Читать книгу Is Sagie - Jan van Tonder - Страница 4
Een
Оглавление“Lat ’n berg nou so mooi kan wees.” Sagie trek sy oë skrefies teen die son. Hy klouter teen die damwal uit en gaan sit wanneer hy bo kom. “Twee sonne,” sê hy. “En twee blou lugge.”
Daar is ’n effense rimpeling in die spieëlbeeld op die water.
Hy raak aan die lag. Hy dink aan die beeld wat die berg nou sien: twee Sagies – een regop en een onderstebo. “Lyk ek mooi vir jou?” skreeu hy berg se kant toe.
Die berg en son spat uitmekaar toe hy ’n plat klip op die water laat wip. Elke sprong word korter totdat die klip feitlik stil hang en dan onder die bruin verdwyn.
Dit is stil in die vallei. Dwarsrivier se trekkers staan op Sondae. Die boere is kerk toe. As hulle terugkom, gaan hulle eet en dan slaap en dan kuier. Maar niemand sal na húlle toe kom nie. Vandat sy ma dood is, kom hier geen mens meer nie. Selfs na die roudiens moes sy pa die toebroodjies en dinge wat vir die begrafnisgangers reggesit was, vir die plaaswerkers gee.
Is seker maar oor Pa so beneuks is, het Sagie gedink.
Hulle het haar sommer hier naby die huis ingespit, hier op die plek waarvoor sy so lief was – onder die Karoobossies se geur, met ’n plat klip uit die rantjies waarop sy pa self sy ma se naam en geboorte- en sterfdatum uitgebeitel het. Bybelteks en al.
Die dam lê weer glad voor Sagie.
Dwarsrivier is nie so groen soos gewoonlik dié tyd van die jaar nie. Teen die koppe is daar tekens van gronderosie. Die bossies staan verder uitmekaar as vroeër. Net ’n paar van hulle bokke kan nog in die rante loop, want die weiding raak skaars. Die rivier het ophou loop.
Sagie haal die garetolletjie met die rek en fietsspeek onder die klip uit waar hy dit weggesteek het. Nou het hy lus vir paddas skiet, Sondag of nie Sondag nie. Solank sy pa net nie weet nie.
Hy loop al langs die waterkant tot hy ’n platanna op die bodem sien lê. Sagie steek die fietsspeek deur die tol en trek die rek agtertoe. Hy mik en sien al hoe die padda spartel as die speek hom teen die modder vaspen. Sy een oog hou hy styf toegeknyp.
“Jou pa trek jou velle af as hy jou nou sien.”
Sagie skiet homself byna in die voet soos hy van die tol probeer ontslae raak. Die padda trek in ’n modderwolk die diepte in.
“Jissis, Freek, hoe laat jy my nou skrik.”
“En dan vloek jy ook nog so lelik op die heilige dag.” Freek staan hande in die sakke op die wal. Sagie weet dat hy deur sy hele lyf lekkerkry oor hy hom so laat skrik het.
“Dis jy wat my leer vloek het – nou kom staan hou jy jou asvaal hier. En jy het my padda ook nog weggejaag. Hy was net so groot,” beduie Sagie terwyl Freek nader stap.
“Gaan ons swem vanmiddag?” Freek steek sy voet in die water. “Voel net,” sê hy.
“Jy weet ek mag nie swem op Sondag nie.”
“Dis g’n sonde om te swem nie.”
“Op Sondag is dit. Pa sê so.”
“Maar jy kan vanaand mos net weer vergewenis vra.”
“Mens kan dit nie doen nie, man.” Sagie kyk ernstig na Freek. “Dan doen jy erger sonde.”
“Hoe’t jy dan gemaak die kere toe jy saam met my geswem het as dit Sondag is?”
“Dan het ek gebid en ekskuus gevra.” Sagie dink ’n oomblik na. “Maar dit was anders. Dan het ek eers agterna besluit om te bid. Dan is dit nie sonde nie.”
