Читать книгу Vat 'n gap - Jana du Plessis - Страница 6

Februarie

Оглавление

Outfit van die maand:

 Naaswit Topshop-bloes

 Swart Jenni Button-miniromp

 Rooi Mango-jas

 Ben Sherman-fedora

 Plathak-leerstewels van Country Road

 Blompatroon-sykouse van Falke

 Swart armband van H&M

Jaz hou nie van museums nie. Kunsgalerye, ja, maar geskiedkundige geboue staan haar nie aan nie. Die Tate Modern is haar tipe plek. Sy ignoreer die “kamera verbode”-teken en neem ’n hele paar steelfoto’s met haar iPhone. Een keer raas ’n sekuriteitsbeampte met haar, maar sy glimlag onskuldig en draai weg om nog ’n foto te neem.

Sy koop koffie by ’n kafee met ’n uitsig oor die Teemsrivier en blaai deur haar portefeulje. Haar werk is fenomenaal, dit weet sy, maar hoekom sien niemand anders dit raak nie? Sy het CD-kopieë van haar portefeulje uitgedeel by al wat ’n winkel is, maar sy is steeds werkloos.

Frank hou vol sy kan enige tyd by die Slug aanklop, en Annika het voorgestel dat sy haar CV stuur aan ’n agentskap wat vir Suid-Afrikaners werk kry. Maar hoe sal hulle verstaan dat sy nie belangstel in tafels skoonmaak en babadoeke omruil nie? Hulle wonder seker hoe sy dit kan bekostig om die huur te betaal en boonop elke nou en dan met sakke vol inkopies by die huis aankom – sonder dat sy ’n sent verdien.

Hulle vra nie uit nie, al sien sy die geligte wenkbroue as sy met nog ’n Topshop-sak by die huis inwals. Hulle sal in elk geval nie verstaan nie. Wat weet hulle van omkoopgeld van ’n afwesige pa? Een met genoeg geld om sy gegradueerde dogter als te gee wat haar hart begeer, maar wat nie die tyd kan maak om vir haar te gee wat sy eintlik nodig het nie?

Sy mis vir Jess. Waar is Jess nou om haar moed in te praat? Om saam met haar die mooiste handsakke uit te kies en daarna tot laataand tequila te drink en in een of ander kroeg op die tafels te eindig? Jess. Jess. Jess.

Haar iPhone vibreer in haar hand. ’n Vreemde nommer. Wie kan dit wees? Behalwe vir Moeder en haar huismaats is daar niemand wat haar nommer in Engeland het nie.

“Hallo?”

“Is this Margaret Jasmine Coetsee?” ’n Engelse aksent. Vroulik.

“Yes, this is she, but please call me Jaz.” Sy het vinnig geleer dat die Britte glad nie kan regkom met Maretha of Jasmyn nie, dus verklaar haar besigheidskaartjie dat sy Margaret Jasmine Coetsee is.

“I’m phoning from H&M’s retail department. You dropped off your portfolio at our head office a while ago and we’d like to meet with you to discuss a few things.”

Jaz se hart spring amper by haar keel uit. Sy kan dit nie glo nie! Sy moet diep asemhaal om kalm te bly. “Yes?”

“We like your work, Margaret, and we want to meet with you soonest. Can you come in this afternoon?”

“Absolutely!” Jaz kyk op haar horlosie. “I can come in right now. Should I meet you at your head office in town?”

“Yes, at Holden House. That would be wonderful. Ta!”

Jaz sit vir ’n oomblik tjoepstil. Sy kan dit nie glo nie! Sy kyk op haar foon of die oproep werklik gebeur het. Daar is die vreemde nommer. Sy stoor dit dadelik as “H&M”. Sy raap haar portefeulje op, trek haar handskoen styf om die wond (wat nou aansienlik beter lyk as ’n maand gelede) en skuif haar fedora reg op haar kop.

Sien jy, Jess, ek gaan dit maak. Ek wéét ek gaan.

Vyf rokkiehemde. Hoe moeilik kan dit nou wees? H&M wil hê Jaz moet binne ’n week vyf somerkledingstukke aan hulle voorlê; daarna sal hulle besluit of hulle haar idees wil gebruik.

Sy skets twee dae sonder ophou om met die perfekte items vorendag te kom. In haar kop sien sy die tipiese werkende Britse jongvrou met ’n wit vel en groterige boude, wat oor naweke gemaklik wil wees terwyl sy wyn drink saam met vriendinne of saam met haar partner uitry na een of ander gastehuis in die landelike buitewyke van Londen.

Die rokkiehemde in haar sketsboek is ontwerp om stewige agterente te verbloem, maar steeds die draer vroulik en sexy te laat voel. Sy is so in haar noppies dat sy selfs vir Annika raad vra oor waar sy gehaltemateriaal teen billike pryse kan koop.

Op dag drie van haar toegelate sewe dae is sy reg om naald in materiaal te druk. Die televisiekamer is oortrek van haar sketse, materiale, naalde en prentjies uit tydskrifte van H&M-items.

“Genade, Jaz, hoe gaan ek vanaand my sepies kyk tussen hierdie gemors?” vra Annika toe sy inkom, haar hande vol bultende inkopiesakke met kos.

“As ek ’n groter kamer gehad het, sou dit nie vir my nodig gewees het om in die televisiekamer te werk nie,” kap Jaz terug.

Annika ignoreer die aanmerking, fokus op die materiaal in Jaz se hand. “Wat maak jy met daardie materiaal?”

Jaz skuif haar sketse onder ’n tydskrif in. “Klere. Soos wat anders lyk dit vir jou?”

“So met die hand?” Annika sit haar inkopiesakke op die vloer neer. Die brode en pastas en souse raak seker bietjie swaar, dink Jaz.

Sy lig haar skouers. “Met wat anders?”

