Читать книгу Tuiste in eie taal - J.C. Steyn - Страница 33
2 DIE BEHOUD VAN GUARANI [14]
ОглавлениеDie beweging vir die behoud van Vlaams kan ’n mens tereg ’n taalstryd noem: daar was immers agitasies, petisies, betogings.
Guarani, ’n Indianetaal van Paraguay, het op ’n ander manier behoue gebly. In een opsig is Paraguay eintlik uniek in die Latyns-Amerikaanse lande. In die ander lande het die Indianetale ’n ondergeskikte posisie. Die stedelinge beskou hierdie tale as onbelangrik en weet soms nie eens van hul bestaan nie. In Paraguay kan 92 persent van die bevolking egter Guarani praat, onder meer elke president wat die land nog gehad het. In die ander Latyns-Amerikaanse lande is daar maar min presidente wat ook die Indianetaal ken. Guarani het ook ’n taamlike prestige.
Hoe het dit gekom dat die veroweraarstaal (Spaans) in Paraguay die Indianetaal nie heeltemal verdring het soos in Argentinië nie?
Laat ons kyk na Paraguay se geskiedenis, eers as kolonie en daarna as onafhanklike land.
In die koloniale tyd het Guarani behoue gebly omdat Paraguay taamlik geïsoleerd was. Die Indiane het hulle nie teen Spanje verset nie. Hulle was maar te gewillig om met die Spanjaarde saam te werk en baie Spanjaarde het met Indiaanse vroue getrou. Die Indiane was nie gekant teen gemengde huwelike nie en min Spaanse vroue was bereid om na die “onbeskaafde” landjie te kom. Die Spaanse mans het Guarani by hul vroue geleer en die kinders se moedertaal was Guarani.
Paraguay grens nie aan die see nie, en die feit dat die Guarani-Indiane nie oorlog gevoer het nie, het gemaak dat nie veel soldate daarheen gegaan het nie. Die mense in die toonaangewende beroepe het Guarani geken. Ander Suid-Amerikaanse lande soos Ecuador en Bolivië het veel meer kontak met Spanje gehad. Dáár het ’n elite ontwikkel en Spaans was ’n belangrike onderskeidende kenmerk van dié klas. Min van die veroweraars het die inheemse tale geleer. So ’n elite het Paraguay nie gehad nie. Die beperkte immigrasie en die groot persentasie vroue wie se moeders Guarani en se vaders Spaans was, het veroorsaak dat daar nie ’n klas ontstaan het met ’n ander taal en ekonomiese status nie.
Die inheemse bevolking was betreklik afgesonderd, maar die isolasie het in dié geval nie tot agterlikheid gelei nie. Paraguay was tot in 1767 baie sterk onder die invloed van die Rooms-Katolieke “Societas Jesu” of “Orde van Jesus”. Die Jesuïete het kerke en skole gebou en die Indiane geleer om die vrugbare grond behoorlik te bewerk. (In die subtropiese klimaat kon hulle tot vier mielie-oeste per jaar wen!) ’n Ekonomies florerende gemeenskap het ontstaan wat met geen ander blankes as die Jesuïete in aanraking gekom het nie. Daardeur het hulle aan die lot van baie ander Indiane ontkom, naamlik uitbuiting deur koloniste wat net op wins belus was.
Die Jesuïete het ook Guarani help bewaar. Hoewel die staat ’n paar keer geëis het dat die sendingskole die Indiane Spaans leer, het die Jesuïete altyd Guarani gebruik met die Indiane en selfs in amptelike briefwisseling met die owerheid. Toe Karel III die Jesuïete die land in 1767 uitsit, was daar glo 9 000 boekdele in negentien sendingstasies en ’n duisend was in Guarani.
Op latere romantiseerders het die staat die indruk geskep van ’n paradys op aarde, maar hierdie paradys het tot ’n val gekom as gevolg van die algemene stryd teen die Jesuïete in Europa onder invloed van die ideë van die Verligting in die tweede helfte van die agttiende eeu. Daarom moes die Jesuïete in 1767 uit alle dele van Suid-Amerika padgee. Daarna het die samelewing verval deur die uitbuiting van avonturiers.
Ná die onafhanklikwording van Paraguay in 1811 het verskeie gebeurtenisse Guarani nadelig getref. Die stigters van die staat was nie anti-Guarani nie, maar hulle het besef dat Spaans belangrik is. In 1812 het die regeringsjunta die onderwysers die raad gegee om seker te maak dat Spaans die skooltaal is en dat die gebruik van Guarani op skool verbied word.
Ná ’n tyd van isolasie van net ná onafhanklikheid tot ongeveer 1840 het ’n nuwe diktator, Carlos Antonio López, die handel bevorder, diplomatieke betrekkinge probeer aanknoop en die skoolstelsel probeer herinstel. Daar is nie gegewens oor die onderwystaal nie, maar daar is in die herinneringe van die skrywer Juan Crisóstomo Centurión, gebore 1840, ’n aanduiding dat die gebruik van Guarani in ten minste sommige skole gestraf is.
