Читать книгу Vat 'n gap - Jana du Plessis - Страница 5

Januarie

Оглавление

Outfit van die maand:

 Wit Guess T-hemp

 Uitgewaste Diesel-kleefdenim

 Lang knooptrui van Rage

 Slate-leergordel

 Marion & Lindie-kunspelsjas

 Nine West-balletstylskoene

 RVCA-mussie, salmpienk

 YDE-blomoorbelle

 Goudkleurige serp van Accessorize

Haar Gucci-bagasietas is sewe kilogram oorgewig. Jaz oorhandig haar getroue Visa-kaart aan die vrou agter die British Airways-toonbank. Met haar linkerhand. Haar regterhand is strategies onder haar handsak weggesteek. Sy rol haar oë toe sy hoor hoe Moeder luidkeels oor haar selfoon vir ’n vriendin vertel hoe hartseer sy is dat haar enigste dogter – haar enigste kínd – die land verlaat om groener weivelde te gaan soek.

Maretha Jasmyn Coetsee, beter bekend as Jaz, wil so gou as moontlik van Maretha Coetsee Senior ontslae raak sodat sy aan die ander kant van die Departures-hek kan kom. Om te rook, om te shop, om van die aaklige naar gevoel wat aan haar kleef ontslae te raak.

“Ek weet waaragtig nie hoekom jy so moeilik moet wees nie, Maretha, aangesien ek maklik vir Deidre kon vra om jou by die lughawe af te haal,” lê Moeder vir die soveelste keer dieselfde eier.

Deidre, Moeder se suster en ’n vreemdeling vir Jaz, woon glo in die een of ander landelike area in die suidooste van Engeland. Maar Jaz het geen begeerte om skape en groen weivelde – soos dié op die poskaarte wat Moeder nou en dan ontvang en in die asblik gooi omdat dit haar huis “clutter” – te sien nie. Jaz soek die stad. Die glamour. Die fashion. Die polsende energie van Londen se strate en die mense wat daardie strate platloop omdat hulle êrens opwindend heen op pad is.

Jaz kyk verby Moeder na die ma en pa wat soos besetenes aan hulle dogter klou. Die dogter breek los van haar ouers om haar arms om haar boetie te gooi. Boetman in sy Blou Bul-hempie druk sy suster só hard dat Jaz kan sweer sy hoor ’n rugwerwel kraak. Die oomblik is ampertjies te groot vir die ma; sy lyk asof sy gaan flou word, maar haar man staan vinnig nader om haar met sy boomstam-arms te stut. Dis net snesies en snot.

“Maretha, ek praat met jou!”

O gats. Moeder het iets gevra, want sy staan hand in die sy en wag vir ’n antwoord. In haar uitgestrekte regterhand lê ’n iPhone.

“Ek weet jy wou eintlik die iPhone vir Kersfees gehad het en nie die BlackBerry nie. Toe bring ek dit maar as ’n afskeidsgeskenk.” Moeder glimlag ingenome.

Nie omdat dit ’n gebaar van liefde is nie, weet Jaz. O nee, dis nie hoe Maretha Coetsee se kop werk nie. Dis sodat sy goed kan voel oor hoe “in voeling” sy met haar dogter is. Dat sy kan spog by die celeb-ma’s wat hulle naels by haar laat doen oor haar status as ’n supercool ma.

Jaz wil skree: As Moeder enigsins moeite gedoen het om my te verstaan, sou jy geweet het dit irriteer my grensloos dat jy my op my eerste naam noem! En dat ek glad nie ’n selfoon vir Kersfees wou gehad het nie.

Die BlackBerry was van Pa Coetsee. Die wegdruk-en-terugtrek tussen Ma en Pa, tussen iPhone en BlackBerry.

“Beteken dit ek het nou ’n nuwe selnommer?” Jaz wys na die iPhone in sy pienk jurkie. Dis cute. Dis dieselfde pienk as die mussie in haar handbagasiesak. Sy hou daarvan, maar sy sal nie vir Moeder die satisfaksie gee om te weet dat sy iets reg gedoen het nie.

Moeder knik. “Ek het dit spesiaal vir jou gereël. ’n Splinternuwe nommer wat jy internasionaal kan gebruik.”

Dankie tog. Moeder het hierdie keer geluister. Jaz neem Ma s’n, gee Pa s’n terug. ’n Ruiltransaksie: Pa se omkoopgeskenk vir Ma se troefkaart.

“Thanks, Ma.” Sy draai die foon om en om, wil nie oogkontak maak nie. Die Blou Bul-familie is nie meer daar om haar aandag af te lei nie.

Moeder steek haar hand uit – vir ’n drukkie? – maar laat rus dit ongemaklik op Jaz se skouer. “Laat weet as jy veilig is.”

“Baai, Ma.”

Jaz laat glip die foon in haar handsak. Maak asof sy ’n snesie soek. Moeder se oë blink, maar sy knip hulle vinnig. Sy soen Jaz vlugtig op die wang en met ’n “Soet wees!” en ’n knipoog is sy weg.

Die meeste jongmense vat ’n gap-jaar om hulself te probeer vind, dink Jaz terwyl sy met kurkdroë oë deur paspoortbeheer beweeg, maar nie sý nie. Sy wil haarself hierdie jaar totaal en al verloor.

Heathrow-lughawe is nie so indrukwekkend soos wat Jaz verwag het nie. Waar is die celebs, die sexy internasionale reisigers en modieuse jongmense? Almal lyk vir haar maar afgemat en glansloos so vroeg in die oggend.