“En wat van die padda wat jy nou net wou geskiet het? Dis erger as swem.”
“Los nou die sonde uit, Freek. Mens moet ver wegbly van die sonde af.”
Sagie steek die speekkettie op sy plek weg. Hy gee nie om dat Freek weet van die wegsteekplek nie. “Kom help my, Freek, lat ons die koeie kraal toe kry. Kyk net daar hoe staan die goed se pense al gevreet.”
Hulle hardloop na die lusernlandjie waar die beeste wei – Sagie voor.
“Sagrys,” skreeu Freek, “jy beter hol, hè. Ek sweer sowaar daai gele gaan loop staan en opblaas. Jou pa het jou hoeka laas byna doodgeslaan toe hy moes steek. Jy weet hoe is hy oor die koeie; erg oor die kontantgeld vir die melk.” Sagie is al so ver voor dat hy nie weet of hy hom nog hoor nie.
“Kom nou, Freek, lospraat gaan nie die koeie in die kraal kry nie! Hiert, hiert, Kerrieland!” Hy gooi ’n kluit na Caro-line. Hy het sy pa lankal gesê hulle moet die koei verkoop, want sy sit altyd eerste horing by as daar moeilikheid te maak is. Sy is die enigste koei wat gespan moet word by die melkery. “Hiert!”
Die koeie ken die pad kraal toe. Hulle loop met swaaiende uiers in die stofpad op.
“Freek, ek het ’n plan.”
Freek loop en kyk na die ry wit werkershuise wat teen die rantjie staan.
“Ek sê …”
“Ek hoor jou.”
“Maar jy soek so met die oë na Jakkelien, nè. Ek sê jou sommer nie wat my plan is nie.”
“Jy gaan tog sê.”
Sagie maak die hek agter die koeie toe. “Lettie is weer reg vir die bul, sy en Bontie was al klimmerig met mekaar vandag. Wat ek wou gesê het, is lat die damme te veel onder Pa se oog is. Maar as ons gaan botterboom ry, sal hy nie sien nie.”
Freek gaan staan sodat Sagie na hom moet kyk. “Vertel nou vir my, Sagrys, vir wie is dit wat jy bang is oor die swem? Is dit nou vir die Here of vir jou pa?”
“Ek het nog nooit van Bo af moeilikheid gekry oor swem nie. Dis elke keer Pa wat vir my neuk. Kom nou, man.”
“Wat van ons klere, hè?” Freek onthou die dag toe Sagie se pa hulle albei gelooi het toe hulle met die gevlekte klere by die huis aangekom het. En dan nog al die kere wat sy eie ma hom oor dieselfde ding gegryp het. “Ek gaat g’n vandag weer botterboom ry nie.”
Sagie glimlag. “Ons ry, maar ons gaan nie slae kry nie.”
“Nou hoe dan?”
“Kaalgat. Sommer so bloots. Ek het laas week probeer – jy moet net bo bly anders is dit nerfaf. Kyk.” Sagie buk en trek sy broek af sodat die een boud wys. Die helfte van die rowe het al afgeval.
“Ek weet nie so lekker nie. Wat as ’n pendoring jou lat vang? Dan’s dit koebaai. Nee, ek ry nie kaal nie en ek ry nie met klere aan nie.” Freek gaan staan sommer en voel nie eens hoe warm die klip onder sy kaal voete word nie. “Pendoring in die lat,” brom hy, en trap-trap na ’n bossie se skadu toe.
“Nee, man, ek was ook bang, maar jy houvas die boom so – kyk, met dié hand, en jy keer met daardie hand. So. En as jy afval, dan los jy net die boom, maar met die ander hand hou jy tot jy stil lê.”
Freek loop agter Sagie aan, maar weet nog nie of hy sal ry nie. Dis lank laas dat hulle dit gedoen het. Hy het lus daarvoor, maar bly wonder of dit ’n goeie plan is.
