Читать книгу Tuiste in eie taal - J.C. Steyn - Страница 39
4.2.2 DIE “EINTLIKE” TAALSTRYD
ОглавлениеEen van die moeilike take van die leiers van ’n taalbeweging is om die bevolking te oortuig dat die taalstryd vir hulle voordeel inhou, stoflike voordeel, en dat dit nie maar net ’n stokperdjie van wêreldvreemde “kultuurmense” is nie. Die argumente kry gewig namate die massa agterkom dat die bevordering van die taal werklik vir hulle waarde het, bv. vir sekere betrekkings in aanmerking laat kom.[35]
Die Vlaamse bevolking, en onder hulle die sosialiste, was aanvanklik nie baie geïnteresseerd in die vernederlandsing van hoërskole, konfessionele skole en universiteite nie. Die volk het ’n biefstuk nodiger as “schoon-praterij”, het party leiers gevoel.
Dit het onder meer die wetenskaplik gefundeerde boeke en geskrifte van Lodewijk de Raet (1870-1914) gekos om ook die sosialistiese leiers te besiel: “Taalbelang is ook stoffelijk belang … De Vlaamse Beweging is immers geen uitsluitend letterkundige beweging, nog minder een beweging van liefhebbende archeologen en folkloristen, het is een cultuurbeweging, in de hoogste zin van het woord een sociale beweging … De economie beheerste thans alle machtsverhoudingen … De Vlaamse Beweging is niet op te lossen langs sentimentele weg, maar kan enkel langs economische weg haar einddoel bereiken.”[36]
Maar die behoud van Guarani en Hebreeus toon dat ’n mens nie kan beweer dat net stoflike belange taalbewegings laat slaag nie. Die Paraguayaanse soldate wat Guarani op die slagveld gebruik het sodat hul vyande hulle nie kon verstaan nie, het gevoel dat hulle iets wesenliks van Paraguay verdedig, en die veldtog om die herlewing van Hebreeus is vergemaklik omdat Hebreeus die draer was van die Joodse godsdiens en nasionalisme. Tsjeggiese patriotte sê: “So lank die taal leef, is die volk nie dood nie”.[37]
Nasionale leiers het veral in die negentiende eeu die band tussen taal en volk beklemtoon, of tussen taal en “die volksiel”. “Sonder sy taal”, het J.G. Herder geskryf, “is ’n volk ’n onding, ’n contradictio in terminis.” So voel baie nasionaliste, tot in ons eie tyd. “Sonder Fins is ons geen Finne nie”; “Ons taal, die uitdrukking van ons volk, wat nooit laat vaar kan word nie, is die geestelike fondament van ons bestaan” (aldus die Katalaanse Kultuurraad in 1924).
Ten minste een Asiatiese taal, Indonesies (vroeër bekend as Maleis), het sy amptelike status en groei te danke daaraan dat dit die simbool van die onafhanklikheidstrewe van die volk geword het.
Van vroeg in die twintigste eeu af het Indonesiese intelligentsia die nasionale bewussyn van die bevolking probeer opwek. Hulle het gou agtergekom dat die koloniale taal, Nederlands, nie geskik is daarvoor nie. Te min mense het dit behoorlik geken.
Daar was net een taal wat die meerderheid verstaan het – Maleis, wat eeue lank as lingua franca diens gedoen het. Van die groot politieke partye het dit uit die staanspoor gebruik. In dieselfde tyd het die Nederlandse regering Maleis bevorder deur Maleise hoër- en laerskole en ’n uitgewery van populêr-wetenskaplike leesstof op te rig.
Die nasionalistiese Indonesiese jeugkongresse van 1926 en 1928 het die toekoms van Maleis verseker. Op die tweede kongres het die lede ’n eed afgelê dat hulle aan een nasie behoort, die Indonesiese nasie, een vaderland het, Indonesië, en net een taal, Indonesies. “Één vaderland, één volk, één taal” was die leuse in die vaandel van “Indonesia Moeda” (Jong Indonesië).