Sy staar na die aanwysingsborde. Waar is die moltrein – die bekende Tube – wat direk na Wimbledon ry? Sy haal haar iPod-oorfone uit; miskien sal dit haar konsentrasie verbeter. Maar die mengelmoes van vreemde aksente en die uitroepe van mense wat geliefdes herken terwyl hulle deur die elektroniese skuifdeure beur, bemoeilik sake aansienlik. Sy sug. Dalk moes sy vir Moeder geluister het. Sy sou beslis nie gekla het as ene Deidre nou met ’n naambordjie in die aankomssaal verskyn het nie.

Jaz besluit om eers ’n koppie koffie te koop en ’n plek te soek om te rook. Sy vrek vir ’n sigaretjie! Of wat noem die Engelse dit? ’n Fag. Sy vrek nou vir ’n fag.

Sy trek die handvatsel van haar bagasietas uit en druk ongeduldig deur die swetterjoel mense na ’n koffiewinkel in die hoek. Costa, sê die naam teen die muur. Fantasties. Jess het haar vertel van Costa se wonderlike koffie. Haar beste vriendin Jess.

Costa is verbasend besig op ’n Maandagoggend. Werk hierdie mense dan nie? Jaz gaan sit by ’n tafeltjie waar sy ongeërg die Tube-kaart kan bestudeer sonder om soos ’n onnosele toeris te lyk. Genadiglik het sy onthou om die kaart uit te druk en in haar handbagasie te prop voordat sy haar huis in Johannesburg in ’n deurmekaarspul agtergelaat het.

Twee sakemanne langsaan kyk in haar rigting. Sy lig ’n wenkbrou voor sy haar iPhone uit haar handsak haal. Whatever, nie een van julle staan ’n kat se kans met my nie, sê sy met haar oë. Sy is maar net te gewoond daaraan dat sy mans se koppe laat draai.

Waar is die flippen kelner? Sy is moeg en het nóú kafeïen nodig.

Een van die sakemanne staan op, kry suiker en melk by ’n tafel langs die betaaltoonbank. Wat? Is hý die kelner? Sy frons. Wat’s fout met hierdie plek? Hoe kan hulle nie kelners hê nie?

’n Paar mense staan by die toonbank; dit lyk asof hulle inderdaad self hul bestellings plaas. Engeland is dan ’n Eerstewêreldland! Hoe kan hulle van mense verwag om hulself te help? Of het die jet lag na haar kop gegaan en dink sy nie meer helder nie?

Jaz draai na sakeman nommer twee. Sy weet presies wat om te doen. Sy maak haar keel skoon. “Verskoon my,” sê sy in Engels.

Hy kyk op.

“Hi,” sê sy en glimlag haar geen-man-kan-my-weerstaan-nie-glimlag.

Hy knik. ’n Knip-jou-oë-en-jy-mis-dit-knik.

“Kan ek jou ’n baie klein gunsie vra?” Sy bring haar duim en wysvinger nader aan mekaar om te wys hoe klein die guns gaan wees. Sy sien die lang sny wat van die punt van haar middelvinger oor haar hand strek en onder haar mou verdwyn. Shit!

Haar hand verdwyn vinnig agter haar serp. Sy hoop nie die man het dit gesien nie. Sy giggel selfbewus – ’n woord wat sy voor die hand-storie nie geken het nie – en maak dieselfde gebaar met haar linkerhand. Die lig in die koffiewinkel weerkaats van haar gemanikuurde naels en sy bewonder die gladde vel van haar gesonde hand voor sy weer na die man kyk. Daar’s hy, dis beter!

Hy glimlag nie. Wat is sy blerrie probleem? Verstaan hy nie Engels nie? Sy is oortuig daarvan die mans het ’n paar minute gelede met mekaar Engels gepraat.

Sy verskuif ongemaklik op haar stoel. Dalk het hy die sny gesien en dink hy sy is ’n afskuwelike skepsel.

“Ek … uhm … wil graag koffie bestel, maar ek wil nie my bagasie hier los nie,” sy wys na haar Gucci-tas, “en ek wil ook nie my tafel verloor nie. Kan jy dalk ’n ogie oor my goed hou?”

Net toe keer sakeman nommer een terug. “Tyd om te gaan, Will,” sê hy met sy swaar Engelse aksent.

“Reg so.” Will sluk die laaste van sy koffie af en staan op.

Waaat? Sommer net so! Geen “Natuurlik sal ek ’n ogie oor jou duur tas hou terwyl jy vir jou ’n welverdiende koppie koffie kry” of “Asseblief, dame, sit en ontspan terwyl ek gou vir jou ’n koffie kry” nie. Blerrie Britse poepholle.

Sakeman nommer een knik toe hy verby haar loop. Wat is dit met hierdie mense en hulle simpel knikke? Weet hulle niks van gasvryheid nie?

Sy gryp haar bagasie en loop na die toonbank.

“Hi,” groet sy en glimlag vir die jong man in die Costa-uniform. Hy is besig om ’n plaat varsgebakte muffins in die vertoonkas te pak.

“Wat kan ek vir jou kry?” Hy kyk nie op nie.

Te hel daarmee! Haar glimlagte is duidelik verlore op die ongeskikte mense van Costa.

“Filterkoffie, asseblief.”

“Kort, lank of ekstra lank?”

“Ekskuus?”

Hy wys na drie plastiekkoppies. O, hy bedoel die grootte van die koffie. Nog ’n toeris-in-Engeland-oomblik! Sy kan net sowel ’n groot teken op haar voorkop sit wat sê: Dis my eerste keer in Engeland.

