Читать книгу Tuiste in eie taal - J.C. Steyn - Страница 44
6 DIE HERLEWING VAN ETNISITEIT
ОглавлениеGelukkig is daar ook ’n ander meer positiewe ontwikkeling wat die laaste dekade of wat baie aandag van sosiaalwetenskaplikes gekry het: die “herlewing van etnisiteit” en selfs die “etniese revolusie”.
Geleerdes stem nie saam oor wat etnisiteit presies is en hoe ’n mens dit moet definieer nie. Enige definisie van ’n “etniese groep” sal van twee elemente moet melding maak: (a) herkoms, afstamming, “paternity”, sê Fishman; enige etniese groep, skryf Nathan Glazer, “is defined primarily by descent” en (b) gemeenskaplike aspekte van dieselfde kultuur wat die lede van die groep deel; “patrimonium” noem Fishman dit. ’n Mens is dus lid van ’n etniese groep deels deur geboorte, deels deur wat jy oorerf (en ’n mens erf altyd van jou ouers).
Die gemeenskaplike kulturele trekke van ’n etniese groep kan eetgewoontes insluit, kleredrag, bouwerk, manier van grondbewerking en dergelike meer. Taal is soms ’n onderskeidende kenmerk, selfs die belangrikste kenmerk, maar ’n etniese groep praat partykeer dieselfde taal as die res van die gemeenskap. Die Noord-Ierse Katolieke, die Britse Jode en sommige Amerikaanse groepe praat dieselfde taal as die res van die bevolking.
Taal kan die sterkste simbool van die etniese groep vorm. Die taal kry die lede van die groep “saam met die moedersmelk” in en waar mense soms nie meer die taal van die etniese groep praat nie, word dit ervaar as ’n deel van die kulturele erfenis wat verlore geraak of hulle ontneem is. Dit het uit ’n aantal ondersoeke geblyk dat lede van sommige etniese groepe soos die Walliesers hulle nouer identifiseer met iemand wat dieselfde taal praat as met iemand wat dieselfde kulturele agtergrond het.[65]
Etnisiteit neem in verskillende wêrelddele verskillende vorme aan. Die Amerikaanse etniese groepe strewe byvoorbeeld nie na selfstandige state nie, terwyl van die etniese groepe in Europa juis groter outonomie wil hê.
Wat aanleiding gegee het tot die oplewing van etnisiteit is juis die verskynsels wat sommige sosiaalwetenskaplikes verwag het onderskeide tussen groepe minder skerp sal maak. Die industrialisering, burokratisering en gelykmaking het in sommige lande gelei tot ’n mate van verset en ’n strewe na outonomie om die individualiteit van bepaalde groepe te behou. ’n Wes-Europese politikus het aan ’n Amerikaanse blad gesê: “Soveel dinge, van Kalifornië tot Wes-Berlyn, is presies dieselfde: van wasmasjiene tot lughawens. Mense wil ’n teken van oorspronklikheid hê. Hulle is natuurlik lede van ’n nasie, maar dis in ’n kleiner groep dat hulle iets beteken.” Patricia Elton Mayo, skrywer van The roots of identity, glo hierdie basiese behoefte aan identiteit is ’n regstreekse bedreiging vir “die dogmatiese sentralisme en die passie vir sosiale eenvormigheid” wat die burokrate en ortodoks linkses in Europa met mekaar deel. Die moderne nywerheidsgemeenskap is “eenvormig en sonder wortels, en die burger is ver verwyder van die wat oor sy lot beskik”. Paul Sérant, skrywer van La France des minorités, sê: “Waarteen al die separatistiese bewegings veg, is grootheid.”[66]
Die oplewing van etnisiteit waarborg nie die behoud van kleiner tale nie. Die Iere en Skotte het ’n sterk identiteitsgevoel, maar nie ’n algemene begeerte om Iers en Gaelies weer as alledaagse tale te gebruik nie. Die Albanese Grieke is ’n aparte groep, maar wil nie Albanees behou nie.
Ook die Baskiese beweging Euzkadi Ta Azkatusuna wat jare lank gestry het vir ’n “Baskiese tuisland en vryheid”, verskeie sluipmoorde en versetdade gepleeg en in 1979 ’n mate van outonomie gekry het, is nie besonder taalbewus nie en die minste van alle taalgroepe in Spanje in moedertaalonderwys geïnteresseerd.
By sommige van die bewegings speel taal wel ’n groot rol. Die jare sewentig het heelwat “taalinsidente” in Wallis opgelewer.
Die groepe wat hulle vir die behoud van Wallies beywer, het soms Engelstalige padtekens in Walliessprekende distrikte deur Walliese padtekens vervang. Hulle weier om Engels in die howe te praat en betoog voor sakeondernemings en staatskantore wat Wallies verwaarloos. Walliessprekendes sê ook die radio en televisie skeep hulle af. Verskeie Walliestaliges het daarom vroeg in die jare sewentig geweier om televisielisensies te betaal. Sommiges is beboet, ander is vrygelaat. In een geval het die magistraat ’n predikant, twee skoolhoofde en twee onderwysers uit die hof ontslaan nadat hulle geweier het om lisensies te koop omdat die beperkte aantal televisieprogramme in Wallies ’n rampspoedige uitwerking op die taal en kultuur en uiteindelik die identiteit van die Walliese bevolking het. In 1970 het 21 magistrate saam die boete betaal van die toenmalige voorsitter van die Walliese Taalvereniging wat ook oor ’n taaloortreding gevonnis is.
