Читать книгу Tuiste in eie taal - J.C. Steyn - Страница 43
5 MODERNISERING
Оглавление’n Volledige “beeld van ons tyd” is in ’n kort afdeling soos dié onmoontlik en onnodig. Tog sou ’n mens darem te onvolledig wees as jy nie ’n paar opmerkings maak oor ontwikkelings in die laaste paar dekades wat die posisie van klein tale regstreeks of onregstreeks raak nie. Die ekologiese krisis moet maar buite beskouing bly, al sal enigiemand besef dat die dreigende tekorte aan voedsel, landbougrond, energiebronne en allerhande soorte grondstowwe, asook die toename van die bevolking, veral in die Derde Wêreld, ook vir klein taalgemeenskappe onplesierige gevolge kan inhou. Ek wil hier net aandag aan ’n paar gevolge van modernisering gee.
Die uitwerking van modernisering is op verskillende maniere interpreteerbaar. Sommige geleerdes het groter assimilasie en integrasie verwag – selfs ’n stadium waarin die verskille tussen gemeenskappe in so ’n mate sal verdwyn dat ’n soort wêreldstaat maklik tot stand kan kom. Die etniese konflikte van die laaste anderhalf dekade toon dat daar vir dié verwagting gelukkig nog geen gronde is nie.
In hierdie afdeling word eers ingegaan op ’n paar gevolge van modernisering wat denkende lede van kleiner gemeenskappe as bedreigings aanvoel en in die volgende op ontwikkelings wat sulke tale bevoordeel, al is dit dalk net tydelik.
Die potensieel nadelige gevolge van modernisering kan ’n mens in twee tipes verdeel. Die eerste hang baie nou saam met die stimulus wat industrialisering sedert die jare veertig deur die militêre revolusie gekry het. Nuwe apparate, masjiene en vervoermiddels bevorder kontak tussen mense – en oor die algemeen bevorder dit die groot tale ten koste van die kleineres.
Op die oomblik ervaar veral die lande van die Derde Wêreld die bevolkingsverskuiwing van die platteland na die stad, iets wat met alle soorte industrialisering gepaard gaan. In die stede en dorpe kom mense uit verskillende taalgemeenskappe en -gemeenskappies by mekaar uit. Hulle verstaan dikwels nie mekaar se tale nie en moet dan ’n lingua franca gebruik – soms die onderwystaal. Dié is in baie van die lande van die Derde Wêreld die gewese koloniale taal.
’n Ander gevolg van modernisering is die konsentrasie van ekonomiese mag in die hande van ’n klein aantal reusagtige maatskappye. Dis veral die groei van die multinasionale maatskappye wat deesdae kritiek van baie kante kry. ’n Deel van dié kritiek is seker oordrewe: daar is ook multinasionale maatskappye, soos die Suid-Afrikaanse Rembrandt-groep, wat geen “imperialistiese” oogmerke het nie; ook die betreklik min Europese multinasionale maatskappy is vir klein lande nie so ’n groot bedreiging nie.
Heelwat anders is dit gesteld met die meeste multinasionale korporasies van die VSA. ’n Paar syfers toon hoe sterk die greep is wat hulle langsamerhand op die ekonomieë van ander lande verkry. Tussen 1961 en 1970 het Noord-Amerikaanse elektroniese maatskappye 1 006 takke in die buiteland gestig, die petrochemiese maatskappye 1 379 takke, en die vervaardigers van verskillende soorte masjinerie 1 317. Die meeste Amerikaanse elektroniese firmas kry meer as 40 persent van hul inkomste uit ander lande. Sulke maatskappye ding mee met inheemse ondernemings wat gewoonlik nie so kapitaalkragtig is nie en die gevaar loop om óf ingesluk te word óf onder te gaan.
Verskeie skrywers, veral uit Frankryk, het hulle al baie negatief oor die taal- en kulturele gevolge van die uitbreiding van die multinasionale korporasies uitgespreek. Elke nuwe multinasionale onderneming in ’n land beteken ’n nuwe uitstralingshaard vir Engels, of om ’n Brusselse uitdrukking te gebruik, ’n nuwe Engelse olievlek. Die mag van die maatskappye brei uit omdat hulle die vernaamste verskaffers is van nuwe produkte – soos onder meer oudio-visuele hulpmiddele by die onderwys, kabeltelevisie en videokassette.