“Lank, asseblief.”

“Dis twee pond tien.”

Sy krap haar beursie uit haar handsak, haal ’n Suid-Afrikaanse R100-noot uit. “Jammer, ek soek net my ponde,” sê sy verleë.

Jammer is nog ’n woord wat sy nie voorheen geken het nie. Mans is gewoonlik verleë oor háár.

Die Costa-outjie tik met sy vingers op die toonbank en kyk na die man wat agter Jaz staan en wag om gehelp te word.

Sy maak haar beursie wyer oop en haal ’n £5-noot uit. “Hierso.”

En moenie dink jy kan die kleingeld hou nie, jou onvriendelike twat. Twat – nog ’n lekker Engelse woord om te onthou.

“Dankie,” sê sy toe hy die paar munte in haar hand laat val.

Jaz, omring deur haar bagasie en aankope by duty-free (twee bottels van haar gunstelingparfuums, Kenzo Amour vir die dag en Belle d’Opium vir die nag, drank en sigarette), vou haar gesonde hand om die Costa-plastiekkoppie. Sy het nog nooit in haar lewe so alleen gevoel nie.

Die Tube is stampvol. Jaz kry ’n staanplekkie in die hoek, haar tas tussen haar bene vasgeklem. Sy kyk na die middeljarige man wat wydsbeen op ’n sitplek sit en koerant lees. Hy neem geen notisie van haar nie. Nog iets om in haar dagboek aan te teken: Engelsmanne het geen maniere nie.

Sy trek haar mussie van haar kop af. Die mense wat weet, het gesê Januarie is die koudste, langste maand in Engeland, maar sy’t nie verwag dit sal só koud wees nie. Gelukkig is dit ietwat warmer in die trein. Dankie tog vir die kunspelsjas wat Moeder vir haar gekoop het, anders sou sy doodgevries het. Sy’s oortuig daarvan dat die Britte haar net so op die trein sou los en boonop geïrriteerd sou wees dat ’n Suid-Afrikaner die vermetelheid gehad het om in een van hulle treine te sterf.

Elke paar minute kondig ’n vroulike stem die volgende bestemming aan. Die outomatiese deure gaan oop en ’n paar mense skuif verby Jaz en druk teen mekaar asof hulle uit ’n tronk probeer ontsnap. Sy ril as die koue lug inglip en teen haar gesig vasslaan. Dis ’n koue wat sy nie ken nie, een wat haar tot op die been binnedring.

Sy kyk op na die Tube-kaart teen die trein se dak. Nog twee stoppe tot by Wimbledon, haar bestemming. Sy lees die adres wat sy pas van haar notaboekie op haar iPhone gestoor het: Queenstraat 21A, Wimbledon. Haar nuwe huis.

Nadat sy geweier het om by Deidre te gaan woon en daarop aangedring het om haar eie ding te doen, het sy deur kennisse gehoor van twee Suid-Afrikaners wat ’n huismaat soek. Sy het hulle gekontak via Facebook: Frank, ’n ou van die Kaap, en Annika, die meisie van Potchefstroom, kon nie wag om haar te ontvang nie. Nadat Jaz ’n groot ophef daarvan gemaak het dat sy in die stad wil bly en nie op ’n plaas by ’n gesin wat sy nie ken nie, het Moeder die saak laat vaar; haar enigste kind is tog immers mondig.

Nommer 21A is in ’n stil straat geleë. Jaz sleep haar tas bo-oor die twee trappies wat na die voordeur lei. Haar asem jaag. Dêmmit, sy is moeg! Die afstand van die stasie na die huis is nie grappies as jy langer as elf ure gevlieg het nie. Die “vinnige stappie van vyftien minute” (volgens Frank) het ontaard in ’n marteling. Haar opgeswelde voete voel asof hulle enige oomblik deur haar splinternuwe balletstylskoene gaan bars.

Sy haal ’n paar keer diep asem om te bedaar. Haar happy place te visualiseer. Jess se gesig verskyn voor haar, maar sy skud haar kop vinnig om van dié ongewenste beeld ontslae te raak.

Sy kyk op en af in die straat om seker te maak dat niemand haar gesien het nie. Die straat kyk koud en kil terug. Waar is die Londense vibe waarna sy so uitgesien het? Frank het dan vertel dat Wimbledon gerieflik naby aan die hartjie van Londen is, maar hierdie plek lyk vir haar heel gevrek.

Blou verf peul plek-plek van die voordeur van nommer 21A af. Sy skil die handskoen sorgvuldig van haar linkerhand af, druk die voordeurklokkie. Stilte. Terwyl sy die mussie van haar kop aftrek, grawe sy in haar handsak vir haar handspieëltjie. O genade! Sy lyk verskriklik! Hierdie aaklige klam weer doen niks vir haar hare nie. Haar gewoonlik perfek gestileerde hare – te danke aan haar geliefde ghd – staan in honderde rigtings, maar nie hoe sy daarvan hou nie. Sy druk haar hand deur haar kuif, maar dit val dadelik weer plat.

Om nie eens te praat van die kringe onder haar oë nie! Sy lek haar wysvinger nat – ugh, sy gril, maar wat kan jy doen as jy desperaat is? – en vryf onder haar oë. Die koalabeer-effek lyk net sexy as jy op pad uit is vir ’n aand van dans en kuier.

