Читать книгу Tuiste in eie taal - J.C. Steyn - Страница 23

2.2.3 ONDERWYS

Оглавление

’n Algemene manier om ’n taal te verdruk, is om dit as onderwysmedium vir sy eie sprekers te verbied. Dis eintlik toekomsgerigte verdrukking. Die kinders van die benadeelde taal ken die amptelike onderwystaal baiekeer so sleg dat hulle geen baat by die onderwys vind nie, swak presteer en dit later moeilik vind om goeie betrekkings te kry. Ander kinders word met so ’n beleid van hul moedertaal vervreem. Soms kan hulle nie hul eie taal skryf of lees of daarin oor tegniese sake praat nie. Die veronregte taal kry in die oë van die kind ’n verlaagde status – die taal van pa en ma is die taal van agterlikheid, domheid en ongeletterdheid; die vreemde taal is die taal van vooruitgang.

Ook op die ouers het die verdrukking soms ’n soort sielkundige uitwerking. Nadat Gaelies weer op skool toegelaat is (nadat kinders ’n tyd lank op skool pak gekry het omdat hulle dit gepraat het) het ouers en skoolbesture baie verontskuldigings gehad en dit liewer vermy. Basisvakke is steeds in Engels aangebied. Gaelies is onderrig of dit ’n vreemde taal is. (Dis natuurlik nie net Gaeliese kinders wat gestraf is omdat hulle op skool in die speelpouse Gaelies gepraat het nie; in Bretagne moes die kinders wat Bretons gepraat het, as straf die vloere lek!)

Veral die Franse, Britte, Spanjaarde en Russe het teen klein tale in hul eie lande of kolonies gesondig deur hulle as onderwystale uit te skakel. Die Britte het Wallies in 1870 en Gaelies in 1872 as onderwysmedium verbied en eers ’n paar dekades later weer toegelaat. Die Franse het besonder benepe opgetree en eers op 31 Desember 1949 ’n wet aangeneem wat Bretons, Baskies, Katalaans en Oksitaans as skoolvakke toegelaat het. Nederlands (in Frans-Vlaandere) en Duits (in die Elsas) het hierdie vergunning nie gekry nie – hulle is naamlik beskou as “vreemd aan die nasie”. Genl. Charles de Gaulle het kort voor sy dood ingestem dat Nederlands in Frans-Vlaandere ’n keusevak kon word. Nederland het hierdie toegewing volgens berigte feitlik afgedwing nadat daar sprake was dat Frans in Nederland bloot ’n keusevak sou word.[21]

In die Elsas het die Franse Duits in 1808 in die hoërskole en in 1853 in die laerskole deur Frans vervang. Net ’n halfuur Duits per dag was toelaatbaar – en dit in ’n streek waar die mense ’n Duitse dialek, Elsassies, praat. Van 1871 af was die provinsie Duitse gebied, maar die Duitsers het Frans nie onderdruk nie. Ná die Vrede van Versailles het die Franse hul taalverdrukking hervat.

Nadat die Duitsers die provinsie vier jaar lank in die Tweede Wêreldoorlog beset het, het die Franse ná die oorlog die onderrig in Duits “tydelik” opgeskort “om Frans in staat te stel om verlore terrein te herwin”. ’n Versoek van meer as 80 persent van die ouers om weer onderrig deur medium van Duits in te voer, is in 1952 op so ’n manier toegestaan dat dit byna waardeloos was: twee lesure per week sou in Duits wees, sedert 1960 drie lesure, en wel aan kinders van so twaalf jaar en ouer. Die boeke sou dié wees wat in die Franse gebied gebruik word, die lesse is nie verpligtend nie, tel nie vir die eksamen nie en die onderwyser kan weier om klas daarin te gee. Die gevolg van dit alles is dat Elsassies al hoe meer plek maak vir Frans.

In die Sowjet-Unie wend die owerheid subtiele pogings aan om die “nasionale tale” (die tale van die afsonderlike republieke) te laat veld verloor teenoor Russies.