Die ekonomiese konsentrasieproses raak ook op ’n ander manier taal- en kultuurgebonde ondernemings. In die meeste demokratiese lande verskyn daar al hoe minder koerante. Party Westerse stede het óf geen koerant nie óf net een of twee. Die moderne koerant eis ’n groot kapitaalbelegging en dis dus nie maklik vir ’n arm gemeenskap om ’n nuwe koerant te stig nie. Koerante is ook minder winsgewend omdat ’n groot deel van die advertensiegeld na die televisie gaan. Vir ’n klein taalgemeenskap raak koerante in sy eie taal ’n voorreg wat hy maklik deur armoede of politieke ontwikkelinge kan verbeur.
’n Derde gevolg van modernisering is die groter kontak wat die vinnige voertuie tussen mense moontlik maak. Toeriste en pendelaars (mense wat elke dag werk toe en terug ry) het ’n invloed op die posisie van klein tale.
Vir die intellektuele leiers van klein taalgemeenskappe soos die Oksitaans- en Walliessprekendes is die toenemende toerisme en die vakansiehuise van die ryk andertaliges in hul gebiede al hoe meer ’n doring in die vlees. Hulle meen dat toerisme ’n verderflike invloed het op die ekonomie, kultuur en persoonlikheid van die bevolking. Die gevolge van toerisme vir Oksitanië (in Frankryk) vat Meic Stephens as volg saam: “The Cote d’argent, for example, has been developed by purchase of land at low prices, the exclusion of regional companies, the clearing out of the local population or their employment in the seasonal trade at the most menial level, followed by massive immigration by wealthy families from Italy, Germany and the Netherlands.”[53] In Wallis is teenkanting teen die vakansiehuise van ryk Engelse deel van die veldtog vir die handhawing van Wallies. Militante Walliesers het veilings vir sulke huise ontwrig en party wonings ’n tyd lank beset. Nie net in Wallis en Oksitanië nie, maar orals waar daar mooi landskappe is, maar waar die gebiede dun bevolk is vanweë ’n swak ekonomiese beleid, vorm toerisme ’n bedreiging vir die bestaande taal en kultuur.
’n Vierde kenmerk van ons tyd is die uitbreiding van die onderwys na alle lae van die bevolking. Die klein tale vind egter nie soveel baat hierby as wat ’n mens sou verwag het nie. Baie ouers in die Derde Wêreld is gekant teen onderwys vir hulle kinders deur middel van die moedertaal. Wat kan ’n mens met jou eie taal doen?, vra hulle. Miskien net eendag onderwyser word in ’n skool waar jy die kinders deur middel van hul moedertaal kan onderwys. Die kennis van ’n internasionale taal gee groter geleentheid vir studie en meer soorte werk – ook buite jou eie omgewing, selfs in ’n ander land.
Die modernisering van die wêreld word moontlik gemaak deur die sogenaamde “kennis-ontploffing”. Die resultate van die navorsing verskyn in internasionale wetenskaplike tydskrifte – en natuurlik net in die internasionale tale, veral Engels. Wetenskaplikes van ontwikkelde lande soos Holland, Tsjeggo-Slowakye, Pole en die Skandinawiese lande publiseer minstens ewe veel in internasionale tale as hul eie.
Groter kontak bevorder die kennis van die grootste internasionale tale – of dit nou in ’n stad is waarheen mense van verskillende taalgroepe uit die platteland stroom en of dit nou via hoogs gesofistikeerde wetenskaplike kongresse en tydskrifte is.
’n Laaste gevolg van die modernisering is die opkoms van die massakommunikasiemedia. Miljoene mense luister na die radio en kyk televisie en rolprente. Omdat mense al hoe meer vrye tyd tot hul beskikking het, is die potensiële uitwerking daarvan baie groot.
Die massamedia is een van die belangrikste verbreiders van die Amerikaanse massakultuur. Soos reeds in hoofstuk 2 vermeld, het dié kultuurvorme gehelp om andertaliges aan die Amerikaanse volk te assimileer. Nathan Glazer, wat hierdie proses beskryf, sê dat dié kultuur ’n wyer invloed het as net op Amerika. Dié massakultuur, skryf hy “was gradually shaped under democracy so as to appeal, for the greater benefit of its producers, to the largest numbers. American mass culture learned to create products which have, it appears, as great an appeal to the most diverse peoples of the world as to Americans. It has made English – along with its political and commercial importance – the language that the world’s youth feels it must acquire first in order to become stylish and modern. If it has this effect in Japan, how much more effective is it in America? American mass culture was created to appeal to people of the most diverse backgrounds. Tested successfully, it now goes abroad to create new emigrants-in-spirit from their own country and from their own cultures.”[54]
In hoofstuk 1 is gesê dat die televisie een van die sosialiserende instansies is by die taalverskuiwingsproses van ’n nuwe geslag. As die televisiediens één taal in ’n twee- of meertalige staat afskeep, kan ’n mens verwag dat die afgeskeepte taal daaronder gaan ly.