Sy druk die spieëltjie geïrriteerd terug. Haar onderarms kry warm, maar die res van haar lyf kry koud. Blerrie hel, wat is fout met hierdie land se temperature? Sy lui weer die klokkie. Waar is die mense tog? Sy kyk op haar horlosie. Dit tik-tik nog op Suid-Afrikaanse tyd. Voor sy kan uitpluis in watter tydsone sy is, gaan die deur oop.

Hal-lo! Voor haar staan ’n pragtige man in ’n stywe T-hemp en ’n nog stywer denim, met ’n bont voorskoot om sy maer middel gebind. Die kontras van karamelkleurige vel, donker hare en grysgroen oë val haar dadelik op. Om hom hang ’n walm van kombuisreuke, en van êrens in die huis kom die klank van … wat kan dit wees, operamusiek?

“Nee, dankie, ek stel nie belang in enigiets wat jy wil verkoop nie,” sê hy in Engels met ’n swaar Afrikaanse aksent. Hy druk die deur halfpad toe.

“Ek’s Jaz Coetsee, ek trek vandag in.” Sy steek haar regterhand – met handskoen en al – uit. “En jy is?”

Sy oë rek. “Jinne, sussie, hoekom sê jy nie so nie! Welkom in Engeland.”

Hy ignoreer haar hand, gooi die deur wawyd oop, en sy arms nog wyer om haar te omhels. Jaz is nie verbaas nie; mans vat graag aan haar. Sy wag. Geen elektrisiteit. Seker gay, dink sy. Geen heteroseksuele man kan haar ooit weerstaan nie.

“Ek’s Frank, jou nuwe roomie. Kom, kom, kom, dis vrek koud hier buite.”

Sy sukkel-sukkel met haar tas oor die drumpel tot in die voorportaal. ’n Deurmekaarspul van modderige stewels, sambrele, reënjasse en baadjies aan hake laat nie plek vir ’n muis nie.

Frank maak die deur agter haar toe, wys na die skoene op die grond. “Jy kan jou skoene sommer daar los, ons laaik nie modder in die huis nie.”

Sy huiwer. Verwag hy werklik dat sy haar pragtige skoentjies op hierdie hoop walglike skoene moet sit? En haar voete is reeds twee ysblokke – onnatuurlike groot ysblokke. Sonder skoene gaan sy sekerlik verkluim.

“Wat kyk jy so vir my? As jy saam met my wil bly, is dit skoene uit by die deur.”

Jaz sug innerlik. Sy kan seker nie op dag een al met haar huismaat wil staan en redeneer nie. Sy sit haar skoene neusoptrekkerig bo-op ’n paar bruin stewels.

“Wat ’n lieflike paar Nine Wests!” roep Frank uit.

Daar het sy dit nou: definitief gay. Ag nou ja, sy’s in elk geval nie in Engeland om ’n man te vang nie. Sy glimlag, skud haar jas van haar skouers af en hang dit aan die een beskikbare haak.

“Hierdie is ons sitkamer, eetkamer en televisiekamer in een.” Frank wys na twee moeë banke, ’n koffietafel oortrek met vuil koffiebekers en ’n klein televisie in die hoek. Langs die televisie staan wasgoedstaanders vol wasgoed. Duidelik ’n vrou sonder smaak s’n; dit sal die ouma-tipe onderklere verduidelik.

Jaz weet nie of sy moet lag of huil nie. Hierdie vertrekkie is die sit-, eet- én televisiekamer? Sy kyk vraend na Frank. Dit kan tog nie wees nie? Maar hy is doodernstig.

“Hoe was jou vlug, Jazzie?” vra hy en beweeg na die volgende vertrek.

“Oukei.”

“En hierdie is my pride and joy: die kombuis,” sê hy so trots asof hy ’n eiendomsagent is wat die mooiste huis in Engeland aan ’n potensiële kliënt probeer verkoop.

Die kombuis is nie te sleg nie, maar dis piepklein. Hy loop na ’n CD-speler op die kombuistoonbank en draai die volume af.

“Ek geniet my opera terwyl ek kos maak.” Hy lig die deksel van een van die potte op die stoof en asem diep in. “Hmmm …” prewel hy en maak sy oë toe.

Hallo?! Hier staan sy en al wat sy wil doen, is haar tas uitpak en ’n lekker lang bad vat, en haar huismaat verloor homself in die kerriereuk van een of ander konkoksie in ’n pot. Sy maak haar keel skoon.

Frank se oë vlieg oop. “Ag, sorry, jy is seker doodmoeg en hier staan ek en maak liefde met my kos. Jy kan nou-nou bietjie proe.”

Nee, dankie, hy maak sekerlik nie die soort kos waarvan sy hou nie. Sy onthou vaagweg dat hy op Facebook vertel het hy is ’n sjef by een of ander restaurantkroeg in Wimbledon. Kroegkos laat haar nie juis bokspring nie.

“Nou toe kom, laat ek jou wys waar jy slaap.”

Sy volg hom in ’n gangetjie af, verby ’n stel trappe wat na die boonste verdieping lei. Ag, vader, mag haar kamer asseblief bo wees, ver weg van die operamusiek.

“My en Annika se kamers en die badkamer is bo,” vermorsel hy vinnig al haar drome. “En hier is jou kamer, Jazzie.”

Onder die trappe is ’n deur wat lyk asof dit moet oopmaak na ’n besemkas, maar daaragter is ’n hokkie wat lyk soos ’n koshuiskamer in ’n Vrystaatse seunskool. Nie dat sy weet hoe ’n koshuiskamer in ’n Vrystaatse seunskool lyk nie, maar dit kan nie erger as hiérdie wees nie.

