Читать книгу Tuiste in eie taal - J.C. Steyn - Страница 24
2.2.4 EKONOMIESE EN IMMIGRASIEBELEID
Оглавление’n Owerheid kan ’n taal wat hy onsimpatiek gesind is, ook onregstreeks benadeel deur maatreëls (of gebrek aan maatreëls) wat nie direk met taalsake te make het nie.
Die Franse is al dikwels daarvan beskuldig dat hulle opsetlik die ekonomie van Bretagne, Oksitanië en ander randgebiede verwaarloos.
Brékilien sê dat sowat 20 000 Bretons Bretagne elke jaar moet verlaat om werk te soek. Die land was vroeër baie voorspoedig, sy klimaat is buitengewoon gunstig vir landbou en veeteelt, daar is ’n lang kuslyn en verskeie hawens en die gebied is gunstig geleë om ’n groot deel van die Europese seeverkeer te hanteer.
Maar deur die ekonomiese beleid van die sentrale regering word Bretagne se geld buite die gebied belê “om de hoofdstad uit te bouwen, de fabrieken van het oosten uit te rusten, het tekort van de metro op te vangen, autosnelwegen aan te leggen in de Rhône-vallei. De zware nijverheid wenst in Bretagne goedkope werkkrachten te vinden voor de fabrieken van het Parijse bekken, van Lotharingen en van het Noorden.”[24]
Dis veral die ekonomiese en immigrasiebeleid van ’n onverskillige owerheid wat ’n taalminderheid kan benadeel. Deur immigrasie kan die gebied se oorspronklike inwoners heeltemal verswelg of ondergeploeg word. Ekonomiese onverskilligheid lei, soos in die geval van Bretagne, tot ’n migrasie van werkloses wat in ’n andertalige gebied die ekonomies voordeligste taal aanneem.
Die uitwerking van die vier behandelde politieke maatreëls – natuurlik altyd gerugsteun deur militêre mag – is vandag die duidelikste waarneembaar in die Afrika-, Asiatiese en Amerikaanse lande wat ’n tyd lank kolonies van Europese moondhede was. Kolonisering het van Spaans, Frans en Engels wêreldtale help maak. In Suid- en Midde-Amerika het baie Indiane Spaans, en in Noord-Amerika Engels as eerste taal aangeneem. Die inheemse tale het in Afrika nie by die massa gewyk as moedertale nie, maar Frans en Engels het ’n plek verower wat hulle waarskynlik nie gou sal prysgee nie.
Portugal en Frankryk was onder die koloniseerders van Afrika die afwysendste teenoor die inheemse tale. Die Franse het net hul eie taal vir die onderwys en amptelike doeleindes gebruik. In Angola, Mosambiek en (Portugees-) Guinee kon die Afrikane in die koloniale tyd sogenaamde “assimilados” word. Die begrip assimilado kom voort uit ’n vroeëre Portugese gedagterigting dat alle Christene burgers van die staat mag wees. Die assimilados moes Portugees kon lees en skryf. Omstreeks 1950 was daar in Mosambiek 92 619 assimilados uit ’n bevolking van 5,5 miljoen, maar net 4 353 was Afrikane. Die ander was wit, halfwit of Asiaties. Vanweë die assimilasiebeleid het die Portugese die gebruik van die inheemse tale ontmoedig. Niks kon in druk in ’n Afrikataal verskyn sonder ’n Portugese vertaling nie. Portugees was die enigste skooltaal.
Die Britte was effens meer verlig. Die Protestantse sendelinge het in hul skole aandag aan die inheemse tale gegee en in 1924 is ’n “Advisory Commission on Native Education” deur die Britse minister van Kolonies aangestel. Dié het die gebruik van die inheemse tale saam met Engels in die onderwys aanbeveel. In sy tweede verslag het die kommissie hierdie aanbeveling beklemtoon, maar toegegee dat Afrikane hul kinders soms juis skool toe stuur om Engels te kan leer. As die regering Engels te laat op skool sou invoer, sal die Afrikane dit vertolk as “an attempt of Government to hold back the African from legitimate advance in civilization”.[25] Op die ou end het die inheemse tale maar min aandag gekry.
Politieke dwang en kolonisering help nie altyd om ’n taal te vestig nie. Dit blyk miskien die beste uit die geskiedenis van Turks.
Die Turkse of Ottomaanse Ryk was een van die grootstes in die geskiedenis. In die sewentiende eeu het dit gestrek van Midde-Europa tot by die Indiese Oseaan en van Noord-Afrika tot by die Kaukasus. Turks was in die Nabye en Midde-Ooste ’n duisend jaar die veroweraarstaal. In Sirië, Irak en Egipte het die mense naderhand geglo dat die Turke van nature die enigste mense is wat kan regeer. Aan die begin van die negentiende eeu het Napoleon Egipte binnegeval, sonder welslae geprobeer om Arabiessprekende Egiptenaars in gesagsposisies aan te stel – en toe maar naderhand noodgedwonge sy toevlug tot die Turke geneem. Net hulle kon gehoorsaamheid afdwing.
Maar toe die Turkse Ryk aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog tot ’n val kom, het Turks gewyk. Waarom? Oral waar die Turke hulle in die Nabye en Midde-Ooste gevestig het, was Arabies reeds die omgangs- en godsdienstaal. Hoewel die Turke militêr meerderwaardig was, het hulle geen kultuurtaal gehad nie en hul administrasie en handel meestal deur Arabies, Grieks en ander tale gevoer.