Sedertdien was die bevordering van Indonesies (dié naam het die taal op die tweede jeugkongres gekry) deel van die nasionale beweging. Dit was nie vir die intelligentsia almal so maklik nie. Hulle was in Nederlands opgelei en dié taal het hulle makliker op die tong geval in wetenskaplike besprekings as Indonesies. Ter wille van die nasionale eenheid het hulle hulle egter liewer van Indonesies bedien. “Men was zich bewust geworden welk een belangrijk bindmiddel de taal kan zijn, en hoezeer eenheid van taal het nationale saamhorigheidsgevoel kan versterken, een notie, door de romantiek aan Europa reeds meer dan een eeuw geleden bijgebracht. De nationale gedachte adelde dus het nuttigheidsbeginsel; een gevoelsfactor, niet moeilijk te wekken en dan oneindig werkzamer dan louter verstandelijke nutsoverwegingen, kwam nieuwe stuwkracht bijzetten aan de beweging voor één gemeenschappelijke basa Indonesia.”[38]
Toe die Japanners Indonesië in die Tweede Wêreldoorlog beset, wou hulle Nederlands deur Japans vervang. Die besetting het egter korter as vier jaar geduur en in dié tyd moes hulle noodgedwonge Maleis gebruik. Dit het die taal geword van die regering, amptelike stukke, korrespondensie tussen die regering en die departemente en die staatsdepartemente onderling. Dit was ook die voertaal op skool en universiteit. Die Japanners het Indonesies onregstreeks gehelp, want hulle moes dit praat in hul pogings om soldate te werf.
Die Indonesiërs het ’n nuwe sensasie ervaar, skryf die Indonesiese taalkundige S. Takdir Alisjahbana. Terwyl die stryd voortgeduur en die aantal Indonesiessprekendes meer geword het, het die saamhorigheidsgevoel gegroei. “Die Indonesiese taal het ’n simbool van Indonesiese eenheid geword.”[39]
Die noue band tussen taal en nasionalisme is dus nie iets tipies Europees nie, hoewel taal in Europa oor die algemeen ’n groter rol in nasionale bewegings gespeel het as elders. “Was ist des Deutschen Vaterland?” vra die Duitse digter Ernst Moritz Arndt en verstrek die antwoord: “Dort wo die deutsche Zunge klingt und Gott im Himmel Lieder singt.”[40]
Veral in Midde- en Oos-Europa was daar ’n strewe om taal- en staatsgrense te laat saamval.
Tussen 1800 en 1900 het onder meer die volgende Europese tale volwaardige literêre tale (of ná ’n tyd van agteruitgang weer skryftale) geword: Wallies, Noors, Fins, Roemeens, Tsjeggies, Slowaaks, Serwo-Kroaties, Sloweens, Bulgaars, Oekrains, Jiddisj, Estnies en Letties. Elf van dié taalgemeenskappe het die een of ander tyd ’n eie staat gehad: die Bulgare, Tsjegge, Kroate, Este, Finne, Lette, Nore, Roemene, Serwiërs, Slowake en Oekrainers. Die Slowene het ’n mate van staatkundige outonomie verkry.
Maar taalbewegings is nie almal nasionalisties in dié opsig dat hulle ’n afsonderlike taalstaat wil hê nie. Die Reto-Romaanse en Italiaanssprekende Switsers is so getrou aan hul taal as wat moontlik is, maar hulle streef nie na staatkundige onafhanklikheid nie.[41] Miskien is dit omdat die Switserse kantonstelsel die taalverdrukking uitskakel wat kenmerkend is vir eenheidstate.
Die vernaamste deel van die taalstryd is die stryd om funksies in die staatsdiens, weermag, geregshowe en wetgewende liggame. Die sukses van die Vlaamse Beweging wys ’n mens hoe ’n taalgemeenskap hierdie funksies kan verwerf: deur die algemene kiesreg.
Laat ons kyk na ’n ander taal wat met behulp van die kiesreg sy regmatige plek kon kry – Tsjeggies in Boheme, die Tsjeggiestalige deel van die huidige Tsjeggo-Slowakye, ’n gebied waarvan die bevolkingsamestelling deur die eeue baiekeer verander het.[42]
Teen die einde van die agttiende eeu was daar in Boheme nog twee Tsjeggiessprekendes vir elke Duitssprekende. Die toestand van Tsjeggies was egter sorgwekkend. Feitlik net mense in die onderste lae van die bevolking het dit gebruik. Die aristokrasie en hoër stande was verduits.
Die langsame demokratisering van die Oostenrykse deel van die keiserryk het die Tsjegge meer mag gegee. Gevolglik kon Tsjeggies tot sy reg kom, veral in die onderwys. Toe daar in 1897 verkiesings op basis van nuwe bepalinge gevoer is (alle mans bo 24 kon stem) het die Tsjegge soveel verteenwoordigers verkies gekry dat ’n nuwe taalordonnansie aangeneem is. Dit het aan Duits en Tsjeggies gelyke regte in die administrasie van die hele Boheme gegee. Vir praktiese doeleindes het dit beteken dat staatsamptenare in Boheme en Morawië ’n praat- en skryfkennis van Duits en Tsjeggies moes hê. Dié bepaling het die Tsjegge bevoordeel. Hulle het naamlik Duits op skool geleer, terwyl die Duitsers geweier het om die “minderwaardige” taal van hul Tsjeggiese medeburgers te bestudeer. Die eentalige Duitse intelligentsia wou hê dat net hulle taal ’n vereiste vir die staatsdiens moes wees. Gevolglik was daar Duitse betogings en oproer. Dié stryd het die Tsjeggiese Duitssprekendes verder verdeel en help lei tot die streng skeiding tussen die twee groepe waarop in hoofstuk 1 gewys is.