Annika staan met ’n breë glimlag nader. “Ek het nie geweet jy beplan om als met die hand te doen nie, maar ek het goeie nuus vir jou. Ek het ’n naaimasjien!”

Jaz kyk na haar huismaat se triomfantlike uitdrukking. As Annika maar net geweet het. “Dis oukei, ek het nie ’n masjien nodig nie.”

Annika se glimlag is nou ’n reguit lyn. “Maar dit sal vinniger gaan as jy met die masjien werk. Ek sal jou help. Ek is briljant met naaldwerk; ek het selfs op skool ’n onderskeiding vir huishoudkunde gekry.”

Jaz sug binnensmonds. “Dis nie nodig nie, Annika. Ek verkies om met die hand te werk.”

Sy sal nie vir Annika die waarheid vertel nie: dat sy haar doodsukkel net om ’n naaimasjien te koppel. Dat Moeder ’n paar helpers betaal het om haar dogter se klere-items aanmekaar te slaan nadat die talentvolle dogter die ontwerpe gedoen het. Sy sal nie erken dat sy soos ’n vis uit die water voel as dit by naaldwerk kom nie.

Annika se glimlag is nou 360 grade omgekeer. “Nou maar goed.” Sy verkas met haar inkopiesakke en groeiende agterent na die kombuis.

Toe sy later verskyn met ’n bak stomende pasta tussen haar hande vasgeklem, gee sy Jaz net een kyk waar sy rooi in die gesig besig is om die een rytjie wat sy gewerk het uitmekaar te trek. Trane van frustrasie brand in haar keel, maar sy beteuel haar tot Annika en haar bak pasta by die trappe op verdwyn het.

Die sysagte materiaal wat sy gekoop het om dromerige rokkiehemde van te maak, is ’n dekselse nagmerrie. Dit het ’n wil van sy eie en as sy hierdie kant toe ruk, trek die materiaal daardie kant toe. Sy frommel dit in ’n balletjie op en gooi dit na die middel van die vertrek, waar dit oor die koffietafel gaan lê.

Sy sluk die trane weg. Dit help nie om nou te wil tou opgooi nie. Sy moet deurdruk, haar kop regkry, fokus. Wyn. Dis wat sy nou nodig het. Die Sainsbury’s is nog oop. Sy gryp haar handsak, pluk haar jas oor haar skouers.

Vyftien minute later lyk die materiaal nie minder intimiderend nie. Sy tap ’n behoorlike glas wyn, sluk die alkohol gretig af. Dis beter. Sy tel weer die naald en materiaal op.

Ek. Is. Jaz. Coetsee. En. Ek. Doen. Fashion.

Met een twyfelagtige klere-item (is dit ’n kort-kort rokkie, ’n hemp vir ’n dwergie of ’n belt vir ’n oorgewig vrou?), ’n boek vol pragtige sketse en ’n kop volgestop met hoofpynpille, vat Jaz die pad na H&M se hoofkantoor in die stad. Sy het twee dae gelede al gedagtes aan ’n goeie nagrus laat vaar, haar oorgegee aan koffie om wakker te bly en wyn om te slaap.

Hier staan sy nou voor H&M se deur, haar toekoms in ’n blink-nuwe H&M-inkopiesak toegevou. Sy het dit goedgedink om ’n nuwe uitrusting van H&M aan te skaf, dit vroeër selfs oorweeg om een van haar rokkiehemde ter illustrasie te dra – ha, as daar maar één drabare rok was! Maar die beste wat sy kon doen, was om die inkopiesak te gebruik vir haar voorlegging.

Sy trek diep aan haar sigaret, probeer haarself paai dat dit nie só erg is nie; sy het darem een item om te wys en ’n hele paar sketse. Watter topontwerper maak in elk geval sy of haar eie klere? Die H&M-mense sal tog sekerlik verstaan dat sy nie op haar eie vyf – vyf is so baie! – items kon maak nie. Sy is die kreatiewe meester agter die ontwerpe, nie die naaldwerkster wat knopies aanwerk en rytjies stik nie. Sy is oortuig daarvan dat haar nuwe werkgewers dit sal verstaan. Net so oortuig soos sy daarvan is dat hulle haar vandag op die spot ’n werk gaan aanbied.

Sy trap haar stompie dood dat dit so sjjj maak op die nat sypaadjie, trek haar skouers terug en stoot die deur van haar toekoms oop.

Die H&M-mense laat haar vyftig minute wag. Sy tik-tik met haar hakskoen teen die gelamineerde vloer, kyk betekenisvol vir die ontvangsdame, maar Jaz sit. Sy loer elke nou en dan in die inkopiesak, maar dan wil haar keel toetrek.

Sy probeer fokus op ’n tydskrifartikel, haal ’n snesie uit haar handsak om die sweetdruppeltjies op haar voorkop te klad. Soos die meeste winkelsentrums en geboue in Engeland is H&M se kantoor verhit, en sy weier om haar nuwe baadjie uit te trek. Dit sal haar hele uitrusting bederf!

Net toe sy wil opstaan om die kleedkamer te gaan soek, verskyn die vrou wat haar ’n week gelede gebel het met die blye nuus oor haar portefeulje. Sy begelei Jaz na ’n vertrek waar ’n paar mense op ’n ry sit met notas, penne en glase water. Dit voel vir Jaz skoon asof sy ’n Idols-finalis is. Hulle beduie vir haar om te begin.

Eers wys sy haar pragsketse; die paneel knik ingenome. Hulle glimlag afwagtend toe sy die H&M-sak optel. Sy haal diep asem, druk haar hand in die sak, vat die materiaal raak.

“Look, I must just warn you … My items aren’t finished. I sort of completed this one piece, but it’s definitely not a reflection of my talent.”

