Om gedurig die rofie van ’n uitgedrukte puisie af te krap, vertraag die genesing en stel dit weer bloot aan sekondêre infeksie.
Alhoewel daar spottenderwys na “vrypuisies” verwys word, het dié kwaaltjie niks met jou liefdesake te make nie.
Daar is raad vir jou. Daar is eintlik net twee soorte behandeling vir aknee: dié wat jy self toepas en dié wat ’n dokter voorskryf. By die tuisbehandeling van aknee geld die volgende reëls:
Reinig jou vel. Die gesig en aangetaste liggaamsdele moet elke dag twee tot drie keer deeglik met water en seep gewas word. Gebruik enige goeie seep. Die probleem met sommige “spesiale” velmiddels is dat hulle die vel kan irriteer of uitdroog. Skoonheidsmiddels kan in die meeste gevalle gebruik word, maar olierige en vetterige middels vererger beslis die toestand.
Net voor menstruasie toon aknee gewoonlik ’n neiging om te versleg. Dis bewys dat ’n verhoogde bloedvlak van progesteroon ’n bydraende faktor is.
Moenie aan die puisies krap en druk nie. Vingernaels dra kieme wat die puisies besmet. ’n Ryp puisie kan liggies uitgedruk word nadat die gesig en hande vooraf met seep, water en ’n ontsmettingsmiddel gereinig is. Om velkneusing te verminder, kan ’n stukkie skoon sneespapier of watte om die vingerpunte gehou word.
Volg ’n gebalanseerde dieet met genoeg vars groente en vrugte en vermy te veel vetterigheid en soetgoed.
Was jou hare gereeld om vetterigheid te vermy. As jy skilfers het, moet dit behandel word.
Mediese hulp moet verkieslik verkry word as die aknee hardnekkig is en vererger. Die soort puisies wat groot siste (vogblasies) vorm, is veral rede om dokter toe te gaan. Voorskrifte moet noukeurig gevolg word indien ’n dokter geraadpleeg word.
Indien tuisbehandeling nie slaag nie en jou puisies jou onderkry, behoort jy ’n geneesheer te raadpleeg. As jy werklik ’n probleemgeval is, sal jou dokter jou dalk na ’n dermatoloog (velspesialis) toe verwys. Geneeskundige behandeling kan die volgende inhou:
Die versigtige en steriele dreinering van puisies.
Die voorskryf van antibiotiese en ander middels (mondeliks en/of vir velaanwending) op ’n langtermyngrondslag om die vorming van suur in die klierbuisies teen te werk.
Vitamien A in ’n behoorlik voorgeskrewe dosis kan nuttig wees, maar dit moet slegs vir ’n vasgestelde tydperk onder toesig van ’n geneesheer gebruik word. Waak daarteen om te veel daarvan te neem, aangesien dit skadelik vir die liggaam kan wees.
Ultraviolet-bestraling in spesiale gevalle.
Hormoonpreparate word vir sommige pasiënte aanbeveel.
Chemiese afskilfering is soms nodig vir die verwydering van lelike littekenweefsel.
Daar is dus alle rede om goeie moed te hê. Aknee is meestal ’n onbelangrike en verbygaande kwaal. Dit moet net nie verwaarloos word nie. As tuisbehandeling nie slaag nie, is daar altyd doktershulp beskikbaar. Onthou net, die belangrikste bydrae wat jy kan lewer is om jou hande so ver moontlik van jou puisies af te hou.
Jou nuwe liggaam
Miskien voel jy verwar deur die verskillende anatomiese name en fisiologiese terme wat jy skielik hoor en wat ek in die boek gebruik. Jy gebruik dalk ander name vir jou organe. Raak maar gewoond aan die nuwe name, maar moenie skaam wees vir jou en jou huismense se eie benamings nie.
As jy die volgende hoofstuk – wat oor die anatomie en fisiologie van die geslagsorgane handel – lees, sal jy besef hoe interessant en doelmatig die werking van jou liggaam is.