Sagie begin lag. Hy staan later krom en wys met die vinger na Freek. “Ek sien jou al,” kry hy gesê.
“Wassit nou met jou?” Freek hou niks van die laggery nie.
“Ek sien jou klaar so, met ’n spierwitte pendoring deur daai lat!” Sagie gaan sit tot hy bedaar.
“Wil jy nou botterbome toe of nie? Vandag ry ek jou bo van die boom af. En ek wens jy los met die verkeerde hand en land in ’n aalwyn.” Dit lyk byna of Freek nou kans sien vir die ding.
Hulle stap verder. Sagie loop haastig in ’n klofie op.
“En wat van ons taai lywe as ons klaar is?” Freek voel hy kan nog vir Sagie oorreed om van plan te verander.
“Dan gaan was ons ons in die dam. Net so ’n paar keer oor en terug en ons is skoon.”
“En wat van Sondag?”
“Dan is dit nie swem nie, man; dan is dit mos bad.” Sagie skud sy kop. “Kom ons gaan ry nou.”
“Ek het nie lus nie. Dis net weer moeilikheid loop soek – jy weet hoe min jy hoef te soek om dit te kry.”
Sagie vervies hom. “Jy is seker nou te groot vir botter-boom ry, noulat jy met Jakkelien deurmekaar is. En jy is ’n kuiken teen my. Tot wanner nog het ons saam gery, en nou is dit nie meer goed genoeg nie.”
Die twee is al tussen die koppe, buite sig van die pad en die huis. Hulle kan die klok van die voorbok êrens ver voor hulle hoor.
“Hulle gat eendag almal myne wees,” sê Sagie.
“Wie is hulle, dié wat jy nou van praat?”
“Die bokke, man. Hoor net daai klok. Eendag gaan ek vir my ’n stoetram koop. Met watse geld weet ek nog nie, maar ek gaan vir hom koop. ’n Goeie ram weet net waar om te loop lat die jakkalse nie die trop bykom nie. Is in sy bloed, sê Pa, om te weet.” Hy steek sy hande in sy sakke. “Ek sê, hulle gat myne wees eendag. Almal van hulle.”
“Ek het jou gehoor.” Freek haal ’n sigaret uit en steek dit aan. Hy trek die rook diep in en blaas dit oor Sagie uit.
“Vanlat jy die Jakkelien het.”
“Wat?”
“Lat jy rook. En dan nogal sigarette ook. Die goeters is sleg vir ’n mens; nie soos kalbaspyp wat mens omtrent niks maak nie. Hulle stink ook. Nee, is nes Pa sê, dis net vir rondkyk om jou om te sien hoe die dinge by vroumense begin. Netnou suip jy ook nog naweke soos Jan Julies en dies. Wag net lat Pa jou sien.”
“As jy jou pa sê ek rook, dan werk ek jou soos laas.”
“Watse laas? Wie’t laas vir wie gewerk?” Sagie bespring Freek en stamp hom teen die grond neer. Hy gaan sit bo-op hom. “Toe, sê.”
“As jy nie afklim nie, dan kan jy alleen botterbome toe.”
Sagie klim af. Hy help Freek op en skud die stof uit sy klere uit.
Freek tel sy sigaret van ’n hopie bokmis af op. “Dis nou so goed ek rook hom deur jou voorbok se hol,” sê hy. “Waar gaan ons soek vir ordentlike bome?”
“Klaar gesoek en reggesit.” Sagie wink Freek agter hom aan. “Vier van hulle.” Hy wys met sy arms: “So dik soos melkkanne.”
Freek is nie beïndruk nie. “Dis maar twee kere se ry vir ons elkeen.”
“Is amper tyd vir Pa om van die kerk af terug te kom, man.”
“O.”
Hulle haal die botterbome onder die taaibos uit waar Sagie hulle weggesteek het, en dra hulle na die skuins klipbanke toe. Die regte takke is klaar afgemaak sodat net twee oorbly vir die vashou. Sagie kap die eerste stam met ’n skerp klip sodat die bas breek en die slymerige sap begin uitloop – reg vir gly teen die helling af.