Sy trek die materiaal stadig uit, maar dan haak ’n punt aan iets in die sak. Sy glimlag verleë. Die paneel frons. Sy pluk-pluk, maar haar een en enigste rokkiehemp het toegevou soos ’n vlieëvanger wat sy prooi gevang het. Sy voel hoe die sweetkolle onder haar arms plasse word. Fokkit! Hierdie is haar groot kans en sy is besig om dit totally op te mors!

Sy pluk nog ’n keer. Waddehel haak so aan haar rokkiehemp? Het sy ’n naald of iets aan die materiaal vergeet? Met ’n aaklige skeurgeluid kom die materiaal los en ’n item wat selfs Jaz nie in ’n kategorie kan plaas nie, kom te voorskyn.

Sy weet sy het verloor, maar tog. “I’m so sorry! But if you look at my sketches instead, you’ll see what I actually had in mind. It’s … like … not this.” Sy wapper die materiaal soos ’n vlaggie, glimlag hoopvol.

Die vrou wat haar gebel het, praat eerste. “You had a great opportunity here, Margaret, and you obviously didn’t take it seriously.”

“But I …”

Die vrou kyk Jaz stip in die oë. “How can you ever expect to be a designer when you clearly can’t even work with material?”

Jaz sluk.

“Please take your sketches when you leave, Miss Coetsee.”

Toe sy en haar gekrenkte ego uit die vertrek skuifel, neem ’n jong meisie met ’n klerebalk vol oulike bloesies en dromerige rokkiehemde haar plek in. Jaz sien hoe die paneel se oë skitter toe sy die deur agter haar toetrek.

Eers toe sy in die straat is en ’n paar trekke van haar sigaret gevat het, maak sy die H&M-sak oop om te kyk wat haar toekoms so lelik verwoes het. Aan haar mislukte rokkiehemp hang die skoenlapperhangertjie wat Jess vir haar vir haar een-en-twintigste verjaardag gegee het. Dit moes op ’n manier in die sak beland het, want die hakie wat die stukkie juweliersware aanmekaar hou, het aan die twyfelagtige klere-item geheg en gesorg dat dit met haar plukke uitmekaar geskeur is.

Jaz kyk op na die grys, grys wolke. Probeer jy vir my iets sê, Jess? Is ek nie goed genoeg om ’n klereontwerper vir H&M te wees nie, hè? Wel, te hel daarmee!

Sy weet daar is net een ding wat haar op hierdie oomblik sal opkikker.

Die oproep is so onverwags soos die son wat skielik oor Oxfordstraat skyn.

Jaz stap uit Topshop, ’n nuwe baadjie en bloes in die inkopiesak in haar hand. Sy grawe haar iPhone uit haar handsak. Moeder. Die onverwagte son verdwyn saam met die shopping high wat sy pas beleef het.

“Hallo, Moeder.”

Stilte.

“Hallo, Ma, is jy daar?”

Haar stem eggo oor die statiese lyn. Die frustrasie van oproepe uit Suid-Afrika! Sy hoor haar ma snik. Ugh, sy het nie nou krag vir Moeder se melodrama nie.

“Wat gaan aan, Ma?”

Seker weer een van daardie “Ek voel jammer vir myself omdat my enigste kind my alleen in Suid-Afrika agtergelaat het”-oproepe. Jaz is nou al gewoond aan Moeder se oproepe op Sondae, wanneer Moeder haar elke keer daaraan herinner dat sy stoksielalleen in Suid-Afrika is. Maar Moeder bel nie sommer in die week nie.

“Is daar iets fout, Ma?”

“J-jasmyn, ek …”

O jinne, Moeder sukkel nie gewoonlik om te praat nie.

“Mamma, wat is dit?”

Jaz se hart slaan bollemakiesie. Iemand is dood. Haar pa. Haar kat. Sy stop. Iemand loop in haar vas en vloek toe hy verbyloop. Blerrie mense in Oxfordstraat. Sy beweeg na ’n systraat.

“Ma, bedaar asseblief en sê vir my wat aangaan.”

Haar ma haal asem deur haar tande in – Jaz het al een keer dié gebaar gesien, dit kan niks goeds beteken nie – en blaas dit stadig uit. “My kind, ek … ek het slegte nuus.”

Jaz maak haar oë toe. Berei haar voor op die ergste. Kan hierdie dag enigsins erger raak?

“Pa se vrou is swanger.”

Wát? Is dit al? Jaz se oë spring oop. “Bernadine is swanger?”

Moeder weier om haar eksman se vrou op haar naam te noem. Sy begin weer snik.

“Moeder, relax, dis nie die einde van die wêreld nie.” Daar is belangriker goed waaroor ek op die oomblik worry, wil sy byvoeg. “Dit sou seker een of ander tyd gebeur het, Ma. Bernadine is mos iets in die dertig en Pa is haar eerste man, so dit maak seker sin.” En dankie dat Ma vra hoe dit met mý gaan.

“D-dis nie al nie …”

Jaz sug. Sy weet Moeder sukkel om daaroor te kom dat haar eksman ses maande ná hulle egskeiding weer getrou het – Jaz was daar om haar te sien ly – maar dis ook nou al ’n jaar of wat later. Sy wat Jaz is, hanteer die situasie op haar eie manier. Solank sy haar pa en sy nuwe jong vrou nie hoef te sien nie, is sy oukei.

“Ja, Moeder?”

“Jou pa wil al sy geld terughê …”

Wag ’n bietjie! “Ek verstaan nie? Van watter geld praat Ma?”

“Alles! Hy soek alles terug!” Moeder klink nou kwaad.

“Maar jy het mos jou eie geld, Ma, met die besigheid en als?”

“Ha! ’n Mens sou so dink, ja, ná al die jare se harde werk en bloedsweet.”

Jaz kan nie onthou dat sy een keer haar ma sien bloedsweet het nie, maar wat weet sy? Sy was onder die indruk dat Moeder se eksklusiewe salon baie goed vaar. Celebrities koop dan haar skoonheidsprodukte, soos sy gereeld vir enigiemand vertel wat wil luister.