Dit neem ’n rukkie om gewoond te raak aan jou nuwe liggaamsvorm en vrouliker voorkoms. In dié tyd voel baie meisies gewoonlik selfbewus oor die uitsetting van hul borste en heupe. Weens skaamheid probeer hulle dit verbloem deur krom te loop of lospassende klere te dra. Dit gebeur makliker by meisies wat gouer as hul vriendinne of klasmaats ontwikkel het. As jy een van diegene is wat vroeër of vinniger as jou maats liggaamlik ontwikkel het, moet jy dit aanvaar. Jy word nou ’n meisie en behoort trots te wees op hierdie uiterlike onderskeidingsteken. Wees trots op jou bates. Stoot jou bors uit en stap mooi regop.
Van fierheid gepraat, onthou dat gereelde oefening die beste waarborg is teen hangskouers, ’n boepmagie en plomp bobene. Terselfdertyd kan jy gerus maar jou liefde vir soetgoed afleer. Lekkers, koeldrank en koek word in die liggaam in vet omgeskakel en geberg, behalwe by diegene wat gereeld fisieke inspanning verrig of daagliks hard oefen. Wie wil nou ’n Poppiedik wees as almal dans en mooi klere dra?
Onthou gerus dat plomp tieners gewoonlik vet volwassenes word. Jul huisdokter kan jou vertel van allerlei skete en kwale waartoe oorgewig mense geneig is – van spatare en galstene tot suikersiekte en hartkwale.
Maar in jou strewe na ’n slanke figuur moet jy jouself nooit probeer uithonger nie. Eet drie maal elke dag genoeg voedsame kos – vleis, eiers, graan- en suiwelprodukte, groente en vrugte – sorg net dat jy jouself nie te buite gaan nie. As jy wel ’n dieet wil volg, moet jy dit verstandig doen met die hulp van ’n geneesheer of ’n dieetkundige. Of wat van jou huishoudkundeonderwyser?
Alhoewel baie meisies daarna streef om slank te wees, is dit vir rietskraal en fyngeboude meisies ’n bron van kommer. Hulle dink dat hulle by hul vriendinne afsteek omdat hulle bolangs en om die heupe na hul mening te klein is. Hulle vrees dat hulle nie sal ophou om langer te word nie en in hemelbesems sal ontwikkel.
As jy jou verbeel dat jy onderbedeel is, hoef jy jou nie daaroor te verknies nie. Die natuur sal vir jou sorg. Wanneer die tyd ryp is, sal jou borste tot hul gewenste proporsies ontwikkel. Selfs al bereik hulle nooit die proporsies wat jy graag sou wou hê nie, sal hulle net so doeltreffend of beter as groter borste funksioneer. Die primêre doel van die borste is immers om melk te produseer wanneer jy eendag ’n baba het.
Hemelbesem of pikkie
Wat jou lengte betref, het jy ook alle rede om moed te skep. Sodra jy begin menstrueer, neem die groei in lengte amper onmiddellik af. ’n Lang lyf hoef jou waarlik nie mistroostig te maak nie. Van die beroemdste rolprentsterre en fotografiese modelle is so gebou. Nie dat jy jou visier net op ’n loopbaan voor die kameras hoef te stel nie! Daar is vandag byna geen perke op die keuses wat vir jou as loopbaan beskikbaar is nie, ongeag jou lengte – as dit is wat jy wil doen, kan jy hard werk en enigiets van ’n onderwyser tot ’n ruimtereisiger word, of selfs ’n plek in ’n sokkerspan kry. As jy wonder of iemand jou ooit as ’n huweliksmaat gaan kies, kan jy getroos wees deur die wete dat ’n lang lyf nog nooit ’n meisie se kanse bederf het nie. Wat die deurslag gee, is die gees binne die liggaam.
