Читать книгу Tuiste in eie taal - J.C. Steyn - Страница 40

4.2.3 NÁ DIE TAALSTRYD

Оглавление

Ná die eerste paar suksesse kan daar een van drie dinge met ’n taalbeweging gebeur: die taalgemeenskap kan die taal se posisie konsolideer, die taal kan ondanks alles tog agteruitgaan, of die taalstryd kan langsamerhand tot imperialisme ontaard.

Die leiers van enige taalstryd wil natuurlik graag die taal se posisie versterk. Dit beteken dat ’n taalstryd van aard verander maar nie eindig nie tensy die mededingende taal werklik geen bedreiging meer is nie. Selfs lande wat geen taalstryd geken het nie, tref soms maatreëls om hul nasionale tale teen die grotes te beveilig. In Holland is daar wetgewing wat bepaal dat ’n sekere persentasie van die liedjies oor die radio inheems moet wees. Ysland het beslis dat televisie-uitsendings aan Amerikaanse soldate nie so sterk moet wees dat die gewone Yslanders daarna kan kyk nie. In lande soos Duitsland en Frankryk is oorklanking van rolprente uit Engels algemeen.

Een taalgemeenskap wat talle konsoliderende wette gekry het, is België. Kanada het in 1969 die gebruik van Frans in geregshowe oor die hele land toegestaan en bepaal dat die etikette op Kanadese produkte tweetalig moet wees. (Die reaksie van die Engelssprekendes was voorspelbaar: “French is being stuffed down our throats.”) [49]

’n Bekommernis in enige bedreigde taalgemeenskap is die verlies van sprekers onder kinders as gevolg van gemengde huwelike of onder kinders wat deur gedenasionaliseerde ouers in die mededingende taal grootgemaak of na andertalige skole gestuur word.

’n Simpatieke owerheid kan op twee maniere help. Die eerste is deur te sorg dat die taal hoë funksies kry of behou. “Vir die beswil van die kinders” hou dan in dat kinders uit sulke twyfel-gesinne darem nog die taal aanleer, want dis noodsaaklik vir ’n betrekking in die staatsdiens of ander dienste.

Daar is ook ’n tweede metode wat ’n mens in die regte perspektief moet sien. Die een of ander vorm van isolasie maak die behoud van klein tale makliker, maar lei dikwels tot kulturele en sosiale agterlikheid. Die massamedia en nuwe verkeersmiddele maak afsondering in elk geval onmoontlik.

’n Mate van afsonderlikheid is egter waardevol. Die bevolking van Québec in Kanada is oorwegend Frans en Montréal is ná Parys die grootste Franstalige stad ter wêreld. Engels is die oorheersende taal van Noord-Amerika (en Kanada) en die Engelssprekende minderheid in Québec is ekonomies toonaangewend. Heelwat Franse kinders wat Engels geleer het ter wille van hul werk of bevordering, raak verlore vir Frans.

Frans sou waarskynlik nog groter verliese gely het as die bevolking nie ’n informele beleid van “parallelle bestaan” gevolg het nie. Frans- en Engelssprekende Kanadese bly in afsonderlike buurte, woon verskillende kerke en skole by en organiseer hul sosiale lewe uitsluitend binne hul eie taalgroep.[50]

Dit het tot gevolg dat die meeste kinders eentalig-Frans bly totdat hulle op skool Engels moet leer. Hoe verder hulle vorder, hoe tweetaliger word hulle. Sodra mense ophou werk (vroue wat trou en kinders grootmaak) neem die kennis van die tweede taal af. Op dié manier bly Frans die moedertaal van die volgende geslag.

Ouers maak hul kinders nie tweetalig groot en stel hulle so aan taalverskuiwing bloot nie. “If we make the assumption that most people will not really master a second tongue unless it is learned at a relatively early age, then second language-learning is less of a threat to the mother tongue than might otherwise be the case, since the English and French languages are able to hold their own as the first language of children, and since much of the bilingualism in Canada does not occur in the very early ages, or as a result of informal social contacts,” skryf Lieberson.[51]

Die twee euwels van óf volkome isolasie óf algehele blootstelling aan die tweede taal (met ’n versterking van die moontlikheid om taalverskuiwing te bewerkstellig) vermy die Frans-Kanadese met die verstandige beleid van afsonderlike skole en die uitstel van die aanleer van die tweede taal so lank as moontlik.

Sommige regerings maak ’n mate van afsonderlikheid in skole verpligtend. In Québec en Brussel was daar wette wat van ouers vereis het dat hulle hul kinders na moedertaalskole stuur. Vir sulke wetgewing is daar goeie opvoedkundige, maar ook taalideologiese gronde. Kinders gaan soms deur onderwys in andertalige skole verlore vir ’n taal. Uiteraard is sulke maatreëls nie gewild nie. Die mededingende taalgemeenskap sien daarmee ’n begeerlike buit verdwyn en steun ontroue sprekers wat hulle op “die demokratiese regte van die ouer” beroep.

Tuiste in eie taal

Подняться наверх