Читать книгу Is Sagie - Jan van Tonder - Страница 6
Drie
ОглавлениеSagie sit langs die pad en wag dat sy pa met Freek van die dorp af kom. Hy wou nie luister na Sagie se geneul om die borg te betaal nie. “Hulle sal Freek nooit los nie,” het hy gesê.
“Wat van Jan Julies toe hy gevang was, Pa?”
“Jan Julies is destyds vir dronk op straat toegesluit, Sagrys. Hy het niemand doodgemaak nie.”
Freek se skoolhoof het kom praat en sy pa het besluit om te gaan vra. Hy het die borgtog van tweehonderd rand betaal.
Sagie laat ’n bleshoendertjie verskrik uit die water opvlieg toe hy onthou van Jakkelien en opstaan om haar te gaan vertel dat Freek op pad is. Hy mag nie met die werkers se jongdogters praat nie, maar dié is ’n ander saak, besluit hy. Jakkelien swaai dadelik om, terug die huisie in, toe Sagie haar vertel.
“Gat jou seker nou mooimaak,” roep Sagie agterna voordat hy terugdraf pad toe en op die hek klim. Hy kyk na waar die grondpad oor die nek aankom.
“Met daai Jakkelien gaan ek nog trou,” sê Freek graag. “End van die jaar nes ek klaar is met skool, gaan ek Kaap toe. Miskien vat ek haar sommer dan al saam, anders moet ek eers wag tot ek genoeg geld bymekaar het.”
Met Freek het Sagie al baie oor meisies gepraat en oor trou en huis bou en kinders maak. Freek vertel van hom en Jakkelien, en dan word Sagie jaloers, want hy praat omtrent nooit met ’n meisie nie – wat nog te sê een hê, soos Freek.
Meisies lag vir hom. Toe hy nog op skool was – jare gelede, voor sy pa gesê het hy hoef nie meer so met die leerdery te sukkel nie; hy kan nou maar plaas toe kom om te kom boer – het hy al gesien hoe hulle na hom wys en begin giggel. As hulle so maak, loop hy met sy kop op, soos sy ma hom nog geleer het, maar binne voel hy nie trots nie.
In Dwarsrivier is nie jongmeisies nie, want dié wat nog skoolgaan, is op kosskool op die dorp. Die ander leer omtrent almal of werk ver van Ladismith af. Van die paar wat by die bank en winkels en koöperasie werk, is dit net Louise van oom Truter wat met Sagie praat. Sy is vriendelik met hom as hy by die poskantoor kom om vir sy pa seëls te koop. En sy is mooi. Sagie hoop oom Truter vertel haar van die vyftig of sestig bokke wat hy het.
Sagie sien ’n stofwolk teen die nek uitslaan. Dis sy pa se bakkie. Jakkelien staan nader. Albei wag. Freek kom weer huis toe.
Bedags by die werk het Sagie vir Freek nie gemis nie, want hy was gewoond daaraan om te wag tot Freek van die skool af kom – Freek wat al in die twintig was en nog skoolgegaan het omdat Mieta wou hê hy moet sy matriek maak: net so seker as wat ’n hen se eier nie by haar bek uitkom nie, so sê sy altyd. Dit was teen die middag, as die ander kinders huis toe kom, dat hy die pad begin dophou het, asof hy verwag het dat Freek oor die nek aangestap sou kom.
Die werk was nogtans nie vir hom soos vroeër nie. Hy het platvoet met die ploegstert in die hande agter die perd tussen die rye fransdruifstokke deur geloop; moeër as gewoonlik geword van bankies gooi vir die natlei.
Mieta het hom vertel, nadat hy lank by haar aangehou het, wat die dag gebeur het toe die polisie Freek kom haal het. Sy het gesê dit was byna soos met Willou die keer toe hy, groot soos hy is, met die kuiermense van oom Gert wat dood is se foksterriërtjie gelol het, toe hy die tefie tjank-tjank agter hom aan huis toe gesleep gebring het. So was dit, het sy gesê. Dis oor Jannetjie vir Sofiatjie so seergemaak het dat Freek hom geslaan het.
Sagie stamp sy kaal voet op die grond. “Hier kom hy, Jakkelien. Sien jy? Is Pa se bakkie wat so stof gooi. Is net Pa wat so woes ry as hy op pad is terug plaas toe. Hoekom lyk jy nie eers bly nie?”
Jakkelien staan gespanne na die pad en kyk. Sy weet nie of die polisieselle iets aan Freek verander het nie. Vir die ander, het sy al gesien, dié wat gereeld vir drink gevang word, maak die toesluit niks, maar Freek was nog nooit daar nie. Sy antwoord Sagie nie.
Maar sy opgewondenheid bly: “Vandag skud ek sy hand skoon af van sy arm af, sê ek jou.”
Die bakkie hou by die hek stil. Freek klim uit. “Dankie, meneer.” Barend ry na die afdak toe.
“Freek!” Sagie gaan na hom toe, maar Freek hou by hom verby en gryp Jakkelien vas. Sagie laat sy hand sak.
Toe Freek hom ’n entjie van die huis af inhaal, sê hy: “Loop liewer terug na Jakkelien toe,” en stap nukkerig verder.
Sagie gee vir ant’ Jopie Jansen ’n kissie De Wets, die eerste van die jaar se vroeëperskes.
“Pa stuur hulle, antie, hy sê is vir die leen van antie se masjien vir die worsmaak. Ons het die bome goed met die kalkswael en koper vir krulblaar gedokter en ordentlik uit-gepluk, en Pa het die manne vanjaar goed laat spuit met die Lebacid solat die vrugtevlieg elders moet gaan vreet het.” Hy verduidelik maar vir die vrou, want hulle het nie lank gelede nie van die stad af die winkeltjie kom koop, en dorpsmense is mos maar anders. “Antie sal nie lekkerder perskes kry nie, antie kan maar op die dorp loop vra, en tot op Riversdal. Ons smous tot daar ook. Antie kan maar vra.” Hy sit sy hoed weer op. “Hierdies is antie sinne.”
Sy luister glimlaggend na hom. Aan sy gesels is sy al gewoond. “Dankie, Sagrys. Laat ek sommer dadelik een proe. Ek moet seker eers afspoel, nè?”
Hy wonder hoe die vrou so min van vrugte af kan weet. “Nee, antie, die Lebacid is al uitgewerk. Is nie meer die ou soort gifte wat net bo-op vassit nie – Pa sê deesdae gaan hulle binne-in die vrugte in en bly daar tot hulle nie meer gif is nie. Eet hom maar, antie.” Hy hou daarvan om dinge gevra te word. Van die trots kry hy hoendervel dat sy armhare regop staan. Sy mond gaan saam met die vrou s’n oop toe sy begin eet.
“Mmm,” sê sy. “Ek kom uit ’n perskewêreld, Sagie, maar tot heden toe het ek nog nooit so lekker geproe nie. ’n Mens sal wens dis aldag dié tyd van die jaar.”
Hy giggel. “Ant’ Jopie moet nog onse Malherbes en Oom Sarels eet. Die voorvye ook, wat my ma so van gehou het.”
“As dit soos dié is, kan jy maar bring, ou seun. Sê vir jou pa baie dankie, hoor.”
“Goed, ant’ Jopie.” Maar hy loop nie.
Sy draai een van die lekkergoedhouers oop en gee hom ’n handvol pennielekkers.
“Dankie, antie. Dan sê ek maar koebaai.”
Dit is kort na uitvaltyd en hy kry sy pa op die stoep waar hy koffie drink.