Baie belangriker as haar liggaamsmate, is ’n meisie se postuur (liggaamshouding). Om ’n mooi postuur te hê, moet ’n meisie altyd gemaklik en regop sit, staan en loop. Moenie jou ore uitleen aan iemand (selfs adverteerders in die vrouetydskrifte en op televisie!) wat jou wil wysmaak dat jy jou borsmaat wonderbaarlik kan verbeter met ’n elektriese toestel, oefeninge of ’n towerroom nie. Wat jy wel kan doen om jou postuur te verbeter, is om sport te beoefen, danslesse te neem of miskien ’n kursus vir modelle te volg. Die belangrikste is egter om tevrede te wees met jou natuurlike liggaamsbedeling en om jou ontwakende vroulikheid vrye teuels te gee. Onthou dat vriendelikheid, teerheid, pligsbesef, standvastigheid en veelsydige belangstellings, veral ook in ander mense, onskatbare bates is.
Emosionele veranderinge
Jou eie wêreld
Onthou net dat geen vreemdeling ’n beter trooster of raadgewer kan wees as jou eie huismense nie, veral jou ma of die moederfiguur in jou lewe. Wie het jou kleintyd geliefkoos en getroos, gevoed en geklee en na jou klaagliedere geluister? Was dit dan nie jou ma – of jou ouma, tannie of ouer suster – nie? Sy is steeds die beste persoon na wie jy jou kan wend as iets pla of as jy raad wil weet met ’n gewigtige probleem. Wie het jou op stuk van sake méér lief of ken jou beter? Neem haar gerus in jou vertroue as jy onseker voel, of dit nou is oor die klere wat jy wil aantrek of oor hoe jy moet optree by ’n bepaalde geleentheid.
Moet egter nie jou pa of ander vaderfigure in jou lewe vergeet nie. Jou ontluikende vroulikheid ontgaan hulle nie. Jy sal merk dat jy nie meer soos ’n klein dogtertjie behandel word nie. Soms sal dit vir jou voel asof daar ’n kloof tussen julle gekom het. Dit is nie omdat jou pa nie meer in jou doen en late belang stel nie, maar omdat hy rekening hou met jou groeiende onafhanklikheidsgevoel en ook nie te veel wil inmeng met vrouesake nie.
Weet jy hoe jou pa dit sal waardeer as jy af en toe, soos van ouds, spontaan by hom gaan sit en hom ’n klapsoen op sy voorkop gee? Sommer net om te wys dat jy in jou hart nog niks verander het nie en nog altyd bly is dat hy jou pa is.
Wanneer jou ouers jou waarsku om versigtig fiets te ry of harder te leer, is dit omdat hulle omgee vir jou veiligheid en toekoms. Moenie dit as persoonlike kritiek beskou nie.
As jy humeurig raak, sê jy dinge wat jy nie werklik bedoel nie. Later wil jy jou tong afbyt omdat jy so ongeskik was. Vra eerder om verskoning sodra jy voel dat jy verkeerd was. Onthou, die broodwinners werk hard om hul huis en gesin goed te versorg en verdien jou respek. As kinders te opstandig en die ouers te trots is om toe te gee, ontstaan ’n gespanne atmosfeer en die ouer-kind-verhouding ly daaronder. Sielkundiges noem hierdie situasie die generasiegaping – waar kommunikasie tussen die ouer of ouerfigure en die kind amper onmoontlik is. Moet tog nie beterweterig wees en moedswillig in jou opstandigheid ’n wig tussen julle indryf nie.
As jou ma of pa (of ’n ander ouerfiguur) jou aanspreek, sê maar: “Goed, ek sal kyk wat ek kan doen.” So kan jy probeer om die atmosfeer gemoedeliker te maak en hulle terselfdertyd te laat verstaan dat jy hulle steeds nodig het en die aandag waardeer. Sê byvoorbeeld: “Wanneer gaan ons weer ’n slag saam stap?” Probeer dink aan iets wat julle saam kan doen.
Mense behoort nie in dieselfde huis te woon en by mekaar verby te leef nie.
Maar voordat ons soetsappig raak oor die ouer-kind-verhouding, kan ons ons liewer bepaal by die volgende groot gebeurtenis in jou lewe . . .