Die demokrasie is net ’n waardevolle middel waar die agtergestelde groep ’n getalsmeerderheid is. Vir ’n minderheid in ’n gesentraliseerde of outoritêre staat of kolonie is geweld partykeer die enigste manier om regte te kry.
’n Belangrike oogmerk van ’n politieke stryd is amptelike status vir die taal. Tale wat erkenning kry, kan vooruitgaan met die krag van die staat agter hulle. Net een voorbeeld, ook uit Asië, om dit aan te toon.
Voor die Tweede Wêreldoorlog het 25,4 persent van die bevolking van die Filippyne Tagalog gepraat en 26,6 persent Engels. Die Filippyne was toe onder Amerikaanse beheer en Engels was die staats- en onderwystaal. (Van die sestiende tot negentiende eeu was die Filippyne Spaans.)
In 1937 is Tagalog gekies as basis vir ’n Filippynse nasionale taal, van dié tyd af bekend as Filipino. Sedertdien het dit skouspelagtig gegroei: In 1948 was 37,1 persent van die mense Tagalog- en 37,2 Engelssprekend en in 1960 was daar 44,4 persent Tagalog- en 39,5 persent Engelstaliges. Tagalog het sy groei te danke aan sy posisie as amptelike taal en taal van die massamedia. Dis ’n skoolvak in alle skole en die onderrigmedium vir die eerste twee skooljare in gebiede waar dit die vernaamste inheemse taal is. Die moderne verkeersmiddele stel mense in staat om na Manila te reis waar Tagalog die oorheersende taal is.[43]
’n Taalstryd omvat gewoonlik ook ’n stryd om meer gebruik in private ondernemings. Leiers van taalbewegings beoog partykeer winkels, banke, koöperasies en ander bedrywe wat werkgeleenthede vir hul eie mense skep.
Een van die taalgroepe wat sy eie besighede opgerig het, is die Tsjegge. Die handel en nywerheid was eers hoofsaaklik in Duitse hande, maar die Tsjegge het hulle vinnig opgewerk en toonaangewende posisies in die ekonomie verower. Só het Emil Skoda in 1868 ’n masjienfabriek in die hande gekry en dit tot die belangrikste wapenfabriek in Oostenryk-Hongarye opgebou. In dieselfde jaar het Tsjeggiese leiers ’n bank opgerig om die Tsjeggiese handel en nywerheid te bevorder.
Die nuwe voorspoed het ook die kultuurlewe laat opbloei. Dit was moontlik om in 1882 ’n Tsjeggiese universiteit te stig en ’n kultuurorganisasie (Matice) het die uitgee van volksboeke en Tsjeggiese skole geldelik gesteun. Toe ’n brand die Tsjeggiese skouburg verwoes, kon die volk self die geld vir ’n nuwe insamel.
Heel terloops kan ’n mens opmerk dat die houding van Duitse nyweraars en grootgrondbesitters die posisie van die Tsjegge verder versterk het. Ekonomiese realiteite het hulle daartoe “gedwing” om Tsjegge (wat minder betaal is) na die Duitse gebiede te laat kom. Daardeur het hulle hul eie taal benadeel, want sekere taalmaatreëls het van krag geword sodra die Tsjeggiessprekendes ’n bepaalde persentasie van die bevolking oorskry. Die aandeel van Duitstaliges aan die bevolking van Praag het van 60 persent in 1857 tot 20 persent in 1880 en 10 persent in 1910 gedaal. Ander Boheemse stede soos Pilsen en Budweis het hul Duitse karakter in enkele dekades verloor.
’n Noodsaaklike deel van die taalstryd speel hom af in die onderwys. ’n Vyandige owerheid kan die kinders van ’n minderheidsgroep probeer denasionaliseer deur hul eie taal in die ban te doen. Soos reeds opgemerk, kan sulke pogings net slaag as daar ’n flou nasionale bewussyn onder die volk bestaan.
Eie skole en universiteite is ’n kragtige middel om ’n taal aan te help. Net in een geval was die skole nie ’n te groot sukses nie – Ierland. Die rede daarvoor is reeds genoem: Iers het al te veel as omgangstaal vir Engels gewyk. Die Iere neem ’n taamlik skisofrene houding teenoor hul taal as skooltaal aan. J.J. Dunne beskryf dit so: “On the one hand the compulsion and pressure associated with it in schools engender hostility … even bitterness; on the other hand traditional nationalistic sentiments inspire the wish that somehow, overnight, a government-promoted miracle would take place which would give everyone, effortlessly, the wonderful gift of the Irish tongue.”[44]
Funksies in die staatsdiens, besighede en onderwys vereis ’n taal wat geskik is daarvoor. ’n Deel van ’n taalbeweging is die werk om die taal bruikbaar te maak vir die handel, administrasie, regswese, weermag, onderwys, wetenskap en alle moontlike terreine van die samelewing. Dit moet “volwaardige kultuurtaal” word.