Sy sit haar tas teen die voetenent van die enkelbed. Dis ’n blerrie grap! Sy slaap haar lewe lank al op ’n koningingrootte bed, hoe gaan sy dit oorleef?

Jaz neem als stadig in, asof sy in ’n nagmerrie vasgevang is en nie daaruit kan ontsnap nie: die ou gordyne, die miniatuurbedkassie, en laastens die losstaande klerekas (sonder deure!) wat die grootte van een deeltjie van haar instapklerekas by die huis is.

Sy draai na Frank, probeer haar gapende mond beheer. “En my badkamer?”

Hy haal sy skouers op. “Daar’s net een badkamer en dis bo.” Hy wys na die plafon.

Sy moet sit. Rook. Vodka drink. Is dit te vroeg in die dag vir drank?

“Pak jy solank jou goedjies uit, ek moet terugkom by my kospotte.”

Hy’s weg voor sy iets kan sê. Ook maar goed, anders het sy hom mooi vertel wat sy van die situasie dink. Sy sak op die bed neer, vryf oor die koshuisgrys duvetoortreksel. Wat het haar besiel om stoksielalleen na Engeland te kom?

Die boonste verdieping is net so klein en beknop soos die res van die huis. Albei die kamerdeure is toe, en sy vrek van nuuskierigheid om in te loer en te kyk of haar huismaats dubbelbeddens en groot ingeboude kaste het. Aan een deurknop hang ’n Do Not Disturb-teken. Die ander deur is versier met prentjies van blomme, skoenlappers en Bybelversies. Sy kan raai wie die eienaar van watter kamer is.

Sy stoot die oop badkamerdeur groot oop. Die deur klap haar amper teen die gesig toe dit teen iets kap en terugspring. Sy loer versigtig in. Die wasbak, toilet en bad is so na aan mekaar, sy moet die deur toemaak as sy op die toilet wil sit. En waar is die stort?

Sy skuif die stortgordyn rondom die bad weg. Dis ’n stort-en-bad-in-een. Haarprodukte, skeermesse en bottels jel versier die rand. Ugh, hoe gaan sy ooit hierdie chaos oorleef?

Sy kry Frank in die kombuis, aan die sing voor sy potte.

“Hi, Frank, waar rook julle?”

Hy lig ’n wenkbrou. “O jinne, ’n roker. Annika gaan niks daarvan hou nie.”

Jaz lig haar skouers. Whatever. Hierdie Annika kan gaan doppies blaas, sy is nie haar ma nie.

“Ek kom saam.” Hy wys na die agterdeur. “Ek kry gou vir ons baadjies op die haak.”

Buite is ’n 1-sentimeter-by-1-sentimeter-tuintjie – as jy dit ’n tuintjie kan noem. Een armsalige boompie staan in die hoek van die sementplaveisel, en ’n klein braaier aan die oorkant. Die enigste ander teken van lewe is ’n plastiekhouer met allerhande blare daarin teen die muur en ’n stuk gras wat lei van die plaveisel na die agterhek.

“Hierdie is my nuwe projek.” Frank wys na die plastiekhouer. “Ek kweek nou my eie organiese groente, soos rocket en spinasie. Cool, nè?”

Sy steek ’n sigaret op, bied vir hom die pakkie aan.

“Ek moenie, maar hoekom nie? Dis nie aldag dat ’n nuwe huismaat by jou voordeur opdaag nie, veral nie so ’n mooi een soos jy nie.”

Sy ignoreer sy kompliment. “Is jy ’n geleentheidsroker?”

“Jy kan so sê, ja.” Hy trek diep aan die sigaret. “Ek probeer ophou, maar jy weet hoe dit gaan … Genoeg van my! Vertel my van jóú, Jaz. Wat maak jy in hierdie nat land?”

Ja, wat maak sy in hierdie land? Sy wou ontsnap van haar ma, haar verloor in die toekoms en vergeet van haar verlede. Sy is hier omdat sy nie deel van haar pa en sy tweede vrou se white-picket-fence-lewetjie wil wees nie. Sy is uit Suid-Afrika weg omdat sy haar merk as modeontwerper wil maak in ’n land wat haar talente sal waardeer. Sy is in hierdie nat land omdat sy glo dit sal hier makliker wees om haar hart toe te maak en van Die Insident te vergeet. Die een waaraan sy haarself nie toelaat om te dink nie.

Sy spreek haar antwoord uit soos geoefende reëls uit ’n toneelstuk – die antwoord wat sy besluit het om vir almal te gee. “Ek het besluit nadat ek my graad in modeontwerp voltooi het, gaan ek ’n gap-jaar vat om te kyk wat die res van die wêreld het om my te bied.” Baie oorspronklik, Jaz.

“Dis darem lekker om so ’n jaar af te vat, nè?” Frank kyk na sy groente; dit lyk nie asof hy ’n antwoord verwag nie.

“Hoe lank bly jy al hier?” verander sy die onderwerp.

“In Engeland? Al meer as drie jaar, maar ek het eers onlangs in hierdie possie ingetrek. Ek het al in walglike plekke gebly, en hierdie huis is vir seker ’n upgrade.”

’n Upgrade? Ha! Dis die grootste downgrade van haar lewe. Sal dit vreeslik ongeskik wees om in Frank se gesig te lag?

“Drie jaar … Jy is seker al gewoond aan alles?” Soos miniatuurkamers en ’n badkamer sonder ’n regte stort.