Hy trek sy klere uit en gaan wydsbeen op die botterboom sit.
“Ons moet eintlik ’n stopklok gehad het soos hulle by die skoolsports altyd het, hè. Gee my ’n stootjie; nie hard nie, want hoe briek ek dan doer onder?”
Hy trek met ’n vaart ondertoe, vinniger as wat ’n mens kan hardloop. Die botterboom word dunner en dunner onder hom sodat hy, voor hy onder is, moet opspring om nie weer sy boude stukkend te skuur nie. Hy hardloop die laaste ent af en kom voor ’n katdoring tot stilstand.
“Lyk my jy weet nie meer van ry nie,” laat hoor Freek van bo af.
Sagie antwoord nie. Nie baie ver van hom af nie kom ’n dogtertjie uit ’n klofie aangeloop. Sy struikel en val. Hy vergeet dat hy kaal is en bly staan, want hy kan haar nou hoor huil. Sy kom tot amper teen hom voordat sy hom raaksien. Verskrik staar sy na Sagie se kaal lyf. Sy begin gil en hardloop in die doringbos vas.
“Freek!” roep Sagie, maar Freek is al by. Hy het sy sussie se stem herken. “Dis Sofiatjie,” sê Sagie. Hy weet nie wat anders om te sê nie.
Terwyl Freek die dorings uit haar loshaak, huil Sofiatjie. Sy skreeu nie meer nie.
“Wat is dit, Freek? Kyk net hoe lyk die meisiekind van die krapmerke. En daar’s dan bloed daar …” wys hy huiwerig.
“Loop trek jou klere aan, Sagrys.” Freek se stem klink skie-lik anders.
“Wat is dit? Wat het met Sofiatjie gebeur lat sy so lyk?” Sagie gaan agter ’n bos staan waar die kind nie sy lyf kan sien nie.
“Gaan huis toe. Ek vat Sofiatjie na Ma toe.” Freek tel haar op en loop weg van Sagie af.
Sagie praat nie teë nie; hy het Freek se stem nog nooit soos nou gehoor nie. Hy is so nuuskierig oor wat aangaan dat hy nie eens spyt is oor die ryery wat daarnatoe is nie. Hy klim na waar sy klere lê. Die drie ongebruikte botterbome druk hy onder die naaste bos in – hy sal hulle anderdag kom ry.
Hy hardloop huis toe, maar voor hy daar kom, hoor hy die vroue by die werkershuise gil.
Die laaste keer dat hulle so gegil het, was toe sy ma dood is; toe Mieta vroegoggend met die tyding teen die rant aan-gekom het.
Mieta het daardie hele nag by sy ma se bed gesit en haar hand vasgehou; net ’n paar keer opgestaan om vir sy pa te gaan koffie maak. Dié was by die venster op ’n stoel, sonder ’n woord. Teen dagbreek het Mieta na Sagie se kamer toe gekom en die kers langs sy bed opgesteek.
“Jou mamma is dood, Sagrys.”
Hy het ’n ruk in die kerslig voor hom uit gekyk, en toe na Mieta.
“Issie,” het hy gesê. “Issie.”
Van Sagie af is Mieta na haar mense toe om te vertel.
Sagie het lank op sy bed bly sit. Hy het opgestaan toe hy vrouestemme hoor en na sy ma-hulle se kamer toe geloop. Daar het hy sy pa op sy knieë voor die induikdubbelbed sien staan.
Sy pa het gehuil.
Toe hy by die agterdeur uit is om van die huis af weg te kom, was Freek daar. Hulle het saam die kop agter die huis uitgeklim sonder om te praat. Hulle het die son saam sien opkom.
Sagie was dertien en Freek sewe. Byna vyftien jaar gelede.