Gemengde gevoelens
Jou gewaarwordinge van die afgelope tyd – die buierigheid en liggaamlike veranderinge – stel jou op jou hoede dat ’n groot gebeurtenis ophande is. Jy word al ongeduldig om dit agter die rug te kry. Telkens wonder jy: “Wanneer gaan ek begin menstrueer?” “Hoe sal dit wees?”
Jou eerste menstruasie (maandstonde) is ’n gebeurtenis om na uit te sien, want dit is die teken dat jy die eerste sport op die leer na seksuele volwassenheid bereik het. Voortaan gaan jy min of meer elke maand dié bedekte seën van bloedvloeiing ondervind. Die gemiddelde tyd tussen twee maandstondes (die lengte van jou siklus) is 28 dae. Dit kan egter wissel van 21 tot 35 dae, sonder dat jy enige kommer daaroor hoef te hê. Die aanvang van menstruasie dui daarop dat jy ’n volwasse vrou word.
Kort voor jou menarg (eerste menstruasie) of kort daarna begin jou liggaam ook maandeliks ’n ovum (eiersel) produseer. Dié proses word ovulasie genoem (jy ovuleer). Die fisiologie van ovulasie word in die hoofstuk “Die geslagsorgane” in meer besonderhede bespreek. Die groot betekenis wat ovulasie vir jou inhou, is dat jy voortaan deur ’n man bevrug kan word, dat jy met ander woorde tot moederskap in staat is. En dit is seker een van die grootste ideale wat ’n meisie kan koester. Maar menstruasie is nie net opwinding nie. Dit kan die lewe soms vir jou (soos vir elke vrou) ongerieflik en ongemaklik maak.
Om te voorkom dat jy onverhoeds betrap word deur die maandelikse verskyning van bloed, behoort jy die lengte van jou siklus te bereken. Dit beteken dat jy sommer van die begin af die goeie gewoonte moet aanleer om gereeld die datum van jou éérste dag van menstruasie op ’n kalender te merk. Deur hierdie gebruik stiptelik na te kom, sal jy na ’n tydjie die gemiddelde aantal dae tussen die aanvang van jou maandstondes (jou sikluslengte) kan bereken. Daarna kan jy dan naastenby uitwerk wanneer om jou maandelikse “besoeker” te verwag.
Jy sal moet leer om voorbereid te wees op jou maandstonde en om altyd beskerming teen die bloedvloeiing byderhand te hê. Oor hierdie aspek gesels ons weer op bl. 32. Indien jou maandstonde taamlik hewig is, sal jy daarmee moet rekening hou as jy aan sport deelneem of ’n afspraak reël.
Afgesien van die beslommernis wat menstruasie meebring, kan dit ook pynlik wees. Die pyn, wat wissel van lig tot taamlik erg (dismenorree), is gewoonlik kramppyne en word laag in die rug of in die buik gevoel. Dit is gewoonlik beperk tot die eerste dag van menstruasie en dit is selde so erg dat dit inbreuk maak op ’n meisie se aktiwiteite.
In die paar dae wat menstruasie voorafgaan (die premenstruele tydperk), kan ’n meisie ook swaar en “dik” in haar onderlyf voel. Jy kan dus begryp waarom menstruasie ’n bedekte seën genoem word: Daar is voordele en daar is nadele.
Hoe moet ’n meisie nou weet wanneer haar menarg gaan plaasvind? Die datum kan nooit met sekerheid voorspel word nie, maar die volgende verskynsels kan as leidrade dien: Ongeveer drie tot vier jaar voor haar eerste stonde begin ’n meisie se borste knoppies vorm. Twee of drie jaar voor die groot dag begin die knoppies opmerklik swel, en twaalf tot agttien maande voor die gebeurtenis kom donserige haartjies op die pubis (die ronding bokant die skaamdele) en op die genitalieë (skaamdele) self uit. Krullerige haartjies verskyn in die oksels (die kieliebak onder die arms) ongeveer ses maande voor die eerste menstruasie.