Een groot voorwaarde daarvoor is dat die taal ’n skryftaal moet wees. Om van ’n praattaal ’n skryftaal te maak, moet taalbeplanners heelwat probleme oplos soos besluit watter dialek of variant van die taal die standaardtaal gaan wees en bepaal hoe hulle die gesproke geluidstroom in woorde gaan verdeel. Geleerdes moet die woordeskat moderniseer.
Die uitbouing van die taal behels gewoonlik meer as net die maak van nuwe woorde of die aanpassing van oues. Die telwoordstelsels van tale in onontwikkelde gemeenskappe is partykeer omslagtig en ontoereikend vir wiskunde. Nuwe stelsels moet dus ingevoer word.
Aanpassings kan ook nodig wees vir die voornaamwoorde. Indonesies het vroeër verskeie aanspreekvorme gehad en dit het van oorweginge soos familieverwantskap en sosiale status afgehang watter een ’n spreker in watter situasie gaan gebruik. Vir ’n moderne samelewing was ’n meer neutrale woord nodig. Die Indonesiërs “eksperimenteer” nou met ’n woord (anda) wat hulle soos die Engelse you vir jonk en oud, mense in ’n hoë of lae posisie, kan gebruik.[45]
’n “Volwaardige kultuurtaal” moet diens doen vir die ernstige letterkunde en moderne wetenskap. Heinz Kloss sê dat ’n mens in ’n kultuurtaal oor al die belangrike vraagstukke van die Westerse kultuur, natuurwetenskap en tegnologie moet kan skryf. ’n Veelsydige gebruiksprosa is byna belangriker as subtiele liriek en grootse eposse.[46]
Ferguson verdeel tale in drie tipes. Die eerste, W0, is dié wat nie geskryf word nie, die tweede, W1, is wel skryftale, maar net in briewe en koerante, terwyl in W2 oorspronklike navorsing gepubliseer word. (Moontlik is ook ’n W3 nodig, sê Ferguson: die tale waarin daar gereeld vertalings en samevattings van wetenskaplike werke verskyn.)[47]
Op die belangrikheid van die letterkunde is reeds vroeër in dié hoofstuk en hoofstuk 2 gewys. ’n Taalbeweging moet ’n letterkunde hê wat die waarde van die taal vir die vyandiggesindes en twyfelaars uit eie geledere kan bewys en wat terselfdertyd die draer is van die nasionale idee.
Terwyl taal- en termkundiges die taal “uitbou” deur nuwe terme te skep en skrywers, wetenskaplikes en joernaliste daarin skryf, moet hulle besluit of die taal “suiwer” moet wees, “van vreemde smette vry” en so verskillend as moontlik van die vernaamste mededingende taal, en of dit maar baie woorde aan laasgenoemde kan ontleen.
Twee uiterste houdings is moontlik. Die een is ’n oordrewe purisme. Tsjeggies het ten tyde van sy oplewing in die negentiende eeu alle Duitse woorde in die ban gedoen. Daardeur het die Tsjeggiese woordeskat vir ’n groot deel iets kunsmatigs verkry. Duitse woorde of woorde wat soos Duits gelyk het, is vervang deur afleidings of samestellings met Slawiese bestanddele. Antoine Meillet skryf dat hierdie handelwyse nadelige gevolge gehad het.
Dit het Tsjeggies ver gehou van alle ander Europese tale, ook van die ander Slawiese tale waarmee dit verwant is. Terwyl Pools ’n menigte woorde behou het wat aan Duits ontleen, maar verpools is, besit Tsjeggies slegs Slawiese elemente. Omdat sy woordeskat so uitsluitend Slawies is, stem dit nie meer ooreen met dié van Pools of enige ander Slawiese taal nie. Daarom het dit betreklik moeilik geword, ook vir sprekers van ander Slawiese tale, om Tsjeggies te lees. Maar die voordeel is dat Tsjeggies geskik is om alle gedagtes uit te druk. Tog het Duits Tsjeggies beïnvloed. Daar is heelwat leenvertaling en baie uitdrukkinge maak ’n Duitse indruk.[48]
Die ander uiterste is so ’n groot toegeeflikheid teenoor vreemde woorde en uitdrukkings, ook teenoor sintaktiese beïnvloeding, dat dit die struktuur van die taal self kan aantas.