Читать книгу Tuiste in eie taal - J.C. Steyn - Страница 27
5 KENMERKE VAN DIE TAALSTRUKTUUR
ОглавлениеKan die aard van ’n taal self help dat dit groei of agteruitgaan? Is dit moontlik dat ingewikkeldheid ’n struikelblok in die weg van uitbreiding kan wees, of dat maklikheid mense prikkel om dit aan te leer?
Tale is in beginsel gelykwaardig: ewe maklik en ewe moeilik – en taalkundiges word nie moeg om dit te sê nie. Maar daar is ook taalkundiges wat meen dat die taalstruktuur iets kan bydra tot groei en agteruitgang.
Meillet karakteriseer tale byvoorbeeld met uitdrukkinge soos die “modern karakter” van Frans, die “meer archaïstïsch karakter” van Litaus in vergelyking met Letties wat “verder ontwikkeld en moderner” is. Boelgaars het nie al die ingewikkeldheid van Slawies behou nie: die verbuiging van die naamvalle het byna geheel en al verdwyn sodat dit die voordeel het om “betrekkelijk eenvoudig en daarbij modern te zijn”. Van die Romaanse tale sê Meillet dat hulle ’n onderskeid handhaaf wat geen sin het nie, naamlik dié tussen manlik en vroulik. Van hierdie “absurditeit” het Engels hom bevry. Wat Duits onaantreklik maak, is die “overbodige archaïsmen”. Die naamvalle het talryke, onderling verskillende uitgange wat selfs nie by alle woorde voorkom nie en tot niks dien nie: daar is reeds ’n vaste sinsdeelvolgorde. Die byvoeglike naamwoord het “onnoodig ingewikkelde vormen”.[32]
Argaïes, modern, onnodig – bloot subjektiewe terme is hulle nie. Tydens die sogenaamde drift-prosesse in die Indo-Germaanse tale het die fleksievorme weggeval en tesame daarmee het daar ’n vaster volgorde van die sinsdele gekom. Die funksie van die naamvalsuitgange is oorgeneem deur die vaste volgorde van die sinsdele. Tale soos Duits het dus dubbele middele om ’n bepaalde funksie uit te druk en dit maak die taal onnodig moeilik.
Dat ’n mens van vereenvoudiging mag praat, bewys die taalverwerwingsproses by kinders. King skryf dat feitlik alle jong kinders wat Engels leer, in plaas van die onreëlmatige werkwoordtye en naamwoordsmeervoude “reëlmatige” vorme gebruik wat egter verkeerd is (bv. goed en foots) en dan later ’n reël moet aanleer om die onreëlmatighede korrek te kan gebruik.[33]
Charles Ferguson skryf dat taalkundiges oor die algemeen saamstem dat die grammatikale struktuur van taal A “makliker” as dié van taal B is as, ander dinge gelyk, (i) die morfofonemiese sisteem van A eenvoudiger is, d.w.s. as die morfeme minder wisselvorme het en reëlmatiger is; (ii) daar minder verpligte kategorieë is wat deur morfeme of kongruensie gemerk word (Persies het geen geslagsonderskeidings in die voornaamwoord nie en is makliker as Egiptiese Arabies wat die onderskeid manlik-vroulik in die tweede en derde persoon enkelvoud het); (iii) paradigmas meer simmetries is (’n taal waarin alle verbuigings dieselfde getal naamvalsonderskeidinge het, is makliker as een met wisseling); (iv) kongruensie en reksie strenger is, bv. alle voorsetsels dieselfde naamval in plaas van verskillende naamvalle neem.[34]
Met die aanleer van tweede tale kan “maklikheid” miskien ’n rol speel. Dit is elk geval opvallend dat sommige van die tale wat agteruitgaan, partykeer vir mense “verouderd” en “argaïes” voel.
Verskeie taalkundiges meen dat bepaalde kenmerke van Engels dié taal begunstig. Margaret Bryant skryf: “The nature of the language itself helped make it virtually a second tongue to millions of users of other languages. Among features of English favoring its widespread use are its sentence structure, based on a simple word order instead of complicated inflections, and its ‘natural’ gender instead of the ‘grammatical’ gender system of some other leading languages.”[35]
Uiteraard kan “maklikheid” net ’n baie ondergeskikte rol in taalgroei speel, want militêre, ekonomiese en politieke mag, en nie die taalstruktuur nie, skep die voorwaardes vir taalkontak. Mense leer ’n taal aan omdat dit voordelig is om dit te ken, nie omdat dit maklik is nie.