Dis moeilik om die aandeel van elkeen van die genoemde moderniseringsverskynsels, soos die televisie, presies te bepaal. Oral waar die taalsituasie die laaste drie, vier dekades verander het, het hierdie faktore saam ’n rol gespeel.
In die Midi van Suid-Frankryk (veral die omstreke van Toulouse) het mense vroeër ’n Oksitaanse dialek en Frans gepraat – eersgenoemde in die omgang, laasgenoemde in die skole, sakeondernemings en staatsinstansies. Nou is die gebied grotendeels eentalig Frans. Ondersoekers skryf dit toe aan industrialisering, die massamedia en die groot sametrekkings van landelike bevolkings op plekke binne bereik van die media en die nywerhede. Mense ry heen en weer na die werk en daar is ’n groot immigrasie van buitelandse werkers en hul gesinne. Hulle het moeite met Frans en sal beslis nie die Oksitaanse dialek leer net ter wille van die plaaslike bevolking nie.
Die omgewings waar mense nog die dialek gebruik, is klein plekkies met 500 en minder inwoners. Daar is die inwoners hoofsaaklik boere en mense wie se werkplek naby hul woonplek is. Hulle kry ook baie min immigrante.[55]
Daar is ’n hele paar klein tale waarvan die posisie swak is omdat dit óf geen eie televisiediens het nie óf ’n diens wat veel minder tyd daaraan afstaan as aan ’n mededingende taal. Benewens ’n paar voorbeelde wat in hoofstuk 12 ter sprake kom, is daar Fries in Nederland, Nederlands in Duitsland en van die kleiner tale in die Sowjet-Unie.
Daar is geen Friese televisiediens nie en oor die radio kry die taal elke dag net sowat ’n halfuur sendtyd. Albei die dagblaaie van Friesland is Nederlands, hoewel albei ook stukke in Fries opneem.[56]
Terwyl Nederlands veld wen in Friesland, het dit in Wes-Duitsland heeltemal ondergegaan. Marten Heida skryf dat, naas ander faktore, die massamedia bygedra het tot die verval van Nederlands in die Neder-Rynland. “Zoals dat in meer landen het geval is (bijv. Frankrijk) blijkt ook in Duitsland met name de televisie een machtig middel te zijn om taalminderheden binnen de eigen grenzen onder het officiële kultuurjuk te doen ondergaan.”[57]
Die agteruitgang van die kleiner tale van die Sowjet-Unie hang van verskeie faktore (soos die onderwys) af. E. Glyn Lewis skryf dat “manipulasie van die massamedia” die taalongelykheid vergroot. Volgens die televisieprogramme wat een koerant op ’n dag in 1970 gepubliseer het, sou ’n plaaslike televisiestasie ’n uur en ’n kwart in Kirgissies en vier en ’n half uur in Russies uitsaai. Die tweede program, uit Moskou, is geheel en al in Russies. Die volgende dag sou die twee stasies elf uur in Russies en vier uur in die plaaslike taal uitsaai.[58]
Die taal wat die grootste voordeel trek uit al hierdie ontwikkelinge, maar ook uit sy geskiedenis van die afgelope twee eeue (die groot koloniale ryk, die lewendige internasionale handel van die nasies wat dié taal praat, en die militêre mag en aansien van twee wêreldoorloë en daarna) is Engels. Meer as die helfte van die wêreld se wetenskaplike en tegniese tydskrifte verskyn daarin. Dis die taal van ’n driekwart van die wêreld se posstukke en sestig persent van alle radiostasies. Die Sowjet-Unie en Kommunistiese China gebruik baie Engels in hul radiopropaganda na Afrika en Asië. Die United States Information Agency met sy biblioteke en sentra in verskeie lande en die British Council met sy Engelstalige skole help die verbreiding van Engels. Die vernaamste vreemde taal wat kinders oor die hele wêreld leer, is Engels.
Dit is die amptelike taal of een van die amptelike tale in baie state. Omstreeks 1974 het twintig uit 102 lande met ’n klein aantal Engelssprekendes Engels as enigste of een van die amptelike tale gebruik en in nog 36 lande het dit ’n bevoorregte status gehad as geregshof- of onderwystaal.
Volgens ’n ondersoek in 88 nie-Engelssprekende lande was Engels die onderwysmedium in agttien lande en ’n hoërskoolvak in 61. In sommige laerskole van vyftien lande was dit die onderwysmedium. Ongeveer 115 miljoen mense in dié state het derhalwe min of meer intensief met Engels in aanraking gekom.[59] Veral in die gewese Britse kolonies het Engels ’n sterk houvas.