“My kind …”

Moeder huiwer. Dis nie aldag dat Moeder Jaz “my kind” noem nie. Nou begin sy stres.

“Jou pa het elke maand vir my ’n toelaag gegee. Vir die huis, vir die salon, vir jou universiteitsgelde, jou sakgeld, al jou uitgawes …”

Haar uitgawes. Hmmm. Sy wonder hoeveel van die omkoopgeld oor is op die kredietkaart wat haar pa haar gegee het voor sy na Engeland gekom het.

“Hoekom wil hy sy geld terughê net omdat Bernadine swanger is?”

“Daar’s glo komplikasies met sy vrou se swangerskap. Dit gaan Pa ’n groot klomp geld kos vir allerhande toetse en sonars en bla-bla-bla.”

Jaz kan haar ma se bitterheid in elke woord hoor.

“Beteken dit my sakgeld gaan ook nou opdroog?” Sy probeer haar stem gelykmatig hou – sonder sukses. “Dan moet ek maar opsnork hier in Engeland?”

Haar ma trek haar asem vinnig in. “Maretha, hoe kan jy so selfsugtig wees? Wat van jou arme ma? Hoe gaan ek elke maand my gesigbehandeling en haarprodukte bekostig? Om nie eens te praat van my klere nie! Ek moet goed lyk vir my kliënte, dis wat van ’n gesiene besigheidsvrou verwag word.”

Jaz se bloed bruis. “O! So terwyl Ma worry oor Ma se highlights en naels, gaan ek vrek van die honger duisende kilometer van die huis af.” In ’n land waar ek nie eens ’n blerrie werk kan kry nie!

“Wel, jy kan altyd huis toe kom as jy dan nou so hónger is.”

“Ek wil nie huis toe kom nie!” Jaz se stem klim ’n paar oktawe.

“Goed, bly dan waar jy is!” skree Moeder.

“Fine!” skree Jaz terug en beëindig daar en dan die oproep.

Sy gaan druk haar kredietkaart by die eerste die beste OTM in. Daar moet nog baie geld in haar rekening wees, daar móét net.

Die masjien spoeg ’n strokie uit. £145.20.

Wat?! Iets is nie pluis nie. Het sy net 145 pond oor?

Dis ’n ramp! Sy tel die Topshop- en Mango-inkopiesakke op en voel asof sy daarin naar kan word.

Oxford Circus-stasie is reg voor Jaz.

Sy beraam vinnig ’n plan: sy gaan nou reguit na die Slug & Lettuce in Wimbledon en sal Frank vra om vir haar die sterkste cocktail op die spyskaart te maak. Hy karring hoeka al weke lank aan haar om vir hom by die werk te kom kuier. Sy gaan die laaste van haar pa se geld op cocktails uitgee en dan haar eie potjie begin krap, baie dankie.

’n Mooierige meisie staan by die kroegtoonbank in die Slug, besig om ’n glas met ’n wit vadoek af te vee. Jaz kies die woord “mooierig” omdat sy nie vet soos die meeste Britse vrouens is nie, maar die meisie is ook vir seker nie mooier as Jaz nie.

“Hallo, is Frank hier?” vra sy in Engels.

Mooierige meisie kyk op, hou aan vadoek teen glas vee. “Ja, hy is in die kombuis. Hoekom?”

’n Australiër, Jaz herken haar aksent. ’n Aksent wat haar grensloos irriteer.

“Kan jy hom asseblief vir my gaan roep?”

Mooierige Aussie-meisie lig ’n wenkbrou. “En wie moet ek sê is op soek na hom?”

“Sy huismaat, Jaz. Dankie.”

Aussie-meisie pak die glas weg en gooi die vadoek op die toonbank neer voor sy verdwyn.

Jaz leun met haar elmboë teen die toonbank, draai na die tafels in die restaurant. Die plek is groter as wat sy verwag het; dis eerder ’n restaurant as ’n kroeg. Sy hou van die oranje en rooi spatsels kleur en die meubels van donker hout. Dis nie soos die restaurante in Johannesburg waarheen Moeder – ugh, sy wil eerder nie aan haar dink nie – haar een keer ’n maand gevat het nie. Die atmosfeer hier is warm en vriendelik. Net twee van die tafels is beset, seker omdat dit drieuur die middag is.

“Jazzie!”

“Hi, Frank.” Hy lyk darem maar aantreklik met sy voorskootjie.

Hy soen haar op die wang. “Ek’s so bly jy’t kom kuier! Kan ek vir jou ’n cocktail aanbied?”

“Die sterkste en langste een wat jy het, asseblief.”

“Hoe het dit toe by H&M gegaan? Is hulle weggeblaas deur jou talent?”

“Moenie eens vra nie.”

Hy kyk na die Aussie-meisie. Dié staan ’n entjie weg, weer doenig met die glase en vadoek. “Een Slug Special vir my vriendin, asseblief, Alex. En moenie snoep met die gin wees nie. Dankie, darling.”

Alex trek eers haar mond effens en sê iets van die kroegman wat nóú terug gaan wees. Maar sy glimlag tog vir Frank – nie vir Jaz nie – en begin tydsaam die drankie in ’n menger aanmaak.

Hy draai terug na Jaz. “Wat’s fout, skatlam? Het jy nie jou deadline gemaak nie?”

Frank mis ook niks. Ná ’n maand saam met haar huismaats het Jaz geleer dat hy die een is wat ingestel is op emosies en Annika op goeie maniere en netheid.

Sy lig haar hand traak-my-nieagtig. “Ek wil nie eintlik daaroor praat nie. Dra jy maar net die cocktails aan.”

Of wil sy daaroor praat? Dalk met Jess, ja, maar sy vertrou niemand anders nie.

Frank se oë vernou. “Hmmm, jy’s ’n toe boek, Jaz Coetsee …”

Alex sit ’n helderkleurige konkoksie voor haar neer. Jaz teug diep daaraan.