Dit is eintlik te verstane dat jy buierig kan voel as jy begin menstrueer. Dit is ’n gebeurtenis wat jou tot verantwoording roep. Vir die eerste keer moet jy jou geslag (vroulikheid) as ’n voldonge feit aanvaar. Jy is gewis nie meer ’n bakvissie of ’n rabbedoe nie, maar in murg en been ’n meisiemens. Dit is iets om te vier! Nogtans neem dit ’n tydjie van aanpassing om aan jou nuwe identiteit gewoond te raak en om dit te aanvaar.
Indien jy ooit getwyfel het aan jou vroulikheid, behoort die aanbreek van jou menstruasie jou van jou geslagtelike toekoms te oortuig.
Die wete dat jy ’n volwaardige vrou is, en nie ’n man nie, word deur baie gebeure by jou ingeskerp. Dit begin met jou ouers se vreugde omdat jy ’n meisie gebore is. Dit groei deur die jare as jy as ’n meisie aanvaar en soos een behandel word – behandeling wat getuig van erkenning vir jou geslag – en omdat ’n gunstige beeld van vroulikheid deur ander vroue aan jou voorgehou word.
Tog is daar meisies wat hulle oor hul geslag verknies en heimlik wens dat hulle ’n seun kon gewees het. Hulle behoort ’n bietjie na te dink oor die uniekheid en voordele van vrouwees. Die tyd is lankal verby dat vroue vir mans agteruit hoef te staan. ’n Meisiebaba kry vinniger ’n houvas op die lewe, is meer bestand teen siektes, stap vroeër en praat gouer as die meeste seuntjies. Laasgenoemde voorsprong behou hulle lewenslank. Op skool vaar meisies in die algemeen beter met lees, spel en voordrag as seuns. Wanneer dit by groei en liggaamlike ontwikkeling in die puberteitsjare kom, neem meisies ook die voortou.
Vroue is meer bestand teen koue en is minder geneig tot hartkwale as mans. Hulle bereik ook in groter getalle as mans ’n hoë ouderdom. Alhoewel ’n man talle kinders kan verwek, moet elke kind eers in ’n vrou se liggaam vertoef voordat hy die lewe kan ingaan. Dit is net die vrou se liggaam wat vir hierdie wonderlike rol ontwerp is; net sy kan ’n kind in die wêreld bring en aan haar bors vertroetel. Haar moederlike eienskappe en beskermingsdrang speel die grootste rol om die gesin bymekaar te hou.
In vandag se lewe, selfs in sportsoorte wat vroeër net vir mans toeganklik was en ook op die gevegsfront in baie lande se weermag, is daar byna nie ’n gebied waar die vrou vir die man hoef agteruit te staan nie. In die intellektuele en sakelewe is sy die man se eweknie. Daar word ook geglo dat vroue meer emosioneel as mans is en dus liefde met meer gevoel en groter diepte as ’n man kan ervaar. Hierdie geloof word vandag soms deur sowel mans as vroue in twyfel getrek.
Sien jy nou waartoe jou vroulike bedeling jou in staat stel? Jy het alle rede om trots te wees daarop. Dit is ook baie belangrik om te weet dat ’n vroulike liggaamsbou op sigself nie van ’n meisie ’n vrou maak nie. Vroulikheid is ook iets wat in jou hart en siel weerklank vind. Jou tienerjare bied ’n uitdaging, want dit is in dié tyd dat vroulikheid dieper in jou wese ingeskerp kan word. Jy ondergaan dan as ’t ware ’n toets vir die lewensrol wat jy later gaan vertolk. Intussen moet jy ook nog met die belangrikste eerste teken van jou vroulikheid, jou menstruasie, versoen raak.
Raadpleeg gerus jou ma of moederfiguur of jul dokter oor die aspekte van menstruasie wat vir jou vreemd is, maar moenie jou ore vir allerlei ouvroustories uitleen nie. Steur jou nie aan die waarskuwing dat jy sal “koue vat” of ’n ander onhebbelikheid sal oorkom as jy tydens jou maandstonde bad, hare was of kaalvoet loop nie.