Militêre mag skep dus vir ’n taal die moontlikheid om uit te brei, maar die taal moet die draer wees (of word) van ’n meer hoogstaande kultuur as dié in die reeds gevestigde tale. Dit was Turks nie. Oor die algemeen is die tale van nasies met militêre en ekonomiese mag darem kultuurtale. Sulke volke kon net hul magsposisie met kennis bereik – en daarvoor is die onderwys en geskrewe werke noodsaaklik.
’n Tweede voorwaarde vir geslaagde verdrukking is dat die koloniseerder of verdrukker sy mag ’n hele tyd moet kan uitoefen. Latyn kon gevestig raak omdat dit eeue lank die taal van die provinsies van die Romeinse Ryk was. Dieselfde kon gebeur met die latere koloniale tale. Japans kon hom in die Tweede Wêreldoorlog nie ingrawe in Asië nie, omdat lande soos Indonesië te kort in sy hande was.
Die onderwys kan help om ’n bevolking ’n ander taal te laat aanneem as (a) dit ekonomies voordelig is om die imperialistiese taal aan te leer (byvoorbeeld as kennis daarvan noodsaaklik is vir aanstelling in goeie poste), en (b) daar geen kragtige taalbewuste nasionalisme onder die bevolking, veral onder die ouers en geestelike leiers, bestaan nie.
Die Pole van die Duitse provinsies Wes-Pruise en Posen het in die driekwarteeu nadat hulle in Duitse hande gekom het, hul onderwys deur medium van Pools gekry. Die Poolse geestelikheid het dit behartig. Omstreeks 1860 het Pruise sy beleid verander en van 1864 af Duits die onderwystaal in Oos- en Wes-Pruise en Opper-Silesië gemaak (maar Pools as skoolvak behou) en in 1873 in Posen. In 1887 is Pools ook as skoolvak afgeskaf, behalwe vir godsdiensoefeninge. Die uitwerking van die assimilasiebeleid was egter betreklik gering. Tussen 1860 en 1910 het die aantal Poolssprekendes in Opper-Silesië van 59 tot 53 persent van die bevolking gedaal, maar in Posen van 55 tot 61 persent van die bevolking en in Wes-Pruise van 31 tot 35 persent van die bevolking toegeneem.[26] In Posen was die Poolse nasionalisme die sterkste ontwikkel, veral onder die adel.
Die mislukking van die verduitsingsbeleid is toe te skryf aan die houding van die nasionaalgesinde geestelikheid. Solank die kerk die onderwys beheer het, het die beginsel van bearbeiding van die gelowige in die volkstaal ook vir die skool gegeld. Die kerk het in die aanleer van ’n vreemde taal dikwels ook die begin van die verwildering van die sedes gesien omdat die band met die ouers en ou kultuur daarmee deurgesny kon word.
’n Vierde faktor wat ’n rol in die kolonisering van Afrika, Amerika en Asië gespeel het, is die feit dat die bevolking in al die lande ’n groot aantal tale gepraat het en die imperiale taal daarom as ’n lingua franca (omgangstaal) kon dien. Die koloniale taal was in ’n mate ook ’n etnies neutrale taal. As dit amptelike status kry, kon dit nie lei tot jaloesie tussen inheemse taalgroepe nie.
Twee koloniale tale het dit nie te gelukkig getref met kolonisering nie – Duits en Nederlands.
Duits was maar net ’n paar dekades ’n koloniale taal in Afrika, en bowendien in gebiede wat reeds ’n lingua franca gehad het – Swahili in Tanganjika en Afrikaans in die dunbevolkte Suidwes.
Hollands kon hom net handhaaf in Suriname en die Nederlandse Antille. In Nieuw-Nederland in die huidige VSA het dit wel lank in gebruik gebly. In die agttiende eeu het daar meer as vyftig boektitels in New York verskyn. Omstreeks 1800 het ouerige vroue glo ewe vrolik Jacob Cats aangehaal en in die kerk en op die mark Nederlands gepraat. Volgens Heinz Kloss het die taal in dele van New Jersey “wonderbaarlik” oorleef tot in die twintigste eeu. Dit was ’n ruk die enigste amptelike taal in dele van die Midde-Atlantiese Oseaankus en dit het hom ’n prestige onder sy eie sprekers en andertaliges besorg. Maar Nederland was te swak om mee te ding met Engeland en kon ook nie soveel immigrante lewer nie.[27]
Die Nederlanders was ook nie baie groot koloniseerders en taalimperialiste nie. Dis miskien die vernaamste rede waarom die taal hom ook nie kon vestig in Indonesië, wat drie en ’n half eeu ’n Hollandse kolonie was nie. Daar was egter ook ’n lingua franca, Maleis, wat later onder die naam Indonesies die amptelike taal van ’n onafhanklike Indonesië sou word.
Samevattend: Dis vir elke taal belangrik dat sy sprekers seggenskap behou oor sake wat sy wel en wee raak, anders kan ’n vyandige owerheid hom in die Staatsdiens, onderwys en kultuurlewe benadeel. (Ander probleme oor staatsvorm en taal kom in hoofstuk 11 ter sprake.)