“Nee, jis, hoe raak mens ooit gewoond aan hierdie weer?” Hy wys na die grys wolke wat laag hang. “En die mense is ook maar anders as onse mense, jy weet. Hulle laaik nie die Saffas nie.”

“Die wát?”

“Saffas, dis wat hulle Suid-Afrikaners noem. Soos Australiërs Aussies is, is ons Saffas.”

“Ek sien.” Sy het baie om te leer. “En jou werk as sjef, geniet jy dit?”

Sy gesig verhelder. “Ja, ek is ’n assistentsjef by Slug & Lettuce. Dis tien minute se stap van hier af.”

Sy knik. Onbeïndruk. Sy was nog nooit in ’n Slug & Lettuce nie, maar wat sy wel weet, is dat dit nie ’n Gordon Ramsay-tipe restaurant is nie.

“Wat is jou plan, Jazzie? Het jy al werk?”

“Nee, ek moet nog soek, maar almal sê Suid-Afrikaners … uhm … Saffas kry maklik werk.”

“Nie so maklik ná die resessie nie, hoor.” Hy wag tot sy knik voor hy voortgaan. “Waarin stel jy belang?”

“Om my eie klerereeks te ontwerp. Ek sal nie omgee om vir ’n winkel soos Topshop te ontwerp nie. Die klere in Londen is mos oor die algemeen ongelooflik. Baie cooler as in Suid-Afrika.”

Hy druk sy sigaret dood in ’n leë glashouertjie wat blykbaar vir dié doel daar staan. “En jou ander opsies, as die klere-ding nie uitwerk nie?”

Ekskuus? Eerstens is dit nie ’n “klere-díng” nie, wil sy hom aanval, dis haar lewe! En tweedens, wat bedoel hy met “ander opsies”? Dis haar eie klerereeks of niks. Take it or leave it.

“Ek verstaan nie mooi wat jy bedoel nie, Frank.”

“Skattebol,” hy sit sy hand op haar skouer, “ek berei jou maar net voor vir die harde lewe hier in Engeland. Baie jonges kom so oorie see hier aan met sterretjies in hulle oge en dink hulle gaan top-notch werke kry, maar dit gebeur nie altyd nie. Dan vat jy maar enigiets wat jou kant toe kom.”

Dit vat als in haar om nie sy hand weg te klap nie. Happy place, happy place. “Dit mag dalk so wees vir ander, maar ek het ’n fantastiese portefeulje en is oortuig daarvan dat ek die werk van my drome sal kry.”

Hy druk haar skouer vlugtig. “Vir in case dit nie uitwerk nie, sê ek maar net dat die Slug altyd kelners soek. Die goed kom en gaan soos customers by ’n hoerhuis.”

Ga! ’n Kelnerin. Die dag wat Jaz Coetsee haar ontwerpersklere vir ’n voorskoot verruil, is die dag wat die wêreld maar kan vergaan.

“Ek sal eerder niks doen voor ek ’n kelnerin word, Frank.”

Hy laat hom nie van stryk bring nie. “Jy kan nie picky wees nie, skattebol, jy sal nog sien. Moenie by my kom huil as jy oor ’n paar weke nie die huur kan betaal of saam met vriende kan uitgaan nie.”

Moenie bekommer nie, skatteból, geld is nie ’n probleem nie. Dis al waarvoor Pa Coetsee nog goed is. Plus, ek wil in elk geval nie vriende hê nie. Ek het net een vriendin en sy is ongelukkig ver, ver weg.

“Hallooo!” roep iemand buite haar kamer, oftewel haar vuurhoutjieboksie-onder-die-trappe. Sy moes tussen die inforseer van haar klere in die kas en die uitpak van haar grimering en haarprodukte aan die slaap geraak het. Haar dagboek waarin sy ’n lysie geskryf het van goed om te doen lê oop op die bed: Kry internet in kamer. Vind naaste winkel vir sigarette en wyn. Koop nuwe beddegoed.

Sy maak haar dagboek toe, skuif die duvet weg, swaai haar bene van die bed af. Sy gaap, vryf deur haar hare. Ugh, jet lag is aaklig; dit voel asof iemand met ’n hamer teen haar oogkasse slaan. Hoeveel ure het sy geslaap?

Sy trek die ligblou gordyn – dit walg haar net soveel soos die duvetoortreksel – oop. ’n Donker grysheid het op Wimbledon toegesak.

“Hallooo?” Dis ’n vrou se stem.

Jaz staan op, maak haar kamerdeur oop. Voor haar staan ’n chick wat ’n paar jaar jonger as sy moet wees. Vars uit die skool, vermoed sy. Dis seker Annika, die meisie van Potch. Haar kleredrag spreek van ’n plattelander wat jare lank deur haar ma, heel moontlik ’n dominee se vrou, aangetrek is. Sy dra haar kort, ligbruin hare in ’n styl wat haar twintig jaar ouer laat lyk.

Jy kan doen met ’n makeover, dink Jaz terwyl sy die meisie openlik betrag.

“Hallo, ek is Annika. En jy is seker Maretha?” Annika glimlag, steek haar hand met kortgeknipte naels uit. Sy het ’n mooi glimlag; Jaz merk die diep kuiltjie en reguit tande op.

“Hi, Annika. Noem my sommer Jaz.” Sy glimlag terug.

“Jaz? Dis ’n vreemde naam. Waar kom dit vandaan?”

“Van Jasmyn, almal noem my Jaz.”

“Soos in die blom?”

“Ja, dis my middelnaam. My ma het seker boom gerook toe sy dit gekies het.” Jaz giggel vir haar eie grappie.