“In die skool is die gebruik van Guarani in klas-ure verbied. Om hierdie reël af te dwing, het onderwysers vir die leerling-opsigters bronsringe gegee en dié moes die ringe gee vir elkeen wat hulle teëkom wat Guarani praat. Saterdag, wanneer die ringe teruggegee moes word, is elkeen wat ’n ring gehad het, met vier of vyf houe gestraf.”[15]
’n Groot terugslag van ’n ander aard het Guarani tussen 1864 en 1870 getref. López se seun Mariscal het hom in 1862 as diktator opgevolg en in 1864 het hy die landjie in ’n gruwelike oorlog teen Argentinië, Brasilië en Uruguay gedompel. Die oorlog het verskillende oorsake gehad, soos grensgeskille en geskille oor vaarregte op die groot riviere van die omgewing, die inmenging in die sake van buurlande en die ambisie van López om die mag en roem van Paraguay en homself te vergroot. Die oorlog self, asook die optrede van López wat talle van sy mense laat vermoor het, het tot ’n verskriklike slagting van die bevolking gelei. Daar was sowat 500 000 mense voor die oorlog en daarna minder as die helfte. Van die ongeveer 25 000 mans en seuns het ná die oorlog net 28 000 oorgebly. Die herstel in die bevolking was baie stadig.
Die groot verlies van sprekers was egter nie al nie. Ná die oorlog het Argentinië en Brasilië Paraguay beheer. Baie Paraguayane wat in die López-tyd bannelinge was, of anders in Argentinië hul skoolopleiding gekry het, het daar geleer om die Indianetale te verag. Dis juis hulle wat hoë poste in die voorlopige regering gekry het. Toe die verteenwoordiger van ’n klein dorpie (Paraquari) in 1870 op die grondwetlike samesprekinge voorstel dat die kongreslede ook Guarani mag gebruik, het algemene hilariteit sy voorstel begroet. Die afgevaardigdes het dit heftig teengestaan. Hulle het nie net gevra dat die voorstel verwerp word nie, maar dat dit ook verbied word om in die toekoms so iets te suggereer. Twee-derdes van die afgevaardigdes het die voorstel verwerp.
Die invloed van die leiers en onderwysers wat in Argentinië opgelei is, het veroorsaak dat al wat Argentyns was, nagestreef is. Argentynse skoolboeke is nie eens vir Paraguay aangepas nie. Spaans is orals gebruik en sommige huisgesinne het hulle kinders gestraf as hulle Guarani praat. In 1894 het die hoof van die departement van onderwys, Manuel Dominguez, na Guarani verwys as “’n groot vyand van die kulturele vooruitgang van Paraguay”.
Tot en met die Chaco-oorlog van 1932 tot 1935 (dit was ’n oorlog met Bolivië oor die gebied El Gran Chaco) het die meeste mense in leidende kringe op Guarani neergesien, hoewel die meeste dit van hul jeug af geken het. Guarani is vereenselwig met onopgevoedheid.
Baie dinge het teen Guarani getel. Desondanks het dit behoue gebly.
Een belangrike faktor wat ook in die koloniale tyd ’n rol gespeel het, was die isolasie van Paraguay, en wel aan die begin van die negentiende eeu tot sowat 1840. In dié tyd was daar feitlik geen handel met die buitewêreld nie en net af en toe het ’n boot die land met ’n rivier binnegevaar. Paraguay het met geen land diplomatieke betrekkinge gehad nie. Die skole was meestal gesluit. Geen koerante of boeke het verskyn nie en die invoer daarvan was onmoontlik. Ook in later jare het ’n groot deel van die landelike bevolking geen kontak gehad met die hoofstad Asunción en dus met Spaans nie.
’n Tweede faktor ten gunste van Guarani was dat dit die draer van ’n Paraguayaanse nasionalisme geword het. Dit was reeds die geval in die oorlog teen Argentinië, Brasilië en Uruguay. C.F. Centurión het geskryf: “Die oorlog van 1864 tot 1870 is gevoed deur die klankryke harmonie van die inheemse taal. Dit was die taal waarin die vroue gehuil en die mans van ons land gehaat en geveg het.” Tydens die Chaco-oorlog van 1932-35 het die regering om veiligheidsredes die gebruik van Spaans op die slagveld verbied. Dit het die band tussen Guarani en die Paraguayaanse nasionalisme versterk. Sommige skrywers beweer dat Guarani die soldate laat voel het hulle verdedig die essensie van wat uniek Paraguayaans is en dit het hulle help saamstaan teen alle opposisie.
Die voorsitter van die vereniging van Guarani-skrywers het Guarani “die hart van die nasie” en “die simbool van die ware siel van die volk” genoem.
