Читать книгу Tuiste in eie taal - J.C. Steyn - Страница 41

4.2.3.1 TAALIMPERIALISME BY KLEIN TALE

Оглавление

Nasionalisme kan soms oorgaan tot chauvinisme; die stryd om te behou wat jy het, kan by taalbewegings soms tot taalimperialisme voer.

Een nogal berugte geval is dié van Magjaars. In die agttiende eeu het dit soms gelyk asof dié taal aan die uitsterf is. Toe keiser Josef II van Oostenryk-Hongarye probeer om Duits die taal van die hele ryk te maak (en ’n paar ander hervorminge aanpak), het opstande orals uitgebreek. Gevolglik het Magjaars in 1839 ’n amptelike taal van Hongarye geword. In 1843 is dit as die enigste skooltaal toegelaat. Ná die Oostenryks-Hongaarse oorlog teen Pruise is die ryk in twee dele verdeel: “Ryk Oostenryk” en “Koninkryk Hongarye”.

Toe die Hongare baas word in hul eie land, het hulle hardhandiger as die Duitssprekende Oostenrykers geregeer en die wette veronagsaam wat die gelykheid van die tale moes waarborg. Slowaakse, Serwo-Kroatiese en Roemeense kinders moes noodgedwonge Magjaars leer.

Die verdrukking het ’n groepsbewustheid by die ander taalgemeenskappe laat ontstaan. Opstande van die Kroate is gewelddadig onderdruk. ’n Anti-Magjaarse gevoel is versterk omdat die nie-Magjaarssprekendes besef het dat Magjaars – ’n nie-Indo-Germaanse taal wat nêrens buite Hongarye bruikbaar is nie en ook nie ’n ou kultuurtaal is nie – eintlik geen nut vir hulle het nie. Slowaaks en Roemeens was ontwikkelde kultuurtale.

Een van die groepe wat die meeste onder die magjarisering gely het, was die Slowake. Die Hongaarse owerheid het in 1875 ’n kultuurorganisasie (Slovenská Matica), wat die onderwys en letterkunde van die sowat 2 miljoen Slowake in Noordwes-Hongarye bevorder het, ontbind en ewe koel gesê daar is geen Slowaakse volk nie. In 1875 was daar nog 1 805 Slowaakse skole, maar in 1905 net 241. Teen die einde van die eeu was daar net een Slowaakse koerant in Hongarye.

Ná die Eerste Wêreldoorlog het die Republiek Tsjeggo-Slowakye tot stand gekom. Die eintlike regeerders was die Tsjegge en Slowake, albei groepe slagoffers van diskriminasie van die verlede. Maar hulle het, pleks van die onreg van diskriminasie te onthou en te vermy, onverdraagsaam teen die Duitse en Hongaarse minderhede in die land opgetree. Die Tsjegge het soms andertaliges se spaarrekenings vasgepen, stadsrade se funksies opgehef, amptenare na willekeur ontslaan en verplaas, beslag gelê op eiendom, verenigings ontbind en verstellings aan die grense van kiesafdelings en stadsgebiede gemaak om Hongaarse en Duitse minderhede aan die grense administratief te kan tsjeggiseer. In die laat twintigerjare het die posisie verbeter.

Die diskriminasie teen Duitsers het voortgeduur, maar daarvoor was daar ’n rede. Die hermilitarisering van die Rynland deur Hitler in Maart 1936 het die Tsjeggiese regering laat besluit om te herbewapen. Hulle het hul bestellings vir wapens geplaas by Tsjeggiese firmas wat net Tsjeggiese arbeiders in hul diens het. So het baie Duitsers werkloos geraak. Hierdie diskriminasie teen die Duitsers was naderhand weer ’n voorwendsel vir Hitler om die Sudeteland (’n deel van Boheme) in te palm.

Die geskiedenis leer dat min taal-, volks- of rassegroepe bestand is teen die sonde van diskriminasie en veronregting van ander. Die verskil tussen groot en klein volkere is dat die kleintjies selde die kans kry om te sondig en dat hulle vanweë hul swakheid dit op kleiner skaal en vir korter tydperke kan doen as die grotes.

Tuiste in eie taal

Подняться наверх