Dit is verkeerd om menstruasie as ’n siekte te beskou, want dit is ’n normale liggaamlike funksie. Om die waarheid te sê is menstruele bloeding die enigste voorbeeld van bloedvloeiing wat nie abnormaal is nie, maar ’n teken van blakende gesondheid. Die bou en werking (anatomie en fisiologie) van die organe wat by menstruasie betrokke is, word in die volgende hoofstuk behandel.
Alhoewel die sikluslengte, die gereeldheid, die duur en die hoeveelheid bloedverlies van meisie tot meisie en selfs by dieselfde meisie kan wissel, veroorsaak menstruasie selde soveel ongerief dat dit ’n mens heeltemal van stryk bring. Die bloedvloeiing, wat aanvanklik baie kortstondig en skraps kan wees, maar meestal tussen drie en ses dae duur, is gewoonlik te min om swakheid of bloedarmoede te veroorsaak. Dit word by ’n gesonde meisie binne enkele dae vervang deur verhoogde bloedproduksie in die beenmurg.
Toetse deur sportgeneeskundiges het bewys dat die prestasies van sportvroue (atlete, tennisspelers en selfs swemmers) nie deur hul maandstonde beïnvloed word nie. Baie wêreldrekords is al deur sportvroue opgestel terwyl hulle besig was om te menstrueer. Verhoogkunstenaars, rolprentsterre en fotografiese modelle kan nie bekostig dat hul maandelikse vloeiing hul werk onderbreek nie. Die bygeloof dat ’n meisie daardie tyd van die maand onrein is, word lank reeds verwerp (al is daar steeds kulture wat dit aanhang en so optree).
Die meeste meisies kom taamlik lig daarvan af, maar party ondervind op die eerste dag van hul stonde ’n redelik kwaai pyn laag af in die rug of in die onderbuik. Pynlike menstruasie staan bekend as dismenorree.
Dismenorree kan verlig word met gewone pynpille, soos dié wat vir hoofpyn gedrink word. Die hitte van ’n warmwatersak op die maag kan ook verligting bring. Dit is beter om liewer nie bed toe te gaan weens dismenorree nie, of om dit as ’n verskoning te gebruik om skoolgaan of ’n onaangename verpligting te ontduik nie. Dit kan ’n slegte gewoonte word om tydens die menstruasietyd lyf weg te steek en dit kan jou ook sielkundig benadeel as jy altyd die martelaarsrol speel.
Kwaai dismenorree hoef egter deur niemand gelate aanvaar te word nie. As jy regtig les opsê gedurende jou maandstonde, behoort jy ’n dokter te raadpleeg. Miskien is daar ’n oorsaak wat behandel kan word, of die dokter kan vir jou sterker pynpille voorskryf.
As jy miskien onder diegene tel wat lugtig is vir ’n dokter, senuweeagtig raak in die wagkamer en doodbang die spreekkamer ingaan, moet jy probeer om jou vrees af te skud. As jy gril vir ’n inspuiting of skaam is om ’n mediese ondersoek te ondergaan, kan jy jou daaraan troos dat baie meisies net soos jy voel. Skraap gerus maar jou moed bymekaar. Dokters gryp nie sonder goeie rede na die spuitnaald nie. In ons verligte tyd is daar nie plek vir oordrewe skaamheid waar ’n mens se gesondheid op die spel is nie.
’n Dokter is vertroud met ’n jong pasiënt se vrese en neem dit in ag. As jy onhanteerbare kwale of bekommernisse het waarmee jou ma nie raad weet nie, moet jy nie skroom om ’n dokter te raadpleeg nie. Jy kan natuurlik ook probeer sorg dat jou huisdokter ’n vrou is as jy dit sou verkies. Dit is ’n goeie geleentheid om in hierdie stadium van jou lewe op ’n beter voet met jul huisdokter te kom. Gaan spreek haar as jou menstruasie jou omkrap omdat dit te pynlik is of te lank duur, veral ook as jy oor ’n persoonlike kwelling loop en broei. Dokters is nie net daar om pyn te verlig en siektes te genees nie, maar ook om gesondheidsinligting te verstrek. Die dokter sal simpatiek luister en jou versigtig ondersoek, sonder om jou onnodig te ontbloot.