“Laat weet as jy wil praat. Ek moet terug kombuis toe, maar ek sal nou-nou weer kom check of jy oukei is.”

“Dankie, Frank.”

Ná die tweede cocktail voel Jaz heelwat rustiger. Soveel so dat sy Frank die hele H&M-debakel in kleur en geur vertel toe hy weer ’n draai by die toonbank kom maak. Alex kyk kort-kort in hulle rigting, en Jaz kry lekker tot in haar kleintoontjies dat die Aussie uit die gesprek gesluit is omdat sy nie Afrikaans verstaan nie.

Jaz kan nie haar vinger daarop lê nie, maar iets omtrent Alex se vibe sit haar af. Het sy dalk ’n ogie op Frank? Ha! Dit sal ’n grap wees. Of dalk is sy, soos die meeste meisies wanneer hulle vir Jaz ontmoet, net vrek jaloers.

“En wat gaan jy nou maak, Jazzie?” vra Frank toe sy haar kop teatraal in haar hande laat sak.

Sy kyk op, skud haar kop stadig. “Ek weet nie. Dis ’n ramp, want al wat ek wil doen, is om klere te ontwerp.”

Frank se gesig verhelder. “Wel, jy kan altyd ’n bietjie waitress terwyl jy wag vir die perfekte job.”

Die man het ’n punt beet …

Jaz skud amper haar kop. Dit moet die drank wees wat haar brein aangetas het, want sy sit waaragtig hier op ’n koue dag in Februarie en oorweeg dit om kos aan te dra en glase uit te vee soos Alex. Sy wat Jaz Coetsee is, fashionista van Johannesburg, gaan haar sketsboek inruil vir vuil borde en ’n onvleiende voorskoot?

Ek hoef dit nie vir ewig te doen nie, verseker sy haarself, dis uit noodsaak, desperaatheid. Hoe anders gaan sy vir Pa Coetsee bewys dat sy hom nie meer nodig het nie? En die ideale pos behoort binnekort na haar kant toe te kom, want sy is Jaz Coetsee en sy doen fashion.

“Wat is die werksure vir kelners?” vra sy. Frank werk van twaalfuur soggens tot ná die restaurant elfuur of twaalfuur saans toemaak, maar sy twyfel of dit vir haar sal werk.

“Jy kan dag- of aandskof werk,” sê Frank entoesiasties. “Van elf tot vyf of vyf tot toemaaktyd.”

Nie sleg nie. Ses ure eerder as sy twaalf. Dis doenbaar.

“Het julle steeds kelners nodig?”

“Ons kan gou met Gary praat – die baas. Hy was nou-nou hier, ek weet nie waar …”

Hy kyk na Alex. “Weet jy waar Gary is?” vra hy in Engels.

“Hy’s agter besig met die boeke,” antwoord dié sonder om op te kyk.

“Wil jy hom nie asseblief gou gaan roep nie?”

Sy gooi die vadoek neer. “Natuurlik, ek is mos almal se bitch!”

Frank rol sy oë. “Moet jou nie aan Alex steur nie, Jaz, sy’s maar vol draadwerk. Jinne, ek was so taken met jou storie dat ek skoon vergeet het om julle voor te stel!” Hy slaan sy hand dramaties teen sy wang. Dan bak hy sy hand om sy mond en fluister: “Sy het ’n crush op Gary, maar hy wil niks weet nie.”

“Is hy ook van Australië?”

“Nee, hy’s ’n Saffa.”

Die man wat Gary moet wees, kom aangestap. Alex is soos een van daai orige klein brakkies kort op sy hakke.

Gary lyk geïrriteerd. En hy’s sexy, merk Jaz op. Heelwat ouer as sy, maar definitief iets vir die oog.

“Gary, dis my vriendin, Jaz,” stel Frank hulle voor.

Sy glimlag haar mooiste glimlag. Staan stadig van die stoel op sodat Gary kans het om haar hele Jaz-wees in te neem. En ook omdat die cocktails die swart stewels aan haar voete ietwat swaarder gemaak het. Sy steek haar hand uit.

Gary bekyk haar op en af, druk haar hand vinnig en ferm. Sy donker oë het daardie kyk – die een wat sy alte goed ken – wat sê: “Ek hou van wat ek sien.”

Sy giggel, stut haar met een hand teen die toonbank. “Hi, Gary. Het jy werk vir ’n kelnerin?” Sy sien hoe Alex verstyf waar sy by die glase staan.

“Het jy enige ondervinding?” Hy vou sy arms voor sy bors. ’n Stewige bors.

“Nee, maar ek leer baie vinnig.”

“Ons het nie eintlik op hierdie stadium nog mense nodig nie …”

“Maar ek is nie net ‘nog mense’ nie,” daag sy hom uit. Alex se oë gooi nou swaarde in hulle rigting.

Gary knik stadig. “Oukei, goed. Ek gee jou ’n week. Wys my wat jy kan doen, dan besluit ek of jy kan aanbly.”

Frank lig sy duim agter Gary se rug.

Jaz moet ’n glimlag onderdruk. Sy het geweet hy sal haar nie kan weerstaan nie. “Jy sal nie spyt wees nie.”

“Aaaah!” klink ’n uitroep op, gevolg deur die geluid van ’n glas wat aan skerwe spat.

Hulle draai verbaas na Alex. Dié vou vinnig ’n vadoek om haar duim en Jaz sien hoe bloed die wit doek rooi vlek.

Ek sal my ma en pa wys dat ek hulle nie meer nodig het nie, dink Jaz op pad na die Slug.

Sy het nooit geglo die dag sal aanbreek dat sy vir ander mense moet kos aandra nie. Dis absurd! En tog, hier loop sy in die grys strate van Wimbledon, haar sambreel styf in haar linkerhand vasgeklem om die onophoudelike motreën uit haar hare te hou en haar kans te gee om ’n sigaret te rook, op pad om kelnerin te gaan speel. Hoe moeilik kan dit tog wees?