Dat nie almal ewe vrolik is oor die sukses van Engels nie, is te begrype. Hoewel die Sowjet-Unie Engels as skoolvak in baie skole aanbied en in Engels uitsaai, voel baie Russe onrustig. “Die Amerikaanse koloniseerders, wat na wêreldoorheersing streef, wil hê dat Engels as die wêreldtaal erken word wat alle ander tale moet vervang,” beweer die Sowjet-Unie.[60]
Baie Franse geleerdes en politici knoop die stryd aan teen die binnedringing van Engelse woorde. In ’n debat oor wetgewing wat Frans in die handel, advertensies, saketransaksies en kontrakte verplig, het ’n Franse parlementslid gesê: “Ons dink later dat Engels die enigste taal is waarmee ons moderne idees en tegnieke kan weergee.”[61]
Daar is nog ’n natuurlike ontwikkeling wat Engels begin belemmer, nl. die ontstaan van Afrika- en Asiatiese dialekte wat partykeer moeilik verstaanbaar is vir ’n Brit of Amerikaner. Die Franse Afrika-taalkundige Pierre Alexandre skryf dat Britse akademici al vir hom gesê het dat hulle die Frans van iemand uit Senegal of die Ivoorkus beter verstaan as die Engels van iemand uit Ghana of Nigerië. “The case of Sierra Leonean Krio leads one to think that unless this evolution is controlled, it might lead to the formation of new languages with no international value, whose speakers would thus be obliged to learn … English. We have not yet reached this point. Several factors, such as the development of local universities and the increase of international contacts, should limit this evolution …”[62] Ook ’n Indonesiese taalkundige, S. Takdir Alisjahbana, sê dat kommunikasie in Engels op internasionale konferensies belemmer word deur die verskillende uitsprake van Engels deur mense van verskillende nasionaliteite.[63]
Behalwe hierdie meer uiterlike gevolge van modernisering is daar ook meer “geestelike” gevolge.
Twee belangrike kenmerke van ’n landelike beskawing is die byna natuurlike godsdienstigheid van mense en hul eerbied vir gesag en tradisie. Die stadslewe tas albei hierdie behoudende kragte aan.
Losheid van die kerk en die godsdiens het, behalwe natuurlik vir mense se gemoedsrus en “saligheid” (wat hier nie ter sake is nie) ook implikasies vir die beskawing oor die algemeen en vir ’n taalgemeenskap in die besonder. In vorige hoofstukke is aangevoer dat die godsdiens en die kerk kan help dat mense hul taal behou (Pools en Wallies; Duits en Frans ’n tyd lank in Amerika). Maar die veronderstelling was: die godsdiens kan godsdienstige en kerkvaste mense help om hul taal te behou. Die toename van onverskilligheid teenoor die kerk en die godsdiens oor die algemeen beteken ook die verlies van ’n krag wat mense potensieel aan ’n bepaalde taal en kultuur kon bind.
Richard Lowenthal sê in ’n bespreking oor “die verlies van bindinge” iets behartigenswaardigs oor die verswakking van bande met die nasionale of staatkundige gemeenskap omdat die jeug hom nie histories daarmee identifiseer nie. Vinnige veranderings bevorder die afsterwe van mites en historiese legendes, en ondermyn die trou wat daarop gegrond was. In Duitsland het dit soms gelei tot ’n byna volkome verlies van historiese gevoel onder jongeres.
“But as a tendency it can be observed also in the young generation of other Western nations. The decline of nationalism in those countries – so strongly contrasting with developments in the new, ex-colonial states – makes their young generation available in principle for more comprehensive, European, or universal ties – but it does not create such new ties by itself. For the time being, the loss of traditional ties thus leaves a gap in identity. It exposes the uprooted individual to the attraction of fictitious ties – say, to the non-existent ‘revolutionary world proletariat’ or to the ‘liberation movements’ of the former colonial nations – once those are offered to him by intellectual defectors from the West.”[64]
Dis ’n belangrike tendens waarop Lowenthal wys. Daar is ook oënskynlik teenstrydige tendense (wat onmiddellik hierna behandel word), maar die a-historiese, a- of selfs anti-nasionale houding van sommige jongeres is vir klein taalgemeenskappe vanselfsprekend iets onrusbarends. Dis nogtans foutief om dit as ’n tendens by “die jeug” te beskou, selfs by “die jeug” van die Weste. Dit blyk reeds uit die deelname van jongeres aan die “etniese revolusie”. Miskien is dit ’n tendens by jongmense uit groot onbedreigde gemeenskappe en mense wat onder invloed van sulke gemeenskappe, soos die Angel-Saksiese, staan.