Om jou te ondersteun, kan jou ma of iemand anders wat jy vertrou saam met jou na die eerste konsultasie gaan. Later behoort jy op jou eie te gaan, sodat jy self jou probleem kan stel en mettertyd ’n goeie verstandhouding met die dokter van jou keuse kan opbou. Nadat die ys gebreek is, behoort jy die goeie (en lewenslange) gewoonte te kweek om gereeld dokter toe te gaan, sê een keer per jaar, of daar iets is wat pla of nie.
Jy het reeds gehoor dat jy nie vir water en seep hoef bang te wees as jy menstrueer nie. ’n Ander belangrike saak in verband met persoonlike higiëne wat jy ook in gedagte moet hou, is dat dit nie net ’n mens se geslagskliere is wat met puberteit begin funksioneer nie (bl. 37); jou ander kliere, veral jou sweetkliere, begin dan ook oortyd werk. Ou sweet onder die arms en in die lieste ruik onaangenaam en jy moet daarteen waak deur hierdie areas gereeld en goed te was. Veral na inspanning en op ’n warm dag moet jy jou armholtes en privaatdele met seepwater reinig. Dit is die eerste stap om te verseker dat jy vars ruik. Daarna kan jy ’n reukweerder gebruik wat jou fris laat ruik. Vermy liewer die soort wat as ’n sweetweerder (anti-perspirant) bekend staan, tensy jy oortollig sweet. Laasgenoemde verminder die sweetreaksie (wat noodsaaklik is vir die regulering van die liggaamstemperatuur) deurdat dit die sweetgaatjies laat toetrek. Die bestanddele van ’n anti-perspirant kan ook ’n irritasie veroorsaak by iemand met ’n sensitiewe vel.
Waar dit kom by die reiniging van jou privaatdele, is dit die beste om net van seepwater gebruik te maak. Jy hoef nie bang te wees om die labia (skaamlippe) te skei en by die ingang van die vagina met die punt van ’n skoon waslap te was nie. Hierdie reël geld veral ook tydens menstruasie. Vermy egter ontsmettingsmiddels of reukweerders in dié area, omdat sterk chemikalieë die gevoelige slymvlies waarmee die vagina uitgevoer is, kan beskadig.
Om jou klere gedurende menstruasie teen bevlekking te beskerm, is danksy die absorberende vermoë van vandag se beskermende produkte geen probleem nie. Geen meisie hoef te vrees dat sy daardie tyd van die maand ’n skande sal oorkom nie. Daar is twee soorte wegdoenbare beskerming om van te kies: dié wat uitwendig en dié wat inwendig gedra word.
Die eerste soort is ’n doekie of depper waarvan daar ’n verskeidenheid beskikbaar is, geskik vir die dae waarop jy net ’n ligte vloeiing het en die dae waarop die bloedvloei swaarder is. Sommige soorte het ’n strokie gom aan wat jou in staat stel om dit aan jou broekie vas te plak. As jou ma of iemand anders jou nie genoegsaam hieroor inlig en demonstreer hoe om dit te gebruik nie, kan jy gerus ’n ouer vriendin daaroor nader of jou dokter om hulp vra. Aangesien hierdie tipe uitwendige beskerming in verskillende groottes beskikbaar is, is dit ewe geskik vir jong meisies en volwasse vroue.
Daar is voor- en nadele verbonde aan uitwendige beskerming. Die grootste voordele is dat dit maklik verwissel kan word en dat twee of meer op mekaar gedra kan word gedurende ’n onverwagte swaar vloeiing. ’n Nadeel is die feit dat dit die lies kan skaaf as dit nat raak. Indien die doekie te lank in posisie bly omdat daar nie geleentheid is om dit te verwissel nie, kan dit ’n reukie afgee.