Annika frons. Voor Jaz kan verduidelik, gaan Annika voort: “Het jy al aandete gehad?”

Jaz skud haar kop. Sy is nie lus vir eet nie. Haar laaste maaltyd was ’n vrugteslaai op die vliegtuig. Sy wil eerder rook. Hoe sal Annika daaroor voel?

“Ek het nog jet lag. Ek is nie eintlik lus vir kos nie.”

Annika lyk afgehaal. “Ek het gedink ons kan ’n pizza bestel. Ek het ’n lang dag gehad en ek’s vreeslik honger.”

Jaz sug sonder dat Annika haar kan hoor. Dis nou soos met die simpel skoene: sy wil nie op die eerste dag al met haar huismaats vassit nie.

“Pizza klink lekker, maar ’n vegetariese een vir my, asseblief.”

Annika lyk asof sy nog nooit van so iets gehoor het nie. “Wat? Is jy ’n vegetariër?”

Jaz knik. Annika lyk asof sy dit oorweeg om weg te hardloop en die hele Potch te laat weet dat daar ’n freak saam met haar ingetrek het.

Ek het nuus vir jou, pop, dink Jaz, jy het nog niks gesien nie.

Dis asof Jaz die pastorievrou se stem in Annika se kop kan hoor – “Moenie oordeel nie, my kind” – want die jonger meisie se frons verander in ’n plastiekglimlag. “Ek bestel gou vir ons.”

Jaz kyk hoe sy in die gang afloop. Haar boude lyk soos twee bakleiende katte in ’n swart sak in daardie laventelkleurige langbroek. Jaz het gedink dis net tannies op dorpe soos Pofadder wat nog baadjie-en-langbroekpakkies dra. Waar Annika haar klere vandaan kry, weet nugter alleen, maar die girl het dringend hulp nodig.

Annika het op Facebook genoem dat sy ’n kinderoppasser is, en Jaz is bly dat sy nie die arme kinders is wat heeldag in daardie bonsende boude moet vaskyk nie. Wat moet die mense van Suid-Afrikaners dink? Ga! Sy wat Jaz is, sal vir die hele Engeland wys hoe stylvol en glamorous die jongmense van Jozi is. Want genade weet, sy kan dit nie aan mense soos Annika oorlaat nie.

As Jess nou hier was, sou hulle lekker oor Annika se pakkie gelag en geskinder het. Dêmmit, sy verlang na haar vriendin.

“Jy sal vinnig nuwe vriende maak en seker dadelik ’n sexy Britse boyfriend kry,” het Jess een aand gesê. Sy het op Jaz se bed gelê, haar lang, bruingebrande bene voor haar uitgestrek. Haar mond, blink van die lip gloss, was getuit van jaloesie.

“Dis nie hoekom ek gaan nie, Jess, jy weet dit. Jy’s in elk geval my beste vriendin, vir ewig. Niemand sal jou ooit kan vervang nie.”

Sy het haar langs Jess uitgestrek, hulle brons bene langs mekaar bewonder. “Jy praat asof jy nou al wil groet. Moenie vergeet van ons vakansie in Plett en die twee-weke-paartie daarna in Londen voor jy terugkom huis toe nie. Wie weet, dalk is jý die een wat ’n sexy ou ontmoet en nie terugkom nie.”

Jess het geglimlag, Jaz se hand gevat, ernstig vir haar vriendin gekyk. “Belowe my, Jaz: selfs al ontmoet jy iemand soos Freddie van Skins of Edward van Twilight, belowe jy sal terugkom?”

“Belowe.”

Jaz kom gou agter dat Annika hou van gesels. Oor haarself. Terwyl sy aan ’n hoender-en-soetrissie-pizza smul, vertel sy vir Jaz van haar familie, haar groot vriendekring in Suid-Afrika en haar sorgvrye hoërskooldae – wat eintlik pas geëindig het.

“Ek weet reeds wat ek volgende jaar wil gaan swot, maar min jongmense kry die geleentheid om ná skool in ’n ander land te gaan werk. My broer, wat nou op Potch swot en rugby speel, het dit ook gedoen. My ouers wou my eers nie laat gaan nie, natuurlik omdat dit gevaarlik kan wees om meisie-alleen na ’n vreemde land te reis, maar my broer het hulle omgepraat.”

Jaz knik, trek ’n olyf tussen die gesmelte kaas van haar pizza uit, kou stadig daaraan.

Annika vat ’n groot sluk water. “Ek het ’n paar weke gelede by ’n oulike gesin in Guildford as au pair begin werk.”

Kinderoppasser! Dis amper net so erg soos kelnerin. Jaz probeer hard om nie haar neus te hoog op te trek nie.

“Dit betaal nie te sleg nie. Maar ek wil eintlik by ’n prokureursfirma werk, omdat ek LLB by Tukkies wil gaan swot. Dit sal mos sin maak om bietjie ondervinding in so ’n kantoor op te doen, of hoe? Ek sal enigiets doen: liasseerwerk, oproepe neem, koffie aandra, net om in daardie omgewing te kan wees.”

Jaz leer ook gou dat Annika nie noodwendig vrae vra omdat sy antwoorde verwag nie.

“Ek het my CV na verskeie firmas gestuur, maar dis nou in die hande van die Here. Hy sal voorsien.” Annika vee haar mond mooi netjies met ’n servet af, asof dit dien as pouse voordat sy voortgaan. “Gaan jy kerk toe, Jaz?”

Jaz verstik amper aan haar tweede olyf. Sy het meer daarvan gehou toe Annika nie antwoorde verwag het nie.