Dag een by enige werk is die belangrikste, en sy het haar uitrusting sorgvuldig gekies: ’n naaswit bloes, swart romp, sexy sykouse, plathakstewels en ’n rooi jas. Net omdat sy ’n kelnerin – ugh, die woord laat haar maag saamtrek – gaan wees, beteken nie sy kan dit nie met styl doen nie. Wie weet, dalk kom eet ’n invloedryke ontwerper eendag by die restaurant en raap haar dadelik op om vir hom te werk. Sy weet dis verregaande, aangesien Wimbledon nou nie eintlik die hub van ontwerpers is nie, maar sy is Jaz Coetsee en sy is gewoond daaraan om te kry wat sy wil hê.

Sy gooi haar sigaretstompie in die asblik buite die restaurant, knik tevrede vir haar weerkaatsing in die venster voordat sy die deur oopstoot.

“Goeiemôre,” groet sy vir Alex toe sy haar in die kamertjie langs die kombuis kry waar die kelners hulle goed bêre. “Ons het nog nie amptelik ontmoet nie. Ek’s Jaz.”

“Hi. Jy kan solank die sout-en-peperpotte uitpak en servette vou.” Alex wys na die rakke waar genoemde items gebêre word. “Ek werk vandag in die voorste deel van die restaurant en jy werk agter. Moet asseblief nie in my pad kom nie.”

Sy slaan die deur van haar sluitkas toe en storm verby Jaz.

Ekskuus? Wat de hel is háár probleem? Jaz kyk die Aussie verstom agterna. Sy weet nie eens waar om ’n voorskoot te kry nie, wat nog te sê watter tafels is wie s’n.

Sy sit haar handsak neer, skud haar jas van haar skouers af. Wat is volgende? Sy lig ’n skinkbord op, begin die sout-en-peperpotte daarop pak.

“Hallo, roomie!”

Frank is reeds in sy sjefpakkie. Hy is vroegoggend al by die huis uit om een van sy nuwe resepte te toets voor die res van die sjefs opdaag. Hy glimlag vir Jaz. Ten minste lyk hý bly om haar te sien.

“Môre, Frank.”

“Jy lyk alte fraai, jy gaan lekker geld maak vandag.”

“Net jammer dat ’n simpel voorskoot my hele uitrusting gaan bederf. Nie dat ek weet waar om een te kry nie.”

“Wag, ek het ’n ekstra een.” Hy sluit ’n laai oop.

Sy sit die skinkbord neer. “En waar kan ek een van daardie kry?” Sy wys na die laai.

“Jy kan sommer jou handsak hier bêre vir eers.” Hy tel haar handsak op en sluit dit in sy laai toe. “Jy wil nie kanse vat in hierdie plek nie.”

“Dankie, Frank. Hoe gaan dit in die kombuis?”

“Stil en rustig op die oomblik. Maar middagete se tyd hardloop ons almal soos ’n klomp afkophoenders, jy sal sien.”

Haar maag maak ’n snaakse draai. Al sal sy dit nie sommer erken nie, is sy meer senuweeagtig as wat sy verwag het. Sy bekommer haar nie daaroor of die klante van haar sal hou nie – daaroor twyfel sy nie ’n oomblik nie – maar sy is heeltemal uit haar comfort zone in hierdie plek. Sy weet niks van bestellings vat en rare, medium en well-done en … en …

“Is jy oukei, Jaz? Jy lyk vir my ’n bietjie bleek.”

Sy sluk. “Ek hoop nie mense is vandag lus vir steak nie. Ek mag dalk net naar word.”

Hy steek sy hand uit, vryf haar skouer. “Toemaar, Jazzie. Ek weet jy like nie die sight van bloed nie, maar as jy rondhardloop, gaan jy nie eens dink aan die kos op die borde nie.”

Hy gee vir haar ’n voorskoot aan. “Het jy pen en papier?”

Sy knik. Dis een ding wat sy darem onthou het.

Sy bind die voorskoot om haar middel. Vlekke van kos en wie weet wat nog als oortrek haar hele bors. Dis absoluut walglik! Hoe gaan sy ooit deur ’n ontwerper raakgesien word as haar klere onder spatsels wyn en balsemasyn weggesteek word?

“Pragtig, jou kelnerin jy!” roep Frank uit asof dit haar trou-dag is.

Sy trek haar mond skeef.

Gary verskyn in die deur, knik stadig terwyl sy blik oor haar gly. “Ek sien jy het reggekom met ’n voorskoot. En Alex het jou gewys watter tafels joune is?”

Sy glimlag haar beste Jaz-glimlag. Binne skree haar fashion-hartjie hoe belaglik die voorskoot haar laat lyk. Dalk hou Gary van meisies in voorskote, skree sy terug. Nie dat sy in hom belangstel nie, solank hy net van háár hou.

“Wel, ek –”

“Jy begin eers net met vier tafels, dan kyk ons hoe dit gaan.”

“Reg so, Gary, net wat jy wil hê.”

“Vra vir Alex as jy enigiets wil weet. Sy werk al langer as die meeste van ons by die Slug.”

Fantasties. Alex Die Kelnerin Van Die Jaar is mos so behulpsaam. Alex se totale agterent (wat myle groter as Jaz s’n is). Sy wat Jaz is, het niemand nodig nie; sy kan op haar eie regkom.

Sy buk verder as wat nodig is om die skinkbord op te tel, sodat Gary kan kans kry om haar klein, stywe agterent te waardeer. As hy verby die aaklige voorskoot kan sien!

“O, en Jaz …”

“Ja?” Sy draai na hom.

“Jy kry nie soos die ander betaling per uur vir hierdie week nie. Dis net fooitjies.”