Die ander soort beskerming is die katoentampon. Dit word soms met en soms sonder ’n dun, buisvormige kartonomhulsel vervaardig, en het ’n toutjie wat aan die tampon geheg is. Die buis (of tampon) word in die vagina geplaas, die tampon word ingestoot en die omhulsel (as daar een is) word verwyder. Die toutjie hang dan by die vagina uit en die tampon kan, wanneer deurweek, deur middel van die toutjie verwyder word.
Daar is geen wetenskaplike beswaar teen die gebruik van tampons deur jong meisies nie, mits hulle dit dikwels omruil, korrek insit en sorg dat dit reg pas. In laasgenoemde geval is ’n meisie byna onbewus daarvan dat sy dit dra. Onder die voordele van tampons tel die volgende: Hulle is klein genoeg om op ’n sosiale of sportuitstappie in ’n handsak te pas; hulle is meer onopsigtelik, wat veral ’n aanwins by sportsoorte soos swem en atletiek is; en hulle is maklik om te dra (mits dit korrek geplaas word).
Jonger meisies sukkel egter soms om ’n tampon te plaas. Die algemeenste rede hiervoor is ’n te nou opening in die himen. (Kyk bl. 41.) Ander moontlike redes is vrees of senuagtigheid, ’n verkeerde tegniek, of ontsteking by die ingang van die vagina.
Die eerste probleem kan deur ’n geneesheer opgelos word. Die meisie wat ’n tampon wil dra, maar weens ’n nou himenopening nie daartoe in staat is nie, kan ’n dokter vra om die opening te rek. Dit is ’n maklike prosedure wat met min of geen ongerief gepaardgaan.
Onsekerheid oor die korrekte gebruik van ’n tampon kan reggestel word deur die gebruiksaanwysings op die pakkie noukeurig te lees of ’n ouer meisie of jou ma oor die saak te raadpleeg. Jy moet darem ook iets van jou vroulike anatomie weet. Bestudeer jou genitalieë (skaamdele) met ’n handspieël, eksperimenteer met ’n gladgemaakte voorvinger – onthou dat die vagina skuins na agter loop. ’n Wydsbeen-gehurkte posisie is die gerieflikste vir die insit van ’n tampon.
As jy seerkry wanneer jy ’n tampon insit en die fout lê nie by die himen nie, kan dit weens ’n infeksie (ontsteking) van die inwendige of uitwendige genitalieë wees. Dit is glad nie buitengewoon om ’n verswering van die labia majora (groot skaamlippe) of van ’n slymklier by die ingang van die vagina te kry nie. So iets kan net so maklik en onskuldig ontstaan soos ’n bloedvint op die sitvlak of mangelontsteking.
’n Ander tipe ontsteking waarmee amper elke vrou in die een of ander stadium van haar lewe te kampe kry, is vaginitis – ’n infeksie van die vagina. Dieselfde kieme wat byvoorbeeld blaas- of velontsteking veroorsaak, of ’n fungus (skimmel, swam), kan ook vaginitis veroorsaak. Die oorsprong daarvan is weer eens gewoonlik nie aan seksuele aktiwiteit te wyte nie, maar dit kan ook ’n aanduiding wees van swak persoonlike higiëne of van seksuele kontak met iemand wat die fungus het (lees oor seksueel oordraagbare infeksies op bl. 106). Tekens wat op vaginitis kan dui, is ’n gejeuk van die genitalieë en ’n oormatige uitskeiding van wit of geel vog (leukorree). Die vagina is natuurlik altyd klam, maar oortollige natheid, veral as dit met ’n irritasie of leukorree gepaardgaan, behoort jou op jou hoede te stel. Vaginitis is maklik geneesbaar. Dit is kortsigtig om tekens daarvan weens skaamheid te verswyg. Dit is veral dwaas om dokter te speel en jouself te probeer genees deur die aanwending van ’n huishoudelike middel.
Om tot die gebruik van tampons terug te keer: Gebruik daarvan moet verkieslik uitgestel word totdat ’n vaginale irritasie en/of ontsteking behandel is en opgeklaar het.