In 1972 het ’n paar jong mense dokumente en leggers van die BBC in Londen gaan beskadig omdat hulle ’n Walliese beeldradiodiens wil hê. Toe hulle in die hof was, het betogers plakkate rondgeswaai met die woorde: “Cymru rydd, Cymru Gymraeg” (“Vrye Wallis, Walliese Wallis”).[67]
Die Walliese taalvereniging, opgerig in 1962, het uiteindelik die regering oorgehaal om sommige amptelike vorms tweetalig te laat druk. Sommige Walliese geregshowe aanvaar getuienis in Wallies sonder dat ’n tolk nodig is en die radio en televisie gee meer aandag daaraan.[68]
Sentrums wat Wallies as tweede taal van volwassenes onderrig het, het van 132 in 1970 tot 251 in 1974 toegeneem. Die eerste hoërskool wat Wallies as onderwysmedium gebruik, is in 1956 geopen, en sedertdien nog ses. Meer Walliesmedium-laerskole kom ook nog by.
Wat die oplewing van Walliese etnisiteit verdere hoop vir die taal gee, is die veranderde houding teenoor Wallies.
Tot taamlik onlangs het Walliessprekendes nog gevoel dat om iets te kan bereik, hulle as individue in die oorheersende Engelse groep moet opgaan deur op te hou om Wallies te praat, hulle name te verengels en Engels sonder ’n Walliese aksent te praat.
Sedert die negentiensestigerjare het baie Walliesers weer Walliese name aangeneem, party het Wallies aangeleer as simbool van hul trou aan Wallis. Terwyl daar vroeër ’n stigma was aan Engels met ’n Walliese aksent is Walliessprekendes nou trots op hul aksent en hulle oordryf dit selfs. Walliesheid is aantrekliker en die aksent is ’n duidelike simbool van lidmaatskap van die groep, lojaliteit en solidariteit.
Mense wat Wallies ken, beskou die taal as die hoofbestanddeel van hul etniese identiteit en wil hê dat ander Walliesers dit ook moet ken voordat hulle egte Walliesers kan wees. A.J. Chapman e.a. meen dat die taalkwessie kan uitloop op ’n verdeling tussen twee soorte Walliesers: dié wat Wallies ken en dié wat dit nie wil leer nie.[69]
Ook die Bretonse etniese beweging het gelei tot ’n belangstelling in die Bretonse taal en letterkunde. Al hoe meer studente kies Bretons as vak. In 1975 het ’n vereniging by Brest ’n Bretonse skool georganiseer vir kinders tussen ses en veertien, en sowat tweehonderd studente het feitlik dadelik ingeskryf. Heelwat van die kultuurbedrywighede kry nogal ’n politieke kleur. Die volksanger Servat het byvoorbeeld ’n loflied op die Baskiese stryd in Spanje as volg afgesluit: “Laat Euzkadi ’n voorbeeld vir ons wees hoe om te leef;/laat die see vir die berg luister;/lyding en koeëls om vry te wees;/en ons liefde vir jou, Bretagne.”
Wat die uitwerking van die moderne tyd op tale sal wees, kan ’n mens nie voorspel nie. Modernisering bevorder die internasionale tale ten koste van kleineres, maar terselfdertyd bied die oplewing van etnisiteit ’n moontlikheid tot die groei van kwynende tale.
Het die moderne tyd bepaalde faktore wat die groei en agteruitgang van tale veroorsaak, uitgeskakel? Wat van politieke en militêre mag? Dié het nie onbelangriker geword nie, maar selfs belangriker. Die moderne staat het ’n al groter invloed op die burgers. Ons kry al meer te doen met staatsinstellings. Ons luister en kyk radio en televisie, wat in die oorgrote meerderheid lande onder staatsbeheer staan. Militêre en politieke magteloosheid is vir ’n taalgemeenskap gevaarliker as ooit.
Ekonomiese mag? As ’n gemeenskap so arm is dat hy byvoorbeeld nie uitgewerye het vir sy boeke en ander publikasies nie, moet hy kultureel kwyn. Dit kos eindeloos meer as vroeër om ’n koerant te begin en daarmee vol te hou en boeke uit te gee. ’n Arm gemeenskap kan nie private skole stig om, indien nodig, onderwys deur medium van dié taal te gee as die taal verbied sou word in staatskole nie.
Die kulturele instellinge het hul groot invloed behou en selfs vergroot. Die stryd van klein tale het moeiliker geword. En hulle sal alleen behoue bly as sprekers vasbeslote en onversetlik vasbyt om te verhoed dat hul tale nie uitgeskakel word nie.