Haar hart sak tot in haar Country Road-leerstewels. Dis nie regverdig nie! wil sy veg en baklei en sommer dadelik haar voorskoot in Gary se gesig smyt nog voor sy begin het. Maar sy het nie veel van ’n keuse nie. Sy is desperaat; Pa Coetsee se laaste ponde is opgerook, uitgedrink, opgekoop. Die naarheid voel nou gevaarlik naby.

“Goed,” is al wat sy kan uitkry.

“Maar ek is oortuig daarvan dat jy baie geld gaan maak,” verander Gary se stemtoon skielik en hy knipoog vir haar.

Aha! Al dra sy ’n voorskoot, flirt mans steeds met haar.

“Ek sal my bes doen, Gary,” antwoord sy met wat sy hoop ’n selfversekerde glimlag is.

Frank skud sy kop toe Gary uit is.

“Wat kyk jy so?” vra sy.

“Jy moet wegbly van daai man, Jazzie. Alex sal jou oë uitkrap.”

“Alex Shmalex, man! Wie is sy nou eintlik?” Net om die Aussie te irriteer, sal sy nou aspris by Gary aanlê, die pap lekker dik aanmaak.

Frank lig ’n wenkbrou. “Hokaai, tierwyfie. Ek waarsku jou maar net, vriendin tot vriendin.”

“Whatever, Frank. Jy’s nie my pa nie!”

En ook nie haar vriend of “vriendin” nie. Sy wil niemand se hulp of raad hê nie, kan almal haar in vadersnaam net uitlos! Net omdat sy dom genoeg was om te veel Slug Specials te drink en Frank van haar werksituasie te vertel, beteken dit nie dat hulle skielik “vriendinne” is nie. Jess is haar vriendin! Haar een en enigste!

Frank se gesig verkleur. “En dankie tog daarvoor, want jy is een ondankbare blerrie dogter!” snou hy haar toe.

Voor sy haarself kan keer, gooi sy die skinkbord met sout-en-peperpotte en al teen die muur. Stukkies glas, sout en peper skiet die hele plek vol. Dit land op Frank se klere, die vloer en die kelners se sluitkaste. Net die skinkbord land met ’n harde slag in een stuk op die vloer. Dit tol ’n paar keer in die rondte voordat dit roerloos gaan lê.

Minder as vyftien minute: Dis hoe lank sy by die restaurant was. Dis die tyd wat dit haar gevat het om haar werk te verloor. Dit moet ’n nuwe rekord wees, dink Jaz bitter.

Sy skink ’n gul sopie vodka uit die bottel wat sy by duty-free gekoop het. Sy draai die koffiebeker met vodka om en om in haar hand en lees die woorde You are a star wat daarop gedruk is. Ja, reg. Sy is ’n ster. ’n Gevalle ster.

Sy sluk die sterk drank af en ril. Dis nie elke dag dat sy vodka skoon sal drink nie, maar vandag is nie elke dag nie, of hoe?

Sy tel die afstandbeheer op, skakel die televisie aan, gooi nog ’n vodka. Sy slurp-slurp daaraan en staar na die skerm, sien niks. Sy weet wat haar ma sou gesê het: “Kom huis toe, Maretha, jy kan saam met my by die salon werk. Jy sal goed wees met naels, jy het dan so ’n natuurlike aanvoeling vir mode en kleur.”

Gmf. Naels, blerrie naels. Dink Moeder waarlik dat sy enigsins daarin belangstel om plastiekpoppies van Sandton se naels te doen? Sy sal eerder Kilimandjaro kaalvoet uitklim.

Sy lig haar regterhand, vryf liggies oor die lelike litteken. Besef sy sal self kan doen met ’n manikuur, maar waar gaan die geld daarvoor vandaan kom? Haar verdomde pa en sy nuwe gesin het als van haar gevat. Sy haat hulle almal!

Vodka drink, dis al wat vir haar oor is om te doen. Die beelde op die televisieskerm begin swem. Het sy vanoggend ontbyt geëet? Sy kan nie onthou nie, die alkohol het haar geheue ook aangetas.

Waar is jy, Jess? Ek mis jou … Ek wil jou vertel van die fokop wat ek van als maak. Hoe drie jaar se swot en drome – onthou jy, Jess? – tot niet is in hierdie aaklige land. Hoe ek nie eens vir langer as ’n minuut ’n oortuigende kelnerin kon wees nie. Ek mis jou, vriendin …

Iemand skud haar skouer. Wat is dit nóú weer? Kan almal haar nie blerriewil net uitlos nie?

“Ga weg,” mompel sy.

“Jaz? Is jy oukei?”

Dis Annika. Wat doen sy so vroeg by die huis?

“Los my uit.” Sy draai om, weg van Annika se aanraking.

“Wat gaan aan met jou?” Annika klink bekommerd.

Jaz wonder hoekom. Sy laat rus tog net haar oë hier op die bank, wat is fout daarmee? “Niks.”

“Het jy pille gedrink of iets?”

Jaz maak haar oë oop, knip hulle ’n paar keer, draai so dat sy Annika kan sien. Sy kan die wit van die jonger meisie se koeëlronde oë in die skemer vertrek uitmaak. “Nee, Annika, net ’n bietjie vodka. Ek was ontsteld.”

Annika skakel die lig aan. “Sjoe, jong, jy’t my nogal laat skrik. Hier lê jy in die donker met ’n halfleë bottel langs jou …” Sy tel die bottel op en skud dit.

Jaz skuif regop op die bank. “Dis net vodka! Wat is jy so paranoïes?”

“Frank het my gebel en gesê …”

Blerrie Frank kan ook nie sy bek hou nie. Sy gaan nooit, ooit weer met hom praat nie.

“Ja, wat het hy gesê? Het hy nou weer by jou geskinder oor my?”

Annika frons. “Nee, Jaz, hy’t gesê hy’s bekommerd oor jou en het gevra of ek vandag vroeër kan huis toe kom om seker te maak dat jy oukei is.”

