Читать книгу Tuiste in eie taal - J.C. Steyn - Страница 29
7 DIE TYDGEES
ОглавлениеBaie tale het uitgebrei as gevolg van die kolonisering van ander wêrelddele – en die algemene publiek en die meeste intellektuele van die koloniale moondhede het dit as heeltemal normaal en selfs wenslik beskou. Vandag is die intellektuele klimaat van die Westerse lande sodanig dat hulle nie kolonisering sal kan aanpak nie. Politieke leiers het in die vorige eeu dinge oor ander rasse en volkere gesê wat geen openbare figuur vandag sal waag om te sê nie.
Daar bestaan kennelik iets soos ’n “intellektuele klimaat”: waardes, norme en riglyne, houdinge, moete en moenies, hoefnies en behoorte wat die intellektueel en langsamerhand die massa aanvoel en waarvolgens hulle handel of praat, of wat hulle ten minste in ag moet neem as hulle daarteen in verset kom. Hierdie klimaat kan ’n mens met die baie onnoukeurige term “tydgees” benoem. Dis ’n swak benaming, maar dit verwys na iets baie reëels. ’n Wetenskaplike kan voel dat hy op ’n sekere manier te werk moet gaan om inligting in te win, dat hy bepaalde metodes mag gebruik, dat “waarneming en klassifisering van gegewens” heeltemal uit die mode is en die “hipoteties-deduktiewe model” die korrekte. Net so sal skrywers en joernaliste ’n aanvoeling hê vir wat “in” is in die politiek en wat jy behoort te skryf as jy van jou tyd wil wees. Die intellektuele mode van die tyd in ’n land of ’n groep lande kan so dwingend wees soos Emile Durkheim se “sosiale feit”.
Die tydgees het ook ’n invloed gehad op die vordering en agteruitgang van tale.
Soos dit uit die volgende hoofstuk sal blyk, het daar in die negentiende eeu bewegings in Europa ontstaan om agtergestelde tale te bevorder. Die bewegings het voortgekom uit die Romantiek, die Aufklärung, en die demokratiese en nasionalistiese denkbeelde van die Franse Revolusie. Eintlik gaan die belangstelling in tale, ook die kleintjies, verder terug. Die Renaissance en die Hervorming (met sy klem op die Bybel in die volkstaal) het ook die volkstale laat opleef.
Een kenmerk van die Romantiek wat die taalbewegings ten goede gekom het, was die nadruk wat dit op die eie gebring het. Die Franse skrywer Chateaubriand was bang vir die verskrikkinge van ’n universele maatskappy waarin die verskille tussen die volkere sou verdwyn. Walter Scott het gesê: “Laat ons bly soos die natuur ons geskep het – Engelse, Iere, Skotte, met iets as die verskillende stempel van ons verskillende lande op elkeen. Ons sou geen beter onderdane word as iedereen op iedereen lyk soos soveel gladgeslypte muntstukke nie.”
Volgens die Romantici kom die besondere karakter van ’n bepaalde nasie tot uitdrukking in sy Volksgeist. Herder het in 1767 geskryf dat elke volk ’n eie karakter het wat blyk uit al sy gewoontes en instellinge, kuns, literatuur en ’n unieke volkskarakter. Herder se bekommernis oor verdwene en verdrukte volke het selfrespek by die verdruktes help wek. Hy het ’n versameling Slawiese volksliedere en ’n hoofstuk oor die Slawe opgeneem in ’n belangrike boek van hom en hul vredeliewende en nywere karakter geprys. Sy voorspelling dat die Slawe uit hul eeue oue slaap sou ontwaak, het gehelp dat die ontwaking werklik gekom het.
In Wes-Europa het ou literêre tale soos Galicies, Katalaans, Baskies en Provençaals nuwe lewe gekry; die Yslanders het bewus geraak dat hulle ’n nasie vorm wat verskil van die Dene.
So kon die tydgees ’n hele aantal tale ten goede kom.
Maar ongelukkig kan ’n tydgees ook ten kwade werk. Tussen die groei van Engels in Australië, Nieu-Seeland en die VSA en die verdwyning of agteruitgang van talle inheemse tale in hierdie lande bestaan daar ’n verband, is reeds gesê. Maar die proses word ten dele verklaar uit die tydgees van die laat negentiende eeu. Dit was die tyd van die pseudo-antropologie wat voortgekom het uit Charles Darwin se werk oor evolusie.
Die leerstelling van die “survival of the fittest” is toegepas op gemeenskappe en maatskaplike instellings. Swakker vorme van sosiale organisasie kan verdwyn, is gevoel, die Europese gemeenskapsvorme verdien dit om te oorleef. Hoe gouer die “swakker vorme” verdwyn, hoe beter.
Havighurst haal ’n tipiese brief aan wat in 1876 in Melbourne in Australië verskyn het: “We invoke and remorsely fulfill the inexorable law of natural selection when exterminating the inferior Australian and Maori races … The world is better for it: and could be incalculably better still, were we loyally to accept the lesson thus taught by nature – by preserving the varieties most perfect in every way; instead of actually promoting the non-survival of the fittest by protecting the propagation of the improvident, the diseased, the defective, and the criminal. Thus we surely lower the average of, and tend to destroy, the human race almost as surely as if we were openly to resort to communism!”[38]
In die VSA het baie vooraanstaande mense tussen 1865 en 1890 geglo dat niks uit die Indiane se kultuur die moeite werd is om bewaar te word nie en dat hulle in elk geval niks van waarde kan bydra solank hulle as Indiane voortbestaan nie.
’n Amerikaner met die naam Thomas J. Mays het in 1888 in die Popular Science Monthly geskryf: “Nature was doing more to solve the Indian problem than statesmen had ever accomplished.” Hy het bedoel dat die Indiane deur bloedvermenging sal verdwyn, asook deur siektes wat die dood van volbloed-Indiane sal kos. Veertig jaar tevore het pres. Andrew Jackson erkenning gesoek vir die verdwyning van Indiane uit die oostelike en sentrale state en gesê: “The states which had so long been retarded in their development by the Indian tribes residing in the midst of them are at length relieved from evil, and this unhappy race – the original dwellers of the land – are now placed in a situation where we may well hope that they will share in the blessings of civilization.”[39]
Die imperialisme van die negentiende eeu het dit vir die Britse regering heeltemal aanvaarbaar gemaak om Engels te bevorder, en tale soos Wallies, Iers, Gaelies en Afrikaans te benadeel.