Die taaltoestand in die Sowjet-Unie het al ’n paar keer ter sprake gekom, en aangesien Russies een van die belangrikste internasionale tale is, kan ’n mens nou miskien ingaan op aspekte van die land se taalbeleid.[22]

Dit was aanvanklik volkome in stryd met die Kommunistiese beleid om Russies te bevoorreg. Lenin het hom positief uitgelaat oor die “ongetwyfeld progressiewe betekenis van sentralisering, groot regeringseenhede en ’n enkele taal”. Hy was egter teen Russies as verpligte amptelike taal. Die gedwonge onderwys van Russies in skole en staatsinstellings in nie-Russiese gebiede was deel van die tsare se gehate russifiseringsbeleid. Lenin se standpunt was dat elke volk sy eie taal moet gebruik en ontwikkel as ’n eerste stap tot die vrywillige aanvaarding van ’n gemeenskaplike taal vir alle nasies. As voorregte vir enige taal afgeskaf is, sal die “objektiewe kragte van ekonomiese ontwikkeling” die res doen. “Die eise van ekonomiese faktore sal self bepaal watter taal van ’n gegewe land die meerderheid met voordeel sal leer in die belang van die handel.”

Stalin het in 1929 geskryf (in ’n artikel wat eers baie later gepubliseer is) dat hy uitsien na “die opbloei van nasionale kulture (en tale) in die tydperk van proletariese diktatuur in een land, met die doel om die toestand voor te berei vir hul wegkwyning en samesmelting tot een gemeenskaplike sosialistiese kultuur (en een gemeenskaplike taal) in die periode van die oorwinning van die sosialisme in die hele wêreld”. Hierdie uiteindelike wêreldtaal kan nie een van die bestaande nasionale tale wees nie, want “nasionale tale moet onvermydelik versmelt tot een gemeenskaplike taal wat natuurlik nóg Groot Russies nóg Duits sal wees, maar iets nuuts”. Stalin het glo eenkeer Esperanto as hierdie toekomstige nie-nasionale taal oorweeg, maar die gedagte laat vaar ná ’n mislukte poging om dit baas te raak.

In die twintigerjare het die Sowjet-Unie nog die russifisering van ander taalgroepe veroordeel, maar toe reeds begin om die sondes van die tsare oor te neem. Van 1920 tot 1923 het die regering byvoorbeeld die toepassing van Lebed se sogenaamde “teorie van die stryd van twee kulture” in die Oekraine gesanksioneer. In die Oekraine was Russies die algemene taal in die stede en Oekrains op die platteland. Onder die dekmantel dat daar ’n natuurlike stryd tussen hulle is, is Lebed se teorie gebruik om Russies ten koste van Oekrains te bevorder, “omdat die toekoms behoort aan die Russiessprekende stedelike proletariaat wat ’n kultuur besit wat meerderwaardig is bo die agterlike Oekrainse landelike kultuur”.

Die owerheid het in die jare dertig die studie van Russies onder die nie-Russiese nasionaliteite verplig. Alle nie-Russiese skole moes Russies as vak doseer. Die dekades twintig en dertig is deur ’n byna permanente alfabetrevolusie geteister. In die twintigerjare het die regering besluit om die Latynse alfabet in te voer. Kommunistiese teoretici het naamlik gemeen Wes-Europa, en nie Rusland nie, sal die hart van ’n groot nuwe Sowjet-staat wees. Twee en sewentig volkere het alfabette gekry en 64 daarvan was Latyns. Binne ’n dekade moes hulle almal vir Cirilliese alfabette plek maak. Uitsonderings is net toegelaat vir tale wat eeue lank reeds ’n kragtige letterkunde gehad het, soos Georgies, Armeens, Fins, Estnies, Lets en Litaus.

Die Russiese leiers het heeltemal openlik gesê die doel van die nuwe alfabet is om die aanleer van Russies te bespoedig en die invloed van die Russiese kultuur te vergroot. Die Russiese pers was vol dankbetuigings vir die “diens” wat hierdie alfabethervorming aan die volk bewys het.

Verder het dit beleid geword om nuwe tegniese woorde by voorkeur aan Russies te ontleen. ’n Estniese taalkundige, Alo Raun, het in 1950 geskryf: “Examining any one of the languages of the Soviet Union, e.g. Mordvinian, one is shocked by the discovery that it swarms with Russian words, and that often only the suffixes are Mordvinian. The word order, use of cases, etc., are a poor imitation of Russian.”[23]

Russies is die onderrigmedium aan universiteite en ander inrigtings vir hoër onderwys. Dit is die enigste taal wat oor die hele land amptelike taal is. Die ander is net binne een van die samestellende republieke nasionale tale. As daar minderhede buite die grense van ’n bepaalde republiek is, word hulle nie in hul eie taal onderwys nie, maar in Russies. Russiese handboeke is beter en altyd beskikbaar, terwyl daar dikwels tekorte is aan dié in ander tale.

Tuiste in eie taal

Подняться наверх