“O, so nou het ek ’n pa én ’n ma wat my dophou?”

“Wat?” Annika se skouers verstyf. Jaz is seker as sy ’n kat was, sou die hare op haar rug nou penorent gestaan het. “Nee, ons gee net om vir jou.”

“Whatever.” Jaz weet dis bitchy, maar sy het nie hulle simpatie nodig nie.

Sy sien hoe ’n verskeidenheid emosies oor Annika spoel. Sy lyk kwaad, maar dan skud sy haar kop. “Jy is ontsteld, so ek gaan jou uitlatings eerder ignoreer. Wil jy koffie hê?”

Jaz blaas haar asem stadig uit, die wind skoon uit haar seile. Wat is fout met hierdie Annika-meisie? As iemand so met háár gepraat het, sou sy haar sweerlik die leviete voorgelees het.

Hmmm, koffie klink eintlik nogal lekker. Sy kyk na Annika se geruite romp – heeltemal te lank – en bonkige groen trui. Jess sou nooit, ooit so iets naby haar slanke lyf gebring het nie! En nie in ’n duisend jaar met iemand soos Annika gesels het nie, om nie eens te praat van saam koffie drink nie.

Jaz se hart trek onverwags saam en haar onderlip begin bewe. Sy kyk weg. Annika moet net nie sien dat sy wil huil nie.

Annika tel die You are a star-koffiebeker op. “En dié?”

Jaz maak keel skoon. “Jammer. Daar is nie meer skoon glase nie.”

Sy wag vir Annika om met haar te raas, want sy weet hoe erg Annika oor haar koffiebekers is.

“En jy kon nie vinnig net ’n glas uitspoel nie?” Annika se stem is ferm maar gelykmatig.

Sy klink soos Moeder as sy met een van haar werkers praat, dink Jaz. Ga! Hierdie meisietjie sal haar wát verbeel om so te praat met iemand wat ’n volle drie jaar en een graad ouer as sy is. Maar Jaz is te moeg om verder te baklei.

“Ek is jammer, Annika.”

Annika sug. “Dis te verstane, maar sorg asseblief dat dit nie weer gebeur nie.”

Sy loop kombuis toe. Jaz hoor hoe die ketel aangeskakel word.

Is dít hoe dit in Engeland gaan? Jou huismaats word jou familie, al sou jy terug by die huis nie dood gesien word in dieselfde vertrek as dié mense nie?

Sy vee geïrriteerd oor haar wang. Sy wil nie huil nie, want dit beteken dat sy dalk tog iets vir hierdie mense begin voel. En sy weier om aan enigiemand geheg te raak.

“Oukei, ek kan nie meer hierdie spanning in die huis verdra nie, dis tyd vir ’n huisvergadering,” kondig Annika aan.

Sy het by Jaz se kamer ingebars sonder om te klop; nou staan sy met haar hand op haar heup en wag vir Jaz om te reageer.

Dis al ’n paar dae sedert haar en Frank se woordewisseling by die Slug, en hulle albei weier om eerste om verskoning te vra. Jaz maak seker dat Frank uit die huis is wanneer sy in die oggende opstaan, en dat sy in haar kamer in haar duvet toegerol is as hy saans tuiskom.

“Jesus het ons almal vergewe, so ons moet mekaar ook vergewe!”

Jaz laat sak haar sketsboek. Siestog, Annika lyk skoon ontsteld. Sy sug innerlik. Ugh, die Jesus-praatjies. Annika se weeklikse Bybelgroepiesessies en kerktoeganery soos klokslag op ’n Sondagoggend gaan duidelik na haar kop toe – tot Frank en Jaz se frustrasie.

Sy maak haar sketsboek toe. “Goed, as jy belowe om op te hou om oor Jesus te praat.”

“Maar dis waar!”

“Sharrap, Annika, ek kom.”

Annika weeg haar woorde. Jaz wonder of sy nou weer ’n Bybelversie gaan aanhaal, maar sy sê net: “Frank wag in die sitkamer.”

Hy sit voor die televisie, die afstandbeheer in sy hand. Hy skakel die televisie af toe hy Annika se gesigsuitdrukking sien. Jaz vou haar arms voor haar bors, leun teen die muur.

“Frank en Jaz, kan julle asseblief julle nonsens uitsorteer en vir mekaar jammer sê?”

Jaz staar na die vloer. Die mat kort ’n was, sien sy.

“Jasmyn?”

O fok, as Annika haar eers op haar tweede naam noem … Haar stemtoon is al weer soos Moeder s’n as sy met haar werknemers praat. Wie dink hierdie snotkop is sy?

Jaz kyk op, in Frank se oë. Sy weet nie hoekom nie, maar sy begin giggel. Frank se mondhoeke lig stadig, dan bars hy uit van die lag.

Annika kyk verbaas na hulle. “Wat is so snaaks?”

“Jy … jy moes gesien het …” probeer Frank tussen die giggels deur praat, “hoe daai soutpotte getrek het!”

“En jou ge- … jou gesig!” probeer Jaz die woorde uitkry. Sy hou haar maag vas soos sy lag.

“En Gary se gesig!”

Jaz vou dubbel, slaan met haar linkerhand teen haar been. “Histeries!”

Frank staan op en sit laggend sy arms om haar. Sy lag, en lag, en lag.

Annika se gesig is ’n studie van verwarring. “Julle twee is heeltemal mal.”

Dit veroorsaak ’n nuwe lagbui. Jaz en Frank klou aan mekaar soos hulle gil en skree van die lag.

Dan tree Jaz uit Frank se omhelsing en vee die trane uit haar oë. Hierdie keer veg sy nie daarteen nie.

Ja, Jess, hulle is dalk nie jy nie, maar ten minste is hulle hiér.

Vat 'n gap

Подняться наверх