Hy het toe al geweet van die dood. Van kleins af het hy bygestaan as Jan Julies slag; hy het gesien hoe die honde meerkatte doodbyt; hy het geweet diere wat dood is, kom nie weer terug nie – waar hulle ook al heen is. Mense gaan hemel toe, dié wat gaan, en niemand kom terug nie.
Hy en Freek is later terug ondertoe en het gehelp om die pikke en grawe te dra sodat die gat gegrawe kon word.
En nou gil die vroue weer teen die rant. Sagie weet hy moet huis toe, maar hy besluit om eers by die werkers langs te gaan. Hy draai uit die voetpad weg en kies kortpad deur die veld. In sy haas spring hy oor die bossies. ’n Doringdraad wat aan ’n bos klou, sien hy te laat en die punt krap ’n bloedstreep oor sy kuit.
Daar moet groot fout wees, dink hy, want al die mense drom saam by Jan Julies se huis. Uitasem kom hy daar aan. Jannetjie lê op sy maag, arms langs sy sye, kop skeef. Daar loop bloed by sy neus uit. September en Hubert hou Freek eenkant vas.
Jan Julies staan voor Freek. Hy spoeg in sy gesig. Sagie knyp sy oë toe toe Freek ’n vuishou op die mond kry. Jan Julies gaan kniel by Jannetjie en draai hom op sy rug. “Jannetjie.” Hy klap hom liggies teen die wang. “Hoor jy vir Pa? Here, Jannetjie, hoor tog nou.” Hy laat die seun se kop sak. Terwyl hy by sy deur in loop, sê hy: “Loop haal jou pa, Sagrys.”
Sagie kyk na Freek. September-hulle het hom gelos.
“Pa is nog op die dorp.”
Jan Julies draai terug. “Bel dan die polisie laat hulle daardie ding kan kom haal. Kyk net hoe lê my Jannetjie; kyk net so. Ons wil nie moordenaars hier onder ons hê nie.”
Sagie huiwer. Hy wil nie hê die polisie moet Freek kom haal nie.
“Toe, loop nou. Hardloop!”
“Freek?”
Freek draai van Sagie af weg en gaan sit teen die uitgeboude fondasie van die huis.
Sagie sien van ver af sy pa se bakkie onder die afdak langs die huis staan. Oubaas en Willou kom blaffend na hom toe aangehardloop en spring teen hom op.
Sy pa sit op die stoepbankie. “Waar was jy? Dis oor hier werk is wat gedoen moet word dat jy nie kerk toe is vanoggend nie, nie om leeg te lê nie. Wat is daardie merke aan jou arms en bene? Botterboom?”
Sagie merk die vlekke nou eers op.
“Het jy botterboom gery, Sagrys?” Barend staan op.
Sagie sien die moeilikheid kom. “Pa, daar is fout by die mense, Pa. Is Jannetjie. Jan Julies sê hy is gemoor. Hy sê Pa moet soontoe kom. En lat ek die polisie moet bel.”
“Los eers die polisie. As hulle vir elke bakleiery moet uitkom, boer hulle op my grond.”
“Is nie gewone baklei nie, Pa, ek dink Jannetjie is dood. Hy lê net. Hy praat nie as sy pa met hom praat nie.”
“Bel dan maar, ek gaan kyk wat aangaan.”
Sagie vertel die polisie van Jannetjie wat nie wakker wil word nie en Freek wat vasgehou moes word.
“Ons kom sodra daar kans is,” sê die polisieman.
“Konstabel Olckers,” sê Sagie, “ek wou nog sê … Hallo, konstabel … Deshit.” Hy draai die telefoon se slinger vinnig. “Sentrale, weer die polisie, asseblief. Hallo, konstabel Olckers. Dis weer Sagrys van Greunen hierso.”
“Ek wou nog sê van die dogtertjie, konstabel, daar was bloed aan haar.”
“Watter dogtertjie? Toe maar, Sagrys, ek is nou daar.”