’n Derde faktor is die steun wat intellektuele aan die taal gee. Een van die redes waarom mense Guarani nou minder aanval as sowat drie dekades gelede, is ’n pro-Guarani-veldtog deur intellektuele, veral Reinaldo Decoud Larossa. Hy het die anti-Guarani-gevoel in die hoër stande aangeval en lesings oor die taalkundige waarde van Guarani gehou. Deur sy toedoen het die Universiteit van Paraguay in 1944 ’n leerstoel in die taal gekry en in 1950 het hy self professor geword. In die skole, oor die radio en voor regeringsmense het hy lesings gehou en die verband tussen die taal en die nasionale karakter van Paraguay beklemtoon.
’n Paar jaar voor sy veldtog was daar ’n polemiek tussen ’n dosent in Spaans, prof. Inoncencio Lezcano, en ’n Guarani-digter, Dario Gomez Serrato. Eersgenoemde het te velde getrek teen ’n suggestie dat Guarani ’n onderwystaal word. Hy en ander Paraguayane ken genoeg Guarani en die taal is eintlik ’n verleentheid vir hom, het hy geskryf. Die digter het gewonder of ander mense dit ook vreemd vind om hul moedertaal te ken. Guarani is ’n bron van nasionale krag, ’n taal “van heuning en vuur”, het hy geskryf. Die professor het in sy antwoord egter volgehou dat ware aristokrate net Spaans praat en Guarani gebruik teenoor bediendes en agterlike mense uit die platteland.
Koerante en intellektuele val deesdae mense aan wat die taal beledig. Mense wat nie die noodsaak van ’n leeskennis van Guarani insien nie, is verraaiers of gringos, het een koerant geskryf. Sulke mense wil die land aan die vyand oorhandig.
Die vereniging van Guarani-skrywers is een van die belangrikste groepe wat hom vir die taal beywer. Een lid het aan Joan Ruben vertel hoe hy self betrokke geraak het by ’n fabriek waarvan die eienaar nie ’n Paraguayaan was nie. Die vakbond het hom genooi om vergaderings by te woon, maar die fabriekseienaar het gevra dat die vakbondlede Spaans praat op die vergaderings waarop hy teenwoordig sou wees. Die skrywer het egter geëis dat Guarani die voertaal bly, omdat die vergaderings ter wille van die vakbondlede plaasvind en die eienaar maar net ’n genooide was. Die eienaar het toegegee en die vakbond het aangebied om hom ’n tolk te gee.
Ten vierde het die Guarani-intellektuele nie net getrou aan die taal gebly nie, maar ook letterkundige werk van gehalte geskryf. ’n Paar hoogstaande digwerke het teen die einde van die negentiende eeu verskyn. Ten tyde van die Chaco-oorlog het toneelopvoerings in Guarani gewild geraak. Die opvoering van ’n toonaangewende dramaturg (Julio Correa) in 1933 het soveel mense gelok dat die polisie moes kom help om die saal se deure toe te kry.
In die vyfde plek het Guarani die laaste klompie jare die steun van die regering gekry. Die regering steun die bedrywighede van die vereniging van Guarani-skrywers. Een van die nasionale radiostasies het tyd aangebied vir die vereniging om elke dag ’n taalprogram uit te saai.
Ten slotte het Guarani behoue gebly omdat hy die “lae” funksies kon behou. Spaans het oor die algemeen offisiële status. Alle straatname is in Spaans en dit is die taal van die wetgewing en regspraak. In landelike gebiede word Guarani wel nie-amptelik gebruik. Spaans is ook die skooltaal en tot onlangs die enigste taal wat in die klaskamers en op die skoolterrein toegelaat is. Nie-amptelik vind Guarani-onderwysers dit raadsaam om Guarani in laerskole te gebruik omdat leerlinge nog nie Spaans ken nie. Die leerlinge word aangemoedig om Spaans so gou as moontlik te leer. Militêre personeel gebruik Spaans, maar basiese onderrig is in Guarani. Die hooftaal oor die radio is Spaans, en dis ook die vernaamste rolprenttaal. Advertensies is in Spaans.
Dit alles maak die posisie van Guarani tog delikaat. ’n Mens kan verwag dat, as die taal sy amptelike steun verloor, die betreklike mate van stabiliteit in die taalkontaksituasie versteur gaan word.
Op die oomblik is die toestand tog taamlik stabiel. Die Paraguayane stel baie belang in hul nasionale tale, praat gedurig oor die gehalte van hul taalgebruik in albei tale en kritiseer die taalgebruik van landgenote. Teenoor albei tale bestaan daar positiewe gevoelens. Dié mense wat Spaans verkies, erken die belangrikheid van Guarani as nasionale taal. Dié wat hoofsaaklik Guarani gebruik, erken weer die waarde van die internasionale taal, Spaans. Tog is daar heelwat mense wat die kennis van Guarani verkleineer en Spaans hoogag. Iemand het dit in ’n onderhoud verbasend gevind dat die werk van ’n sekere digter goed is selfs hoewel dit in Guarani is.