Читать книгу Tuiste in eie taal - J.C. Steyn - Страница 42
4.2.3.2 DIE DOODLOOP VAN TAALBEWEGINGS
Оглавление“Gan teanga, gan tir” (“Geen taal, geen vaderland”) was eenmaal ’n Ierse leuse. As hy moet kies tussen die taal en vryheid, kies hy die taal, het Eamon de Valera, nasionale leier en gewese Ierse premier, aan vriende gesê. Nog ’n Ierse leier het gehoop: “Ireland … not free, but Gaelic as well; not Gaelic, merely, but free as well.”
Maar dis twyfelagtig of hierdie ideale verwesenlik gaan word. Hoewel ’n mens seker nog nie met volkome sekerheid kan sê dat die Ierse beweging as taalbeweging doodgeloop het nie, is daar weinig kans dat die programme vir die herlewing van Iers aangeneem sal word. Baie Iere is onwillig om hul taal te leer.
Daar is ’n ander taalbeweging wat gestagneer het, hoewel ook hy nog nie heeltemal dood is nie. Dis die byna uitsluitend taal- en letterkundige beweging om Provençaals, die vernaamste Oksitaanse dialek, tot kultuurtaal op te hef.
In die dertiende eeu het Suid-Frankryk ’n skitterende kultuur gehad waarvan Provençaals die vernaamste draer was. In ’n kort tyd is goeie oorspronklike poësie geskryf, maar geen prosa van enige betekenis nie. Die geleerde taal het Latyn gebly, en later het Frans die plek daarvan ingeneem.
Die negentiende eeu gee ’n soort Provençaalse renaissance te sien. Die skrywer wat hoofsaaklik daarvoor verantwoordelik was, was Frédéric Mistral (1830-1914) wat gesê het hy wil in Provençaals skryf om die historiese bewussyn van sy volk te laat herleef. Hy en sy volgelinge het ’n beweging met die naam Félibrige gestig. Dit het egter ’n taamlik eng taal- en letterkundige karakter gehad en die meeste lede het hulle omtrent doodgeskrik toe ’n ander lid, Charles Maurras, in ’n manifes staatkundige en kulturele outonomie vir Oksitanië en Bretagne in ’n federale Frankryk eis. Die beweging het a-politiek gebly en wou ook niks met ekonomiese sake te doene hê nie.
Solank die Provençaalse beweging suiwer ’n taalbeweging was, kon dit nie groei nie. Tans is daar nog groot verdeeldheid onder die Oksitaanse politieke groepe. As hulle dit kan regkry om saam te staan en daarby die smeulende ontevredenheid oor die ekonomiese probleme van die streek te benut, het die Provençaalse beweging kans op sukses. Daar is nog heelwat mense wat dié dialekte praat.
Die VSA het verskeie mislukte taalhandhawingsveldtogte gehad – die Duitse en Franse het al eerder ter sprake gekom. Wat ook besig is om daar dood te loop is die sporadiese, soms alte pynlike pogings om die kleiner Indianetale van Noord-Amerika te red. Sommige Indiane gee ’n tyd lank klasse sodat belangstellendes die kwynende tale kan leer, maar daar is te min mense wat die tale praat en ná die eerste geesdriftige pogings loop die veldtogte dood.
Die geskiedenis leer dat ’n taalbeweging nie kan slaag sonder ’n stryd aan die politieke, ekonomiese en kulturele “front” nie. Die ekonomiese stryd is nodig om die bevolking op te hef en te verhoed dat hulle om ekonomiese redes ’n voordeliger taal aanneem. Die politieke stryd is nodig vir die verkryging van amptelike gelykgeregtigheid en die kulturele vir die verwerwing van ’n kulturele aantrekkingskrag.
Vir ’n klein taal kan “die stryd” nie verby wees nie. Dis ’n misvatting om te meen dat wette alles kan regmaak, maar wette is soms nodig. Die Vlaminge het hul sukses nie alleen met wetgewing behaal nie, maar dit het hulle darem in staat gestel om heelwat te bereik. Taaldiskriminasie is ewe verwerplik as ander vorme van diskriminasie, en as godsdiens- en rassediskriminasie wetlik teëgegaan moet word, dan taaldiskriminasie ook. Die Québecse digter Fernand Quelette sê: “In ’n tweetalige milieu is daar geen saambestaan nie, daar is net volgehoue aggressie van die meerderheidstaal” – in dié geval Engels.[52]