Sagie hardloop weer na die werkershuise toe; hy wil weet wat aangaan. Dit was seker Freek wat Jannetjie geslaan het. Sê nou hy word tronk toe gestuur?
Die plaas sonder Freek sal vir Sagie nie dieselfde wees nie.
Freek sit op die trap voor sy ma se huis. Toe Sagie hom groet, kyk hy nie op nie.
Jannetjie is dood. Hy lê nog waar hy geval het, onder die kombers wat sy pa laat oorgooi het. Sagie wonder hoe hulle die bloedvlekke uit die kombers gaan kry.
Sy pa kom uit Mieta se huis geloop. “Sagrys.”
“Pa?”
“Gaan bel die hospitaal ook, laat hulle ’n ambulans stuur. Sê hulle moet gou maak.”
“Wat het gebeur, Pa?”
“Loop jy nou, Sagrys. En bly by die huis tot die polisie en die ambulans kom, dan beduie jy hulle hiernatoe. Maak nou gou.”
Sagie is bly dat hy die ambulans kan bel, maar hy wil darem ook weet wat aan die gang is. Hy word altyd weggestuur as daar ’n ding gebeur. Sy pa het die manier om wanneer hy iets gedoen het wat verkeerd is, vir hom te sê hy is al ’n groot man wat van beter behoort te weet. Hy word dan kwaad, want op dae soos vandag word hy weggestuur.
Die ambulans daag ’n ruk ná die polisie op, maar vertrek gou weer met Sofiatjie. Sagie sorg dat daar water op die stoof is voor hy weer na Freek toe gaan. Konstabel Olckers ondervra die mense oor wat gebeur het terwyl sy pa staan en luister. Freek sit agter in die vangwa.
“Miskien sal konstabel Olckers koffie wil hê voor hy ry, Pa. Ek het water opgesit.”
“Ja, dalk kan ’n man maar eers gou …”
“Die konstabel het werk, Sagrys.”
“Ja-nee,” sê die konstabel gou, “’n man sal seker maar die Freek-kêrel op hok gaan sit, nè. Nou maar goed, oom Barend, dankie dat oom laat bel het. Ek sal ’n speurder stuur vir die ondersoek. Hy sal ’n bietjie hier kom rondvra.”
Freek kyk net stip voor hom en sien nie vir Jakkelien wat agter ’n onderdeur staan en huil nie. Hy word van die plaas af weggery.
“Wat gaan nou van Freek word, Pa?”
“Ek weet nie. Hy sal moet hof toe om te sê wat hy gedoen het.”
“Het hy Jannetjie sommer so aspris doodgeslaan? Hoekom, Pa?”
“Gaan gooi solank vir my koffie in, ek is netnou daar.”
“Ja, Pa.” Sagie loop dikmond huis toe. En bang oor Freek wat weggevat is.
Later die middag, toe sy pa ná ete gaan skuins lê, loop Sagie terug na die werkershuise toe. Vroeër dae kon hy altyd na oom Gert du Toit gaan as hy iets wou weet wat sy pa hom nie wou sê nie. Oom Gert wat op Kopland geboer en graag met Sagie gepraat het. Dis hy wat verduidelik het dat die hemel nie ’n dorp is soos Oudtshoorn of George nie, en dat ’n mens nie ’n lyf nodig het om daar te kom nie – dis hoekom mense wat doodgaan, begrawe word. En die mense wat soontoe is, kom nie terug nie omdat hulle nie wil nie, omdat dit beter daar is as hier. Maar nou is oom Gert ook al dood en nog net Mieta het oorgebly, Freek se ma. Sy sal weet wat gebeur het.
Hy kry haar langs haar huis. “Mieta?”
Sy kyk op en in sy oë. Sagie staan met sy hoed in sy hand. Sy begin sommer huil en dit lyk of sy lus het om hom styf teen haar vas te druk. Sy skud haar kop, nee, en draai na haar deur toe om.