“Nee, nie eintlik nie. Hoekom vra jy?” gooi sy die bal terug.

“Ek stel maar net belang in jou lewe,” antwoord Annika styf.

O, regtig? Jaz wil in haar gesig vir haar lag. “My lewe is oukei, dankie dat jy vra,” antwoord sy stywer.

“Jy is welkom om vanaand saam met my na my selgroepie te gaan,” beur Annika voort.

Die enigste tipe groepie waarin Jaz belangstel, is een waar daar bottels wyn betrokke is. “Nee, dankie. Ek is flou en wil eerder net gaan slaap.”

Sy vou die pizzaboks toe, staan op. “Geniet jou aand, Annika.”

“Jy’t dan niks van jou pizza geëet nie, is jy oukei?”

Jaz druk die boks in Annika se hande. “Vat dit vir jou selgroepie.”

Annika trek haar asem vinnig in. Wat is dit tog nou weer? Mag selgroepiemense nie oorskietkos eet nie?

Annika wys na Jaz se regterhand. “Wat het met jou hand gebeur?”

Jaz ruk haar hand vinnig weg. Shit, shit, shit. Hoe kon sy vir ’n oomblik vergeet het om haar hand uit sig te hou? Sy’s nie lus om vir hierdie naïewe pastoriedogter te verduidelik wat gebeur het nie. “Uhm …”

Aan Annika se koeëlronde oë lyk dit nie asof Jaz daarmee gaan wegkom om die onderwerp te probeer verander nie. Sy sal maar die backup-verskoning moet gebruik, die leuen wat sy vir nuuskieriges en irriterende uitvissers voer sonder om te blik of te bloos.

“Ek het onlangs in ’n winkelsentrum gegly en met my hand eerste deur ’n winkelvenster geval.” Sy weet dit klink lame, maar wie is hierdie Annika om haar so uit te vra? It. Is. None. Of. Her. Business.

“Regtig? Dit moes vreeslik gewees het! Hoe het jy gegly? Was die vloer nat? Of …”

Annika aarsel. Sy moes die vuur in Jaz se oë gesien het.

“Gaan jy nie laat wees vir jou groepie-storie nie?”

Annika is soos ’n hond wat nie ’n speelding wil los nadat hy bytplek gekry het nie. “Is jy seker jy wil nie saamkom nie?”

Moenie. Aan. My. Karring. Nie.

Jaz draai weg voor sy Annika en die pizzaboks vermorsel. “Nag, Annika.”

“Ek sal vanaand vir jou bid, Jaz.”

Hoe oulik. Hierdie nat-agter-die-ore-kind gaan vir haar, die straatwyse Jaz, ’n gebedjie opsê. Gmf. Annika kan maar lekker bid tot haar knieë nerfaf is. Want sy wat Jaz is, weet wat sy die graagste wil hê, en dit het niks met gebede uit te waai nie.

Toe die vyfde winkelassistent Jaz met ’n kil glimlag en ’n “Ons sal jou laat weet as iets opduik” uit die winkel lei (sonder dat die sogenaamde assistent haar portefeulje oopgemaak het), besluit sy om huis toe te gaan. Hierdie Britse snobs weet nie wat talent is wanneer dit reg onder hulle neuse – in die beste ontwerpersklere – verskyn nie.

Laatmiddag is die Tube volgepak soos ’n sardyneblik. Jaz skuif vinnig in by ’n sitplek waar ’n vrou pas opgestaan het. Met elke stop word die spasie tussen die mense kleiner, die suurstof minder. Maak nie saak hoe sy rondskuif nie, sy kan nie fisieke kontak met die vet man langs haar vermy nie.

“Alright, love?” vra die man.

Ek is nie jou “love” nie, wil sy terugspoeg, maar besluit om hom te ignoreer.

Sy waag dit om ’n slukkie van haar koffie te vat en op dieselfde oomblik besluit die vet man om op te staan en hy stamp teen haar elmboog. Stomende koffie mors oor haar ken en spatsels donker kolle verskyn op haar serp. Van skrik ruk sy haar hand vinnig terug. Die koffiedekseltjie vlieg soos ’n frisbee deur die lug en die res van die donker vloeistof spat oor haar geliefde jas.

Sy kyk verbaas na die mense om haar, maar die vet man het lankal by sy stasie afgeklim. Een vrou glimlag simpatiek; die res van die sardyne druk hulle neuse dieper in boeke of koerante.

Dis ’n moerse duur baadjie hierdie, wil sy skree, maar julle is seker te pateties om dit te weet!

Sy bekyk die skade deeglik. Die kunspels om die jas se kraag het skoon platgeval. Fokken great!

Dis nie hoe Jaz haar haar eerste dag in Londen se strate voorgestel het nie. Jaz die modeontwerper van Johannesburg het gedink sy gaan die mense se voete onder hulle uitslaan, dat hulle haar gaan smeek om vir hulle te kom werk. Dat sy soos ’n wafferse mode-ikoon deur die strate gaan loop en dat mense gaan wonder: Wie is hierdie stylvolle, hot fashionista wat soos ’n jonger weergawe van Kate Moss lyk? Waar kom sy vandaan?

Sy haal ’n snesie uit haar handsak, probeer die ergste nattigheid daarmee klad. Met elke vee sê sy hard en duidelik in haar kop: Ek. Is. Jaz. Coetsee. En. Ek. Doen. Fashion.

Sy sal nie toelaat dat hierdie aaklige mense op haar drome kom piepie nie.

Vat 'n gap

Подняться наверх